Posts Tagged ‘Nuwe Stemme’

Lewies Botha. Om Famous te wees

Friday, May 28th, 2010

Na aanleiding van Andries Bezuidenhout se blog en natuurlik die Rapport artikel; Ek het nogal gewonder hoe gaan ek die verhoog deel met die beroemde “Rock star” Hunter Kennedy,  natuurlik was ek jaloers. Waarom wou hy nou die klein kolletjie Ka(l)klig van die papiervliegtuigie vou klub kom steel?  F*k wie wil nie Rock beroemdheid hê nie. Elke vertoning met gillende groupies is ‘n adrenalien inspuiting wat jou ego tot voor barstens toe opjaag. Ek daag enige iemand uit om te erken heimlik wil ons almal RUK en ROL.  Ek het myself getroos dat behalwe my Ma wat seker al die helfte van Nuwe Stemme 4 (NS4) se oplaag vir haar vriendinne en familie opgekoop het, sal die naam ;Hunter van Polisiekarre seker die boekverkope aanhelp. So dis maar oriaat.

In my gedig “Ons was daar” vir die Lizard kings van Pretoria (Opgeneem in NS4) verwys ek na die Rockers van so voor die voëlvry toer dinge, Piet Botha, James Phillips ens.  Ek sê ook; ons is skrywers ons is rock stars …

Ek sien altyd voor my geestesoog; Jim Morrison van The Doors wat in ‘n ateljee sit en sy “An American Prayer” opneem, vet en plomp en woes bebaard, met daai stem wat hipnoties dreunsing/ lees, Ray Manzerek se keyboards wat die agtergrond vul.  Ja, Jim wou bekend wees as Poet. Die Rocker as Poet.

Dan moet julle my sien xbox 360 met Guitar Hero ! Die Poet as Rocker.

Soos Andries sê die debat is eintlik maar tong in die kies. Die waarheid is ons is almal ‘n bietjie van alles. Kunstenaars is kreatief en skeppend en vind gewoonlik ‘n uitlaatklep hetsy skilder, sing, skryf, dig of toneelspeel. Dit is opmerklik hoeveel digters musikale agtergrond het. ( Louanne Stone, Pieter Hugo?, Maruis Swart het ek op “Noot vir Noot gesien, Niel van Deventer , Hunter K ,is die waarvan ek weet uit NS4) Ek teoretiseer nogal daaroor; Skaak wonderkinders is gewoonlik ook Musikaal en Wiskundig talentvol, ek wil beweer hulle sal ook digterlik talentvol wees. EK glo dit het te doen met talente in; ritme, metrum, herhaling, patroon herkening, vorm, struktuur, analitiese vermoë ens.  wat neerslag vind in Skaak speel, Wiskundige probleem oplossing en uiteraard Musiek.

Om aan te sluit by Andries hier is my eie blues song (Annie Rok jagter neem kennis):

 Vrystaat kruispaaie-‘n blues song

 

 Van veraf  lyk hy soos ‘n lang maer kraai

en soos vlerke klap sy jas in die wind

en sy stewels kap kloue knars in die gruis

akkedisse skarrel geskrikte krokkedille weg

wolk skadus draai soos vlieënde haaie.

 

Refrein

 

Die stilte waai agterna toe hy voor my staan

glimlag sy poeding Leonardo de Caprio gesig

daaronder grinnik ‘n pok gru Jack Nicholson

muskeljaatkatte en rooikatte dog dis al aand.

 

Refrein

 

Dit het stil geword op daai stofpad wat kruis

tussen Voorspoedfontein en Welgedaan

hy het ‘n sigaret aangebied, ek kon sien;

Siener, Profeet, Volksdigter, Hertzogprys.

 

Refrein:

 

Los maar die rympies rym ek wil ruk en rol

met ‘n kitaar riff soos Jimi Hendricks

en ‘n middelrif soos Jim Morrison

gee my ‘n stem soos ‘n Harley Davidson,

‘n pop soos Pamela Anderson

‘n liriek vir ‘n super hit.

 

So neurie ek toe, my eerste lied.

Annie Klopper. Blum het iets anders bedoel, maar kom ons braai

Tuesday, February 23rd, 2010

Jack Parow (© Annie Klopper)

Die meeste van my vriende woon in Kaapstad. Hulle gaan kyk flieks by die Labia, eet die early bird special by Arnold’s in Kloofstraat, koop klere by beide YDE en muwwerige tweedehandse winkels, versamel ou langspeelplate met belaglike omslae, sit op balkonne, sing saam met Die Antwoord en Jack Parow, stage dive by music festivals, rook Marlboro Lights, suig aan die tuite van Jägermeister-bottels, gaan na Fokofpolisiekarkonserte, dans op die musiek van The Wedding DJ’s by Assembly, ry in bome vas, surf oor naweke, draf op die promenade, gee R2 vir car guards, kry verkeersboetes, benodig nuwe ruitveërs, kyk e-posse op BlackBerry’s, blog oor straatkuns, eet rocket in slaai, blaai soms verveeld deur die Vice-tydskrif, kyk oor en oor (en oor) The Big Lebowski, verloor gereeld hulle selfone en is bereid om te betaal vir geel-en-pers sneakers. Die meeste van my vriende lees nie gedigte nie.

Maar ék lees gedigte en dit het gelukkig nog nooit tussen my en my vriende gekom nie. 

Ek meen nie dat geel-en-pers sneakers en ‘n voorliefde vir Jack Parow jou outomaties in ‘n ander kamp as die deursnee-digliefhebber plaas nie. Allesbehalwe. Maar as dit so is dat die mens ’n oerbehoefte het aan vers en klank, vervul die meerderheid mense wat ek ken genoemde behoefte met musiek. En hoekom dan nou nie?

Daar is natuurlik tye wat ek wens meer van my vriende lees gedigte. Soos terwyl ek op ’n stoep by ’n deurnagpartytjie sit en ’n gedeelte van Peter Blum (1925 - 1990) se “Drosterhonde bo Oranjesig” in my agterkop resoneer:

Vannag klink hulle deurmekaar geblaf
wild-vreesaanjaend van die hoër hang
se digte dennebosse af

[...]

Wat kan hul tog makeer? Is hulle dol?

(© Peter Blum)

En selfs al weet ek Blum het iets heel anders bedoel, skryf ek tog:

 ’n deurnagbraai in Oranjezicht

met Oros en vodka veg ons teen die daglig
en dros ons soos honde in Oranjezicht
ons wys tande en gooi ons koppe terug
teen die duifgrys glasure van die eerste lig

ons vyl ons tonge skerp teen growwe woorde,
ys klingel kil teen die dawerende akkoorde
van ons uitrafelende strontpraatsinode –
deur die donker omsingel, is ons die nag se gode

of net rompies en bene en longe en leuens
en stompies en biere en wyfies en reuns
wat blaf en sug en gluur en kreun
teen die eerste sig van oranje lig

(© Annie Klopper)