Posts Tagged ‘Melanie Grobler’
Tuesday, June 14th, 2011
Soggens maar veral saans sit sy in die eensame hoek
met oë deurentyd op die breinaalde gerig
waar is jou getroue volgeling, die vrou wat truie brei
vra die Engel as hy die Meester in die maanlig ontmoet
hoort iewers te wees, besig met haar winterstaak
van reis met die karavane van steke tel
sy’s op die lys, ja, hier’s dit - kom haar môreoggend haal
in skone Samarkand, van alle plekke.
Soos ‘n breipen wat haar hart binnedring
laat val sy twee middelsteke.
(c) Melanie Grobler
Tuesday, May 17th, 2011
Waterblommetjies
Onder my gehekelde kombersie skuil ek in ‘n hoekie op die houtdek
besig om klein jong strandertjies wat ek vanoggend geoes het
af te dop vir ‘n middagslaai van roket en soet tamatietjie, olyfolie
en balsamiese asyn. hoër op met die steil wal van die rivier groei
wilde vinkel en frambose. kookboeke en veldgidse oor eetbare plante
wag jare reeds in stilte tussen geskrifte oor skulpe, seevoëls, fynbos
proteas en die sterre. my eerste kennismaking met artisjokharte
knolseldery met rémoulade sous, Weisswurst en prosciutto, pissoins
glasies Veuve Clicqout Ponsardin by kafees in boomryke
boulevards, die gebombardeerde strate van Berlyn, flamenco dansers
in Buonos Aires, die wolf in haar Romeinse hok op Michealangelo
se heuwel. die groot post-apartheid kulturele avontuur, intellektueel
sensueel, opwindend soos noedels wat Marco Polo van sy reis na Sjina
na Venesië gebring het. ek klap verbeeldingryke melksnysels
tussen gemeelde vingerpunte, skuur die kastrol blink en loop
in die wind wat sy hand uitsteek om die pad na die ewigheid te beduie
hoe kan mens sonder wrok leef in ‘n wêreld deurtrek met onreg en geweld
of leef sonder geluk in ‘n landskap oorlaai met fisantgeluide teen sononder.
© Melanie Grobler. Mei 2011
Thursday, February 10th, 2011
Hierdie inisiatief is na die voorbeeld van Brian Brodeur se hoogs suksesvolle weblog “How a poem happens“. Hiervolgens word op ‘n bepaalde gedig gefokus aan die hand van ‘n aantal standaardvrae aan die digter ten opsigte van die ontstaan van die betrokke vers. Ons glo dat gevestigde sowel as aspirant digters dié aaneenstring van digter en gedig leersaam (en hopelik inspirerend) sal vind.
 Digstring
Inhoud
A-B
Andries Bezuidenhout. Taxi-rit ná die aand. Mei 2010
Zandra Bezuidenhout. Moderne Psalm. Mei 2010
Fourie Botha. My eerste Bybel. Augustus 2011
C, D, E
TT Cloete. Swerwende verse
Toast Coetzer. geluk
Marius Crous. Die ander man
Anne-Ghrett Erasmus. Skilder
Sydda Essop. Ek lewe in stilswye
Louis Esterhuizen. Melopee
F, G
Gilbert Gibson. Another roadside attraction
Melanie Grobler. Die Eerste Vrees Is Hier.
H, I, J
Joan Hambidge. In die skadu van Machu Picchu. Mei 2010
Joan Hambidge. Parys
Daniel Hugo. Ontnugterde digter. Junie 2010
Pieter Hugo. Honde
Marlise Joubert. waarskuwings. Mei 2010
K, L
Ronelda Kamfer. Stof. Junie 2010
Annie Klopper. ‘n Deurnagbraai in Oranjezicht
Martine Klopper. Kwatryn
Antjie Krog. Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg/Winter. Mei 2010
Kobus Lombard. Kameeldoring
M, N
Johann Lodewyk Marais. Richard E. Leakey
Lucie Möller. Kortstondige kalligrafie
Melt Myburgh. Toeval
Charl-Pierre Naudé. Twee diewe. Mei 2010
O, P, Q
Pieter Odendaal. die eerste steen.
Johannes Prins. Man diesel
R, S
Andries Samuel. All god’s children took their toll
Carina Stander. Lima
Marius Swart. liefdes-e-pos. Mei 2010
T, U
V, W
Marlene van Niekerk. Poets van ons vaderland unite
Ilse van Staden. Fluistering
Cas Vos. Kersrook
Jelleke Wierenga. Reënboognasie: Fear dot com
Tags: Andries Bezuidenhout, Andries Samuel, Anne-Ghrett Erasmus, Annie Klopper, Antjie Krog, Carina Stander, Cas Vos., Charl-Pierre Naudé, Digstring, Fourie Botha, Gilbert Gibson, Ilse van Staden, Jelleke Wierenga, Joan Hambidge, Johann Lodewyk Marais, Johannes Prins, Kobus Lombard, Louis Esterhuizen, Lucie Möller, Marius Crous, Marius Swart, Marlene van Niekerk, marlise joubert, Martina Klopper, Melanie Grobler, Melt Myburgh, Pieter Hugo, Ronelda Kamfer, Sydda Essop, Toast Coetzer, TT Cloete, Zandra Bezuidenhout Posted in Indekse | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Tuesday, October 12th, 2010
Lemoenbloeisels
Historical amnesia is a dangerous phenomenon, not only because it undermines moral and intellectual integrity, but also because it lays the groundwork for crimes that lie ahead.
- Noam Chomsky -Hopes and Prospects
1.
ek dog mirakels bestaan nie meer nie, maar nee sê die vigslyers
met ʼn knip van die oog volg hul die man met ʼn kleurvolle vlieër
nooit sal hy weer lemoenbloeisels ruik nie. ʼn skoot deur die hart
ekstaties hoog word hy nou op skouers deur modderige stegies gedra
die vroue ween en die wit duif vee die hemel met sy vlerke
hoër en hoër die wit geskilde lemoen van sy vlerke, die vlerke
van vrede wat vlieg. in die middag as die slapelose digters
om die graf vergader sal die wit duif slaap
2.
die bloeisels is die dodemars van die sneeu
maar die politikus skil die lemoen en sê dis die son
3.
asof daar uit geweldadige rye getree word
val die grys gefluister op die grond
die vonnis staan op die magistraat se dorpsbef geskryf
en alles verander na ʼn grommende gerug
hierdie brose niks, hierdie vormlose angs wat ons
snags bedreig. god hurk oor die huis van my kinderdae
en ek bid ʼn falsetto gebed, bewe soos ʼn hond
in die duisternis van ʼn laat naggedig
4.
koringbrood van moord en mielies van geweld, rogvelde
van dood. dwarsoor die dorsland van transformasie
loop mans na fabrieke en mynskagte. tussen geweerskote
en sonsondergang buk werkers agterdogtig oor
gerugte van gevangenisskap van skoenlappers. die land is hoog
en die land is laag. nou is die vers die pad van rewolusie
wat lei na beddings gevul met plakkers huisies versteen teen die ewigheid
5.
waar christus se varkblom blom
hang die verwonde maan oor die plakkerstad
by die kruispad van verbeelding is my hande
twee duiwe wat spartel. brand weer saam met my
my lief, as jy afrika aanvaar kan jy hier sterwe
6.
dwalend van genesis tot die apokalips, langs lyne
en sirkels na die diepte van die labirint
die ou vrou, beskerm deur die waansinnige skadu
van ʼn sambreel, struikel in die straat. as die wit duif
sy oë knip sien sy die mars van die werkers
o gebalde vuiste wat glimmer in die geweldadige
middagson. o twee duiwe wat spartel buite my hande
© Melanie Grobler. Ongepubliseerde gedigte. Oktober 2010.
Wednesday, June 9th, 2010
| Die Eerste Vrees Is Hier.
Waar die rivier soos ʼn skepbeker deur die mere loop
kom ek om middernag by die grenspos, hoog op ʼn heuwel aan.
Murgsat na ʼn uitgestrekte tentatiewe reis na die ewenaar
tuur ek suid, na onder toe die onvermydelike sigbaar word.
In ʼn brose teeplantasie omarm ʼn jong man die horison
voordat hy met dwalerende krete oor ʼn bruin grondwal spring.
Die eerste vrees is hier.
Die krygers se griewende machette lig die katedrale van slagting
na die planete. Toe die sekelmaan kerf aan die blou vlies
van die hemel, blom en swel liggaam sonder ʼn vlerk wat roer.
Stemme en liedere sal nooit weer oor hierdie kliphuisies drup nie
want ou vroue dra reeds hul drome na oggendwolke getint met bloed.
Oumansstories word opgevreet, soveel waardige veldslae gaan verlore.
Paniekbevange vlug die beeste na ʼn duisend veraf heuwels.
Net die wind onthou die yl stemme van kleuters wat swermende
spore in die as van die begrafniswond trap. Rotse kreun as die eruptiewe
krater wolke hoog die lug in slinger. Ek dink aan Atlas gebuk onder die juk
van die omwolkte wêreld. Die dop van my lyf weeg swaar as ek buk
onder die juk van krassende swart kraaie. My siel huil in my hand
en my voetsole buig ʼn boog oor die dooies. Nog ʼn keer en tevergeefs
draal die dreungesange oor die stad van strooi. ʼn Afgebreekte fort.
© Melanie Grober. Ongepubliseerde gedig. 2010
Funeral Bruise.
I arrive with the night wind on my brow.
Arrive at the border post near the equator
where I hunch quietly waiting for the blind inner eye
to bridge the thin line of apprehension.
A young man jumps over a brown ground wall
and when the militia step forward people stiffen.
Grievous the machettes gleaming like mountain dew
when the funeral bruise erupts from the Verunga Volcanoes.
The cries of orphans roaming along paths of scavenging crows
raise the cathedrals of slaughter to the sky and I think of Atlas
near the end of the world bending beneath his yolk
of clouds. Bending under the weight of the genocide
my soul cries in my hand. My raining feet covers
the raw wound of daybreak with love.
Vert. Melanie Grobler. Ongepubliseerde gedig. 2010
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?
Ek het twee jaar die geleentheid gehad om saam met Lara en Andreas deur Rwanda, geleë in die Groot Mere Distrik in die oostelike gedeelte van Sentraal Afrika en omring deur Uganda, Burundi, Tanzanië en die DRK, te reis om nuwe roetes vir GPS Tracks for Africa te karteer. Ons het met die Pajero gereis na die Groot Gedenkklip waar Livingstone en Stanley mekaar vir die eerste keer ontmoet het en toe na die Verunga Vulkane waar Dianne Fossey se berggorillas woon. In die Nyungwe Oerwoud was ʼn kennisgewing wat die oorsprong van die Nyl aangedui het. Maar Kivu Meer, een van die twaalf diepste mere in die wêreld, word meer as enige ander plek in Rwanda onthou vir die Groot Menseslagting van 1994. In die Vallei van ʼn Duisend Heuwels, lees ek destyds in ʼn gidsboek, was die landelike gebiede bestrooi met verminkte lyke, dat honde en kraaie die land weer skoongemaak het. Paradoksaal tot vandag toe is daar weinig honde in Rwanda te siene. Ook die wonderlike tradisionele Ankole koeie met hul lang regop horings, wat die indirekte oorsaak van die eerste Menseslagting in Rwanda was, is heeltemal afwesig. Maar dis ʼn ander storie waaroor Ryszard Kapuściński geskryf het. Net die kraaie van Kigali laat mens aan die gruweldade van destyds dink. Anders as in die res van Afrika, sing beide die Tutsis en Hutus nie meer nie. Die enigste musiek wat ek gehoor het was die eentonige dreunsang van ʼn diep verwonde nasie. Tydens die jaarlike herdenking van die Genocide word hierdie musiek dag en nag, oor en oor gespeel. Tydens die skryfproses het vrae die heel tyd by my opgekom. Kan enige gedig die omvang van so ʼn gebeurtenis verwoord? Kan al mens se besoeke aan die vele plekke van slagting omskryf word? Kan enige woorde die ellende van ʼn Menseslagting dra? Ek weet dat my gedig nie die gebeure van 1994 kan verwoord nie.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Ek het die eerste gedagtes oor die Menseslagting reeds in die restaurant Heaven, in Kigali, in ʼn notaboek opgeteken en alhoewel ek ses weke daar was en die geleentheid gehad om daardie notas te omdig, kon ek nie. Ek het wel ʼn titel vir ʼn titel vir ʼn gedig gehad. Terug in Pringlebaai het ek ʼn onverwerkte vers geskryf en dit in ʼn legger vir onvoltooide werk op die rekenaar gebêre. Ek het Die Eerste Vrees nader gesleep toe die uitnodiging om die vrae (onderhoud) van Digstring, my per e-pos bereik het. Intussen het twee jaar verloop sedert my eerste gedagtes oor die Menseslagting vasgepen is. Genadiglik stomp mens se emosies met tyd af. Maar dit neem my laaaaank om gedigte te skryf en ek skryf stadig.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Ek het oor twee dae Die Eerste Vrees en ʼn onafhanklike Engelse gedig, Funeral Bruise, voltooi. Die Afrikaanse gedig het veel meer hoofbrekings gebied. Na twee dae se gesukkel het ek gaan slaap en toe ek opstaan het my onderbewussyn (?) sy of haar besluit aan my openbaar. Die Eerste Vrees, moet uit. Die gehalte van die vers is nie op standaard nie. Hoekom nie? vra ek myself af. My eerste gedagte is dat dit nie die metafisiese kwaliteit van Funeral Bruise het nie. Wat beteken die woord metafisika, wil ek van myself weet. Waar ek op die oomblik skryf is geen woordeboeke nie en ek kan nie die betekenis van die woord navors nie. Dis vroeg in die oggend en dis nog donker buite. Dit het die heel nag lank gereën en dis koud hier. Ons het gisteraand ʼn sms van die Overstrand Munisipaliteit gekry dat ʼn groot reënstorm Pringlebaai deur die nag gaan teister. Ons is in Stellenbosch en ons kat, Matewis, is alleen by die huis. Ek bekommer my nie net oor die kat nie, maar ook oor my besluit om Die Eerste Vrees uit die onderhoud te sny. Ek hoor nog hoe roep die kat my toe my onderbewussyn vir my ʼn nuwe stukkie inligting uitgooi. Die Argeoloog. “Hier’s hy”, dink ek opgewonde. “Hiermee kan ek werk.” “Maar is dit nie te hoogdrawend nie?” Hoekom moet die Afrikaanse gedig dan nou kwansuis uit? Gaan die lesers van die onderhoud nie kwaad wees as ek ʼn Engelse gedig aanbied nie? En dit nogal op Versindaba wat soveel vir die Afrikaanse digkuns doen! Op ʼn meer ernstige noot.
Kom ons sê dat my bedoeling is om ʼn gedig as argeologiese artefak aan te bied. Om hierdie stelling verder te neem; gedurende die ontginningsproses sif die argeoloog deur die grond (onderbewussyn) met die doel om ʼn argaïese objek, voorwerp of spore van lewe te vind. Gewoonlik is daar groot opgewondenheid in die kamp as iets gevind word. Na vele besluite denkprosesse en navorsing word die artefak na ʼn spesifieke museum geneem waar die kurators ook sekere besluite neem. Maar eers wanneer die museumganger voor die gevonde objek staan kry dit ikoniese waarde. Mens kan hier dink aan die replika van Lucy se skedel wat in die Maropeng Museum, gebou in die Wieg van die Mensdom Bewaringsgebied, uitgestal word. Lucy dien reeds as ikoon vir baie mense, wat in die afwesigheid van godsdienstige ikone, hierdie waarde aan haar toeskryf. In Afrikaans weet ek, het Ingrid Jonker en sekere van Breyten Breytenbach se gedigte ikoniese waarde.
Miskien, dink ek by myself, het Funeral Bruise reeds ʼn dun lagie patina. Maar Die Eerste Vrees het niks. Dis bloot ʼn klip wat in ʼn nuwe landskap rondlê. Na nog ʼn nag se slaap, staan ek op en haal diep asem. Na ʼn eienaardige nagtelike haelbui is die landskap hier in Pringlebaai besonders. My man en ek ruim die kombuis op. Ons het gisteraand mense vir supper, soos die Bolanders lief is om te sê, oorgehad. Nadat die skottelgoedwasser aangeskakel is en my man uit is vir sy daaglikse stappie na Pringle Mingle, die plaaslike koffiehuis, het Die Eerste Vrees kiers regop voor my kom staan. “Nou ja, ons gaan verder aan my werk. Of nie?” “Ja” antwoord ek gedwee. Ek maal Rwandese koffiebone wat per geleentheid vir ons aangestuur is, voltooi my daaglikse oggend ritueel, versamel my skryfgoed en gaan na Bloublom, die buitevertrek waar ek skryf, rol my vinger op die iPod, kies die musiek van die Portugese sanger, Amália Rodrigues en begin weer aan die gedig werk.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
As daar sprake van ʼn ordeningsproses was, was dit daardie onbewuste dissipline om die intellektuele en emosionele woordordening so na as moontlik tot ʼn perfekte digvorm te bring.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Die vers is onafhanklik geskryf en daar was niemand wat ek as klankbord kon gebruik nie.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Beide die verse is ongepubliseerde werk.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Hierdie vers handel oor ʼn Menseslagting en alhoewel ek Rwanda persoonlik besoek het, het ek na my tuiskoms in Suid-Afrika so veel moontlik boeke gelees en na films oor die gebeure gekyk. Die wyse waarop die gedig geskryf is plaas dit op ʼn metafisiese vlak en daarmee bedoel ek, dat dit in die gebied tussen fiksie en feit lê. Dis reeds getransformeer.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Die vers handel hoofsaaklik oor ʼn enkele insident van ʼn jong man wat oor ʼn bruin grondwal spring. Hierdie enkele gebeurtenis dien as ʼn metaforiese vertrekpunt wat sy loop neem en eindig met ʼn metafisiese interpretasie van die Menseslagting van 1994.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Miskien die film, Hotel Rwanda?
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Ek hou altyd die leser in gedagte. Ek wil graag helder en deurdagte verse skryf; al is die tema swaar en gewigtig moet dit maklik leesbaar wees.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Alhoewel Menseslagtings regoor die wêreld voorkom verwoord hierdie vers ʼn gebeure wat in Afrika plaasgevind het. Ek glo nie dat ek ryp genoeg was vir so ʼn vers in my digbundels, Tye en Swye van Hester H en die Waterbreker nie. Miskien sal hierdie vers nuwe deure oopmaak. Wie weet? Mens sal maar moet sien.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Ek kan hierdie vraag net beantwoord deur ʼn ompad te loop. ʼn Vliegtuig wat op die punt was om te land in Kigali waarin die President van Rwanda, Juvénal Habayarimana en Cyprien Ntaryamika, die Hutu president van Burundi gereis het, is op 6 April 1994 afgeskiet. Die skuld is op Hutu ekstremiste geplaas. Die land is in chaos gedompel en berigte van die eerste menseslagting in die landelike gebiede, het na Kigali gestroom.. Beide die Verenigde Nasies, België, die voormalige koloniale heersers, en die res van die wêreld het hulle nie aan vroeë waarskuwings gesteur nie. Binne honderd dae is byna ʼn miljoen mense, beide Tutsis en gematigde Hutus, wreedaardig met pangas opgekap. Dae nadat die vliegtuig afgeskiet is, het Belgiese soldate van die UNAMIR, die Eerste Minister vergesel na ʼn gebou waar sy uitsendings oor die radio sou doen om die volk te kalmeer. Maar die weermag het die gebou bestorm en beset. Teen twaalf uur het die presidensiële wagte haar vermoor. Later is tien Belgiese soldate dood gemartel. Daar is ʼn spesiale gedenkplek vir die Belgiese UNAMIR Personeel van België in hierdie geboutjie opgerig. In die museum is ʼn uitstalling waar die belangrikste voorvalle van menseslagting opgenoem word; die uitwissing van die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog, Joegoslawië, Armenië, Pakistan, Manturië, Suid-Amerika, Uganda, Rwanda, Irak, Kambodja, Australië en belangrik vir ons die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog. Mens sou dus my gedig kon opdra aan die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?
Beide is gedigte is nuwe werk en ek weet nie of hulle werklik voltooi is nie. Sal eers oor ʼn jaar kan sê.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Beide die gedigte is ongepubliseerd.
ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
So ver ek kan onthou is my eerste gedig, Die Kosmoloog, deur Andre Brink, wat toe die redakteur was, in die laaste uitgawe van Standpunte opgeneem. Ek sal na ʼn biblioteek toe moet gaan om weer toegang tot die gedig te kry. ʼn Ander vroeë gedig uit die digbundel, Tye en Swye in die Lewe van Hester H. 1991, is die volgende:
Afrika
Om hier te lewe is om verteer te word
heeltemal helder en heeltemal stil -
brand weer saam met my my lief
as jy Afrika aanvaar
kan jy hier sterwe.
 Melanie Grobler
Melanie Grobler debuteer in 1992 met Tye en Swye in die lewe van Hester H. Vir die bundel verwerf sy die Rapport-prys van daardie jaar. Die waterbreker het in 2004 verskyn. In Tye en Swye in die Lewe van Hester H word die “ek” se posisie in die speelveld van magstrukture ondersoek, veral in die politiek, die voorgeslag en die gesin. Die waterbreker beeld die bewussynsreis van die self uit. Daar word weer eens na die verhouding van die “ek” met die gesin gekyk. In plaas van die biologiese word daar oor die digtersvoorgeslag geskryf. Melanie woon op Pringlebaai. |
___________________________________________________________________________
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.
Tuesday, May 25th, 2010
Translation by the author
Melanie Grobler was born in Warmbaths and grew up in Rustenburg, Transvaal. She studied at the University of Pretoria: BA in Psychology and Philosophy and competed a degree of Doctor of History of Art in 2002 − her doctoral thesis, Against fixity: a hybrid reading of Breyten Breytenbach’s art, poetry, writing, aesthetics and philosophy. She has been involved with art, writing and process facilitation since 1980 by developing cultural projects at the Institute for Further Learning, at Unisa and the Bureau for Cultural Affairs, University of Pretoria, where she was also an art curator and art historian for seven years. She trained and painted for five years at The Art Studio in Pretoria and participated in twelve group art exhibitions during the period 1982 -2002. Her figurative work explored the emotive qualities of the single image. Between 1992 and 2000 she published short stories in six and poetry in seven collections. Her first collections of poems, Tye en Swye in die Lewe van Hester H received the Rapport Prize in 1992. Her second collection of poems, Die Waterbreker, was published in 2003.
Seacoast
Seacoast - deep breathing along the beach
years sucked down along the coastline
to the gray embankment of sleep
where the undertow is running stronger
the woman sways when the cry comes
stronger than the trembling of being alive
shivering further along the coastal path
footsteps crunching on the gravel
and stumbling in the tangled seaweed
pocked by salt, back to her darkest dreams
that flood the half-moon of the bay
the soft backwash on the swaying gray shore
staggering shuddering as she reaches out towards first light
just before the expected hour of the winter’s morning.
Daybreak under the weighted cry of the night keeper’s eyes.
Seacoast - deep breathing along the boulders
years sucked down along the beach
but a sudden and unexpected change in weather
become days of plummeting and tossing of fish bones in the breakers
delusional winds, smothered birds caught in the undertow of rain
leaden water hanging in the sky
the woman watches the rain spatter against the panes
today of all days, she does not deserved
this continual gray drip on the roof of reeds
cursing the bleak conditions she sends it along a coastal path
to a body of water resilient against ocean storms
a river miraculously flowing away from the sea
becoming stream, becoming furrow, becoming landscape
woman looking at the downpour for seconds, minutes, hours.
Daybreak under the weighted cry of the night keeper’s eyes
( © Melanie Grobler. Translation of unpublished Afrikaans poem: Seekus.)
Monday, January 18th, 2010
Blogfokus
Die lewe is broos, tydelik, beeldskoon, gevaarlik en onversetlik.
En die gedig ʼn keuse om verder te leef as die belemmerings van eie skeppings.
(MHG)
In ʼn tyd voor staats- en militêre maneuvers en teregstellings, polisieklopjagte en sluipmoorde het die sirene klokslag nege uur saans die dorpstilte verbreek. Dit was die tyd toe my slim broer na die radio geluister het, na die name van gebombardeerde stede van ʼn ander kontinent, van oorlogsfronte wat verskuif en nuus van die vyand. Maar hierdie skrywe is eintlik ʼn ander storie. Inteendeel die tuinstorie is talle male anders en opnuut oorvertel.
Ek kon nog nooit heeltemal my verbintenis met die tuin ontknoop nie. Veral die herinnering aan ʼn granaat langs die peer en perske, dra ek in my rond. Maar soms in nostalgiese oomblikke wonder ek waar daardie enkele rooi granaat vir die eerste keer aan my openbaar is; in die tuin, of in die klein boeke-afdeling van die plaaslike handelaar, Wulfsons. Ek weet wel dat die granaatboekie met kinderverse, my eerste boekaankope van daardie pre-geletterde tyd, nou nog deel is van ons boekeversameling.
Ons het onlangs ʼn tekort aan boekrak ruimte ondervind en aangesien ons seehuis uitverhuur sou word vir die Desember vakansie, is ʼn aantal boeke wat ons nie meer wou hê nie in plastiek inkopiesakke in die skryfkamer gestoor; vir ʼn week of drie, voordat my man goedgunstiglik die boeke by ʼn liefdadigheidsorganisasie wat ou meubels en selfs boeke verkoop, afgelaai het. Hy was ʼn paar minute na vier terug toe ʼn ongemaklike kriewelrigheid op my toeslaan, toe ek vra hoeveel sakke hy geneem het. Deeglik en korrek van aard, maar onwetend, het hy die een waarop Poetry staan, die een met boeke wat ek uitgesoek het om na Stellenbosch te neem, ook geneem.
Sestien uur later staan ek in die groot vullisherwinningsaal, direk langs die plakkersbuurt teen die hange van die Kogelberge, om te hoor dat Breytenbach se Oorblyfsel, Ritsos se Exile and Return, Montale se Cuttlefish Bones, The Complete Poems of Cavavy, John Berryman se The Dream Songs (Henry se gesprekke met Mr Bones), Thesiger se Across the Empty Quarter asook ander boeke wat ek herhaaldelik oor jare gelees het, al te same vyftien hartsboeke, versnipper of verpulp is.
Ek het nooit gevra om die verskriklike Versnipper Machina te sien nie maar ek het wel aan die Praagse skrywer, Bohumil Hrabal se Too Loud a Solitude gedink. Ook aan sy hoofkarakter wat vyf-en-dertig jaar lank miljoene boeke, onder andere , al die Koninklike Pruisiese Biblioteek se kosbare leergebinde foliante met vergulde rante, in ʼn hidroliese pers verpulp het. Na die daad loop Haňt’a in sy verbeelding deur ʼn lang gang terwyl duisende weerlose boeke by hom verby skuif; soos hoenders wat so pas uit hulle hokke by Libuš ontsnap het en dan in die groen gras begin wei, maar altyd weer gevang word deur dogters van die Brigade van Sosialistiese Arbeid, wat hulle aan die vervoerband hak, en hulle daardeur, net soos die boeke in die eindelose gang, tot die dood veroordeel. Dan sê Haňt’a: “If I could go to Greece with the Brigade of Socialist Labor, I’d lecture to them more than just philosophy and architecture, I’d lecture to them on all the suicides, on Desmosthenes, on Plato, on Socrates. But they belonged to a new era, a new world, it would all go right over their heads, everything was too different nowaday.”
En wie se skuld was dit op 10 Mei, 1933, toe vyf-en-twintig duisend boeke van onder andere Bertolt Brecht, August Bebel, Thomas Mann, Ernest Hemingway, Erich Maria Remarque se All Quiet on the Western Front, Heinrich Mann se Professor Unrat wat in die Duitse bioskope in 1930 vertoon is as The Blue Angel, boeke van Max Brod en die digter Heinrich Heine in vlamme opgegaan het? Was Joseph Goebbels wat tydens die verbranding ʼn opruiende tirade teen vreemde invloede gehou het, die skuldige een?
In hierdie jongste weergawe van die tuinstorie het ek ʼn poëtiese ruimte ontdek wat ʼn doodgewone jaar in my lewe verander het na ʼn buitengewone een. Ek onthou dit as die jaar toe ek die horison ontdek het. Die vorige jaar nog was daardie intieme, fisiese bestaan van naggeluide, die musiek van ons ouers se kamergesprekke; voorhistories, pre-seksueel en hibernerend was ons gesus deur ons pa se arms wat ons vashou het. Ons het gelukkig saam geleef totdat ʼn groot verlies ons na die ander landskap gedryf het. In Rustenburg het ons weduwee ma nadat sy die onderwys professie betree het, ʼn grasdak huis in ʼn newelstreek teen ʼn platorand, in die kom van die Magaliesberge, gekoop. Die huis sou aan my slim ouer broer met die rooi hare behoort maar die groot groentetuin wat gewissel het van artisjok tot waatlemoen na verdwaalde maranka, aan my.
Aan die kant van die boord was ‘n stuk veld, hier en daar gedrapeer in die geel van klein veldblommetjies. Met die terugkeer van die posduiwe was die lug sag en oortrokke, gevolg deur die Leghorns wat pik-pik by die agterdeur kom aanmeld het vir hul daaglikse rantsoen mieliepitte. In die boord was dit broeiend en die grond onder die bome sanderig. Af en toe was daar ʼn ritseling in een van die bome. Soms het ʼn voël of ʼn nagswael geroep. Waar die boord ophou was daar goed in die omringende berge en aangrensende veld wat geskree het. Nader aan die huis het die paddas en die krieke egalig geroep. Dan gedurende die nag as die maan soos ʼn kors aan die heelal gehang, het die wind om die hoeke van die huis gepleit. Soms as ek mooi geluister het kon ek die mos hoor groei.
Voorskools en huiwerend het ek die tuin en die boord betree en sodoende ʼn daaglikse, jaarlikse ritueel gevestig. Vroegdag reeds het ek van mangoboom tot druiweprieel, tot hoenderhok, tot suurlemoen en appel na die posduifhok, avokado en lemoen, perske en appel, kweperlaan, die dam met water, die leivore, die sanderige en die kleierige gedeeltes, die grasperk en die roostuin, die jakarandas met hul geheime trone, die hond se lêplek onder die giftige selonsrose, die mossies se voëlbad, die bruisende bergstroom na die reën en die silveroaks langs die grondpad, gestap. Ek het gekyk hoe die bome gesnoei en natgelei word. Die daaglikse roetine, asook die oordaad van die boord, het persoonlike standvastigheid gebring want ons lewe was op sy kop gekeer. Verlam deur groot nuwe verantwoordelikhede, verlies en gemis het ons ma soms as sy terug gekom van die skool, niks te sê gehad nie. Dan as sy haar kop lig om ver deur die venster te staar, het die kind haar ma se oë gevolg na die sensitiewe, brose mislyn op die kruin van die Magaliesberge. Daardie jaar toe ek die horison ontdek, het ons kos wat warm gehou is in die Dover-oond, geëet.
Maar dit was nie net die storms wat ons geskud het nie: die lug rondom ons het sterk seine gestuur. Soms as die wind die silveroaks gebuig het, was die taal en eienaardighede van die dorpenaars in ons gemoed opgeneem en ons het geleer om knieg in plaas van knie se sê. Ons ma as onderwyseres van Joodse kinders, het die resonante Engelse tone die huis ingedra en as ons ouma kom kuier het, het sy kweper , druiwe , tamatie en appelkooskonfyt gekook, ook boerbrode en lamsboude in die Dover-oond gebak. Ons was so ontvanklik en gevoelig soos die konsentriese sirkels op die emmer water in die spens wanneer bliksems en donderweer tydens groot Transvaalse storms ons huis geteister het. Dit was ʼn pre-reflektiewe tyd van die kind. Ook prehistories in die sin dat niks geïnterpreteer is nie.
Vroeg reeds is die ritueel en daaglikse besoeke aan die boord verplaas na weeklikse besoeke aan die dorpsbiblioteek waar die beweging van rak na rak, die waarneming van titels en skrywers, die ritueel van digbundels of ander boeke uitneem of betalings by die kassier, ʼn lewensnoodsaaklike aktiwiteit geword het. So verknog was ek aan die tuin-boek ritueel dat ek vir sewe-en-twintig jaar ʼn ingeskrewe student by die Universiteit van Pretoria was. Vandag weet ek dat my professie as leser eintlik ʼn beswering van die pynlike verlies van ʼn pa op driejarige ouderdom is.
Geleidelik het my gehoor verskerp totdat diep iewers in wat ek is, dwingende ritmes en tonaliteite na vore getree het. Woorde is teruggesnoei tot suiwerste moontlike essensie. Hierdie ritmes van die gedig, is hulle bloot herhaling van ander klanke wat eindeloos deur die heelal sirkuleer? Klank op klank en ritme op ritme, uniek in sy individuele eggo en herhaling? Die passie om die klanke van die kindertuin te herhaal is egter nie die volle waarheid nie. Dis iets meer reflektief. Dis asof daar uitgereik moet word na die essensie van die konsep van die passie, ʼn soeke na die standvastigheid van musikaal bevredigende ordes van klank. Asof daardie impulse in die gemoed in sy wildste wese verlang om getransformeer te word, om terug getrek te word na die essensie van sy oorsprong.
In Kleinmond staan ek sub-bewus, onbewus, half verdwaas met ʼn knop in my keel met die gewaarwording dat ek die vierkant van saamgepersde boeke is en ek wonder wat die Versnippenaar gedink het toe die vrou, minute nadat my man die drie sakke aan haar oorhandig het, die boeke by die Herwinningsentrum afgelaai het. Sy het slegs ʼn paar ou resepte boeke gekies omdat sulke boeke goeie verkopers vir fondswerwing is. Hoekom is die boeke nie eerder herwin nie? Ek sien Brecht staan by die ingang van die herwinningsaal. Hy sien hoe plat die wêreld om hom is. Maar op die horison is die Kogelberge wat die aarde soos ʼn hoepel omsluit. En ek is weer eensaam en alleen en verwond. Ek sien Bebel strek sy hand uit om ʼn nuwe rigting aan te wys. Ek sien Hemingway as ʼn romantikus en Remarque as ʼn klassikus. Mann is die sterk stroom en Brod die vloedgety. Soos gebreekte vlerke laat Heinrich Mann sy arms sak as Heinrich Heine se metafore verdwyn in die mis. Ek voel koud as ek die kuspad huis toe neem. Waar die patryse skrop en die dikkoppe broei, waar aalwyne hul lang geleidende arms na my uitsteek, wag my man met ʼn bos spierwit rose.
________________________________
Hrabal, B. 2004. Too Loud a Solitude.
Sunday, August 30th, 2009
Lank, lank gelede was ek een aand teenwoordig by ‘n funksie aan die Universiteit van Pretoria, wat aangebied is na afloop van die oorhandiging van die pryse aan die studente wat in die jaarlikse skryfkompetisie as wenners in die drie hoofkategorieë aangewys is.
Nadat die toesprake afgehandel is, het ons gesellig om die tafels met vingerhappies verkeer en vir ons wyn en ander drinkgoed geskink. Tussen die studente, wat al hoe luidrugtiger geword het, was die gestaltes van ‘n hele paar skrywers sigbaar: H.J. Pieterse, wat kort-kort ‘n glasie hanepoot wegslaan. Pirow Bekker, iewers onder sy bont pet. Joan Hambidge, wat ‘n lesing oor die postmodernisme kom aanbied het, en wat ek bo die geroesemoes van stemme hoor lag. Alexander Strachan, wat oral hand gee, sy hemp onder sy lang, donker jas laag oor sy borshare oopgeknoop.
Tussendeur wens ons die wenners geluk en poseer vir De Kat se fotograaf.
En skielik, tussen al die ander deur, kom daar ‘n student na my toe en sy sê:
“U het na Fransi Phillips verwys toe u gepraat het van die skrywers wat aan hierdie universiteit gestudeer het. Waar is sy?”
“Hoe bedoel u?” vra ek.
“Waar kan ek haar in die hande kry?”
“Hoekom?”
“Sy is die enigste Afrikaanse skrywer wat ek lees, want sy glo aan unicorns.”
Toe soek ek om my rond, want Fransi was vroeër die aand onder die gaste wat geduldig geluister het. Loop ‘n slag heen en weer om te kyk of ek haar nie kan opspoor nie.
“Juffrou, sy was netnou nog hier,” sê ek en kyk weer rond, maar toe het sy al verdwyn.
En Melanie Grobler kom vertel aan my dat daar glo so baie kremetartbome in Afrika is omdat gestorwenes altyd met ‘n pit in die hand begrawe word.
Toe ek ’n paar dae later by Fransi die boek getiteld Magical beasts gaan haal het en haar van die student vertel, het sy lakonies opgemerk: “‘n Mens soek verniet na die eenhoring.”
Voor ek daar weg is, het sy my in ‘n ander boek ‘n kaart gewys waarop presies aangedui word waar drake in Europa voorgekom het.
Dit was juis Fransi Phillips wat my nog in ons studentedae daarvan bewus gemaak het dat daar ‘n plek is vir bespiegeling oor die fantastiese. Hoe ons ons in talle gesprekke daaroor uitgespreek het, kan ek net vaagweg onthou, en hoe meer ‘n mens oor die fantastiese nadink, hoe onsekerder is jy van wat die aard daarvan nou eintlik is.
Die spoor van die eenhoring loop reeds voor die begin van ons jaartelling deur Oosterse en Midde-Oosterse literatuur. Gedurende die Middeleeue het hy sy afdruk in boeke, op kunswerke en in die Christelike simboliek gelaat. Vroeë reisigers deur die Suid-Afrikaanse binneland het opnuut die spoor van oorlewering, gerugte en rotstekeninge opgeneem op soek na die dier waarvan die verband tussen teken en betekende steeds onseker was. Maar soos wat die landskap verder verken is, het die eenhoring telkens agter ‘n nuwe horison verdwyn. Hy maak egter ‘n onverwagse herverskyning in die streke van die Afrikaanse letterkunde van die laat-twintigste eeu in die werk van onder andere D.J. Opperman, N.P. van Wyk Louw, Jacques Loots, George Weideman, Barend J. Toerien, Wilma Stockenström, Johann Lodewyk Marais, Karel Prinsloo en Martjie Bosman. (Ek en Martjie het ‘n artikel oor hierdie gedigte geskryf.) Die vraag kan egter gestel word of die eietydse leser die eenhoring buite die bladsye van ‘n boek sal herken.
Tags: Afrikaanse letterkunde, Alexander Strachan, Barend J. Toerien, Christelike simboliek, DJ Opperman, Drake, Eenhoring, Fantastiese, Fransi Phillips, George Weideman, HJ Pieterse, Jacques Loots, Joan Hambidge, Johann Lodewyk Marais, Karel Prinsloo, Kremetartboom, Magical beasts, Martjie Bosman, Melanie Grobler, NP van Wyk Louw, Pirow Bekker, Postmodernisme, Rotstekeninge, Wilma Stockenström Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
|
|