Posts Tagged ‘nou-hier corne coetzee’

Resensie: nou, hier (Corné Coetzee)

Monday, September 4th, 2017

nou, hier  deur Corné Coetzee. Human & Rousseau, 2017

Resensie: Ingrid Woudstra

Hiérdie digdebuut van Corné Coetzee vereis reeds met die eerste oogopslag lesersbetrokkendheid. Die leser word onder andere geprikkel deur die titel en die verskeie interpretasiemoontlikhede daarvan. Hy of sy wil weet wat ín die “nou” gebeur en wáár die “hier” is. Die bundel handel oor die gang van die lewe; oor die mens wat baie beplan, maar eintlik moet leer om ín die oomblik te leef. “Nou” gee vir die leser ʼn tydaanduiding. Dit verwys na die hede; na iets wat tans besig is om plaas te vind. Méér nog word die kwellinge rakende die omstandighede van die tyd waarin ons leef nie agter weë gelaat nie, soos te sien in “Prins” (96-97).

Ons leef in ʼn uitgeloopte tyd, onvergenoegd, nydig,

die ou priesters vrot, die nuwes onnosel,

die heersers afwesig, arrogant,

die handelaars aanmatigend.

Leuens slenter rond,

hebsug en diewery maak nes.

ʼn Wrang realiteitsmaak bly in die leser se mond na die lees van hierdie strofe. Die mens soek alewig méér, terwyl dit net tevredenheid is wat dié smagting kan stil. Die trae langsame gang van leuens kry ʼn vastrapplek in ons samelewing. Misdaad, afwesigheid en ydelheid neem toe in ons land en wêreld – ook onder persone in heersende posisies. En dan is daar boonop die onvermoë van heersers om leiding te neem en te gee. Dit is hiérdie dinge wat die kommer in die leser se keel laat opstoot, want dit gebeur hier in ons midde.

Die woord “hier” is ʼn bywoord van plek. Dit is die maklik bereikbare; die omgewing waarin jy jou nou oftewel tans bevind. Teenoor die “hier” kan “daar” geplaas word en dit impliseer onmiddellik afstanddoening. Hoewel “daar” vanuit ʼn ánder se perspektief as “hier” beskou kan word, is “hier” en “daar” nooit tegelyk op dieselfde plek nie. In die vers “Jasju” (100) treur Jasodhara oor Siddharta wat “[…] hier is, maar steeds op pad!”. Sy treur, omrede hy skaars by haar is en haar dan weereens moet verlaat. Haar hartseer of selfs verwonding kan aan die skeiding of gaping toegeskryf word – hetsy tussen geliefdes in ʼn verhouding of geliefde vriende of familielede wat iemand aan die dood moet afstaan. Die ek-spreker noem byvoorbeeld in “Wegkomkans” (58) dat sy gevlieg het saam met die lig tot by die “jou” om vir hom te laat weet “dit bloei nog hier”. Die leser kan aflei dat daar afstand tussen die “ek” en “jy” is, omdat sy as’t ware tot by hom moes vlieg. Die afleiding wat gemaak word, is dus dat die “jy” elders of “daar” is, terwyl die “ek” “hier” is. Die feit dat die spreker bloei, dui op verwonding. Dit is die gevolg van afstanddoening tussen geliefdes.

Die tyd (“nou”) en ruimte (“hier”) is onafskeidbaar en word doelbewus in Hoofstuk 5, met die titel “Hierdie tyd” (59), vervleg. Die gedig “Hierdie tyd” (64-65) handel oor ʼn pynlike, hartseer tyd weens die verkragting van en moord op die tweejarige Yanalisa Mali en driejarige Zandile, 17 Oktober 2014. Nie net word ʼn spesifieke datum gegee nie, maar die aard van die tyd waarin ons leef word beklemtoon deur die opnoem van areas waarin geweld plaasvind: “Diepsloot […], Kliptown […], Soshanguve […], Mpakeni, Mooinooi, Giyani, / Thaba ’Nchu, Vryheid, Kagiso / Mthatha, Lyttelton, Alexandra, Elsiesrivier”. Hiérdie ruimtes kleur as’t ware die tyd waarín ons leef in, maar dit is selde ʼn mooi prentjie. Die digter skryf in “nou, hier” (98-99) dat dit juis die wêreld se verdriet is, wat die jong Gautama (ook bekend as Siddharta of Shakyamuni Boeddha) wou vryspring. Hy wou “oplos in tydlose lig”, maar as gevolg van sy onvermoë, moes hy maar tevrede wees met die graskol onder die vyeboom. Dít was/is die finale plek van tevredenheid – in die oomblik. In die nou en hier.

Die punt, wat tussen die “nou” en die “hier” in die titel voorkom, is in die middel en nie onder waar dit gewoonlik geplaas word nie. Dit is waarskynlik om die leser se aandag na die middelpunt van die titel te trek. Die leser moet fokus daarop om te stop, in die oomblik stil te word en op die “nou” te fokus. Die middelpunt kan ook verwys na hoofstuk 8 se titel “Die leemte in die kern” (91). Die kern is die middelpunt en dit is hol. Omdat dit hol is, kan dit gevul word. Dus word ʼn punt bewys deur die punt in die middel van die titel te plaas. Nóg ʼn interpretasie kan wees dat die digter, deur middel van ʼn punt, die nou en hier van mekaar probeer skei. Dit is egter onmoontlik. Soms word die digter se strewe daarna om dinge te skei ook deur die gebruik van ʼn komma aangewend. Voorbeelde van gedigtitels waar teenoorgesteldes deur die komma geskei word, is: “Binne, buite” (22), “Oos, wes” (31) en “Voor, ná” (102).

Die grootste gedeelte van die omslag is blou van kleur met enkele wit wolkies. In twee verse word daar na laasgenoemde verwys: “Kameleon” (27) en “Voor, ná” (102). Dragtige wolke bring reën, lafenis, verligting, lewe en groei. Meermale word die blou kleur met kalmte, rustigheid, lug, meditasie en asemhalingstegnieke geassosieer. Dit lyk asof die leser in die lug en lig opgeneem kan word. Hierdie uitbeelding sluit by die idee van Gautama, wat wou “oplos in tydlose lig” (98), aan. Hy simboliseer ook lig soos te sien in die volgende reëls: “prins van Gautama / lig van my huis” (96). Vandaar dan die klein Boeddha-figuurtjie wat in die lug op die omslag uitgebeeld word. Dit lyk asof hy soos ʼn wolkie in die lug en lig opgeneem kan word. Vanuit die blou lug daar/doer bo oftewel “Hoog bo die dorp” (102) lyk die huise onder kleiner en dit dui op afstand. Die belangrikheid van die blou lug wat in en uit die longe vloei kan op bladsy 100 gesien word: “‘Ek haal saam met jou asem. / Alles haal saam met jou asem.’” Die woord “asem” word in beide versreëls aan die einde geplaas ter wille van beklemtoning. Die asemhaling is ʼn aanduiding van lewe. Méér nog is daar eenwording tussen die “ek”, “jou” en “alles” wat sáám asemhaal.

Daar is vier Siddharta-verse wat in die laaste hoofstuk van die bundel verskyn en progressief op mekaar volg. In “Verbintenis” is die subtitel “Siddharta se ma wag in die tuin”. Die moeder in dié gedig is daarvan bewus dat die jong Siddharta sy ouerhuis binnekort sal moet verlaat, maar sy noem ook dat niks hom van haar kan vervreem nie – “my kontrak met jou is in been en bloed”. Dit gaan hier om die onlosmaaklike band tussen ʼn ma en haar geliefde kind. Afstanddoening kan nie eers hierdie band breek nie. Dit is ʼn band in die kern van elke ma en haar kind se wesens. Vervolgens verskyn “Staande voet” met die subtitel “Siddharta staan op die punt om sy ouerhuis te verlaat.” In dié vers word dit ʼn realiteit dat Siddharta gereed maak om weg te breek van sy ouerhuis. Gevolglik kwel die vader hom oor sy seun wat iewers ronddwaal. Siddharta se vrou, Jasodhara, word een van Boeddha se volgelinge in “Jasju” (100). In laasgenoemde hunker Jasodhara na Siddharta en sy treur deur ses lang winters, omdat haar geliefde nog skaars by haar is en dan weer op die weg elders heen moet gaan. Hy moet haar dus verlaat en hierdie verlies bring droewigheid en hartseer mee. Siddharta bring vir haar vertroosting, deur een met haar te word in hul asemhaling (“‘Ek haal saam met jou asem. / Alles haal saam met jou asem.’”).

Daar is uitbeeldings van verskillende geboue onder op die omslag en ek verwys daarna as plekke of ruimtes. Alhoewel die huislike omgewing waarin die vrou haarself bevind prominent in die bundel is, is daar ook ander plekke wat nie oor die hoof gesien moet word nie. Een só ʼn plek is die moerasagtige vleiland van oorvloed. Dit is ʼn rustige plek, waar plante volop groei en die diereryk bedrywig kan wees, weens die belangrike teenwoordigheid van water. In “Doekvoet” word die vleiland soos volg beskryf: “Dan sal jy die vleiland sien rondom jou tot by die einders, / druppende biesies en varing en mos” (my kursivering). Uit woorde soos “druppende”, “varing” en “mos” kan die leser die afleiding maak dat die area klam is; dat daar water is wat drup. Plante soos varings en die mos groei ook waar dit vogtig is. In só ʼn vrugbare area kom die pienk waterlelies (nymphaea gloriosa) in plate voor (sien “Vleiland” [12]). In ʼn vers soos “Dieselfde water” (49) handel dit oor ʼn fontein wat hoog ontspring (moontlik in die berge) en dan afloop see toe. Voordat die waters die see bereik, dam dit op. Hiérdie plek tussen fontein en see is ʼn watergevulde holte of “skoot”; ʼn veilige plek van koestering en waar lewe en voortplanting kan plaasvind.

Nou sloer

hierdieselfde water

in ʼn sonwarm veenveld,

ʼn rustige skoot

vir broeiers, eters,

sangers, kwakers,

peinsers, wagtendes

op pad see toe.

Die feit dat daar son, water en voedselbronne in die vleiland is, maak dit die ideale plek vir die natuur om in harmonie te leef.

Om ín iemand se arms te wees is ook ʼn aanduiding van ʼn ruimte wat gevul kan word. Dit is meestal ʼn veilige plek van koestering. ʼn Moeder wat haar baba of kinders omarm, probeer om hulle veilig en naby aan haar te hou. Vandaar ʼn vers soos “Met die bybies” (18) wat verwys na die tweede hoofstuk se titel “Die vreemdelinge in ons arms”. Die “vreemdelinge” is die “bybies”, maar die moeder se gevoelens en ervarings ná swangerskap mag ook vreemd wees. Om ʼn baba in die ruimte van haar arms te hê, voel dalk aanvanklik vreemd. Dit is iets waaraan sy vinnig gewoond moet raak. In nou, hier is ʼn belangrike tema moederaarde (ook bekend as Gaia/Gaea) wat haar kinders probeer tug én soms omhels soos op pagina 107: “Jou groet is geen afskeid nie / maar omhelsing, kèn.” Daar is ook verwysings na geliefdes wat in mekaar se ruimtes leef. Soos genoem, kan hierdie ruimtes as beskermend beskou word – ook in liefdesverhoudings: “Hoe koesterend sou die omhelsing wees / hoe vlindersag die kusse op jou oë.” (38) en “Een nag […] / het ons tesame wakker geword / en monde skouers lendene bekken / ineengestrengel gevind” (13).

Teenoor die veilige, koesterende ruimte, kan alleenheid as ʼn plek gesien word, byvoorbeeld in “een-een” waar allenigheid die spreker “beenderig om die gewrig vat” (26). Dit is meermale ʼn gestroopte plek wat die mens dwing tot inkeer en introspeksie. Jy word gekonfronteer met jouself. Dit dwing jou om jouself van binne af stelselmatig leeg te maak, totdat daar net “ʼn leemte in die kern” (91) is. Sodoende kan jy opnuut met positiewe dinge gevul word.  Daar is dus ook ʼn ruimte vir selfontmoeting en innerlike tevredenheid.

Die huise lyk opeengestapel en só lewe ons ook dikwels ingeprop en in mekaar se persoonlike ruimtes. Soos afgelei kan word uit die bundelomslag, is die huis ʼn sentrale tema. Méér nog gaan dit in nou, hier om die vrou wat haarself ín die huis uitleef deur sekere take in en om die huis te verrig. Sy is die moeder wat moet omsien na haar kinders. Sy is die huisvrou wat haarself so dikwels in die milieu van die kombuis afsloof. Sy is ʼn huweliksmaat wat haarself gereeld in die slaapkamerruimte bevind. Sy rig haar huis as aanbiddingsplek in.

Die vrou as matriarg neem leiding in die huis deur vir die kinders te sê wanneer hulle moet kom eet, wanneer hulle moet gaan slaap of dalk hul kamers moet gaan opruim. In sommige verse kan die leser aflei dat die spreker self ʼn moeder is. In “Bedags is ek oukei” (37) verbrokkel die huis tot só ʼn mate dat die nok geknak is, die balke gebreek is, die vloere gate in het, die deure stukkend is en die sement, pleisterwerk en muurpapier afdop en -skilfer. Dit lyk asof die geliefdes se verhouding saam met die huis in strofe twee vervalle raak, wanneer beskuldigings of dalk selfs die pynlike verwyte rondgegooi word.

in die gang het ek jou van my verraad vertel

langs die stoof het jy gesê

ek is nie ʼn ma se gat nie

en by die wasgoeddraad

o by die wasgoeddraad is dit snot en trane in die nagte

hier waar ons onder die maan gesoen het.

Uit die bogenoemde blyk dit dat die verhouding besig is om te breek, weens die “ek” se skulderkenning dat sy die “jou” (met ʼn ander geliefde) verraai het. Buiten die “jy” se “gemiddeldheid” wat vroeër in die vers genoem word, word daar nie veel oor sy aandeel in die verbrokkeling van die verhouding genoem nie. Dit kom voor asof die spreker daarvan beskuldig word dat sy ʼn slegte ma is – moontlik as gevolg van haar verraad. Die feit dat die konfliksituasie in die kombuisruimte plaasvind, is ook nie toevallig nie. Die man betree die private ruimte van die vroulike domein “langs die stoof”. Dit is binne hierdie ruimte waarin sy elke dag leef en waarmee sy vertroud is, dat die vertrouensverhouding verbreek word. Sy vlug buitentoe na die wasgoeddraad, waar sy vertroosting soek by ʼn vroeë herinnering saam met die eens-op-ʼn-tyd se geliefde “jy”.

Die digter skryf nie net oor ʼn ek-spreker se ervarings van moederskap nie. In ʼn gedig soos “Deken” (68) is die kind die spreker en die vers handel oor haar ervarings en perspektief van kindskap. Hier gaan dit om die kind wat die moeder observeer. Die spreker beskryf maniere waarop ʼn simpatieke moeder vertroosting kan bring – veral vir ʼn olike kind.

Ma het hom oor ʼn siek-genoeg-kind se bed gesprei.

Dan was haar treë goedmoedig,

haar groot, droë hand balsem.

‘Wil my kind ʼn stukkie brood en tee?’

Die moeder bring vir die siek kind genesing en herstel met haar groot hand oftewel haar dade. In hierdie gedig dui woorde soos “deken” (die gedigtitel), “balsem” en “stukkie brood en tee” daarop dat die ma nie net op beterskap vir haar kind hoop nie. Sy gee om en help haar kind om aan te sterk. Daarom skep sy ʼn veilige, geborge en koesterende ruimte. Sy gee ook liefde as geneesmiddel.

Verwysings na moederskap in die natuur kom telkemale in die bundel voor. Die vrou of wyfie in die diereryk is die een wat weet wanneer om die kleingoed te voed of wanneer hulle moet opstaan. Die kleintjies kyk op na die ma en hulle weet ook dat sy die een is wat gewoonlik na hulle sal omsien. Vanuit “Mev. Nerts” (86-87) se oogpunt was die pa van hul kleingoed nooit die beste jagter nie. Hierbenewens kom en gaan hy sommer soos hy wil: “Cheers, sê hy as hy waai. / Wie gee om, sy het ʼn goeie nes.”. Die mannetjie het ʼn traak-my-nie-agtige houding en geen verantwoordelikheid jeens die ma en kleintjies nie. Hy verlaat haar en keer net terug na die nes, ʼn veilige hawe, as dit hom pas. Hy weet nog weinig van ouerskap. Hierteenoor moet die ma verantwoordelikheid neem en op haar eie sukkel. Sy moet kos gaan soek vir die kleintjies. Sy moet besluit wanneer dit tyd is om op te staan. Sy moet self afskeid neem van die “armoedjie” wat dit nie gemaak het nie.

Gaia (of Gaea) is die ma van alle lewende wesens op aarde. Die aarde is ʼn tuiste vir al haar bewoners. Omdat sy dragtig is, is haar maag rond soos ʼn bal. Net só is die aarde ook rond – “Sy bring haar kinders voort, / sy laat hulle gaan, / en die een geslag ken die ander nie.” (106-107). Met verwysing na laasgenoemde word ʼn siklus (wat ook in die vorm van ʼn sirkel is) geïmpliseer. Dit handel oor die gang van die lewe – geboorte en verganklikheid. In die vers “Gaia” (90) vervies moederaarde haar vir die kinders. Sy raas met hulle, omrede hulle vernielsugtig optree, vuilmaak en eenvoudig net aanhou voortplant (“teel”).

Kyk hoe lyk die plek!

ʼn Varkhok! Dit stink!

Verniel! Ópgemors!

Al wat ek doen is gee!

Al wat julle doen is gryp!

In die bogenoemde versreëls is die “plek” die aarde en die “julle” die mensdom. Dit is die mense wat skade aan die aarde rig. Die uitroeptekens maak dit duidelik dat moederaarde woedend is. Sy deel bevele uit dat die kinders die plek moet opruim en sy waarsku hulle: “Moenie dat ek hier opstaan nie.”. Laasgenoemde reël word ter wille van beklemtoning alleen geplaas. Die mensdom sal hard gestraf word deur moederaarde soos wat ʼn stoute kind deur ʼn ma gestraf sal word, mits die mens nie sy optrede en gedrag verander nie. Die “helskinders” sal ʼn helse pakslae kry.

In sommige verse is die vroulike spreker die spilpunt waarom die huishouding draai. Die verskillende huishoudelike take wat sy verrig, definieer haar as huisvrou of tuisteskepper. Dit is in hierdie gelééfde ruimte waar die vrou ʼn deel van haar identiteit vorm. In ʼn tradisionele patriargale stelsel word die man geassosieer met die publieke ruimte, terwyl die vrou beweeg in die private kombuisruimte. Dikwels word die huishoudelike ruimte gesien as ʼn plek van veiligheid, samesyn, versorging, die gesin, passie en intimiteit.

Daar is heelwat verse wat handel oor die daaglikse roetine van die vrou in en om die huis. Ek verwys na sommige strofes uit enkele verse. Uit die titel “Die huisvrou verbeel haar wat” (19) kan die leser reeds aflei waaroor die vers handel.

Uiteindelik ná

vuurstook koskook melkmaak

skrop stryk soek bêre seks ook nog

styg daar laataand by die skottelgoed

ʼn seepbel op

In hiérdie vers word al die dinge wat die huisvrou moet inpas, genoem. Daar is geen komma tussen die take nie, omrede die vrou waarskynlik ook geen ruskans tussendeur dit alles het nie. Dus sloof sy haar vir haar geliefdes af. Die feit dat sy seks óók nog moet inpas, laat dit klink soos ʼn “shlep”. Die vers begin met woorde van verligting om tot ruste te kan kom na die dag se bedrywighede. Ironies genoeg eindig die dag ook by die opwasplek waar sy moet werk.

In “septemberoggend” (24) moet die vrou “multi-task”. Alles wat by die huis in een dag gedoen moet word, word opeengestapel soos vuil borde. Só word die woorde ook gelas, aanmekaar geskryf of opeengestapel. Hieruit lei die leser af dat die vrou teen tyd werk. Dinge moet vinnig en glad verloop, sodat sy deur al die dinge wat moontlik van haar verwag word, kan kom.

nounounou sit ek hierdie oggend in ʼn gedig

net eers bredieaandiegangsit

manpaai kindersvoer

lewerkookvirdieblindeouhond

regmaakvirwerk

Dit blyk dat die vroulike ek-spreker in die bogenoemde vers die man, kinders en hond eers tevrede probeer stel, voordat sy haar met haar eie sake bemoei. Sy paai eers die man en voed die kinders en hond, en dán maak sy reg vir werk. Uit laasgenoemde is dit duidelik dat die vrou in dié vers nie ʼn huisvrou is nie, hoewel sy steeds huishoudelike take moet verrig. Sy betree ook die publieke domein waar sy moontlik ʼn beroep beoefen.

Die vrou is net soos ʼn besige by in en om die huisruimte. Sy is die hele tyd doenig in en om die nes. Vandaar dan ook ʼn gedig soos “Bye” (82-83).

Dit het gezoem by die nes:

bou, gee kos, maak skoon,

dans, haal nektar,

gee die blom wat die blom toekom.

Die huisruimte kan hier met ʼn byenes vergelyk word. Die vrou is die besige by wat aan die nes oftewel haar huis bou; wat ʼn tuiste skep. Sy versorg haar geliefdes, voed hulle en ruim die plek op. Sy gee ook vir die blom (haar geliefde) wat hy nodig het – waarskynlik (intieme) liefde soos wat ʼn by ʼn blom bestuif.

Die stand van sake in en rondom die huis hou dikwels verband met die aard van die geliefdes se verhouding. As die verhouding verbrokkel, raak die huis ook vervalle en andersom. In “Die dag toe jy” (36) is dit die “jy” wat die diep gewortelde boom uitspit. Die boom wat by die voordeur gestaan het, was die huis se anker. Dit het standvastigheid en beskerming vir die huis en sy mense gebied. Die boom het ín die huis se fondament gegroei. Wegdoening hiermee impliseer dat daar geen standvastige fondasie vir die huis(houding) is nie. Die huis staan kaal, oop en weerloos. Dit is asof die tuin treur en kwyn, weens hierdie groot verlies want al die ander plante het ook begin vrek: “het die hele tuin / met die laaste steek / […] / in die gat geklim / en gevrek”. Dit alles is die “jy” se skuld.

Ten spyte van haar vele pogings om ʼn goeie tuisteskepper te wees, kom dit voor asof dit nie altyd die geval is nie. In “Blattodea” (88-89), wat ʼn plaag van kakkerlakke is, is die kombuisruimte vuil. Dus investeer die kakkerlakke en hulle broei in allerlei plekke in die kombuisruimte uit. Hulle lewe van die “smeersels sous, spatsels vet, die pan wat staan.”. Duidelik is die kombuis nie baie skoon nie en dit verklap ook iets van die vrou as tuisteskepper. Sy blyk nie baie netjies en skoon te wees nie en is moontlik ook onhandig as dit kom by huishoudelike take.

Wanneer dit gaan om die vrou wat haarself in ʼn liefdesverhouding of huwelik bevind, is die slaapkamerruimte ʼn belangrike plek waar seksuele omgang plaasvind. As dit voorspoedig gaan met die geliefdes in hul verhouding, is daar sekere motiewe wat herhaaldelik voorkom, soos: water, die maan, die aand as die tyd van die dag vir liefdemaak, blombeelde (nymphaea gloriosa), vrugtebeelde, die liggaamlike en die paradysmotief.

Verse wat gaan om liefdesverhoudings is gewoonlik in wisselwerking met die seisoene. In hierdie verband dink ek aan Jasodara (vrou van Gautama) wat deur ses lang winters getreur het, totdat hy die sewende somer na haar toe gekom het (“Jasju” [100]). Daar is ʼn bloeityd en ʼn vervaltyd. Ná laasgenoemde is die mens geneig om te dink aan maniere waarop dit verhoed kon word. Maar, soos in die natuur, kan die oorryp vrug nie daarvan weerhou word om te val en te verrot nie. In “Onthou” (15) skets die spreker die ideale atmosfeer vir nabyheid, koestering en liefde tussen twee minnaars.

Daardie soel somernag

toe jy my nadertrek,

toe ek my oë toemaak

teen die blou van jou oë

Die warm somernag is die ideale tyd van die dag vir geliefdes om (intiem) saam te wees. Hieruit kan die leser die afleiding maak dat dit goed gaan in die verhouding. Maar in strofe twee kom die leser agter dat die spreker terugdink aan ʼn tyd toe dit met die liefdesverhouding goed gegaan het. Later in die vers bring woorde soos “ysige Hoëveld-winter” en “lemhelder” skeiding tussen die minnaars. Die winter bring koue en gestrooptheid van dit wat eens op ʼn tyd was; van dit wat die “ek” onthou. Dit lei gewoonlik tot inkeer.

Van bladsy 23 af is daar drie chronologies opeenvolgende verse: “Droë Augustus”, “Septemberoggend” (24) en “Oktobermaand se bruide” (25). In “Droë Augustus” is dit die nadraai van die wintermaande; die laaste snikke van die winter wat “knersend hakke inslaan”. Plek word gemaak vir herlewing en ʼn opbloei in Septembermaand. In Oktobermaand begin die liefde blom en die natuur het ook die potensiaal om te blom (“roostuin”, “maanblomme” en “blommemeisies”) en lewe te gee (“drag bloeisels”) soos te sien op bladsy 25. Maar, soos genoem, behoort die lewe as siklus beskou te word. Want waar dit nou somer is, is dit elders winter; waar dit nou voorspoedig gaan, gaan dit elders droewig. En dit wat nou “elders” plaasvind, kan in die toekoms ook “hier” plaasvind.

In “Vleiland” (12) word natuurbeelde verweef met die geliefdes se verkenning van mekaar se liggame en hul intieme liefdemakery. Daar is talle verwysings na die liggaamlike: “hande”, “heupe”, “lyf”, “vingerpunt” en “toon”. Dit blyk dat klem op die tassintuiglike waarnemings gelê word, deurdat die liggaamsdele wat opgenoem word meestal hiermee te make het. Net soos ʼn vleiland, waar vogtigheid teenwoordig is om die aarde te voed en vrugbaarheid moontlik te maak, net só is die vroulike ek-spreker se liggaam. In die volgende aanhaling stel die spreker haarself eksplisiet aan die vleiland gelyk.

ná jou woorde en hande en heupe laas nag

het diep in my lyf

ʼn syferfontein begin borrel

en loop daar blink water al met die vore langs

om elke ronding en in elke holte

[…]

en nou is ek ʼn geil, geheime vleiland

Die vroulike liggaam het rondings en kan gevul word met vog (die borrelende “syferfontein”). Sy het die potensiaal om ʼn deel van die man ín haar saam te dra. Sy het die potensiaal om dragtig te wees en lewe te gee. Sy kan kinders voortbring soos wat pienk opslaglelies ʼn plaat in die vleiland kan staan. Die pienk kleur van die nymphaea gloriosa (waterlelies) is hier ook ʼn simbool van vroulikheid. Maar sy is ook die een wat dig in haarself of na binnetoe gekeer is; wat geheime hou.

Ook in verse soos “Ons ken mekaar se holtes” (21) en “Huisvesting” (42) word daar op die lyflikheid gefokus. In die eersgenoemde vers beskryf die spreker die geliefde “jy” se liggaam soos volg.

Ons ken mekaar se holtes

en sagte plekkies

soos die klein vallei in jou heup,

die duikie skuins onder jou enkel,

die dal van jou skouer

en jou hande so vol mooi woorde

oor die maag wat nie meer tussen die heupe span nie,

die palm van die voet

Hierdie gedig is geliefdes se verkenningstog van mekaar se liggame. Die spreker vergelyk die “jy” se liggaam met ʼn vallei wat sagte plekkies het. Woorde soos “holtes”, “duikie” en “dal” word gewoonlik geassosieer met vroulikheid. Soos genoem, is sy die een met rondings en die holte van ʼn baarmoeder wat gevul kan word om lewe te kan gee. Dit word meer eksplisiet gestel in “Huisvesting” waar die vroue nagteliks voel hoe hul lendene in die holtes “vol korfwarm heuning loop”. Die heuning is ʼn aanduiding van soete liefdemakery. ʼn Korf het, net soos die vroulike liggaam, ook klein holtetjies wat met die vloeibare heuning (semen) gevul word. Die vroulike liggaam word gewoonlik met die man se sperm gevul vir voortplantingsdoeleindes.

Die belangrikheid van die aand as die tyd van die dag vir ideale liefdemakery, is duidelik in “Een nag” (13). Die gedig bestaan uit twee strofes, waar strofe een oor die nag en strofe twee oor die oggendure handel. Dit is in die aand dat die geliefdes hulself “ineengestrengel” vind en dat hulle met mekaar se tonge fluister: “Jy. Net jy. Ewig”. Laasgenoemde herinner die leser aan N.P. van Wyk Louw se vers “Die liefde in my” waarin hy skryf: “Dis altyd jy, net altyd jy, / die een gedagte bly my by”. Die maanmotief kom dikwels voor as liefdestonele, wat saans plaasvind, beskryf word (sien die “waterige middagmaan” [20], “maanblomme” [25], “hier waar ons onder die maan gesoen het” [37], “omkrulmaan” en “nuwemaan” [44] en “lentemaanlignag” [98]). Die maan is ook rond soos wat die vrou rondings het. Tydens haar menstruasie-siklus gaan die vrou deur ʼn herhalende patroon van stygings en dalings in hormoonvlakke. Tydens die “vloedgety” menstrueer sy. Die maan se aantrekkingskragte trek die aarde se seewater aan wat daartoe lei dat seewater soms styg. Dit is wat die getye veroorsaak. Die vrou se wisseling in hormoonvlakke hang dus saam met die maan se aantrekkingskrag op seewater. Beide die vrou se hormoonvlakke en seewatervlakke styg en daal. Vandaar die maanmotief. In teenstelling met strofe een, bring die oggend in strofe twee rusie en skeiding tussen die geliefdes.

Die slaapkamerruimte is prominent in verse wat handel oor seksuele omgang. Die huisruimte, spesifiek die slaapkamerruimte, is ʼn bekende en veilige milieu vir geliefdes om seks in te hê. As die geliefde in ʼn vers soos “Die reisiger” (44) terugkeer huis toe na lang reistogte, berei die vrou die slaapkamer vir intieme liefde voor: “ek haas my om koel, skoon lakens / vir ons oop te sprei.”. Die geliefde keer terug van ver plekke af en hy bring eksotiese dinge saam wat hy uit sy trommel haal byvoorbeeld sydoeke, saffraan, toermalynkrale en ʼn granaat. Die laasgenoemde is ʼn vrug en vrugtebeelde is dikwels ʼn aanduiding van vrugbaarheid in vroulike liefdesverse. Die geliefde bring ook “paradysvoëls” wat hul vlerke strek en die paradysmotief in liefdesverse is die ideale ruimte waar geliefdes omgang kan hê sonder om gesteur te word.

In teenstelling met nabyheid en intimiteit, bevind die vrou haar dikwels ook alleen in die huislike domein. Soms is dit weens konflik situasies tussen die geliefdes óf omrede die man vir werk weer op pad iewers heen is. Hierdie skeiding tussen geliefdes veroorsaak verwonding en die bloedmotief is ʼn aanduiding hiervan. Sien die volgende voorbeelde: “een aand dog ek nog so toe sien ek / ʼn rivier storm by jou mond uit / […] /en toe die gemaal my velle begin stroop / kyk ek jou weer aan / en sien jy bloei” (33) en “waar jy gaan / gaan ʼn stuk van my hart / bloederig aan die breekkant.” (58) (my kursivering). “Bruidjie van Jemen” (63) handel oor ʼn 8 jarige meisie wat op hierdie jong ouderdom getrou het. Omdat sy in die huwelik getree het op só ʼn jong ouderdom, kon haar liggaam nie omgang tydens die huweliksnag hanteer nie. Sy is dood, weens inwendige bloeding. Hoewel daar ook die veronderstelling is dat bloed lewe en vrugbaarheid simboliseer, is dit nie die geval in hierdie vers nie. Inteendeel, die jong bruidjie sterf in 2013 (soos te sien in die gedig se subtitel). Aan die einde van die vers vra die spreker: “Wie sal ʼn woestyn wegdra?”. Die implikasie van die woestyn is waarskynlik droogte, onvrugbaarheid, ʼn stuk dorre aarde waar geen lewe is nie. Die jong bruidjie is oorlede en daar is dus geen teken van water as lewegewende bron nie.

In die gedig “Oos, wes” (35), wat ook hoofstuk drie se titel in die bundel is, speel die digter met die idioom “Oos, wes, tuis, bes” wat beteken dat jou huis altyd die beste plek is om na terug te keer. Die man keer gewoonlik terug na die huisruimte waarin die vrou op die afwesige geliefde wag. In “Oos, wes” (35) is die geliefdes saam in die huis wat deur natuurelemente soos “bliksem”, “donder”, “aardskuddings” en ʼn “rukwind” bedreig word. Dit is gewoonlik ook bedreigings van buite wat liefdesverhoudings laat wankel. Die huis se fondament begin kantel en mettertyd stort die huis ineen net soos wat ʼn verhouding inmekaar kan stort. Dit is omdat die huis nie sterk genoeg is om weerstand teen hierdie buitenste rampe of aanvalle te bied nie.

toe sak die hele kasarm

kantelende fondament

ooreisde dwars- en stutmure

splinterende kosyne

deurgetrapte drumpels

betraande ruite

bepiede plafonne

inmekaar

Hoewel die geliefdes ontsnap uit die ineengestorte huis, kom dit nie sonder skrape, “geskeurde naels, flarde palmvelle bloedknieë / en met hangarms” nie. Dit kom dus nie sonder pynlike ervarings nie. Buiten die geliefdes se uiterlike verwonding, is die huis se anker en standvastigheid (oftewel die fondasie) ook daarmee heen.

As die huisruimte, waarin die vrou haar bevind, verbrokkel of vervalle raak, wend sy soms pogings aan om dit te herstel. Sy wag nie vir die man om dit eendag te doen nie. Sy probeer om ʼn warm, huislike omgewing te skep. Sy wil die binneruimtes lig maak, sodat dit verwelkomend en warm is vir geliefdes. In “Regmaak” (48) sê die spreker dat sy self die pleister gryp om die stoepvloere se krake reg te maak. Sy neem die borsel, skraper en mes om te pleister en skoon te maak. Sy “bou skuiling, kleim, domein, / ʼn waarvandaan.”. Die vrou maak van haar huis ʼn veilig, beskutte plek waarin sy kan leef en waarheen sy altyd kan terugkeer.

Dwarsdeur die bundel word nie net die geliefde(s) in hul wonings deur elemente van buite bedreig nie. Op pagina 82 spuit die byeman die byenes en “ʼn by is ʼn goeie ding, / bring wysheid, gesondheid, dalk goud.”. Die bye word deur die mens met gifstowwe bedreig. In ʼn vers soos “Ontruiming” (84) is “Die beter geeste van die plek, / dié wat in stilte en klip woon” nou weg. In die plek van die beter geeste het “haas”, “angstigheid”, “minagting” en “gierigheid” kom nes skrop. Die ruimte of plek wat dus eers gevul was met positiwiteit is nou daarvan gestroop. Negatiwiteit het die leemte kom vul. Selfs ʼn vers soos “Platipuspaddas” (85) begin met die woorde “Hul wonings was langs vinnige riviere” en eindig met die reëls “Hulle het langs riviere gewoon. / Hulle het graag in sagte reën gesit.” (my kursivering). Die feit dat die verlede tyd gebruik word, impliseer dat die platipuspaddas of buikbroeiers nie meer daar woon nie. Die rede hiervoor word nie in die gedig genoem nie, maar hulle was waarskynlik deur iets (dalk die mens) bedreig. Daar blyk dus heelparty verse te wees wat daaroor handel om die ruimte leeg te maak van die een of ander vorm van lewe óf om weg te doen met voorwerpe daarin.

Die huis as private domein is nie net ʼn plek van veiligheid, versorging, liefdemaak, omgee en koestering nie. Die vrou rig die woning ook as aanbiddingsplek in. Sy is dikwels die een wat haar geliefdes soos die Here dien. Haar dade strek veel verder as net die huislike milieu. In “Voetewas” (77) is dit die dogters wat hul pa se voete soos liewe Jesus was. Net soos wat Jesus Sy dissipels se voete gewas het, was die dogters ook die pa se voete. In “Besoek” word die “jy” in die hospitaal besoek en versorg deur die bring van kos en lekkernye soos “semelbeskuit” of “pruimedante”; deur die regsit van pille of die ruil van doeke. Die vrou maak dus nie net van haar huis ʼn aanbiddingsplek nie. Sy lééf dit ook in haar alledaagse doen en late uit.

Myns insiens is Coetzee se bundel ʼn waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse digkunsskat. In die verse wat in nou, hier opgeneem is, is daar oor die algemeen ʼn konstante bewustheid van tyd en ruimte waarin die spreker haarself bevind. Die bundel bevat verskeie temas, maar is veral deurspek met voorbeelde van die vrou se ervaringswêreld – hetsy haar daaglikse taakverrigting in en om die huis, haar rol as dogter, as moederlike figuur of as geliefde. Sy gee liefde en lewe; bied vertroosting. Maar soos wat die lewe sy gang gaan, kom hierdie dinge ook nie sonder pyn, verbrokkeling, alleenheid en sterflikheid nie. Nou, hier is ʼn siklus wat op bladsy 107 voltooi word en dit eindig met die woorde “Jy sal die son sien opkom en ondergaan” (uit “Doekvoet”). Die slotvers is ʼn afskeidsvers waarin die leser gegroet word, maar die afskeid is nie ʼn droewige en morbiede affêre nie. Dit is amper soos ʼn afskeid waaraan finaliteit nie gekoppel kan word nie. Mense word nie net deur die dood of tydelike afstanddoening gegroet nie. As iemand gegroet word, word daardie persoon erken; dalk selfs vir die eerste maal ontmoet. Dus “[is] jou groet geen afskeid nie / maar omhelsing, kén.” (107).

 

Onderhoud met Corné Coetzee (nou, hier)

Sunday, August 27th, 2017

 

Corné Coetzee in gesprek oor haar debuut nou, hier, met Gisela Ullyatt

 

Baie geluk met jou debuut, Corné.

 

Nou, hier se voorblad is treffend en dit is veral die kleure wat my aandag getrek het. Hoe het jy op die voorblad besluit? Het jy eers ander konsepte vir die voorblad oorweeg?

Ek is veral in my skik daaroor dat my dogter Clara die voorblad ontwerp het. Ek het vir haar beskryf wat ek in gedagte het, nie baie goed nie, min of meer “’n rytjie van sulke Melville-rige huisies daar in die onderste strate, jy weet mos en met ’n Boeddha wat bo-op die huise dryf”, vir haar ’n klompie gedigte gewys en ’n klompie foto’s van die internet af aangestuur en gesê: “dié soort ding”… Toe kom sy met hierdie voorblad vorendag, Human& Rousseau het die eerste konsep-probeerslag goedgekeur. Die mooi blou kom van Clara se verfkwas en is ook te danke aan Mike Cruywagen wat dit digitaal verwerk het.

Jy debuteer in Nuwe Stemme 4 (2010). Ses van jou gedigte is in hierdie bundel opgeneem, naamlik “Aard”; “Beroerte”; “Bruide kyk”; “Die dag toe jy”; “Kombuis” en “oomblik op die trap”. Die leser sal dieselfde gedigte aantref in nou, hier waarin daar enkele veranderinge aangebring is. Die mees opvallende veranderinge kom voor in “Oomblik op die trap” (20). Ter wille van die leser, haal ek beide die Nuwe Stemme-weergawe asook die een wat in nou, hier verskyn, aan:

 

oomblik op die trap (2010:67)

 

gegewe dat dit toevallig kan wees

of dat ver planete ten opsigte van

hierdie halwe hektaar in ewewig dryf

of bestem deur een wat alles gemaak het

of ’n lui kapries van gode gemoedelik ná die maal

 

– hierdie sagte voorlentemiddag op die stoeptrap,

terwyl ’n wil-wil klam bries dink om te waai

stemme agter in die eetkamer rustig styg en daal

’n ver telefoon tevrede begin koer

en ’n erdebak bone inskiklik week vir later –

 

wetend dat die wind kan opsteek

die gesprek vrank kan raak

die tyding kan kom

die eters met messe beduie: waar’s die vleis

 

sien ek nogtans en desnietemin tekens

in die leeurik in die kamferboom

die opslaglelies in die paadjie

en vanmiddag se waterige maan

*

Oomblik op die trap (2017)

 

Gegewe dat dit toevallig kon wees

of dat drywende planete ten opsigte van

hierdie halwe hektaar in ewewig staan

of bestem is deur een wat alles gemaak het

en steeds mildelik uit sy hand laat stort

of ’n lui gril is van gode

gemoedelik ná die maal

 

– hierdie sagte voorlentemiddag op die stoeptrap

terwyl ’n bries wil-wil waai

stemme in die eetkamer rustig styg en daal

’n ver telefoon tevrede begin koer

en ’n erdebak bone inskiklik week –

 

wetend dat die wind kan opsteek

die tyding kan kom

die gesprek vrank raak

die eters straks met messe beduie: waar’s die vleis

 

sien ek nogtans en nietemin tekens

in die leeurik in die kamferboom

die opslaglelies in die paadjie

en in die waterige middagmaan

redeloos teologieloos woordeloos.

 

Vertel ons meer van die evolusie van hierdie gedig: hoe het die veranderinge plaasgevind?

Dis ’n gedig wat deur die Nuwe stemme-, die Tukkies-poësie-werkswinkel sowel as my wonderlike redigeerder, Nèlleke de Jager van H&R, se meule is. By nabetragting amuseer hierdie prosesse ’n mens, dis nog ’n voorbeeld van omstandighede, besluite en toevallighede – juis soos wat ek in die gedig wou illustreer.

Die laaste reël, “redeloos teologieloos woordeloos” was eers in, toe uit, en toe weer in. Ek meen hy moet daar wees, dit verduidelik die satiriese gemymer oor astrologie, godsbesluite en afgode aan die begin.

Die argument oor waarom “straks” ingevoeg moes word, onthou ek nie meer nie, vandag lyk dit vir my oorbodig, selfs hinderlik, dit versteur die ritme.

Dit is min dat ’n gedig bykry, eerder as gesnoei word.

Jy het ’n Magister in Kreatiewe Skryfkuns onder leiding van Henning Pieterse verwerf. Is dit ’n proses wat jy sal aanbeveel vir digters wat ernstig oor hul digkuns voel en graag wil publiseer?

Ek het baie daarby gebaat. Dalk werk dit nie vir almal nie. Die akademiese gedeelte, dié van die mini-verhandeling (wat nie vir my soos ’n mini gevoel het nie, ’n mens verleer die akademiese aanslag) was vir my heerlik. Die vergrootglas van verskeie pare oë in die werkswinkels was ’n goeie dissipline. Dit het my ook gedwing om weer behoorlik te léés – jou eie en ander se werk. Ek het Henning Pieterse se kritiese maar simpatieke lesing van my gedigte asook sy uitgebreide kennis geweldig waardeer.

Ter aansluiting by vraag 3: Jou mini-verhandeling, met die titel, Van boere-paradijs na die dirt box in die middestad: Ekokritiek en in die besonder stedelike ekokritiek as lens vir die lees van 12 gedigte oor Johannesburg as tuiste, is ’n besondere knap verkenning van gedigte vanuit ’n ekokritiese benadering. Kan jy vir ons ’n paar gedigte uitlig wat jy onder die soeklig laat val het? Het jy oorspronklik aan Johannesburg gedink as ruimte of was dit ’n soektog wat jy mettertyd verfyn het namate die verhandeling se navorsingsvoorstel gevorder het?

Dit het lank geneem om die fokus – die uiteindelike onderwerp – te kry. Die ekokritiek het gekom nadat ek ’n vaag omlynde onderwerp aan Henning voorgelê het en hy my Lawrence Buell se The Future of Environmental Criticism laat lees het. Die Johannesburg-verfyning was deels omdat ek belangstel in die stad en sy geskiedenis en deels omdat ek moes inperk.

Ek het pret gehad met die kies van gedigte. Ek het nie noodwendig na literêre gehalte gekyk nie, ek wou fokus op die metodiek van ekokrities lees. Dit het my uitgebring by onder meer S.J. Pretorius se “Stadswyk” van 1963 met sy eerste reël wat vandag aan David Kramer herinner: Hier staan die voorskootvrouens, maer of vet, / alewig in die ander tyd. Ook Johanna Cornelius se propaganda-gedig van 1939 vir die Klerewerksunie, “Die stryd in die stad” wat vandag naïef lyk, maar tóé mense aangevuur het. Ek het vir die eerste keer besef hoe ideologies gelaai Totius se Trekkerswee is. En Wilma Stockenström opnuut lief gekry.

Iets wat my oog getref het in jou Literatuuroorsig is die volgende:

Andries Bezuidenhout maak in sy verhandeling, waarin hy ruimtelikheid en morele agentskap in ’n bundel van Gert Vlok Nel ondersoek, die stelling dat daar in Suid-Afrikaanse feministiese sosiaal-literêre kritiek ’n besondere fokus op die verband tussen huishoudelike ruimtes en die volk is. Hy haal Irma du Plessis aan ‘wat ontleed hoe letterkunde kunsmatige skeiding tussen private en openbare ruimtes destabiliseer. Die kwessies van sistemiese geweld – iets wat ‘daar buite’ gebeur – ook in die intieme ruimtes van huishoudings plaasvind [sic]’ (2013:12-13).

Die eerste vraag oor hierdie aanhaling: is die digkuns veral die genre wat hierdie kunsmatige skeiding destabiliseer?

Ek meen dit is ’n kenmerk van baie kuns dat dit die skeiding tussen die algemene en die besondere; teorie en praktyk; die groot tema en die klein persoonlike destabiliseer. Dink maar aan Die swerfjare van Poppie Nongena, Agaat, Dan Sleigh se 1795 of William Kentridge se werk. Wat my gedigte betref, ek dink in konkrete voorbeelde – die wyer opset waarbinne enigiets plaasvind, die tipiese in teenstelling met die spesifieke, kom altyd later. Ek dig juis oor wat in die “intieme ruimtes van huishoudings” plaasvind –soos talle ander – en dit ís dikwels ’n vorm van (gewoonlik beheersde) geweld.

’n Verdere vraag wat verweef is met bogenoemde aanhaling het te make met die eerste drie afdelings van die bundel: “Nymphaea Gloriosa“; “Die vreemdelinge in ons arms”, en “Oos, wes”. Sou jy sê dat hierdie afdelings kentekenend is van geweld (fisiese, maar veral psigologiese) in die intieme huishoudelike ruimte? Ek dink hier aan ’n gedig soos “Een nag” (13):

 

Een nag na aan die begin

het ons tesame wakker geword

en monde skouers lendene bekken

ineengestrengel gevind

die ekstase soos springende vlamme

die pyl wat swiep tot in die blonde son

beaam

en met mekaar se tonge gefluister:

Jy. Net jy. Ewig.

 

Die volgende oggend

het al twee geskrik

en onderskeidelik tranerig en verbouereerd

begin rusie maak.

 

Gewis. Ook in die huisvrou-gedigte. Ek simpatiseer baie met huisvroue wat so ’n lae status in die wêreld het en wat so braaf, gewoonlik ter wille van kinders, soveel vorme en grade van teenstand trotseer – ’n mens sou dit geweld kon noem.

Maar dis darem nie net oor die verskillende soorte geweld (of hartseer, of eensaamheid) nie. Ook oor hoe intiem geluk is.

Die gedigte gaan oor hoe ’n mens alles aan jou lyf voel. In die gedig wat jy aanhaal, voel die minnaars sintuiglik in die nag en verstaan die volgende oggend serebraal die omvang van verbintenis.

In die afdeling, “Waarvandaan”, is daar ’n besonderse gedig, “My ystervark” (57):

 

Ek het mos ’n ystervark,

’n donker buksie

met een pronkstreep op die kruis.

Gewoonlik slaap hy.

 

Maar jy het skaars geland,

of hy reis hom op en ritsel.

 

Die dag voor jy weer weggaan

waaier sy stekels uit,

hy stamp sy pote,

hy snork en steun.

Wanneer ons jou rug dophou,

al hoe meer vreemdeling in die vertreksaal,

steek sy penne

in sagte vlees, longvleis.

 

By ons huis

is alles onmoontlik stil

 

net die ystervark sit ’n show op,

draai sy spitsige stertkant na my.

ek kan nie naby hom kom nie

maar as ek hom kýk

 

sien ek

sy snoet is weerloos,

hy is die kleur van grond en klip en lamproet.

Oormôre gaan lê hy weer.

hy woon mos hier, agter my ribbes.

 

Kan die ystervark-metafoor as ’n innerlike geweld gelees word wat in die individu plaasvind? Indien wel, is hierdie geweld iets wat met die moderne samelewing te make het; ’n gebrek aan kalmte en stilte?

Die gedig is geskryf vir en oor my kind wat in Brittanje woon, dit gaan oor my reaksie op haar besoeke. Die oomblik wat sy land, begin ek haar vertrek vooruit te vrees. As ’n soort leerling-Boeddhis streef ek daarna om dit juis nié te doen nie, om die hier en nou ten volle te ervaar. As iets goed voel, reg. As iets erg voel, ook reg. Alles verander gedurig.

Maar ja, dit gaan daaroor dat die emosies oor die besoek en die vertrek as gewelddadig ervaar word. En dat groter kalmte sou help om dit alles te aanvaar as deel van die vloei, die gang, van bestaan.

Die laaste afdeling genaamd “Die leemte in die kern” het assosiasies met śūnyatā, die Sanskrit vir die Boeddhistiese nosie van ‘leegheid’. Dis ook opvallend dat jou sesde afdeling se titel “Saadskiet” is. Kan hierdie twee afdelings as ’n jukstaposisie beskou word of wou jy juis dualiteit vermy? Hoe het jy op die titels besluit?

Ek glo daar is minder dualiteit as wat ons gekondisioneer is om te dink, veral met ons gewoonte van kategorisering – wat natuurlik noodsaaklik is om sin te maak van die wêreld. Laat ek vir myself praat: hoe meer ek lees en dink oor Boeddhisme, hoe makliker is dit vir my om byna alles as aspekte van mekaar te sien.

Die bundel vorm ’n soort chronologie van lewensbeskouing, van jongdae se storm en drang, verliefdheid en woede tot oudae se rustiger en wyer kyk, na die gemeenskap sowel as die eie innerlike. Slegs en bloot my eie. Die titels van die afdelings was gewoon ’n reël en ’n gedigtitel wat ek gemeen het ’n soort samevatting vorm.

“Voor, ná” (102) se eerste sewe strofes handel oor Tenzin Palmo, (gebore Diane Perry), ’n Engelse Boeddhistiese non in die Karma Kagyu-linie (‘lineage’) van die Tibettaanse Boeddhistiese tradisie wat vir twaalf jaar in ’n grot in die Himalajas ’n tradisionele retreat gedoen het.  Vertel meer oor jou skryfervaring oor haar?

Ek het haar haar outobiografiese boek Reflections on a Mountain Lake raakgeloop en toe Cave in the Snow gaan soek en gelees. ’n Jaar of twee later het ek na ’n praatjie wat sy in Johannesburg gelewer het, gaan luister. Sy bly vir my ’n inspirasie juis oor wat sy oor leke, veral vroue, in die gewone lewe sê. Soos dat kinders ’n wonderlike “teacher” kan wees, soos sy enigiemand of enigiets noem by wie of waardeur ’n mens geestelik kan leer: Jy kan nie ophou met ouerskap as jy moeg word daarvoor nie;  dit bied jou die beoefening en oefen van onvoorwaardelike liefde, onselfsugtigheid. En so meer.

Dis waarom die legende van die Chinese non Tsjijono wat dikwels en in verskillende variasies oorvertel word, die tweede deel van daardie gedig vorm. Ek sal net bysê dat Tsjijono  in geen variasie wat ek teëgekom het, ’n kind op die rug dra nie, dis blote versinsel.  Daar is ’n spreuk: Before enlightenment, chop wood, carry water. After enlightenment, chop wood, carry water.

Speel die bundeltitel, nou, hier in op wat in Westerse Boeddhisme as die “here and now” verstaan? Indien wel, waarom nie hier, nou nie?

Die volgorde is maar persoonlike voorkeur. Vir my is die “nou” – die oomblik – selfs belangriker as die plek, “hier”. Tyd, verlede, hede of toekoms soos wat ’n mens dit ervaar, voorveronderstel plek, nie andersom nie.

Ja, dit slaan gewis op die Boeddhistiese konsep van “in die oomblik wees”. Afrikaans sukkel met ’n gawe woord vir mindfulness.

Linguisties gesproke is dit interessant (vir taal-nerds) dat “here and now” in Engels beter klink as “now and here”, terwyl dit in Afrikaans, met miskien ’n subtiele verskil, om’ t ewe is: “nou, hier” of “hier, nou”. Boeddhistiese geskrifte het natuurlik via Engels na ons gekom, ek self het geen toegang tot oorspronklike geskrifte nie.

Corné, is daar ’n bepaalde gedig in jou debuut wat jy graag met Versindaba-lesers wil deel?

Een van die omgewingsgedigte, die een oor die uitgestorwe padda.

 

Platipuspaddas

.

Hul wonings was langs vinnige riviere

in die klein kolke en sloepe en versnellinkies

tussen klippe. Hulle het graag in sagte reën gesit.

Hulle was ligbruin met donker vlekke

geel en geilgeel aan die binnekant van die lede-

mate en glad en witterig by die bors soos riffels

son en skaduwee op ’n rivier.

’n Handpalm groot; snoet stomp, gerond,

vingers aan die voorpote bruin en slank

tone geweb en riviervaardig.

Die mannetjie het sy liefde vir groot, mooi vroue

kor-kor-kor-kor van lente tot hoogsomer geroep.

Die wyfie het die eiers ingesluk, hoe raar is dit?

Hulle ander naam was buikbroeiers.

Van die paddavissies weet ons byna niks.

Hulle het langs riviere gewoon.

Hulle het graag in sagte reën gesit.

.

***

 

Nuwe publikasie: Nou-hier (Corné Coetzee)

Tuesday, August 15th, 2017

nou-hier

nou-hier

Corné Coetzee

Dié hoogs afgeronde digdebuut van Corné Coetzee is ’n opwindende gebeurtenis in die Afrikaanse uitgewersbedryf. Coetzee het ’n sonderlinge styl en toonaard. Op die oppervlak roer daar ‘n oënskynlike eenvoud, maar onderliggend is ’n web van deurdagtheid versteek. Volgens een keurder word die gedigte veral gekenmerk aan ’n fyn balans tussen emosie en mymering/waarneming – iets wat herinner aan sommige historiese digkunsvorme uit Japan en China. Coetzee put uit die wêreld van die huisvrou, die groei en verbrokkeling, vreugde en pyn van verhoudings, die Boeddha, die omgewing en die hier-en-nou soos gesetel in die durende gang van lewe en dood.

Hoogsomer

.

Wat sou ons gemaak het

as ons geweet het,

daardie volmaakte Februariemiddag,

dat die laaste vy ryp geword het

en die eerste blaar

sel vir sel sy skeidingslaag begin bou het?

’n Mens is tog geen vyeboom nie

’n Mens kon tog plan gemaak het

Biografie:  Corné Coetzee het in Pretoria grootgeword en in biblioteke gewerk voordat sy joernalis, teaterresensent en subredakteur geword het. Ná kinders het sy begin tydskrifartikels skryf oor veral die omgewing. Sy het in 2015 ’n MA (kreatiewe skryfkuns) by Tukkies voltooi. Sy woon saam met Hans Pienaar en een van hul dogters in Johannesburg.

(Human & Rousseau, 2017. Prys : R200, Bladsye : 64, Formaat : 234 mm x 152 mm,  Sagteband. ISBN-13 : 780798176200, Epub-ISBN : N/A Mobi-ISBN : N/A)