Mentorskap
Tuesday, February 9th, 2010My ouma en oupa het jare lank in ’n duplekswoonstel in Pretoria gewoon. Teen die muur langs die trap op na die tweede vloer was daar, behalwe vir die gewone versameling trotse familiefoto’s, ook ’n magdom geraamde sertifikate en toekennings wat my oupa as leermeester en navorser ontvang het. As kind en later as student, is ek menigmaal goedig deur my ma gemaan: “Hou jou oog hierop en doen jou bes”. Nie dat ek ooit gedroom het om in my oupa se voetspore te volg nie, maar mens het tog iemand as held, voorbeeld en/of mentor nodig. Die uitdaging is om iewers tussen nabootsing en navolging jou eie balans te vind.
In die veeartsenykunde was daar genoeg afstand tussen my eie loopbaan in privaatpraktyk en dié van my oupa as lewenslange Anatomie-dosent om nie te voel ek stap te veel in gebaande weë nie. Met die skilderkuns was en is dit ’n ander storie.
Behalwe dat ek grootgeword het uit die stam van en in die skaduwee van ’n skilder-boom, het ek vir die laaste elf jaar skaars ’n halwe kilometer van daardie boom gewoon. My ma, synde ’n skilder van beroep, was ál te naby om die kans van appeltjie-nie-ver-van-die-boom-af te verhoog. Sedert ek vyf jaar gelede weer meer tyd en plek het vir skilder, moes ek doelbewus my eie pad loop. Ja, ek kon by haar leer wat tema en tegniek betref. Ek kon, wanneer ek myself in ’n hoek geverf het, die straat op stap en vra, Hoe nou? Maar ek moes (en moet nog steeds) myself met groot versigtigheid laat afkyk en nadoen.
Op die gebied van die poësie is dit net so ’n mynveld. Daar het ek nou nie iemand tasbaar naby nie, maar woorde is daar veel van. Sit mens met ’n sak vol wanordelike woorde in jou skoot, is dit te maklik om te sê: Maar kyk hoe doen dié een of daardie een dit. Kyk na sy beelde. Kyk na haar taalmanipulering. Kyk wat doen hulle met of sonder rym, met of sonder leestekens, met of sonder emosies. Dit is tog ook wat menige mentor en kritikus sal aanbeveel. Gaan léés die goeie digters! Hou jou oog hierop en doen jou bes. Solank jy hulle dit net nie probeer nadoen nie. Overgesetsynde, leer daaruit en gaan doen iets anders. Trap lángs die paadjies.
Iemand het gesê dat mens in die kookkuns, soos in die lewe, net moed en verbeelding nodig het. Miskien geld dit dan ook vir poësie. Sodra jy weet hoe om ’n eier te kook en ’n varkboud sappig gaar te kry, gooi weg daai kookboek. Steun slegs op jou eie kreatiwiteit en skep voort. Lepelsvol.




