Posts Tagged ‘Miertjies is diertjies’

Philip de Vos. miere is diere

Friday, August 7th, 2009
Die ander dag was ek en ‘n vriend in ‘n diep filosofiese gesprek gewikkel oor my besondere liefde vir miere. En dit was toe dat hy vir my toevoeg: “O, jy is definitief ‘n Formikofiloog.” Ek was my geleerde vriend so dankbaar, want ek het uiteindelik presies geweet waar ek inpas, en dit was ook definitief ‘n handige woord om by my alreeds formidabele woordeskat te voeg.

 

Ek was nog maar altyd sensitief. Ja, van kleintyd tot vandag toe en dit is ook seker die rede waarom ek so lief is vir miere en spinnekoppe en ander gediertes.

Nou dink ek sommer 60 jaar terug (Ja, hulle sê mos met ‘n mens se ouer word, word jou verlede al hoe helderder en jou hede al hoe duisterder en kort daarna volg seniliteit).

Ewenwel, daar in Cricketstraat in Bloemfontein het ek buite in die wintersonnetjie gesit met ‘n oop kondensmelkblikkie waarin 378 miere geval en rondgespartel het.

Daar het ek met ‘n teelepel vir ure lank gesit en miere uithaal; dan met water afgespoel en eenkant neergesit om droog te word. Dat daar darem ‘n paar lewend daar uitgekom het, (ongelukkig minus ‘n paar ledemate) was slegs aan my goeie hart te danke.

In my hele lewe het ek nog nooit ‘n mier doodgetrap nie behalwe in een van my vroeë versies. En ek is vandag nog spyt dat ek dit geskryf het en daardeur jongmense miskien tot dieremishandeling aangepor het:

 

Gomverdorie

poetoepap.

‘n Mier

het op

my toon

kom trap.

Toe slaat

ek hom

‘n pappery

oor sy toon-kom-trappery.

 

Ek het die volgende gedig op die internet opgespoor geskryf deur iemand met slegs die skuilnaam Moods. En anders as my lawwigheid is daar tog iets in hierdie paar woorde wat my effens weemoedig laat voel:

 

I find it so
satisfactory
to Step
on ant hills

to Step
and crush tiny
fortresses

to Step
and destroy
entire Kingdoms
and all
flee from me

having Power
sparing no one

playing God

 

Maar dan is daar natuurlik die teenpool in die bekende Ogden Nash se pittighede:

 

THE ANT

The ant has made himself illustrious

Through constant industry industrious.

So what?

Would you be calm and placid

If you were full of formic acid?

 

As ‘n goed-opgevoede mens wat selfs in my jeug twee Bybelkennis-eksamens geskryf het, was koning Salomo se wyshede my insprirasie vir die volgende juweeltjie:

 

Miertjies is diertjies

met weinig plesiertjies

en kry wel gewis nie

‘n oomblikkie rus nie.

Hul werk glo vir weke

by wyse van Spreuke.

En dan – ja sowaar

is hul lewetjies klaar.

 

En dan my baie sad limerick oor iemand se verhouding met ‘n mier:

 

Die eensame Rut Olivier

Was innig verlief op ‘n mier,

     Maar toe het tant Rut

    Op die gogga gaan sit

En geween vir ‘n hele kwartier.

 

Na my onlangse filosofiese gesprek met my geleerde vriend wou ek presies weet wat die internet te sê het oor ons Formikofiloë. En dis wat ek gekry het:

 

Phormicophilia –  the love of ants. This includes having insects walk over your body as a way to turn you on. The best way to practise phormicophilia (if you are male) is to take a pot of honey to the woods, undress, lie down and smear your willy in honey. Then you wait.

  

En na ek hierdie ontstellende woorde gelees het, wil ek dit asseblief baie duidelik stel:

Ek is DEFINITIEF NIE ‘n Formikofiloog nie!