Posts Tagged ‘Nuwe stemme 4’

Marius Swart. Liefdes-e-pos

Friday, May 21st, 2010
liefdes-e-pos

 

 

geliefde,

ek stuur vir jou

‘n rewritable DVD

 

daar’s ‘n paar nice songs op wat ek

op limewire afgelaai het

en ‘n show van Jeff Dunham ook

daai ou met die poppe, jy weet?

Achmed the dead terrorist en hulle?

fokkit, hy’s funny!

jy sal dit LOVE.

ek hoop jou DVD player lees die ding,

anders moet jy maar op die laptop kyk.

 

ek sit vir jou ‘n potjie fish paste ook by

ek weet dis moerse random,

maar ek weet ook jy hou daarvan

en ek is in elk geval mos nie nou daar om te keer

as jy my met ‘n visasem wil soen nie.

 

verder wil ek maar net sê

ek het vir jou ‘n gediggie probeer skryf

met woorde soos borsies en donsige perskes en hart

 

maar toe dink ek by myself:  fokkit, bra, haar pa gaan

jou mos nou totally dik bliksem

as hy dít ooit moet lees.

 

so toe los ek die perskes

jy weet tog, enige iets peach-erig maak my anyway

                                                            instantly naar

ná daai episode met die bottel Hooper’s perske-schnapps.

 

ag jirre, ek kon anyway nog nooit sentimenteel wees nie.

of minstens nie as ek nugter is nie.

 

elk geval.  die gedig was ‘n fokop, soos jy kan aflei.

 

ek sal môre weer ‘n slag foto’s

op facebook sit,

kyk maar daar.

 

o ja, die gedig, voor ek groet,

dit het so geëindig:

my wange mis jou hart wat klop

en my neus mis jou nek.

 

(c) Marius Swart (uit: Nuwe Stemme 4, 2010: Tafelberg)

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Marius? Hoe het dit ontstaan?

Toe ek destyds deur my voorlegging van 7 gedigte vir Nuwe Stemme 4 lees, het dit skielik vir my geklink asof daar iets kort wat klink soos hierdie goed wat hulle “praatverse” noem en deesdae so promoveer. Toe probeer ek om een te skryf. Een van my vriende het een keer gespot en gesê “Almal wat dink hulle is skrywers, probeer mos altyd daai gedig van Breytenbach van die duif oorskryf”, toe doen ek dit sommer ook.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Dit het redelik vinnig gegaan, maar die heel eerste weergawe was baie los en slordig en het heeltemal te veel woorde gehad. Daar het ek gesnoei en toe het ek dit ingestuur, waarna ons dit by die NS4-werksessie bespreek en nog daaraan gesnoei het. Ons het by die werksessie eintlik besluit om hom liewer uit te gooi, vanweë die probleme met die oorspronklike slot, maar toe gaan werk ek die aand aan moontlike slotreëls, want ek het gehou van die res van die ding. Ek skat daar was so ses weergawes van die gedig, waarvan vyf bykans identies was, uitgesonder hulle slotreël(s). Ek kan ook nie verseker dat hierdie weergawe die laaste een is of sal wees nie, maar op die oomblik is dit.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

‘n Deel is aan my “gegee” in die sin daarvan dat ek met so ‘n bekende openingsreël begin, maar dit was vir my moeilik om die “stem” in die res van die gedig op die punt te kry waar dit my oortuig sonder om my te laat voel dat dit net ‘n pratery is. ‘n Groot deel is ook vir my “gegee” aangesien ek in die praatstyl kan skryf oor goed wat alledaagse ervarings is, maar terselfdertyd is ‘n mens op dun ys wanneer jy in hierdie soort “like, actually, bra”-sleng begin skryf, want dit is eerstens moeilik om dit oortuigend te doen en tweedens het dit die ongelukkige gevolg dat die gedig baie vinnig verouder en na my mening dan sy trefkrag verloor. Om vir Jeff Dunham, Facebook, Limewire en ‘n DVD op die naam te noem, dateer die gedig onmiddellik baie sterk. Dis soos om te sê wat iets kos of wat jy op die TV gekyk het. Ek voel sterk bewus daarvan dat die gedig ‘n punt sal bereik waar toekomstige lesers dink “wtf???” (om dit in die gees van die gedig te stel!).

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Danie Marais en prof. Ronel Foster se insette by die NS4-werksessie het my gehelp deur my te wys op die probleme met die gedig se (oorspronklike) slot, maar ek het die gedig nie vir iemand gewys of met iemand bespreek voor ek dit vir NS4 ingestuur het nie. Ek het wel deur die jare by Marlene van Niekerk baie raad gekry oor tipiese slaggate en hebbelikhede wat ‘n mens moet probeer afskud en ek probeer om onder die invloed daarvan krities met my eie werk om te gaan. Ek is ook in die baie bevoorregte posisie dat ek en sy gereeld gesels, onder andere oor my gedigte. Met NS4 het ek egter ongemaklik gevoel om sewe gedigte in te stuur waarby sy my raad gegee het, so van dié wat uiteindelik in die bundel verskyn het, is net een onder haar oë deur. Dit het ek ook aan die keurders genoem by die werksessie. Die ander se eerste lesers was die twee keurders. Ek wys ‘n gedig gewoonlik eers vir iemand as ek voel ek is nou klaar daarmee, of so ver soos ek op my eie gaan kan kom.

O ja, nog ‘n laaste ding wat ek darem moet noem: dié gedig se huidige titel is een wat tussen Danie en prof Foster uitgekom het, want my eie titel kon ek nie heeltemal reggeklap kry nie. So die titel is ook vir my “gegee” en ek is baie dankbaar daarvoor.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Ek het dit laat in September 2008 geskryf en dit het vroeg vanjaar in NS4 die eerste keer verskyn.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Iemand vra my die ander dag of die “geliefde” in die gedig dan nou nie meer in my lewe is nie, want dis hoe sy dit verstaan aan die slot van die gedig. Ek is ook al gevra of dit aan iemand opgedra is. Die gedig is beslis nie vir of oor een spesifieke persoon of verhouding geskryf nie.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Seker maar oor langafstandverhoudings en versugtinge en die liefde en die tyd waarin ons leef. Ek weet nie. Ek het ‘n hele boel ervarings en herinneringe en gewaarwordinge, my eie en ander, geneem en daaruit ‘n vers gemaak wat hopelik raakpunte het met ervarings wat baie van die potensiële lesers al gehad het. Ek het byvoorbeeld nie ‘n ernstige oortuiging vir of teen vissmeer nie, maar die “potjie fish paste” is ‘n beeld waarvan ek hou. Net so het ek self nog nooit Limewire gebruik nie, maar ek hou wel van Jeff Dunham en ek aanvaar dat sy materiaal daar beskikbaar sou wees. Volgens my handel die vers dus oor iets wat ‘n ou en bykans holruggeryde tema is, byvoorbeeld die verlange na die geliefde ten tyde van skeiding, maar aangebied in (my poging tot) ‘n relatief moderne idioom.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Daar is natuurlik die paar woorde in die openingsreël wat ek by Breytenbach gekry het, maar verder is die groot invloed dalk eerder hierdie rare wêreld waarin ons leef, met die internet en buiksprekers en potjies vissmeer in pakkies wat per pos versend word en expats en sulke dinge. Dit en die feit dat ek wou kyk of ek ook ‘n “praatvers” kan skryf.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Nie regtig nie. Daar is wel hier en daar ‘n merker in ‘n gedig wat moontlik nie aan alle potensiële lesers bekend sal wees nie, soos die reeds-genoemde voorbeeld van Jeff Dunham, maar ek dink nie eintlik aan ‘n spesifieke leser wanneer ek skryf nie.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Ek het hier baie doelbewus probeer om te skryf in die taal wat mense van om en by my ouderdom, asook jongeres, in ‘n informele konteks sal gebruik. Ek skryf hier naamlik soos wat “jongmense praat”, as ek dit so mag stel, maar nou is dit uit die aard van die saak ook ‘n problematiese stelling om te maak. Wie is ek immers om my dié klassifikasie aan te matig? Dit is tog al male sonder tal uitprobeer en opgefoeter. Wel, ek probeer maar om dit geloofwaardig te hou. Ek verneem wel dat hoërskoolleerders die gedig geniet, so ek het dit óf reggekry om hulle te oortuig met die stem in die gedig, en van die spreker se geloofwaardigheid, óf hulle vind net ‘n gedig met woorde soos “fokkit, bra” grappig en val vir die vloekwoorde. Hoe dit ook al sy, die gedig verskil van die ander in die sin dat ek gewoonlik probeer om woordekonomie as eerste riglyn te stel, maar hier duidelik meer “praterig” skryf as in enige van die ander. Dit is ook ‘n gedig waarby ek deurentyd duidelik bewus was daarvan dat ek nou maklik ‘n indruk van valsheid of aangeplaktheid kan skep as ek te hard probeer om in hierdie idioom te skryf.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Dit hang af van hoe jy dit lees. Aan die een kant gaan die gedig juis oor redelik algemene dinge: ‘n outjie se meisie se moeilike pa, die eerste eksperimentering met drank, die (natuurlik totaal onwettige, hoewel algemene) verkryging en verspreiding van TV-programme en ander vermaak op ongemerkte CD’s en DVD’s, Facebook, langafstandverhoudings, die irriterende gewoontes van ‘n mens se geliefde, ensovoorts. Aan die ander kant probeer ek wel om hulle op te skryf in ‘n spesifieke (Suid-)Afrikaanse idioom, maar ek dink nie dis spesifiek Suid-Afrikaans nie. Iets soos die gedeelte “maar toe dink ek by myself: fokkit, bra, haar pa gaan jou mos nou totally dik bliksem as hy dít ooit moet lees”, byvoorbeeld, sou ewe goed kon lees “but then I thought to myself: dude, her dad is so gonna fuck you up if he ever reads that”.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Hierdie een het my lank laat wakker lê en ek weet nog steeds nie of hy klaar is nie. Dis hoe ek oor die meeste van my gedigte voel. Daar kom wel ‘n punt waar ek relatief tevrede is en moed opgee, maar geen een van my gedigte moet te rustig slaap nie. Ek weet Ingrid Winterbach het al na haarself verwys as ‘n “kompulsiewe fine-tuner“, wat vir my ‘n baie mooi beskrywing is. Ek hou ook nogal daarvan om kort-kort ‘n ou gedig te vat en weer ‘n bietjie aan hom te werk. Dis egter ‘n geval van voorkeur en obsessiwiteit, nie juis van ‘n spesifieke metode nie. Ek dink ‘n mens kan ook ‘n gedig opneuk deur te veel met hom te sukkel.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek was en is stomverbaas oor die reaksie daarop. Dit lyk my dis die een wat by mense vassteek. Ek het dit nooit voorsien nie, maar dis natuurlik ‘n welkome kompliment. Wat my wel opval, is dat mense sommer aanneem dit is outobiografies, hoewel dit as ‘n geheel nie is nie.

ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ek verbeel my dit was ‘n vreeslik verbitterde en kwaai, dramatiese vrye vers oor ‘n moord of ‘n verkragting of iets in daai lyn. Die eerste vers wat vir my gevoel het soos ‘n “regte” gedig, was “Skipskop”.

 

Marius Swart

Marius Swart

Marius Swart is ‘n kind van die Overberg wat op Bredasdorp gebore is en daar in die distrik sy verstand gekry het. Daarna is hy Stellenbosch toe. In 2008 het hy sy Meestersgraad in Vertaling voltooi oor die vertaling van Afrikaanse romans in Engels. Van sy gedigte het in 2006 en 2007 in die studentedigbundel Penseel, asook in die 2008-Versindababundel, verskyn. Deesdae werk hy by die departement Afrikaans en Nederlands aan die US. In sy vrye tyd het sy naastes blykbaar vreeslik ergernis om hom weg te hou van die plaas af, want dis waar dinge vir hom begin en eindig.

 

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

Joan Hambidge. Nuwe Stemme 4 is ‘n 4×4

Tuesday, May 4th, 2010

 

Nuwe stemme 4 

   

Saamgestel deur Danie Marais & Ronel de Goede

Tafelberg, 2010; Sagteband 140 bladsye

ʼn Bespreking deur Joan Hambidge

   

I 

Nuwe stemme is al ʼn instelling binne die Afrikaanse digkuns, ʼn ruimte waar jong digters wat nog nie genoeg verse het vir ʼn solo-bundel ʼn bietjie kan kom uitstal en spog met hul, nuwe ware. Stiebeuel het Sheila Cussons opgelewer. Uiteraard is die begrip “nuut” in enige digkuns omstrede: wat ons dikwels as nuut/anders/baanbrekend ervaar, is al vantevore gedoen. Uys Krige het die praatvers puik hanteer en nou kom dit weer tot sy reg.

 

Nuwe Stemme 4

Nuwe Stemme 4

Die jongste bundel is saamgestel deur Danie Marais & Ronel de Goede (daardie Ronel Foster wie se bloemlesing van postmodernistiese gedigte, gedoen saam met Louise Viljoen op ons almal se boekrakke pryk). Daar word geen biografiese besonderhede van die digters gegee nie en die leser word verwys na LitNet vir die bio’s – wat van die leser wat nie internet-vaardig is nie? Verder staan daar op p. 62 Maggie Loubser in plaas van Maggie Laubser. Party van die digters praat op die Versindaba se webbladsy; ander kom weer na vore op LitNet. Sommige uitsprake oor die digkuns is naïef. Ander gesofistikeerd.
Dieselfde geld hierdie bundel waar daar sterk heuristiese verse staan, teenoor stroomop-eksperimente. Party digters het ek vir die eerste keer hier ontmoet, ander se werk ken ek uit ʼn LitNet-Skryfskool (soos Bibi Slippers) en drie is oud-studente, naamlik Fourie Botha en Lou-Anne Stone wat formeel onder my studeer het en Corné Coetzee was ʼn skryfskool-kandidaat aan die UP se Winterskool ʼn paar jaar gelede.

 

Hierdie bespreking wil eerder fokus op tendense as digters. Ons is terug by Neruda se siening dat daar geen digters is nie, alleen ʼn digkuns – ʼn stelling wat Sheila Cussons hier te lande oorgeneem het. Hierdie siening van gesprekke en transformasie vind ons ook in Harold Bloom se studie oor die digkuns: The anxiety of influence (Oxford University Press, 1973).

Die betekenis van ʼn gedig is immers ʼn ander gedig. ʼn Nuwe stem voeg iets by tot die kanon wat reeds bestaan, ontken of verminder/verbeter word. Bloom verwys na die klinamen (of digterlike “misprision”), die tessera ( waar die digter voltooi wat hy ervaar die ouer digter nie klaargemaak het nie), kenosis (oftewel herhaling of diskontinuïteit), demonisering (of die teen-sublieme, wat ʼn mens dikwels in die parodie vind), askesis (of suiwering / solipsisme waar die digter homself probeer wegtrek van enige invloed) en ten slotte die apophrades of terugkeer van die dooies…

 

II

 

Hierdie leser was aangenaam verras met die bundel en in die voorwoord beywer die samestellers hulle dan ook vir die rivier-delta eerder as die stroom of rivier. ʼn Baie relevante en belangrike stelling: die erkenning van die stilistiese en tematiese verskeidenheid as een van die vernaamste kenmerke van die kontemporêre Afrikaanse poësie.

Die samestellers besef gelukkig ook dat alles nie kan/mag nie. “Gelukkig heers daar steeds, soos enige poësieliefhebber weet, breë konsensus oor wat nie goeie poësie is nie” (6).

Trouens, Marais se satire op die Versindaba se webbladsy oor swak poësie lui as volg:

 

Wat swak gedigte weet
Poetry makes nothing happen – W.H. Auden

 

Hoekom depress vrot poësie my dan so mateloos?

 

Vroeër het ek gehoop
dis oor slegte gedigte leuens is
wat soos goue sandale
verlange obseen maak.

 

Ek het gedink dis die voorspelbare vertwyfeling
die Highveld Stereo-hartstog
die emosionele pornografie
die infantiele woordspel
die kreupel rymdwang en die paraplegiese paarrym
die zombie-hallelujas
die grillerige intimiteite en nat klapsoene
die ongesofistikeerde teleurstelling
die hangtiet-ontboesemings in wolke van opdringerige parfuum
die onafgewerkte noodkrete
die selfmoordbriefies vol spelfoute
die onbelese arrogansie
die onbeholpe pretensie
die selfbewuste eerlikheid
die vervelige nagmerries
die macho selfbejammering
die loopmagiese realisme
die voorstedelike surrealisme
die alewige gatkruip by die doofstom Muse
die arseen poeticas
die aansitterige besorgdheid oor die natuur
die kleingeestige politieke prekerigheid …

 

Maar dis alles bysaak –
dis die onmiskenbare waarheid in swak poësie
wat my moedeloos maak.

 

Die goeie gedig is die frats, die leuen,
want die wêreld ís van kak styl en hol retoriek gemaak –
die lewe is ’n heruitsending van ’n sepie
die dood bloot formaliteit.

Goeie gedigte is die kopligte
wat jou fataal verblind,
want dis ’n moorddadig geykte uitdrukking
agter die stuur van dié twaalfton-cliché.
 

© Danie Marais. Feb. 2010

 

So alles kan nie. 

 

Wat is nuut? Wat beteken nuut? Beteken dit ʼn digter wat soos ʼn “new kid on the block” pas gedebuteer het of beteken nuut uiteindelik ook ʼn nuwe aanslag? En kan ʼn mens iets wat nuut is dadelik bepaal? Of eers by nabaat? Daar is dikwels digters wat in hul tyd oor die hoof gesien is en later ʼn beduidende invloed gehad het. Dan is daar weer digters wie se debute so “anders” en belangrik is dat dit ʼn hele nuwe manier van lees opeis: ek dink hier aan Breytenbach en Cloete, o.a. Beide digters het ʼn leestrategie behoef en beide het digters ná hulle beïnvloed. Ek dink in hierdie verband is Francis Galloway se opmerking oor Breytenbach uiters tersaaklik. 1. Hierdie belydenis van Galloway som presies op hoe nuut Breytenbach se aanslag ervaar was indertyd.

 

III

 

Die bloemlesing plaas die digters nie afsonderlik nie, maar eerder onder hofies soos “Hier en daar”, “Toe en nou”, “Oral en altyd” met woordverklarings ten slotte. Die digter se afsonderlike verse kan jy dan agterin vind met die bladsyverwysings. Die gesprek met Van Wyk Louw (Pieter Hugo, Lou-Ann Stone, Hunter Kennedy o.a.) is opvallend en die Facebook-fenomeen (Slippers) vind eweneens sy beslag in gedigte hier. Die vermenging van Afrikaans en Engels, d.w.s. spreektaal, is opvallend en die gedigte werk dikwels met ʼn gevoel van vervreemding: herinneringe aan hoe dit was/kon wees en die harde realiteite van nou. Die grensoorlog en die letsels van so ʼn sinnelose politieke oorlog word sterk verwoord (Lewies Botha). Genderpolitiek en seksuele ontwaking vind ons ook hier: Fourie Botha se gelade seksuele gedigte en Corné Coetzee se gedig oor bruide bevestig dit. Die rassekonflik is tematies aan te tref o.a. by Marius Swart en André Trantaal.  Maar dit gaan in die digkuns nie om die wát alleen nie, maar veral die hoé iets verwoord word. Die voorkeur vir die loslit-vers is oorweldigend en eksperimente soos Jan A. F. Du Plessis se “episte(mol)ogie”(128) waar die mol as’t ware tussen begrippe gaan of Hennie Meyer se konkrete gedigte soos “Vyf anders as om” (127) waar die leser ʼn gevoude vliegtuigie sien met woorde op. Jou kinderherinneringe word so geaktiveer met die verskillende betekenismoontlikhede wat die woorde inhou. Die leser se assosiasies word hier geaktiveer om die leë plekke in te vul (vol te maak?). Dieselfde geld Francilié Hoek se “mind the gap”(43) waar die leser tussen twee strofes beweeg (tussen platform en trein) om betekenis te skep.   Vir my was die lees van die gedigte rondom temas baie lonend. Die gedigte speel dus ook op mekaar in en kry as’t ware ʼn groter trefkrag. Die verskeidenheid van aanslag is treffend: Hunter Kennedy se lirieke en spel met betekenis (“oop vir misinterpretasie”, 118) neem my terug na Bloom se siening van “misreading” of “misprision” waar die digter vir hom/haarself ʼn eie plek binne die kanon moet vind deur die reeds genoemde tegnieke. Van Wyk Louw en gert vlok nel is duidelike invloede (en vele gedigte van gert vlok speel weer terug op Louw) sodat ons dikwels hier die beginsel van tessera of voltooiing vind. Hunter Kennedy in sy proses (met ʼn sagte blik op Koos Doep) weier om skuldgevoelens te ervaar wat die Afrikaanse gemeenskap tans kollektief versmoor.

 

ek herinner myself aan my pa

hulle moes grens toe gaan

dis nie my skuld nie

 

Groot verseboek is dus hier in ʼn antwoord dikwels, in parodie of teenstem. In hierdie gedig is daar ook ʼn verskuilde siening oor die praatvers en oor uitpraat. Stilbly is nie ʼn opsie nie. Pieter Hugo vereer gert vlok nel (met die i en al!) in sy pragtige “kom in gert kom in kom in”, 124) waar die digter oor ʼn walkie-talkie met gert praat oor sy “beautiful” woorde: die interteks en postmodernisme word deel van die gedig se weefwerk.

Die ander word aangespreek: die blik van buite op die self soos in Marike Groenewald se “voor die lig groen word”(129) waar die blik van die man op die plaastrok haar gyselaar hou in haar eie kar. Paranoia en geweld is immers ons uitvoerprodukte sedert Outspan-lemoene.

In Fourie Botha se “Erediens” (130) gaan dit nie net om kerksake nie, maar die seun se vrees dat sy pa ook sy nek sal knak soos die voëltjie wat deur die dakwaaier getref word. Hunter Kennedy is satiries oor die hemel: dis skynbaar die platteland (131). Sy parodie van Louw klink so op bladsy 134:

 

en ek was ʼn kind

en al die helder wete

van bloed en maagdelikheid

bly eenmaal in my oë

 

met verskillende weergawes in die gedig self. Die apophrades dus of die opstaan uit die dode!

Die Calvinisme agtervolg Lize Viljoen in haar gedig “Calvinis”(137) waar sy haar persoonlikheid beskryf as ʼn kerkbank wat “hard, ongemaklik” is met ʼn mond wat soos ʼn gesangeboek toeklap.

 

IV

 

Nie al die verse is hardegat of sinies nie. Lewies Botha se verruklike “My broer” (113) tref die leser in die maag. Dit openbaar daardie ondefinieerbare moment van ʼn pakkende gedig: die vermoë wat ʼn mens die tegelykertyd-aspek noem van die digkuns. Die digter beskryf eers die dood van die vader en hoe dit op hom en die broer ʼn effek gehad het. En hierna, in die tweede fase van die gedig, die begrafnis van die broer en hoe hy in sy moeder se drome aan haar verskyn.

 

My broer kom kuier gereeld vir my ma in ʼn droom

en vertel haar dit gaan goed.

Wat eet jy, my kind?

Ag Ma, baie lekker, een dag hier en ʼn anner dag daar.

 

ʼn Duif kom sit op my ma se hand

en eet mieliepitte van die oes. 

 

Ek het hierdie gedig voorgelees vir ʼn vriendin op ʼn Saterdagmiddag in die Waterfront, wat onmiddellik aangevoel het dat dit eintlik oor die broer se dood handel. Die kelnerin was ontsteld oor ons beide se emosionele reaksie op hierdie gedig wat ʼn mens kan uithaal en afstof vir lesers: só lyk ʼn vers wat handel oor verlies en pyn en die dood, sonder om sentimenteel te wees. Of melodramaties. Dieselfde geld “Likantropie” (115), neffens hierdie gedig, van Jannie Malan:

 

In die winter van jou kind se dood word jy weer wolf,

groei die skuldgevoel té groot

en drink jy bakhand water uit die wolf se spoor.

 

En ek dink onwillekeurig aan die Ierse digter, Paula Meehan se “Child burial” oor die dood van ʼn kind of aan Lina Spies se klassieke lykdig “Op die dood van Riëtte”.2. Die saamgroepering van die gedigte eerder as die digters bevestig dus my siening van die digkuns (in navolging van Bloom) dat die betekenis van ʼn gedig ʼn ander gedig is. Dat die gesprekke of die tapisserie wat so geskep het, belangrike verbintenisse tussen gedigte skep. Bykans soos ʼn magneetveld.

 

V

 

ʼn Bloemlesing van en in ons tyd sal uiteraard politieke en sosiale kommentaar lewer. En hiervan is daar baie te lese. Trouens, die bundel open met Annie Klopper se “hoe om ʼn dorp te verf” (11) wat in BY bespreek is in die rubriek Verslangs en vir die leser hier volledig opgeneem word. 3. Eskom word gekritiseer – in geen onduidelike taal nie – deur Niel van Deventer en by Marius Swart is daar ʼn bewuswees van ʼn klas- en rasverskil wat mense van mekaar skei. In ʼn satiriese gedig (“Kiepie se klaaglied”, 83) word al die oordele en vooroordele van ons samelewing uitgestal.

 

VI

 

Hoe kan ʼn mens jonk wees en nie oor die liefde dig nie? Ook hiér is die problematiek van die “already said” duidelik aanwesig en die digters stoei (om Bloom weer by te haal) om ʼn eie plekkie in die liefdesson te kry. Breytenbach word geparodieer deur Swart in ʼn “liefdes-e-pos” (93) en Pieter Hugo skryf oor die “Dear John”-brief wat ontvang word, maar wat hy eers later, nadat hy met die honde gaan stap het, oopmaak. Die uitstel van die inligting, maak die impak des te groter en die leser treur saam met die ontvanger van die boodskap (“Honde”, 107).  Ook die Facebook-fenomeen word deur Bibi Slippers ontgin:”OMW!” (88).

(Hugo skryf op sy blog oor hoe hy die vers teruggesnoei het tot sy essensie.)

 

VII

 

Aan die basis van die digkuns is daar ook repressie of verdringing, aldus Bloom. Lewies Botha verwoord dit met hierdie woorde:

 

…terwyl ek myself soek

en my gevoelens in ʼn army-balsak toerits (113)

 

Die geslaagde gedigte is dan, volgens hierdie leser, dáárdie vers wat die emosie terughou, terugsnoei – sodat die werklike impak jou eers veel later tref.

Daarom is ʼn beeld waar die wêreld “sag soos sneeu skuif” van Corné Coetzee onthoubaar (112).

ʼn Bespreking verraai altyd die leser se eie smake of voorkeure. Hoe dan anders. ʼn Mens lees mos vanuit jou eie verwagtingshorison en leeservaring. Hierdie bloemlesing getuig van kreatiewe impulse en ʼn mens voel die begeleidende hande van die redakteurs en ʼn kennisname van die reeds-geskryfde. Un coup de chapeau! Karlien van der Merwe skryf in “Plaasskoollewwie” (61) so:

 

en sonsyfer deur die groenroes van spykergate.

 

ʼn Gedig moet met beeldspraak toor, ja. Selfs A.P. Grové gooi hier ʼn draai in ʼn gedig (en luister, hy kón gedigte lees) en ja, tussen die vrye verse deur is daar ʼn distigon! Hiep-hiep hoera. Daar is verwysings na kundalini, lotus en Calvinisme. Hier en die buiteland. Lewe en dood.

 

VIII

 

Die bundel wys ook op kreatiewe angste. Dit is immers die lot van die jong digter wat sy of haar eie plek moet vind in Afrikaans. En Bloom bevestig dat dit is wat die digter dryf. Sleng, kru taal, Maleierafrikaans (Syda Essop) vind ons ook hier. Die ontginning van spreektaal is verruimend; Engelse woorde of begrippe – waaraan talle digters skuldig is – kan dikwels as ʼn maklike uitweg gesien word. Ander lesers sal weer meen dit is ʼn outentieke weergawe van ons dig-soos-ons-praat.

Wie ʼn solo-bundel uiteindelik sal lewer, dit sal die tyd alleen leer.  Selfs hiervoor sal die nederige nee-digters maar moet wag!

4. (Almal kon nie vermeld word nie, vergewe my. Onthou ek het eerder op tendense as digters-met-pense gelet.) Die buiteblad van Michiel Botha is treffend. Kyk ons het nie meer foto’s van die digters nie, omdat daar groter fokus op die gedigte is. Is dit ʼn oorskulp op die buiteblad? Dat ons moet luister na die jong digters se sieninge van die lewe en ontgogeling met politiek? Ook waarskynlik omdat vele gedigte klankmatig is of gewoon lirieke. ʼn Monoloog in stereo, dus. Of soos Camille Paglia meen ons moet luister na ʼn gedig en wat dit wil oordra. 3.

Daar is ʼn spanning tussen die idilliese plaaslewe en die harde werklikheid van Yskor. En Eskom-debakels. Daar is raspejoratiewe – met effek. Hoe dan anders?

Hierdie is nommer vier in die reeks en hopelik sal daar nog nommers wees vir jong digters om te “show case”.

Dis goed om na Karlien van der Merwe te luister en haar beeldspraak te beleef.

Die intertekste in hierdie versameling is goed verwerk en daar was slypskole wat waarskynlik vele van die vratte en moesies uitgewys het.

Hierdie bundel spreek van Kundalini, soos, ons iewers lees, en die inspeel van gedigte opmekaar, het beslis ʼn positiewe effek gehad.

Om poësie te skryf, is nie vir sissies nie.

Kom ons kyk wie publiseer binne die volgende jaar of wat ʼn solo-bundel!

 

Een van die Bothas?  Dalk Corné Coetzee?

 

Joan Hambidge

 

 

Bronne:

 

Bloom, Harold. 1973. The anxiety of influence. New York: Oxford University Press.

Paglia, Camille. 2005. Break, blow, burn. New York: Pantheon Books.

 

Endnote:

 

1. www.litnet.co.za (Besoek op 29 April 2010).

   Wat is jou gunsteling-boek en hoekom?

   Francis Galloway  [2010-04-08] LitNet

 

Francis Galloway

oor die boek wat haar lewe verander het:Die jaar waarin Breyten Breytenbach debuteer, was vir my die Jaar van die Sneeu op ons plot in die Vrystaat. Ek onthou vaagweg dat my pa briewe uit Die Huisgenoot vir my ma voorlees waarin mense kla oor die snert wat die nuwe digter, met die naam wat soos ’n rympie klink, skryf. Anders as Antjie Krog, behou ek nog ’n wyle my onskuld oor hierdie digter wat die horison van die Afrikaanse poësielandskap radikaal verskuif. Dit verander oornag toe ’n eksentrieke dosent in my eerste jaar op universiteit die ysterkoei moet sweet vir my leen. My lewe keer linksom.
Die boek met sy pampoengeel stofomslag en afsigtelike tekening maak ’n totale aanslag op my gemoedelike plaaslike bestaan. Dit dop my bekende en veilige wêreld om en lê ’n ander polsende werklikheid daaragter bloot. Dit ruk die mat van matriek-idees oor wat poësie is, onder my uit. Dit ondermyn my opvattings oor reg en verkeerd, mooi en lelik, werklikheid en verbeelding.

Die oneerbiedige, sluwe en bitter eende, die blomme met are soos voos rubberpype, die strotbytende en knabbelende karkasse wat hierdie rymlose verse sonder hoofletters en leestekens bevolk, sak snags in volkleurdrome op my toe en skiet my gode en sekerhede in die buik en boud. Terselfdertyd is ek verruk deur die ronde visse met rooi truie, die fontein van sêmaarso, die kopreis van vrees tot saad, die patatranke met die séér ore langs die spoorlyn, die klouter met lanterns soos draakoë op getande dakke om na die grommende maan te kyk. Dit was daar in oorvloed, boordensvol: die fantastiese, die sintuiglike, die sap van die lyf, die sáámbestaan van verskriklik en verruklik, dood en lewe, ontbinding en buitelende groei.

Sedertdien loop ek soos ’n hans Grietjie op die spoor van die woordklippies wat hierdie digter-denker strooi. Die (ver-)dwaalpaaie lei my telkens na mirakelland, want ander wêrelde, ander moontlikhede bestaan mos. En al hou my gids nie by sy vae belofte van ek-hou-op-die-smal-paadjie-van-een-werklikheid-en-vermy-rondspringery nie, bly hy beweeg, vér anderkant bevryding, want niks is vir ewig gewen nie – of waarskynlik vir ewig verloor nie.

* Bydrae tot Theo Kemp se artikel “Pampoendag vir die maer man met die groen trui”, De Kat, Sept/Okt. 2009:31-32

 

2.
 
 

 

Child burial

Your coffin looked unreal, 

fancy as a wedding cake.

I chose your grave clothes with care,
your favourite stripey shirt,

your blue cotton trousers.
They smelt of woodsmoke, of October,

your own smell there too.
I chose a gansy of handspun wool,

warm and fleecy for you. It is
so cold down in the dark.

No light can reach you and teach you
the paths of wild birds,

the names of the flowers,
the fishes, the creatures.

Ignorant you must remain
of the sun and its work,

my lamb, my calf, my eaglet,

my cub, my kid, my nestling,

my suckling, my colt. I would spin
time back, take you again

within my womb, your amniotic lair,
and further spin you back

through nine waxing months
to the split seeding moment

you chose to be made flesh,
word within me.

I’d cancel the love feast
the hot night of your making.

I would travel alone
to a quiet mossy place,

you would spill from me into the earth
drop by bright red drop.

 

3. Hierdie rubriek is geskryf op versoek van Jo Prins vir BY (“Verslangs”) oor die gedig van Annie Klopper “Om ʼn dorp te verf”.  Dit verskyn 1 Mei 2010.

Die betekenis van ʼn gedig is nog ʼn gedig, het Harold Bloom op ʼn keer beweer. En hierdie dorp-gedig aktiveer bekende verse oor dorpe soos Peter Blum en T.T. Cloete se dorp-gedigte onder andere. Die spanning tussen stad/platteland gaan terug tot Trekkerswee. Dit is nie net ʼn gedig oor ʼn dorp nie, maar ʼn aanwysing hoe om ʼn dorp te verf, dit wil sê, verstaan (of dekodeer) en dan ʼn gedig daaroor te skryf. Eers die onskuldige dorp (met sy posbusse!) wat oorgaan met geweld in die idille. Opperman se beroemde vers uit Kuns-mis (1964) is dan by implikasie in die gedig “opgesluit” of lê dalk soos ʼn brief in daardie posbus:

 

“Hoe om ʼn bundel Chinese poësie te skryf”

 

Skryf op snippertjies papier:

berg, bamboes en blom,

verder: boom en stroom en droom,

en skommel telkens om.

 

Die gedig van Klopper lewer politieke kommentaar en is sydelings ironies oor die taal wat lesers as grensoorskrydend ervaar – sy versag dit dan vir die leser van die gholfbal-posbus tot “oes” en “ak”. (ʼn Mens dink hier aan lesers se verontwaardiging oor Antjie Krog se gebruik van die p-woord in ʼn gedig.) Verder is daar kritiese kommentaar op ons tydsgewrig waar woordeboeke nie meer geraadpleeg word nie en spelfoute op die internet gedy. Die moderne media het die skryfproses radikaal verander en skryf het ʼn vinnige, onmiddellike reaksie geword. Die gedig beskryf die agteruitgang in die sosiale orde: daar is graffiti op die mure en drank/dwelms verwoes menselewens. Selfs die jong skooldogter wag al in ʼn ry vir die pil by ʼn kliniek wat dit gratis uitdeel.

Hierom is die reël “om drome in te perk daar en te bewaar” erg ironies. Selfs die kerk kort  ʼn sewe (7 staan vir die ewigheidsgetal): die Orde van Geloof is aangetas in hierdie dorp. Die uiteindelike “skildery” van hierdie dorp (en dus ook die gedig) is uiters negatief: hierom woorde soos verbleik / verweer / spoeg / boor. Om hieroor te skryf, sal ʼn paar keer herhaal moet word wat dui op die sinneloosheid van die daad. Die gedig kan niks doen aan die orde wat aan die verval is nie. Op alle vlakke is die leser bewus van die “fyn skadu’s van roes” van agteruitgang – selfs die bejaardes word nie ontsien nie. Die gedig speel sterk in op die onbewuste van paranoïa wat die Suid-Afrikaanse landskap (die “political unconscious” in Fredric Jameson se woorde) kenmerk.

Alles roes in hierdie kleurlose gedig.

Camille Paglia skryf in Break, blow, burn (Pantheon, New York, 2005):”Every reading is partial, but that does not absolve us from the quest for meaning, which defines us as a species”. En wanneer sy oor ʼn gedig skryf, luister sy daarna en probeer ʼn taal en toonaard vind wat pas by die idioom van die gedig.

Ek hoop ek het reg geluister.

Want woord skep wederwoord. En “art generates art”, besluit Paglia.

“Poets must remember their calling and take stage again”. Nie net saam met Fokofpolisiekar nie, maar met die ware digkuns.

Die digkuns moet weer die dorp rooi verf.

 

Joan Hambidge

 

 

hoe om ’n dorp te verf

 

            begin by die posbusse –

massiewe gholfballe, skoene, pampoene

geskakeer met fyn skadu’s van roes

verf dan die skoolbusse

skeur die banke en skryf op die dak

woorde wat rym met “oes” en “ak”

(onthou om spelfoute te maak)

skets die skoolmure na aan mekaar

om drome in te perk en daar te bewaar

teken dan ’n tandlose vrou by die drankwinkel-till

’n skoolrok by die kliniek in ’n ry vir die pil

’n beroofde bejaarde wat op ’n sypaadjie bewe

’n horlosie op ’n kerktoring sonder ’n sewe

’n kind wat rook agter ’n stegie se muur

en bergies wat baklei langs ’n uitgebrande vuur

laat alles dan verbleik en verweer

spoeg op die sypaadjies

boor gate in die teer

en herhaal

’n paar honderd maal

            Herhaal

 

Annie Klopper

 

 

4. www. Versindaba.co.za (Geraadpleeg 1 Mei 2010).

Hennie Meyer: ʼn nederige needig

Die poet met die pot as ʼn pet …

 

Nuwe Stemme 4

Friday, April 16th, 2010

Nuwe stemme 4. Saamgestel deur Danie Marais & Ronel de Goede. Tafelberg. ISBN 978-0-624-04873-2. R150.

 

Nuwe stemme 4

Nuwe stemme 4

Sedert die publikasie van Nuwe stemme 1 in 1997 het daar ongeveer elke vierde jaar daarna nog ’n Nuwe stemme-opvolg by Tafelberg verskyn, sodat ons nou by nommer 4 staan.
Laasgenoemde is op vanjaar se Woordfees te Stellenbosch bekendgestel, en om dit in breër verband te plaas betrek ek in hierdie bespreking ook van my waarnemings omtrent die voorafgaande nommers, naamlik soos dit in 2005 in die tydskrif Spilpunt gepubliseer is.

Die reeks debutante-bloemlesings is ’n nuttige instrument wat deur die NB-uitgewersgroep ontwikkel is in die laat-1990s, ’n tydvak van gedwonge herstrukturering en besuiniging in die Suid-Afrikaanse boekebedryf. Dus was die Nuwe stemme–konsep (voortaan afgekort as NS) ’n teenvoeteroplossing vir die finansiële risiko’s verbonde aan die uitgee van (veral debuut-) solobundels.

Met NS kon NB-uitgewers egter ook ’n stimulant- en ontwikkelaarsrol speel. Die verklaarde bedoeling was om digters met afgekeurde bundels deur die publikasie van ’n keur uit hulle werk aan te moedig om in die rigting van eie, geslypte bundels voort te werk. By wyse van openbare uitnodiging kon ook bydraes gelok word van digters wat nog nie wou of kon waag om bundels voor te lê nie.

Digters is bygestaan om hul gekeurde verse na bevrediging van die samestellers af te rond. Wat NS 1 en 2 betref, is dit hoofsaaklik per korrespondensie gedoen. In die geval van NS 3 (en nou ook NS 4) is daar ook slypskoolgeleenthede gereël.

Of die bedoelde aanmoediging tot eie bundelafronding veel vrugte afgewerp het? As ek reg tel, het slegs 1 van die 11 debutante in NS 1, maar 8 uit die 16 in NS 2, en 3 van die 20 in NS 3 al eie bundels die lig laat sien. (Na verneem word, volg debuutbundels van Melt Myburgh en Jasper van Zyl, onderskeidelik veteenwoordig in NS 2 en NS 3, later vanjaar.)

Waar Antjie Krog en Alfred Schaffer in hul inleiding tot NS 3 vyf jaar gelede nog kon beweer – in daardie stadium tereg – dat klaarblyklik nie veel in hierdie verband gepresteer is nie, begin die prentjie tans anders daar uitsien. Dis dus gepas om NB-uitgewers te prys oor die bydrae wat op hierdie wyse gelewer is tot ’n tans lewenskragtige Afrikaanse poësiesisteem (waarbinne jaarliks rondom 20 digbundels verskyn).

Dat bloemlesingsamestellings nie vry van persoonlike voorkeure of van ideologiese en literatuurbeskoulike oorwegings geskied nie, is nie nuus nie. Die verantwoordings sowel as die aard van die samestellings van die vier nommers van NS is derhalwe boeiende inligtingsbronne in hierdie verband.

Opvallend is dat nuutheid (’n estetiese maatstaf) en verteenwoordigendheid (eerder ’n sosiaal-politiese kriterium) deurgaans as opname-oorwegings naas mekaar genoem word, hoewel telkens in verskillende voorkeurverhoudings tot mekaar.

In NS 1 is uit die drie-paragraaf-lange inleiding af te lei dat sowel die – soos dit daar lui – “ryke verskeidenheid” van stemme uit “die Suid-Afrikaanse leefruimte” en uit “die breë Afrikaanse spraakgemeenskap”, as die moontlikheid dat die opgeneemde gedigte “in die volgende eeu steeds vars en sterk sal klink”, in berekening gebring is. Dat dit, soos reeds genoem, ook gaan om “digters wat die potensiaal het om selfstandig te publiseer”, beklemtoon egter weer die belang van die estetiese oorwegings. Waarskynlik vandaar dat die samestellers (Anastasia de Vries en George Weideman) eerder minder digters gekies het om op te neem (11 uit 70 voorleggings), maar dan ’n meer definitiewe profiel van elkeen se werk verskaf het deur byna telkens tussen 10 en 15 gedigte in te sluit.

’n Soortgelyke balans van oorwegings is uit die samestelling van Nuwe stemme 2 af te lei, hoewel in die verantwoording van vyf paragrawe uitvoeriger uitgewei word oor die “verskeidenheid”-maatstaf. Die verskeidenheid sowel as die nuutheid wat die samestellers probeer het om in dié bloemlesing op te vang, betref egter eerder stilistiese en toonaardfasette (“op en wakker, soms raserig, soms gewaag, en ook woedend”; na deeglike beraadslaging is byvoorbeeld ook besluit om gedigte met ‘n sterk aanleuning “by Engelse segswyses” op te neem). Tematiese vernuwings, soos die ervarings van uitgewekenes en soekers na “interne asiel”, word egter ook as opname-oorwegings aangegee.

’n Mens kom dus tog tot die gevolgtrekking dat die estetiese oorwegings vir die twee NS 2-samestellers (Petra Müller en Nèlleke de Jager) swaarder geweeg het as sosio-politieke redes. Is dit miskien daarom dat dit die samestellers nie gehinder het dat slegs 1 van die 16 debutante in NS 2 bruin was nie, terwyl die ooreenstemmende syfers in vorige nommer 3 uit 11 was?

Hoe dit ookal sy, ook die samestellers van NS 2 het ten gunste van minder digters (16 uit 200 voorleggings) en ’n ruimer aantal gedigte per digter (gemiddeld sowat 10) besluit, om sodoende die ingeslote digtersprofiele sterker af te teken.

Dié profielskeppende funksie word toenemend prysgegee in die derde en vierde nommers van die reeks.

Slegs 2 van die 20 ingeslote digterskappe in NS 3 word verteenwoordig deur 10 gedigte of meer. Van 6 digters is slegs 4 of minder verse opgeneem.

In die verantwoording word die nuutheidskriterium sterk beklemtoon. Tematiese sowel as stylvernuwings met betrekking tot die Afrikaanse poësietradisie word aangelê as belangrike maatstawwe. Dit word voorts duidelik dat wat vernuwend geag word, dikwels te doen het met maatskaplike en politieke omstandighede. Bruin mense word byvoorbeeld deur Krog en Schaffer “beny” omdat hulle “op ‘n goudmyn van nuwe woordeskat, nuwe agtergronde en nuwe temas sit”.

Twee stilistiese “verkennings” wat verder in hierdie verantwoording van meer as 3 bladsye uitgesonder word, is die benutting van “die bekende gebrandmerkte Engfrikaans” en die terugkeer “na ou geykte Afrikaans” om dit te “verbrokkel […] tot feitlik betekenislose stukke”. Beide “verkennings” word deur die samestellers geïnterpreteer as ’n duidelike poging van “die jonger digters” om weg te kom “van die bagasie van die ouer digters en hulle verlede”.

Die weerspieëling van die volle spektrum van die Afrikaanse taal- en sosiale werklikheid blyk dus ’n rigtinggewende oorweging by Krog en Schaffer te gewees het, selfs wat betref stilistiese aspekte. Om watter ander rede sou meer as 10 gedigte van Vernie Plaatjies weer ingesluit word, terwyl hy reeds in NS 1 as debutant blootstelling geniet het met eweveel gedigte? Saam met Plaatjies is daar dié keer 5 bruin digters se werk opgeneem (25% van die totaal - ongeveer soos in NS 1).

Vir die samestellers van NS 4 is insluitendheid ’n ewe dominante oorweging, hoewel nie in die sosiaal-politieke sin van die woord nie. Danie Marais en Ronel de Goede sonder stilistiese en tematiese verskeidenheid uit as “een van die vernaamste kenmerke van die kontemporêre Afrikaanse poësie”, maar slegs twee van twee-en-twintig digters is nie wit nie.

Die verskeidenheid wat hulle in die “Verantwoording” van amper drie bladsye beklemtoon, betref eerder poësiebeskoulike aangeleenthede. Hulle het vermy om vas te hou aan “rigiede, vooropgestelde idees oor die poësie”, maar beskou – in ’n mate anders as Krog en Schaffer – ook nie vernuwing of oorspronklikheid per se as “’n oplossing” nie. Hulle gebruik die beeld van poësietradisie as “’n rivierdelta en nie ’n enkele stroom nie” om hulle poëtikale openheid te beskryf.

Gedigte van vaster en vryer vormgewing staan dus oral langs mekaar in die bloemlesing; liedtekste (deur Hunter Kennedy van die rockgroep Fokofpolisiekar) en liries belydende verse langs gedigte (deur veral Hennie Meyer, maar ook Jan A.F. du Plessis, Francilié Hoek en Pieter Hugo) wat primêr op tipografiese effekte vir hul trefkrag steun; gedigte wat eie ervarings uniek uitdruk langs verse waarin vir impak staatgemaak word op opvallende, soms parodiërende intertekstuele toespelings; werke in Standaardafrikaans langs gedigte waarin niestandaardvorme daarvan benut word om bepaalde leef- en belewingswêrelde outentiek weer te gee.

Vandaar dat die fokus nog verder as in NS 3 weggeskuif word vanaf die profilering van bepaalde indiwiduele digterskappe, in die rigting van beeldvorming van iets meer kollektiefs, naamlik van (aspekte van) ’n bepaalde tydsbestek in die Afrikaanse poësiegeskiedenis.  Iets soos De Goede voorheen met Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 gedoen het (in 1997 onder haar huweliksnaam Foster, en in samewerking met Louise Viljoen).

Nes in NS 3 is min gedigte (ses of minder) per digter opgeneem. Dié keer is hulle selfs nie eers bymekaar onder die digtersname geplaas nie, maar kom die verse van ’n bepaalde digter verspreid – as ’t ware buite die konteks van die spesifieke digterskap – in die bloemlesing voor. In die inhoudsopgawe agterin die boek word die gedigte van elke digter wel onder sy/haar naam gelys: alfabeties volgens die beginletters van die gedigtitels (nes die digtersname alfabeties volgens vanne vermeld word).    

Meer digters (22 uit ’n oorspronklike 250 insendings), maar minder gedigte per digter as voorheen; gedigte nie geplaas volgens digterskap nie, en in die inhoudsopgawe in ‘neutrale’ alfabetiese volgorde gelys… Daar sit iets ‘onpersoonliks’ hierin. En as ’t ware ter bekragtiging hiervan, is vir die eerste keer in die reeks geen biografiese sketse van die digters in die bloemlesing ingesluit nie. In die “verantwoording” word lesers wel na die internetwebblad LitNet verwys vir “nadere inligting” en “volledige onderhoude” met die digters. Dis egter duidelik dat ’n spesiale poging van die leser vereis word om ’n beeld van die indiwiduele digterskappe te probeer vorm.

Blykens die drie afdelings waarin die bloemlesing verdeel is, is vir ’n tematiese rubrisering gekies. Maar nou word die nette met die afdelingtitels telkens so wyd gegooi, en probeer dit kennelik sulke uiteenlopenhede saamknoop (“Hier en daar”, “Toe en nou”, “Oral en altyd”), dat ek twyfel of die identiteite van die verskillende afdelings vir die leser helder sal wees – die verduideliking van die gekose titels in die verantwoording ten spyt. Self erken die samestellers dat “van die gedigte ook in ander afdelings sou kon figureer”.

Maar nou het dit hoog tyd geword dat ek my respek betuig vir Marais en De Goede se poging om met NS 4 iets ánders te bied as bloot ’n versameling van opkomende digterskapsindrukke; om iets meer samehangends – ’n poëtiese tydsbeeld, soos gesê – te skep.

Laasgenoemde behels myns insiens ’n karnavaleske, grens- en hiërargie-vervagende  inklusiwiteit – ’n weerspieëling van die stilistiese en tematiese verskeidenheid waarvan in die samestellers se verantwoording gewag gemaak word. Dis ’n beeld verwant aan die indruk wat die gewilde Afrikaanse kunstefeeste oral in die land op ’n mens maak – daar waar digters byvoorbeeld meermale in samewerking met musiek- en visuele kunstenaars optree. NS 4 is, soos sy voorgangers, ’n kind van sy tyd.

En inderdaad word daarin geslaag om “tog interessante gesprekke tussen digters, gedigte en betekenismoontlikhede [te] bewerkstellig”, soos die samestellers in die “Verantwoording” hoop. Ek noem ’n paar dinge wat my opgeval het.

Intertekstueel is werke van N.P. van Wyk Louw (veral sy ”Karoodorp, someraand”), Gert Vlok Nel, Breyten Breytenbach en Elisabeth Eybers op die voorgrond as lewende Afrikaanse tradisie in NS 4. Daarby is dit duidelik dat die plattelandse wêreld van plaas en dorp steeds ’n belangrike bron van Afrikaanse digwerk is (ook via toespelings op die genoemde gedig van Van Wyk Louw, en op Gert Vlok Nel se Beaufort-Wes-verse en -lirieke).

Niestandaardvorme van Afrikaans is grootliks funksioneel benut, en “Engfrikaans” nie uit die onmag wat deesdae so dikwels spreek uit die radbraakspraak van baie Afrikaanses nie. In twee gedigte van Bibi Slippers, naamlik “words of the day” en “OMW!”, is die Engels byvoorbeeld oorheersend, maar dan as spesifieke onderwerp én as refleksie van soveel hedendaagse Afrikaanse mense – as “nuwe indigents (nuwe behoeftiges) – se ironiese belewenis van hul “exile condign” (verdiende ballingskap) in ’n Engels-oorheerste wêreld.

Of daar “opwindende moontlikhede” vir al 22 die bydraers voorlê as digters, soos in die “Verantwoording” voorspel? Dit sal die tyd maar moet leer.

Soos eintlik verwag kan word van ’n bloemlesing van hierdie aard, bevat NS 4 heelwat wat minder indrukwekkend is, selfs studentikoos aandoen.  Vergelyk onderstaande vers van Hunter Kennedy, wat (bedoeld of nie) tog ’n bietjie tam aandoen, sosiale kommentaar ten spyt:

 

            Bokbefok

 

            ons het saam met Bok gaan probeer tuna vang

die weer was te kak so toe drink ons maar

06:00

Jägerbombs

vissermanne

hulle het hom uitgevra oor “de la Rey” en hy het verveeld

en nugter gelyk

en toe ná al die vroumens- en kaffer-grappies

het die ooms

niks oorgehad om oor te gesels

behalwe die weer nie[.]

 

Aan die ander kant is daar weer ’n paar digters wie se werk sterker, frisser aandoen. Ek het in die lees regmerkies moes maak – uiteraard as spieël van eie poëtikale voorkeure – by gedigte van Lewies Botha, Corné Coetzee, Francilié Hoek, Pieter Hugo, Willem Jansen, Annie Klopper, Bibi Slippers, Adél Steyn en Marius Swart.

Die heel eerste gedig in die bundel (deur Annie Klopper) is een van dié wat my bybly, en ek sluit graag dié resensie daarmee af.

 

            hoe om ’n dorp te verf

 

            begin by die posbusse –

massiewe gholfballe, skoene, pampoene

geskakeer met fyn skadu’s van roes

verf dan die skoolbusse

skeur die banke en skryf op die dak

woorde wat rym met “oes” en “ak”

(onthou om spelfoute te maak)

skets die skoolmure na aan mekaar

om drome in te perk en daar te bewaar

teken dan ’n tandlose vrou by die drankwinkel-till

’n skoolrok by die kliniek in ’n ry vir die pil

’n beroofde bejaarde wat op ’n sypaadjie bewe

’n horlosie op ’n kerktoring sonder ’n sewe

’n kind wat rook agter ’n stegie se muur

en bergies wat baklei langs ’n uitgebrande vuur

laat alles dan verbleik en verweer

spoeg op die sypaadjies

boor gate in die teer

en herhaal

’n paar honderd maal

herhaal[.]

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Verantwoording. Nuwe Stemme 4

Monday, February 22nd, 2010

Ronel de Goede (Foster) en Danie Marais is die samestellers van die bundel

Nuwe Stemme 4.

 

Ronel Foster

Ronel Foster

Ronel de Goede (Foster) debuteer in 1993 met die digbundel Skoop. ‘n Woord-verwerkingspeletjie vir die beginner. Hierdie bundel is genomineer vir die CNA Literêre Prys en bekroon met die Eugène Marais-prys vir debuutwerk. Sy was die inisieerder en medesamesteller (saam met haar kollega Louise Viljoen) van die antologie Poskaarte: Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 (1997). Ronel de Goede is hooforganiseerder van die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Stellenbosch se Skrywerswerkswinkels, wat gereeld slypskole vir aspirantskrywers reël. In 2007 tree sy in Kaapstad en Pretoria op as aanbieder van die DigBy-slypskole van Tafelberg-Uitgewers. Sy was ook stigterslid van die Woord­feeskomitee en medewerker by die elektroniese tydskrif LitNet (PoësieNet).

 

 

 

 

(more…)

Nuwe stemme word bekend gemaak

Monday, September 7th, 2009
Tafelberg Uitgewers

Tafelberg Uitgewers

Een van die opwindendste projekte in ons digkuns is sekerlik Tafelberg se Nuwe Stemme-reeks waarmee publikasie-geleentheid gebied word aan jong digters wat nog nie genoeg kwaliteitgedigte het vir ’n eie, selfstandige debuut nie. En vandag kan ons die jong stemme wie se verse moontlik in Nuwe Stemme 4 opgeneem gaan word, bekend maak. In alfabetiese volgorde is hulle Fourie Botha (Kaapstad), Lewies Botha (Beacon Bay), Corné Coetzee (Johannesburg), Jan A.F. du Plessis (Pretoria), Marike Groenewald (Kaapstad), Francilié Hoek (Bryanston), Pieter Hugo (Beaufort-Wes), Willem Jansen (Bellville), Hunter Kennedy (Brackenfell), Annie Klopper (Brackenfell), Hennie Meyer (Pretoria), Heidi Papadopoulos-Pienaar (Johannesburg), Bibi Slippers (New Zealand), Adél Steyn (Stellenbosch), Lou-Ann Stone (Kaapstad), Marius Swart (Stellenbosch), André Trantraal (Matroosfontein), Karlien van der Merwe (Pretoria), Niel van Deventer (Ifafi) en Lize Viljoen (Suid-Korea). Danie Marais en Ronel de Goede (Foster) is die samestellers van dié nuwe bloemlesing. Volgens die inligtingstuk wat ns onvang het, sal hierdie twintigtal nou na slypskole genooi word waarna die finale keuse vir opname deur die samestellers gemaak sal word.

Nuwe Stemme 1 het reeds in 1997 verskyn onder redakteurskap van Anastasia de Vries en George Weideman. Elf aspirant digters se verse was daarin opgeneem. In 2001 is dit opgevolg met Nuwe Stemme 2, met Petra Müller en Nèlleke de Jager as samestellers. Dié bloemlesing het inderdaad ’n besonder indrukwekkende trefrekord, aangesien die volgende digters uit ‘n groep van sestien sedertdien met ’n eie bundel vorendag kon kom: Sarina Dönges, Gilbert Gibson, Bernard Odendaal, Hans Pienaar, Ilse van Staden en Jelleke Wierenga. Van Johannes Prins word daar binnekort ’n bundel verwag en van Melt Myburgh vroeg volgende jaar. Ook Toast Coetzer, Petrus de Kock, George A. Hill, Neels Jackson, Tertius Kapp, Renée Marais en Yolandi Woest is nog aktief betrokke by die digkuns; ‘n eie, volwaardige bundel uit hul geledere is dus nie té onwaarskynlik nie.

Nuwe Stemme 3 het in 2005 verskyn, met Antjie Krog en Alfred Schaffer as samestellers. Nie minder nie as 20 digters se verse is hierin opgeneem, met die volgende debutante wat reeds na vore gebring is: Ronelda S Kamfer, Danie Marais, Loftus Marais en Jasper van Zyl (binnekort).  Van die reaksie in die media rakende Nuwe Stemme 3 was soos volg:  ”Dit is duidelik dat hierdie digters wil wegbreek van die tradisie … [h]ier is pragtige verse opgeneem.” (Joan Hambidge, Volksblad); “… van die beste digters in dié bundel skryf met soveel sofistikasie dat ‘n mens verbaas is dat hulle nog nie vantevore die kans gegun is om te debuteer nie.” (Andries Visagie, Beeld) en “… hier is werklik talent.” (George Weideman, Taalgenoot).

Ten slotte - ons is baie jammer om bekend te moet maak dat Johann de Lange hom as blogger aan die webblad onttrek. Sy bydraes was altyd van ‘n hoë gehalte en sy teenwoordigheid sal beslis gemis word. Hopelik sal Johann darem nog sy weg oopsien om op ander maniere tot die webblad by te dra. 

Ons sal so spoedig moontlik Johann se opvolger bekend maak.

Mooi bly.

LE

Onderhoude

Friday, March 27th, 2009
 Inhoud                                                                                                                                                                  

 

 
 

Inhoud

 

 

2010

 

Junie

Om met ‘n woordmes vlerke te kerf. Kobus Lombard. Junie 2010

“Die plofkrag van poësie lê vir my in die beeldspraak.” Melt Myburgh. Junie 2010

Mei

Diggesprek: Alfred Schaffer & Ronel Foster. Mei 2010

 

April

“Tsotsitaal vir’ie moegoes wat’ie weetie“. Robert Pearce. April 2010

Brutaal genoeg om ‘n digter te kan wees. Clinton V. du Plessis. April 2010

Gedagtes vir ons tyd. NP van Wyk Louw. April 2010

‘n Toeris in eie land, Deel I. Danie Marais. April 2010

‘n Toeris in eie land, Deel II. Danie Marais. April 2010

 

Maart

Blomme vir Jamestown. Marié Stander. Maart 2010

Om spinnerakke weg te vee. Koos Oosthuysen. Maart 2010

 

Februarie

Onderhoud met digters van Nuwe Stemme 4. Feb. 2010

Die ontbrekende teenwoordigheid. Fanie Olivier. Feb. 2010

Die skyn van tuiskoms. Lina Spies. Feb. 2010 

Eenheid in teenstelling. Louis Esterhuizen. Feb. 2010

Januarie

Om die liefde na te boots. Roel Richelieu van Londersele. Jan. 2010
Onderhoud: Breyten Breytenbach. {Rapport} Jan. 2010
Die wakker honde van ‘n digter. Ronelda S. Kamfer. Jan. 2010

 

 

2009

 

November

Van opstopper-gedigte tot muurpapierverse. Andries Visagie. Nov. 2009

Kodes van waarneming. Gilbert Gibson. Nov. 2009

 

Oktober

Die waarheid onthul. Thérèse Hulme (Bartman). Okt. 2009

 

September

Om hartens te roep. Johannes Prins. September 2009

“Ek is nie ‘n intellektueel nie, maar ‘n chaotikus.” Ester Naomi Perquin. Sept. 2009

Die ideale onderhoud. Blackface in gesprek met Woordfoël. September 2009 

Die skerp punt van die spies. Mathews Phosa. September 2009

The transformation of experience. Valzhyna Mort. September 2009

 

Augustus

Wat oorbly is roet & ink. Cas Vos. Augustus 2009

Waarmerking en waarmaking. Lucie Möller. Augustus 2009

“Ek skryf met my oë, oor die sigbare en Onsigbare.” Carina Stander. Augustus 2009

Bloot mens is wie ek is. Jelleke Wierenga. Augustus 2009

 

Julie

‘n Mymerende verset teen verganklikheid. Miriam Van hee. Julie 2009

Met buskruit en salpeter. Marlene van Niekerk. Julie 2009

Om met begrip te kan kyk. Hans Ester. Julie 2009

 

Junie

Vraaggesprek met de dichteres Lina Spies. Hans Ester. Junie 2009

Om met ‘n eie kompas te skryf: Johann de Lange. Junie 2009

Vertaling maak jou nederig”: HP van Coller. Junie 2009 

 

Mei

‘n Sterk letterkunde bestaan nie in fluff nie:  Antjie Krog. Mei 2009

Diversiteit in Nederlandstalige poësie: Alfred Schaffer. Mei 2009

Vrugtekoek vir ‘n kulturele woelgees:  Willem Fransman jr. Mei 2009

 

April

Om blare aan ‘n boom te hang:  Luuk Gruwez. April 2009

Die gedigte skryf hulself:  Joan Hambidge. April 2009