Posts Tagged ‘Nuwe Stemme’

Onderhoude: Nuwe Stemme 5 digters (1)

Monday, June 3rd, 2013

 

ONDERHOUDE (Nuwe Stemme 5) : Joan-Mari Barendse,  Jaco Barnard-Naudé, Gerhard Bothma, Neil Cochrane, Adriaan Coetzee en Oloff de Wet.

deur Louis Esterhuizen

 

 Joan-Mari Barendse

Joan-Mari Barendse

Toe ek agt maande oud was, het my gesin vanaf Pretoria verhuis na ’n plasie tussen George en Knysna. Dáár het ek ’n voorliefde ontwikkel vir berge, woude en wolke. Na skool is ek Stellenbosch toe waar ek gestudeer het, vir ’n paar jaar gewerk het, en toe weer gestudeer het. Ek het my doktorsgraad, wat handel oor distopiese toekomsromans in Afrikaans, in Maart 2013 ontvang. Tans is ek ’n nadoktorale navorsingsgenoot in Afrikaanse letterkunde by die Departement Afrikaans en Nederlands, Stellenbosch Universiteit.

Ek was van kleins af gedurig aan die lees en skryf. Dit is moeilik om te sê wanneer ek spesifiek poësie begin skryf het. Op skool het ek sulke groot swart boeke volgeskryf met stories, aanhalings, gedigte en vreeslike diep filosofiese gedagtes. Ek het skoon angstig geraak as ek nie een van my boeke by my gehad het nie (deesdae is ’n klein notaboekie in my handsak darem genoeg). Skryf is iets wat ek begin doen het sonder om regtig daaroor te dink. Ek het baie skrywendes dit al hoor sê. Ek vermoed dat skryf geneties of verslawend of iets is. Sommige mense móét marathons hardloop, ander móét skryf. Ek het al ’n paar keer probeer om op te hou skryf, geïntimideer deur dit wat ek as letterkundige navorser bestudeer. Dan sien of hoor ek iets as ek in die straat afstap wat ek tog maar móét neerpen, want, wie weet, dalk kan dit ’n gedig of storie word… 

In 2002 en 2003 is enkele van my gedigte opgeneem in die studentepublikasie Penseel. Dit is vir my redelik maklik om ander mense se werk te beoordeel en te verbeter. Die beoordeling van my eie skryfwerk is ’n bietjie moeiliker. Dat my gedigte genoeg uitgestaan het om ingesluit te word in Nuwe Stemme 5 is vir my ’n groot aanmoediging om harder te werk en meer te skryf. Ek is verder beïndruk met die kwaliteit van die gedigte van die ander digters in die bundel. Ek voel geëerd dat my werk naas hulle s’n verskyn.  

Tafelberg trek nou al by die 5de Nuwe Stemme. Daar is dus genoeg mense wat in Afrikaans dig (en hopelik genoeg wat Afrikaanse gedigte lees!). Soos ek reeds genoem het, is daar belowende digters in die bundel. Die Afrikaanse digkuns is beslis nie besig om te stagneer nie.

Ek glo nie daar is iets soos ’n “volmaakte vers” nie. Die digkuns is juis spesiaal omdat dit soveel vorme aanneem. Ek het wel nog altyd bewondering gehad vir Wilma Stockenström se verbeeldingryke en slim gedigte. Die volgende een laat my altyd glimlag:

 

Kraak die aardbol langs ’n naat

oop en dop maar uit – jy sal vind

drie myte en ’n groterige kewer

rooi van magma en doodverskrik.

Maar moenie worry nie. Alles werk

ten goede mee. Laat die vuurvloei

uitloop in die al en op die sterretjies

drup-drup. Skud goed. Gom nou

die helftes stewig vas en, siedaar,

die nuwe aarde, lig, leeg, lief.

 

Niks om na te delf, niks te splyt,

niks meer te beskryf of uit te lê.

Die kewer spartel in die melkweg

en die myte verdwyn spoedig in die buik

van wording. O aansienlik intelligenter

as die myt mens, skepper van leegheid,

was jy maar reg aan die begin en nie

sommer somewhere in die groot proses nie,

nè, ma se grootman? Ma se snaaksie

hou sy handjies bak en vra bol, ma.

 

***

 

Jaco Barnard-Naudé

Jaco Barnard-Naudé

Ek is gebore in Pretoria aan die einde van die sewentigs. Meestal traumaties skoolgegaan in Brits in die Noordwes Provinsie (toe nog Transvaal) en daarna gelees vir ‘n BCom (Regte) en LLB aan die Universiteit van Pretoria (UP), met uitvoerende musiek deurlopend as byvak (my instrument is die tjello). Ek het drome gehad van professionele tjellis word, maar gou besef dat ek nie die persoonlikheid vir daardie soort lewe het nie. Tans is ek professor in die Departement Privaatreg aan die regsfakulteit van die Universiteit van Kaapstad, waar ek werk sedert 2004. Na voorgraadse studies het ek my kortstondig in die prokureurspraktyk in Johannesburg begeef, maar die korporatiewe wêreld is en was nie vir my nie. Toe skryf ek in 2003 in vir ‘n doktorsgraad in kritiese regsfilosofie (ook aan die UP) en skuif Kaap toe. Nou gee ek filosofieklasse vir (meestal onwillige) regstudente en is so 31 jaar weg van aftrede – skrikwekkend. Ek spandeer ook deesdae ‘n gedeelte van my jaar in Londen waar ek die voorreg geniet om as ere-navorsingsgenoot by die Birkbeck Instituut vir die Geesteswetenskappe te werk. Dis ‘n wonderlike plek, omgeef met die flambojante persona van Slavoj Zizek wat die internasionale direkteur van die Instituut is, so ons sit selde daar sonder ‘n nuwe uitdaging om oor iets te dink. 

Ek het in standerd 8 begin skryf. Afrikaanse onderwyseresse en onbeskikbare geliefdes het heelwat daarmee te doen gehad. Aan die einde van my standerd 9-jaar, ná (onder andere) ‘n pateties-mislukte (moontlik gewelddadige) poging tot ‘n liefdesverhouding met ‘n straight man, skryf ek ‘n klomp swak gedigte (as mens dit enigsins gedigte sou kon noem) op ‘n ou tikmasjien in my koshuiskamer op Brits. Ek stuur dit vir Tafelberg, verbeel my ek is ‘n latter day Annesu De Vos. Maande later kom die manuskrip terug met ‘n wonderlike, simpatieke dekbrief op die Tafelberg-briefhoof, onderteken deur Nélleke De Jager, waarin sy aandui dat alhoewel die manuskrip nie publiseerbaar is nie, het Charles Fryer (op daardie stadium hoof van fiksie, dink ek, by Tafelberg) in potlood aantekeninge / kommentaar op die manuskrip aangebring. Daardie manuskrip met Fryer se (soms skerp, ongenadige) kommentaar in potlood aangebring in die kantlyn van elke enkele gedig is nie net my kosbaarste besitting nie – dit het my oor jare heen aangemoedig om by die digkuns te bly, met ander woorde, wat ek probeer sê is dat daardie gebeure ‘n soort deurslaggewendheid gebring het. En hoop.

Ek het al so hier en daar (meestal op LitNet) gedigte gepubliseer. Om in Nuwe Stemme 5 te publiseer is nog effe onwerklik, amper asof dit nie ek is wat daarin publiseer nie, maar ‘n ánder Jaco Barnard-Naudé. As ek hy was sou ek gesê het dat dit ‘n wonderlike, leersame, opwindende, angswekkende, gelukkige, uitputtende, belonende ervaring is.

Met die Afrikaanse digkuns gaan dit goed. Ons baklei en stry, beledig en komplimenteer, val uit, maak weer op, stem heftig saam, dans, beskryf dié een as ‘n adder en daai een as ‘n engel en môre ruil die rolle weer om. Ons rou vir dié wat heengaan, applaudiseer die pryswenners (meestal) – dis lewenslustig, nogal uitbundig en selfs ruimhartig. Elke keer as iets in die Afrikaanse digkuns verloor word kom soveel nuwe dinge aan om dit te vervang. Kyk nou maar na die eerste Dancing In Other Words-fees by Spier nou die dag. Die energie van ons digkuns is ongelooflik. Maar daar is ook groot uitdagings. Hoe kry ons die Twitter-geslag om poësie (nie rymelary of banale lirieke nie) te lees? Hoe kry ons hulle om na gesprekke en lesings oor die digkuns te gaan luister en daaraan deel te neem? Hoe kry ons hulle om ‘n eie, oorspronklike, nuwe stem te vestig téén intellektuele intimidasie en die dogmatiese opwekking van die tradisie? Met ander woorde, hoe de hel kry jy hulle om passievol produktief-transgressief te wees, gegewe die apatie van die heersende verbruikerskultuur aan die een kant en die verlammende uitwerking van die fallies/gewelddadige nom du père, aan die ander kant? Hoe kry ons (meer van) hulle om Afrikaanse poësie op universiteitsvlak as kursus te neem? Ek dink dit is uiters moeilik, maar darem nie onmoontlik nie. Waar ‘n wil is…

Was dit Ingrid Jonker wat in ‘n ander konteks geskryf het, daar is net een vir altyd? En dit is vir my onteenseglik Eybers se relatief onbekende gedig getiteld “Voortgang” (uit Verbruikersverse (1997). Dis miskien nie dié volmaakte Eybers-vers in die objektiewe sin nie, maar in die subjektief-eksistensiële sin is dit vir my ‘n gedig wat my lewensbeskouing nou al vir ‘n geruime tyd oorheers en ek vermoed sal bly oorheers, tot tyd en wyl:

 

Voortgang

 

Onverhoeds en verbasend kom jy op slag

deur ‘n samespel van beloning en straf.

By gebrek aan ‘n deugdelike alternatief

durf jy die dag aan, al is dit nie iets

wat jy uit eie beweging sou kies.

Jy neem elke verdraaglike prikkel vir lief,

keer op keer waag jy jou selfs in die nag

en bring dit sowaar daar nog heelhuids van af.

Voortgang gaan voort. Aan die end van die tog

klink jou klaarste bevinding: kyk, hier is ek nog.

Hier het een voordeel: dat jy dit ken

al kos dit ‘n leeftyd om daaraan te wen,

banneling gebore. Vergeefs moet jy raai

wáárom alles per slot van rekening draai.

 

*** 

 

Gerhard Bothma

Gerhard Bothma

Ek is 39 jaar gelede gebore op Worcester. Het grootgeword op Caledon in die hart van die Overberg. Na matriek en diensplig maar redelik rondgeval op soek na ʼn plek in die wêreld; verskeie beroepe gevolg, onder andere poskantoorklerk, ontvangspersoon by ʼn hospitaal, stemwerwer vir ʼn stilgebore politieke party en praatjies gelewer vir ʼn gemeenskapsradiostasie; ʼn paar jaar in Ierland deurgebring, toe in Pretoria en nou rus gevind in Kaapstad. Besig met nagraadse studies in sielkunde.

Ek was maar ʼn eenkantkind wat vroeg reeds my toevlug tot die verbeeldingswêreld en boeke geneem het. Albei my ouers is lief vir lees en het daardie liefde aan my oorgedra. My ma het aan Leserskring behoort en destyds was daar ook ʼn kinderafdeling onder Daan Retief uitgewers. Elke maand se boekpakkie in die pos was ʼn groot gebeurtenis.

Later was ek ʼn gereelde besoeker aan die Caledon biblioteek waar ek Karel Schoeman “ontdek” het. Sy vermoë om atmosfeer te skep, die outsider karakters, sy gedetailleerde beskrywings van die alledaagse lewe in vroeër tye, het my aangetrek. In my eerste skryfpogings – kortverhale en novelles -het ek hom dan ook probeer nadoen. En bedroë daarvan afgekom.

Ek dink ek het eers in my vroeë twintigs werklik poësie begin lees en dadelik aangevoel dat hier ʼn medium is waarin ek dalk my eie verwarde gewaarwordings kan uitdruk. Breyten Breytenbach, Wilma Stockenstrom, T.T Cloete was aan die begin die groot vuurstokers. Later die drie ou meesters, Eybers, Opperman en Van Wyk Louw. Vir my eerste verse het ek hoofsaaklik inspirasie gaan soek in die Overbergse landskap, waar die son in die somer so tydsaam kan sak en daardie naamlose verlange sommer so met die skemer en die stilte deur die koringlande aankom.

Maar ek was nog nie werklik ryp genoeg vir skryf nie en moes eers ʼn bietjie meer lewenservaring opdoen, en natuurlik lees, en het die skrywery maar redelik sporadies aangepak totdat ek in my middel dertigs ernstiger pogings begin aanwend het.

Nuwe Stemme 5 is my eerste publikasie. Ek was baie verras en opgewonde toe die boodskap kom dat ek gekies is om aan die facebook gespreksgroep deel te neem. Deur die hele proses het ek baie geleer, veral by die werkswinkel met Loftus en Heilna waar ons verse, hoofsaaklik ten opsigte van tegniese aspekte, krities bespreek is. Vir ʼn ontwikkelende skrywer is so iets van groot waarde.

Om in Nuwe Stemme opgeneem te word is vir my ʼn reuse eer. Die erkenning bevestig dat daar potensiaal in my pogings is en dat dit die moeite werd sal wees om aan te hou probeer.           

Tans heers daar ‘n tyd van opbloei in ons digkuns met ‘n ongekende hoeveelheid bundels wat elke jaar verskyn, sowel as nuwe digters wat vir die eerste keer publiseer. Dit is natuurlik goed vir die voortbestaan van Afrikaans en ook omdat soveel uiteenlopende stemme ‘n geskakeerde beeld gee van die Afrikaanse leef- en geesteswêreld. 

Oor die gehalte en waarde van dit wat verskyn voel ek my nie gekwalifiseer om ‘n gesaghebbende oordeel te fel nie. Daar is baie wat ek van hou en geniet, tog wil dit voorkom asof daar soms by digters te veel van ‘n oppervlakkige tipe vers gevind word; ‘n gedig wat tegnies goed versorg is, suksesvolle beelde gebruik, maar nie veel dieper as mooi beskrywing gaan nie. Of is hierdie tipe vers juis die simbolisering van ‘n post-moderne verbruikerskultuur waar alles gaan oor uiterlike vorm maar arm bly aan geestelike inhoud?         

ʼn Voorbeeld van ʼn “volmaakte vers”? Dis ‘n moeilike een, maar ‘n vers wat ek nou skielik weer onthou is “Die dooie diere” van Sheila Cussons, uit haar bundel Die skitterende wond:

 

‘n Huis staan hoog met ruite wintervuur

die rookgeel tuin suig aan sy skaduwees

en binne rol drie kinders warm van die lag

hulle ronde lywe oor die geel vel van ‘n leeu

 

en dan ‘n ander huis, ‘n dooie vrugteboord

en winter weer

en ‘n dol hond met ‘n blaaslamp-tong

wat teen die heining sy springende pote

loeiend om verlossing skuur.

 

En soms in rustelose droom

soek ‘n vergiftigde hond snuffelend na sy bloed

oor ‘n koue grond wat snouend na my voete hap

rys stadig onder die slapende lywe

van kinders moeg gespeel

die geel rug van ‘n leeu met oë wintervuur.

 

***

 

Neil Cochrane 

Neil Cochrane

Ek het aan die Universiteit van Pretoria in die Uitgewerswese en Afrikaanse letterkunde studeer. Ek is tans ’n dosent in die Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika.  Ek hou my die meeste van die tyd met die Afrikaanse letterkunde besig – referate, resensies, artikels  en lesingmateriaal. Ek bly my hele lewe lank in Pretoria – behalwe toe ek vir twee jaar in Pole Afrikaans doseer het.  Ek is enkellopend – die mees sinvolle verhouding wat ek  tans het, is met my Franse bulhond, Jojo. Ek is ’n  kranige tennispeler en wonder dikwels waarom daar byna geen gedigte oor tennis in die Afrikaanse letterkunde bestaan nie. Tennis bied wonderlike metafore om digterskap te beskryf…

Soos die meeste seker, het ek op hoërskool begin om gedigte te skryf. Dit was bloot ’n vorm van terapie en uitdrukkingsmiddel vir my storm-en-drang en adolessente hormone. Ek het al my pogings gebêre in  ’n flip file wat ek nou nog het. As ek die dag lekker wil lag, kyk ek weer daarna. Dit is ongelooflik hoe nederig dit jou maak om na jou vorige pogings te kyk, maar meer interessant besef jy – ek het so baie sedertdien beleef en ek kan of wil nooit weer terugkeer na hoe ek toe was nie. Ek is iemand wat regtig glo dat ervaring en poësie hand  aan hand loop – sonder intense, wonderlike en onstellende ervarings sal ek dit moeilik vind om te dig.

Ek het nie eintlik inspirerende onderwysers op skool gehad wat my passie vir die poësie aangewakker het nie. Skool was maar vir my ’n oninspirerende ervaring, behalwe vir juffrou Lynn wat vir my Duits gegee het. Sy het vir ons Duitse gedigte van Rilke, von Hoffmansthal en Goethe uit ons koppe laat leer – dit het my baie geleer oor ritme – elke taal het ’n  ritme wat die beste in sy poësie neerslag vind. Ek is ’n ewige romantikus en sensualis – die Duitse poësie wat ons behandel het, het so reg in my kraal gepas – perde wat doodgeslaan word, vasgekeerde diere in dieretuine en singende voëls in woude.

My passie vir die poësie is eers op universiteit aangevuur – hier wil ek graag vir Karen de Wet uitsonder. Sy was ’n uitstekende dosent wat gedigte vir jou kon ontsluit. Sy het werklik my belangstelling en entoesiasme geprikkel. Eintlik wou ek nooit in die Afrikaanse letterkunde studeer nie – ek wou ’n prokureur word wat boedels en egskeidings hanteer, maar De Wet se lesings het my anders oortuig. Daar was ook ander dosente by Tuks by wie ek ontsettend veel geleer het oor die poësie en die Afrikaanse letterkunde – Reneé Marais, Piet Roodt, Elsa Nolte en Heinrich Ohlhoff

Ek het al voorheen hier en daar in literêre tydskrifte gepubliseer. Ek is nie baie produktief nie – het baie idees en notatjies, maar gedigte is maar so skottelgoedwas – jy moet dit doodeenvoudig DOEN ook. Ek hou ook van netjies, afgeronde verse – ek kan nogal my natuurlike neiging tot obsessiewe-kompulsiewe gedrag oordra na die skryf van gedigte – ek word moeilik tevrede gestel. Al die eindelose gepieker oor ’n vers neem ongelukkig baie tyd in beslag.

Vir my is Nuwe Stemme 5 ’n  goeie motivering om groter erns met my digterskap te maak. Ek het so bietjie die selfvertwyfeling besweer en ek is nou meer gemotiveerd om my notaboekies nader te sleep. Tog moet ’n  mens soos met alles in die lewe jou “prestasies” relativeer – dit is goed, maar nou is dit ook verby. Daar is nog baie gedigte wat geskryf moet kom… en swak gedigte wat ’n mechanic of psigiater moet gaan sien.

My gevoel oor die stand van die digkuns? Ek vind dit altyd interessant dat hierdie vraag oor en oor opduik – moet digkuns ooit op ’n  bepaalde manier daaruit sien?   Wat is die kriteria om goed daaruit te sien? Hoeveelheid publikasies? Aantal nuwe stemme? Vlak van eksperimentering? Tematiese variasie?

Gedigte is ’n  uiters persoonlike, nederige en uiters narsistiese bedryf – ek dink jy is gelukkig as jy ooit jou gedigte iewers gepubliseer kan kry – of as iemand ooit die lus het om jou selfobsessies te lees. Eintlik dig jy maar net vir jouself – nie om enige sisteem of nasionale digkuns in stand te hou nie. Dit is vir my baie belangrik om die digkuns te relativeer – dit is seker een van die kunsvorme waarin mense die minste belangstel. Dit is makliker om iemand te oorreed om na ’n simfoniekonsert of visuele kunsuitstalling te gaan as om ’n digbundel te koop (en boonop te lees).  Die argument is nog meer geldig vir die Afrikaanse digkuns – dit  funksioneer binne ’n sisteem waarin ’n handjievol mense dit toegewyd bevorder, terwyl die res gefassineerd dans op die ritmes van nog ’n nuwe Afrikaanse „song“ wat „stunning“ is.

ʼn Gunstelingvers? Sjoe, dis moeilik. Daar is so baie – hulle is volmaak weens verskeie redes. Tegnies gesproke moet ek die verse van Elisabeth Eybers uitsonder  – elke woord in haar verse pas perfek. Sensueel gesproke hou ek van Ina Rousseau en Sheila Cussons. Daar is ’n gedig van Ina Rousseau wat vir my baie mooi is – “Jan”:

 

Jan

 

Terwyl sy vir haar gesin ’n  broodjie

van water en witmeel maak,

dink sy weer aan ’n  man met die naam

Jan. Hoe hy eens op ’n tyd ’n baadjie

gedra het van bruin riffelferweel

en die woord dadelik

stukkend gebreek het tot drie enkelklanke

een dodelike stormdonker dag. So: daa-de-lik –

en sy gedink het, aanvanklik, sy stil blik

is onskadelik. Sy plaas die pan

In die oond en gaan na die hoofslaapkamer.

Baie stadig kam sy haar hare

terwyl sy deur die raam

na die sonsondergang staar.

So baie herinneringe,

so baie baie herinneringe deur so baie jare

van haar bestaan,

aan ’n man met die naam

 

Jan-

 

Die rede waarom ek so baie van dié vers hou, is omdat dit my opvattinge oor geslaagde poësie so goed opsom – EENVOUD, konkrete beelde, direktheid, eerlikheid, aardse sensualiteit en onderliggende, intense (dog beheerde) emosie. Dit is vir my beeldskoon as ’n vers kompak is en sê wat dit wil sê. Ek hou nie van uitgesponne verse wat net mals voortbeweeg nie. Een van die dinge wat ek so interessant gevind het van die Nuwe Stemme 5 ervaring was die uiteenlopende opinies, opvattinge en perspektiewe – waarvan een hou, haat die ander – die belangrikste is dat jy na almal luister, maar die moed van oortuiging sal hê om by jou opvattinge (ook oor jou eie verse) te bly – veral as iemand van jou verskil – dit is net nog `ʼn opinie wat bes moontlik gaan verskil van iemand anders s’n. Daarom kan ’n mens poësie nooit sien as ’n baas om gelukkig te hou nie.

 

***

 

Adriaan Coetzee

Adriaan Coetzee

Ek het laerskool en hoërskool klaargekry, R4,400 se slegte skuld opgestapel by Wits en probeer my ruggraat Cum suis in die wêreld behaal. Verder het ek my eerste psigiater se emigrasie help befonds (no brain drain there) en span nou met my tweede saam vir haar droomhuis ’n wonderlike klippie van die see af. As werker het ek al hubares help onthaar in die heuwels, saam die direksie skunk gerook in Camden Town se raadsale, masjiene herstel wat verbruikersverhoë poets en ander dinge waarop ’n ma erg kan trots wees. Afgesien van myself tans voordoen as kranige tuinier lê ek meestal op my vrou se nek en skend my kinders emosioneel. Dit geskied alles op Sterkfontein. Die naburige landgoedere se perdestalle is groter as ons plot se huis. Gelukkig is ek nou amptelik ’n digter so “armoede” is iets van die verlede. Maar voor hierdie kort biografiese skets in ’n epiese manuskrip ontaard sal ek dinge hier moet kortknip. O ja, ek pleeg soms ’n noemenswaardige vers- nee, dit lieg ek! Almal is kostelik, vra my onmiddellikes, hulle is tandetrekkers van statuur.

Hoe en waar die passie vir poësie? Iets van op pad na ’n vrou se hart met verbete vlerkslag om die droom van sterwe te haal. Of dit of Shakespeare op skool. Toe was Breyten net-net nog ’n terroris. In Engels is ons bietjie Serote gegun. En daarna begin jy aktief aan jouself leesstof voorskryf. Ek het eers in 1999 in Londen besluit om in Afrikaans te dig.

Ek het al voorheen in New Coin gepubliseer. Dit is ‘n besonderse voorreg om in Nuwe Stemme 5 te debuteer. My eerste Nuwe Stemme het ‘n groen omslag (en rooi streep?) maar is voorlopig skoonveld. Dit sal insiggewend wees om weer te kyk wie daarin gedebuteer en sedertdien aanbeweeg het na groter en beter dinge in die letterkunde. My soektog het darem weer my Eleven Plays of William Butler Yeats opgelewer. Ek het dit by die eerste KKNK vir R15 gekoop. Boklied was ‘n belewenis. Ek het die hele vertoning aan bomskok gelei want die terroris en sy vrou het reg agter ons gesit.

Ek voel die Afrikaanse digkuns is ongewaardeer onder die jelly babies in die potjie aan die einde van die reënboog. En baie sit en sug asof digters, maar ook skrywers in die algemeen, se tjank so maklik afgetrap word. Hoe moeilik kan dit nou werklik wees om jou siel aan die duiwel te verkoop in ’n wêreld waar almal se beursies vanselfsprekend 23.4 grade gekantel is?

“Die volmaakte vers” is ’n gedig met een oordadige lettergreep …Was die “Laaste Avondmaal” nie die perfekte sonnet nie? Nee, in alle erns, die volmaakte vers verlang dat een enkele stem groter is as die digkuns self en daarvoor is die muse te veel van ’n flerrie. Die kriteria waarby ek sal volstaan vir gedigte wat naby so iets kom is woorde wat jou met ’n gesonde soort jaloesie oorweldig. So gedig vir my is bv. die volgende:

 

Die rede vir lug

 

die hadeda het olie-ogies

(’n geweermetaalgrys vraagtekenvoël)

hy prik afgemete

die gemanikuurde grasperk

 

boontoe, in boomtoppe

sit kras swartwit kraaie

wagtend op nesduiwe

om hul waaksaam te verslap

 

boontoe steeds, dieper in die blou

bo pelikane wat huiswaarts bons

word die lug gespikkel

met fletsende swaels

 

heel bo, in hoogste strata

sirkel roofvoëls

in die volvoering

van gevleuelde lae

 

en ’n boeingstert halveer die lug

 

 

(deur André van der Merwe)

 

***

 

Oloff de Wet

Oloff de Wet

Ek het grootgeword in Vryheid in Natal en het later teruggekeer na KwaZulu-Natal om skool te hou by ‘n skooltjie genaamd Amandla! Daar het ek by die induna toestemming gekry om ‘n huisie by die meer te bou, en die soldate het nie omgegee as mens nou en dan deur die grensdraad klim en bier in Mosambiek gaan drink nie. Ek was jare lank ‘n student – in verskeie rigtings – eers om die weermag te vermy en toe om werk te vermy. En tussendeur het die broederskap  soms maande lank in Afrika met ‘n ou Hilux rondgery.  Maar eindelik het ek by wiskunde vasgehaak en so baie daarvan gehou dat ek dit nege jaar lank op arme studente in Pretoria afgedwing het. Tans is ek egter ‘n sweiser: ek en my broer ontwerp en bou ‘n aluminium seiljag in Kaapstad, en as dit klaar is gaan ek my girlfriend vra om saam te kom, dan seil ons windaf.

Daar was ‘n ou (en dus klein) Groot Verseboek in my ouerhuis wat my geïnspireer het. Nuwe Stemme 5 is my eerste publikasie en daaroor is ek in my noppies. Ek dink die Afrikaanse digkuns  sukkel, soos alle kontemporêre kuns, om ‘n balans te kry tussen toeganklikheid en kwaliteit.

My persoonlike gunstelingvers:

“En nou het die more my

oor die rand van sy glas gemors”

 

***

 Vervolg by Nuwe Stemme 5 (2)

 

Onderhoude: Nuwe Stemme 5 digters (2)

Monday, June 3rd, 2013

 

ONDERHOUDE ( NUWE STEMME 5) : Izak du Plessis, Ihette Jacobs, Wicus Luwes, Desmond Painter, Pieter Odendaal, en Alwyn Roux

 deur Louis Esterhuizen

 

Izak du Plessis

Izak du Plessis

Ek het ʼn huisie in Melville, Johannesburg, maar my bed is altyd opgemaak omdat ek ʼn vrysinnige rondslaper is. In Jozi is dit nie moeilik nie, want hier is talle rusbanke waar ʼn rondloper soos ek my kop kan neerlê. Ek is hartstogtelik lief vir Jozi. Sy is die mooiste stad in die wêreld. Daarom sal jy my soggens vroeg en skemer se kant êrens op ʼn koppie kry besig om my te verwonder aan die son wat besig is om hierdie stad in te kleur. Soms is die dag ʼn geel sambreel, anderdag ʼn grys jas en môre ʼn pienk tuinhoed. Elke dag is ʼn ander kleur. Elke dag ʼn ander storie. Stories is die sin van my lewe. Daarom geniet ek my werk by Monitor en Spektrum. Hier leef ek elke dag in ʼn storieveld waar ek handevol stories soos grashalms pluk.

Die passie vir die digkuns begin in standerd 9 in 1986 toe ek vir die eerste keer “My venster is ʼn blanke vlak” van NP van Wyk Louw gelees het. Die volmaaktheid van die gedig in alle opsigte het my met die eerste lees getref. Ek streef nou nog daarna om eendag so ʼn gedig te skryf.

Ek het al ʼn handvol gedigte op Litnet gepubliseer. Maar my grootste prestasie is Nuwe Stemme 5. Daar is gedigte met treffende beelde in die hedendaagse Afrikaanse digkuns. Beelde wat mens aan die oog en hart gryp. Maar ek mis die ritme, die stylvolheid, die struktuur, die rym, die grootsheid, die dramatiese en selfs die aandoenerigheid van vroeër jare se digkuns. 

 

My venster is ’n blanke vlak

NP Van Wyk Louw

 

My venster is ’n blanke vlak

in skaduwee en skemering,

waar ek my nagte waak en wag

op magiese deursuiwering:

 

dat hierdie siel deursigtig word

in vreemde voorgevoelde lig,

tot kring bo kring opglans en straal

in eindelose vergesig;

 

dat wat ek nog verlore waan,

o my verlore dae in my,

in hierdie stille skemering

hul vorming en gestalte kry,

 

tot ek my eensaamheid besit,

volmaak, as kosbare gewin,

van duister wense en van smart

die uiterste deurstraalde sin.

 

***

 

Ihette Jacobs

Ihette Jacobs

Letterkunde was nog altyd ʼn belangrike deel van my lewe. Ek het besluit om ʼn loopbaan daarvan te maak en is tans ʼn dosent in Afrikaanse letterkunde by Unisa. Ek is besig met ʼn PhD en voel dit is ʼn groot voorreg om te kan werk met dit waarvoor ek lief is. Ek is ʼn groot aanhanger van teater, ballet, Mozart en Leonard Cohen, en natuurlik lees ek ook baie.

Ek lees poësie vir solank as wat ek kan onthou. Kleintyd het ek graag gedigte vir myself voorgelees, dit was vir my wonderlik om te hoor hoe dit klink en die woorde te voel, al het ek nog glad nie ʼn begrip gehad van die betekenis daarvan nie. Om gedigte te skryf is vir my ʼn natuurlike uitvloeisel van my liefde vir die poësie se vermoë om die mistieke oomblikke waarin taal, intellek, betekenis en emosie saamvloei en uitwaaier, moontlik te maak.

Hierdie is my eerste publikasie en om deel te wees van die Nuwe Stemme 5-groep het my tot insig gebring in my eie digkuns en digproses. Kritiek van die groep en keurders laat mens telkens terugkeer na die gedigte om dit te herdink en herskryf. Die bewuswording van die skryf van poësie as ʼn proses, wat dikwels gepaardgaan met ʼn liefde-haat-verhouding met die gedigte, het ʼn vormende effek. Dit is ook ʼn baie positiewe gevoel om die erkenning te kry in die vorm van publikasie – dit spoor “nuwe stemme” in die digkuns aan om aan te hou skryf.

Ek dink dat die Afrikaanse poësie ʼn paar sterk nuwe stemme het, maar ek verlang na die dae van intellektuele digtersfigure soos N.P. van Wyk Louw, of die vars uitdagendheid – en terselfdertyd teerheid – van ʼn Antjie Krog-gedig.

ʼn Gunstelingvers? Daar is so baie, dit is ʼn onmoontlike taak om net één gunsteling te kies: Antjie Krog se “skryfode” (onder vele andere); N.P. van Wyk Louw se “Groot ode”, “Jy’t weggegaan” en “Armed vision”; al H.J. Pieterse se gedigte in Die burg van hertog Bloubaard; die gedigte van Pablo Neruda; en die eerste gedig waarop ek verlief geraak het – ʼn gedig wat steeds vir my met elke lees weer nuut en mooier en meer betekenisvol word – Breytenbach se “nagmaal”. As ek werklik net een moet uitsonder, sal dit N.P. van Wyk Louw se “Jy’t weggegaan” wees, omdat daar met net agt reëls ʼn ewigheid se dinge gesê (en nie-gesê) word:

 

Jy’t weggegaan en jy bewoon

ʼn silwer herberg in die sneeu

jou vensters kyk nog elke nag

met drie blink oë na die plein

 

die plein is boom en wind en boom

en wind en wind

en wintermiddag voer daar iemand

die meeue krummels teen die wind

 

***

 

Wicus Luwes

Wicus Luwes

Ek het grootgeword op Trompsburg in die Vrystaat en Barkly-Wes in die Noord-Kaap. My ouers was onderwysers wat later in die versekeringsbedryf ingegaan het. My Matriek skryf ek aan die Hoërskool Vaalrivier in Barkly-wes (naby Kimberley). Dit was lekker om in klein dorpe groot te word, waar dit moontlik is/was om kafee toe te loop sonder vrees. Dit is ook te danke aan die klein dorpies dat ek my hand aan enigiets van tennis en swem tot toneelspel en kitaarlesse kon sit. Na skool wou ek sielkunde of teologie gaan swot, maar wou eers ‘n praktiese kursus volg. Ek het dus aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie, Rekenaarstelsels geswot en werk deesdae as rekenaar-tegnikus in die Richardsbaai se hawe. Het al probeer versekering verkoop. Is getroud met Tanya en het twee kleuters wat ons besig hou. Die sielkunde / filosofie / teologie is slegs stokperdjies op hierdie stadium, maar ek sal dit graag verder wil neem.

In 1993 was ek naaswenner in beide De Kat / ATKV se jaarlikse enkel en groep-gedigte vir hoërskool leerlinge. Dit het by my die idee geskep dat ander mense moontlik ook van my versies hou. Ek skryf op my beste wanneer ek eintlik iets anders moet doen – soos leer, of eksamen skryf ens. Ek het my eerste gedig wat ‘n prys gewen het, die AK-droom, in ‘n eksamen-saal geskryf voordat die eksamen begin het. Ek het ‘n afkeur in teveel onnodige woorde en dus bied gedigte die maklikste manier om myself volledig uit te druk. Ek hou van  ‘n ‘oop’ einde en geniet verse wat op meer as een manier verklaar kan word.

My gedigte het al verskyn in Barkly-Wes se maandelikse nuusblad, Die Visarend. Om deel van die groep digters in Nuwe Stemme 5 te wees is werklik ‘n eer en laat my in kleinletters skryf. Dit het my die geleentheid gegee om die saamstellers, Loftus Marais en Heilna du Plooy, te ontmoet, en om baie van die ander digters te kon leer tydens die saamstel-proses. Die proses het my oë anders laat kyk na gedigte en die proses wat ingaan by die saamstel van so ‘n bundel. Die digters wat die Nuwe Stemme 5-werkswinkel bygewoon het, het elkeen ‘n insig gebring tydens die besprekings wat ongelooflik kosbaar was.

Ek is maar ‘n sucker vir die ou verse, maar die nuwe digters se digwerk gee vir my ‘n vars en lewendige gevoel. Ek probeer gereeld deur die onderwerpe van die hedendaagse Afrikaanse gedigte sif om op my manier te probeer vasstel waaroor die huidige Afrikaanse mense wonder. Ek volg ook die Facebook, Versindaba en LitNet-besprekings van tyd tot tyd, maar het nie ‘n definitiewe gunsteling of voorkeur op hierdie stadium nie.

Khalil Gibran se ‘Defeat‘ (Uit: The Madman) het my al laat beter voel na tandarts-afsprake en eksamens. Dit werk ook vir my om oorwinnings of groot geleenthede in perspektief te sien:

 

Defeat, my Defeat, my solitude and my aloofness;

You are dearer to me than a thousand triumphs,

And sweeter to my heart than all worldglory.

Defeat, my Defeat, my deathless courage,

You and I shall laugh together with the storm,

And together we shall dig graves for all that die in us,

And we shall stand in the sun with a will,

And we shall be dangerous.

***

 

Desmond Painter

 

Desmond Painter

Ek is op 30 September 1974 in die Louis Leipoldt hospitaal in Bellville gebore en het in Brackenfell (in die noordelike voorstede van Kaapstad) grootgeword. Geen plaasagtergrond hoegenaamd nie; nie eers plattelandse familie nie: die Hipermark se uitgestrekte, leë parkeerterrein, met stukkies gebreekte glas (iemand het ʼn motorradio gesteel of, soos in daai Koos Prinsloo-verhaal, ʼn koeldrankbottel op die teer gebreek) wat in die son glinster terwyl jy Sondagmiddag met jou maats daar fiets ry, is my pastoraal. Ek voel oor die zoem van BMX-bande oor voorstedelike teer soos Van Wyk Louw gevoel het oor die klank van daardie klein klippie wat in die dorpsdam se donker water plof. Nog eenmaal wil ek…

Na skool is ek na die Universiteit van Stellenbosch, waar ek sielkunde en filosofie voorgraads en sielkunde nagraads gestudeer het. My hoofvakke was sielkunde en filosofie, maar ek het voorgraads darem ook ʼn bietjie letterkunde en politieke wetenskap geswot. Ek was ʼn swak, ongedissiplineerde student, maar het verskriklik baie gelees. Ek het die meeste Afrikaanse klassieke, poësie sowel as prosa, reeds tydens my hoërskooljare gelees (my gunstelinge was Aucamp, Breytenbach en Leroux, en later Koos Prinsloo, vir verskillende redes) en het my universiteitsjare dus gebruik om te ‘internasionaliseer’.

Ek onthou dat ek voorgraads baie Kundera en DeLillo gelees het. En Raymond Carver. En Czeslaw Milosz. Die eksistensialiste (Sartre, Camus, ens.) het my vir ʼn rukkie besig gehou (nadat ek die ou proto-fascis, Jung, gedurende my eerstejaar afgeskud het: thanks for nothing, Etienne Leroux!) en ek het vir ʼn wyle met Derrida en Lacan geflankeer – maar my filosofiese helde in die middel-90’s was Wittgenstein en Foucault. By hulle het ek epistemologiese en politiese kritiek op die sielkunde gevind (deurslaggewend vir my akademiese werk), maar ook meer… glo dit of jy wil of nie, maar ek het beide as (anti-)filosowe van vryheid gelees. Beide bly vir my, elk op sy eie manier, voorbeelde van self-transformasie en, ja, bevryding, nie soseer deur middel van die rasionele denke nie, maar deur middel van skryf – of breër gesien, deur middel van pogings om taal te beliggaam.  

Na my studentejare, in 1999, het ek ʼn loopbaan as sielkundedosent aan die Rhodes Universiteit (eers in Oos-Londen en later in Grahamstad) begin. Ek was bevoorreg om my akademiese loopbaan te kon begin in wat op daardie stadium nog ʼn ‘ouwêreldse’ akademiese omgewing was: Rhodes in die vroeë 2000’s was nog alles behalwe die gekorporatiseerde graadfabriek waarna Suid-Afrikaanse universiteite vandag so streef, en ek mis die ritme van die akademiese lewe gedurende daardie 6 jaar; die tyd wat ek gehad het vir lees en skryf, vir ordentlike akademiese gesprekke.

Sedert 2005 doseer ek sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Ek het teruggekeer omdat ek nie in Grahamstad wou oud word nie… maar ek het darem ʼn Grahamstadse vrou (Claire) met my saamgebring, so ons spandeer nog baie tyd in die lieflike Oos-Kaap. Haar ouers woon op ʼn plaas net buite die dorp – so nou is daar tóg ʼn plaas in die familie… (my dogter sal dus eendag ʼn regte Afrikaanse digter kan word.)

Hoe en waar het die passie vir poësie en die skryf daarvan vir my ontstaan? Wel, ek het Bruce Springsteen se liedjie ‘The River’ in Stander 5 gehoor en toe wou ek net liedjies skryf. Ek het ʼn kitaar gekoop en dit begin speel – maar dit was die lirieke wat my in beweging gebring het… Ek het toe nog nie besef daar is ʼn verhouding tussen die woorde wat mense soos Springsteen sing en poësie nie, maar my eerste ‘gedigte’ was Springsteen-agtige lirieke in Engels. Deur Springsteen het ek Dylan en Jim Morrison ontdek – maar dit was ʼn biografie oor Dylan deur Robert Shelton wat my die verband tussen lirieke en gedigte laat sien het. Skielik was Rimbaud en Eliot deel van my verwysingsveld. Skielik was poësie gevaarlik en wild.  

Vir ʼn wyle was Afrikaans nog nie deel van die aksie nie. Vir sommige van my vriende het Johannes Kerkorrel en kie ʼn ander verhouding met Afrikaanse musiek en letterkunde moontlik gemaak, maar vir my het dit ʼn bietjie anders gebeur. In Standerd 6 het ek tydens ʼn vervelige klasperiode die digtersprofiele voorin my geel Junior Verseboek gelees – en daardie middag het ek summier die Brackenfell Openbare Biblioteek (dit was ʼn goeie biblioteek, is dit dalk steeds) ingevaar om die voormalige terroris breyten breytenbach se bundels uit te neem. Daarna het ek die biblioteek gestroop vir Ernst van Heerden, die liriekbundels van Hennie Aucamp en Anton Goosen, Van Wyk Louw, Krog, ens. Die bibliotekaresse moes die gloed in my oë gesien het, want sy het my selfs toegelaat om die boeke wat destyds nie op die rakke toegelaat is nie, en in haar kantoor in eensame aanhouding was, uit te neem. (André le Roux se Sleep vir jou ʼn stoel nader en Te hel met ouma was op die verbode rak, om een of ander rede.)

Ek het in Standerd 7, 1989 dus, my eerste bundels met my eie sakgeld gekoop. (ʼn Mens kon toe nog Kaapstad toe ry met die trein en ʼn hele dag in boekwinkels en platewinkels spandeer; vandag is die meeste van daardie winkels restaurante en boetieks.) My eerste aankope was BB se Katastrofes, Jan Blom se Lotus, en ‘n Selected Poems van T.S. Eliot. As my boekrak nie so deurmekaar was nie kon ek gou geloer het hoeveel hulle my destyds gekos het. Meer as ʼn maand se sakgeld: ek moes die gras sny om die verskil op te maak!

Op skool en as universiteitstudent het ek baie gedigte (en kortverhale) geskryf, maar ek het iewers in die 1990’s opgehou daarmee. Ek kan nie onthou waarom nie. Een van die gedigte wat in Nuwe Stemme 5 opgeneem is, dateer wel uit my studentejare: ‘Miss Jesus’. Dit was een van ʼn ontsaglike stapel goed wat ek en my vriend Pierre Nortjé geskryf het vir ʼn kabaret – sketse, stukkies toneel, liedjies… Ons was obsessief oor die idee van kabaret, en het alles wat Hennie Aucamp oor die onderwerp geskryf het, verbete gelees. Aucamp was ons held: ons het hom selfs voorgekeer eenkeer toe ons hom op die Kaapstadse stasie gesien het.

Ek weet nie of ‘Miss Jesus’ juis ʼn geslaagde gedig is nie (dit is geskryf om gesing te word), maar ek is spyt dat ons nie deurgedruk het en daardie kabaret voltooi het nie! Ek het na 2009 weer begin gedigte skryf (ek het hulle droedels genoem…), grootliks om legitimiteit te verleen aan my rol as blogger op die Versindaba webblad… Ek het gedink die regte digters gaan sê: ‘Wie gee dié ou die reg om hier te blog, hy’s nie eers ʼn digter nie!’ Wel, vat so, regte digter!  

Nuwe Stemme 5 is die eerste publikasie van my gedigte. In boekvorm, ja. Ek het voorheen enkele gedigte op LitNet gepubliseer, en al die gedigte wat in Nuwe Stemme 5 opgeneem is, het voorheen ook op my Versindaba blog verskyn.  

Die Afrikaanse digkuns soos dit tans daaruit sien, is ongetwyfeld ʼn lewendige scene. Die gevestigde stemme bly aktief en heelparty van die nuwer stemme is baie opwindend.  

Om  ‘n spesiale vers aan te haal wat as ‘n persoonlike gunsteling beskou kan word, is ’n amper onmoontlik… Iets uit Breytenbach se Lotus of Kouevuur? Van Wyk Louw se ‘Ballade van die Nagtelike Ure’? Of dalk een van die bitter liefdesgedigte uit Tristia? Of gedig XIII uit dieselfde bundel! ‘Toe jy kind was, het jy gedink…’ Of dalk, omdat ek hou van ʼn sekere sangerigheid in ʼn gedig, die dronkerige ritme van Roetke se ‘My papa’s waltz’: ‘The whiskey on your breath / Could make a small boy dizzy; / but I hung on like death: / such waltzing was not easy.’ Maar nee, ek gaan op ‘n tegniese punt wegkom daarmee om nie een nie, maar viér gedigte te kies… T.S. Eliot se ‘Preludes’:

 

I

The winter evening settles down

With smell of steaks in passageways.

Six o’clock.

The burnt-out ends of smoky days.

And now a gusty shower wraps

The grimy scraps

Of withered leaves about your feet

And newspapers from vacant lots;

The showers beat

On broken blinds and chimney-pots,

And at the corner of the street

A lonely cab-horse steams and stamps.

 

And then the lighting of the lamps.

 

II

The morning comes to consciousness

Of faint stale smells of beer

From the sawdust-trampled street

With all its muddy feet that press

To early coffee-stands.

With the other masquerades

That time resumes,

One thinks of all the hands

That are raising dingy shades

In a thousand furnished rooms.

 

III

You tossed a blanket from the bed,

You lay upon your back, and waited;

You dozed, and watched the night revealing

The thousand sordid images

Of which your soul was constituted;

They flickered against the ceiling.

And when all the world came back

And the light crept up between the shutters

And you heard the sparrows in the gutters,

You had such a vision of the street

As the street hardly understands;

Sitting along the bed’s edge, where

You curled the papers from your hair,

Or clasped the yellow soles of feet

In the palms of both soiled hands.

 

IV

His soul stretched tight across the skies

That fade behind a city block,

Or trampled by insistent feet

At four and five and six o’clock;

And short square fingers stuffing pipes,

And evening newspapers, and eyes

Assured of certain certainties,

The conscience of a blackened street

Impatient to assume the world.

 

I am moved by fancies that are curled

Around these images, and cling:

The notion of some infinitely gentle

Infinitely suffering thing.

 

Wipe your hand across your mouth, and laugh;

The worlds revolve like ancient women

Gathering fuel in vacant lots.

 

 *** 

 

Pieter Odendaal

Pieter Odendaal

Hallo, almal. Ek is Pieter Odendaal en ek het ‘n probleem: ek wil ryklik getekstureerde, meditatiewe skrifsels produseer wat ‘n invloed uitoefen in ‘n wêreld waar prentjie-kapitalisme hoogty vier en ‘n land waar lesers skaarser as verdraagsaamheid is. Ek het ‘n BA graad in Tale en werk tans as projekbestuurder vir SliP waar ons onder andere maandelikse poësieaande in Kayamandi net buite Stellenbosch reël.

‘n Afrikaansjuffrou het my aangepor om my eerste gedigte te skryf. Sy’t my ook aan die wysheid van woordeboeke voorgestel – it was love at first sight. As daar meer onderwysers soos sy was, sou meer mense dalk lees. Ek het my eerste handvol gedigte aan my oom, Bernard Odendaal, in ‘n bruin koevert oorhandig om te hoor wat hy dink. Sy positiewe kritiek en voorstelle het my aangemoedig om aan te hou skryf.

Een van my gedigte het in die versamelbundel Gedigte vi’ Adam Small verskyn. Nee wat, dit voel heel aangenaam om deel van hierdie groep hoopvolles te wees. Ek sien uit daarna om almal oor twintig jaar te google en uit te vind wat van ons geword het.

Ek weet nie hoe relevant of invloedryk die digkuns vandag nog is nie. Die eksponensiële groei van tekste in die publieke sfeer is een van die natuurlike gevolge van die opkoms van die internet. Dit beteken egter ook dat informasie-tsunami’s ons van alle kante bombardeer en dat gespesialiseerde, subtiele teksvorme soos gedigte deur die geraas verswelg word.

Gegewe die wêreldtendens om skrywers in die algemeen en veral ook digters te marginaliseer (hulle is nie so maklik bemarkbaar soos skoene en karre en burgers nie), moet mens seker dankbaar wees dat ‘n piepklein taaltjie soos Afrikaans steeds daarin slaag om ‘n taamlik gesonde poësiegemeenskap te onderhou. Maar ek hou aan glo dat poëtiese taal ‘n potensiaalverskil opwek soos geen ander taaluitinge kan nie en dat die digkuns om hierdie rede nooit geheel en al sal uitsterf nie. Miskien is dit net nodig om nuut te dink oor die verspreiding en sigbaarheid van gedigte in ‘n digitale era.
Ek voel ook dat daar gans te min gedoen word om die Afrikaanse letterkunde te transformeer sodat die skrywers en stories die taalgemeenskap beter reflekteer. Daar is natuurlik ‘n hele reeks redes hiervoor (sosio-ekonomiese ongelykheid is sekerlik bo-aan die lys), maar dit bly ‘n jammerte dat daar nie meer hulpbronne aangewend word om die standaardtaal (wat volgens onlangse navorsing deur ‘n minderheid van sprekers gepraat word) en die literêre sisteem by veranderende tye aan te pas nie.

 

This be the verse
Philip Larkin


They fuck you up, your mum and dad.   

They may not mean to, but they do.   

They fill you with the faults they had

And add some extra, just for you.

 

But they were fucked up in their turn

By fools in old-style hats and coats,   

Who half the time were soppy-stern

And half at one another’s throats.

 

Man hands on misery to man.

It deepens like a coastal shelf.

Get out as early as you can,

And don’t have any kids yourself.

 

***

 

Alwyn Roux

Alwyn Roux

Ek is gebore in Benoni en studeer letterkunde in Potchefstroom. Ek is tans besig met die voltooiing van my doktorale proefskrif oor die poësie van Lucebert en Breytenbach. In 2010 en 2011 woon ek in Nederland waar ek navorsing doen oor hierdie digters se werk. Ek is tans ’n dosent in literatuurwetenskap aan Unisa.

Op hoërskool lees ek Jan Rabie se Paryse dagboek (1998), wat my belangstelling in die letterkunde en die filosofie aanwakker. Dit is ook in hierdie tyd dat ek my eerste verse skryf. Die rede vir die skryf van gedigte is wel nie met sekerheid uit te sê nie.

Van my gedigte is voorheen op LitNet en in die Litera-afdeling van Literator gepubliseer, maar Nuwe Stemme 5 is die eerste boek waarin my verse opgeneem is. Ek sien die publikasie as ’n mylpaal, wat my skryfwerk aan ’n groter leserspubliek bekendstel.

Ek is positief oor die stand van die Afrikaanse digkuns. Verlede jaar was ’n goeie jaar vir die Afrikaanse digkuns, waartydens heelwat digbundels van gevestigde en debuutdigters verskyn het. Dit staan teenoor ’n tyd – ’n dekade of so gelede – wat as ’n droogte in die Afrikaanse digkuns bestempel kan word. Verskeie plaaslike digtersfeeste blaas ook nuwe asem in die manier waarop die Afrikaanse digkuns tans daar uitsien.

Die vertaling van die gedig “Elsewhere” van die Poolse digter Ewa Lipska is een van my gunsteling verse.

 

Elsewhere

I’d like to live Elsewhere.

In hand-embroidered towns.

To meet those

who are not born into the world.

 

At last we would be happily alone.

No stop would wait for us.

 

No arrival. No departure.

Evanescence in a museum.

No wars would fight for us.

No humanity. No army. No weapon.

Tipsy death. It would be fun.

In the library a multi-volume time.

Love. A mad chapter.

It would turn the pages of our hearts in a whisper.

 

Ewa Lipska (vertaling: 2009, Robin Davidson & Ewa Elżbieta)

 

***

Vervolg na Nuwe Stemme 5 (3)

 

Onderhoude: Nuwe Stemme 5 digters (3)

Monday, June 3rd, 2013

 

ONDERHOUDE (Nuwe Stemme 5):   Hilda Smits,  Gerrie Terblanche, Gisela Ullyatt, Carina van der Walt, Hendrik van Niekerk en Fanie Viljoen

deur Louis Esterhuizen

 

Hilda Smits

Hilda Smits

Ek is in Potchefstroom gebore, en het vroeg reeds geleer dat agt mense na heelwat moeite in een rooi Anglia kan pas. Later jare het my pa darem ʼn kombi aangeskaf, en kon ons dorpies die grootte van albasters agterlaat vir teer paaie en ʼn Ster-Kinekor. Na ʼn dekade van (onder andere) wortels pak in Londen bevind ek my deesdae in Nashville waar ek warm brakkies met mosterd verorber en die Meesters van sielkunde uit die hoek van  my mal oog bestudeer. Van my gedigte het in New Contrast en Vonkverse 2011 verskyn. In 2009 en 2011 het twee van my gedigte die Bloemfonteinse Skryfkompetisie gewen, en verskyn dit sodoende in Inkvars.

Ek skryf al van kleintyd af. My Ouma het my eerste rymende ramp van ʼn meesterstuk “Daar dans ʼn gans” geraam en met groot seremonie in haar kombuis opgehang toe ek nege was. My Ma het vir my ʼn notaboek met bruin papier oorgetrek waarop ons “Hilda se Versies” in groot letters geskryf het. Ek het uiters belangrik gevoel. En daar was die dag wat die plaaslike biblioteek ou Afrikaanse boeke afgeskryf het, en my Pa honderde juwele in die Anglia se kattebak aangery het met stories wat vir jare aan my tong gekleef het.   

Die opname van my gedigte in Nuwe Stemme 5 beteken vir my baie. Dit is wel jammer dat daar  so min geleenthede vir opkomende digters is om hulle tonge mee te skaaf.

Daar is belowende digters in Afrikaans, so die situasie moet belowend wees. Vir iemand wat al ʼn wyle in Engelssprekende lande bly, in Engels praat en werk en studeer, is daar iets aan die taal self wat my elke keer so onverwags soos ʼn baksteen tref as ek ʼn goeie gedig lees, sodat ek al my sintuie soos diere wil inspan om beter te kan luister. Ek het juis onlangs my tande in Gilbert Gibson se nuwe digbundel op die stoep hier in Nashville ingesink, en ʼn mens kan nie anders as om optimisties te voel by die lees van sulke gedigte nie. 

Ek was vir jare onder die wanindruk dat die “volmaakte gedig” bestaan soos die perfekte opstootbra of  mees effektiewe babelas kuur, maar moes na vele worsteling met al die bogenoemde dinge tot die konklusie kom dat daar nie so iets bestaan nie. Dit was ʼn verligting.  ʼn Gedig waarvan ek baie hou is deur Aracelis Girmay vir haar broer geskryf:

 

Kingdom Animalia

 

“When I get the call about my brother,

I’m on a stopped train leaving town

& the news packs into me—freight—

though it’s him on the other end

now, saying finefine—

 

Forfeit my eyes, I want to turn away

from the hair on the floor of his house

& how it got there Monday,

but my one heart falls

like a sad, fat persimmon

dropped by the hand of the Turczyn’s old tree.

 

I want to sleep. I do not want to sleep. See,

 

one day, not today, not now, we will be gone

from this earth where we know the gladiolas.

My brother, this noise,

some love [you] I loved

with all my brain, & breath,

will be gone; I’ve been told, today, to consider this

as I ride the long tracks out & dream so good

 

I see a plant in the window of the house

my brother shares with his love, their shoes. & there

he is, asleep in bed

with this same woman whose long skin

covers all of her bones, in a city called Oakland,

& their dreams hang above them

a little like a chandelier, & their teeth

flash in the night, oh, body.

 

Oh, body, be held now by whom you love.

Whole years will be spent, underneath these impossible stars,

when dirt’s the only animal who will sleep with you

& touch you with

its mouth”

 

***

 

Gerrie Terblanche

Gerrie Terblanche

Ek het op Somerset-Wes in die mooiste Kaap groot geword en na skool aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer. Daar het ek die grade BA en BA Hons. (Politieke Wetenskap) behaal en later op deeltydse basis ook my MA (Afrika-politiek) verwerf. Ek het vir die periode van 10 jaar in Pretoria gewoon en vir die staat gewerk, maar het in 2002 bedank om terug te keer Kaap toe. Ek het verder studeer aan die Universiteit van Stellenbosch se Besigheidskool en het verskeie kursusse by die Kaapse Wyn-akademie voltooi. Tot en met 2006 was ek in die wyn-en-gasvryheidsbedryf werksaam. Gedurende 2007 het ek Suid-Korea toe vertrek, waar ek sedertdien Engelse onderrig gee.

Ek was van jongs af baie lief vir skryf en lees – ʼn liefde wat vanaf my Ma se kant van die familie oorgedra is. Ek het van my latere skooldae af reeds verse en stories geskryf as tydverdryf. Gedurende my verblyf in Pretoria, was ek betrokke by die Woordgilde van Jopie Koen (nou by Pierneefteater) en dit was dan ook die tyd wat my digkuns ontwikkel en meer gefokus geraak het. Ek het egter (soos vele digters) nooit gedigte vir publikasie voorgelê nie, aangesien dit vir my ʼn baie private hoedanigheid was. Onder aanmoediging van ʼn vriendin, het ek my gedigte gestuur vir Nuwe Stemme 5 en ek was aangenaam verras toe my gedigte gekies is.

Ek is ʼn aktiewe blogger wat reeds vir 5 jaar onder die naam Boer in Ballingskap skryf en het aan die einde van 2009 my eerste roman, die Sommelier deur Rosslyn-Pers gepubliseer. Ek werk tans aan ʼn volgende roman.

Soos genoem, glo ek dat my passie vir woorde oorgedra is vanaf my moeder se kant van die familie. My oupa, JH Malan, was ʼn geskiedskrywer/joernalis en betrokke by die ontstaan van Die Volksblad koerant. Ek het groot geword in ʼn huis waar lees en skryf aangemoedig is en ʼn hoe premie geplaas is op literatuur en die werk met woorde. Ek kan nie anders as om te bely nie dat ek van jong dae af ontvlugting en salwing gevind het in beide die lees en skryf van woorde. Skryf – hoewel heel dikwels ʼn morsige worsteling – is en bly steeds vir my die natuurlikste en maklikste manier om beide die oorweldigende kompleksiteit en verstommende eenvoud van die lewe te orden. Sonder hierdie onophoudelike worsteling met woorde, kan ek myself kwalik ʼn lewe voorstel.

My gedigte in Nuwe Stemme 5 is inderdaad die eerste amptelike publikasie van my poësie. Ek is natuurlik baie opgewonde dat my gedigte gekies is vir die publikasie en trots daarop. Ek glo dis ook ʼn belangrike en rigtinggewende gebeurtenis in my skrywersloopbaan. Terselfdertyd is ek diep bewus van die feit dat daar baie ander digters is (sommige wat ek persoonlik ken) wat nog nooit gepubliseer het nie, wat net soveel (of selfs meer) talent as ek het. Uit letterlik honderde, het ek ʼn paar gedigte vir Nuwe Stemme 5 gekies, ingestuur en dit het vir my gebeur. Daarvoor is ek dankbaar.

As skrywer, kan ek nie anders nie as om opgewonde te wees oor die stand van die Afrikaanse digkuns. Wanneer ek net kyk na die kwaliteit en diversiteit van woordkuns wat saam met myne in Nuwe Stemme 5 verskyn, is ek reeds opgewonde. Ek glo dat die Afrikaanse digkuns ʼn bloeitydperk beleef. In die verband kan mens maar net kyk na die aantal vars, nuwe digbundels wat die afgelope tyd die lig gesien het. Afrikaans bly steeds ʼn wonderlike kreatiewe taal om in te dig en die toekoms van die Afrikaanse digkuns lyk lewend en deurgaans vooruitstrewend. Om deel te wees van hierdie toekoms, is vir my ʼn voorreg.

As dit by die digkuns kom – soos ook met ander vorme van kuns – is subjektiewe waardeoordele ʼn mynveld. Die “volmaakte vers” bestaan bloot nie. Daar is in nabetragting slegs mense se eie, subjektiewe, gunsteling verse. Selfs as ek die vraag sou vra wie my gunsteling digter/s in Afrikaans is, sal ek moeilik met ʼn antwoord kan kom. Daar is net so ʼn verskeidenheid van kreatiwiteit, dat dit ʼn haas onmoontlike keuse is. As ek ʼn tweede keer moet antwoord, sal dit miskien ʼn ander vers wees, maar een van my gunstelinge is Sheila Cussons se Afskeidsvers aan NP van Wyk Louw

 

Dis twaalfuur nou, die wysers paar,

ek let, en noem jou, weet jy let –

dis of ek ongebore weer

jou wit-rooi duif hoor ritsel het.

Ek het jou voetstap nog gehoor

net om die draai, toe weg,

en met ons laggroet nog by my

geweet hoe word die straat

oneindig skemer tussen rug

en rug – oneindig leeg.

 

***

 

Gisela Ullyatt

Gisela Ullyat

Ek is ’n Bloemfonteiner van geboorte en het aan die UFS en Noord-Wes Universiteit studeer. Ek en my man, Tony, het in 2007 vir ses maande totaal van ons gewone roetine weggebreek en gewerk by die Buddhist Retreat Centre in Ixopo, Kwazulu-Natal, waar die landskap uit duisende heuwels bestaan, waar een dag vier seisoene het, en waar jou elke dag intens wens om nie ’n koei, bok of perd raak te ry nie. Ook ontmoet jy karakters daar op ’n gereelde basis wat net op organiese broccoli en sade leef. Gewoonlik hou ek my met akademiese skryfwerk en vertaling (veral literêr) besig. So tussendeur skryf ek gedigte en kortverhale wanneer die muse haar nie ongedurig hou nie. Ons deel ons meenthuis met ’n grompot van ’n Skotse Terriër en my grootste versugting is om ’n pakhuis te besit waar twee akademici hul ongemaklik-groot getal boeke en cd’s na hartelus kan uitpak, rangskik en geniet. ’n Privaat-bibliotekaris wat dit alles vir ons in stand kan hou, sal hoogs waardeer word.

In standerd ses het ons Afrikaans onderwyseres, Susan Marx (wie later bekendheid verwerf het as nuusleser), Antjie Krog se “Ma” met die klas behandel. Hoewel dié gedig gereeld aangehaal word, was dit my eerste kennismaking met Antjie Krog se oeuvre. Ons moes die gedig uit ons koppe leer as deel van mondeling en terwyl ek die fisiese woorde geleer het, het ’n ander proses in my kom nesskop en -skrop: ’n gevoel van ontstigting sowel as opgewondenheid. Dié gedig het aan my gekrap; nooit tevore het ek ‘harde’ beelde soos Antjie s’n teëgekom nie: “moesie-oor”, “leiklipkop”. Aan die begin kon ek nie verstaan as dertienjarige hoe iemand enigsins só oor hul eie ma kon skryf nie, want die beelde wat mens gewoonlik vind in meer tradisionele gedigte is dié van oordrewe emosionaliteit en piëteit. Na ’n paar dae het ek egter alles daarin geassimileer. Ek het dadelik my pa gevra, wat bibliotekaris by die universiteitsbiblioteek was, om alle beskikbare Antjie Krog digbundels vir my uit te neem, en dit was die begin van ’n lewenslange fassinasie met die Afrikaanse digkuns. ’n Paar maande daarna het ek my eerste “liefdesteleurstelling” ervaar en twee gedigte daaroor geskryf en myself verras. En dit was die begin van my eie reis met dig.

Van my gedigte is opgeneem in Litera en Honderd Dichters 6 (Jan Biezen van Biezen) asook in enkele kleiner publikasies. Nuwe Stemme 5 is egter die eerste publikasie wat ek voel grensverskuiwend kan wees in terme van publieke blootstelling, veral op groot digforums soos Versindaba.  Dit is dus ’n positiewe en dankbare ervaring.

Ek voel uiters positief wanneer ek dink aan die Afrikaanse digkunsmark. Onthou, Afrikaans is nie ’n wêreldtaal nie, en kan uiteraard nie sirkulasiesyfers hê van die Britse en veral Amerikaanse mark nie. Om dan as ’n betreklike klein taal soveel digaktiwiteit en -produktiwiteit aan die dag te lê, wat neerslag vind in gereelde publikasies en webblaaie, is ’n teken dat Afrikaanse digters nog in Afrikaans wíl dig. Ek sien dit as ’n gesonde uitspruiting van die Afrikaanse psige en ’n pluimpie vir uitgewers wat steeds digbundels uitgee, ten spyte van die negatiewe tendens wêreldwyd om poësie af te skaal. Daarom voel ek geensins benoud oor die stand van die Afrikaanse digkuns nie, eerder opgewondenheid oor wat ek volgende op my bedkassie as leesstof kan verslind.

Hoewel ek soveel verse van Afrikaanse, Duitse, Nederlandse en Anglo-Amerikaanse digters sou kon aanhaal wat ek naby aan volmaak beskou, haal ek graag die Ohio-gebore Mary Oliver se “Wild Geese” aan. Dis ’n vers wat my elke keer, sonder uitsondering, ontroer en op ’n ‘digvibrasie’ stuur:

 

Wild Geese

 

You do not have to be good.

You do not have to walk on your knees

for  a hundred miles through the desert, repenting.

You only have to let the soft animal of your body

        love what it loves.

Tell me about despair, yours, and I will tell you mine.

Meanwhile the world goes on.

Meanwhile the sun and the clear pebbles of the rain

are moving across the landscapes,

over the prairies and the deep trees,

the mountains and the rivers.

Meanwhile the wild geese, high in the clean blue air,

are heading home again.

Whoever you are, no matter how lonely,

the world offers itself to your imagination,

calls to you like the wild geese, harsh and exciting –

over and over announcing your place

in the family of things. 

 

 

***

 

Carina van der Walt

Carina van der Walt

Ek is in Welkom gebore. Sedert 2007 het ek die Hoëveldse vlaktes verruil vir die vlaktes van die Lae Lande. My voor- en nagraadse studies het in twee fases sestien jaar uit mekaar verloop. Eers aan die Noordwes-Universiteit en later bykomend aan die Universiteit van Tilburg. My volwasse kinders, ouers en familie woon verspreid in Suid-Afrika en elders. Die bande bly sterk. Ek is voltyds betrokke by die kunstydskrif Beelden. Dit is besonder bevredigend. Vir LitNet doen ek kulturele en literêre verslaggewing. Ek resenseer en vertaal gedigte en ek dig. My bundeltjie Woorden over Beelden (met onder andere gedigte oor werk van Strijdom van der Merwe en William Kentridge) het tydens Kersfees 2012 as geskenk saam met Beelden verskyn. Ek het ’n draai gemaak in Literator en in Floris Brown se nuutste bloemlesing. Oor ’n tydperk van vyf jaar is verskeie gedigte in Brabant Literair gepubliseer –  in Afrikaans, maar ook in Nederlands. Die Cloete-vertalings vir die Poëziekrant in Gent was ’n besondere uitdaging en ’n spanpoging saam met my man. Enkele gedigte van Ramsey Nasr is vir versindaba vertaal. Soms skryf ek vir die tydskrifte ZAM en DEKAT en die webwerf kempis.nl. Die bekendste Nederlandse digbundel wat ek geresenseer het vir my blog op die webwerf TilburgZ.nl. was Kluwen (2011) van Eva Gerlach.

My passie vir die digkuns het begin met “Siembamba, mamma se kindjie (2x) draai sy nek om, gooi hom in die sloot, trap op sy kop dan is hy dood.” As kind het ek gewonder wat beteken “siembamba”; waar kom die wrede woorde vandaan; wat sit daaragter; hoekom kon ons dit sommer net so maklik sing? Twee leeftye lank het ek gesoek na die betekenisse wat net-net flikker anderkant die grense woorde. Ek het dit dikwels nie gevind nie, maar soms gevóél – en toe uiteindelik self (na ’n ingrypende gebeure) begin skryf. Poësie strek ver verby die begin en die einde van my singewing. Poësie is ’n taal onder tale, wyer as woorde.

Soos ek hierbo verduidelik het, is Nuwe Stemme 5 nie my eerste publikasie nie. Persoonlik is dit vir my ’n groot deurbraak in ons jong taaltjie. Maar die son kom steeds op en die son sak weer en eintlik wil ek hiér maar net ’n bietjie meer reën vir die erdwurms hê. In Nederland wil ek maar net saam met dassies op grys pleine sit, gesigte na die flou sonnetjie gedraai.

Volgens my is die Afrikaanse digkuns goed, selfs uitstekend! Maar as Standaardafrikaans opkyk, sien sy dat sy met aarvoeding in ’n suurstoftent lê. Haar hoog Hollandse be-handelaar probeer fronsend sy ryk woordeskat inspan om Afrikaans uit haar toestand te help. Soms kom ’n Surinaamse matrone verby met haar warm jazz deuntjies en neurie Muskietejag so sensueel dat Die Taal heeltemal opvrolik en nuwe lewe kry – deur poësie dus.     

’n Volmaakte vers? Dis baie moeilik. Waar begin ek?  Miskien by Snorri Sturluson se eerste gedig uit die Lied-Edda, Völuspá?  Maar sestig strofes is miskien bietjie onprakties om alles aan te haal. Appolinaire met sy visuele gedig Coeur couronne et miroir (Hart kroon en spieël)? Baudelaire met sy visie op digterskap in L’albatros of sy kritiek op die poësieleser in Le chien et le flacon (Die hond en die fles)? Die Poolse Szymborska met haar Ella in die hemel (my Pools is vrot!)? Of by Jan Afrika? Om skoorvoetend vet erdwurms in sy tuin te gaan hengel – aas vir my sterrevangs vlak onder die neus van die Groot Beer.

Tog maar vier strofes uit die eerste godelied van die Poëtiese Edda:  

 

Völuspá 

 

1

stilte verzoek ik
de heilige geslachten
de grote en de kleine
kinderen van Heimdall
ik wil nu, Odin
wijsheid verkondigen
de oude sagen
die als eerste ik ken

 

5

de zon uit het zuiden
gezel der maan
wierp de rechterhand
om de rand van de hemel
de zon wist niet
waar haar zalen waren
noch wisten de sterren
hun stand aan de hemel
noch wist de maan
welke macht zij bezat

 

6

de radende goden
ten rechtstoel gingen
de heilige goden
hielden toen raad
aan nacht en maanstand
gaven zij namen
bepaalden de morgen
de middag ook
avond en nacht
om de jaren te tellen

 

38

broeders bestrijden
verslaan elkander
bloedverwanten
bloedschande plegen
overspel heerst
op heel de aarde
speertijd, zwaardtijd,
schilden splijten!
windtijd, wolftijd!
eer de wereld vergaat
geen enkel mens
zal de andere sparen

 

(Geskryf in Oddi, Ysland; versamel uit die 11de en 12de eeu;

uit Yslands vertaal deur Jan de Vries.)

 

***

 

Hendrik van Niekerk

Hendrik van Niekerk

Ek is gebore op 10 September 1993 en het die eerste vyftien jaar van my lewe in Carletonville deurgebring, waar my pa ʼn predikant was.  Ek het in 2012 aan Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch gematrikuleer en is tans ʼn student in Wingerdbou- en wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch.

Ek bewonder die digters Ronelda Kamfer en Loftus Marais en my internasionale inspirasie is Jim Morrison.  Ek lees ook graag Franse eksistensialiste soos Camus en my skeptiese lewensuitkyk laat hom ook gereeld iets van Schopenhauer optel.  Ek het ʼn onblusbare liefde vir verskillende tale en kulture en ʼn allesoorheersende fassinasie met die Fender Stratocaster. 

My gedigte weerspieël my persepsie van die vlietende broosheid van lewe en die ongelykheid waarmee baie mense vrede moet maak.  Ek skryf oor my belewenis in die lewensfase, maar kry dit tog reg om universele vrese soos om vasgevang te wees in uitsiglose roetine te verwoord.  In my werk word verskillende vlakke van waarneming duidelik en die soeke na hoop binne bereik van die skrywer (en leser) noodwendig.

Toe ek in graad 10 was het my pa een vakansie vir my 3 digbundels gekoop; Loftus Marais se “Staan in die algemeen nader aan vensters“, Ronelda Kamfer se “Noudat slapende honde” en Nuwe stemme 4. Dit was genoeg om vir my te wys dat poësie veel meer is as ‘n vraestel wat jy op skool moet skryf, maar ek het my eie gedagtes en idees gehad. Ek het toe in 2 weke so 10 gedigte geskryf en net vir my pa gewys. Niks daarvan was uit die aard van die saak publiseerbaar of regtig bruikbaar nie, maar dit was ‘n goeie begin.

Nee, ek het nog nie vantevore gepubliseer nie. Voor Nuwe Stemme 5 het een van my gedigte laas jaar in my skool se halfjaarlikse koerant verskyn. Dit is vir my ‘n groot voorreg om deel te vorm van Nuwe Stemme 5. Ek weet dat daar baie mense is wat ingeskryf het en dat Loftus en Heilna baie hard moes werk om kritieke besluite te maak. 

Die Kaapse werkswinkel wat ons vir Nuwe Stemme 5 gehad het, het my baie opgewonde gemaak oor Afrikaanse digkuns. Ek dink daar is briljante gevestigde digters in Afrikaans en dit was vir my verfrissend om te sien dat daar nog steeds soveel goeie gedigte geskryf word deur mense waarvan niemand al gehoor het nie. 

Loftus Marais se “Die digter as rock star“. Dit was (en is steeds) vir my relevant en ‘n moderne voorbeeld van Afrikaanse digkuns.

 

Die digter as rockstar

vir Coennie

 

fok jou, ek pak sportstadions vol

vir my flits paparazzi splitsekonde wit bladsye

ek dra my punctuation as piercings

my woorde trash hotelkamers, fok jou

woofers sidder jambes

en die groupies se sashimi-poesies drup vir my

ek is die digter in ʼn studded leather broek

ek breek my versreëls oor julle koppe soos guitars

lighters swing op my sonnette

fok julle almal

gevuisde skares skreeu my koeplette

daar’s stukke wallace stevens op my rug getatoeër

ek is die digter as rockstar

en kyk, nee lees, luister, dammit hóór:

ék is nie ʼn beiteltjie nie

ek is ʼn fokken lugdrukboor

 

© Loftus Marais (Uit: Staan in die algemeen nader aan vensters, 2008: Tafelberg Uitgewers)

 

***

 

Fanie Viljoen

Fanie Viljoen

Ek is in Welkom gebore en het daar skoolgegaan en tans is ek ’n Bloemfonteiner. Van my eerste kortverhale is in Sarie gepubliseer, en talle van my radiodramas is deur RSG uitgesaai. Soms skryf ek ook sketse of artikels vir koerante en tydskrifte, maar my eintlike liefde lê by die skryf kinder-en jeugverhale. Daar is al meer as twintig hiervan op die rak en talle is al bekroon met pryse soos die Goue Sanlam-prys vir jeuglektuur, M.E.R.-prys vir jeuglektuur, naaswenner in die Lapa-jeugromankompetisie en ATKV-kinderboektoekennings

My passie is om boeke vir kinders te skryf, poësie is eerder ’n stokperdjie. Ek hou van die speel met woorde, hoe daar met min woorde baie gesê kan word. Ek gaan ook nie uit my pad uit om ’n gedig te skryf nie. Hy moet hom kom aanmeld. Ja, oukei, ek is ook ’n bietjie lui.

Die skryf van poësie is maar ’n onlangse ding. Ek hou van die manier waarop iemand soos Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties die taal vars kan laat klink. Wat is lirieke soos hierdie anders as gedigte? Die liefde vir poësie kom daarom eerder van musiek af.

Nee, hierdie is nie my eerste publikasie nie. My eerste gedig, “Indringers”, is in die bundel Honderd Dichters 8 (Saamgestel deur Jan Biezen) opgeneem. Daarna het gedigte verskyn in skoolhandboeke en meer onlangs Toulopers, die digbundel vir tieners.  Dis vir my wonderlik om in Nuwe Stemme 5 opgeneem te word. Daar is werklikwaar uitstekende gedigte in die bundel. Ek kan nie wag om eendag volledige bundels van byvoorbeeld iemand soos Hilda Smits in my hande te hou nie.

Ek hou veral van Loftus Marais, Ronelda Kamfer en Danie Marais se werk. Dis opwindend en die blote andersheid daarvan laat my dit lees. ‘n Gedig wat my soos ‘n vuishou tref: 

 

A smile to remember

we had goldfish and they circled around and around
in the bowl on the table near the heavy drapes
covering the picture window and
my mother, always smiling, wanting us all
to be happy, told me, ‘be happy Henry!’
and she was right: it’s better to be happy if you
can
but my father continued to beat her and me several times a week while
raging inside his 6-foot-two frame because he couldn’t
understand what was attacking him from within.

my mother, poor fish,
wanting to be happy, beaten two or three times a
week, telling me to be happy: ‘Henry, smile!
why don’t you ever smile?’

and then she would smile, to show me how, and it was the
saddest smile I ever saw

one day the goldfish died, all five of them,
they floated on the water, on their sides, their
eyes still open,
and when my father got home he threw them to the cat
there on the kitchen floor and we watched as my mother
smiled

( Charles Bukowski)

 

 

***

 

 Terug na Onderhoude Nuwe Stemme 5 (1)

 

Lewies Botha. Om Famous te wees

Friday, May 28th, 2010

Na aanleiding van Andries Bezuidenhout se blog en natuurlik die Rapport artikel; Ek het nogal gewonder hoe gaan ek die verhoog deel met die beroemde “Rock star” Hunter Kennedy,  natuurlik was ek jaloers. Waarom wou hy nou die klein kolletjie Ka(l)klig van die papiervliegtuigie vou klub kom steel?  F*k wie wil nie Rock beroemdheid hê nie. Elke vertoning met gillende groupies is ‘n adrenalien inspuiting wat jou ego tot voor barstens toe opjaag. Ek daag enige iemand uit om te erken heimlik wil ons almal RUK en ROL.  Ek het myself getroos dat behalwe my Ma wat seker al die helfte van Nuwe Stemme 4 (NS4) se oplaag vir haar vriendinne en familie opgekoop het, sal die naam ;Hunter van Polisiekarre seker die boekverkope aanhelp. So dis maar oriaat.

In my gedig “Ons was daar” vir die Lizard kings van Pretoria (Opgeneem in NS4) verwys ek na die Rockers van so voor die voëlvry toer dinge, Piet Botha, James Phillips ens.  Ek sê ook; ons is skrywers ons is rock stars …

Ek sien altyd voor my geestesoog; Jim Morrison van The Doors wat in ‘n ateljee sit en sy “An American Prayer” opneem, vet en plomp en woes bebaard, met daai stem wat hipnoties dreunsing/ lees, Ray Manzerek se keyboards wat die agtergrond vul.  Ja, Jim wou bekend wees as Poet. Die Rocker as Poet.

Dan moet julle my sien xbox 360 met Guitar Hero ! Die Poet as Rocker.

Soos Andries sê die debat is eintlik maar tong in die kies. Die waarheid is ons is almal ‘n bietjie van alles. Kunstenaars is kreatief en skeppend en vind gewoonlik ‘n uitlaatklep hetsy skilder, sing, skryf, dig of toneelspeel. Dit is opmerklik hoeveel digters musikale agtergrond het. ( Louanne Stone, Pieter Hugo?, Maruis Swart het ek op “Noot vir Noot gesien, Niel van Deventer , Hunter K ,is die waarvan ek weet uit NS4) Ek teoretiseer nogal daaroor; Skaak wonderkinders is gewoonlik ook Musikaal en Wiskundig talentvol, ek wil beweer hulle sal ook digterlik talentvol wees. EK glo dit het te doen met talente in; ritme, metrum, herhaling, patroon herkening, vorm, struktuur, analitiese vermoë ens.  wat neerslag vind in Skaak speel, Wiskundige probleem oplossing en uiteraard Musiek.

Om aan te sluit by Andries hier is my eie blues song (Annie Rok jagter neem kennis):

 Vrystaat kruispaaie-‘n blues song

 

 Van veraf  lyk hy soos ‘n lang maer kraai

en soos vlerke klap sy jas in die wind

en sy stewels kap kloue knars in die gruis

akkedisse skarrel geskrikte krokkedille weg

wolk skadus draai soos vlieënde haaie.

 

Refrein

 

Die stilte waai agterna toe hy voor my staan

glimlag sy poeding Leonardo de Caprio gesig

daaronder grinnik ‘n pok gru Jack Nicholson

muskeljaatkatte en rooikatte dog dis al aand.

 

Refrein

 

Dit het stil geword op daai stofpad wat kruis

tussen Voorspoedfontein en Welgedaan

hy het ‘n sigaret aangebied, ek kon sien;

Siener, Profeet, Volksdigter, Hertzogprys.

 

Refrein:

 

Los maar die rympies rym ek wil ruk en rol

met ‘n kitaar riff soos Jimi Hendricks

en ‘n middelrif soos Jim Morrison

gee my ‘n stem soos ‘n Harley Davidson,

‘n pop soos Pamela Anderson

‘n liriek vir ‘n super hit.

 

So neurie ek toe, my eerste lied.

Annie Klopper. Blum het iets anders bedoel, maar kom ons braai

Tuesday, February 23rd, 2010

Jack Parow (© Annie Klopper)

Die meeste van my vriende woon in Kaapstad. Hulle gaan kyk flieks by die Labia, eet die early bird special by Arnold’s in Kloofstraat, koop klere by beide YDE en muwwerige tweedehandse winkels, versamel ou langspeelplate met belaglike omslae, sit op balkonne, sing saam met Die Antwoord en Jack Parow, stage dive by music festivals, rook Marlboro Lights, suig aan die tuite van Jägermeister-bottels, gaan na Fokofpolisiekarkonserte, dans op die musiek van The Wedding DJ’s by Assembly, ry in bome vas, surf oor naweke, draf op die promenade, gee R2 vir car guards, kry verkeersboetes, benodig nuwe ruitveërs, kyk e-posse op BlackBerry’s, blog oor straatkuns, eet rocket in slaai, blaai soms verveeld deur die Vice-tydskrif, kyk oor en oor (en oor) The Big Lebowski, verloor gereeld hulle selfone en is bereid om te betaal vir geel-en-pers sneakers. Die meeste van my vriende lees nie gedigte nie.

Maar ék lees gedigte en dit het gelukkig nog nooit tussen my en my vriende gekom nie. 

Ek meen nie dat geel-en-pers sneakers en ‘n voorliefde vir Jack Parow jou outomaties in ‘n ander kamp as die deursnee-digliefhebber plaas nie. Allesbehalwe. Maar as dit so is dat die mens ’n oerbehoefte het aan vers en klank, vervul die meerderheid mense wat ek ken genoemde behoefte met musiek. En hoekom dan nou nie?

Daar is natuurlik tye wat ek wens meer van my vriende lees gedigte. Soos terwyl ek op ’n stoep by ’n deurnagpartytjie sit en ’n gedeelte van Peter Blum (1925 – 1990) se “Drosterhonde bo Oranjesig” in my agterkop resoneer:

Vannag klink hulle deurmekaar geblaf
wild-vreesaanjaend van die hoër hang
se digte dennebosse af

[…]

Wat kan hul tog makeer? Is hulle dol?

(© Peter Blum)

En selfs al weet ek Blum het iets heel anders bedoel, skryf ek tog:

 ’n deurnagbraai in Oranjezicht

met Oros en vodka veg ons teen die daglig
en dros ons soos honde in Oranjezicht
ons wys tande en gooi ons koppe terug
teen die duifgrys glasure van die eerste lig

ons vyl ons tonge skerp teen growwe woorde,
ys klingel kil teen die dawerende akkoorde
van ons uitrafelende strontpraatsinode –
deur die donker omsingel, is ons die nag se gode

of net rompies en bene en longe en leuens
en stompies en biere en wyfies en reuns
wat blaf en sug en gluur en kreun
teen die eerste sig van oranje lig

(© Annie Klopper)