Posts Tagged ‘metateks’

Marlies Taljard: voelend ʼn pad deur die vis vind

Monday, December 5th, 2016

Patricia Wauch skryf oor die metafiksionele praktyk as dié praktyk van “fictional writing which self-consciously and systematically draws attention to its status as an artifact in order to pose questions about the relationship between fiction and reality” (In: “Metafiction: The theory and practice of self-conscious fiction”, 1984). Hierdie praktyk is – soos ek in drie vorige blogs aangetoon het – ook ʼn essensie van Ars poetica-gedigte. Die Ars poetica is per definisie ʼn tipe gedig waarin die digter reflekteer oor die digterlike praktyk en meestal oor sy/haar eie praktyk, poëtiese beginsels en die teorieë wat onderliggend is aan die skryfproses. Hierdie blog handel oor ʼn bepaalde vorm van die Ars poetica, naamlik dié gedigte waarin skrywers besin oor die wyse waarop hulle skryf – met ander woorde gedigte waarin besin word oor die skryfhandeling as sodanig.

Waugh se redes waarom skrywers – veral in die postmoderne tydsgewrig – oor vakteoretiese kwessies besin, sluit in klemlegging op die besinnende aard van die skryfproses en die feit dat die eindproduk ʼn artefak is en nie noodwendig daartoe in staat is om die werklikheid (of ʼn deel van die werklikheid) te representeer nie. Die gedig is doelbewus gekonstrueer en is nie ʼn deel van die natuurlike wêreld of die realiteit nie. Die klem op tegniek en teoretiese onderbou van die digter is ook ʼn kenmerk wat reeds (veral sedert die modernisme) in sodanige literêre werke aanwesig is – dit is in sy wese ʼn tegniek waardeur die skrywer die aandag op hom- of haarself vestig en die alom-teenwoordigheid, die onbekende en selfs mitologiese aard van die digter as persoon ondermyn word, hoewel nie ontken word dat prosesse wat buite die begrip en kontrole van die skrywer lê, eweneens by die skryfproses betrokke is nie.

Die gedig waarin besin word oor skryf as proses is in wese ʼn narratief waarin literêre teorie en kritiek geïnkorporeer word om as’t ware die storie van die gedig te skryf. Soms word aannames oor die narratiewe proses of die digproses openlik bevraagteken en ondermyn (byvoorbeld dat “woorde uit die digter se kreatiewe wese vloei” of dat ʼn gedig in sy geheel aan die digter “gegee” en dan in een sitting neergeskryf word). Gedigte oor skryf as moeisame proses is redelik algemeen. Ek fokus op enkele skrywers wat absoluut willekeurig gekies is en gedigte wat sover my kennis strek nog nie in besonderhede ontleed is nie.

Hennie Aucamp se gedig “Proses” in die bundel Teen die lig is die verhaal van hoe ʼn storie tot stand kom:

 

Ek sluimer oor ʼn storietjie

maar laat dit net so lê:

Dit het te min aan inhoud

om hardop uit te sê –

 

tensy ek dit as draadjie

oor ʼn glas laat sak

waarin ʼn stroopsoet mengsel

kristalle daaraan plak

 

en klont en knoets en eindelik

– o lieflike gesig –

ʼn simpel storiedraadjie

tot teesuiker verdig.

 

Hierdie gedig is inderdaad ʼn resep vir die skryf van ʼn verhaal: dit begin by ʼn onaansienlike storielyn, dan ʼn lang fase van rus waarin “soet” dinge op dié storietjie inspeel, tot dit uiteindelik substansie het en as’t ware uitgekristaliseer het tot ʼn lekkerny – ʼn klont teesuiker. In Aucamp se eenvoudige styl met sy treffende metafore word iets belig van die magiese proses waardeur ʼn literêre kunswerk tot stand kom, maar tesame daarmee die vindingrykheid van die skrywer en die oneindige geduld wat die ordinêre koppie suikerwater lagie vir lagie en met presiese akkuratheid tot kristal struktureer.

Die verdigtingsproses word ook deur Louis Esterhuizen as metafoor gebruik in die openingsgedig van wat die water onthou:

 

dat daar altyd ʼn begin is –

daardie yl siddering wanneer korrels

langsaam verdig

en hegting gevind word

 

aan die weefsel wat sagter as grond

in dieptes lê waar dit donker

is en wyd genoeg

vir volgehoue groei

 

tot dit tyd word vir die water

om te breek: daardie eerste moment

wanneer water aan water

geboorte gee en alles weer begin

 

om stelselmatig te vloei na

die kwansuise bron tussen wolke

 

Hoewel hierdie gedig nie eksplisiet van die skryfproses melding maak nie, is dit uit die konteks van die bundel duidelik dat dit wel as sodanig gelees kan word. Ook hier is sprake van strukturering, van elemente wat verdig tot iets wat volhoubaar is. Die breek van die water waarna verwys word, suggereer geboorte, soos Aucamp se gedig die geboorte van ʼn storie suggereer. Ook Esterhuizen se gedig lê klem op ʼn byna mistieke proses wat plaasvind sonder dat die mens/digter met sy nugtere bewussyn daarby betrokke is, maar eweneens op ʼn groeiproses wat moet plaasvind alvorens die gedig afgehandel is en “gebore” kan word. Oor die moeisame proses waardeur die gedig tot stand kom, skryf Esterhuizen in ʼn ander gedig in dieselfde bundel:

 

dat jou pa se pa ʼn delwer was,

kromgetrek deur die jare

van bid oor al die leë panne

 

langs yl strome, uitgewas deur son

en vrou en honger kinders

in ʼn skuiling iewers, nog later

 

die skeefgetrekte sinkdakhuisie

by barkley-wes, jou pa

wat ʼn myner word, by verstek,

 

die diamond driller van drome,

die een wat gate boor

in welkom se eerste skagte

 

vir die uiteindelike verbryseling

van klip met dinamiet en gesin

in die pynveld van virginia

 

waar jy as eersgeborene,

oplaas jou geboortereg verruil

vir woorde, woorde wat jy

 

soms uit die taal uit delf, soms

oopskiet met die geweld

waarmeee jy jóú gesin verloor –

(…)

 

Hoewel die moeisame proses en die pyn wat met die “uitdelf” van gedigte saamhang hier beklemtoon word, maak die gedig – soos die twee voriges – óók melding van ʼn onsienlike, bowe-menslike proses wat sigself in die maak van gedigte voltrek. Die diamant is immers ook ʼn kristal wat deur middel van ʼn uiters tydsame proses diep onder die grond sonder die medewete van die mens voltrek word. Ook die goudkomme van o.a. Virginia en Welkom het lank voor die mens ontstaan in ʼn proses wat inderdaad as ʼn “oopskiet met … geweld” beskryf kan word – ʼn proses wat in duisternis en voor die ontstaan van die mens deur kragte wat sy verstand te bowe gaan, plaasgevind het.

Die “onvoorsiene” moment – mens sou dit seker die oomblik van waarheid of inspirasie kon noem – word in Emma Bekker se gedig “Die digteres as masseuse” verwoord aan die hand van die Bybelse Jona-mite:

 

Eiewys het ek geglo dat Tarsis

my ware wou hê,

 

woorde word gelaai;

woorde word komberse;

woorde word swaarde;

woorde word kerse;

woorde word swaar en lig.

 

ʼn Onvoorsiene storm het my skip gesink

en al my woorde het verdrink.

Maar my hande is gered

en kon voelend ʼn pad deur die vis vind.

Stompgespoel op ʼn vreemde strand het ek begin verstaan –

my hánde moet na Nineve gaan.

 

Die magiese moment in hierdie gedig is wanneer die verteller besef dat woorde alleen nie oor poëtiese krag beskik nie. Iets “onvoorsien” wat die mens nie kan verklaar nie, moet inspeel op ʼn gedig – al is dit dan ook net om alles wat die digter met moeite (maar waarskynlik sonder die numineuse “inspirasie”) self uitgedink het, te laat “verdrink”. Hierdie oomblik van insig lei die digter op ʼn nuwe pad, hoewel dié pad met groot ontbering en pyn gepaard gaan: die digter moet (na die oomblik van insig) nog haar pad “voelend deur die vis vind”.

Dat die beoefening van die digambag met harde werk, mislukkings, terugslae en moeite gepaard gaan, blyk uit die bostaande gedigte. Maar ook dat die muses bestaan – hoewel nie gesetel in die digter as persoon nie. Die “ingee” van die idee wat uieindelik ʼn gedig word, kom blykbaar deur iets soos genade …

Die laaste gedig is een wat oënskynlik hierdie stelling weerspreek. Dit is ook ʼn gedig van Emma Bekker, ʼn tipiese Ars poetica, “Die innerlike mevrou”:

 

Ek wil nie meer my gedagtes in uitgerekte truie indruk nie –

die vet weet, ek is moeg vir uitgewaste uitdrukkings

en gaterige idees wat met dun gare aanmekaar geflans is.

 

Deurdruk en aanhou het my versugting afgespits:

Ek korset my kokketerige denke

in verweefde sinne wat ek met dubbeldraadbetekenis aan mekaar naai.

 

Hoewel dit duidelik is dat die digter skryf oor ʼn bepaalde insig wat sy in terme van haar digterlike styl gehad het en wat sy met ʼn ander tegniek wil vervang, skemer daar ook in hierdie gedig iets deur van die bo-menslike of goddelike, naamlik die sinspeling op die skeppingsproses wat metafories uitgedruk word deur die maak van ʼn kledingstuk en die “dubbeldraadbetekenis” van die slotwoord van die gedig.

Bekker se gedig is inderdaad ʼn tipiese postmodernistiese selfrefleksiewe teks: Die beoordelingsproses aan die hand van teoretiese kriteria word in die eerste strofe deur middel van die metafoor van die uitgerekte, uitgewaste trui uitgedruk. Wauch se stelling wat aan die begin van die blog aangehaal is, naamlik dat selfrefleksiewe tekste doelbewus klem lê op hulle gekonstrueerdheid, word konkreet gemaak deur die digproses metafories gelyk te stel aan die maak van ʼn nuwe kledingstuk.