Posts Tagged ‘Michel Houllebecq’

Onderhoud met Henning Pieterse (Vertalings: Tussen die abjekte en die eteriese. M Houellebecq)

Friday, June 1st, 2018

Henning (HJ) Pieterse gesels oor sy vertalings van gedigte deur Michel Houellebecq met Louis Esterhuizen. (Tussen die abjekte en die eteriese. ʼn Keur uit die poësie van Michel Houellebecq)

LE: Henning, van harte geluk met hierdie pragpublikasie. In 2007 het jy die Afrikaanse letterkunde verras met Rainer Maria Rilke: Duino-Elegieë (2007: Protea Boekhuis), jou vertaling van Rilke se weergalose elegieë, wat in die daaropvolgende jaar met die Nedbank-Akademieprys vir Vertaalde werk bekroon is. Hoe het dit gebeur dat jy nou jou fokus na Houellebecq verskuif het?

HJP: Baie dankie vir die geleentheid om met jou te kan gesels oor die bundel, Louis.

In 2005 het ek Houellebecq se versamelbundel Poésies (sy eerste drie bundels – La poursuite du bonheur, Le sens du combat en Renaissance) in Parys raakgeloop tydens ʼn verblyf in Frankryk. Tot op daardie stadium was ek net vaagweg bewus van die feit dat hy aanvanklik   naam gemaak het as digter – ek het net sy romans Extension du domaine de la lutte (vertaal as Whatever), Les particules élémentaires (vertaal as Atomised), Plateforme en La possibilité d’une île (vertaal as The possibility of an island) geken.

Oor ʼn tydperk van ʼn paar jaar het ek die gedigte deurgewerk en was telkens verras deur die wyse waarop hy die alledaagse en, soms, banale en nihilistiese, verwerk tot kragtige verse. Veral die vormvaste verse het my beïndruk, maar daar is ook heelparty vrye verse en prosagedigte wat uitstekend is.

Die wyse waarop hy vanuit depressie kuns kan maak en sy duidelike aansluiting by Baudelaire – sy digterlike vader en ongetwyfeld een van die klassieke “grotes” – was vir my fassinerend en ek het in 2012 besluit om ʼn keur uit sy bundels te vertaal om die (Suid-)Afrikaanse leser ʼn blik op sy digkuns te gee.

Op daardie stadium het ek nog nie geweet van Catherine du Toit en haar studente se Houellebecq-vertaalprojek by die Universiteit van Stellenbosch nie (gepubliseer as Tagtig gedigte en twee essays, 2012: Hond). Ek het reeds meer as 100 gedigte vertaal toe ʼn destydse kollega, Andries Visagie, my op Catherine-hulle se projek attent gemaak het. Catherine was gaaf genoeg om my hulle inhoudsopgawe te stuur, en ek het besluit om met my eie projek voort te gaan – my invalshoek ten opsigte van keuses was anders.

LE: Tot dusver behels Michel Houellebecq se totale poësieproduksie vier digbundels met 324 gedigte, waarvan 105 hier in vertaling verskyn. Hoe het jy te werk gegaan om ʼn keuse te maak? Aansluitend hiertoe: Ek merk dat aansienlik meer gedigte uit Houellebecq se tweede bundel, Le sens du combat (1996: Éditions Flammarion), in hierdie keur opgeneem is.

Is dit toevallig of is daar ʼn rede voor?

HJP: Ek het bloot gegaan op gedigte wat tot my spreek, verse wat ek as sterker as ander beskou het – met ander woorde suiwer subjektief. Aanvanklik het ek 250 verse uit die vier bundels vertaal. Gaandeweg het die twee pole in die bundels – die abjekte en die eteriese – vir my duideliker geword en ek wou met my keuse ʼn genuanseerde beeld – ʼn deursnit wat hierdie pole weerspieël – van Houellebecq probeer verskaf.

Le sens du combat is vir my ongetwyfeld Houellebecq se sterkste bundel. Dit is bekroon met die Prix de Flore in 1996; die eerste keer wat dié prestigeryke prys aan ʼn digbundel toegeken is. Dit is ook ʼn bundel waarin daar ʼn gestadige groei vanuit die abjekte na die eteriese voorkom.

LE: Die titel vir hierdie versameling, Tussen die abjekte en die eteriese is heeltemal in ooreenstemming met die titels van Houellebecq se eie digbundels, te wete: Die strewe na geluk (La poursuite du bonheur, 1992: Éditions Différence), Die sin van die stryd (Le sens du combat, 1996: Éditions Flammarion), Renaissance (Renaissance, 1999: Éditions Flammarion) en Konfigurasie van die laaste oewer (Configuration du dernier rivage, 2013: Éditions Flammarion).

Hoekom het jy op Tussen die abjekte en die eteriese as titel vir hierdie vertalings besluit? Of anders gestel: In welke mate is dié titel ʼn sleutel tot Houellebecq se digkuns?

HJP: Daar is heelwat sleutels ter ontsluiting van Houellebecq se digterlike oeuvre: die dikwels Romantiese aanslag, die kwessie van vormvastheid vs. vrye vers, die gesprek met Baudelaire, Verlaine en Rimbaud, die spel met metrum en rym, ens. Die pole van die verwerplike en die bo-aardse het, soos vermeld, vir my al hoe duideliker geword en ek het besluit om daardie “roete” as invalshoek te gebruik.

LE: Houellebecq se vier digbundels het oor ʼn tydperk van 21 jaar verskyn. Bestaan daar ʼn onderlinge samehang tussen hierdie bundels? En moontlik ʼn verwantskap met die ses romans wat tussendeur verskyn het?

HJP: Daar is beslis samehang tussen die bundels, onder meer ten opsigte van tematiek (dood, liefde, verval van die liggaam, siniese kritiek op die verbruikersamelewing, ens.) en vormgewing. Een “gevaar” is dat die tematiek en sfeer vir sommige lesers oordonderend kan raak; daarom hoop ek die keur gee ʼn blik op die sterkste aspekte van Houellebecq se digkuns.

Daar is baie sterk verbande tussen die digbundels en die romans – ek wy ʼn hele paar bladsye aan dié kwessie in my inleiding. Dikwels word gedigte sleutels tot die romans en lewer kommentaar op handeling, karakteruitbeelding en plotkomposisies en dan is daar ʼn hele paar voorbeelde waar Houellebecq van sy eie gedigte intratekstueel betrek in sy prosa.

LE: Henning, ʼn besonder belangrike toevoeging tot hierdie vertalings waarna jy hierbo verwys, is die omvattende inleiding: nie net kontekstualiseer dit Houellebecq se digterskap nie, maar dit bied aan die leser ook ʼn blik op die uitdagings wat spesifiek aan die vertaler gestel word. Op bladsy 21 haal jy Grass en Mathews byvoorbeeld soos volg aan rakende die modernisme in Houellebecq se gedigte: “Houellebecq’s lyricism is both aesthetically and intellectually stimulating for the light it throws on our collective experience of modernity as a paradoxical form of loss through gain.” Nie net is hierdie ʼn ongelooflike sterk stelling nie, maar dit klink ook asof daardie “loss through gain” as raison d’être vir Houellebecq se totale digkuns kan geld.

Gaan jy akkoord, of probeer ek nou te veel wyn in dié glas skink?

HJP: Dit is ʼn mondvol, ja. Ek sou nie sê “loss through gain” is die raison d’être vir Houellebecq se poësie nie – daar is veel meer ter sprake en veel meer genuanseerde temas, subtemas en filosofiese redenasies aan die werk in sy oeuvre wat dikwels saamhang met abjekte en eteriese kwessies en effekte. Wat hy wel regkry, is om die leser dikwels onseker te laat: ná die “positiewe” en deels eteriese slot van Le sens du combat word die leser geskok deur die abjekte sfeer van die eerste paar verse van Renaissance en ook enkeles in Configuration du dernier rivage. Dit kom hierop neer: moenie te gerus voel oor ʼn “gain” nie; dit mag dalk net omswaai in ʼn “loss”, en vice versa. In sommige gedigte oorheers die abjekte sfeer, in ander weer die eteriese. In sommige gedigte groei die abjekte vanuit die eteriese, in sommige weer die eteriese vanuit die abjekte. In enkele gevalle word ʼn sintese tussen die twee pole bereik.

LE: Soos ek genoem het tydens die vorige vraagstelling brei jy met die inleiding ook uit op die uitdagings wat aan die vertaler gestel word wanneer tekste uit Frans na ʼn Germaanse taal – soos Afrikaans, byvoorbeeld – vertaal word. Sal jy so vriendelik wees om hier ʼn beknopte opsomming van dié probleme te gee. Net die hoofpunte; ek besef dat dit ʼn uiters omvattende vraag is.

HJP: Daar is verskeie uitdagings wat die vertaler van ʼn Romaanse na ʼn Germaanse taal in die gesig staar. Dit is in verskeie opsigte moontlik om woordorde, vorm en selfs rym te behou in ʼn vertaling van, sê nou maar, Nederlands, Duits of Sweeds na Afrikaans. Frans is ʼn perd van ʼn ander kleur en die groot “struikelblok” is die metrum wat bepaal word deur die aantal lettergrepe per reël.

Waar Germaanse poësie merendeel geskandeer word deur heffings en dalings ”werk” klassieke Franse poësie met die Aleksandryn – ʼn twaalflettergrepige reël waarvan die ruspunt merendeels in die middel val, maar ook kreatief verskuif kan word.  Die naaste wat ʼn mens in ʼn Germaanse taal daaraan kan kom, is heel waarskynlik die vyfvoetige jambiese metrum.

Woordorde lewer ʼn volgende probleem: in Frans volg die byvoeglike naamwoord meestal op die naamwoord, wat jou as vertaler dadelik met metriese probleme laat. Houellebecq se vernuftige, berekende gebruik van rym is myns insiens ook onnabootsbaar in Afrikaans, tensy jy bereid is om stoplappe en clichés by jou vertaling te voeg. Dan kan Houellebecq se veelvuldige gebruik van die teenwoordige deelwoord argaïes oorkom as die deelwoord ook in Afrikaans gebruik word.

ʼn Volgende probleem (een van vele!) is die kwessie van transkulturele vertaling: behou ek bv. “Prisunic” en “Monoprix” (kettingwinkelname) of vertaal ek dit as bv. “Woolworths”? Ek het besluit om merendeels, maar nie altyd nie, Lawrence Venuti se strategie van “veruitheemsing” na te volg – “stuur die leser oorsee” – eerder as om te “domestikeer”.

LE: In jou inleiding verwys jy onder andere ook met waardering na Catherine du Toit en haar medewerkers se vertalings van Houellebecq se gedigte (Michel Houellebecq: Tagtig gedigte en twee essays) wat in 2012 by Hond Uitgewers verskyn het.

In welke mate het jou werkswyse van hulle sʼn verskil al dan nie?

HJP: In die eerste instansie het ek besluit om die bundels chronologies aan te bied – dit verskil van sowel Catherine-hulle sʼn as van Houellebecq self ten opsigte van volgorde.

Dan het die kwessies van abjekte en eteriese gaandeweg my keuses beïnvloed. Ek het probeer om ʼn balans of sintese (let wel: nie ʼn kunsmatige balans nie) tussen die twee pole te bereik.

Gedigte wat ek as sleutelverse beskou, het ek vertaal, al is dit ook deur Catherine-hulle gedoen.

Ten slotte: ek kon uit vier bundels kies – Configuration du dernier rivage het in 2013 verskyn.

LE: Henning, vir die meeste Afrikaanssprekende liefhebbers van poësie is Houellebecq as digter waarskynlik ietwat minder bekend. Vandaar hierdie vraag: Wat is Houellebecq se statuur as digter in die Franse letterkunde? Word hy byvoorbeeld gereken as een van hul vernaamste digters?

HJP: Hy word beslis gereken as een van Frankryk se toonaangewende digters. Dié statuur word onderskryf deur die pryse wat aan sy bundels toegeken is, onder meer die Prix Tristan Tzara vir La poursuite du bonheur en die gemelde Prix de Flore vir Le sens du combat.

LE: Uiteraard is jy ʼn digter in eie reg. Is daar bepaalde aspekte in Houellebecq se digkuns wat direk tot jou as digter spreek? Of – ietwat anders gestel – het daar ʼn mate van kruisbestuiwing plaasgevind tydens hierdie vertaalprojek en jou eie skryfwerk?

HJP: Sy oënskynlik gemaklike vormbeheer spreek sterk tot my, asook sy vreeslose hantering van kontroversiële temas. Die tyd alleen sal die vraag betreffende kruisbestuiwing beantwoord.

LE: Ten slotte – in welke mate behoort Houellebecq se gedigte volgens jou oordeel aanklank by die Afrikaanse poësieleser te vind? Is daar byvoorbeeld ander Afrikaanse digters met wie jy Houellebecq se digwerk sal vergelyk?

HJP: Lesers wat van Breyten Breytenbach en Antjie Krog hou, behoort aanklank te vind by Houellebecq. Sy poësie sluit baie sterk aan by aspekte van Krog se digkuns, spesifiek by gedigte in Lady Anne en Verweerskrif (hier dink ek aan “Agt menopousale sonnette”), en dan veral by die afdelings “Wondweefsel” en “Sgraffito” uit Kleur kom nooit alleen nie.

LE: Henning, baie dankie vir die geleentheid om met jou oor hierdie belangrike publikasie te kan gesels. Wil jy nie so vriendelik wees om een van jou persoonlike gunstelingverse uit die versameling hieronder te plaas nie?

HJP: Dit is ʼn groot plesier, Louis. Ek plaas graag twee gedigte wat tot ʼn mate die polariteite van Houellebecq se digkuns weerspieël:

Il y a les dimanches,

J’essaie de te baiser

Tu es là, froide et blanche,

Sur le lit défroissé

Et tu prends ta revanche.

 

Une odeur de salpêtre

Remonte à mes narines

Et nos deux corps s’empêtrent,

Un peu plus tard j’urine

Et je vomis mon être.

 

Le samedi c’est bien,

On va au Monoprix

Et on compare les prix

Des enfants et des chiens,

Le samedi c’est bien.

 

Mais il y a les dimanches,

La durée qui se traîne

La peur qui se déclenche,

Un mouvement de haine

Il y a les dimanches ;

Lentement, je débranche.

 

*

 

Daar is Sondae,

Ek probeer jou naai

Jy is dáár, koud en wit,

Op die gladgestrykte bed

En jy neem jou wraak.

 

’n Reuk van salpeter

Styg in my neusvleuels op

En ons twee lywe raak verstrengel,

’n Bietjie later urineer ek

En ek kots my wese uit.

 

Saterdae is lekker,

Ons gaan Monoprix toe

En vergelyk die pryse

Van kinders en honde,

Saterdae is lekker.

 

Maar daar is Sondae,

Die tyd wat voortsleep

Vrees wat losgelaat word,

’n Beweging van haat

Daar is Sondae;

Stadigaan skakel ek af.

 

* * * *     *

 

LA LONGUE ROUTE DE CLIFDEN

 

À l’Ouest de Clifden, promontoire

Là où le ciel se change en eau

Là où l’eau se change en mémoire

Tout au bord d’un monde nouveau

 

Le long des collines de Clifden,

Des vertes collines de Clifden,

Je viendrai déposer ma peine.

 

Pour accepter la mort il faut

Que la mort se change en lumière

Que la lumière se change en eau

Et que l’eau se change en mémoire.

 

L’Ouest de l’humanité entière

Se trouve sur la route de Clifden

Sur la longue route de Clifden

Où l’homme vient déposer sa peine

Entre les vagues et la lumière.

 

*

 

Die lang pad na Clifden

 

Na die Weste van die kaap van Clifden,

Daar waar die lug in water verander

Daar waar die water in herinnering verander

Heel op die rand van ’n nuwe wêreld

 

Al langs die heuwels van Clifden,

Die groen heuwels van Clifden,

Sal ek my pyn kom neerlê.

 

Om die dood te aanvaar

Moet die dood in lig verander

Die lig in water verander

En water in herinnering verander.

 

Die Weste van die hele mensdom

Bevind hom op die pad na Clifden

Op die lang pad na Clifden

Waar die mens sy pyn kom neerlê

Tussen die golwe en die lig.

 

* * * * *

 

(c) HJ Pieterse (Uit: Tussen die abjekte en die eteriese, 2018: Protea Boekhuis)

 

 

Andries Bezuidenhout. Auguste Comte en sekstoerisme

Monday, September 21st, 2009

Van die boeke van Michel Houllebecq wat ek tot nou toe gelees het, het ek die meeste van Platform gehou. Lanzarote was interessant, maar eerder weens die vreemde kultus wat daarin beskryf word. Beide Atomised en The Possibility of an Island is grootse idees, wat op ʼn manier by mekaar aansluit, maar het nie vir my die menslike tekstuur wat in Platform te vinde is nie. Dalk is dit maar omdat ek Platform eerste gelees het.

Vir my as sosioloog is Houllebecq deels interessant omdat daar ʼn invloed van Auguste Comte (in die prent hier bo) op sy werk blyk te wees. Ek dink hy haal Comte direk aan in Atomised of Platform. Die futuristiese elemente in Atomised vat Comte se siening van die ontwikkeling van menslike samelewings in sekere stadia ʼn stappie verder, iets wat uit die mode is in tye waarin die geskiedenis as nie-lineêr gelees word.

Ek het lank gelede ʼn boek gelees oor die onstaan van sosiologie en die idee dat ʼn mens die metodes van die wetenskappe – spesifiek statistiese metodes – op die bestudering van menslike samelewings kan toepas. Comte was ʼn voorganger hiervan, maar Emile Durkheim was die eerste professor in sosiologie in ʼn tyd toe die studie van samelewings, die humaniora, geskoei was op die uitlê van klassieke en religieuse tekste. Die kloof tussen sosiale en geesteswetenskappe was dus nie so groot as wat dit deesdae is nie (Die hoofstuk waarin Elizabeth Costello se suster haar toekenning van die universiteit in Johannesburg ontvang is ook nogal insiggewend hier!). Durkheim se aanstelling by die Sorbonne was ʼn revolusie in die kleine, met letterkundiges en klassisiste wat bekommerd was oor die vervlakking van universiteits-curricula met die bestudering van sosiologie en statistiek.

Op ʼn manier het die sogenaamde linguistiese keerpunt hierdie kloof begin oorbrug, maar veral ekonome patrolleer steeds die brug tussen letterkunde en die sosiale wetenskappe met streng formules.

Maar ek dwaal nou af. Die boek waarna ek verwys is Between Literature and Science: The Rise of Sociology, deur Wolf Lepenies. Meer daaroor hier. Lepenies ontleed byvoorbeeld die liefdesbriewe van mense soos Auguste Comte en wys hoe hulle as individue gesukkel het om buite die droë wetenskaplike register te beweeg. In Comte se geval was die liefdesbriewe aan Clothilde de Vaux. Comte was ʼn wetenskaplike ateïs, maar De Vaux ʼn godsdienstige katoliek, wat interne spanning vir die obsessiewe Comte veroorsaak het. Comte het op ʼn stadium byvoorbeeld opgehou om ander mense se boeke te lees, omdat dit sy eie idees sou besoedel. Daar was ook ʼn spieël teen die muur voor sy lessenaar. Elke keer wat hy geskryf het, het hy vir homself gekyk.

Ek kan maar net hoop en bid dat Comte se lompheid nie deur my sosiologiese opleiding onder my vel beland het nie!

Maar wat sê dit alles oor Houllebecq? Ek is nie seker nie. Die punt wat ek wil maak is dat letterkunde soms vrae vra op maniere wat dit vir sosiale wetenskaplikes onmoontlik of onaanvaarbaar is. Houllebecq pleeg vele transgressies, en het al in die hof beland oor sy sienings. Platform gaan deels oor kapitalisme se impak op menslike intimiteit, veral in die konteks van die Europese postmoderne malaise – spesifiek sekstoerisme. Hoekom verkies Europese mans byvoorbeeld vroue uit Asië, en Europese vroue mans uit Afrika? Die blote stel van so ʼn vraag sal enige sosioloog in haar oggendpap laat stik.

Nietemin, met my vroeëre besoek aan die Swahili-kus kon ek nie anders as om hierdie sekstoerisme – die sogenaamde beach boy-fenomeen – op te merk nie. Die volgende gedig gaan daaroor. Dit sluit by die vorige paar bloginskrywings aan.

SKEMERGESANGE IN MALINDI

luidsprekers dra blikkerig
die muezzin se stem
as hy kort voor sononder
god se naam aanroep

in die eden roc hotel
stryk ʼn beach boy se warm hande
aan die kreukels
van ʼn duitse toeris se vel
spierwit wasgoed pas gewas
en diep uit haar buik
roep sy prys sy
     mein gott
     mein gott!