Posts Tagged ‘NP van Wyk Louw’

Hoe het die stof in die orrel gekom?

Monday, February 1st, 2010

 ‘n “Fermanent woort” vir wie krag het om te luister

deur Hennie Aucamp

Hennie Aucamp

Hennie Aucamp

Hennie Aucamp het op die plaas Rust-mijn-ziel in die Jamestown-distrik grootgeword. Hy debuteer in 1963 met die kortverhaalbundel Een somermiddag en het sedertdien 18 kortverhaalbundels uitgegee asook verskeie beskouings, essays en samestellings van prosa. Benewens vertalings van Bertold Brecht se werk het Aucamp ses digbundels gepubliseer. Onder die talle literêre pryse wat Aucamp verower het, is die Hertzogprys (1982), die Fleur du Cap-prys (1987 en 2004), die Recht Malan-prys (1997), die ATKV-Veertjie-toekenning (2004) en die Afrikaans-Onbeperk-toekenning van die KKNK. In 2005 ontvang hy die Gustav Preller-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

 

 

 

 

1

 

In die “Proloog” tot Die pluimsaad waai ver kom die Ou Vrou tot hierdie slotsom:

maar geen volk het ooit rus van loutervlamme.

 

Van Wyk Louw se drama het in 1972 verskyn, en hy kon nog sonder apologie na “Afrikaners” as “volk” verwys; nou verwys die Afrikaanssprekendes in die land na hulself as “groep”, om nie aanstoot te gee nie, en dié spreker gaan ook van “groep” praat, maar iets van die N.P. van Wyk Louw-gees probeer behou.

‘n Groep, dus, en sy taal en letterkunde, moet reëlmatig aan “loutervlamme” blootgestel word as dit lewensvatbaar wil bly. Wat die taal en die letterkunde betref, was daar van oudsher af profete en rigters wat op gesette tye gevra het: “Is dit ons erns?”

Dié profete en rigters, of noem hulle liewers “openbare gewetes”, is die kritici, die resensente en, meer nie-amptelik, die skrywers en lesers van Afrikaans.

Hierdie kritici en resensente skryf dikwels uit sterk eie oortuiging, veral as die opvoedkundige imperatief by hulle sterk is, maar soms is kritici weinig meer as die segsmanne van kultuurfaksies, en dié mag politieke en ideologiese agendas hê. Wat onthou moet word, is dat uitgewers óók kultuurfaksies verteenwoordig, en eweneens as drukgroepe kan geld.

Maar hierdie spreker wil vinnig heengly oor die sosiopolitieke implikasies van kritiek, en meer algemeen, maar tegelyk ook meer persoonlik, na potensieel-ondermynende faktore binne die poësiebedryf kyk.

Wat is die funksie van kritiek? Een funksie is al geïmpliseer, naamlik dat die kritikus waak oor wat kosbaar is binne ‘n kultuur, en meer spesifiek binne sy letterkunde. Hier sou van die Koki-”sindroom” gepraat kon word; Koki, die protagonis in Raka, wat altyd eensaam was in sy besorgdheid oor kosbare dinge. ‘n Meer aardse, en vir my doel meer geskikte definisie van die funksie van kritiek, is dié van my oud-leermeester, prof. F.E.J. Malherbe, wat kritiek die “purgeermiddel” van die letterkunde genoem het.

Dié beeld klink eers ‘n bietjie kru, tot jy besef dat “purgeer” ook ‘n religieuse byklank het, naamlik “om te suiwer”.

Skrywers en digters lewe nie altyd vreedsaam saam met hul kritici nie. Wrywing tussen verskillende generasies en “skole” is dikwels die aanstigting tot rusies. Hiervan is Toon van den Heever se geniepsige portret van Jan F.E. Celliers ‘n goeie voorbeeld.

‘n Vriend van Toon van den Heever wat by De Bussy gewerk het, het Toon se gedigte geleen en aan Jan F.E. Celliers voorgelê. Oor na Toon van den Heever self, wat soos volg in sy essay “Digters van naby” skryf:

“Een aand het die groot man my ontbied. Ek was so senuagtig soos ‘n aap op ‘n dorsmasjien. Jan Celliers het my baie vriendelik ontvang en bejeën - so vriendelik dat toe hy eindelik my bundel papiere te voorskyn haal, ek al byna verwag het om van hom te hoor: ‘Steek die blad, broeder digter!’ Maar helaas! Olympos was vir my te steil. Die digter het my medelydend aangekyk: ‘Siet u, mnr. Van den Heever, dit help nie eintlik om gedigte te maak as mens hulle nie kan verkoop nie. U kies sulke uitheemse temas! Neem byvoorbeeld hierdie gedig oor die Minnegod - wat weet ons mense van hom af? Hulle lees hier van iemand wat kaal in die bossies wegkruip en boonop nog met ‘n pyl en boog gewapen is: hulle sal warempel dink dis ‘n Boesman! As u wil verkoop, bly by die ossewa, die keteltjie en die doringboom. In u werk mis ek die innige eenvoud van ware poësie; . . . . .”

Hierdie lang aanhaling bring enkele immergroen strydkwessies in die poësiekritiek na vore. Toon van den Heever is deur Mardelene Grobbelaar as “dekadent” geïdentifiseer in haar doktorale proefskrif, Die Bose Skoonheid, nes sy, ook suiwer literêr-wetenskaplik, Eugène Marais, Leipoldt, en J.F.W. Grosskopf as eksponente van die Dekadentisme uitgewys het. Toon van den Heever meld ook in sy essay “Digters van naby” dat Preller, stellig die eerste kritikus om dit te doen, na Eugène Marais as Dekadent verwys het. Die laaste gedeelte van Toon van den Heever se essay is dan ook ‘n ontroerende verdediging van sy vriend Eugène Marais.

Die interessante is dat Toon van den Heever digters begin haat het; in die geval van Jan F.E. Celliers, ook die digter-kritikus.

As Jan Celliers Toon van den Heever se bête noire was, het Uys Krige sy mes ingehad vir ‘n hele geslag kritici, soos G. Dekker, E.C. Pienaar, S.P.E. Boshoff, Abel Coetzee en P.C. Schoonees, in sy spotvers “Die Les-Honderd”, in sy “Gifpyltjies”-reeks in sy bundel Vooraand (1964). Hy het dié reeks uit 1939 later bygewerk en “klein Lindenberg” en A.P. Grové toegevoeg tot sy lys sondaars. Sy slotsom, aan die adres van sy mededigters, is dat digters net een groot les van kritici kan leer, en dit is hoe om nie te skryf nie.

Hier was Krige onbillik. Hy het inhoud met styl verwar, want party van sy kritici het goeie, skoon prosa geskryf, bowenal A.P. Grové en Lindenberg.

Wel strek dit Krige tot eer dat hy die geswolle prosastyl van byvoorbeeld D.F. Malherbe aan die kaak gestel het, en “Boere-digters” - Krige se woord - soos Boerneef en J. van Melle geloof het om hul eenvoud en onversierde uitings. Krige se opstelle oor Boerneef en Van Melle is baanbrekerswerk en is tereg deur J.C. Kannemeyer opgeneem in die bundel Die naamlose muse, wat Uys Krige as versiende kritikus toon.

Maar “Boere-Afrikaans” het nie vir Uys Krige beteken dat hy hom tot Boere-temas moet beperk nie. Hy was dié wêreldburger in Afrikaans, met sy reis- en verblyfboeke, sy vertalings, sy sleutelopstelle oor figure soos Lorca en Elouard.

Die “ironiese elegansie” (H.A. Mulder) van Uys Krige is verder gevoer, en na ‘n hoogtepunt gebring, deur D.J. Opperman met sy reeks “Met apologie” wat in Kuns-mis verskyn het. Waar satiriese verse soos “CNOringkorrel”, “Ná die Robslanery” en “Hellingaskoltis” nog as geforseerd en alte plaaslik aandoen, ook opgeneem in Kuns-mis, verteenwoordig “Met apologie” iets besonders binne die literêre kritiek in Afrikaans. Opperman se basiese teks lui só:

Op ‘n Sondagmiddag loop die weduwee Viljee

in swart geklee

met twee kolliehonde langs die see.

Wat volg, is Opperman se parodiëring van die styl en selfs voorkeurdigsoorte van die volgende digters: C.M. van den Heever, I.D. du Plessis, W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw, Uys Krige, Elisabeth Eybers, Ernst van Heerden en S.J. Pretorius.

Waar is Olga Kirsch, vra ‘n mens jou af: het haar beenkaal poësie by voorbaat parodiëring weggekaats? Want dis juis op maniërismes dat Opperman so genadeloos toeslaan.

Hier volg Opperman se parodiëring van die vroeë N.P. van Wyk Louw en die latere Louw, soos hy hom in byvoorbeeld Tristia openbaar:

N.P. van Wyk Louw 1:

O, God! làngs U skriklike water

stap die weduwee Viljee

met dié weet: die waan en die waansin word later

twee honde wat dráf waar sy tree.

 

N.P. van Wyk Louw 2:

Op ‘n Sabbatmiddag

(die dag is goed)

lê la veuve de Villiers

die heilige snol

bo die boulevard

(a) aarselende om te kies

effens be-swaard

tussen twee kol-lies(te)

Wat Opperman hier aantoon, is dat ‘n digter - selfs ‘n digter soos N.P. van Wyk Louw - die prooi van sy eie retoriek en eksentrisiteite kan word.

Ernst van Heerden, daardie rats en gewikste gees, het tereg gevoel dat Opperman darem nie skotvry kan gaan nie, en skryf ‘n aanvulling by “Met apologie” van Opperman, dié keer soos die weduwee Viljee-teks deur Opperman self vertolk sou kon gewees het, met die byhaal van tipiese Opperman-temas en selfs reëls. Hier volg die eerste drie strofes van Van Heerden se parodie:

D.J. Opperman

Mevrou Viljee dink aan die bakkie sand

in donker hole van ‘n woonstelstoep,

en prys die vrye ruimtes van die strand

wat nou die kollies na ontlasting roep.

 

Sy’s pikkewyn vandag en ook verlos

van wasvrou, Vredehoek en kruidenier;

haar hart trek aan die koppelriem se tros

by ou seevelde van bamboes en wier.

 

Aristos Een het by ‘n boom gestol

- met vorige laventeltjies verdig

uit strooisies bruin kors van die kiepersol -

waar hy nou fyn die agterpootjie lig.

Uit: Anderkant besit, 1966.

In 1987 verskyn die satiriese gedig “Persoonlike korrespondensie” van Daniel Hugo, opgeneem in sy bundel Vuurdoring, wat by H.A.U.M.-Literêr verskyn het. Hierdie onderverkende satire is myns insiens op dieselfde hoë vlak as “Met apologie” van D.J. Opperman, en Hugo se skrywe is dan ook aan Opperman in die hemel, waar hy soos alle ander hemelinge nie meer ‘n opper- nie maar ‘n doodgewone man is.

“Persoonlike korrespondensie” bestaan uit drie afdelings: “(1) Berig aan Opperman, (2) Opperman antwoord en (3) Petrus stuur ‘n nota.” Die “jongste speurgodjies” kan nagaan hoekom ‘Berig aan Opperman’ in rymende koeplette is, ‘Opperman antwoord’ in tersines, en ‘Petrus stuur ‘n nota’ na ‘n amptelike memorandum klink.

Hugo se skindernuus oor die nog lewendes moet maar liewers tuis gelees word. Wel kan aangehaal word uit Opperman se antwoord, waarin hy reageer op Hugo se mededeling dat die Afrikaanse poësie deur vroue oorgeneem is:

meer welkom was jou chauvinistiese geskel

          - trouens dit is opwindende toekomsnuus -

van die vroumense hier is Ingrid al wat tel

 

in my tyd was daar mos net die liewe Liesbet

          - in Holland duik sy nog onder vir die dood -

later ook Olga: háár sal Petrus wel belet

Waaraan “die jongste speurgodjies” óók aandag kan gee, is dat Hugo in goeie postmodernistiese trant ‘n sterk interteks vir sy gedig “Persoonlike korrespondensie” gebruik, naamlik “Letter to Lord Byron” van W.H. Auden.

Miskien het dit tyd geword dat ‘n sterk, gevestigde digter Opperman se “Weduwee Viljee”-teks opnuut opneem en verse skryf in die trant van Cussons, Stockenström, Spies, Malan, Hambidge en ander. Dit sal ‘n gedugte onderneming wees, want ‘n parodis moet geestig wees en liefs oor die gawe van selfironisering beskik. Bowenal moet hy (of sy) talentgewys net so groot wees as die digters wie se styl en inhoud geparodieer word, of anders word ‘n parodie maklik ‘n flouïteit of, erger nog, “‘n vuil geskreeu”, soos Van Wyk Louw in Raka sê.

 

II

 

Wat sien hierdie spreker as potensieel-ondermynende faktore binne die huidige poësiebedryf? Twee dinge: disrespek vir die medium, dit wil sê die taal self; en oordadige ontlening.

Vir my “sermoen” het ek net twee teksverse gekies, beide eenvoudig en toeganklik. Die eerste is N.P. van Wyk Louw se opstel ‘Die stof staan by die orrel’, opgeneem in sy opstelreeks “Los gedagtes oor ons taal”, in Swaarte- en ligpunte (1958), en die tweede is Salman Rushdie se briljante jeugklassiek, Haroun and the Sea of Stories (1990).

‘Die stof staan by die orrel’ is ‘n hoogs potente opstel oor die verwaarlosing van taal as medium. Dit het ‘n sekere klassieke status gekry as gevolg van Merwe Scholtz se stel spitsvondige vrae by ‘Die stof staan by die orrel’ in die skoolhandleiding, Ons Moedertaal vir standerds nege en tien. Dis jammer dat Scholtz nooit sy vrae omgewerk het tot ‘n essay nie; só ‘n essay sou net so bekend kon geraak het as “Wat vertel ‘Oom Gert vertel’”, natuurlik ook van Scholtz, opgeneem in Herout van die Afrikaanse poësie.

Van Wyk Louw se opstel begin só: “‘n Niggie van my het my jare gelede hierdie storietjie vertel: dit was op ons buurdorpie wat hulle ‘n taamlike goeie orrel gehad het; en die ou orreliste - sy is ook lank nie meer daar nie - moet glo maar Sondag na Sondag ‘n dun straaltjie musiek daaruit laat fluit het; maar toe kom daar ‘n slag ‘n bobaas-orrelis op die dorp, en dié sou ‘n orreluitvoering gee: die aand sit die kerk gepak van die mense; maar toe hy ooptrek, toe staan die hele gebou vol stof: daar was glo pype en dinge waarvan die ou dametjie nooit eers geweet het nie en wat dertig jaar lank net stof staan en vergader het. ‘Tag,’ het die diaken ná die uitvoering gesê, ‘ons ou orreltjie kon toe darem ook vanaand sy long ‘n slag oophoes.’ En die volgende dag het hulle vier of vyf mossieneste wat uitgeblaas was, op die balkon kry lê.”

Op hierdie paragraaf volg paragraaf twee, wat só begin:

“Hierdie sinryke ou verhaaltjie kom dikwels in my gedagte op as ek oor ons taal nadink of praat, of as ek Afrikaanse boeke of tydskrifte lees.”

Van Wyk Louw se toepassing van ‘n “sinryke verhaaltjie” op ‘n taalsituasie is deursigtig, en hoef nie in besonderhede ontgin te word nie. Hoofsaak hier is dat net meesterlike taalgebruikers - en hier dink ‘n mens dadelik aan digters en skrywers - al die verborge nuanses en heerlikhede van ‘n taal na bo kan bring.

Met alle respek aan Van Wyk Louw moet gesê word dat jy nie ‘n Bach en ‘n Buxtehude uit ‘n verstopte orrel kan haal nie, want sy meganisme sal al klaar versteur wees. Sal oor vyftig jaar nog ‘n Raka en ‘n Joernaal van Jorik in Afrikaans geskryf kan word? Sal daar hoegenaamd nog ‘n Afrikaans wees waarin literêr gedink kan word? Nie teen die pas waarteen Afrikaans tot ‘n patois verword en verplet word nie, selfs deur sommige van sy digters.

Tydens die Engfrikaans-debat van ‘n paar jaar gelede, is hierdie spreker verkwalik omdat hy ‘n politieke dimensie in sy betoog betrek het; vandag dink hy meer in apokaliptiese terme. Kan dit wees dat die kollektiewe onbewuste die fenomeen Afrikaner, en die draer van sy identiteit, die Afrikaanse taal, totaal uitgewis wil sien; verby, afgelê, opgedoek? Dat ‘n nuwe lewe kan begin, sonder die ballas van tradisie?

Het Opperman dalk in dié rigting gedink toe hy sy gedig oor die nasionale selfmoord van reusagtige troppe springbokke geskryf het? Hier volg die gedig “Springbokke” uit Dolosse, ‘n bundel vol donker politieke ondertone.

Astrale magte op hul bloed

en soute in die grasse het bepaal

dat uit woestyn en vlakte

hulle as één groot trop ontmoet

en dae lank eers in ‘n stofwolk maal

tot een meteens koers snuif wat almal vat

en dan geen weerstand duld

dreunend oor veld en bult

waar hoef en horings alles plat

trap en voor hul vaart wegvaag,

elkeen gewillig om sy lyf te gee

dat die trop oor slote en riviere jaag

en onkeerbaar afstort in die see:

“Ons is geroepe om ‘n groot afspraak

met die dood te maak.”

Miskien is hierdie spreker darem té pessimisties. Daar is nog altyd digters, ook jonger digters, wat taal as ‘n presisie-instrument sien, en dan ook só gebruik.

Maar nou kan dit gebeur dat hierdie presiese en toegewyde taalgebruikers hul onteenseglike talent op ander maniere kan ondermyn, deur byvoorbeeld versperrings op te werp tussen die leser en die teks. Nog nooit was Ezra Pound se waarskuwing so tydig as nou nie, spesifiek wat die Afrikaanse poësie betref. In ‘n brief aan Harriet Moore skryf hy: “Every literaryism, every book word, fritters away a scrap of the reader’s patience, a scrap of his sense of  your sincerity.”

Dis hier dat die tweede teks van my sermoen te pas kom, naamlik Haroun and the sea of stories van Salman Rushdie. In hierdie verruklike verhaal trek ‘n seuntjie uit om, doldapper, die see van stories teen besoedeling te probeer beskerm.

Ten einde besoedeling in die regte perspektief te sien, moet teruggekeer word na skrywers en digters se paradyslike staat; terug dus na die tekenbord, nie dié van argitekskantore nie, maar dié van die kinderkamer. My kroongetuies gaan Margaret Atwood en Edith Sitwell wees.

Margaret Atwood, Kanadese skryfster en digter, onthou hoe hulle gesin na woeste en afgeleë dele afgereis het vir hul vakansies. Sy het as kind agter in die voertuig op die bagasie gesit en gesien hoe die landskap en telegraafpale verbyflits, en dan volg ‘n insiggewende reël: “Perhaps it was then that I began the translation of the world into words.” Wat ‘n pragtige definisie van die skryfkuns: “to translate the world into words.” Ook is dit belangrik om daarop te let dat Atwood se wêreld van meet af aan die natuur sowel as mensgemaakte dinge ingesluit het.

Maar Edith Sitwell se kinderervaring van kreatiwiteit gaan selfs verder as dié van Atwood. Op 3 Junie 1955 skryf sy aan Father Caraman:

“When I was a very small child, I began to see the patterns of the world, the images of wonder. And I asked myself why those patterns should be repeated - the feather and the fern and rose and acorn in the patterns of frost on the window - pattern after pattern repeated again and again and again. And even then I knew it was telling us something. I founded my poetry upon it.”

Die wonder van die kind as skepper is dat hy nog nie verknoei is deur ‘n oordaad kennis nie. Hy - of natuurlik sy - interpreteer nog nie via letterkunde of ander sekondêre prikkels nie, en kán dus nie ompaaie kies nie; sy ken-middels, die sintuie, is basies al toerusting waaroor hy beskik wanneer hy die omringende wêreld wil verower deur middel van woord, beeld en klank.

Wanneer literêre, kuns- en selfs musiekstromings begin stuiptrek in gemanieerdheid, was die kuur deur die eeue nog altyd: keer terug na die natuur en eie natuur; probeer om die prille intuïsies van ‘n kind te herwin.

Digters en skrywers vermaan dan ook in dié trant.

Herman Charles Bosman sê byvoorbeeld in A cask of Jerepigo:

“Nothing can take the place of the raw inspiration of life itself, expressed with all the strength of a creative personality.”

Van Peter Blum ‘n “reprement”, soos van hom verwag kan word. Hy skryf in ‘n brief aan Ernst Lindenberg: “Weet jy wat is verkeerd met die Afrikaanse digters? Hulle lewe nie.”

Blum word op ‘n manier herhaal deur sy vriendin Ina Rousseau. Tydens ‘n foongesprek met my het Rousseau in ‘n opgewonde stem iets te dien effekte gesê: “Weet jy wat is verkeerd met moderne poësie? Dit ontspring nie meer aan die aarde nie. Dit het blomme van lap geword.” Ina Rousseau het dit nie spesifiek oor die Afrikaanse poësie gehad nie. Sy het byvoorbeeld gereeld The Best American Poetry van ‘n bepaalde jaar bestel, maar dié gebruik later gestaak, omdat ook Amerikaanse poësie, volgens haar, bloedarm begin raak het.

Selfs op musiekgebied, musiek synde soveel abstrakter as poësie, klink soms die “Terug na die natuur”-oproep op. Debussy het byvoorbeeld in 1901 teen sy kollega Paul Dukas gesê dat talle moderne komposisies onnodig kompleks geraak het, en hierop laat volg: “They smell of the lamp, not of the sun.”

Wanneer ‘n digter en skrywer primêre prikkels begin verontagsaam ten gunste van sekondêre prikkels, word hy die spelbederwer in sy eie paradys. William Burroughs het dit nog meer blatant gestel: “Every man has inside himself a parasitic being who is acting not at all to his advantage.”

Die lelike woord “parasities” het geval; dit kan aangevul word met verdere negatiewe woorde soos roofbou, inteelt en appropiasie.

Dit is lonend om na die trefwoordelys in T.T. Cloete (red.) se Literêre terme & teorieë te kyk waar dit onder andere om literêre roofbou gaan. By “Parodie”, “Paskwil”, “Pastiche”, “Perifrase” en “Persiflage” staan daar elke keer tussen hakies: (vgl. PLAGIAAT) en by PLAGIAAT self staan daar “(vgl. INVLOED (LITERÊRE), PARODIE, PASKWIL, PASTICHE, PERIFRASE, PERSIFLAGE).

Die ouderwetse woord “letterdiewery” vir “plagiaat” word deesdae al hoe minder gehoor, danksy perspektiewe wat die rigting postmodernisme gebring het. Daar word nou eerder van “interteks” gepraat as van “plagiaat”, en van “intrateks”, want ja, ‘n digter en skrywer kan ook by homself leen, om maar nie van steel te praat nie. Picasso sou by geleentheid gesê het dat hy nie skroom om by ander kunstenaars te steel nie, maar dat hy skrik as hy agterkom dat hy by homself steel.

Die gevaar hier is dat ‘n digter so intens absorbeer wat hy gelees het, dat hy nie altyd kan onderskei tussen wat hy gedink het en wat ‘n ander gedink het nie. Een voorbeeld hier is voldoende:

S.J. Pretorius en D.F. Spannenberg het op 26 Augustus 1981 ‘n gesprek met I.D. du Plessis gevoer namens Tydskrif vir Letterkunde.

Du Plessis vertel die volgende staaltjie:

Een aand in my woonstel het W.E.G. Louw se bundel Terugtog voor ons gelê. Dit het toe net verskyn. Ek sê toe vir hom: “Gladstone, ken jy Roy Campbell se werk?” Toe sê hy: “Ja, natuurlik.” Daarop vra ek. “Ken jy sy ‘Mass at dawn’? Die laaste reël lui: ‘Never was wine so red or bread so white.’ In Terugtog is daar die reëls ‘Was in geen hand voorheen/Ooit wyn so rooi, ooit aardse brood so blank!’ “Louw sou nooit droom om ‘n reël oor te neem nie. Maar hy het die reël van Campbell geken en dit het so opgeduik.

          Ek sê eendag vir Ernst van Heerden na aanleiding van Koraal van die dood: “Ken jy die Vlaming Achilles Mussche se bundel Koraal van de dood?” Toe sê hy: “My magtie, is dit waar ek daaraan kom!”

Ten spyte van die glipse wat I.D. du Plessis uitgewys het, kan gesê word dat ontlening en heenwysing na die bestaande letterkunde skering en inslag vorm van die literêre bedryf; trouens, standaardpraktyk is. Die letterkunde is eeue reeds in gesprek met homself. Hiervan is uitinge soos parodie en satire goeie voorbeelde, want hierdie soorte is van ‘n “gasheer”, van ‘n “moederteks”, afhanklik vir eie bestaan.

Die groot parodieë in die letterkunde ontstyg en oorstyg die eng parameters van definisies, en word iets nuuts, soms iets geweldigs, soos Don Quixote wat die romantiese beheptheid met ridder-romans wou parodieer. Wat gebeur toe? Don Quixote, om Nabokov by te haal, word groter as sy skepper, De Cervantes. Hy word die tydelose dromer-idealis, dapper genoeg om, soos dit in die musiekblyspel Man of La Mancha heet, “die onmoontlike droom te droom”. Hierdie gawe word onvergeetlik vergestalt in die beroemde Russiese verfilming van Don Quixote in 1957, met Kozintsev as regisseur en die legendariese akteur, Cherkassov, as die Don. In die toneel met die windmeulens, word Don Quixote met één vlerkslag van sy perd gelig en bly hy draai, om en om teen die hoë blou lug van die hoogland van La Mancha, terwyl hy sy credo teen die hemele uitroep. Dis byna onmoontlik om die religieuse in hierdie toneel mis te kyk: wie dink op só ‘n oomblik nog aan ‘n parodie?

Maar die ontleningspraktyk in die letterkunde, hoe algemeen dan ook, het ‘n skadukant. Dit mag primêre skeppende werk verdring, geput diep uit eie belewenis (be-lewe-nis). Selfs wanneer die naskrywings van ‘n model tot verrassende wendings lei, bly één feit staan: die basiese dinkwerk vir ‘n herdigte vers is reeds deur iemand anders gedoen. Gedagtegange is klaar neergelê, ook sintaktiese bane. Die naelstring tussen ‘n nadigting en sy model blý dus voortklop. Ergo: geen nadigting is ooit volkome outonoom nie.

Kan ‘n letterkunde blý floreer as dit afstuur op grootskaalse afgeleide werk? Die groot dinge in Groot Verseboek is op stuk van sake geen náskrywings nie. Hulle is uit eie lendene gedink.

In baie opsigte is die eietydse digter, paradoksaal, slegter daaraan toe as sestig, sewentig jaar gelede. In 1952 het Jean Cocteau in sy dagboek kon skryf (Nederlandse vertaling): “Hoe veelvuldiger de mogelijkheden om te communiceren hoe minder men op de hoogte is van wat er elders gebeurt.”

Die digter in die nuwe millennium is oorgeïnformeerd en oorvertegnologiseerd; die media, die elektroniese media, kom uit alle rigtings op hom aan, dikwels met informasie wat hy nie wil hê nie, maar tog in sy reeds oorlaaide sisteem opneem. Die twaalfjarige seun van ‘n vriend was baie oorstuur oor sy oupa se dood en het - ek herskep - die volgende aan sy pa gesê: “Pappa, my kop is soos ‘n webwerf. Ek is ontsteld oor al die inligting wat ek moet hanteer.”

Digters moet hul sekondêre prikkels deesdae uiters selektief kies as hulle die gees van uniekheid, van oorspronklikheid, van eie segging wil behou in hul verse.

Versiende skrywers is hulle bewus van tegnologiese gevare. Die Switserse skrywer en dramaturg, Max Frisch, het byvoorbeeld gesê: “Technology is the knack of so arranging the world that we don’t have to experience it.”

Nog ‘n wêreldnaam kan hier genoem word, dié van Günter Grass, wat by die ontvangs van die Nobelprys in 1999 gesê het dat politiek en ideologie groot gevare vir die mensdom inhou. Hy noem verder dat literatuur al hoe minder ‘n teëgif word vir dogma. Grass sê: “Is it not rather the case that literature is currently retreating from public life and that young writers are using the internet as playground? A standstill, to which the suspicious word ‘communication’ lends a certain aura, is making headway.”

Die kanse dat jong skrywers toenemend gaan inkeer op hulself om kommunie met die eie siel te soek, raak al hoe skraler. Wat baie jong skrywers soek, is ononderbroke kommunikasie met “agente” buite hulself, via selfone, rekenaars, die internet, draagbare radio’tjies.

Alle musiek begin met stilte, sê Nigel Kennedy, die beroemde violis, en alle letterkunde sou ook met stilte, besinning en meditasie moes begin, maar wys my die jong digter wat drie weke woestynstilte kan aandurf sonder selfone en ander fragmenteerders van die stilte? Stilte, in ‘n elektronies bepaalde wêreld, het die VYAND geword.

Rekenaars kan deur virusse besmet word; die menslike gees ook. Debussy het dit al in 1915 geweet toe hy van kiemoorloë in die musiek gepraat het, en na “microbes of artificial grandeur” verwys het.

Remedie? Die oudste op aarde: gee primêre prikkels ‘n kans, soos vroeër gesê; keer in op stilte; herower die droom, en bowenal verbeelding, waarvan Eitemal so mooi gesê het:

“Verbeelding is stuurman, hy sit aan die roer,

En wys ons die weg wat na Kammaland voer . . .”

Op die ou end is ‘n skepper die enigste bewaarder van sy talent. Kritici kan hom help, maar ook mislei; aan die skepper lê dit om gereeld sy talent teen die lig te hou, soos ‘n kosbare vel tekenpapier. As die watermerk - daardie waarmerk van egtheid - nie op die papier verskyn nie, moet die digter terug na sy lessenaar; die skilder terug na sy esel.

‘n Skepper kan die hele wêreld verblind en begogel, net nie homself nie.

 

Kaapstad

31 Desember 2009

 

Geselekteerde verwysings

 

Atwood, Margaret. 1983/1996. “Unearthing suite”, Bluebeard’s egg and other stories. London: Vintage.

Cloete, T.T. (red.) 1992. Literêre Terme & Teorieë. Pretoria: H.A.U.M.- Literêr.

Cocteau, Jean. 1999. Dagboek van een duisendkunstenaar (1942-1954). Amsterdam: De Arbeiderspers. (Aanhaling bl. 156)

Grass, Günter. 2006. “To be continued . . .” (1999), Nobel-prys-toespraak, opgeneem in Nobel Lectures. Cambridge: Icon Books.

Hugo, Daniel. 1987. Vuurdoring. Pretoria: H.A.U.M.-Literêr.

Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur, band 1. Kaapstad: Academica (Sien bl. 85 vir verwysing na Onze Jan Hofmeyr se toespraak “Is’t ons ernst?”)

Kannemeyer, J.C. (red.) 2008. Briewe van Peter Blum. Hermanus: Hemel & See Boeke.

Krige, Uys. 1964. Vooraand. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Louw, N.P. van Wyk. 1972. Die pluimsaad waai ver. Kaapstad: Human & Rousseau.

Louw, N.P. van Wyk. 1981. Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau en Tafelberg.

Louw, N.P. van Wyk. 1986. Versamelde Prosa I. Kaapstad: Tafelberg.

Louw, N.P. van Wyk. 1986. Versamelde Prosa 2. Kaapstad: Human & Rousseau.

Opperman, D.J. 1987. Versamelde Poësie. Kaapstad: Human & Rousseau, sowel as Tafelberg.

Patrick, Julian (red.) 2008. 501 Great Writers: A Comprehensive Guide to the Giants of Literature. London: Quintessence Book. (Aangehaalde uitsprake van Max Frisch (bl. 407) en William Burroughs (bl. 427) kom in dié werk voor.)

Pound, Ezra. 19. . . . . . . Brief aan Harriet Moore, oorgedruk in Perspectives on Modern Literature, onder redaksie van Hoffman.

Ross, Alex. 2009. The rest is noise: Listening to the Twentieth Century. London: Harper Perennial. (Die Debussy-aanhalings, onderskeidelik op bl. 49 en 109, kom uit bogemelde werk.)

Sitwell, Edith. 1997. Selected Letters of Edith Sitwell, edited by Richard Greene. London: Virago.

Van den Heever, Toon. 1958 (vyfde druk). “Digters van naby”, Gerwe uit die erfpag van Skoppensboer. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

 

Die Roggeveld se eskarp

Monday, January 4th, 2010

Johannesburg lyk groen, groen, groen, ná ʼn paar weke in die Karoo. By Sutherland met Ouberg se pas afgery, van die Roggeveld na die Tankwa-karoo, met die pad wat generasies reeds gebruik word om skape af te jaag tydens die winter, na die warmer dele in die vallei. Dele van die Tankwa-karoo is seker die naaste wat ons aan die Namib sal kom. ʼn Mens kan verstaan hoekom ʼn boerdery met skape hier nie op sy eie sal uitwerk nie. Nicol en Marina van der Merwe boer steeds met hulle dorpers op hierdie trekboermanier. Hulle plaas grens aan die eskarp. Teen sononder het ons hier oor die vallei gekyk, die Cederberge doer op die horison gesien. Baie gedink aan Hierdie lewe, Karel Schoeman se boek wat hier afspeel. Ook aan NP van Wyk Louw gedink, weer Antjie Krog se lesing oor sy “beautiful woorde” gelees. ʼn Aantal plase behoort aan ʼn ene NP van Wyk. Neem aan dis die ma se kant; kan nie nou onthou nie, al het ek jare gelede Steyn se dubbelloopbiografie gelees. Hier is my tentatiewe kommentaar op die wêreld van Louw:

 

TELESKOOP BUITE SUTHERLAND

Vreemd hoe die sterre prut vannag,
kaal deur die oog beskou, ʼn donker brousel,
maar as jy hiér - op die Roggeveld se skurwe eskarp,
ver van fabriek en brandende stad -
in die duisternis roer met lens en silinder,
kan jy Sirius aanstip, daardie witwarm son,
selfs die mane geslingervel om Jupiter, die reus,
nóg wêrelde wat swerk in die wolk van Magellaan
en in elke ster wat uitbrand ontkiem ontelbaar meer.

Ja, ʼn sterrewag moet skerp kan kyk,
want alles bars in skille na buite,
vanaf ʼn pit iewers, een of ander tyd,
lank voor die woord.
Eeue reeds, maar steeds te laat,
volg ons dié trajek met passer en teleskoop.

Ek swaai die buis te na aan die maan,
die sekel blits, my pupille ʼn seeroos,
kramp toe, en kyk ek meteens na binne,
na ʼn stomme heelal wat in my oogbal ontplof.

21 Desember 2009

Johann Lodewyk Marais. Marthinus Versfeld (3)

Saturday, December 12th, 2009

Aan die Universiteit van Kaapstad was Marthinus Versfeld ‘n gewaardeerde gespreksgenoot van digters soos N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, I.D. du Plessis, Boerneef en D.J. Opperman. Hy het poёsie geskryf, maar net enkele van die gedigte is gepubliseer. In sy skryfwerk toon hy groot waardering vir die poёsie en sluit so by twintigste-eeuse filosowe soos Martin Heidegger en Jacques Derrida aan. Hopelik sal sy bydrae as gespreksgenoot vir van die belangrikste Afrikaanse skrywers nog behoorlik ondersoek word en sy bydrae tot die Afrikaanse essay die erkenning kry wat dit verdien. Ook latere skrywers soos Breyten Breytenbach, André P. Brink, Petra Müller en Marlene van Niekerk het waardering vir sy werk gehad.

Oudstudente wat oor Versfeld se invloed op hulle getuig het, sluit Adam Small, Athol Fugard en Jeremy Cronin in. Cronin het gesê: “[H]e was trying to integrate different dimensions of life, and to think intellectually about that kind of integration, which was very different from what was increasingly becoming the dominant tradition in UCT.” 

W.A. de Klerk, wat baie saam met Versfeld gaan bergklim het, het die volgende gesê: “Marthinus Versfeld is die soort mens wat gesoek word as hulle die dag nie meer daar is nie.” Mag Versfeld in hierdie huldigingsjaar, en hierna, sy regmatige plek in ons denke en samelewing kry.

Lig wat lig is

Tuesday, November 24th, 2009

   My huis het honderd agt en veertig vensters. Dis nou sonder die honderd en dertig gekleurde

bottels in die bottelkamer se muur, of die glaspanele in deure, of die binnevensters. Dis om die lig in te laat, die son in skerwe binne te bring. Of die maan, wat ook maar son is.

   Ek is gefassineer deur lig. Elke oomblik van die dag is die lig anders. Mens sou dit kon skilder, al om die uur, soos Monet se hooimiedens. Miskien sou mens dit kon skryf – die lig om sesuur, die lig om nege-uur, die lig om twee, die lig om vyf (“vyfuur klokslag in die middag” soos Lorca). Ek wens ek kon iets bedink soos ’n “Groot ode aan lig”, ’n katedraal van woorde.

   Binnelig en buitelig en weerkaatsende lig. Dis nie net die kunstenaar in my wat verwonderd staan nie, die wetenskaplike se kop draai ook. Wat is weerkaatsing? Wat is skaduwee? Waarom het lig verskillende kleure? Die spoed van lig? Hoekom is lig golf én deeltjie, of is dit? En kwantumfisika, is dit nie ook maar op ’n manier ’n filosofie van lig nie?

   Op ’n ander noot – hoe wonderlik dat lig (i.p.v. donker) ook lig (i.p.v. swaar) is. Waar dinge te swaar word, gebeur ’n swart gat wat selfs lig insluk.

   Ek gee nie voor om Van Wyk Louw se “Drie keiserportrette” te verstaan nie, maar dít is vir my mooi:

                                          [...] Die lig

is heerlik, maar dit rus so stil op dinge

dat niks roer.

[...]

Ek moet in hierdie ouderdom dan boet

my knegskap aan die lig; en in die sotte

kronkels van die sterwe nog eers leer:

die son dryf op die duister soos ’n veer.

Johann Lodewyk Marais. Voortreflike poësiekritiek

Thursday, October 15th, 2009

Die vraag kom meermale by my op wat die mooiste, insiggewendste of bes geskrewe stuk literêre kritiek in Afrikaans is. ‘n Mens sou natuurlik eers goed moet besin oor die maatstawwe vir jou keuse en net so goed moet motiveer waarom die keuse op ‘n bepaalde stuk val. Hieroor gaan ek nie in soveel besonderhede uitwei nie.

Oor die jare heen was daar in Afrikaans kritici wat met besondere werk vorendag gekom het. Een van dié is Elize Botha, wat met haar voortreflike geselsstyl insiggewend en baie onderhoudend skryf. Dit is ‘n groot vreugde om te sien hoe sy met haar belesenheid, kennis van heersende literêre strominge en benaderings, en met groot respek oor skrywers en boeke skryf. Die leser het ook waardering daarvoor dat sy selde ‘n byl te slyp het, wat so dikwels die bydraes van ander prominente figure met groot gebare kenmerk en vertroebel.

Botha het die beste opstelle oor figure soos Eugène N. Marais, Jochem van Bruggen, Etienne Leroux en Henriette Grové geskryf, wat sedert die 1960’s daartoe bygedra het om aan die Afrikaanse prosakritiek ‘n prominente plek te besorg. Toe ek ‘n keer gekla het omdat ouer kritici kritiekbundels so oorheers, het die oud-Akademieman en -uitgewer Danie van Niekerk tereg opgemerk: “As jy Elize Botha vra, weet jy ten minste dat jy ‘n goeie bydrae gaan kry.” My gunsteling onder Botha se opstelle is haar bespreking van D.J. Opperman se gedig “Blom van die baaierd” in Merwe Scholtz (red.) se Woord en wederwoord: Bundel aangebied aan D.J. Opperman by geleentheid van sy sestigste verjaardag, 29 September 1974 (1974).

Nog kritici wat ek graag lees, is Merwe Scholtz en T.T. Cloete. Scholtz was benewens kritikus ook ‘n digter van onder meer die vernuftige Grimas: 1969-1973 (1976), een van my gunsteling Afrikaanse digbundels. Dit verbaas nie dat Scholtz gedigte geskryf het nie, want sy opstelle is spitsvondig, speels en taalgevoelig. Hy slaag daarin om met verrassende insigte ‘n mens verwonderd te laat oor die werkinge van taal en taalvirtuose. Wie kan ooit sy ontleding van N.P. van Wyk Louw se “Dood in die berge” in Nuwe verse (1954) vergeet? Dit slaan die leser se asem as ‘t ware weg. Cloete weer is doodgewoon een van ons oorspronklikste lesers (kyk byvoorbeeld sy opstel oor “Die taalavontuur van ‘Die swart luiperd’” in Op die woord af: Opstelle oor die poёsie van N.P. van Wyk Louw (1963)).

Ek sou nog die name van, op hulle beste, E. Lindenberg, Louise Viljoen, Daniel Hugo, Joan Hambidge en Charl-Pierre Naudé wou noem, maar oor elkeen van hulle behoort ‘n mens by ‘n later geleentheid te skryf. Hoe veral die Afrikaanse poësiekritiek op die oomblik daar uitsien, is in elk geval ‘n onderwerp om (nog steeds!) oor te besin. Miskien is dit genoeg om te sê dat indien dit nie vir Bernard Odendaal se deeglike en ingeligte oorsig oor die onlangse poësie in Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Deel 3 (2006), Louise Viljoen se Ons ongehoorde soort (2009) oor Antjie Krog se poёsie en Ronel Foster, Yves T’Sjoen en Thomas Vaessens (reds.) se Over grenzen: Een vergelijkende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёzie/Oor grense: ‘n Vergelykende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёsie (2009) was nie, ons vandag veel minder sou gehad het om oor opgewonde te wees.

Maar ek wil eintlik iets sê oor my gunsteling stuk kritiek in Afrikaans! Dit is naamlik drie bladsye in Opperman se Digters van Dertig (1954), spesifiek die inleiding tot “Die hooffiguur van Dertig: N.P. van Wyk Louw”. In hierdie evokatiewe bladsye gee Opperman sketsmatig biografiese inligting oor Van Wyk Louw se jeugjare en maak ‘n byna tasbare voorstelling van hoe die Louws se Rôeveldse wêreld gelyk het. Hy beskryf dit op so ‘n manier dat dit as ‘n sleutel by die interpretasie van Van Wyk Louw se gedigte kan dien. Lees byvoorbeeld hoedat die bokkoppe in die (Lord Milner-)hotel op Matjiesfontein die eerste prikkeling vir Raka (1941) geword het. Min woorde, maar slim!

Johann Lodewyk Marais. Is die Afrikaanse poësie te moeilik?

Friday, October 9th, 2009

Die mening word meermale geopper dat baie van die hedendaagse Afrikaanse poësie moeilik verstaanbaar is en dus daartoe bydra dat mense dit nie kan of wil lees nie. Dit is egter nie my indruk nie. Daar is talle digters (miskien selfs die meeste!) wie se werk heel toeganklik en selfs helder is, terwyl dié wat moeilike poësie skryf met ‘n bietjie moeite van die leser se kant hul “geheime” openbaar. Gaan lees maar.

Om die waarheid te sê, dit sal ‘n kwade dag en die dood van die poësie in watter taal ook al wees as die leser nie nodig het om ‘n bietjie moeite met gedigte te doen nie. Hoeveel jare lees ek nie al N.P. van Wyk Louw se Tristia en Wilma Stockenström se Van vergetelheid en van glans en Monsterverse nie. Sou ek alles glashelder en deursigtig wou hê? Nee, beslis nie! En ek verwonder my aan Afrika se leerders wat agter die kap van die byl van ‘n Shakespeare-drama se versreëls kom.

Johann Lodewyk Marais. Van eenhorings gepraat

Sunday, August 30th, 2009

Lank, lank gelede was ek een aand teenwoordig by ‘n funksie aan die Universiteit van Pretoria, wat aangebied is na afloop van die oorhandiging van die pryse aan die studente wat in die jaarlikse skryfkompetisie as wenners in die drie hoofkategorieë aangewys is. 

Nadat die toesprake afgehandel is, het ons gesellig om die tafels met vingerhappies verkeer en vir ons wyn en ander drinkgoed geskink. Tussen die studente, wat al hoe luidrugtiger geword het, was die gestaltes van ‘n hele paar skrywers sigbaar: H.J. Pieterse, wat kort-kort ‘n glasie hanepoot wegslaan. Pirow Bekker, iewers onder sy bont pet. Joan Hambidge, wat ‘n lesing oor die postmodernisme kom aanbied het, en wat ek bo die geroesemoes van stemme hoor lag. Alexander Strachan, wat oral hand gee, sy hemp onder sy lang, donker jas laag oor sy borshare oopgeknoop.

Tussendeur wens ons die wenners geluk en poseer vir De Kat se fotograaf.

En skielik, tussen al die ander deur, kom daar ‘n student na my toe en sy sê:

“U het na Fransi Phillips verwys toe u gepraat het van die skrywers wat aan hierdie universiteit gestudeer het. Waar is sy?”

“Hoe bedoel u?” vra ek.

“Waar kan ek haar in die hande kry?”

“Hoekom?”

“Sy is die enigste Afrikaanse skrywer wat ek lees, want sy glo aan unicorns.”

Toe soek ek om my rond, want Fransi was vroeër die aand onder die gaste wat geduldig geluister het. Loop ‘n slag heen en weer om te kyk of ek haar nie kan opspoor nie.

“Juffrou, sy was netnou nog hier,” sê ek en kyk weer rond, maar toe het sy al verdwyn.

En Melanie Grobler kom vertel aan my dat daar glo so baie kremetartbome in Afrika is omdat gestorwenes altyd met ‘n pit in die hand begrawe word.

Toe ek ’n paar dae later by Fransi die boek getiteld Magical beasts gaan haal het en haar van die student vertel, het sy lakonies opgemerk: “‘n Mens soek verniet na die eenhoring.”

Voor ek daar weg is, het sy my in ‘n ander boek ‘n kaart gewys waarop presies aangedui word waar drake in Europa voorgekom het.

Dit was juis Fransi Phillips wat my nog in ons studentedae daarvan bewus gemaak het dat daar ‘n plek is vir bespiegeling oor die fantastiese. Hoe ons ons in talle gesprekke daaroor uitgespreek het, kan ek net vaagweg onthou, en hoe meer ‘n mens oor die fantastiese nadink, hoe onsekerder is jy van wat die aard daarvan nou eintlik is.

Die spoor van die eenhoring loop reeds voor die begin van ons jaartelling deur Oosterse en Midde-Oosterse literatuur. Gedurende die Middeleeue het hy sy afdruk in boeke, op kunswerke en in die Christelike simboliek gelaat. Vroeë reisigers deur die Suid-Afrikaanse binneland het opnuut die spoor van oorlewering, gerugte en rotstekeninge opgeneem op soek na die dier waarvan die verband tussen teken en betekende steeds onseker was. Maar soos wat die landskap verder verken is, het die eenhoring telkens agter ‘n nuwe horison verdwyn. Hy maak egter ‘n onverwagse herverskyning in die streke van die Afrikaanse letterkunde van die laat-twintigste eeu in die werk van onder andere D.J. Opperman, N.P. van Wyk Louw, Jacques Loots, George Weideman, Barend J. Toerien, Wilma Stockenström, Johann Lodewyk Marais, Karel Prinsloo en Martjie Bosman. (Ek en Martjie het ‘n artikel oor hierdie gedigte geskryf.) Die vraag kan egter gestel word of die eietydse leser die eenhoring buite die bladsye van ‘n boek sal herken.

Ilse van Staden. In memoriam Marcella

Thursday, August 27th, 2009

Joernalistieke protokol vereis seker dat ek na haar moet verwys as Marcella de Boom, maar te hel met protokol – sy was my ma! En nou is my moedertjie, my koelteboom, my Mamma Marcella skielik nie meer daar nie en “dit brand soos ’n pyl in my” soos Totius geweet het. Sy was nie net my ma nie, sy was my sielsgenoot.

   Die eerste boek wat ek raakvat op haar rak is ’n bloemlesing wat sy self in sierskrif geskryf het die Kersfees na my geboorte, as ’n geskenk vir haar eie ma – “omdat jy heel eerste gedigte vir my gelees het, hier is vir jou ’n bloemlesing van die gedigte wat vir my die heel mooiste is en wat ek die liefste het”. Sy het nog hieruit voorgelees op ons laaste Poetry Crawl. Blake se “The sick rose” en “Imitated from the Japanese” van Yeats. Die laaste gedig in die boekie is P.C. Boutens se “Goede Dood”:

 

Goede Dood wiens zuiver pijpen

    Door’t verstilde leven boort,

Die tot glimlach van begrijpen

   Alle jong en schoon bekoort,

 

Voor wien kinderen en wijzen

   Lachend laten boek en spel,

Voor wien maar verkleumde grijzen

   Huivren in hun kille cel, –

 

Mij is elk dag verloren,

   Die uw lokstem niet verneemt;

Want dit land van most en koren

   Is mij immer schoon en vreemd;

 

Want nooit beurde ik hier te drinken

   ‘t Water dat de ziel verjongt,

Of van dichtbij hief te klinken

   ‘t Verre wijsje dat gij zongt:

 

Alle schoon dat de aard kan geven

   Blijkt een pad dat tot u voert,

En alleen is leven leven

   Als het tot den dood ontroert.

 

   Sy ontroer my tot ver verby die dood. Sowat twee jaar gelede het sy begin met ’n reeks skilderye waarvan daar uiteindelik drie was – “Die dood is ’n mooi blou blom”. Dit was vir my so mooi, beide die titel en die skilderye. En ek het gedink ek is so slim om dit te kan ver-dig; ek dog ek weet. Nou lees ek weer die gedig (“mooi blou blom”) en nóú weet ek.

   In ’n versamelbundel van Van Wyk Louw wat ook eers aan my ouma behoort het en na haar dood na my gekom het, het my ma duidelik dikwels ook gelees. Dit is vol kantnotas en reëls wat in dik skewe potloodlyne onderstreep is (tipies die kunstenaar wat sy was en sekerlik met een van haar tekenpotlode!)of langs die kant met ’n duimnael gemerk. Onderaan die gedig “Nog in my laaste woorde” het sy geskryf “skryf dit asb eendag op my graf” en die laaste reël onderstreep:

 

mooi is die lewe en die dood is mooi.

 

   Op Poetry Crawls, soos op die meeste gesellighede, het sy dikwels vroeg al tot siens gesê, voordat sy kwansuis in ’n pampoen sou verander. Daarom dat ’n vriend nou opmerk dat hierdie dood in haar aard was, want “she always left the party early”.

   Ook mý eerste gedigte het ek van my ma gehoor en met die Kersfees na my graad een jaar het sy my ’n baie ambisieuse geskenk gegee – ’n versamelbundel van Elisabeth Eybers. Een van ons albei se geliefde gedigte was “Bome”, want

 

daar is geen soepel weerstand so volkome

soos die geduld en buigsaamheid van bome.

 

Dalk is dit omdat sy self ’n “boom” was.

   Vir Vrouedag het sy ’n uitstalling in haar galery gehang wat onder andere twaalf selfportrette ingesluit het, vanaf 1967 tot 2009. So ’n volmaakte getal, twaalf. Sy het dit genoem “one woman, one life” en dit met die hand op twee foliovelle uitgeskryf en teen die muur geplak. Hoe gepas. Toe ek vanoggend, drie dae na haar dood, weer daar kom, het die papier waarop daar “one woman” staan, op die grond gelê. Net nog “one life” was oor, soos ’n opstanding.

   Wanneer ek in die oggende soms te vroeg by haar aangekom het, het sy bo uit haar kamer geroep dat sy nog in die bed is “met God en Bach”.

   As sy self kon kies, is dit hoe sy sou wou gaan – skielik en maklik. Sy het Sondagmiddag soos haar gewoonte was ver in die koppie gaan stap met haar vier Africanis-honde, nadat sy tot naby gery het met haar bakkietjie. Dit was haar lewensbloed, die daaglikse stap in die veld, en sy het dit haar stiltetyd genoem. Met die terugkom het sy die honde weer ingelaai, die bakkie huiswaarts gekeer en seker twee honderd meter verder aan ’n hartaanval gesterf. Ek dink dit was van ekstase, asof haar ontmoeting met God dié keer te veel was vir ’n sterflike mens, soos Moses wat sy gesig moes wegkeer van die goddelike teenwoordigheid. Dié keer het sy nie weggedraai nie.

   Ek hoop sy verf die hemel rooi.

 

Bernard Odendaal. Komma by die voegwoord bring

Wednesday, May 20th, 2009

Onlangs is ek en my kollega aan die Vrystaatse Universiteit, Hennie van Coller, in gesprek met ’n aantal M.A.-studente oor die sonnet as digvorm.

 

Een van die gedigte wat ons lees, is “Geswinde grijsart”, deur die 17de-eeuse Nederlandse digter P.C. Hooft. Vir die eerste keer val die oortollige benutting van die aaneenskakelende voegwoord “en” (polisindeton) en die plasing van die komma voor die “en” op ’n paar plekke in die gedig my werklik op.

 

Geswinde Grijsart*

 

            Geswinde Grijsart, die op wackre wiecken staech

De dunne lucht doorsnijt, en, sonder seil te strijcken,

Altijdt vaert voor de windt, en ijder nae laet kijcken,

            Doodtvijandt van de rust, die woelt bij nacht, bij daech;

            Onachterhaelbre Tijdt, wiens heten honger graech

Verslockt, verslint, verteert al watter sterck mach lijcken,

En keert en wendt, en stort Staeten en Coninckrijken;

            Voor ijder een te snel, hoe valtdij mij soo traech?

Mijn lief, sint ick u mis, verdrijve’ ick met mishaeghen

De schoorvoetighe Tijdt, en tob de lange daeghen

            Met arbeidt avontwaerts; uw afzijn valt te bang.

En mijn verlangn can den Tijdtgod niet beweghen.

Maer ’t schijnt verlanger daer sijn naem af heeft gecreghen,

            Dat ick den Tijdt, die ick vercorten wil, verlang.

 

Spelling soos in die boek Nederduitse digkuns (J.C. Kannemeyer. Academica, 1973)

 

Ek maak toe gewag daarvan dat dit my herinner aan wat N.P. van Wyk Louw doen in die sonnet “Winter” uit die siklus “Vier gebede by jaargetye in die Boland”.

 

Winter

 

Nou lê die aarde nagtelang en week

in die donker stil genade van die reën,

en skemer huise en takke daeliks bleek

deur die wit mistigheid en suising heen.

Dis alles ryk en rustig van die swaar

geheime wasdom wat sy paaie vind

deur warm aarde na elke skeut en blaar,

en ver en naby alles duister bind

in vog en vrugbaarheid en groot verlange;

tot ons ’n helder middag skielik sien

die gras blink, en die jong graan teen die hange,

en weet dat alle rus die lewe dien:

hoe kon ek dink dat somer ryker is

as hierdie groei se stil geheimenis?

 

Uit: Die halwe kring (Nasionale Pers, 1937

 

Van Wyk Louw het die gedig van Hooft baie goed geken, kom dit van Hennie. Louw het dit in ’n kursus oor die sewentiende-eeuse Nederlandse letterkunde met hulle as studente aan Wits in die laat negentien-sestigerjare behandel.

 

In nog ’n beroemde Nederlandse gedig waarin die polisindeton en die gebruik van die komma met “en” funksioneel benut word om ’n spanning tussen sintaktiese voortstuwing en stuiting te bewerkstellig, is A. Roland Holst se “Een winteravondval” (uit sy bundel Voorbij de wegen, Bussum, 1920). Holst is nie net deur Louw (en ander toonaangewende Afrikaanse digters, soos W.E.G. Louw en D.J. Opperman) bewonder nie; hy was selfs bevriend met hom. Sowel Van Wyk Louw as Opperman het Afrikaanse artikels as bekendstelling en ter ere van Holst geskryf by laasgenoemde se besoek aan Suid-Afrika in 1946.

 

Ek haal net ’n fragment uit “Een winteravondval” aan ter illustrasie.

 

Gouden stille kusten en de zee nog blaauw,

en de blijde vele golven, die er speler,

en die witte vlucht van vooglen – o, de vele

meeuwen zwevend door de zuiverende kou,

 

zwermend als een bui, als een gevleugeld sneeuwen,

en hun kreten af en aan over mijn hoofd;

heb ik ooit wel in een ander lied geloofd

hier op aard dan de verloren kreet der meeuwen?

 

En zij zwenken en verdwijnen, en het is

nu weer stiller, en het gouden uur word later,

en ik loop verloren verder langs het water

van der eeuwen eenzame geheimenis.

 

En de kust wordt grijzer, en de schemeringen

komen nu, en ook de groote zee wordt grijs,

en de golven zingen – o, de vreemde wijs

van die andre wereld, die de golven zingen [...]

 

Momentum, onrus, progressie, heenreiking en kragte wat die volvoering van dit alles téénwerk, is uitstaande motiewe in die betrokke tekste; die kernwoord “verlang” spring ’n mens uit aldrie in die oog. En tog doen elke digter sy eie ding met die bepaalde stylgrepe. Elkeen onderskraag ’n ánder tematiese spanning daarmee: vervlieting versus afwagting; “wasdom” versus “rus”; en om paradoksaal “hunkerend gevangen” te wees. 

 

Om by ’n redenasie van Daniel Hugo in ’n onlangse blog-bydrae op hierdie webblad aan te sluit: Nuwe munt ís wel te slaan uit ou digmetaal.

Holst in die Karoo

Friday, May 15th, 2009

Holst in die Karoo

Daniel Hugo 

In Johann de Lange se bundel Die algebra van nood  (Human & Rousseau, 2009) staan die volgende gedig:

 

                        Bloem in die Karoo

 

                        Alles is oud en klaar,

                        byna eentonig grandioos.

                        Verby die treinvenster vaar

                        vlaktes twaalfuur-oseaan.

 

                        ’n Bruin lei waarop bruin gode

                        die kode van die heelal skryf.

                        Onkenbaar & tóg bekend, kompleet

                        of ek dit van iewers wil onthou.

 

                        Verby die blou blos dóér ver van dagbreek

                        of die fyn ideogram van ’n woestynroos,

                        word ’n binnelandskap openbaar,

                        ’n voorgeboortelike of nadoodse domein,

 

                        ’n heimwee sewe-agstes hemel

                        wat die Hollandse duine verdwerg,

                        & van die Alpe ’n mooi poskaart maak.

                        Dié onmeetlikheid laat wat wuft is val,

 

                        & maak ’n groter aanspraak op die gees.

                        Die lang lae berge rys uit kaal

                        vlaktes klip omhoog

                        asof die eeue sigbaar asemhaal.

 

Die Nederlandse digter J.C. Bloem het Suid-Afrika in 1948 vir langer as vyf maande besoek. Hy het die literêre geselskap van N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, Jan Greshoff, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers en Uys Krige terdeë geniet, maar het hom min gesteur aan die Suid-Afrikaanse landskap en natuurlewe. J.C. Steyn vertel in sy biografie N.P. van Wyk Louw – ’n Lewensverhaal (Deel I, p. 472) hoedat Bloem diep dankbaar geantwoord het: “Goddank, daar hoef ik dan ten minste niet heen,” toe Greshoff hom meedeel dat die Krugerwildtuin in die somer weens gevaar van malaria gesluit is.

Dit is dus onwaarskynlik dat Bloem hom so liries oor die Karoo sou uitlaat, soos in die gedig hierbo. Die titel moes in werklikheid gewees het “Holst in die Karoo”.

            Die digter Adriaan Roland Holst was in 1946 en 1947 vir agt maande in Suid-Afrika. Dié hele geskiedenis is ook te lees in N.P. van Wyk Louw – ’n Lewensverhaal (Deel I, pp. 450-456). Holst het op 3 Augustus 1946 met die skip die Oranjefontein uit die oorlogsgeruïneerde Nederland in Kaapstad aangekom, waar hy onder andere deur N.P. van Wyk Louw verwelkom is. Hy het die land deurreis en in Johannesburg, Pretoria, Potchefstroom, Pietermaritzburg, Grahamstad, Wellington, Stellenbosch en Kaapstad lesings gehou en Afrikaanse skrywers ontmoet.

            Holst was betower deur die Karoo. Steyn vertel dat dié “prins van die Nederlandse digters” op Saterdag 31 Augustus 1946 met die trein op reis was in die omgewing van Beaufort-Wes en toe die volgende aan Van Wyk Louw oor die landskap geskryf het:

 

Het verraste mij, geloof ik, omdat het was of ik het mij herinnerde. En hoe komt dat? vraag ik mij af. Het waren vooral de gedeelten waarin uit die leege vlakte de lange, lage bergen omhoogkomen als ademhalingen, die eeuwen geleden in werden gehouden. Het is alles zoo oud en zoo helder. De grandiose eentonigheid ervan heeft, vanuit de trein, verwantschap met de eentonigheid van de zee om een schip. Ik wist niet, dat een landschap zoo helder en open, zoo geheimsinnig kon zijn. En dat verklaart, misschien, dat vreemde gevoel van mij dit te herinneren. Want in deze heldere en onmetelijke eentonigheid is alles wat ‘pittoresk’ is eenvoudig weggelaten, en daardoor wordt het naar zijn wezen een interieur landschap, iets als een domein van voor de geboorte, of van na den dood. Als ik hier geboren was, zou ik er overal het heimwee van mij in omdragen. De grootschheid van de kusten van het schiereiland of van het Zwitsersche hooggebergte, wordt, hierbij vergeleken, bijna van de tweede rang, plaatjesachtig. Op deze eersterangswijze kan, geloof ik, een landschap alleen grootsch zijn als het voor 7/8 hemel is. Ik denk ook even aan de Hollandsche duinen, maar de Karroo is minder intiem, en doet daarom een volstrekter beroep op geest en ziel.

 

Daardie sin  “Als ik hier geboren was, zou ik er overal het heimwee van mij in omdragen” moes vir Van Wyk Louw – ’n Karoo-boorling – aan die hart gegryp het. Dit was inderwaarheid ’n voorspelling. Toe Louw gedurende die vyftigerjare in Amsterdam woon en werk, skryf hy uit heimwee talle gedigte oor die wêreld van sy jeug, onder meer “Beeld van ’n jeug: duif en perd” en “Klipwerk” uit Nuwe verse (1954), en “Karoo-dorp: someraand” uit Tristia (1962).

            Maar terug by Johann de Lange se gedig met die foutiewe titel. Hy slaag daarin om Holst se ietwat wydlopende prosa te kondenseer tot ’n gedig van 20 kort reëls waarin hy op ’n merkwaardige wyse die essensie van wat Holst sê, weergee. De Lange voeg wel nuwe elemente by. Die beeldspraak van die volgende reëls is nie by Holst terug te vind nie:

 

                        ’n Bruin lei waarop bruin gode

                        die kode van die heelal skryf.

 

en:  

 

                        Verby die blou blos dóér-ver van dagbreek

                        of die fyn ideogram van ’n woestynroos.

 

In die eerste strofe herskryf De Lange dié sin van Holst: “De grandiose eentonigheid ervan heeft, vanuit de trein, verwantschap met de eentonigheid van de zee om een schip”

 

as: 

           

                        Verby die treinvenster vaar

                        vlaktes twaalfuur-oseaan.

 

Hierdie twee reëls is die enigste wat my hinder in die gedig. In terme van die beeldspraak is dit nie die vlakte wat “vaar” nie, maar die trein. Verder: Wat is ’n “twaalfuur-oseaan” en hoe klop dit met die dagbreek van strofe 3? (Nee, daar is tóg nog iets in die gedig wat my pla. Die woestynrose wat ek ken, kom in die Namib voor – nie in die Karoo nie.)

Andersins is dit ’n bewonderenswaardige vers waarin Johann de Lange die volgende uitspraak van N.P. van Wyk Louw (in “Ars poetica” uit Tristia) demonstreer:

 

            Uit die gevormde literatuur

            is nooit weer poësie te maak nie,

            uit die ongevormde wél.

 

Adriaan Roland Holst se brief aan Van Wyk Louw geld sekerlik as “ongevormde literatuur” waaruit De Lange sy poësie kon maak.

           

 

Bronne

 

De Lange, Johann. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau

Louw, N.P. van Wyk Louw. 1962. Tristia. Kaapstad: Human & Rousseau.

Steyn, J.C. 1998. Van Wyk Louw – ’n Lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg

 

 

In die skoene van grotes

Saturday, May 2nd, 2009

Om groot te doen in die skoene van die grotes

Daniel Hugo

 

                                Uit die gevormde literatuur

                                is nooit weer poësie te maak nie,

                                uit die ongevormde wél

 

Hierdie uitspraak van N.P. van Wyk Louw staan in sy gedig “Ars poetica” uit die bundel Tristia van 1962. Sedertdien was daar al ‘n hele paar dapper, digterlike pogings om hom verkeerd te bewys. Sulke waaghalsigheid het Louw by voorbaat in dieselfde gedig getipeer as: ” om groot te doen of te misdoen / in die skoene van die grotes”.

En juis daarom is daar nie ‘n groter uitdaging nie as om dié pontifikale stelling aan Louw-tekste self te toets. In sy jongste bundel, Die algebra van nood, sit Johann de Lange die grote Van Wyk Louw deeglik op sy plek. Afdeling III van die bundel het die titel “Náspele en voortvlugte” wat sinspeel op die “voorspele en vlugte” in die subtitel van Tristia. Verder gebruik De Lange reëls uit die einste “Ars poetica” as motto by dié afdeling.

Johann de Lange

Johann de Lange

 

“Teen die berghang”, die openingsgedig van die afdeling, is ’n besonder geslaagde herskepping van ’n gedig én ’n prosateks deur N.P. van Wyk Louw. Die gedig is die welbekende, welgevormde “Karoo-dorp: someraand”. Die eerste strofe gaan só:

 

                Die laat-middag het room geword    

                en treine wat ver fluit

                en ’n wit-bont klaas-skáwagter

                wat wag-hou op ’n kluit.

 

Van belang is sekerlik dat “Karoo-dorp: someraand” in Tristia staan en direk op “Ars poetica” volg.

                Die belangrikste bron vir De Lange se gedig is egter die eerste drie paragrawe van Van Wyk Louw se opstel “’n Gesprek – waarin niks beslis word nie”. Dit is in Julie 1938 geskryf en die volgende jaar gepubliseer in die bundel Berigte te velde. Louw skryf hier besonder liriese, sêmaar poëtiese, prosa – emosionele interpunksie en al:

                               

Ons het soos dikwels wanneer dit ’n openbare vakansiedag was, ver bokant die stad en die see tussen die dennebome gelê. Dit was so ’n goue herfsnamiddag soos die Kaap alleen ken – roombleek lug, sagte wind; en die baai en die rante daaragter, die stad en die dennekruine was geel in die koel son soos die skynsel van botterblomme …  

Ons het oor Kloos gepraat. Hy is kort tevore dood, en juis dié dag het ons in ’n heel paar koerante stukke oor hom gelees: beskouings, stilistiese proewe, heelwat amptelike roubeklag … maar alles vir die man wat ons nie een geken het nie en wat in ’n vreemde land dood was. En tog het ons hom geken en sy woorde gesê; en ons kon dié dag juis nie glo dat daardie pragtige wilde kop dood en begrawe was nie, nou dat die digter, ná ’n paar jaar saakliker bewondering, weer so naby ons was.

En dan het ons weer tussen die denne deur oor die stad gekyk. Die rook uit die fabrieke het op die vakansiedag dunner getrek, en die paaie deur die vleilande rondom het gelewe van motors en busse en mense.

 

In sy biografie Van Wyk Louw – ’n Lewensverhaal (Deel I, pp. 241-242) haal J.C. Steyn aan uit hierdie gedeelte en sê hy dat Louw se metgesel dié dag teen die hang van Tafelberg Truida Pohl (later Louw) was. Steyn wys ook daarop dat die Nederlandse digter Willem Kloos op 31 Maart 1938 in Den Haag oorlede is en dat die vakansiedag waarvan Louw praat, waarskynlik in die Paasnaweek van 15 tot 18 April geval het.

                Dat Johann de Lange op die Louw-teks afgekom het via Steyn se biografie, blyk uit die datumaanduiding by sy gedig. Louw se beskrywing van die Kaapse herfsmiddaglug as “roombleek” het klaarblyklik die onmiddellike verband gelê met “Karoo-dorp: someraand”:

 

                                Teen die berghang

                                Paasnaweek, April 1938

 

                                Die ná-middag het tóé reeds idioom

                                geword met roombleek lug & sagte wind;

                                die baai en rante, denneboom op -boom

                                geelkroon in die koel son, die ganse bergkom

                                met die oker glans van botterblom.

 

                                Kloos is dood. Daardie pragtige wilde kop

                                rus nou woord- & gedagteloos strak

                                in ’n vreemde land. En g’n klaas-skáwagter hop

                                flink op ’n kluit, of probeer kwinkeleer

                                om die nuus van sy dood vir laas te skandeer.

 

                                Die sinne prikkel met die geur van dennehars

in die gewyde stilte bo ’n stad wat wispelturig blaak.

                                Fabriek- & lokasierook veryl; die lug stuif vars.

                                Kruis & dwars met lintjiespaaie langs weef

                                motors & busse onhoorbaar, ’n kabelkar sweef –

 

                                Kloos is dood. Maar sy woord

                                bly na-leef soos ’n spreuk

                                in hierdie oogwit Boland-lig, in elke boord

                                & wingerd wat prilgroen brand.

                                Maar dit is ’n ander dag in ’n ander land.

 

Benewens die eerste strofe van “Karoo-dorp:someraand” met sy “idioom-geworde” eerste reël (”Die laat-middag het room geword”), betrek Johann de Lange ook die volgende reëls uit Louw se gedig: “en rook uit die lokasie rook” en “dóér op die nasionale pad / loop motortjies onhoorbaar, hoog”. Die verwysing in Louw se opstel na fabrieksrook en motors in die verte maak De Lange se verbandlegging tussen opstel en gedig ongedwonge en eintlik vanselfsprekend.

                In “Ars poetica” sê Louw dat dit wel moontlik is om op die temas van die heiliges “variasies en besuinigings, selfs palinodes te versin”, maar dat die stilistiese vormgewing van die gekanoniseerde, klassieke tekste onaantasbaar is.

                Myns insiens het Johann de Lange finaal bewys dat die kanon nie heilig is nie en dat die grotes se formulerings hergebruik kan word om ’n nuwe, welgevormde teks te produseer.

 

Bronne

 

De Lange, Johann. 2009. Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.

Louw, N.P. van Wyk. 1962. Tristia en ander verse, voorspele en vlugte 1950-1957. Kaapstad: Human & Rousseau.

Louw, N.P. van Wyk. 1986. Versamelde prosa I. Kaapstad: Tafelberg

Steyn, J.C. 1998. Van Wyk Louw – ’n Lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg.

 

Mei 2009