Posts Tagged ‘nou’

Onderhoud met Corné Coetzee (nou, hier)

Sunday, August 27th, 2017

 

Corné Coetzee in gesprek oor haar debuut nou, hier, met Gisela Ullyatt

 

Baie geluk met jou debuut, Corné.

 

Nou, hier se voorblad is treffend en dit is veral die kleure wat my aandag getrek het. Hoe het jy op die voorblad besluit? Het jy eers ander konsepte vir die voorblad oorweeg?

Ek is veral in my skik daaroor dat my dogter Clara die voorblad ontwerp het. Ek het vir haar beskryf wat ek in gedagte het, nie baie goed nie, min of meer “’n rytjie van sulke Melville-rige huisies daar in die onderste strate, jy weet mos en met ’n Boeddha wat bo-op die huise dryf”, vir haar ’n klompie gedigte gewys en ’n klompie foto’s van die internet af aangestuur en gesê: “dié soort ding”… Toe kom sy met hierdie voorblad vorendag, Human& Rousseau het die eerste konsep-probeerslag goedgekeur. Die mooi blou kom van Clara se verfkwas en is ook te danke aan Mike Cruywagen wat dit digitaal verwerk het.

Jy debuteer in Nuwe Stemme 4 (2010). Ses van jou gedigte is in hierdie bundel opgeneem, naamlik “Aard”; “Beroerte”; “Bruide kyk”; “Die dag toe jy”; “Kombuis” en “oomblik op die trap”. Die leser sal dieselfde gedigte aantref in nou, hier waarin daar enkele veranderinge aangebring is. Die mees opvallende veranderinge kom voor in “Oomblik op die trap” (20). Ter wille van die leser, haal ek beide die Nuwe Stemme-weergawe asook die een wat in nou, hier verskyn, aan:

 

oomblik op die trap (2010:67)

 

gegewe dat dit toevallig kan wees

of dat ver planete ten opsigte van

hierdie halwe hektaar in ewewig dryf

of bestem deur een wat alles gemaak het

of ’n lui kapries van gode gemoedelik ná die maal

 

– hierdie sagte voorlentemiddag op die stoeptrap,

terwyl ’n wil-wil klam bries dink om te waai

stemme agter in die eetkamer rustig styg en daal

’n ver telefoon tevrede begin koer

en ’n erdebak bone inskiklik week vir later –

 

wetend dat die wind kan opsteek

die gesprek vrank kan raak

die tyding kan kom

die eters met messe beduie: waar’s die vleis

 

sien ek nogtans en desnietemin tekens

in die leeurik in die kamferboom

die opslaglelies in die paadjie

en vanmiddag se waterige maan

*

Oomblik op die trap (2017)

 

Gegewe dat dit toevallig kon wees

of dat drywende planete ten opsigte van

hierdie halwe hektaar in ewewig staan

of bestem is deur een wat alles gemaak het

en steeds mildelik uit sy hand laat stort

of ’n lui gril is van gode

gemoedelik ná die maal

 

– hierdie sagte voorlentemiddag op die stoeptrap

terwyl ’n bries wil-wil waai

stemme in die eetkamer rustig styg en daal

’n ver telefoon tevrede begin koer

en ’n erdebak bone inskiklik week –

 

wetend dat die wind kan opsteek

die tyding kan kom

die gesprek vrank raak

die eters straks met messe beduie: waar’s die vleis

 

sien ek nogtans en nietemin tekens

in die leeurik in die kamferboom

die opslaglelies in die paadjie

en in die waterige middagmaan

redeloos teologieloos woordeloos.

 

Vertel ons meer van die evolusie van hierdie gedig: hoe het die veranderinge plaasgevind?

Dis ’n gedig wat deur die Nuwe stemme-, die Tukkies-poësie-werkswinkel sowel as my wonderlike redigeerder, Nèlleke de Jager van H&R, se meule is. By nabetragting amuseer hierdie prosesse ’n mens, dis nog ’n voorbeeld van omstandighede, besluite en toevallighede – juis soos wat ek in die gedig wou illustreer.

Die laaste reël, “redeloos teologieloos woordeloos” was eers in, toe uit, en toe weer in. Ek meen hy moet daar wees, dit verduidelik die satiriese gemymer oor astrologie, godsbesluite en afgode aan die begin.

Die argument oor waarom “straks” ingevoeg moes word, onthou ek nie meer nie, vandag lyk dit vir my oorbodig, selfs hinderlik, dit versteur die ritme.

Dit is min dat ’n gedig bykry, eerder as gesnoei word.

Jy het ’n Magister in Kreatiewe Skryfkuns onder leiding van Henning Pieterse verwerf. Is dit ’n proses wat jy sal aanbeveel vir digters wat ernstig oor hul digkuns voel en graag wil publiseer?

Ek het baie daarby gebaat. Dalk werk dit nie vir almal nie. Die akademiese gedeelte, dié van die mini-verhandeling (wat nie vir my soos ’n mini gevoel het nie, ’n mens verleer die akademiese aanslag) was vir my heerlik. Die vergrootglas van verskeie pare oë in die werkswinkels was ’n goeie dissipline. Dit het my ook gedwing om weer behoorlik te léés – jou eie en ander se werk. Ek het Henning Pieterse se kritiese maar simpatieke lesing van my gedigte asook sy uitgebreide kennis geweldig waardeer.

Ter aansluiting by vraag 3: Jou mini-verhandeling, met die titel, Van boere-paradijs na die dirt box in die middestad: Ekokritiek en in die besonder stedelike ekokritiek as lens vir die lees van 12 gedigte oor Johannesburg as tuiste, is ’n besondere knap verkenning van gedigte vanuit ’n ekokritiese benadering. Kan jy vir ons ’n paar gedigte uitlig wat jy onder die soeklig laat val het? Het jy oorspronklik aan Johannesburg gedink as ruimte of was dit ’n soektog wat jy mettertyd verfyn het namate die verhandeling se navorsingsvoorstel gevorder het?

Dit het lank geneem om die fokus – die uiteindelike onderwerp – te kry. Die ekokritiek het gekom nadat ek ’n vaag omlynde onderwerp aan Henning voorgelê het en hy my Lawrence Buell se The Future of Environmental Criticism laat lees het. Die Johannesburg-verfyning was deels omdat ek belangstel in die stad en sy geskiedenis en deels omdat ek moes inperk.

Ek het pret gehad met die kies van gedigte. Ek het nie noodwendig na literêre gehalte gekyk nie, ek wou fokus op die metodiek van ekokrities lees. Dit het my uitgebring by onder meer S.J. Pretorius se “Stadswyk” van 1963 met sy eerste reël wat vandag aan David Kramer herinner: Hier staan die voorskootvrouens, maer of vet, / alewig in die ander tyd. Ook Johanna Cornelius se propaganda-gedig van 1939 vir die Klerewerksunie, “Die stryd in die stad” wat vandag naïef lyk, maar tóé mense aangevuur het. Ek het vir die eerste keer besef hoe ideologies gelaai Totius se Trekkerswee is. En Wilma Stockenström opnuut lief gekry.

Iets wat my oog getref het in jou Literatuuroorsig is die volgende:

Andries Bezuidenhout maak in sy verhandeling, waarin hy ruimtelikheid en morele agentskap in ’n bundel van Gert Vlok Nel ondersoek, die stelling dat daar in Suid-Afrikaanse feministiese sosiaal-literêre kritiek ’n besondere fokus op die verband tussen huishoudelike ruimtes en die volk is. Hy haal Irma du Plessis aan ‘wat ontleed hoe letterkunde kunsmatige skeiding tussen private en openbare ruimtes destabiliseer. Die kwessies van sistemiese geweld – iets wat ‘daar buite’ gebeur – ook in die intieme ruimtes van huishoudings plaasvind [sic]’ (2013:12-13).

Die eerste vraag oor hierdie aanhaling: is die digkuns veral die genre wat hierdie kunsmatige skeiding destabiliseer?

Ek meen dit is ’n kenmerk van baie kuns dat dit die skeiding tussen die algemene en die besondere; teorie en praktyk; die groot tema en die klein persoonlike destabiliseer. Dink maar aan Die swerfjare van Poppie Nongena, Agaat, Dan Sleigh se 1795 of William Kentridge se werk. Wat my gedigte betref, ek dink in konkrete voorbeelde – die wyer opset waarbinne enigiets plaasvind, die tipiese in teenstelling met die spesifieke, kom altyd later. Ek dig juis oor wat in die “intieme ruimtes van huishoudings” plaasvind –soos talle ander – en dit ís dikwels ’n vorm van (gewoonlik beheersde) geweld.

’n Verdere vraag wat verweef is met bogenoemde aanhaling het te make met die eerste drie afdelings van die bundel: “Nymphaea Gloriosa“; “Die vreemdelinge in ons arms”, en “Oos, wes”. Sou jy sê dat hierdie afdelings kentekenend is van geweld (fisiese, maar veral psigologiese) in die intieme huishoudelike ruimte? Ek dink hier aan ’n gedig soos “Een nag” (13):

 

Een nag na aan die begin

het ons tesame wakker geword

en monde skouers lendene bekken

ineengestrengel gevind

die ekstase soos springende vlamme

die pyl wat swiep tot in die blonde son

beaam

en met mekaar se tonge gefluister:

Jy. Net jy. Ewig.

 

Die volgende oggend

het al twee geskrik

en onderskeidelik tranerig en verbouereerd

begin rusie maak.

 

Gewis. Ook in die huisvrou-gedigte. Ek simpatiseer baie met huisvroue wat so ’n lae status in die wêreld het en wat so braaf, gewoonlik ter wille van kinders, soveel vorme en grade van teenstand trotseer – ’n mens sou dit geweld kon noem.

Maar dis darem nie net oor die verskillende soorte geweld (of hartseer, of eensaamheid) nie. Ook oor hoe intiem geluk is.

Die gedigte gaan oor hoe ’n mens alles aan jou lyf voel. In die gedig wat jy aanhaal, voel die minnaars sintuiglik in die nag en verstaan die volgende oggend serebraal die omvang van verbintenis.

In die afdeling, “Waarvandaan”, is daar ’n besonderse gedig, “My ystervark” (57):

 

Ek het mos ’n ystervark,

’n donker buksie

met een pronkstreep op die kruis.

Gewoonlik slaap hy.

 

Maar jy het skaars geland,

of hy reis hom op en ritsel.

 

Die dag voor jy weer weggaan

waaier sy stekels uit,

hy stamp sy pote,

hy snork en steun.

Wanneer ons jou rug dophou,

al hoe meer vreemdeling in die vertreksaal,

steek sy penne

in sagte vlees, longvleis.

 

By ons huis

is alles onmoontlik stil

 

net die ystervark sit ’n show op,

draai sy spitsige stertkant na my.

ek kan nie naby hom kom nie

maar as ek hom kýk

 

sien ek

sy snoet is weerloos,

hy is die kleur van grond en klip en lamproet.

Oormôre gaan lê hy weer.

hy woon mos hier, agter my ribbes.

 

Kan die ystervark-metafoor as ’n innerlike geweld gelees word wat in die individu plaasvind? Indien wel, is hierdie geweld iets wat met die moderne samelewing te make het; ’n gebrek aan kalmte en stilte?

Die gedig is geskryf vir en oor my kind wat in Brittanje woon, dit gaan oor my reaksie op haar besoeke. Die oomblik wat sy land, begin ek haar vertrek vooruit te vrees. As ’n soort leerling-Boeddhis streef ek daarna om dit juis nié te doen nie, om die hier en nou ten volle te ervaar. As iets goed voel, reg. As iets erg voel, ook reg. Alles verander gedurig.

Maar ja, dit gaan daaroor dat die emosies oor die besoek en die vertrek as gewelddadig ervaar word. En dat groter kalmte sou help om dit alles te aanvaar as deel van die vloei, die gang, van bestaan.

Die laaste afdeling genaamd “Die leemte in die kern” het assosiasies met śūnyatā, die Sanskrit vir die Boeddhistiese nosie van ‘leegheid’. Dis ook opvallend dat jou sesde afdeling se titel “Saadskiet” is. Kan hierdie twee afdelings as ’n jukstaposisie beskou word of wou jy juis dualiteit vermy? Hoe het jy op die titels besluit?

Ek glo daar is minder dualiteit as wat ons gekondisioneer is om te dink, veral met ons gewoonte van kategorisering – wat natuurlik noodsaaklik is om sin te maak van die wêreld. Laat ek vir myself praat: hoe meer ek lees en dink oor Boeddhisme, hoe makliker is dit vir my om byna alles as aspekte van mekaar te sien.

Die bundel vorm ’n soort chronologie van lewensbeskouing, van jongdae se storm en drang, verliefdheid en woede tot oudae se rustiger en wyer kyk, na die gemeenskap sowel as die eie innerlike. Slegs en bloot my eie. Die titels van die afdelings was gewoon ’n reël en ’n gedigtitel wat ek gemeen het ’n soort samevatting vorm.

“Voor, ná” (102) se eerste sewe strofes handel oor Tenzin Palmo, (gebore Diane Perry), ’n Engelse Boeddhistiese non in die Karma Kagyu-linie (‘lineage’) van die Tibettaanse Boeddhistiese tradisie wat vir twaalf jaar in ’n grot in die Himalajas ’n tradisionele retreat gedoen het.  Vertel meer oor jou skryfervaring oor haar?

Ek het haar haar outobiografiese boek Reflections on a Mountain Lake raakgeloop en toe Cave in the Snow gaan soek en gelees. ’n Jaar of twee later het ek na ’n praatjie wat sy in Johannesburg gelewer het, gaan luister. Sy bly vir my ’n inspirasie juis oor wat sy oor leke, veral vroue, in die gewone lewe sê. Soos dat kinders ’n wonderlike “teacher” kan wees, soos sy enigiemand of enigiets noem by wie of waardeur ’n mens geestelik kan leer: Jy kan nie ophou met ouerskap as jy moeg word daarvoor nie;  dit bied jou die beoefening en oefen van onvoorwaardelike liefde, onselfsugtigheid. En so meer.

Dis waarom die legende van die Chinese non Tsjijono wat dikwels en in verskillende variasies oorvertel word, die tweede deel van daardie gedig vorm. Ek sal net bysê dat Tsjijono  in geen variasie wat ek teëgekom het, ’n kind op die rug dra nie, dis blote versinsel.  Daar is ’n spreuk: Before enlightenment, chop wood, carry water. After enlightenment, chop wood, carry water.

Speel die bundeltitel, nou, hier in op wat in Westerse Boeddhisme as die “here and now” verstaan? Indien wel, waarom nie hier, nou nie?

Die volgorde is maar persoonlike voorkeur. Vir my is die “nou” – die oomblik – selfs belangriker as die plek, “hier”. Tyd, verlede, hede of toekoms soos wat ’n mens dit ervaar, voorveronderstel plek, nie andersom nie.

Ja, dit slaan gewis op die Boeddhistiese konsep van “in die oomblik wees”. Afrikaans sukkel met ’n gawe woord vir mindfulness.

Linguisties gesproke is dit interessant (vir taal-nerds) dat “here and now” in Engels beter klink as “now and here”, terwyl dit in Afrikaans, met miskien ’n subtiele verskil, om’ t ewe is: “nou, hier” of “hier, nou”. Boeddhistiese geskrifte het natuurlik via Engels na ons gekom, ek self het geen toegang tot oorspronklike geskrifte nie.

Corné, is daar ’n bepaalde gedig in jou debuut wat jy graag met Versindaba-lesers wil deel?

Een van die omgewingsgedigte, die een oor die uitgestorwe padda.

 

Platipuspaddas

.

Hul wonings was langs vinnige riviere

in die klein kolke en sloepe en versnellinkies

tussen klippe. Hulle het graag in sagte reën gesit.

Hulle was ligbruin met donker vlekke

geel en geilgeel aan die binnekant van die lede-

mate en glad en witterig by die bors soos riffels

son en skaduwee op ’n rivier.

’n Handpalm groot; snoet stomp, gerond,

vingers aan die voorpote bruin en slank

tone geweb en riviervaardig.

Die mannetjie het sy liefde vir groot, mooi vroue

kor-kor-kor-kor van lente tot hoogsomer geroep.

Die wyfie het die eiers ingesluk, hoe raar is dit?

Hulle ander naam was buikbroeiers.

Van die paddavissies weet ons byna niks.

Hulle het langs riviere gewoon.

Hulle het graag in sagte reën gesit.

.

***