Posts Tagged ‘Nadia Anjuman’

Nini Bennett. Voetstoots

Sunday, August 19th, 2018

 

1.

 

Die reuk van vrees is altyd bekend.

Die diere het dit eerste geweet. Hulle het begin hardloop met platgetrekte ore en neusvleuels wydgesper. Dae voor die ramp was die waarskuwing daar: ’n subtiele verandering in lugdruk. Lae frekwensieklank was duideliker hoorbaar as normaalweg. Niemand weet presies hoe diere dit weet nie, maar diere is fyner gekallibreer.

Die aarde se magneetveld het opgelaai, prikkelbaar soos ’n lading statiese elektrisiteit. Daar is foutlyne en frakture in die aardkors.

Huiskatte het dit ook vermoed, en soos die diere van die veld, dae vantevore reeds verkas – uiteindelik getrou aan hulle wilde natuur. Net honde, die mens se beste vriend, het by hulle eienaars gewag en gewaak, hulle gesigte gelek en getjank; bondgenote tot die dood.

Ook die voëls was hiervan bewus. Hulle het laat spaander met ’n gekrys en die skerp kringfluit van fladderende veerstof; ’n brokkeling vlerke wat die lug, die wolke, en later die son sou klad. Die drang om te lewe is brutaal.

Tydens ’n aardbewing word alle menslike kapasiteit opgeskort. Tyd ontspil. Iets verskrikliks is op pad, die zero-uur is op hand.

In sy oerste wese herken iedereen ’n natuurramp. Strate spleet oop, afgryslik en swart soos ’n adder of rolgolf wat reg onder die oppervlak kronkel. Monde gaap oop in gille maar nié die getjank van sirenes en alarms, nié die geskreeu uit stembande maak enige verskil nie.

Geboue steier; tuimel op mekaar in soos domino’s. Die stad sneuwel voor hierdie aanslag, nietig soos ’n diorama; tragies, soos ’n kind se geografieprojek by die skool.

Die kosmiese afslaer is elke oomblik van die dag bedrywig. Op wie word die hoogste bod toegestaan? Wie word tweedehands opgeveil, en wie word voetstoots uitverkoop aan die noodlot? Wié van ons het die afslaer se simpatie?

Dan rammel die aarde finaal in ’n reuse grand mal – die gebeur en gekreun van skuiwende tektone. Die chaos is ontsagwekkend. ’n Kraak beitel vanself af in die pad tot by ’n vulstasie en ontvlam in ’n oogwink. Die ontploffingshitte van die brandstof se opgaartenks lig die motors op en slinger dit skuins die bruisende vure in, die insittendes soos vlermuise in ’n swart inferno.

Uit die lug vlie wrakstukke, stukke dak en puin en glas en skerp metaal en tuimel op die weerloses neer. ’n Verdwaalde skoen. Uit gebarste pypleiding pomp water, surrealisties mooi, en verdeel in kleiner fonteine. So ver as die oog kan kan sien, blits die kragdrade. Sweisvuur.

En argeloos, hoog bo die verwoesting, draal ’n kind se heliumballon steeds hoër die wolke in.

Ek is uit my seismiese diepte geruk.

Vanoggend vroeg was ek by die rivier. Dit was stil. Loodstil. Ek het vorentoe gebuk en gekyk hoe rimpels oor die wateroppervlak breek: konsentriese sirkels soos vinnig uitkringende wentelbane. Daar was geen geluid, geen stoornis. Toe het ek die hadidas hoor skree. Was dit nader, dringender as tevore? Ek weet nie. Dalk was dit die wanklank van dissonante sirenes wat doof op die menslike oor val. Maar soos ek sê, niemand weet hoe diere dit weet nie. Plotseling het ’n vrees my beetgepak en ek wou wegkom, maar ek het nie geweet waarom, waarheen nie. Ek was weerloos, net ’n mens. “Die kind is weer ongedurig vandag,” sou my ouma gesê het.

*

“Die kind is weer ongedurig vandag,” het sy ’n paar dae tevore voorspel.

Ek staan styf teen haar kamerdeur met my kinderlyf teen die raam, my oor sentimeters van die deurslot af. Dis donker; dis nag, ’n dag losgeskeur uit die somer van 1985.

Die geluid van ’n outydse vanity case wat ooprits. Ek verbeel my sy kyk in die dowwe bedlamp na die geheime goetertjies wat haar vrouwees definieer. Sakdoekies met kantpatrone, in presiese vierkante gestryk. Parfuum. Lipstiffie. Ek rek my oë in die stilte wat volg. Tjieng…kirrr. Klonk. Die fyn perkussie van ys in ’n glas. Die halfjack is oop: die goudstof stort nou oor die glas se rand.

Ek beweeg my oor nader aan die deurknop. Voor sy die eerste sluk whisky vat, is daar ’n siddering; die geluid van ’n vrou wat geluidloos huil, verdriet wat in een golfbeweging deur haar skouers breek.

Teug diep, my matriarg: drink, en laat die eufemisme oor jou spoel. Versigtig; haal versigtig asem nou. Die godedrank is sterk, dit blus jou keel, dit vlam hoog deur die sinusholtes, dit brand salig in die slukderm. Dit streel jou stembande; dit herken jou stemlose pyn. Sjuut. Die bekende lafenis is op hand.

Sekondes later volg die neweling van die brein. Die sig versag in dowwer piksels. Stiller nou, my ou moeder. Voel jy dit? Ek weet; ek weet jy huil nie voor mense nie.

*

Sy vee oor haar bolip. “My ma se dogters huil nie voor mense nie.”

Hy frons. “Jou neus bloei,” en hy leun besorg vorentoe.

Hulle is anders grootgemaak,” hou sy vol.

“Jy het nie agtergekom nie,” val hy haar weer in die rede. “Jou neus bloei.”

“Nie óns nie. Nee, ons huil nie in die openbaar nie.” Sy hou onverwags op met praat en kyk minagtend na die bloedstreep op die rugkant van haar hand.

(Bostaande fragment is geneem uit ’n groter teksgeheel.)

2.

Desember 2006 het ek die noodlot leer ken. En dis nie ’n vriend wat jy intiem wil leer ken nie: nié deur die onverwagse dood van ’n eggenoot; nié op die wyse waarop jy oornag padgee van ’n groot kleinhoewe omdat dit bloot te gevaarlik geword het om alleen daar te bly nie. Ook nie die finansiële terugslae of die aanslag op jou gesondheid nie. Ek onthou dit was kort voor kersfees en ek het in die straat gaan staan en vir ’n halfuur aaneen gelag, ’n leë lag tot net my maagspiere later geruk het en daar geen lag meer wou uitkom nie. Die naskokke van ’n noodlotsgebeurtenis besoek jou nog vir jare daarna in jou drome: dit bly herhaal in swoel en donker drome. En dit herhaal wéér wanneer jy hoor van die moord op ’n vriend; die siekte van ’n geliefde.

Vandag, as ek my oë toemaak, dink ek aan daardie tyd as ’n aardbewing. Dit is die enigste metafoor, simbool, allegorie, analoog, of wat ook al wat reg laat geskied aan die impak en ontwrigting van soveel kataklismiese lewensgebeurtenisse. Vrees en respek beweeg baie ná aan mekaar. Die Moment Magnitude, noem kenners dit – die omvang van ’n aardskok.

Tog is ’n aardbewing nie ’n onderwerp waaroor digters dikwels dig nie, waarskynlik as gevolg van die gelokaliseerdheid van so ’n ramp. ’n Aardbewing word eerder geassosieer met distopiese en apokaliptiese romans en films. Of die eindtye, aldus die Bybel.

Tog is daar ’n groot voorkoms van aardbewingpoësie onder Japannese digters. Na die katastrofiese aardbewing, gevolg deur ’n seebewing wat Japan 11 Maart 2011* getref het, het verskeie digters dwarsoor die wêreld aangesluit by webtuistes as deel van ’n gemeenskapsprojek om hierdie slagoffers en oorlewendes by te staan. Die verse is oorwegend kort. Ook Twitter-poësie het oornag ’n nuwe impetus gekry, en verse, wat kwalik as poësie in die ware sin van die woord geklassifiseer kan word maar wat as “pebble poetry” bekend staan, het vir weke lank deur die Net geblits. Eenreël-verse wat poog om die skok en ongeloof oor die onlangse gebeure poëties te verwoord. ’n Mens kan iets hiervan verstaan: na ’n aardbewing is die topografie verwoes. Samehang ontbreek. Dit is moeilik om ’n lang vers oor ’n aardbewing te skryf. Japannese vertalers het op hul beurt van die verse vertaal na Engels, en uit alle tale en dwarsoor die wêreld het opkomende en gevestigde digters die Tohokoe-ramp uit een mond in versfragmente betreur.

Enkele voorbeelde, en ek haal aan vanuit die webtuistes.

The earthquake and tsunami that devastated Tôhoku last March and the nuclear crisis that followed continue to affect every aspect of Japanese life. Literature is no exception. Struggling against a despairing sense that this was no time for literature, contemporary writers have responded in a variety of ways since disaster struck on March 11.

Almost immediately, a number of poets responded with lines that were plain, poignant, and fierce. Wago Ryoichi, a Fukushima-based poet previously known for rather abstruse contemporary verse, suddenly shifted gears after the disaster, using Twitter to publish a succession of short pieces that rapidly gained a substantial following:

 

Radiation is falling. The night is quiet.

In the end, there are only tears. I want to write furiously, like a man possessed.

 

*

 

Will we meet again?

Here at your flowering grave:

two white butterflies

 

― Matsuo Basho. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

Spring has come:

the nameless hill

lies shrouded in mist

 

― Matsuo Basho. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

A kite floats

at the same place in the sky

where yesterday it floated …

 

― Buson Yosa. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

We cannot see the moon

and yet the waves still rise

 

― Shiki Masaoka. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

What indeed is Earth but a Nest

from whose rim we are all falling?

 

—Emily Dickinson.

 

*

 

To see a World in a grain of sand

And a Heaven in a wild flower,

Hold Infinity in the palm of your hand

And Eternity in an hour.

 

—William Blake.

 

*

 

Ring the bells that still can ring

Forget your perfect offering

There is a crack in everything

That’s how the light gets in.

 

—Leonard Cohen.

 

*

 

I took one Draught of Life—

I’ll tell you what I paid—

Precisely an existence—

The market price, they said.

 

—Emily Dickinson.

 

*

 

Our life here on earth:

to what shall we compare it?

It is not like a rowboat

departing at daybreak,

leaving no trace of us in its wake?

 

― Takaha Shugyo. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

The snake slipped away

but his eyes, having held mine,

still stare in the grass

 

― Kyoshi Takahama. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

Which plunderer’s hand

ransacked the pure gold statute of your dreams

In this horrendous storm?

 

—Nadia Anjuman, Afghaanse digter.

 

*

 

Meanwhile, Henmi Yo published a series of vivid, almost grotesque poems titled “Me no umi—Watashi no shisha tachi ni (Sea of Eyes: To My Departed)”. For the author, who grew up in one of the Tôhoku towns devastated by the tsunami, the work is at once an act of mourning, a requiem, and above all, a poet’s desperate attempt to summon the power of poetic expression and pit it defiantly against the violent forces of the universe.

 

My departed dead:

You must sing your poems alone.

Let the shore daisies keep from flowering,

Let the yellow plants that cling to the cliffs refrain

from mourning—

Until the right words have been found, each one unique

and singular,

And assigned to the lungs

Of my departed dead.

* Op Vrydag 11 Maart 2011 het ‘n katastrofiese aardbewing, gevolg deur ’n seebewing, Japan getref. Met die episentrum diep onder in die see sowat 70 km van die Osjika-skiereiland van Tohokoe, het dit die aarde met ‘n krag van 9.0 op die MM-skaal geruk en die planeet se as na berekening met byna tien sentimeter laat skuif. Duisende mense is gedood en vermis en minstens drie kernkragreaktors is beskadig.

 

Verwysings

 

https://japan-afterthebigearthquake.blogspot.com/2012/04/poetry-after-march-2011.html

http://www.thehypertexts.com/Japan%20Earthquake%20Tsunami%20Poetry.htm

http://www.asahi.com/ajw/articles/AJ201804140021.html