Posts Tagged ‘Nini Bennett gedigte’

Nini Bennett. Twee gedigte

Friday, October 27th, 2017

amo

 

dat ek jou liefhet, ’n mededeling in die skemer
opreg, ’n kind wat op sy erewoord sweer
en dwingend, ’n ou mens wat in hoofletters skrywe

dat ek jou liefhet, vertroulik soos ’n vuurhoutjie
wat bakhand vonk en die vlam verdeel tot ek jou
gesig herroep in die maagdelike gloed van ’n kers

dat ek ’n alleenloper is soos jy
en dat ek jou liefhet, sodat ons saam
alleen kan wees

dat ek jou weggaan vrees, die meervoudige
eensaamheid van spieëls, die stil uitroep
van rimpelings in water

dat ek jou liefhet
my skaduwee, my donker kameraad
my beskermer en my bedreiger

dat ek jou liefhet soos die getuie van ’n visioen
of die geheim van ’n telefoonhokkie, die rugkant
van gesprekke skugter vorentoe gebuig:

om na jou te verlang
is om na die verlange self te verlang

 

***

 

Winter
(Vir Mari Samuelsen)

 

Sy bespeel landskappe,
die venere van swart ys.
Haar vingers spits
pizzicato: sneeustorms
se bibberbeelde soos ou films
want Piazzolla pluk dissonant ―
die wind vlug uit sy leegtes
maar waai weer daarin terug.
Vivaldi kwink sketterend;
’n sondeurdrenkte tjello
en jong voëls kwinkeleer,
vegtend in die vlieggewig van kleur.
Berge; ysende bloudrukke;
die saffiere as Noorse mere breek ―
die stormviolis is op haar pos.
Winter is ’n sober esteet
dog onvoorspelbaar soos vuur.

 

© Nini Bennett, 2017

 

 

Nini Bennett. Twee gedigte

Friday, March 31st, 2017

Kleindorpse fragment

 

My God
is ‘n posbus
met ‘n mossiehart
en drie verlate eiers.
Ek nael na die cul-de-sac
en die blinde onbewoonde huis, óór
die kreupel paadjies met die duwweltjies
en my voete vonk teer
want my God is weer jonk, my God
is diggeheim en stof
as ek vlug in die hoogbloei
van my jeug met voete stom
teen die duwweltjies
en eensaam
soos die vlegsel singend agter my aan.

 

*

 

Vir Sheila

 

In weerwil van genade
wat so beenmin vra,
die blote bruikleen van ‘n lyf ―
maar ou been vermurwe,
minder beendig
word ou been murg
en sag, ‘n kalkdun lewe
van uitgespaarde krag.
Dalk word ons fossiele
as die see oor sy afgrond stoot
eendag, na groter hoogtes hel ―
ouerwordend
die verwording, die skulpe,
die verlooptes
teruggegee aan land en see.

 

© Nini Bennett / 2017

Nini Bennett. Aasvoëls

Thursday, June 9th, 2016

I

Aasvoëls

(Accpitridae)

 

Die skadu’s roofkyk die son.

Die aasvoëls weet: hier is lewe,

bene winddroog en sonwit vergeet;

dáár, fossiele ougoud deur eeue verkleur.

Wie se oorskot roep die elemente

tot getuie, wie ken die geheimnisse

van antieke storms en tektoniese skuiwe?

Bekke vlym deur karkasse en navigeer

die dood, die finale katarsis,

stil en sirkelend die wolke in.

 

II

Monniksaasvoëls

(Necrosyrtes monachus)

 

Die aasvoëls weet.

Die pikorde van die monnike,

bestand teen besmette vlees,

is geestelikes wat tussenwêrelds

die karma van stiltetorings stroop.

Die monnike weet al lankal

dat die aarde soos  ’n vergrootglas smeul,

in droogtes rooftrek en skunnig leef.

Die simpel hiënas neem die wyk

as die kaalkoppe neerstryk, sedig

en bejaard al-om-die-beurt

kluif en krop om kreng

soos priesters om ‘n tempelfees.

 

© Nini Bennett / 2016

Nini Bennett. Windings

Monday, June 6th, 2016

Windings

 

Die gejaag na wind is  ’n industrie.

Die kleur van pastorale herinnering

is groen; ek versin  ’n Herme

wat vlerkvoet en vrymagtig

beweeg, sug in  ’n wilg, reën

uit die veerlig van wolke lees, of

trekvoëls blindvlug om seisoene

roteer. Die windvanger het sy

bekoring verloor. Hoog in lugstrome

kolk aasvoëls uit sentrifuges,

roofkyk vir karkas en kreng,

te skaars om kouevuur in balans

met entropie te bring.

Die dinamo’s draai onverpoos.

 

© Nini Bennett / 2016