Posts Tagged ‘Melanie Grobler’

Gisela Ullyatt. Facebook en Die Groot Poësiebrander. (Deel 1)

Wednesday, July 1st, 2015

En skielik was daar Facebook.

Noem dit wat jy wil: Bakkiesboek, Vleesbroek (vir dié wat meer as net kuise selfies neem) of Feesboek (waarop jy pronkend die hoeveelste Springbokkie en Jägertjie down: zefste onsie óóit. Tot die volgende happy snappy saam met jou “besties”). Dis ’n netwerk waar jy vinniger as wat jy “Steve Hofmeyr” kan sê, ’n missing-pic van Hannibal, jou geliefde Rottweiler, kan share wat om donderswil al wéér uit die erf ontsnap het. Sy missing-pic laat Breaking Bad na ’n geflopte Romanza lyk.

Nie ’n idee wat om vir aandete aanmekaar te slaan nie? Facebook jou vriende. Tjop-tjop sal skakels op jou fb-muur verskyn van virtuele resepteboeke. Iemand mag selfs hul Ouma Baby se flatervrye pof-omelet met jou deel. Kry jy angsaanvalle oor die reiskoste van jou voorgenome Engeland-toer? Vra jou fb-vriende in Clacton of jy nie vir ’n paar dae by hulle kan gaan ‘doss down’ nie. Jy kan dieselfde guns aan hulle bewys wanneer hulle eendag jóú dorp aan die gatkant van die aardbol besoek.

Alleen en gatvol? Facebook is goedkoper as ’n dating website. Dit skakel outomaties BA-Manvang en studieskuld uit.

Ook kan jy herenig met jou nefies wat jy dertig jaar laas gesien het… in jou tannie se bad. Toe had Suid-Afrikaners nog ’n werklikheidsbegrip van waterbesparing: ten minste vyf junior familielede kon saam in ’n skuimbad geskrop word. Nou hoop jy maar niemand tag jou in hierdie Shipmate-oomblik uit 1980 nie. En ja, om nie te praat van ou skoolfoto’s wat uit Danté se bevrore hel opgediep word nie. Jou uni-brow was dalk tóé ‘n juweel. So ook die kuif, so styf gespuit soos ’n meringue se sagtepuntstadium…

Kôk-kôk: politieke kapokhaantjies en -hennetjies; daar is ’n eindelose gepik in die fb-hoenderhok (deurspek van tirades vol spelfoute). Selfs girl with cake word nou van politieke agendas beskuldig omdat sy koeke bak en aan haweloses uitdeel.

Tóg.

Vanuit ’n Boeddhistiese oogpunt sou ’n mens Facebook as ’n aangrypende moderne metafoor van Interkonneksie (Interconnectedness) en Indra se Net kon beskou. In die konteks van ons tegno-era is laasgenoemde ’n skitterende voorbeeld van hoe die World Wide Web se permutasies prakties manifesteer.

Indra se Net funksioneer as sentrale metafoor in die Boeddhistiese literatuur wanneer Interkonneksie onder die loep geneem word en verwys terug na die oorspronklike Hindoe kosmologie (vandaar die konneksie met die gode). Dit kan verder nagespoor word in die Avatamsaka Sutra (derde eeu voor die huidige jaartelling (VHJ)).

Vervolgens kan hierdie metafoor kortliks opgesom word as:

In the heavenly abode of the great god Indra is a wondrous net that has a light-reflecting jewel at each of the infinite intersections of its thread. Each jewel exists only as a reflection of all the others, and hence has no self-nature (Jones 2003:16).

Stel jou dus voor: ’n net wat tot in die oneindigheid strek, met biljoene der biljoene skitterende juwele. Elke sentient being word deur hierdie web verbind: “Indra’s Net symbolizes a cosmos in which there is an infinitely repeated interrelationship among all the members of the cosmos” (Cook 1981:2). Die idee wat by meeste van ons ingeprent is van kindsbeen af, dat elke individu as ’n afsonderlike entiteit funksioneer, is dus, vanuit die metaforiek van Indra se Net, slegs ’n illusie.

Gedagtig aan bogenoemde formulering van Indra se Net, is facebook natuurlik nie net die hoenderhok-drama wat dit soms kan wees nie. ’n Praktiese voorbeeld van hoe facebook Indra se Net illustreer, is wat ek “die Groot Poësiebrander” noem.

Konteks: facebook het van tyd tot tyd sogenaamde nominasies/uitnodigings waarin jy jou vriende kan uitdaag en tag. Gewoonlik vind ek hierdie nominasies pure snert en ’n totale mors van tyd en energie (alhoewel die intensie daaragter sekerlik goed bedoel is). ’n Voorbeeld hiervan: ek is getag om ’n no make-up selfie te neem en op fb te plaas as my profielfoto, ter onderskraging van borskankerpasiënte. Die idee is dan dat jy terselfdertyd nog vriende tag/nomineer om dieselfde te doen (ek neem aan slegs vrouens óf dan miskien mans wat gewoonlik grimering dra?).

Ek het gevind dat die hele kettingreaksie dalk vir party mense gewerk het, maar dat, na ’n dag of wat niemand daadwerklik iets vir borskankerpasiënte deur hul no make-up selfies gedoen het nie. Geen pasiënt, sover ek weet, het na vore gekom en gesê dat dit hulle daadwerklik beter laat voel of genees het nie. Hoekom dan nie maar iemand met borskanker ondersteun deur kos te neem vir die gesin wanneer sy in die hospitaal is of van jou hare laat afsny en skenk vir ’n pruik nie? Of begin ’n fb-blad ter ondersteuning van ’n pasiënt? Ongelukkig ontaard uitdagings soos hierdie soms in ’n ongeduldige, voorskriftelike vingerswaaiery, ’n bietjie soos die uitdagende en dweepsieke “If you love Jesus, share this message on your wall”. Betrek slegs mense wat werklik van ’n spesifieke uitdaging sal hou.

Ewenwel.

Soms kom daar tog ’n tag/uitnodiging op jou fb-pad wat ’n wesentlike verskil maak. Annette Snyckers, een van my fb-vriende, vryskut-vertaler (Engels, Duits en Frans) en skilder, nooi my uit om vir vier dae elke dag ’n gedig of ’n bepeinsing oor die digkuns op facebook te deel en dan terselfdertyd ook vier ander vriende elke dag te nomineer.

Ek skryf die volgende op my status update na Annette se uitnodiging:

“Gewoonlik “doen” ek nie nominasies op fb nie. Ek het nie die oudste foto “gedoen” wat ek op fb gehad het of een of ander gedwonge besigheid wat almal skielik voel hulle moes doen nie. Maar Annette Snyckers het ‘n uitnodiging aan my gerig wat my na aan die hart lê: poësie. Om elke dag, vir vier dae ‘n gedig of iets oor poësie (aanhaling, ens) met almal te deel. Nou dís ‘n uitdaging wat ek met ope arms verwelkom. Ek nomineer ‘n paar fb-vriende wat ek weet ‘n spesifieke liefde vir poësie koester. Maar, asseblief, daar is geen verwagting dat enige iemand dit ”moet” doen nie. No pressure. As jy egter lus voel om vir vier dae elke dag ‘n gunsteling gedig op jou status wil pos of iets wat jy oor poësie gelees het wat jou geïntrigeer het, of selfs een van jou eie gedigte, nomineer ook vier ander mense, as jy wil, om dieselfde te doen. Ek nomineer vir Charl Cilliers, Ilisna Nel, Melanie Grobler, Marlise Joubert, Marie Bredenkamp, Lieze Stassen, Con Robinson, Tessa Muller, Nini Bennett, Nicolette van der Walt, René Bohnen, Ester de Beer en Fanie Marais“.

Die eerste gedig wat ek as deel van die uitdaging plaas, is Mark Strand se “Lines for winter”, wat Strand aan Ros Krauss opgedra het (Selected Poems:1979):

Tell yourself

as it gets cold and gray falls from the air

that you will go on

walking, hearing

the same tune no matter where

you find yourself –

inside the dome of dark

or under the cracking white

of the moon’s gaze in a valley of snow.

Tonight as it gets cold

tell yourself

what you know which is nothing

but the tune your bones play

as you keep going. And you will be able

for once to lie down under the small fire

of winter stars.

And if it happens that you cannot

go on or turn back

and you find yourself

where you will be at the end,

tell yourself

in that final flowing of cold through your limbs

that you love what you are.

Annette se gedigte kom dus eerste aan die beurt omdat sy my ‘genesis’ was. Ook plaas ek slegs gedigte van mense wat ek DIREK genomineer het. ’n Paar van die nominasies kon egter nie deelneem nie weens persoonlike en/of werksverpligtinge of die feit dat hulle nie baie tyd op facebook spandeer nie. Ek het hulle tags dus uitgelaat vir Versindaba om niemand in ’n moeilike posisie te plaas nie. Die blogs sou ook te uitgesponne  raak as ek vier gedigte van elke deelnemer geplaas het. Ek het my bes gedoen om deur al die gedigte te werk, maar kon onmoontlik nie ieder en elk gaan opsoek en met die oorspronklike vergelyk nie. Daar mag dus ’n paar foute ingesluip het betreffende versreëls, ens. Soms het mense die datum of digbundel en selfs bladsynommer aangedui, soms nie. Ek het dit meestal net so gelos, weereens omdat dit maande sou kon duur om elke bundel, bladsynommer en datum van publikasie te gaan opsoek. Baie mense het ook van die internet af gewerk en ken ook nie die besonderhede nie. Die gedigte en hul bundels wat as deel van hierdie uitdaging aangehaal word, verskyn dus nie in die bibliografie nie.

Annette is deur Christine Muller Coates genomineer (sy het onder andere Mary Oliver se “Wild Geese” aangehaal. Christine is ook betrokke by vanjaar se McGregor Poetry Festival in Augustus); Annette se eerste keuse vir Dag 1 is “Introduction to Poetry” deur Billy Collins:

I ask them to take a poem
and hold it up to the light
like a color slide

or press an ear against its hive.

I say drop a mouse into a poem
and watch him probe his way out,

or walk inside the poem’s room
and feel the walls for a light switch.

I want them to water-ski
across the surface of a poem
waving at the author’s name on the shore.

But all they want to do
is tie the poem to a chair with rope
and torture a confession out of it.

They begin beating it with a hose
to find out what it really means.

Dag 2: Finuala Dowling se “An initiative to increase the numbers of male readers”:

We do love men with charming looks
but send us more who have read books.

We ogle men who’re built like champs
but send us more with reading lamps.

We still like men who make us passes
but send in more with reading glasses.

We’ll race with men in racy cars
if they have valid library cards.

Please, please, goddess, before it’s bed
send in men who have read
hardbacks.

 Vir Dag 3 kies Annette die volgende aanhaling uit Breyten Breytenbach se Intimate Stranger:

Poetry is a love. Of what? Of the discovery and the celebration of words, things, feelings, ideas, undigested memories, insights, other people, yourself, other selves, mystery, sense, eternity, other eternities, nonsense, nothingness, the whales and the foam and the shadow of the grass on the mountain, the bones of the dog buried in the garden. Of love itself. And it is an engagement with all of the above. It is a love-act.
Poetry is a love of that art of making which will take you away from self-indulgence — for even as you fashion it, it takes on a life of its own.

Op Dag 4 plaas Annette gedeeltes van Antjie Krog se “die laning”.

die laning

die laning is ‘n ruggraat
die laning rig homself teen die heuwel op
die laning geur diep in panele terpentyn en denne, honderoos, moerbei
in digte potblou seders
van ver af dink sy
o, hoe blou is die groen
hoe olyf die pers
hoe roerloos die sipresse
en dig hulle mantels as die donderweer rammel
en die aarde antwoord soos iets vrygelaat en diep ontroer
[…]
die laning skitter soos ‘n held
die laning klim glanssilwerend die heuwel uit
die laning behou homself in panele van iep, van eik, bokdoring en berk
hoe timmer die merel
hoe glip die uil se beitelklankies
hoe snipper die vinkies soggens geluide van koelte en dou
hoe ritsel koringgeel oortjies hoe geur die besembos
hoe blom melkdistels en sigorei blou skoelappers van hulle stingels los
[…]

Melanie Grobler, bekende Afrikaanse digter, deel een van haar eie gedigte, genaamd  “Die Argonauts”:

Soos Atlas buk onder die juk van die wêreld
leun hul teen die reuse roeispane

die verrotte spane merk wel die plek
op die wit strand waar hul nou soos die gode rus

hul laaste asem buig om die platane
teen ’n winderige berg se hang.

Nini Bennett, digter, kies die volgende vir haar Dag 1:

Nothing erases the immoral act. Not forgiveness. Not confession. And even if the act could be forgiven, no one could bear the responsibility of forgiveness on behalf of the dead. No act of violence is ever resolved when the one who can forgive can no longer speak; there is only silence. ― Anne Michaels

vader Andrei vertel

 

soms as ek die mis bedien en ek onthou die dinge

wat ek in die oorlog gedoen het toe ek ’n soldaat

was, dan begin ek huil. die mense dink ek huil

oor god maar ek huil oor myself, ek huil myself skoon

op      miskien huil god in my          in my huil god       oor als

wat ek gedoen het in die oorlog toe ek nog soldaat was

in nikos se leër    dan kan ek nie ’n woord vind

om te sê nie    hulle, die armsaliges, wat hiernatoe

gekom het om die mis te vind, hoor dat daar nie gepraat

word nie     die mis misluk vandag         god huil verlate

en alleen tussen die spierwit tafeldoeke en stukkies

witbrood heen     sy trane vlek die brood

en heeltemal ontwy huil hy soos vader andrei,

troosteloos

Petra Müller (Om die gedagte van geel:102).

 

Op Dag 2 deel Nini toe Dolf van Niekerk se gedig 7 uit Nag op ’n kaal plein (2006) en op Dag 3 skryf sy:

Gisela, met jou liefde vir sneeu en gedigte wat oor sneeu handel, plaas ek graag dié bekende gunsteling van Tomas Tranströmer”.

Sick of those who come with words, words but no language,
I make my way to the snow-covered island.

Wilderness has no words. The unwritten pages
stretch out in all directions.

I come across this line of deer-slots in the snow: a language,
language without words.

– soos vertaal uit die Sweeds deur Robert Robinson

Vir Dag 4 haal Nini ’n gedig aan uit Tom Gouws se bundel, Stigmata (72-73).

Fanie Marais, wat aan die hoof van Cordis-Trust staan, deel op sy eerste dag die volgende gedig van Mardene Marais, sy dogter wat op die ouderdom van 21 oorlede is en aan die destydse RAU studeer het:

KUNSMUSEUM

ek kuns deur die museum
en bondel die kleure tot diep binne my
my oë verf oor die skilderye
en ekspressionisties word ek deel daarvan
my hele bestaan ry wipplank
en bedwelmd kan ek nie genoeg kry nie
ek raam my gedagtes
en vernis dit vir nou
môre
en die oormôres in my drome.

Dag 2:

Herinnering


Onthou hierdie nag, môre reeds “laas nag”,

oor ’n week, ’n jaar, ’n lewe: ’n nag

vuurwit van verspreide mane agter reën

en in die dor hout van ranke naby my ruit

die winter en die wind. ­- Wees alleen

vir hierdie nag in tye wat kom: wag

ongemerk en praat, praat want nagte

sonder teken sal kom. O sal dit anders wees

en my oë in die donker slaap, ek nie weer skrik

vir ’n hewige wit, ’n geruis en geen vlees

in my vlees die vatbare engel onthul?

O brand in my in, nag,

want ’n dowwer lig moet kom met die dag

en uit die koue spieël dieselfde vertroude totaal,

maar soek góú wat is nuut en behou, vóór

die onverloorbare lyfwag jou weer inhaal.

            -Sheila Cussons  (Omtoorvuur:1982)

Dag 3 se gedig lui soos volg:

Trombose

 

Mens weet nie aldag wie om te beween:

die kind en jongeling is lankal heen,

die deftige, bedaarde heer is moeg

van jarelange sorge en geswoeg,

van drome in kolomme dwing, les bes

tot sterwens toe versadig van sukses.

Al was sy loopbaan ingestel

op snel besluite neem en ewe snel

ten uitvoer bring, het hy nooit onbesuis

of teatraal gehandel – waarom juis

vanmiddag met so ’n onbesonne haas

sy personeel en vriendekring verbaas?

Asof die Akte van die Maatskappy

hom onbeperkte volmag skenk het hy

(sonder beraad met mededirekteur)

sy nuwe stap nie eens genotuleer,

versuim om sy verpligtinge te oorweeg,

kontrakbreuk sonder blik of bloos gepleeg,

geen boodskap op die diktafoon gelaat

geen jaarverslag en geen finansiestaat,

niks om die aandeelhouers mee te paai.

Nou moet die rekenmeester alles raai

want hoe beraam mens skade en profyt

as syfers saamvloei voor die boekjaar sluit?

(Hy’t selfs nie aan sy tikster of sy vrou

verduideliking of opdrag toevertrou

voor hy met bondige gebaar die Dood

van konkurrent verhef het tot vennoot.)

– Elisabeth Eybers (Die helder halfjaar:1955)

Dag 4:

 

’n mens moet

 

’n mens moet éénkeer in jou lewe

’n droom vér-vér gaan haal

’n put uitgrawe

totdat die water oor jou lippe spoel

’n boom klim

sonder vrees vir hoogte

of dat die takke sal knars en breek

totdat jy die wind tussen blare voel

’n mens moet eenkeer baldadig wees

langs die see gaan staan

jou verbeel dit is Hermanus

en dat jy ’n walvis of ’n digter is

wat die wêreld in verdoeseling

met jou woorde

skoon kan vee

’n mens móét eenkeer

’n vreemde skare

kan binneloop

alleen op die trap gaan staan

en onbevrees verklaar

dat die arena jou nie ontsenu

dat jy die kake van leeus

oop kan breek

dat jy nie bang is vir dolke in die rug

en op vuur sal loop

as dit moet

’n mens moet eenkeer

kan spring waar jy nie sien

jou oë en lippe sluit

en in die stilte wag

om te hóór

of ander jou

met hul woorde of hande

in selfloosheid kan dien

’n mens moet eenkeer

op jou knieë gaan

en onbeskroomd

in skamelwoorde stil verklaar

dat jy verkeerd was

sodat jy eenkeer

kan vergifnis vra

– ©Marie Bredenkamp


Kry jou branderplank solank gereed vir Deel 2 van Versindaba se Groot Poësiebrander

Bibliografie

Cook, F.H. 1981. Hua-Yen Buddhism: The Jewel Net of Indra. University Park, PA: Pennsylvania State University Press.

Jones, K. 2003. The New Soacial Face of Buddhism: A Call to Action. Somerville, MA: Wisdom.

Gisela Ullyatt. Oor verlies, verlatenheid en die liefde.

Sunday, February 15th, 2015

Tomorrow is Saint Valentine’s Day,

All in the morning betime (Ophelia se lied uit Hamlet)

 

Februarie is die maand van die liefde. Of so word dit soos koue kos aan ons opgedis. Tematies gaan jy nie sommer ’n tydskrif van die rak oprakel sonder belowende artikels oor bedsake, beertjies, ‘Vaaltyn’-hartjies en pienk lieflikhede nie. Die foltering word voorgesit in meeste winkels: lingerie in rooi; blommewinkels se ruikerpryse skiet die hoogte in soos vuurpyle. Een so ’n eienaar het my een jaar met geur vertel dat hulle genoeg kan muntslaan uit die mite van 14 Februarie dat die res van die jaar se huur gedek word. Bloemfontein is ’n studentedorp en troppe mansstudente piekel heen en weer (o, die eerstejaartjies in tragiese baadjies en dasse, die hare sweterig in die hittegolf) om hulle laaste sakgeld of beursgeld aan rooi rose en ’n piekniekmandjie te spandeer.

Feit is: blomme verwelk byna oornag in die Afrika-hitte, die tjoklits gaan sit om treurige heupe; spoedig is daar ’n fyn kraak in die hartjie-bekers en word dan oor die tyd saam met die sagte beertjies in ’n kas geprop. Ook roep Valentynsdag ’n pynlike paradoksale vraag op: aan die een kant voer dit die allesoorheersende wens (wat aan vraatsugtig grens) na intense beminning op: om iemand se romantiese attensies op jou te vestig. Maar, aan die ander kant is die dag-van-bloedige-Valentyn ook deurdrenk van ’n goeie skeut nihilisme: die niksheid wat volg na sogenaamde verliefdheid of liefde wat al te vinnig getaan het. In my suster se kamer staan ’n rooi ‘horny devil’ (perdalks ketoolse satantjie ter vertaling?), steeds al die jare na ’n hoërskool-kys. Niks het daarvan gekom nie. Maar die duiwel se piromaniese grimas bly, so alleen daar op die boekrak van haar ou kamer. Skrynend.

Verlies, verlatenheid. Daar is vele gedigte oor die eeue geskryf oor romanse, oor die liefde. Maar hier wil ek ’n betoog uiter vir dié wat verdrink het in die maand van Februarie, gedagtig aan Ophelia. Subterranean  Homesick Valentine’s Blues.

Antjie Krog se eerste gedigte (Dogter van Jefta) roep jongmens-pyn na ’n verhoudingsbreuk op. Haar beeldgebruik spruit uit haar fisiese milieu: die landelikheid van die Vrystaat. Hier is geen stedelike verwysings soos byvoorbeeld in Loftus Marais se urban liefdesverse nie (pragtig verwoord en gesentreer in die vibiness van Kaapstad). Die eenvoud van bloekoms, kerke, jasmyn, koorsbome en mispels dra by tot die tydloosheid van Krog se jong verse. Let byvoorbeeld op hoe sy die kiewiet as objective correlative gebruik in “Kiewietjie” (29):

My flenterhartjie is gestelt

op rooikiewietbeentjies in die veld

wat aaklig roep en soek na liefde

as ek prik-prik

van die dubbeltjies verstrik.

Hélène Kesting het digterlike bekendheid verwerf deur haar uitstekende stilistiese beheer oor die haikoe in Afrikaans. Sy bly ongelukkig onderskat en daar is ’n besliste hiaat in die kanon betreffende haar oeuvre. In een van haar minder bekende gedigte, “Ek het jou dus nog”, word woordorde ’n spel van liefde en verlies; let veral op die gebruik van die punt in die eerste en tweedelaaste strofes wat finaliteit aankondig. Haar besondere klankgebruik versterk die sensitiwiteit rondom die tema van emosionele verlies; die ‘ek’ wat steeds bemin, maar nie noodwendig terugbemin word nie (15):

 

Ek het jou dus nog

lief.

En bo alle twyfel.

Omdat alle twyfel en haat

verdwyn

In die rook van jou kyk

onverwags vol son

 

Ek het jou

dus nog

lief

omdat jou besorgdheid plotseling sprei soos ’n geur

en oor mý,

my longe loop vol

 

Nog, dus,

omdat ek meteens die klankloosheid ken

van my roep

 

as jy nie daar sou wees nie

 

Nog.

Dus.

 

En ongeag groot skild

klein skild

helm

 

Marlise Joubert se digterlike forté berus op haar liriese digstyl wat dikwels op die lyflike metafoor sentreer; haar bundel Lyfsange is by uitstek ’n joernaal aan lyflike liefde. Ook skryf sy die tema van die verganklikheid van liefde tussen minnaars oop. In ‘ek het bederf geraak’ (36) berig die poëtiese ek van ’n afstandelikheid tussen haar en die geliefde en dien die reël, “ek het bederf geraak” as inkantasie wat ’n toon van berou uitstippel. Ook word die leitmotief wat die bundeltitel inhou in die laaste strofe ingemessel. Hier word die ekstase van ‘lyfsange’ verweef met ’n sterk elegiese komponent:

 

jy is ver vandag

asof jy nooit bestaan het nie

so bedrywig tussen engele

toegespin in die klanke van jou vel

 

ek het bederf geraak

met jou trosse ryp woorde se proe

daarom onthou ek kringe van jou tong

en vou my verhemelte sy duiwevlerke oop

verlangend omdat dit jy is en omdat jy

goed is soos wat nuwe bloed uit druiwe loop

 

(klink die wolke daar

soos neutedoppe teenmekaar

is daar foto’s op jou rekenaar

of ’n vers oor ’n begin

reën dit snags oor die bome

en wie tap water vir die voëls

aan die some van jou tuin?)

 

ek het bederf geraak met jou

en vandag se afstand word oorbrug

asof jy reeds bloeisels dons

op my bed versamel en ’n sug

van soene op my mond invou

 

ek het so bederf geraak

en met die lente in die wentel

van my lyfsange

skuifel ek teen jou aan

aromaties met ’n tros note

wat droewig sing

in die boorde van jou keel

Melanie Grobler verwoord die verlies van lyflike liefde tussen huweliksmaats op ’n roerende wyse. “Die verwoesting lê troosteloos tussen ons” (50) is ’n relaas wat spruit uit matelose magteloosheid wat deur die ek ervaar word. Die rouheid van hierdie magteloosheid is veral wat hierdie gedig so toeganklik aan die leser maak:

 

Die verwoesting

lê troosteloos tussen ons

en ek sidder as ek aan jou dink

 

in woede kon ek nooit

jou gelyke wees nie

oë wat morsig

oor die vertrek spat

sê wie gaan vandag

die onderspit delf

 

jou lyf worstelstoei deur my brein

en brul deur diep ravyne van die siel

 

 

Grobler se spesifieke vroulike perspektief oor erotiese verlies word verder uitgestippel in “Gister nog was jou vingerpunte” (53). Die verwonding deur so ’n verlies wat deur die vroulike komponent van ’n huwelik of verhouding ervaar word, is dikwels onderskat: vrouwees kan direk gekoppel word aan beminning en daarsonder kan daar ’n gevoel van ontsetting en isolasie ontstaan by die vrou:

 

Gister nog was jou vingerpunte

koesterend op my week buikvel

maar nou is alles nutteloos

jou liefdestoppe het my roeserige

vel verlaat

 

en ek   diep verwond

keer ek na die kortstondigheid

van die binnelyf

in die enge smalte van vrouwees

oor afgronde van isolasie

neig ek weer na ’n verlore pleitende intimiteit

 

Die ewige ontwykende sug na beminning en die gevolglike intense emosionele verlies wanneer so ’n liefde nie haalbaar was nie, is vergelykbaar met dwelmverslawing. Om jou daarvan te speen is byna onmoontlik en daarom kan die individu ’n terminale afhanklikheid ontwikkel van die geliefde, ’n tipe ‘co-dependence’:

aanbevole dosis oorskry

 

die geneesheer skryf voor

in gematigde mates,

die apteker ontsyfer dit dan so

 

maar ek

neem

jou sonder voorskrif,

vermeerder die dosis

oor die jare

 

tot ek terminaal

oordoseer

op jou.

 

(© Gisela Ullyatt 2015)

 

Verlies in liefde vir die gay vroulike digter is dikwels gedompel in ’n ander tipe problematiek waarmee die heteroseksuele vrouedigter mee te kampe het: stigma, diep verbonde aan hardnekkige patriargale sisteme. Joan Hambidge se gedig, “Vele redes waarom ’n gay vrou uit ’n straight vrou se bed moet bly” met die subtitel “’n soort ballade” (57) speel met liminaliteit op verskeie vlakke: afbakenings tussen gay en straight vroue, tussen lesbiese en heteroseksuele seks; persoonlike afbakenings tussen twee minnaresse wanneer dinge versuur, asook grense tussen die straight vrou se lewe van kinders, eggenoot en die gay vrou wat versteek moet word binne hierdie skedules: sy word die ‘ander’, the other, die slegte gewete, die Jungiaanse skadu (shadow). Soveel ambivalensie en betekenislading lê dus opgesluit in die volgende versreël: die gay girl wat bereid is om die “derdeparty-skyfie te hernieu”. Die L’envoi vestig die leser se aandag op die fallosentriese orde (‘op die paal’) wat steeds oorheers en waarteen die lesbiese vrou dus geen emosionele of seksuele verweer het nie:

 

Gewoonlik wil straight vrouens jou hê,

die gay girl,

wat help vertroos oor al die mans

wat hulle in die steek gelaat het

met aborsies, geboortes en miskrame

en nooit geweet het van post partum-depressie

of ’n orgasme ge-fake

soos koue melk oor Rice Krispies.

Gewoonlik wil hulle by jou bly,

die gay girl

wat lamstjops kan braai,

kerrie en osstert behendig kan kook,

die swembad en skottelgoedmasjien kan skoonhou,

bereid is om Pick & Pay toe te ry,

’n derdeparty-skyfie te hernieu

in ’n lang ry vol wagtende mense,

en veral ’n eksman op sy plek kan gooi.

Gewoonlik wil hulle neffens jou wees,

die gay girl

wat verstaan en vertroetel en begryp.

Maar wees gewaarsku, gay girls,

In die bed, ja, in die bed

Soek hulle méér as troos en troetel.

Dan moet jy uithaal en wys

anders haal jy nie die paal nie

en word alles ’n woordelose stryd.

 

L’envoi

 

Vergeet van vingertaal.

Hul begeer net die paal.

 

Valentynsdag: Verlies en verlaat; verdrinking in die poel van vergetelheid. Tóg berus die grootste hiervan steeds op die belofte van liefde. Die skerf van hierdie wensbeentjie haper: dit wat jy nooit in jou guns afgebreek kan kry nie. Dalk is Ophelia se blomme (helaas nie geen inter-flora hier nie) ’n sterker metafoor vir die ewige, ontwykende liefde? Ek laat dit oor aan die leser om self te besluit.

 

Bibliografie

 

Grobler, M. 1991. Tye en swye van Hester H. Kaapstad: Tafelberg.

Hambidge, J. 2005. En skielik is dit aand. Pretoria: Protea.

Joubert, M. 2001. Lyfsange. Pretoria: Protea.

Kesting, H. 1975. Skip na die son. Kaapstad: Tafelberg.

Krog, A. 1990. Eerste Gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.

Melanie Grobler. Homage

Sunday, November 16th, 2014

homage

 

Bos van donker melkhout en storm

snags steek ons die dryfhout aan

 

blou berg en die gestrande maan

omkring die drempel van ons huis

 

prut-prut bokant die vlamme

bid die swart potjie

 

’n drywende firmament slinger deur die heelal

toe die isthmus onder ons padgee

 

maan, berg en strand vorm ’n hol handpalm

ons moes die ekstreme omhels om te oorleef.

 

© Melanie Grobler / November 2014

Melanie Grobler. Drie kimono’s

Sunday, November 9th, 2014

Drie kimono’s

 

Drie geishas in kimono’s op ’n muurtjie

sien hoe die dun skadu’s van hul voorgeslagte

met die skril geel pad aangestap kom

 

deurdrenk met ’n waserige oranje pers-oranje lig

kan die geboue en fonteine net opgeroep word

deur die pad van die verbeelding te loop.

 

‘Die huis afgebrand en die voëls doodgemaak’

sê die geisha, haar kimono oortrek met vlieënde reiers.

 

‘Die blou van ’n nukleêre flits,’

sê die tweede, haar mooi kimono oortrek met erotiese lotuslelies.

 

‘Die trillende kontoere van die omliggende berge’

sê die derde, een enkele rots en ’n geharkte tuintjie op haar kimono.

 

 

© Melanie Grobler / November 2014

 

Onderhoud met Melanie Grobler

Friday, June 14th, 2013

 

 

Die gesprek as skeppende proses

Gesprek tussen Frans Human en Melanie Grobler tydens die bekendstelling van Deur ruite van die reis (2013: Human & Rousseau) by Graffiti Boekwinkel, Lynnwood Bridge, Pretoria. 30 Mei 2013

***

strandhuis

 

As die maan wydoog oor die oggendsee sak

vou die oggendlig om die melkhoutbos

sterk en geweldig die weivelde van die nag wat nou rus

teen die berghange, waar ek skuil tussen ’n paar groot rotse

                                                                        skryf ek ’n reël aan jou

dan neem ek die kronkelpaadjie huis toe

oorval deur blosende wolke pluk ek slanke riete

lang ure sit ek op die kaartstoel tot die ruimte

oorgeneem word deur die ritseling van die siel

vanoggend sidder ’n hoë wind bokant die strandhuis.

 

Voor ek my linkerhand uitsteek

om die oggendson nader te wink

omhels die kring van jou afwesigheid my.

 

                        Is dít alleenheid

Hierdie oopbloei van gedagtes?

 

(c) Melanie Grobler (Uit: Deur ruite van die reis, 2013: Human & Rousseau)

 

Frans Human: Baie geluk, Melanie, met hierdie besondere bundel. Jy het dit reggekry om iemand van die eksakte wetenskap wat met sy voete reg in die middel van die werklikheid van die bewustelike staan, op ’n reis buite tyd en ruimte te neem: na die tydlose, die misterie van die kosmos, deur modderige stegies, tussen geweerskote en sonsondergang, na die plek van sjamaan en die mistieke, na die fontein van oerdrome, waar Christus se varkblom blom. Die maan, die dreunsange en die kringe van alleenheid is deel van die reis. Jy dig hier met vryheid van vers en vorm ‒ en jy doen dit goed.

Uit twee resensies van jou digbundel haal ek aan:

 Zandra Bezuidenhout skryf in Rapport: na tien jaar is sy (Melanie) terug met ’n fassinerende bundel wat haar staanplek in die Afrikaanse poësie galery bevestig.

Tom Gouws: Hierdie merkwaardige bundel se eiesoortige eenderse andersheid verryk die Afrikaanse poësie onteenseglik.

Dis my voorreg om hierdie gesprek met jou te voer: Die 100 gewildste Afrikaanse gedigte uit 1300 benoemde gedigte is verlede jaar vir die eerste keer per stemming aangewys. Hoekom meen jy dat so min gedigte wat in die laaste 30 jaar verskyn het, die lys gehaal het?

Melanie Grobler: My studiegebied is kunsgeskiedenis waar ek geleer het dat dit moeilik is om ’n in-diepte interpretasie en oordeel oor kontemporêre kreatiewe werk te maak. Mens het jare en jare se afstand nodig om hierdie werk te beoordeel en in ’n spesifieke tydgees te plaas. Vandag speel sosiale faktore, politieke sieninge, oorloë, identiteitskrisis, invloed van die internet en alternatiewe metodes van publikasie, dreigende ekologiese rampe en die instroming van mens na Suid-Afrika, ’n groot rol by skrywers, kunstenaars, musikante en filmmakers ensovoorts. Miskien sal hierdie tydperk eers oor honderd jaar in ’n moontlike verstaanbare tydslot geplaas kan word. Paradoksaal ‒ digkuns moet in sy tyd staan, maar nie van sy tyd wees nie.

FH: Is daar enige gedigte wat jy graag op hierdie lys sou wou sien?

MG: Nee, ek is tevrede met die 100 gewildste Afrikaanse gedigte. Hierdie versameling gedigte is grootliks gedoen deur lede van leeskringe. Ek behoort self aan die Tafelberg Leeskring en weet hoe hulle met tekste omgang. Ek vertrou hulle oordeel, al is hulle miskien ’n mindere stem (volgens die Kompleksiteite Teorie van prof. Paul Cilliers is die minderheidstem net so belangrik as die meerderheidstem).

FH: Wil jy nie iets sê oor kontemporêre digkuns nie.

MG:  ’n Pluimpie vir Marlise Joubert, webmeester van Versindaba, en André Brink vir die samestelling  van ’n versameling vertalings van hedendaagse gedigte. Die manuskrip, in a burning sea, – contemporary Afrikaans poetry in translation, is gedeeltelik tans op die webblad beskikbaar vir lesers.  Iewers het ek gelees dat prof. Louise Viljoen voel dat dit nou die tyd van die roman is. Alhoewel kontemporêre digkuns nie veel mainstream ondersteuning kry nie, glo ek dat dit nog nooit so goed met Afrikaanse digkuns gegaan het as nou nie. Vir my is dit ’n soort underground beweging wat alles baie interessant maak.

FH:  Ek wou nie regtig vra waarom die betrokke titel vir jou bundel nie. Almal vra dit. Toe ek egter hierdie bundel lees en oorlees het ek bewus geword van die feit dat die opskrif van elke gedig baie sê. In die lig hiervan, waarom Deur ruite van die reis?

MG: Dit was eerstens ’n digterlike keuse, ’n goeie Boere-alliterasie. Tweedens is die titel geïnspireer deur ’n besoek aan die Guinness Museum waar ek voor ’n groot venster gestaan het waarop die woorde, have a good day, gestensil was. Ek kon net gedeeltes van die stad sien. Terugskouend besef ek dat die digter dig omdat hy of sy die flardes van die lewe as gedigte versamel en bewaar. ’n Blik deur die ruit is die gedig wat momente van die verganklike lewensreis bewaar.

FH:  Dit was vir my interessant dat jy ruite gebruik en nie byvoorbeeld vensters nie. Deur vensters van die reis. Kyk ek deur die ruite sien ek waarskynlik nie die geheel nie, maar ’n beperkte deel van die hele prentjie.

MG: Omdat ek nie die totale prentjie helder sien nie, word die verborge deel die mistieke, die metafisiese transendensie of die keersy van die werklikheid.

FH:  Sou vensters moontlik die skaal swaai na ’n meer werklikheidsaanslag?

MG: Ek wou in die digbundel werk met innerlike prosesse of binne reise, of die binnewerk, of die binne plek. Ek was nie geïnteresseerd in ’n meer werklikheids -aanslag nie.

FH:  “Wie ek werklik is, lê buite tyd en ruimte”. Dit was jou woorde toe jy met Heilna du Plooy gesels het.

MG: Die ek waaroor ek geskryf het is die tydlose ek.

FH:  Melanie, jy het ook aan Heilna verduidelik en ek haal aan: “Het helder gekies om hier te vertoef, in die half-donker, op die buitenste grens van bewussyn waar ek deur die ruite van die hemel na die aarde kyk.” Eerstens, ‘op die buitenste grens van die bewussyn’. In my lewe saam met die eksakte wetenskap is ek in die middel van die bewuste met sy beproefde natuurwette. Om na die buitenste grens van die bewussyn te verskuif en oor die grens na die mistieke te gaan, maak van jou bundel ’n opwindende reis.

MG: My antwoord aan Heilna was ’n poëtiese moment wat ek toegelaat het. Die antwoord self is ’n misterie en dra mistiese kwaliteite.

FH: Tweedens, ‘het helder gekies om hier te vertoef, in die half-donker, op die buitenste grens van bewussyn waar ek deur die ruite van die hemel na die aarde kyk’. Waarna ek eintlik wil verwys is halfdonker. Dis opvallend hoe oorwegend die volgende begrippe in jou werk verskyn: Nag, skemer, donker en swart. Ook die maan kom baie voor. Die maan word hier gebruik in teenstelling met die son. Die son laat immers die wolke van misterie voor sy helder lig verdwyn. Is hier ’n donkerder inslag in jou werk?

MG: Die begrippe waarna jy verwys is nie ’n toestand van depressie nie maar die persoonlike binnewêreld wat ook deel van die nag wêreld is.

FH: Breyten Breytenbach verwys na Tom Gouws se resensie as propvol oorspronklike insigte en raak formulerings. Hy stem saam met Tom as hy die vergestalting van jou digterskap as ’n eiesoortige eenderse andersheid beskryf. Vir Breyten is iedere gedig ’n ‘verleë vertaling’.

MG: Breyten se siening dat iedere gedig [van elke digter] ’n verleë vertaling is, bring groot troos.

FH: Watter Afrikaanse digter sou jy sê het die grootste invloed op jou gehad.

MG: My studie oor Breyten se skilderkuns en digkuns en sy rol as openbare figuur het tien jaar lank geduur. Wat my opval is dat hy sy werk verryk word deur konstant nuwe begrippe te gebruik. Een van die begrippe waaroor hy dig en filosofeer is die nomadiese [poetry does nothing. It only makes the nothing move.] Alhoewel Breyten my denkprosesse beïnvloed het, moes ek van hom losbreek om by my eie konsepte uit te kom. ’n Konsep waarmee ek tans werk is disobience of ongehoorsaamheid, om my binnestem te volg en nie toe te laat dat ander verwag dat ek hul stem sal volg nie.

FH:  Jou verwysing na die Russiese digter Anna Akhmatowa is vir my interessant. Jy verwys meer as twee keer na haar in jou bundel:

 

die wond van die gedig (p. 27)

 

Laat my tog net een keer weer in die helder wond

Van die gedig op die vuur van Akhmatowa wag

***

die sandlopers (p. 35)

 

Hier in my dorpie by die skryftafel word ons oorval

deur ’n winterstorm

                        is dit Akhmatowa

wat nou na die asemhaling van gedigte luister?

 

***

die blinde kartograaf (p. 82)

 

heelnag staan Osip Mandelstam by die deur van die dodehuis

eers met dagbreek draai hy weg, Dan praat hy weer.

***

Watter invloed het Akhmatowa en Mandelstam op jou werk?

MG: Ek het in Die Waterbreker begin skryf oor Akhmatowa en Mandelstam. Hulle is digterlike reisgenote wat ek in die negentiger jare in Moskou ontmoet het. Ek was op ses geleenthede na Rusland vir lang besoeke aan ons dogter. Die twee digters is nie net “ruit-studies” nie; vir my vergestalt hulle die konfrontasie met die self in die landskap van domkerke, dachas, beierende klokke en die gelade teenwoordigheid van die Sowjet Unie gedurende Stalin se dae. Mens sien Mayakovski saam met sy minnares, Lilia Brik op ’n straathoek staan. I am so lonely like the single eye of the man on the pathways to the blind, skryf Mayakovski. Die invloed van hierdie twee digters het egter ook meer te doen met die gelade atmosfeer en die bewuswording van die gelaagdheid van verskillende gebeurtenisse in verskillende tye in Rusland.

FH: Jy gebruik die woord sneeu asook metafore van sneeu opvallend baie in die bundel. Sneeuhoenders, sneeuloper, dodemis van sneeu, opdrifsels van sneeu en nog twee en twintig ander begrippe. Duidelik het sneeu verskeie betekenisse.

MG: As skrywer van gedigte is daar altyd die stryd teen middelmatigheid. Die oordrewe gebruik van dié element gooi wal teen afgewaterde skryfwerk. Ek maak ook gebruik van die vier elemente (vuur, lug, water en grond). Water is ’n binnelandskap waar daar binnewerk gedoen word en die metafoor vir hierdie binnelandskap is sneeu. Sneeu is die wit skaduwee van die liefde.

FH: Dit lyk vir my glad nie na toeval dat jy verskeie kere na lopers verwys nie. Strandloper, sneeuloper, dagloper en verskeie kere slaaplopers.

MG: Die lopers is dié wat ons deur die ruit sien, dié wat soos ons nooit by hulle bestemming aankom nie.

FH:  Op sowat veertien plekke gebruik jy dreunsange. Moet die dreunsang ’n spesifieke atmosfeer skep?

MG: In Rusland se Ortodokse Kerk is die dreunsang (chants) deel van die liturgiese bediening. Ek het verskeie plekke in die digbundel gebruik gemaak van die ritmiese dreunsange. Mens sou sê dat hierdie ritme die leser toelaat om die hartklop van die digbundel te hoor.

FH:  Ek was verras oor die gedigte waarin die ou man voorkom. Word jy hier deur die naderende dood van die ou man gekonfronteer? Kom ons kyk daarna hierna:

wind en weer (p. 54)

ou man met wit hare by die denneboom

ou man geklee in ’n jas van misweer; verdwyn die ou man soos mis.

***

man tussen riete van agterdog (p15)

ou man dun en regop tussen rugwerwels,

ek merk die plek van die gety,

 ouman tussen riete van agterdog.

***

MG: Die eerste gedagte wat by my opkom is die storie van Die ou man met die enorme vlerke geskryf deur Gabriel García Márquez. Maar laat ek jou vraag antwoord. Die skryfwerk het tog ook te doen met verganklikheid. In wind en weer, is die ou man die draer van die erotiek. By man tussen die riete van agterdog, dans die ou man in die water. Deur sy optrede wek hy die indruk van iemand wat reeds sy verstand kwyt is. Voor hy in die middelwater verdrink merk die vrou die plek en die gety.

FM:  Kan jy die woorde ‘ou man tussen riete van agterdog’ verduidelik.

MG: Daar is nie ’n letterlike verklaring vir jou vraag nie, maar ek soek soms na ’n wending in my gedigte. ‘Ou man tussen die riete van agterdog’ is ’n goeie voorbeeld.

FH:  Waarom sal ’n mens in ’n Afrikaanse gedig ook Franse en Portugese woorde en sinne gebruik?

MG: Ons is familie van Esme en Gilberto Bonegio en het ’n groot liefde ontwikkel vir die Portuguese musiek veral die fado, die flamingo, die taal, stories en kos en het ook na Portugal gereis. Dis egter nie ongewoon om vreemde tale in Afrikaanse gedigte raak te loop nie. Die gedig, ouvir a minha voz de fora,(p. 93) is ’n liefdesgedig wat in Lissabon afspeel.

FH: Ek was besonder getref deur jou reis na Groenland. Die gedig arktiese reis (49) tref. Die paradoks van die walvis wat sy weemoed oordra aan die walvis paar. So ook die agt variasies op die tema van die Fimbulvetr. Ook die agste variasie op p51:  waar maanlig deur die mis van gedagtes vloei. Wat is dit van hierdie ysige uitgestrektheid wat jou bekoor?

MG: Vir jare reeds hunker my kreatiewe ek na die woestyn. Ek het gedink dat meeste mense passies het wat hul deur hul lewens vergesel maar uitgevind dat dit nie noodwendig so is nie. Die ysige uitgestrektheid bekoor my wel maar dis ook ’n noodwendigheid. In Die Waterdraer het ek oor die Baltiese See geskryf. Ek skryf gedigte oor die woestyn, die uitgestrekte ysvlakte en die see omdat dit my na ’n intensie dimensie lei wat niks te doen het met die eet van kos, of slaap of loop nie. Dis is om onder water te skryf.

FH: Daar is ’n hele paar verwysings na entropie, van verval in jou bundel. Besoek aan Ciprus: gebarste marmervloere van die tempel. Wue aan die Parfuumrivier: ’n toegeslikte fort; vervalle koloniale huis ….

MG: Ek is glad nie bewus van die tema van verval in my digbundel nie en sien uit om die tema verder te ondersoek.

FH:  Jy verwys minstens in vier gedigte na die sjamaan. In –

wind en weer (p.55)

en die sjamaan roep my nader om te wys

waar hy ’n klein sakkie naby die begraafplaas van ysberge

gebêre het

***

wie onthou (62)

wie onthou die kleur van die sjamaan se winterjas

***

Doña Maria Sabina Van Huautla de Jiménez (p. 63), en

 ***

die karteerders (p. 81)

die woestyn sjamaan se kleed van genade.

***

 

MG: Dona Maria Sabina was ’n Meksikaanse digter en sjamaan wat mense van hulle siektes geheel het deur haar gedigte aan hulle voor te lees. Sy was wêreldwyd bekend en in die sestigerjare is pelgrimstogte na haar nederige huisie in die berge onderneem. Ek werk met die siekte motief in die bundel en is reeds ’n tyd lank betrokke by haar verse. Het ’n aantal vertaal wat in my digbundel opgeneem is. Op ’n simboliese vlak was die vertaling ’n persoonlike heling. Lynn McTaggart skryf in haar boek Zero Point Field, dat ’n spesifieke deel van die quantum fisika sê dat die bloudruk van die gesonde liggaam en gees in die Zero Point Field teenwoordig is. Volgens McTaggart is hierdie veld ook in die liggaam van die sjamaan teenwoordig. Dit sal goed wees om ’n studie oor hierdie aspek te maak.

FH:  In jou gedig, “as weerlig voëls my jaag” (p.7) praat jy van die donkeroog-kartograaf. Nou wil ek die donkeroog kartograaf vra oor die ‘blinde kartograaf” (p. 81) en “kaartwerk” (p. 83). Is Tom se siening dat daar ’n verband tussen jou navorsing vir jou MA, Kalligrafie op geografie en die gedigte oor die karteerders is?

MG: Kaartwerk het te doen met die reis. In dié opsig klop kaartwerk met die algehele tema van die reisiger. Ek skryf ook tans ’n roman oor karteerders en kaarte. Van die kaartgedigte kom uit die roman.

FH: Ek onthou wat jy vir Heilna in ’n onderhoud gesê het: “… Het helder gekies om hier te vertoef, in die half-donker, op die buitenste grens van bewussyn waar ek deur die ruite van die hemel na die aarde kyk.In my lewe saam met die eksakte wetenskap is ek in die middel van die bewustelike met sy beproefde natuurwette. Om na die buitenste grens van die bewussyn te verskuif en oor die grens na die mistieke, die bonatuurlik, maak van jou bundel ’n onvergeetlike en opwindende reis. Maar dis die gedig “as die weerligvoëls my jaag” (p.7) wat die digbundel vir my oopgemaak het, wat my in staat gestel het om die werklikheid agter te laat en saam met jou aan te kom “by die deur wat langsaam oopmaak /  dan trap [ons] diep in die opdrifsels van sneeu /  die soutwater van lang wintersmaande.”

Kan jy ten laaste iets oor die buiteblad sê?

MG: Die foto deur Andreas Swart is in die omgewing van Walvisbaai geneem en is ’n verlenging van die woestyntema.

FH: Ons lees ’n kwatryn voor.

kwatryne

Sonder begrip hang ons aan die heelal

soos verstrooide beendere roep ons na mekaar

geteister deur honderd klokke

gee ons vorm aan ons eensame gedagtes.

***

Melanie Grobler debuteer in 1992 met Tye en Swye in die lewe van Hester H. Vir die bundel verwerf sy die Rapport-prys van daardie jaar. Die waterbreker het in 2004 verskyn.  In Tye en Swye in die Lewe van Hester H word die “ek” se posisie in die speelveld van magstrukture ondersoek, veral in die politiek, die voorgeslag en die gesin.  Melanie woon op Pringlebaai.

Frans Human is ’n afgetrede vennoot en direkteur van ’n internasionale ouditeursfirma. Hy het ’n meestersgraad in belasting en ’n doktorsgraad in rekeningkunde en was nooit voltyds op universiteit nie. Na sy aftrede uit die internasionale ouditeursfirma, het Frans hom by sy vrou Gerda se korporatiewe reisbestuur onderneming aangesluit en saam ’n suksesvolle besigheid gebou. Hy word in die tyd ook direkteur en voorsitter van ’n Suider-Afrikaanse reisgroep. Na sy uittrede uit die reisbedryf bestee hy tyd aan finansiële modelle en beleggings. Doen ook self-studie oor quantum fisika en die teologie. Hy neem aktief deel in besprekings-groepe oor hierdie en verwante onderwerpe. Van kleintyd af beklee letterkunde en veral Afrikaanse poësie ’n spesiale plek in sy hart.

 

Omslag

 

 

 

Onderhoud met Petra Müller

Monday, July 23rd, 2012
Petra Müller

 

Sandberigte vir die son

Petra Müller gesels met Melanie Grobler oor haar bundel Om die gedagte van geel

 

“Een honderd lesers van jou gedigte is genoeg.” – Martin Versfeld.

*** 

Petra Müller woon tans in Larmenier Village op die gronde van Nazareth House, ‘n werkende klooster en hospitaal vir kinders met vigs. Sheila Cussons het haar laaste jare hier tussen die hoë dennebome en die alomteenwoordige Tafelberg gebly. Ek kom laatmiddag by Petra aan, te vroeg vir ‘n doppie brandewyn, maar betyds vir rooibostee met een of ander geurige kruieblaartjie daarin. Dan staan sy op en neem my na haar slaapkamer met sy groot venster wat uitkyk op haar geheime tuintjie. Reg by die venster hang die skildery met sy telefoonpale wat soos mense oor die geel landskap stap. Dan keer ons terug na die sitkamer waar ons oor haar nuutste digbundel begin praat …

 

Sewe

 

Daar ís iets aan sewe  ̶ sewe sieners stap deur my lewe.

Dis hoogdag, die skaduwees kort. Geen son te sien nie.

Hoe het die aarde so vereenvoudig geword in dié versadigde

geel, dié inkige blou? En julle sewe, so opreg orent,

my veelvoudige ouers  ̶  wat drá jul oor my heen, perfek

in pas hoewel nie eens verbind?

 

Drome maak so  ̶  raak jou nie aan onderweg nie. Is altyd

bo, of by jou verby. Net die horisontale aarde, ‘n riffeltjie

bruin op ‘n afstand, kan ek verstaan. Dit wil sê, dat die lewe

daar is, in struikgewas: grysbokkies, hase, skilpaaie,

dassies miskien . . .

 

Petra, jy sê dat jou bundel verse, Om die gedagte van geel, gekomponeer is. Jy vertel ook van jou goeie redakteur, Francois Smith, wat insien dat die digbundel onhanteerbaar dik is. Daarom steek hy sy hande in die manuskrip in en lig ‘n goeie derde uit; sit dit eenkant neer. Versteur hierdie handeling die gang van jou bundel?

Ek het opgemerk in my laaste twee digbundels dat my gedigte soos ‘n jaghond in kringe loop. Ek skryf die gedigte oor maande of jare en as dit tyd word vir ‘n bundel pak ek die verse uit op ‘n tafel of op die vloer waar ek hul rondskuif sodat een gedig op die ander volg. Weldra begin die een na die ander tema ook na vore tree; temas verander van bundel tot bundel. In my vorige bundel was dood ‘n sterk aanwysende tema. Maar hier het geel na vore gekom en word dit ‘n bundel van die lewe. Opwindend vir die digter om te sien wat uit die onbewuste na vore tree. Geel is oorheersend: die skildery op die voorblad is lewendig geel, ek skryf oor die son as bron van energie, die sonblom, die graanvelde van die Overberg, die lemoen, die lemoenboorde, die lemoenduifie en die geel lappe waarvan my ma klere gemaak het. In die namiddag het sy so gesit in die sagte lig van die son en dan op die naaimasjien gewerk. Geel kring uit en word die titel van die bundel. Ek werk op ‘n organiese wyse, dig totdat die interne goed na vore tree. Die gedigte vermenigvuldig en word soos deeg wat uit ‘n kom uitrys. Dit word onhanteerbaar. My redakteur, Francois Smit, neem van die gedigte weg. Daarna moet nuwe hegtinge gemaak word sodat niks los staan nie. Die hele proses verbeter die bundel.

Ek vra of jou digwerk ‘n uitvloeisel van ‘n proses is maar die vraag bly rond hang. My gevoel is dat groot gebeure in jou lewe, die dood van Wilhelm, jou verhuising na Larmenier en die toekenning van die Hertzogprys, jou letterlik na dieper kreatiewe poele stoot. Tydens ‘n close reading sessie word ek bewus van die sprong tussen Die aandag van jou oë en Om die gedagte van geel, van nuwe vorme wat uit jou binnewêreld vloei. Wil jy praat oor die veranderende binnelandskap?

Die bundel word ‘n verhaal met ‘n begin en ‘n middel en ‘n einde en daar is karakters wat daarin optree. Die verhaal is van ‘n meisiekind wat groot word. Haar pa is ‘n polisieman op Botrivier, daarna word hy grondbesitter. Die plaas is reg onder die hange van die Langeberge in die omgewing van Swellendam. Sy is ‘n kind wat aanmekaar wegloop en daar is gedigte oor paadjies en waterslote. Daar is bepaalde mense in haar lewe, die pa en die ma is alomteenwoordig. Dan is daar iemand met ʼn demoniese geaardheid, Mal Elsie. Ander figure wat opgeroep word is Hanna Bladcher, ‘n Jodin, ‘n ouer vrou en Harold, ‘n gespreksgenoot. Hanna het groot donker oë soos ‘n panda, ‘n wyse vrou. Reis saam met haar in Sjina, deel ‘n kamer met haar. Terug in Kaapstad word ons vriende. Elsie, die draer van my biografiese gegewe kom sterk na vore. Dis die storie van ‘n kind wat groot word, van jeugliefde, en grootmens hartstogte, verliese. In die volgende afdeling word daar weg gespring na Griekeland, na Ceres, die Godin van Graan en die tema van geel, ‘n verbinding met die wêreld waar die kind groot word met die alomteenwoordigheid van geel. Ek moes by die vader gode verby na die moeder gode. Die digbundel is verhaalmatig; geen vry-swewende gedigte met ‘n bepaalde liriese element nie. Die werk staan op ‘n manier nader aan die nuwer digkuns wat genoem word “gewone praat poësie.” Die karakters praat gewoon en daar is nie bewysbare poëtiese konstruksies nie maar eerder stories wat iets wil openbaar. W.A de Klerk het destyds ‘n opwerking gemaak oor die digterlikheid in my verhale en iets verhalend in my gedigte. In Die omtes van die hart is daar sprake van impressiewe prosa wat neig na die poësie. In hierdie bundel is die gedigte verhalend.

Die gedigte in Om die gedagte van geel is eenvoudig en mens is bewus van die aflegging van geleerdheid, moontlike terwille die besondere volgehoue toon wat dwarsdeur deur die bundel gevoer word.

Kan nie eintlik sê waaroor ek dig nie. Dis ‘n soort bevlieging wat oor my kom. As ek dit nie oombliklik raakvat of neerskryf nie, al is dit net die kern van die gedig, dan is dit verby. Vir altyd verlore. Ek skryf met ‘n potlood op papier omdat ‘n potlood altyd beskikbaar en gewillig is. Mens kan gewoon aaneen skryf, lig of donker en mens kan iets aflei van die hand wat dit neerskryf. Martin Versveld het alles met die hand geskryf, met ‘n potlood. Die hand probeer om die gedigte te vereenvoudig want as mens ‘n bietjie aanstap met die pad soos ek nou aanstap, as die stuk wat voorlê korter word; dit gaan nooit weer langer word nie, word jy pynlik bewus van enige iets wat oordadig is, of nie kernagtig is nie. Dis ‘n sintuig wat mens ontwikkel as jy ouer word. Dan gaan jy terug na jou ou gedigte en dan sê jy vir jouself: “ek kon hierdie ding baie dringender gesê het as ek dit eenvoudig gesê het.” Ek was nie bewustelik op soek na eenvoud nie maar soos ek die gedigte bewerk, probeer ek tog om dit ‘n bietjie helderder te kry as te vore. Ek glo dat die ideale gedig is ‘n water druppel waardeur jy kan sien. Dis nie ‘n einddoel nie, dis deel van bewuswording. Die bewuswording beweeg dan deur die druppel en laat dit dan agter.

Beelde van die dogtersvorm, lappe wat om die lyf gedraai word, die ma wat legendes deur die voetjie van die singer voer, die greep van die berg, die leivoor, die bossies wat mens por en por, die bibberende kringende water, die koei met die donker oë en die groot Oog, die glans van die solder, die lemoenboord, die eerste dag van menstruasie en die rooi papawers, die sikliese induik en die afduik en die durende herhaling; gedigte oor onnoembare gebeurevoermens mee na ‘n magiese aardse belewenis. Hoe verstaan jy hierdie magiese kwaliteite?

Magiese goed is dit wat saam met kinders gebore word en wat hul vir ‘n tyd saam met hulle dra. Dan begin hulle die realiteit deur taal ervaar. Maar vir ‘n lang tyd bly die magiese en dan beweeg dit weg en dan word die kinders deel van hierdie wêreld. Ek is een van die mense wat in ‘n groot mate in die kinderwêreld vas gesteek het. Het die kinderlike magiese kwaliteite behou en op ‘n manier is ek nog altyd aan die speel. Dit is wat die magiese is, ‘n vrye toegang tot die moontlikhede van die wêreld, tot fabulasie, tot die geweldige verlenging van betekenis wat mens in die simboliese wêreld vind. As mens oud word keer mens terug na daardie ding toe; mense word mos kinderlik, op ‘n mooi manier en die “getier” van die wêreld val weg en hulle word weer eenvoudig. Ek self is baie kinderlik en soms ook kinderagtig en is op my gelukkigste as ek met klein kindertjies speel. Miskien het iets hiervan oorgebly in die gedigte. Ek sal bly wees as dit die geval is.

En wat van die Stoepsitters soos jy na hulle verwys?

Die mense van daardie tyd het op die stoep gaan sit en dan het hulle die wêreld verken deur verhale te vertel of deur ‘n relaas wat jy dié dag gedoen het en wat jy gehoor het As jy mooi luister na die stoepsit-geselsery word jy bewus van bepaalde ritmes en herhalende ritualistiese frases. Dan hoor jy Odysseus toe die koning vir hom gesê het: “Kom sit nou hier en dan vertel jy vir my wie jy is.” Dan lewer jý ‘n relaas van jouself wat totaal aan mense en menslikheid gebonde is, waar jy was en wat jy gedoen het, wat die verskuiwings en verskrikkinge is wat jou oorgekom het, net soos Odysseus dit vertel. En dan kom daar ‘n antwoord uit die groep mense wat op die stoep sit, en die een sê, “Ja, ek onthou.” En die ander een sê: “Ja, ek onthou van daardie eiland. Ons het ook daar aangegaan.” Dis ‘n baie ritmiese ding en dis ‘n deurlewing van tyd, persoonlike tyd wat in daardie narratiewe na vore tree. Ek glo dat mense al hoe minder persoonlike narratiewe het. Narratiewe word vir hulle gegee deur Masjiene waarna hul sit en kyk, waarin verhale afspeel en waarop hulle nie kan antwoord nie. Hulle sit passief en kyk. Maar toe ek klein was, was ons deel van verhale en ons het gedurigdeur verhale vir mekaar vertel. Dis hoe ons die wêreld leer ken het. Ek het gedink dat almal so groot geword het. Toe ek klein was het die groot mense vir my gesê: “Jou kop is vol allerhande bevliegings. Jy loop en kyk op in die lug en dan loop jy jouself in die honde-gemors vas. Kyk voor jou voete!” Ek glo dat by die meeste skeppende mense sit daar in die middel van alles, ‘n kind wat nooit die magiese wêreld verlaat het nie. Dis eintlik gelukskinders. My ma en pa was heeltemal merkwaardige mense want hulle het heelal op heelal van mens belewenis in hulle koppe gehad. My ma het stories vertel. Sy was ‘n meester en sy het dit nie geweet nie. My pa het as jong polisieman heroïese goed op sy eie onderneem, vir dae lank ‘n bepaalde wetsoortreder deur die berge agtervolg. Hy het ‘n bepaalde man doodgeloop in die berge totdat die man op ‘n stomp gaan sit het en homself oorgegee het aan die gereg; dis nou my pa wat luister na die vlugteling. “Hier”s ek nou, baas Manie. Neem my nou, ek kan nie meer verder loop nie.” Nou, as mens dit as jou lewenskos inkry, die melk wat jy drink en die brood wat jy eet, gaan alles wat jy dink verder terug. Dis mos waarvan jy aanmekaar gesit is. Dis wat by my gebeur het.

En wat van plaas-mistisisme en of mites?

Dit het my opgeval tussen die plaas mense waar ek groot geword het dat elke enkele boer sy plaas beskou het as die middelpunt van die aarde. Hy het presies geweet wat roer waar en wat my pa getref, hy het na sy plaas gekyk asof dit ‘n bonatuurlike verskynsel was. Dit val my op dat ons hier in Suid Afrika geen mistiek in ons godsdiens het nie. Wat die gedigte van Sheila Cussons betref, hier kan ons praat van mistiek. Al die groot gelowe, die Arabiese, Duitse en Engelse het ‘n mistieke tradisie. Die mistiek wat ons hier aantref sit by die digters of die skrywers wat daardie wêreld oproep. Maar daar’s oral mistiek teenwoordig. Ek onthou toe ek my eerste betaling vir skryfwerk gekry het, ek dink dit was sowat twee halfkrone, ek was toe twaalf jaar oud, toe het ek vir my pa gevra waarin ek die geld moet belê, toe antwoord hy: “in die grond want die grond loop nooit weg van jou af nie. Jy kan vanjaar koring plant en dan plant jy volgende jaar weer iets anders.” As ek en my pa gery het van dorp tot dorp kon hy presies vir my sê wat verlede jaar op daardie land gegroei het en die jaar van te vore. Dit was ‘n boek in sy kop net soos die ou mense van die Weskus wat die see soos ‘n boek in hul koppe lees. En interessant genoeg, hulle het baie beter geheues as hoogs geletterde mense. Hulle kan alles oproep en presies sê waar die skadu van die Losberg geval het daardie dag toe hul die dier gaan soek het en hom nie gekry het nie. Die dier is natuurlik die luiperd. Sulke familie stories word aan gegee van een geslag na die volgende en neem dan ‘n mitiese dimensie aan. Deur herhaling word die storie ‘n legende. Mense het ‘n eienaardige siening van mites. Hulle dink dis iets norms en groots wat aan ander mense behoort. Ek onthou toe ek toe ek en my broer eendag net anderkant Ashton oor die berg se rug gery het, toe my broer vir my sê: “Ja, dis hier waar die oostewind gebore is.” Nou dis Homeries. Wat is die verskil? Dit hang net af hoe dit dan neerslag vind en as een verhaal van een na ‘n ander geslag oorgedra word en nog verder gaan, bestaan die moontlikheid dat mitiese materiaal bygevoeg sal word. Die wêreld is besig om grondliggend te verander wat betref kommunikasie. Ek skryf oor eenvoudige goed en hoop dat my kleinkinders eendag belang sal stel in my stories. Ek het nie ‘n goeie verhouding met die dood nie maar ek sien ek gaan nie hierdie oorlog wen nie. Mens probeer om die dood te omseil met mens se skryfwerk. Wie weet?

Evokasie of die oproep van stemme is deel van jou werk. ‘n Prosessie van mense  ̶ die gesprekgenoot, Harald van vroeëre bundels, mal Elsie van jou kort verhale, vriende soos David en Martin en Cas, die verdrinkte broer, ander broers en ‘n suster, die alom teenwoordige ouers, die mooi Ma en die ‘wilde’ Pa. Jy vertel van jou allemagtige Smalberger tantes.  Loop die daad van evokasie reeds lank saam met jou?

Digwerk is ook ‘n poging om dinge van die stilte te ontruk deur stemme op te roep. Om deur evokasie, die stemme wat stil geword het, weer terug te roep. Vir my persoonlik, as ek die gedigte lees, roep dit vir my ook iets onmiddeliks op. Ek soek dit in poësie. Dit kan gebeur by die musikale liriese verse maar kan ook gebeur by hierdie nuwer gewone praat-poësie wat van die alledaagse spraak gebruik maak. Die jonger digters betree dit, sommige met groot sukses. Hier het ons hier te make met grondliggende veranderinge. Die musikale meer ritmiese verse word al hoe meer afgelê.

Kan ons praat oor stilte en ritme in jou werk?

André Wagner wat nie van die poëtiese wêreld is nie, het na hy na ‘n voorlesing van my gedigte geluister het, die opmerking gemaak dat ek net soveel met stilte as met klank werk. Ander mense verstaan ook eers die gedigte as dit voorgelees word. Toe het ek meteens besef dat daar groot gesinkopeerde, onreëlmatige ritmes in my werk is. As ek dit voorlees weet ek presies hoe om met die lang stiltes en die eienaardige gebroke ritmes om te gaan. As die karakters in my gedigte praat, tree hierdie oneweredighede na vore. Aan die ander kant; ek ondersoek my gedigte nooit.

 

Elsie

 

“ses maal in die moer geskop, ses maal

kleintjie gedrop  ̶  mies, sus, moos, weet nét hóé;

jy staan nog so, dan trek jy al, en waar jy val

is beter dat jy lê . . .

 

“en more kom hy: elsie, elsie, elsietjie; einstetyd

het jy laas nag die koekerasie in die grond begraaf,

en klip daarop gesit;

 

“die boere wat so oor hul landerye loop en sê

ploe hiér, saai dáár,

weet ook maar fôkkol wat in hulle grond lê;

 

“maar die duiwel weet, en die duiwel se bek

klap oop en toe

van als wat kom en als wat gaan,

 

“maar hiervan sê hy níks,

Mies Sus”

 

As deel van die digter-dissipline skryf jy joernale; het reeds 40volgeskryf. Vir jou is die vloei van gedagtes deur die hand ‘n noodwendig daad. Jy skryf gedeeltes van ander skrywers se werk neer; vertaal, veral Zen koans wat jy beskryf as die verdigting van stof na kristal. Is die werk in die joernaal ‘n voorloper van ‘n digbundel?

Ek is nie ‘n mens wat dagboek hou nie maar wat ek al ‘n geruime tyd doen is om dinge te boekstaaf. Ek koop gewoon daardie swart hardeband oefenboeke met lyntjies en skryf redelik gereeld daarin, goeters wat ek teëkom en wat my tref; ‘n stukkie storie of ‘n ding wat ek gesien het, ‘n stuk papier wat in die lug rondgewaai het, prentjies. Werk van ander digters of filosofiese besinninge word ook op geteken. Ek neem die werkboeke of kladboeke saam as ek op reis gaan. Mens kan sodoende op jou eie spore terug loop. Ek skryf ook onklaar gedigte in hierdie boeke en sodoende word beroeringe en bevliegings meer hanteerbaar.

Na die Hertzog Prys-toekenning vir Die aandag van jou oë kuier ek by jou en jy praat oor die gravitas van die Prys; vir jou moet die ontvanger se werk uitmuntend wees en jy twyfel oor jou eie. Jy wil weer kyk na jou werk, dink dat sekere herhalende digpatrone vernuwe moet word. Wil ‘n studie maak van N.P. van Wyk Louw se digkuns. Jy noem dat hy nou soos ‘n ligstraal deur jou nuwe bundel loop. Kan jy meer vertel van die vernuwing in jou werk?

‘n Digter wat die meeste invloed op my gehad het, is N.P. van Wyk Louw. Ek het ‘n manier om name vir mense te gee. Ek noem hom Niklaas. Ek beskou Tristia as ‘n magtige bundel veral na die einde toe. In daardie laaste verse is daar ‘n helderte en ‘n noodwendigheid. Daardie ding wat die Grieke genoem het Adnangke. Dié wat van Wyk se werk ken, sal hoor sy werk eggo in my bundel. Die woordTristia, is ‘n ou woord. Osip Mandelstam het ‘n bundel verse byeen gebring wat hy Tristia genoem het. Triest, is die Afrikaanse woord. Ek het in myself ‘n verskriklike kapasiteit ontdek om te rou, om te treur, byna soos ‘n treurduifie wat die hele Sondag kan sit en treur. In een van Rilke se groot sonnette skryf hy:

 

Ons is die treurendes

eenmaal was ons ‘n groot ryk gewees

‘n groot wêreld van treurendes

 

Om te treur is amper om te dig. As mens dig, roep mens vir ‘n oomblik die dodes terug aarde toe. Baie van my digwerk is treurpoësie. Maar ek is ook ‘n vrou wat daarvan hou om “kamp-grappies” te maak, soos ou Martin gesê het. Ek hou veral van boere-grappe. Ek dink die boere-grap is een van die groot kulturele prestasies van die Afrikaner. Een van sy groot kulturele bydraes.

Ons praat oor Osip Mandelstam, Hans Faverey, Elizabeth Bishop, Emily Dickinson, weereens Emily Dickenson, ook ‘n nuwe leermeester, César Vallejo waar jy hulp soek met die tegniek van vertel. Ongelooflik om te dink dat mal Elsie ‘n draai maak by Vallery in verre Peru! Ook die Palestynse digter, Darwish en byna vergeet ek van die blinde Borges.

Ek lees baie digters en vele van hulle beïnvloed my werk. Ook in my laaste bundel is daar vele invloede wat ek kan raaksien.

Ons het mekaar leer ken in die laat tagtigs. Nou het ons albei meer tyd en sien mekaar meer gereeld, veral rondom die maandelikse byeenkomste van die Tafelberg Leeskring waar ons jou ken as ‘the wise woman’. Ek weet dat jy deurentyd studies van uiteenlopende onderwerpe doen. Kan jy meer vertel en syfer hierdie studies deur na jou digwerk?

Van Wyk Louw het een van die groot konsepte van die Zen vir homself geneem: “Die pad self is die ding wat loop”.  Jy verwys na verskillende studies wat ek onderneem. Dis nie iets wat op enige formele vlak geskied nie. Die pad bring dit na my toe. Ek moet binnekort oor Magmoed Darwish, die Palestynse digter praat. Nou moet ek terug gaan na die verskriklike broedertwis, die familie twis tussen die Jode en die mense van Islam, wat ‘n baie groot en woedende wond is. Daar sit in die Midde Ooste waar die Monoteïstiese godsdienste almal uitgebroei het, ‘n groot klomp gevoelens vir almal in die Weste. Om nou enigsins te begryp wat die woord Palestina beteken moet daar nou ‘n studie onderneem word en kyk waar alles vandaan kom, watter verse inwerk op hierdie mense. So dis iets wat oor die pad kom. My studie van die Kabbala (dis ‘n studie wat ek vir myself gedoen het) spruit uit die feit dat my man ‘n direkte afstammeling is van die groot Talmoedis, Eliaza ben Solomon Slavin, wat ‘n vyand van die Gaside, ‘n ander vorm van Joodse Mistisisme, was. As jy eers die Gaside bestudeer het, kom jy by die Kabbala uit, dis die oorsprong-verhale van die Joodse Mistisisme. In die middel van die Kabbala vind mens iemand met die naam Isaac ben Solomon Luria. Sy storie van hoe die wêreld ontstaan het, is vir my die mooiste. Dan lees jy ‘n boek soos Disgrace en jy sien die hoofkarakter se van is Lurie, dan gaan soek jy, want daardie karakter is ‘n Jood. Hy het ‘n baie lang geskiedenis agter hom wat jy in aanmerking moet neem, as jy oor daardie karakter wil dink. Ek beskou Disgrace as ‘n groot werk. Die boek se naam is eintlik Grace. Die storie gaan oor grace, ‘n gegewe wat net uit die liggaam van die Rooms Katolieke Kerk, uit die Maagd se liggaam gekom het met die geboorte van Jesus Christus. Die studies wat ek onderneem, lei my daartoe om na my eie denke te kyk. Praat hierdie karakter of skrywer die waarheid of lieg hy? Deesdae is die soeke na betekenis onpopulêr, dit het nie meer waarde nie.

Teen die einde van die bundel verander die verse en word die stem stil gemaak. Jy dig oor stilte van die Langeberge teen die einde van die dag. Gedigte verbrokkel en word koans. Het jy altyd belang gestel in die Oosterse digkuns?

Ek het myself bewustelik geskool in gedagterigtings en gewoontes wat vir my vreemd is, byvoorbeeld die wêreld van die Zen. Die Zen-digkuns loop saam met die stilte. Daar is die waterpoel, die rots by die waterpoel en die bamboes by die waterpoel. Op ons bergplasie bo-op Piketberg is daar presies so ‘n plek. Die groot uitbeelders van die Zen-poësie het gedurende hul skoling vir ‘n jaar lank ‘n blaar geteken, leer ‘n paar jaar lank om ‘n waterverftekening te maak van ‘n rots. Dis ‘n hele skoling van die verbeelding en van die hand. ‘n Groot aantal van hulle kort, klein openbaringsgedigte het ek vertaal as oefeninge vir myself. Die koan is eintlik ‘n strikvraag wat jou gemoed van die logiese na die onlogiese neem. Hul observasiegedigte is soos klein abstrakte werkies soos Basho se afskeidsgedig

 

Siek geword terwyl ek nog onderweg was

my woorde bly hang in ou landerytjies

 

Van die korter en langer gedigte in Tristia is perfekte Zen-observasies. Die eenvoud word tot op ‘n punt geneem waar alles verbrokkel. Hierdie is die laaste gedig in my bundel  ̶

 

Die diskrete vuur wat in die roos woon, is dié-

selfde geel, die goud,

wat oor die spits sonwaarts spring

en oplos in herinnering,

 

                                                            en klein wit reiers kantel langsaam af

                                                            en strek hul pote uit

                                                            om tuis te kom in bome

                                                            wat by stilte staan

 

wit vlek die dag se reier

nou die nag;

roer nog ‘n bietjie, strek ‘n vlerk

waardeur die maanlig sif soos gaas

wat geroer word  ̶

oplaas is daar rus

 

                                                            maar

                                                            die gespieëlde lewe in water

                                                            beef met ‘n lang wig lig

                                                            geruisloos  ̶

 

                                                            otter is hier

                                                            vis-in-die-bek

 

                                                            nou flik ‘n silwer stilte

                                                            en volkome

 

Dwarsdeur jou bundel is daar verse wat uitreik of verwys na die ontwykende beminde. Kan hierdie gedigte as liefdesverse beskou word?

Alle gedigte is liefdesgedigte.

Dankie vir die gesprek, Petra. Watter persoonlike gunsteling uit jou bundel kan ons ten slotte aanhaal as sluitstuk by die onderhoud?

 

vroeg I

 

ek gewaar dat jy in die oggend met my wakker word

en saans met my gaan slaap

                                    onderneem jy ook die vaarte oor ‘n aardbol

                                    wat ek onderneem  ̶  die melkwit reis waarin ek swaai

                                    soos in die uier van ‘n koei

                                    vaar jy ook landwaarts, en word daar vir kleingeld

                                    oor die rotse uitgestrooi

                                    maak jy daar ook die radelose liefde

                                    wat ek maak

my vrae buig hul oor jou soos ‘n moeder, al vorentoeër

en al moeër: ken jy die geselle waarvan jy

so veel vertel, my kind?

 

son kom op, nog ver, en lees ons sandberigte

soos ‘n oorlogsheer wat verg dat niks

verberg mag word nie voor sy aangesig

 

tot maan kom, met haar krateragtige aandgesig

waarin daar holtes vir ons voete is

 

                        gaan jou goed, hoor;

                        moenie moed verloor nie,

                        mooi beminde

                        ̶  wat jou teen die aand

                        weer in

           

(c) Petra Müller

 

 

Melanie Grobler. Die roetine van aandag

Tuesday, June 14th, 2011

 

 

Soggens maar veral saans sit sy in die eensame hoek

met oë deurentyd op die breinaalde gerig

 

waar is jou getroue volgeling, die vrou wat truie brei

vra die Engel as hy die Meester in die maanlig ontmoet

 

hoort iewers te wees, besig met haar winterstaak

van reis met die karavane van steke tel

 

sy’s op die lys, ja, hier’s dit – kom haar môreoggend haal

in skone Samarkand, van alle plekke.

 

Soos ‘n breipen wat haar hart binnedring

laat val sy twee middelsteke.

 

           

(c) Melanie Grobler

Melanie Grobler. Waterblommetjies

Tuesday, May 17th, 2011

Waterblommetjies

 

Onder my gehekelde kombersie skuil ek in ‘n hoekie op die houtdek

besig om klein jong strandertjies wat ek vanoggend geoes het

 

af te dop vir ‘n middagslaai van roket en soet tamatietjie, olyfolie

en balsamiese asyn.  hoër op met die steil wal van die rivier groei

 

wilde vinkel en frambose.  kookboeke en veldgidse oor eetbare plante

wag jare reeds in stilte tussen geskrifte oor skulpe, seevoëls, fynbos

 

proteas en die sterre.  my eerste kennismaking met artisjokharte

knolseldery met rémoulade sous, Weisswurst en prosciutto, pissoins

 

glasies Veuve Clicqout Ponsardin by kafees in boomryke

boulevards, die gebombardeerde strate van Berlyn, flamenco dansers

 

in Buonos Aires, die wolf in haar Romeinse hok op Michealangelo

se heuwel.  die groot post-apartheid kulturele avontuur, intellektueel

 

sensueel, opwindend soos noedels wat Marco Polo van sy reis na Sjina

na Venesië gebring het.  ek klap verbeeldingryke melksnysels

 

tussen gemeelde vingerpunte, skuur die kastrol blink en loop

in die wind wat sy hand uitsteek om die pad na die ewigheid te beduie

 

hoe kan mens sonder wrok leef in ‘n wêreld deurtrek met onreg en geweld

of leef sonder geluk in ‘n landskap oorlaai met fisantgeluide teen sononder.

 

 

© Melanie Grobler. Mei 2011