Posts Tagged ‘Menno Stenvert’

Hendrik Botha. Het die digkuns dokters nodig?

Thursday, October 27th, 2016

hendrik-botha-en-menno-stenvert

 Hendrik Botha en Menno Stenvert

 

 

Het die digkuns dokters nodig?

Op die oog af ‘n ietwat onsinnige vraag, wat sekerlik ‘n paar wenkbroue sal laat lig. In Afrikaans is daar egter meer as ‘n handvol draers van Asclepius se staf wat sedert laat in die negentiende eeu ‘n rol speel of gespeel het in die Afrikaanse digkuns.

Die eerste geneesheer wat sy hand in Afrikaans aan die skryf van poësie sou waag was natuurlik Arnoldus Pannevis, wat na sy skeepsreis as skeepsdokter die medisyne vaarwel sou toeroep. Hoewel hy eerder onthou sal word vir sy rol in die beywering vir Afrikaans as soewereine taal, is hy ook amptelik die eerste digter in Afrikaans, en ook die eerste dokter-digter.

Na hom sou volg C. Louis Leipoldt, A.G. Visser, A.D.Keet, Theo Wassenaar, Phil du Plessis, Casper Schmidt, Henk Rall, Menno Stenvert, Gilbert Gibson, Len S. Louw, Hennie Nortjé, Jasper van Zyl en Hendrik J. Botha (myself).

Dit beantwoord steeds egter nie die vraag nie. Het die digkuns, en meer spesifiek dan die Afrikaanse digkuns, dokters nodig? Soos met meeste vrae in die lewe is daar ‘n kort antwoord en ‘n lang antwoord op die vraag. Die kort antwoord is gewoon, nee!

Pablo Neruda het immers gesê daar bestaan geen digters nie, slegs “n digkuns”.By implikasie beteken dit dat die digkuns geen individue, of groeperings dan, “nodig” het nie. Altans nie om te oorleef nie!

Kom ons by die lang antwoord moet ons dalk die vraag bietjie herfraseer.

Het dokters, of minstens sommige van hulle, as digters ‘n betekenisvolle bydrae gelewer tot die Afrikaanse poësie? Die antwoord hierop blyk meer voor die hand liggend te wees.

Leipoldt en A.G. Visser het albei ‘n groot rol gespeel, nie net in hulle eie tyd nie maar ook in die invloed wat hulle op geslagte digters later sou uitoefen. Beide van hulle sou ook met die Hertzog-prys bekroon word, Visser weliswaar twee maal, en Leipoldt, hoewel nie vir sy poësie nie, wel vir drama.

Die detail van die invloed wat beide Leipoldt en Visser op toekomstige geslagte digters in Afrikaans sou uitoefen val myns insiens buite die bestek van dié blog. A.D. Keet en Theo Wassenaar sou beide nie die statuur bereik van hulle voorgangers nie, maar veral Keet sou as sg. “volksdigter” ‘n betekenisvolle impak maak, ook in Nederland waar hy studeer het.

Hierna volg ‘n stilte vir baie jare, weliswaar tot in die sestigerjare toe daar etlike dokter-digters op die toneel sou verskyn. Casper Schmidt sou minstens aanvanklik die grootste impak maak met sy debuut Adder om aarde en vyf jaar later met Terra Incognita wat met die Perskorprys bekroon is. Hy sou nog twee bundels publiseer voor hy in 1980 die land sou verlaat waarna hy hom in die VSA as kinderpsigiater sou kwalifiseer en waar hy as sulks in New York tot kort voor sy dood in 1994 sou praktiseer.

Phil du Plessis was ‘n tydgenoot en vriend van Schmidt en was saam met hom deel van die groepering avante-garde digters wat in daardie tyd in Pretoria bedrywig was. Hulle was ook betrokke by die tydskrif Wurm gedurende die tyd. Phil du Plessis publiseer elf bundels in Afrikaans en hy sterf op 29 November 2011 in Kalkbaai.

Henk Rall studeer aanvanklik aan die Potchefstroomse Universiteit waar hy B.A.- en B.A Honneursgrade in Afrikaans-Nederlands en Engels behaal. Hy gaan studeer later medies aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 1969 kwalifiseer. Van sy gedigte verskyn sedert 1963 in tydskrifte soos Kol. Standpunte, Trek en De Arte. Sy debuutbundel, ‘n Son breek, verskyn in 1966. Hy publiseer uiteindelik ses bundels, die laaste, Geskrifte van ‘n vermiste digter, in 2008.In Rall se vierde bundel, Donker van mere, wat in 1976 verskyn, gebeur daar egter iets wat as ‘n waterskeidende moment beskou kan word. Vir die eerste keer verskyn daar ‘n gedig deur ‘n dokter-digter in Afrikaans wat sy beroep betrek, dit wat later in Engels tipeer sou word as “Medical poetry”. In Rall se bundel verskyn twee gedigte, “vir Elwood Jensen”, en ook “molekulêre biologie”.

Alhoewel daar in Afrikaans reeds mediese gedigte gepubliseer is deur digters sonder mediese agtergrond, verskil die invalshoek ten opsigte van die onderwerp uiteraard. Die een is vanuit die oog van die pasiënt, terwyl die ander vanuit die oog van die geneesheer benader word. ‘n Voorbeeld van ‘n sg. “mediese gedig” deur ‘n digter sonder mediese agtergrond is die gedig “Mammektomie” van Eybers uit die bundel Einder.

Mammektomie

.

‘n Wreed-berekende deernis het

één van die tweelingheuweltjies geplet.

.

Dié spieëlbeeld sal sy voortaan nooit ontvlug:

uit één oog staar die vreemde torso terug.

.

‘n Amasone, half-hermafrodiet,

kon feilloos haar gespierder vyand neerskiet

.

-die regterbors koelbloedig weggebrand,

niks tussen ribbehok en boogsnaarhand-

.

volgens Herodotus.

                                    Dis nou te laat

en onmitologies vir só ‘n haat…

.

Te laat, goddank te laat: blindelings omvou

haar nuwe vriend die nuwe onvoltooide vrou.

Uit: Einder. (1977)

.

Vergelyk die gedig nou met Rall se gedig, “molekulêre biologie”

.

molekulêre biologie

.

van antwoord weet geen enkel woord

van waarom in die sel daar chaos teel

en woekerende kankers kom

waar funksie orde was

.

vraag is donker op ‘n vraag

en dwaal op buite-kimme rond

waar selmembrane breuke is

van is en wat nie word

.

vir ons wat soek die helder spel

van dink en van verbeel,

vir ons die oomblik in die lig

wanneer ‘n brokstuk pas in die geheel

Uit: Donker van mere (1976)

.

Ongelukkig word daar in Rall se laaste twee bundels nie voortgebou op die tema van “mediese gedigte” nie, en sou ons tot 1986 moes wag vir die volgende dokter-digter, naamlik Menno Stenvert om dié tematiek vanuit die oogpunt van ‘n dokter, betekenisvol te ontgin.

Stenvert was ‘n klasmaat van Phil du Plessis en ‘n tydgenoot van Casper Schmidt aan die Universiteit van Pretoria se mediese skool. Stenvert begin op hoërskool reeds dig maar dit raak eers vir hom ‘n erns tydens sy studentejare. Hy was saam met Du Plessis en Schmidt op die redaksie van die tydskrif Wurm wat verteenwoordigend was van die “Wurm-groep”, wat ‘n alternatiewe avant-garde groep digters was in die noordelike deel van die land. Van sy vroeë gedigte, wat aanvanklik in Nederlands geskryf was, het verskyn in Tydskrif vir Letterkunde en ook in Universiteit van Pretoria se jaarblad.

Later begin Stenvert in Afrikaans dig. Hy word deur D.J. Opperman raakgesien en vyf van sy gedigte word opgeneem in Stiebeuel 2. Stenvert sou egter heelwat later, in 1986 debuteer met ‘n solo-bundel naamlik Vrugvlies. Stenvert se debuut sou met relatief min opslae en aandag verbygaan. ‘n Belangrike faktor wat met die ontvangs van Vrugvlies misgekyk is, is dat daar in die bundel 15 van die 42 gedigte in die bundel is wat as sg. “mediese poësie” getipeer sou kon word. Stenvert se mediese agtergrond manifesteer ook meer eksplisiet in sy gedigte as die van sy voorganger, Henk Rall. Stenvert, terloops, is ‘n narkotiseur, en skryf dan ook die eerste gedig in Afrikaans oor narkose.

Spel

.

‘n Ventilator blaas

geprogrammeerde asem,

op TV spel my hart

siklies golwe en pieke

alfabeties uit.

Blompatrone bloed

vlek hande, vloer;

koue druppels water

ryg tot abakus.

Pentotal dompel

nomen onder agter oë toe

antwoord ek my

polsende naam

hygend uit

Uit: Vrugvlies (1986)

Ter versagting van die kritici en resensente moet darem gemeld word dat “mediese poësie” ook in Engels in daardie stadium redelik min aandag sou trek. Dis eers met die stigting van die Hippocrates Society for Poetry and Medicine in 2009 onder beskerming van die Royal College of Medicine in die Verenigde Koninkryk wat “mediese poësie” op die voorgrond sou tree, met ‘n jaarlikse internasionale kongres en daarmee saam ‘n drieledige poësie kompetisie, nl. ‘n ope afdeling, ‘n afdeling vir werknemers by die National Health System en dan ‘n junior afdeling vir skoliere. Beide die eerste twee afdelings het ‘n prysgeld van 5000 pond vir die beste gedig, wat waarskynlik seker die grootste bedrag aan prysgeld is ter wêreld vir ‘n enkele gedig.

Die Walliese digter, Danny Abse, word beskou as die “vader van mediese poësie” deur die Hippocrates Society for Poetry and Medicine. As ons iemand in Afrikaans moes nomineer, sou my stem gaan vir Menno Stenvert wat meer as ‘n derde van sy debuut gewy het aan “mediese poësie”.

Die volgende verskyning van ‘n dokter-digter op die Afrikaanse toneel sou eers vyftien jaar later wees met die verskyning van twaalf gedigte in Nuwe stemme 2 van die Bloemfonteinse internis, Gilbert Gibson. Hy sou dan met ‘n solo-bundel Boomplaats debuteer in 2005, en daarna tot op hede nog vier bundels publiseer wat almal baie goed ontvang word. Boomplaats word in 2006 bekroon met die Proteaprys vir Afrikaanse poësie.Sy derde bundel Oogensiklopedie verskyn in 2009 en hy ontvang in 2010 ‘n ATKV-Veertjie toekenning daarvoor.Sy vyfde bundel vry, verskyn in 2015 en ontvang weereens ‘n ATKV-Veertjie toekenning in 2016 sowel as die Elizebeth Eybersprys vir poësie.

Gibson is duidelik die dokter-digter in Afrikaans wat die grootste impak sou maak sedert C. Louis Leipoldt en A.G. Visser. In sy eerste twee bundels is daar wel spore van sy werk as dokter, dus, wat ons sou kon tipeer as “mediese poësie”, maar daarna verdwyn dit grootliks by sy laaste drie bundels.

i.c.u

.

hierdie vrou lê roerloos

volgeventileer, verslap, edematous, versaak,

siek van kollektiewe geheue

soos vingers taai van springmieliebolle, van

palms oor beskuitdeeg,

van arms wyd soos die rooivloerstoep wat hulle op die

plaas gehad het, van skouers gebuk onder die sagte woord,

van heupe wat geselluliet getuie speel vir

sondagetes jare terug, van bene

ouer en slimmer onder ‘n

gestoelte in die kamer wat sy in die ouetehuis

gehad het, van voete waaraan die

artritis bly knaag, van ‘n kop wat

nou verstil op die kussing,

onder die monitor die intraveneuse lyne

die juk van verlang

.

familie wag in die gang

.

Uit: Boomplaats (2005)

.

Na Gibson beleef ons ‘n tyd, byna soos met die avant-garde digters van die laat sestigerjare dat daar in ‘n relatiewe kort tyd ‘n handvol dokter-digters op die Afrikaanse toneel sou verskyn.

Len S. Louw was ‘n narkotiseur van Worcester wat in 2009 met ‘n terminale siektetoestand gediagnoseer word. Hy het ‘n manuskrip met gedigte wat op daardie stadium dalk nog nie heeltemal publikasie gereed was nie, en met voorbehoude deur ‘n hoofstroom uitgewer aanvaar is. As gevolg van die aard van sy omstandighede het ‘n paar van sy vriende in samewerking met mense in die industrie besluit om eerder ‘n korter pad met publikasie te loop ten einde die bundel gepubliseer te kry voor sy afsterwe. Met Leti Kleyn aan die stuur het Fanie Olivier, Jeanette Ferreira en nog etlike ander mense gehelp en het Tienie du Plessis van Hond Uitgewers die bundel aan’t stap in 2010 gepubliseer.

Die bundel is goed deur lesers en resensente ontvang, en mens wonder onwillekeurig oor die invloed wat Louw later sou kon hê as die noodlot aan hom ‘n ander hand met kaarte uitgedeel het. Louw se gedigte toon min wesentlike spore van sy werk as narkotiseur of dan as dokter. Hy sterf uiteindelik na ‘n uitgerekte siekbed op 26 Januarie 2013.

In 2011 verskyn die bundel Die lewe tussen pikkewyne van Jasper van Zyl, op dié stadium nog ‘n mediese student. Van Zyl skryf reeds poësie van skooldae af en van sy gedigte is in 2005 in Nuwe stemme 3 opgeneem.Van Zyl se gedigte toon geen spore van sy mediese agtergrond nie, maar hy word baie gunstig deur lesers en resensente ontvang. Hy word beskou as ‘n jong digter met enorme potensiaal.

In 2012 verskyn Hennie Nortjé, ‘n internis van Stellenbosch op die toneel. Hy is ‘n produk van die Universiteit van Kaapstad se Kreatiewe skryfskool waar hy onder leiding van Joan Hambidge ‘n M.A. graad in Kreatiewe skryfwerk verwerf het.

Sy skitterende debuut, in die skadu van soveel bome, word uitstekend ontvang en word in 2012 bekroon met die Eugène Marais prys, en in 2013 met die Ingrid Jonker prys.

Nortjé se werk toon, op een gedig na, ook nie werklik spore van sy agtergrond as dokter nie.

.

Verdere variasie

.

Die berk

is slank en lig,

haar vel

hier en daar gevlek.

Iemand sou inderdaad

kon dink

dis besproete been

van ‘n meisiekind,

en hy was reg:

orals langs die pad,

in terminale

immuungebrek,

staan sy en haar soort

anemies

met Kaposi se sarkoom

(onder andere)

deurtrek.

Uit: in die skadu van soveel bome  (2012)

.

Die laaste dokter- digter tot op hede in Afrikaans is dan Hendrik J.Botha, ekself, ‘n narkotiseur van Pretoria en ook ‘n produk van die Universiteit van Kaapstad se Kreatiewe skryfskool onder mentorskap van Joan Hambidge, wat in 2015 debuteer met Atropos. ‘n Afdeling met drie en twintig gedigte kan tipeer word as “mediese poësie”.

Dit laat mens onwillekeurig nou met ‘n paar vrae.

Eerstens, is dit regverdig om ‘n digter, wat ook toevallig ‘n dokter is, die bordjie “dokter-digter” om die nek te hang? Is dit tot sy voordeel of kan dit hom benadeel, veral as sy poësie nie sy mediese agtergrond reflekteer nie. Ons praat immers nie van “onderwyser-digters” of “prokureur-digters” nie, doen ons? My persoonlike gevoel is dat die antwoord op die vraag nie so eenvoudig of voor die hand liggend is nie. ‘n Digter soos Gilbert Gibson in veral sy laaste drie bundels, toon baie min tekens van sy werk as dokter. Hy het hom ook bewys om as digter, suiwer op grond van sy gedigte, sy man te kan staan, waardeer te kan word, bekroon te kan word. Ek dink nie dat dit noodwendig tot sy voordeel kan wees om hom as “dokter-digter” te beskou nie. Beoordeel en waardeer hom as digter, die feit dat hy ‘n dokter is, is eintlik nie ter sake nie.

Dieselfde argument sou mens ook kon opper in die geval van Hennie Nortjé en Jasper van Zyl.Kyk mens egter na ‘n digter soos Menno Stenvert, sou sy debuut waarskynlik baie meer aandag gekry het en uit ‘n ander hoek beoordeel geword het as die “mediese poësie” daarin raakgelees is, en as dit in ‘n stadium was wat “mediese poësie” die aansien en waardering het wat dit vandag het. (Veral in Engels natuurlik). Myns insiens sou dit vir hom voordeel ingehou het om as “dokter-digter” tipeer te kon word, veral as mens sou in ag neem dat hy iets nuuts na die tafel gebring het.

As ons ‘n paralelle vergelyking wou trek met Engels, sou dit wees om die posisie van Danny Abse te vergelyk met iemand soos William Carlos Williams. Abse het sy bekendheid en erkenning tot ‘n groot mate te danke aan die mediese gedigte wat hy geskryf het, dat hy as die “vader van mediese poësie” beskou word deur die Hippocrates Society for Poetry and Medicine.In Williams se geval is dit eintlik totaal irrelevant dat hy ‘n dokter was.

Waar bring dit ons dan nou vandag? Het die Afrikaanse digkuns dokters nodig? Ek is steeds nie seker oor die antwoord op die vraag nie. Wat miskien ‘n meer dwingende vraagstuk is, is of dokters poësie nodig het, en indien wel, hoekom?

Miskien is dit ‘n vraag vir ‘n ander dag.

.

Hendrik J. Botha

Hendrik J. Botha

Hendrik J. Botha is ‘n digter van Pretoria. Hy is ook ‘n narkotiseur. Botha het aan die Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom gematrikuleer. Hy het medies aan die Universiteit van Pretoria studeer en later gespesialiseer in narkose. Hy praktiseer as spesialisnarkotiseur, eers in Klerksdorp en nou in Pretoria. In 2013 verwerf hy ’n MA (kreatiewe skryfkuns) aan die Universiteit van Kaapstad. In 2015 debuteer hy met “Atropos” by Queillerie.

 

(Hendrik Botha is saam met ander een van ons gasbloggers vir Okt.en Nov. – mj)

Bronnelys:

Botha, Hendrik J. 2013. M.A Tesis: Dokters as digters in die Afrikaanse letterkunde. Universiteit van Kaapstad.

Rall, H. 1976. Donker van mere. Kaapstad: Tafelberg.

Eybers, E. 1977. Einder. Kaapstad: Human & Rousseau.

Gibson, G. 2005. Boomplaats. Kaapstad: Tafelberg.

Stenvert, M. 1986. Vrugvlies. Kaapstad: Tafelberg.

Nortjé, H. 2012. in die skadu van soveel bome. Kaapstad: Queillerie.