Posts Tagged ‘Melt Myburgh’

Digstring

Thursday, February 10th, 2011

Hierdie inisiatief is na die voorbeeld van Brian Brodeur se hoogs suksesvolle weblog “How a poem happens“. Hiervolgens word op ‘n bepaalde gedig gefokus aan die hand van ‘n aantal standaardvrae aan die digter ten opsigte van die ontstaan van die betrokke vers. Ons glo dat gevestigde sowel as aspirant digters dié aaneenstring van digter en gedig leersaam (en hopelik inspirerend) sal vind.

Digstring

Digstring

Inhoud

A-B 

Andries Bezuidenhout. Taxi-rit ná die aand. Mei 2010

Andries  BezuidenhoutVeelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle” . Nov. 2014

Zandra Bezuidenhout. Moderne Psalm. Mei 2010

Emma Bekker. Nagvangs. Mei 2016

Nini Bennett. Da Capo. April 2016

René Bohnen. Brief aan Ebba. Mei 2012

Fourie Botha. My eerste Bybel. Augustus 2011

Aniel Botha. Rooikappie en die wolf. Mei 2012

Hendrik J. Botha. Breindood. April 2016

C, D, E

TT Cloete. Swerwende verse

Toast Coetzer. geluk

Hans   du Plessis .Josef

Heilna du Plooy du Plooy. “Ouhoutfluit”

Marius Crous. Die ander man

Anne-Ghrett ErasmusSkilder

Sydda Essop. Ek lewe in stilswye

Louis Esterhuizen. Melopee

F, G

Gilbert Gibson. Another roadside attraction

Melanie Grobler. Die Eerste Vrees Is Hier.

H, I, J

Joan Hambidge. “The drama of being a child”

Joan Hambidge. In die skadu van Machu Picchu. Mei 2010

Joan Hambidge. Parys

Daniel Hugo. Ontnugterde digter. Junie 2010

Pieter Hugo. Honde

Marlise Joubert. waarskuwings. Mei 2010

K, L

Ronelda KamferStof. Junie 2010

Annie Klopper. ‘n Deurnagbraai in Oranjezicht

Martine Klopper. Kwatryn

Antjie Krog. Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg/Winter. Mei 2010

Willem Krog.  “Vir pa”  Nov. 2014

Karen Kuhn. Taalles. Mei 2012

Kobus Lombard. Kameeldoring

M, N

Jannie   Malan. Watermerk” Nov. 2014

Johann Lodewyk Marais. Richard E. Leakey 

Lucie Möller. Kortstondige kalligrafie

Melt Myburgh. Toeval

Charl-Pierre Naudé. Twee diewe. Mei 2010

Charl-Pierre Naudé : “Eergister en môre, met visse”  Nov. 2014

Fransi Nieuwoudt. ” ‘n ontstaan “. Febr. 2017

O, P, Q

Pieter Odendaal. die eerste steen.

Johannes Prins. Man diesel

R, S

Andries Samuel. All god’s children took their toll

Alfred Schaffer. “Droomstart”  Nov. 2014

Susan Smith. “By die soetdoring” . Febr. 2017

Carina Stander. Lima

Marius Swart. liefdes-e-pos. Mei 2010

T, U

V, W

Marlene van Niekerk. Poets van ons vaderland unite

Ilse van Staden. Fluistering

Ilse van Staden. Dertien kraaie. Febr. 2017

Jacobus van der Riet. Die Heilige Nikolai van Japan. April 2016

Cas Vos. Kersrook

Cas Vos. Uitkyk. Mei 2012

Jelleke Wierenga. Reënboognasie: Fear dot com

 

 

 

Digstring: Melt Myburgh. Toeval

Tuesday, August 3rd, 2010

Digstring

 

toeval  

hoe lieflik die toeval

daardie sondagmôre

in die avenida de los andaluces

 

sonder praat betree hy die bus

beklink sy passaat met uitgetelde munt

en neem twee sitplekke verder stelling in.

 

pepe el romano, my lippe klankloos.

 

golwend en git glip sy hare oor die baadjiekraag.

langs hom jukstaponeer die kaatsing in die ruit

‘n gebeitelde profiel met populiere wat hiberneer.

 

heupe bestendig, klim hy êrens in die vega af.

toe hy agter ons kleiner raak, sien ek hoe kleef

aan sy postuur, met die grasie van ‘n moeë gimnas,

die vervulling wat volg op ‘n deurgenaaide nag.

 

 

(c) Melt Myburgh (Uit: Oewerbestaan, 2010: Protea Boekhuis)

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Melt? Hoe het dit ontstaan?

Ek het die gedig geskryf na my terugkeer van Spanje waar ek onder meer Federico García Lorca se geboortedorp Fuente Vaqueros besoek het.

Vir daardie besoek in Januarie 2005 moes ek ʼn bus haal vanaf Granada na die digter se geboortedorp sowat 30km buite die stad. Dit was vroeg op ʼn Sondagoggend wat ek op die autobus in die Avenida de los Andaluces moes klim. Snerpend koud daarby.

Omdat daar skynbaar net twee Granadino’s in die ganse stad is wat Engels kan praat, moes ek myself met die hulp van handgebare en geradbraakte Spaans op die regte bus kry. Die Spanjole is nou nie juis bekend vir hul hartlikheid teenoor vreemdelinge nie.

Daar was net ʼn handvol passasiers op die rammelrige bus, van wie een ʼn onchristelike mooi man was. Kyk, die Spanjaarde spoeg en pis op straat en hulle verpes immigrante en buitelanders, maar ʼn gebrek aan skoonheid het hulle nie. En dié besondere Andalusiër was bepaald die aanskoulikste van die spesie wat my pad gekruis het die hele Spanje deur.

Uit die aard van die saak kon ek my oë kwalik afhou van die skone klong wat hom enkele sitplekke voor my tuisgemaak het. Hy was geklee in ʼn netjiese wolbaadjie en die dik swart hare, berekend geolie, het oor sy kraag gehang.

Iewers op die pad na Fuente Vaqueros het hy letterlik in die middel van nêrens afgeklim en koers gekies deur ʼn landery na ʼn plaasopstal wat tussen bome versteek gelê het.

Dis toe dat my verbeelding op hol gaan. Ek het dadelik gewonder oor sy bestemming en wat die doel van sy besoek aan Granada was. So ʼn mooie man moes ten minste ʼn minnares (of ʼn minnaar; mag die gode genadig wees!) hê by wie hy sy lê sou kry tydens ʼn nag in die stad. Dalk het hy ʼn besoek aan ʼn siek ouma gebring, of so iets – hoe sal mens nou weet?

Omdat ek op my verbeelding aangewese was vir ʼn “historie” oor dié aanvallige vreemdeling, het ek dadelik gedink aan Pepe el Romano, die manjifieke “afwesige” karakter in Lorca se Die huis van Bernarda Alba. Daar en dan het ek die insig aan myself opgedring dat dié insident Lorca se manier was om met my te kommunikeer terwyl ek op sy spoor geloop het. En ʼn groter geskenk kon hy my sekerlik nie gee nie: Pepe el Romano in die vlees!

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die gedig is in een sitting geskryf, maar die opening- en die slotreëls is telkemale aangepas. Ek het na my redakteur by Protea Boekhuis geluister toe sy voorgestel het dat die openingsreël verander word, maar ek het vierpotig vasgesteek toe sy aan die hand doen dat “deurgenaaide nag” in die slotreël versag word tot “vervulde nag”. Sy praat darem nog met my.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

95% is op ʼn silwer skinkbord aan my gegee, en die res het bietjie kopkrap geverg.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Ek wou die verloop van die insident chronologies weergee. Aanvanklik was daar geen strofes nie, maar met die publikasieproses is die verdeling gedoen op grond van my keurder se aanbeveling. Bless his soul.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ek kan nie onthou of ek die eerste weergawe aan ʼn vriend of vriendin voorgelees het tydens ʼn wyndeurdrenkte kuier nie. Waarskynlik. Daar het wel ʼn vroeër weergawe van die gedig op hierdie webblad verskyn. Ek het net een skalkse reaksie gekry van ʼn leser.

My mure dien as klankbord.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Omtrent vier jaar het sedert die vers se ontstaan verloop voordat dit in Oewerbestaan verskyn het.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Strofes 1, 2 en 4 is feit. Strofes 3 en 5 is fiksie.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

ʼn Reisiger in Andalusië se paaie kruis met dié van ʼn karakter uit ʼn Lorca-drama.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Lorca se Die huis van Bernarda Alba. Ek het onder andere verskeie TV-produksies van die drama gesien: die wit-en-swart produksie van die SAUK in die jare toet met Wilna Snyman in die hoofrol, asook ʼn Spaanse dansdrama wat jare gelede vir die eertydse SAUK-TV verfilm is. In laasgenoemde was Pepe el Romano wel ʼn karakter wat sy onbereikbare geliefde dansend deur ʼn tralievenster bygekom het.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Ja, die gepeupel wat in hul massas met gaffels en tuinvurke en tande wat ontbreek saamdrom op die dorpsplein wanneer minstrele die dorp binneval.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Die vers word aangebied in ʼn ligter trant as die meeste ander gedigte in Oewerbestaan. Die aanslag is humoristies en speels (dink ek).

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Ja, die tweedelaaste woord. Hoe sal mens dit nou vertaal sonder om die impak daarvan te verloor?

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek is saaklik tevrede.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Na die publikasie van Oewerbestaan het luisteraars meestal met uiterste genoegdoening op die vers gereageer wanneer ek dit in die openbaar voorgelees het. Niël Rademan en Rika Vermeulen het ʼn pragtige komposisie daarvan gemaak wat by die Stellenbosse bekendstelling van die bundel uitgevoer is. Aanvanklik was hulle, en ander, skrikkerig vir die slotreël, maar toe ek my oë uitvee, word dit met gusto aangebied in kabaretvorm.

ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ja, ek was ʼn laaitie in standerd nege in 1984. Ek het my eerste gediggie (heel religieus) geskryf terwyl ek op my skooltas voor my gedruk het. Ek het op my bed gesit, my bene gekruis. Die gedig is opgeneem in Oewerbestaan: “gisteraand met die reënwind se koms”.

Melt Myburgh

Melt Myburgh

Melt Myburgh woon op Stellenbosch en werk by Woordfees. Hy het langs die Oranjerivier op Karos naby Upington grootgeword.

Nadat hy in 1992 ‘n M.A.-graad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, was hy vir 15 jaar lank onderwyser in Afrikaans en Engels in skole regoor die land.

Van sy gedigte is in Nuwe Stemme 2 opgeneem. Hy skryf gereeld vir Rapport se boekeblad.

Oewerbestaan, sy debuutdigbundel, het onlangs by Protea Boekhuis verskyn.

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.