Posts Tagged ‘oewerbestaan’

Vat vyf, Melt Myburgh: Wenner van die Ingrid Jonker-prys vir 2011

Thursday, August 11th, 2011

Melt, veels geluk met die welverdiende bekroning van jou debuutbundel, oewerbestaan (Protea Boekhuis, 2009). Jy is sekerlik opgewonde daaroor, is jy nie? Wat beteken hierdie prestigeryke erkenning van jou digwerk vir jou op persoonlike vlak?

Baie dankie, Louis. Ek is baie dankbaar vir die prys, want dit is ʼn groot eer om op dié wyse met die nagedagtenis van ʼn kultusfiguur in Afrikaans geassosieer te word. Ek dink die Ingrid Jonker is sekerlik vir elke digter die mees prestigeryke debuutprys in Afrikaans. Ek voel ook gevlei omdat die prys toegeken word deur mededigters. Ek glo ook die prys verleng die raklewe van die bundel, waarvoor ek eweneens dankbaar is.

Elsa Joubert het my pas geskakel om geluk te wens, en sy vertel my van haar ervarings toe die prys in die sestigerjare na Ingrid Jonker se dood ingestel is. Sy sê dit was ʼn geweldige emosionele tyd vir Jonker se vriende (Uys krige, Jan Rabie, Jack Cope ens.) en dat die instelling van die prys hulle gehelp het om sin te probeer maak van haar dood. Elsa vertel dat die vriende elkeen ʼn kontantbydrae gelewer het tot die prysgeld; daarom is dit so miniskuul. Maar juis daarom is die prestige van die prys vir my nog soveel meer. As mens dié geskiedenis hoor, kan jy anders as om ontroer te wees nie.

Op persoonlike vlak dra ek die prys op aan alle digters wat in Afrikaans gedebuteer het die afgelope twee jaar.

Interessant genoeg het jy reeds met Nuwe Stemme 2 (Tafelberg, 2001) as digter na vore getree. Jou debuut as solo-digter kan dus as ʼn “laat” debuut beskou word. Is jy derhalwe van mening dat jong, aspirant-digters verkieslik nie oorhaastig moet wees met daardie eerste publikasie nie?

Vir my was die “laat” debuut die aangewese ding; Oewerbestaan sou anders (en waarskynlik minder) daar uitgesien het as dit 10 of 15 jaar vroeër verskyn het. Magte buite my beheer het bepaal dat ek eers op 42 volwasse genoeg kon wees om die bundel te laat gaan. Ek dink egter nie mens moet voorskriftelik wees oor wanneer ʼn digter behoort te debuteer nie; met elke individu is dit anders gesteld. Kyk byvoorbeeld hoe jonk was Antjie Krog, Annesu de Vos, Loftus Marais en Ronelda Kamfer toe hul debute verskyn het. Jasper van Zyl is ʼn onlangse voorbeeld. Fourie Botha lyk baie jonk!

Jy is ook dosent in resensiekunde aan die Universiteit Stellenbosch. Is jy bereid om ʼn persoonlike mening te gee oor hoe jou bundel deur die resensente hanteer was? Het jy hul kommentare as aanmoediging of belemmering ervaar?

Ek het die resensies van my bundel deurgaans as positief en opbouend ervaar en het baie geleer uit wat kritici te sê gehad het. Ek is hulle dankbaar. Wat my wel opgeval het, is hoe sommige resensente die fiksionele aard van poësie ontken en die bundel in alle opsigte streng biografies gelees het. Vir my is die proses van Media24 se boekeblaaie (boekeblad?) om resensies meer toeganklik vir die breë leserspubliek aan te bied, en die reaksies van skrywers en ander rolspelers soos wat dit onlangs hier op Versindaba uitgespeel het, ʼn interessante verskynsel wat ek deurgaans monitor. Ek het simpatie met die dilemmas waarin almal hulle bedink. Verwikkelinge op die internet om resensies te ontwikkel is opwindend. LitNet Akademies se resensie-essay-projek is iets om beslis dop te hou. Vir my lyk dit onafwendbaar dat die kloof tussen die dikwels hoogs akademiese boekeblad-inhoud en die populêr-georiënteerde algemene koerantleser op die een of ander manier oorbrug gáán word.

Die afgelope aantal jare is ons beslis geseënd met ʼn hele aantal sterk debute. Ook bestaan daar nogal konsensus dat die verskeidenheid van tema en verstegniek ʼn opwindende faktor is by die meerderheid van hierdie nuwelinge. Stem jy saam met so ʼn stelling?

Absoluut. As ek kyk na die werk van die digters wie se stemme die afgelope paar jaar opgeklink het, is die verskeidenheid in tema en tegniek heerlik! Daar is beslis nog skop in die Afrikaanse poësie! Antjie Krog sê onlangs vir my sy is jaloers oor die jong digters wat deesdae so oor allerhande goed skryf.

Uiteraard is jy tans besig met die finale reëlings rondom vanjaar se Versindaba wat volgende maand op 23 en 24 September in Stellenbosch gaan plaasvind. Wil jy nie dalk solank, by wyse van lusmaker, ietsie daaromtrent sê nie?

Die Versindaba-program sal in die laaste week van Augustus beskikbaar wees. Ons bied onder meer ʼn huldigingsgeleentheid vir Adam Small aan – ʼn pragtige idee wat deur Iris Bester geïnisieer is. Tot op datum het nie minder nie as 21 digters aangedui dat hulle verse vir dié geleentheid op 24 September sal lewer. Chris Chameleon kom gesels ook met Louise Viljoen oor sy jongste Ingrid Jonker-album. Ek is besig om die finale drade bymekaar te knoop vir die res van die program.

*** 

Let wel:

  • Luister môre-oggend, 12 Augustus, om 07h45 op RSG na Cobus Bester se onderhoud met Melt Myburgh.

 

  • Volgende Woensdag, 17 Augustus, sal Mariëtta Kruger tussen 12h00 en 13h00 tydens RSG Kuns op RSG met Melt Myburg in gesprek wees.

 

Ten slotte, vir jou leesplesier, die volgende vers:

 

upington

 

tussen rietbevlekte oewers, geliefde stad,

sny die gariep jou middeldeur,

sodat jou fasade, sonverskroei,

‘n trae refleksie op die water bly:

 

mirador van ‘n oewerbestaan,

hawe vir woestynskepe in sandstorms verdwaal,

in die siedendste vloed staan jou palms onverstoord

terwyl vlermuise onderstebo tussen dadels skuilte soek.

 

reisigers wat in u koelte vertoef, verkwiklike stad,

moet vooraf weet: Die roete wat huiswaarts

deur die naelstring knoop, word gerig deur ‘n kompas

sonder naald.

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert, [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

 

 

 

Melt Myburgh wen die Ingrid Jonker-prys vir 2011

Wednesday, August 10th, 2011

Protea Boekhuis het pas bekend gemaak dat Melt Myburgh se bundel, Oewerbestaan, bekroon is met die Ingrid Jonker-prys vir 2011. Dié prestigeprys is in die lewe geroep deur vriende van Jonker. Dit word al om die ander jaar aan Afrikaanse debuutbundels toegeken en gedurende die alternatiewe jare word Engelse debuutbundels bekroon.

Oor Oewerbestaan het die uitgewer die volgende te sê gehad: “Met Oewerbestaan lewer Melt Myburgh ‘n debuutdigbundel wat beslis aandag gaan trek. ‘n Groot aantal van die gedigte het te make met die landskap van die Noord-Kaap aan die oewers van die Oranjerivier waar die digter groot geword het. In die eerste afdeling word die tema ‘refleksies’ ontgin en verwys na sowel die weerkaatsings van die lewe in dié droë, warm wêreld as na die besinning oor die betekenis wat die gebied en sy mense vir die digter ingehou het. In die afdeling ‘om federico’ is ‘n aantal gedigte oor Spanje, waar die landskap sterk herinner aan dié van die Noord-Kaap, maar wat terselfdertyd ook onmiskenbaar die wêreld van die Spaanse digter Federico García Lorca is. In die afdeling ‘gesigte’ is gedigte oor visioene, onverwagse insigte en ook ontluistering, soos die gedig ‘‘n beeld raak los’ waarin een van die sementbeelde in die Uilhuis op Nieu-Bethesda afgetakel word tot net die skelet van bloudraad oorbly.Die laaste afdeling, “inkdood”, bevat gedigte oor dood en verval wat die digter met sy skryfwerk probeer besweer.   

Dis ‘n bundel hierdie vir die fynproewer. Die gedigte oor die Noord-Kaap vul ‘n leemte oor ‘n landskap wat nie dikwels in die Afrikaanse poësie aandag kry nie. Die homo-erotiese gedigte behoort aanklank by gay lesers te vind, maar dis beslis meer as ‘n bundel gay poësie.”

Melt Myburgh is tans die Woordkunsprojekbestuurder wat vir die jaarlikse Woordfees op Stellenbosch verantwoordelik is. Hy is ook die organiseerder van die jaarlikse Versindaba-poësiefees wat vanjaar op 23 en 24 September in Stellenbosch plaasvind.

Let wel: Die Ingrid Jonker-prys Komitee se amptelike persverklaring sal geplaas word sodra dit ontvang is.

Nog leestof:

Bernard Odendaal se resensie oor Oewerbestaan.

Die digstring oor die gedig “Toeval” uit die bekroonde bundel.

Die onderhoud wat met Melt Myburgh ten tye van Oewerbestaan se verskyning gevoer was.

 

oewerbestaan

oewerbestaan

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

[Protea Boekhuis, R140.00 (BTW ingesluit) ISBN: 978-1-86919-369-0]

 

 

Amanda Lourens. ‘n Nanny-gedig vir lees en herlees

Wednesday, December 15th, 2010

Goeie poësie, reken ek, is dié wat net beter raak met elke herlees.  Daarby bring elke lees sy eie skakering van die teks na vore: van die eerste lees en jou intuïtiewe wonder wat die digter probeer sê, deur die gewaarwording dat nuwe betekenisse hulle by jou aanmeld,  tot jy uiteindelik die  gedig met jou hele menswees ervaar en dit onlosmaaklik deel van jou raak.

Oewerbestaan, Melt Myburgh  se debuut, lê al ‘n hele paar weke op my bedkassie – waarskynlik omdat  ek tydens die eerste lees besef het dat hierdie bundel gedigte van die soort is wat hulle met ‘n tweede (en  verdere) lees in my binnewêreld sal kom tuismaak.

Bernard Odendaal  het die bundel baie deeglik vir die leser ontsluit in sy Versindaba-resensie.  Die digter se verhouding met die landskap van sy jeug – een van die sterk temas in die bundel – beskryf hy as een van “‘n gekompliseerde, ironie-gelade deernis” (Odendaal 2010), wat reeds aandui dat Myburgh nie hier bloot besig is met ‘n nostalgiese terugkyk na die grootwordomgewing van Karos langs die Oranjerivier nie.

Joan Hambidge het in haar bespreking in Die Volksblad tereg gewys op die sterk rol wat die digter se jeugwêreld in die bundel speel, en bestempel die  gedigte oor “die landskap-van-die-jeug” dan ook as die beste verse  in die bundel.  Nietemin laat sy ook nie na om die kompleksiteit van hierdie verse te belig nie.  In Hambidge (2010) se woorde is dit ‘n “gerepresseerde en rassistiese bestaan”  wat die digter herbesoek in sy poging om op psigiese vlak tuis te kom , spesifiek deur herinnering en herbewerking in die ruimte van die teks.  Dat dít geen maklike proses is nie, besef die digter goed, soos blyk uit die laaste twee strofes van die gedig “upington” (een van die gedigte wat deur Hambidge uitgesonder word):

reisigers wat in jou koelte vertoef, verkwiklike stad,

moet vooraf weet: die roete wat huiswaarts

 

deur die naelstring knoop, word gerig

deur ’n kompas sonder naald

‘n Gedig wat my in die besonder opgeval het, is “ousie”, in die eerste afdeling (“kanale en onderpaaie”).  Op die oog af is dit ‘n herinneringsgedig, opgedra aan ‘n geliefde kinderoppasser, byna in die trant van Koos Kombuis se bekende “Katie, Katie”:

in ’n buidel van doek en kombers

dommel die kind in agter haar rug

haar hart klop teen sy linkerslaap

 

salwend stuif die geur

van stroois en skerm en lokasie

onder haar kopdoek uit

 

haar borste deinend terwyl sy neurie

voor die strykplank in die kombuis:

 

binne die albumien van sy sagte dop

stel haar lied die dooier vry

sodat skadu’s wiegend beelde raak

            beeste wat wei aan heuwels

            mis bo die klei se kronkelgang

            seuns wat kleibesmeer in komberse staan

            skure tot teen die grond gebrand

           ’n man met ’n verbode naam

 

dooie gewig,

abba sy die kind oral rond

 

sy mondjie pruil lou asem

oor die miniatuurvuisie wat spierwit bal

teen haar breë  rug

Op een vlak gaan hierdie gedig oor die sorgsame nanny-figuur wat inderdaad ‘n “ma” vir die wit baba is.  Die gedig fokus aanvanklik op die sussende, moederlike kwaliteite van die nanny, onder meer deur die sterk bewustheid van liggaamlikheid en nabyheid wat die eenheid  van kind en sorggewer suggereer (“haar hart klop teen sy linkerslaap”).  In die tweede strofe is die “s”-klank die aanduider van gerusstelling (“salwend stuif …”), maar dit word vervolgens op nugtere wyse  aan “die strykplank in die kombuis” gekoppel, wat die leser aan die sosio-ekonomiese realiteit van die huishulpfiguur herinner.

 Tog kies die digter om hierdie tema nie verder te ontplooi nie, en fokus eerder op die lied wat die nanny neurie en die haas magiese effek daarvan op die jong kind se (onder)bewussyn.   Deur gebruik te maak van die beeld van die eier as argetipiese vrugbaarheidsimbool, word die sone van interkulturele kontak as een van primordiale lewe voorgestel.  Die gebruike van haar mense, onder meer die inisiasieritueel vir seuns, word in ‘n soort psigiese osmose na die wit kind oorgedra, deur die bemiddeling van die kuns (haar lied).  Die kollektiewe onbewuste van haar kultuur vind dan neerslag sy psige, sodat hierdie kennismaking met die Ander as kognitiewe en selfs poëtiese inhoude by hom gestalte kry: “sodat skadu’s wiegend beelde raak”.  Die opnoem van verskillende kulturele komponente in die vierde strofe gebeur by wyse van meesleurende klank- en beeldryke reëls, sodat die leser die magiese effek daarvan as’t ware aan die eie lyf ervaar.

Myburgh laat die gedig egter nie op hierdie noot eindig nie, en bewerkstellig ‘n wending wat bewys dat hy die tragiese kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse rassegeskiedenis en -verhoudings begryp.  Deur die kind nou as “dooie gewig” te bestempel, word die teenoorgestelde van die groeiproses in die vorige strofe betrek.  Progressie in ‘n meer sinistere rigting word gesien in die kind se “miniatuurvuisie wat spierwit bal” – met ander woorde, die kind wat die “dooier” of groeipunt van die magshebber in hom dra. So eindig die gedig dan met die suggestie van die kind wat, ten spyte van sy eertydse simbiotiese saambestaan met die Ander, hom terugtrek in die dop van die selfkoesterende “eie” en uiteindelik sy vuis bal teen die substituut-moeder.

Odendaal  (2010) het na die “omvorming of oorstyging van die alledaagse” in hierdie bundel verwys. Ek ervaar hierdie gedig as ‘n  treffende voorbeeld daarvan, alhoewel dalk op ‘n donkerder wyse as wat gewoonlik deur  die terme “omvorming” of “oorstyging” in poësieklasse geïmpliseer word. Op ‘n manier word dit vir my ‘n ontstellende politieke gedig binne die oënskynlik onskuldige kader van huishoudelikheid.

Dit laat my wonder hoeveel volwassenes daar vandag is wat nog die herinnering aan die nanny van kleintyd koester? Self onthou ek nog die hand-in-hand stap kafee toe, maar sedert my vroeë tienerjare is ek opgeslurp deur portuurgroepneuroses en my en die nanny se verhouding het een van terloopsheid geraak.  Het ons generasie dalk so opgeneem geraak in die spel van groepvorming en materialisme dat ons daardie herinnering nog nie weer opgesoek het nie? En erger selfs, dat ons die nanny verban het na die wil-nie-ken-nie landskap van Ander-wees?

Dankie Melt, ek gaan jou bundel nog ‘n rukkie op my bedkassie hou.

 

Bronne

Odendaal, B. 2010. Resensie van oewerbestaan. Versindaba [Internet]. Beskikbaar: http://versindaba.co.za/2010/07/25/oewerbestaan/. [2010, 12 Desember].

Hambidge, J. 2010. Wat digter kén, lewer beste verse.  Bespreking in Die Volksblad. Kommentaar op Versindaba [Internet]. Beskikbaar: http://versindaba.co.za/2010/07/25/oewerbestaan/.  [2010, 12 Desember].