Posts Tagged ‘Nul’

Andries Bezuidenhout. Twintig jaar na Voëlvry

Tuesday, October 13th, 2009

Groete uit die lieflike stad Windhoek. Ek luister musiek op my rekenaar. By Aardklop stop Angola Badprop my ʼn CD in die hand: “Twintig Jaar Later: Van Voëlvry tot Fokof.” Laasgenoemde verwys natuurlik na Fokofpolisiekar.

Angola, oor bekend as Jaco Nel, het veertig songs versamel om Afrikaanse rock die twintig jaar na die Voëlvrytoer te verteenwoordig. Ek skat hy is reg as hy Fokofpolisiekar as die grootste fenomeen ná Voëlvry beskryf. My eie projek – die Brixton Moord & Roof Orkes – kry ook darem ʼn plekkie in die geskiedenis.

Die kassie bevat twee CD’s. Die eerste een verteenwoordig die rock bands voor daar video’s op MK (aanvanklik MK89) was. Dit sluit mense soos Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, Anton Goosen, Gert Vlok Nel, Jan Blohm, Bacchus Nel, Karen Zoid, Beeskraal, Diff-olie, Trike, Riku Lätti, ens. in. My orkes word ook hier ingegooi. Op die tweede CD is die meer onlangse rebelle, soos Fokofpolisiekar, Straatligkinders, Zinkplaat, Foto Na Dans, Willim Welsyn en NuL. Sommige van die ouer en standhoudende bands, soos Battery 9 en Kobus!, is op albei CD’s verteenwoordig.

Dis natuurlik altyd moeilik met die samestelling van sulke versamelings. CD’s kan net ʼn beperkte massa data akkommodeer. Wie sluit jy in, wie laat jy uit? Van wie sluit jy meer as een song in? Ek hou nogal van die keuses – van my persoonlike gunstelinge is daar, soos Bacchus Nel se “Herfsman” en Piet Botha se “Goeienag Generaal.”

Ek wonder egter oor een ding. Soos Mr Mac and the Genuines destyds uit die Voëlvry-geskiedenis gelaat is, vind ons ook byvoorbeeld nie vir Prophets of da City, Brasse vannie Kaap, of Kallitz in die versameling nie.

Is dit omdat hip-hop nie as rock beskou word nie? Ek wonder maar net.

Gaan luister ʼn bietjie na Kallitz hier.

Andries Bezuidenhout. Nul en Bloedskande span saam

Monday, July 13th, 2009

Oor Bloedskande het ek reeds hier geskryf. Nou smee die mense van Bloedskande kragte saam met Nul, een van die ander bands wat al ‘n ruk lank golwe maak hier in Johanneburg. Die twee bands speel eerskomende Vrydag in Belavista Lounge in Troyeville (dis nou 17 Julie 2009).

Gaan kyk gerus hoe lyk Nul as hulle “Kokainekop Kosie” doen. Dis so min of meer een van hulle treffers hier rond. Hier is die liriek sommer ook:

Kokainekop Kosie
(deur Nul)

kokainekop kosie doen twee lyne voor die braai
twee lyne voor die braai
twee lyne voor die braai
van die jagluiperdpoeier wat hom yster laat voel
wat hom yster laat voel
wat hom yster laat voel
hy daag op by die voordeur met nekhare wat rys
met ‘n pakkie bier en ys
en ‘n sakkie vol vleis
hy’s selfvoldaan en grootmeneer en voel sowaar almagtig
en hy se jou wragtig
vir vet lynette sy’s pragtig

maar ou koos se masjien loop ‘n klein bietjie swaar
loop ‘n klein bietjie swaar
en ou koos voel bietjie naar
en hy snuif nog ‘n bietjie van die gomgatvim
van die gomgatvim
van die gomgatvim
koos is opgecharge soos ‘n joker en vier aces
nommer ses voor die races
just give me open spaces
skiet reguit deur kombuis toe om links en regs te flirt
vat aan laura se skirt
die manne raak alert

so gaan dit voort die hele middag lank
die hele middag lank
die hele middag lank
en later voel koos soos ‘n voos clutchplaat
hy begin stadig te praat
en homself te haat
sy neus bloei saggies en sy oe jeuk
en sy neushare steek
en sy waagmoed breek
kyk met groot wilde oe en ‘n skuins wenkbrou
begin almal wantrou
begin almal wantrou

almal moet saamstem, dit was onafwendbaar
koos het sy geluk net te diep die bek in gestaar
almal het geweet hy gaan nou heeltemal te ver
toe hy marie jordaan se vlegsel sny met ‘n kombuissker

die manne staan saam, die braai eers vergeet
hulle benader vir ou koos soos leeus wat wil vreet
onheilspellend trek hulle laer op die ou
met die poeier op sy neus, sy kraag, en sy mou

vuiste begin maal, houe begin knars
sy oe swel nog toeer en sy lippe bars
‘n vierkantige trouring word geprint op sy wang
en sy skoene word hoog bo in die boom opgehang

‘n taxi het hom vroegoggend in die straat opgetel
sy beursie gesteel, met sy foon gebel
driehonderd rand se kentucky met sy kaart gaan koop
maar by hom bly waak tot hy weer self kon loop

kokainekop kosie doen twee lyne voor die braai
twee lyne voor die braai
twee lyne voor die braai
van die jagluiperdpoeier wat hom yster laat voel
wat hom yster laat voel
wat hom yster laat voel

Nul se web is hier. Jy kry Belavista Lounge as jy met Smitstraat in ‘n oostelike rigting ry. By Ellispark swenk die pad suid en word Bertramsweg. Belavista is ‘n kort entjie na die stadion op links (op die hoek van Bertramsweg en Carnarvonstraat).