Posts Tagged ‘Om die gedagte van geel’

Petra Müller bekroon met ATKV Woordveertjie vir Poësie

Friday, September 13th, 2013

Tydens die ATKV Woordveertjietoekennings wat Vrydagaand toegeken is, is Petra Müller (foto) se bundel, Om die gedagte van geel (2012: Tafelberg) as die wenner aangewys. Ander bundels wat genomineer was, was Pirouette  van Aniel Botha (Queillerie), Kry my by die gewone plek aguur van Loftus Marais (Tafelberg). Dié toekennings het ten doel om uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord te bekroon en die finaliste in die onderskeie genres is pas bekend gemaak.

Die beoordeelaars was Karen de Wet, Diana Ferrus en Danie Marais. Volgens hul commendatio slaag die digter daarin “om verskeidenheid en samehang onder die dak van een bundel saam te bring. Lesers sal die bundel geniet vir die aardsheid en onomwonde blootsheid daarvan. “

Oor die digproses het Petra Müller haar soos volg uitgelaat tydens die onderhoud wat Melanie Grobler met haar gevoer het ten tye van haar bundel se verskyning: “Ek skryf met ‘n potlood op papier omdat ‘n potlood altyd beskikbaar en gewillig is. Mens kan gewoon aaneen skryf, lig of donker en mens kan iets aflei van die hand wat dit neerskryf. Martin Versveld het alles met die hand geskryf, met ‘n potlood. Die hand probeer om die gedigte te vereenvoudig want as mens ‘n bietjie aanstap met die pad soos ek nou aanstap, as die stuk wat voorlê korter word; dit gaan nooit weer langer word nie, word jy pynlik bewus van enige iets wat oordadig is, of nie kernagtig is nie. Dis ‘n sintuig wat mens ontwikkel as jy ouer word. Dan gaan jy terug na jou ou gedigte en dan sê jy vir jouself: ‘ek kon hierdie ding baie dringender gesê het as ek dit eenvoudig gesê het.’ Ek was nie bewustelik op soek na eenvoud nie maar soos ek die gedigte bewerk, probeer ek tog om dit ‘n bietjie helderder te kry as te vore. Ek glo dat die ideale gedig is ‘n water druppel waardeur jy kan sien. Dis nie ‘n einddoel nie, dis deel van bewuswording. Die bewuswording beweeg dan deur die druppel en laat dit dan agter.”

In haar resensie oor die bekroonde bundel het Joan Hambidge die volgende waarneming gemaak: “Om hierdie bundel in al sy geledinge te takseer, was ‘n ongelooflik inspirerende ervaring. Met elke herlees, word die leser gedwing tot ‘n bestekopname oor die posisie van hierdie digterskap. Enersyds liries, andersyds ‘n sterk verhaalmatige aanslag wat die bundel stuur […] Ek het hierdie bundel in een vloed gelees – gedink hoe sou sy Die aandag van jou oë kon troef. Wel sy hét veral met die eerste drie afdelings. Dit is ‘n bundel van die hierosgamos: ‘n versoening van al die opposisies in hierdie digterlike onbewuste. ‘n Boek oor die omtes van die hart.”

‘n Welverdiende bekroning, inderdaad.

Vir jou leesplesier volg een van die gedigte hieronder.

*

Elsie

“ses maal in die moer geskop, ses maal

kleintjie gedrop  ̶  mies, sus, moos, weet nét hóé;

jy staan nog so, dan trek jy al, en waar jy val

is beter dat jy lê . . .

“en more kom hy: elsie, elsie, elsietjie; einstetyd

het jy laas nag die koekerasie in die grond begraaf,

en klip daarop gesit;

“die boere wat so oor hul landerye loop en sê

ploe hiér, saai dáár,

weet ook maar fôkkol wat in hulle grond lê;

“maar die duiwel weet, en die duiwel se bek

klap oop en toe

van als wat kom en als wat gaan,

“maar hiervan sê hy níks,

Mies Sus”

© Petra Müller (Uit: Om die gedagte van geel, 2012: Tafelberg)

Omslag

WA Hofmeyr-prys. Twee digbundels kop-aan-kop met ‘n prosawerk

Tuesday, April 23rd, 2013

Die W.A. Hofmeyr-prys ‘n letterkundeprys vir drama, digkuns en prosa is begin deur Nasionale Pers ter nagedagtenis van ‘n voormalige voorsitter van die maatskappy se direksie, W.A. Hofmeyr. Dit is in 1954 die eerste keer toegeken. Oorspronklik het net boeke wat uitgegee is deur Nasionale Boekhandel in aanmerking gekom, maar vanaf 1970 is dit verander na publikasies van Tafelberg-uitgewers.

Pas is die kortlys vir vanjaar se kandidate bekend gemaak en dié kortlys blyk inderdaad ‘n besonderse pluimpie vir die Afrikaanse digkuns te wees aangesien twee van die drie genomineerde publikasies digbundels is, te wete Johann de Lange vir sy bundel Vaarwel, my efeens bevelkte held (2012: Human & Rousseau) en Petra Müller vir haar bundel Om die gedagte van geel (2012: Tafelberg Uitgewers). Die derde genomineerde is die veelbekroonde Ingrid Winterbach vir haar roman Die aanspraak van lewende wesens (2012: Human & Rousseau) wat ook onlangs met die Hertzog-prys vir prosawerk bekroon is; ‘n prys wat ook vantevore aan sowel De Lange (in 2011) en Müller (in 2005) toegeken was.  

Dat daar ten opsigte van die WA Hofmeyr-prys, waarvan die prysgeld tans R35,000 beloop, egter ‘n besliste voorkeur aan prosawerke bestaan, is helaas nie te betwyfel nie. Die laaste digbundel wat met dié prys vereer is, was byvoorbeeld Breyten Breytenbach se Die windvanger in 2008, en voor hom Sheila Cussons wat driekeer bekroon is (in 1991, 1982 en 1972). Ook DJ Opperman was driekeer vereer: vir Komas uit ‘n bamboesstok in 1980, Dolosse (1966) en Blom en baaierd (1956). In 1975 was die prys aan Ernst van Heerden toegeken vir Teenstrydige liedere.  

En daarom is dit ‘n uitsonderlike prestasie vir die digkuns dat daar teen die agtergrond van dié afname in poësie-benoemings die afgelope twee dekades, twee uitsonderlike digbundels genomineer is op die kortlys van een van ons vernaamste pryse.

Ten opsigte van Vaarwel, my effens bevlekte held, het Joan Hambidge haar soos volg in haar omvattende resensie oor dié bundel uitgelaat: “Dit is ‘n bundel wat waarskynlik vergelykings sal uitlok met Die algebra van nood, die groot bekroonde bundel. Dit sal ‘n saamlees oproep soos tussen Wordende naak en Nagsweet. Dit is ‘n bundel wat besondere aanspraak maak op die leser, emosioneel en intellektueel […] Dit is ‘n fyn afgeronde bundel wat sterk aanspraak maak op sowel die emosie as intellek. Die algebra van nood word hier ‘n algebra van sekerheid.”

In haar resensie van Om die gedagte van geel, wat eweneens deur Joan Hambidge geresenseer was, open Hambidge haar oorsig met die volgende stelling: “Om die gedagte van geel is ‘n ryk geskakeerde digbundel. Die bundel is imposant en indrukwekkend in die ongelooflike kartering van ‘n jeug en die herinneringe daaraan. Die gevoelige kind word hier aangetref en die ouer, volwasse digter plaas haarself letterlik terug in die posisie van jong kind wat alles om haar registreer. Die kind is reeds digter, hoewel sy nog nie die woorde het om die primordiale gegewe te artikuleer nie. Dit is ‘n terugkyk op ‘n lewe: die posisie van die ouer digter en jong kind word één in hierdie terugkyk. Petra Müller het reeds in haar kortverhale hierdie gegewe aangespreek en nou word dit in Om die gedagte van geel poëties-sintuiglik verwoord.”

Watter enorme prestasie is dié nominasies nie en uiteraard wens ons albei digters van harte geluk daarmee.

Mag dit vanjaar die digkuns se beurt wees om met die louere weg te stap …

 

Resensie: Om die gedagte van geel (Petra Müller)

Thursday, July 26th, 2012

Nou flik ‘n silwer stilte en volkome

 

Om die gedagte van geel   Petra Müller (ISBN 978 0 624 05446 7; 196 bladsye; Tafelberg

 

Resensie deur Joan Hambidge

 

*

en langs die pad

die wintersgras

‘n pels wat al hoe digter pas

 

o laat my nooit vergeet nie

– want ek sal eendag sterf –

hoe bewertjie

die gras vannag

 

 

Om die gedagte van geel

Om die gedagte van geel

Om die gedagte van geel is ‘n ryk geskakeerde digbundel. Die bundel is imposant en indrukwekkend in die ongelooflike kartering van ‘n jeug en die herinneringe daaraan. Die gevoelige kind word hier aangetref en die ouer, volwasse digter plaas haarself letterlik terug in die posisie van jong kind wat alles om haar registreer. Die kind is reeds digter, hoewel sy nog nie die woorde het om die primordiale gegewe te artikuleer nie. Dit is ‘n terugkyk op ‘n lewe: die posisie van die ouer digter en jong kind word één in hierdie terugkyk. Petra Müller het reeds in haar kortverhale hierdie gegewe aangespreek en nou word dit in Om die gedagte van geel poëties-sintuiglik verwoord.

Die buiteblad met telefoonpale dui reeds die gesprek aan wat ons sal aantref in hierdie bundel. Die gesprek tussen familie-lede, die onthou’e van ‘n geslag, die stories wat ingebed lê in ‘n gemeenskap; ook die pynlike verhale wat ‘n familie verwond (soos die dood van die geliefde broer wat regdeur die digkuns soos ‘n fyn draad ingeweef is) én saamsnoer.

Om hierdie bundel in al sy geledinge te takseer, was ‘n ongelooflik inspirerende ervaring. Met elke herlees, word die leser gedwing tot ‘n bestekopname oor die posisie van hierdie digterskap. Enersyds liries, andersyds ‘n sterk verhaalmatige aanslag wat die bundel stuur.

 

Die verskillende afdelings word vervolgens bespreek:

 

I Telefoonpale

Die sewe kinders rig dan ook die sewe afdelings. Hier word die kinders se “afluistering” van familiegeheime en -skinder weergegee. Die verhale is “ontrou”, bygelieg, versin – selfs verkeerd onthou, In “Taal in die lente” skryf die digter:

 

Die telefoonpale,

elk tot sy uiterste gestrek, stap deur die amper leë landskap

waarin hulle lynreg opgestel is as betroubare draers

van ontrou verhale. Hulle huiwer nie.

Ek het ver gereis om deel te neem aan die gesprek.

Daar is soveel daarvan –

dit het ‘n aaneenlopende gestroom geword

wat deur my ore in my kopbeen trek, en daar

‘n sirkelende tinteling aan’t gang hou

wat te veel geword het vir my (…)

 

Daar word ook verwys na “sieners” en “drome” wat reeds die aard van hierdie gedigte bepaal: ons beweeg as leser in die wêreld van die fantasie en herinnering.

Dat hierdie proses moeilik is om te verhaal, word duidelik. Terselfdertyd weet die leser dat hierdie bundel in ‘n vloed ontstaan het (“aaneenlopende gestroom”. “Taal in die lente”, 10) en teen die res van haar digkuns gestel, is dit dan ook ‘n gesprek met die ontslape broer, Nico van wie sy niks meer hoor nie. Sy gee egter lewe aan hom en hierdie gedigte kan gelees word as ‘n “sirkelende tinteling”. En sirkel of mandala is waarskynlik Jungiaans beskou, die belangrike kode vir die lees van hierdie bundel. Die volwasse vrou wat terugkeer na haar jeug en deur die gedigte alles heelmaak. Die simboliese getal sewe (heiligheid) word ook geaktiveer. Die “Onvindbare Een”, met ander woorde, die spirituele word eweneens betrek (“agtste”, 13) en in ‘n later afdeling word die VaderGod van die Protestantisme verwerp vir ‘n ander ervaring van die transendente.

Alles beweeg tussen figurasie en heenwysing (14) met ‘n keuse vir laasgenoemde. 

 

II Agter ‘n drywende son aan

In “gedig vir myself” word ‘n Oosterse dimensie ingeweef: die vel het so dun soos papier geword (19) en die bundel Liedere van land en see (1984) word geaktiveer in hierdie afdeling waarin legendes van haar jeug in herinnering geroep word. Die binne-herinnering wat intiem is aan die jeugervaring word vertaal in die gedig. In die praat-onthou is die herinnering nie altyd betroubaar nie, maar dit tog deur die gedig gekorrigeer. Die ouers se bevele en aanmanings is deel van die geheue en word ingebed in die vers. Sy onthou hoe haar lyf in die gras afgeprent is en op dieselfde wyse is die gedig ‘n afbeelding van al die herinneringe. “agter ‘n drywende son” (23) kan gelees word as ‘n ars poëtiese vers. Die verdwalende kind word deur die konstabel gevind:

 

met voor my oë die pragtige krom van die hings

se nek –

 

Dit aktiveer die Pegasus, die simbool van die digkuns wat veral in die vyfde afdeling aangespreek word. Die eiesinnige kind se geite word deur die familie en kennisse hanteer en begryp. ‘n Hoogtepunt is “Strykdag” (28) en die beskrywing van die kuikens. ‘n Mens is hier diep onder die indruk van die digter se sintuiglikheid en vermoë om die herinnering beeldend konkreet en aards te verwoord. Deurgaans is daar ook die taal van die omstanders wat sy weergee wat die portret outentiek maak. Dieselfde geld die gedig “deurskyn” (29) waarin die tegelykertydsaspek van die digkuns verbluffend weergegee word. Die gekko met sy prehensiele handjies word in die gedig opgevang:

 

deurskyn

 

in die keel van die gekko

klop deurskynend lewe; hy het nie so

geword nie, hy was nog altyd so

sy smagting is na die een

wit mot wat versot is

op wit lig

 

hierheen kom die gekko aand

ná deurskynende aand, met sy prehensiele handjies

teen die ruit geplak

 

sy kake geluidloos oop

 

o begeerte! – en onstuitbaar

waar dit wegval deur die sku gedig (29)

 

Wanneer sy die ruimte van die chora (Kristeva) betree, gaan sy die ruimte van die pre-simboliese binne en bely sy dat sy hier sonder taal staan:

 

rivierboord

 

pa en ma, ter herinnering

 

selfs ‘n gewone mens kan herinnering afskil:

die yslike nawellemoen

wat sy vorm ook

tot in sy afskil hou

 

en wat prut hier eenkant uit

soos ‘n naelstring nie behoorlik

afgebind nie –

 

nog ‘n nawel, nog son, ongedoop, ruig,

‘n geel-al waarvan ek die taai sop

tussen al agt vingermikke uitsuig

 

ek bly hier sonder taal staan; hier

kan hulle my kom haal (30)

 

Die gevoelige kind word van buite beskryf en dikwels in die derdepersoon laat praat soos in die aangrypende “sonsak” (33) en feministiese lesers sou geweldig baie voorbeelde kon kry van verse waarin die proses van menses (die “bloedstondige”, 34) ook die oorgang van die pre-simboliese na die simboliese orde vergestalt. Emily Dickinson kon glo nie die tyd gelees het totdat sy begin menstrueer het nie. Hierdie gevoelige verse aktiveer telkemale die spanning tussen die ouer digter wat die prosesse van seksuele en digterlike ontwaking ver-beeld.

Die jong kind leer ook deur ander se gesprekke van die “harde hartstog” en die “doodstil dood” (36).

 

III Om mee te begin

Nie om dowe neute nie word daar verwys na Velázquez en Escher in hierdie bundel: beide bekend om hul dubbelportrette, hul manjifieke hantering van vlakke en spieëlinge.

Die verkenning van die seksuele word so intiem en teer verhaal dat dit die leser se asem wegslaan. En dit word met soveel oorspronklikheid weergegee soos “naweek op die dorp” (43) getuig:

 

naweek op die dorp

 

liefhê is erger as kerkbasaar: jy kan jou lyf

maar skraal hou en agter stoele inskuif onder die gebed

om vir ta’ San Steyn, wat die voorste bakker

van ons omtes is, met die elmboog te beduie: jy wil

 

dié lemoenkoek met die oranje skilskaafsels

en die okkerneutklonte hê –

 

maar dit sal nie so gebeur nie, dis vir dominee

bedoel

 

en reg oorkant jou, kyk, staan hoeka ‘n seunsmens

met sy hande voor sy mik gevou

jóú oop-oog en beskou

 

(43)

 

‘n Donkerrooi dahlia word onthou soos “n gewone huisvrou / ‘n sonsverduistering: met beskadigde oë” (45) en die simbole van son/sonsverduistering word eweneens ‘n belangrike stramien in hierdie bundel wat werk met die opposisie van stilte en praat. Met die wete dat die aarde nie eenvoudig is nie; nog minder opgesom kan word (48). Die verhouding met die liefdevolle, begrypende vader (” op jou eie, in die stil kombuis”, 53) rig die lieflike woorde van die digter. Hierom kan sy nuwe name stook…

Die vader beskerm ook die gevoelige, dromende kind:

 

(…)

waar Ma die borde warm melkkos op die tafel sit en sê:

maar kind, waar was jy dan die hele tyd gewees, ons soek

jou al van dinsdag af, en jy laat weet ons niks

van jou; het jy ons nou vergeet

 

Pa, sy felblou oë reguit op my: los haar

dat sy eet

 

(“die eerste desember daarná”, 55).

 

En die verbeelding van die kind sien ons die gedig “groot katte” (55) waar die lig wat by die venster ingly ervaar word soos ‘n tier!

 

IV Lief

Hierdie afdeling resoneer met Die aandag van jou oë: gedigte vir die liefde (2002) waarin die verloop van liefdesverhouding beskryf word. Ook word die metafisika in hierdie afdeling onder die loep geneem: dit is egter ‘n God wat buite woorde lê, ‘n panteïstiese God wat verder as ver is. Dis nie die troostende Drie-enige God van die Protestantisme nie, maar eerder ‘n ervaring van die transendente wat hewig resoneer in die gemoed van die digter. ‘n Andersoortige blik word op Eva gegee in belangrike gedigte en die leser word nogal uitgedaag deur die gesprek met die Bybel en ons kennis hiervan.

In “Gety” (65) word die iteratief-duratief, die wordende proses deeglik verbeeld:

 

Gety

 

Klaarte is nie hier nie: klarighede moontlik,

maar nie klaarte nie. Niks is klaar nie

tussen jou en my. Dis alles aan die word,

 

gedurigdeur. Die golf het aangery gekom

en oorgestort; dieselfde water bly. Dis ons

 

wat in die golf geskyn het toe ons nog

dolfyne was. Die golf het aangery

 

en oorgestort. Die water bly,

ons bly dolfyn

 

(65)

 

In hierdie afdeling word die proses van liminaliteit ook beskryf – die oorgang van een dimensie na ‘n ander:

 

lumen

 

illuminasie is nooit stil

 

lig kan nie tot rus kom nie

val sus

val so

bly hang in wimpers

en in reënboë, selfs ná

die wintersdag verstryk het

 

dit is vir my verskriklik:

hierdie inkyk in jou oë

 

(67)

 

Die geliefde as ‘n teenspeler word in “bewonderinge” (68) uitstekend verwoord. Telkemale word die leser voor wendings geplaas: en lieflike liefdesverse soos “hartstog” (77). In “oor die ontmoontlikheid van pornografie” (80) – in hierdie dae van Pippi se veloorplanting – word die vel gesien as iets wat jou besit:

 

Die vel is liefde se moerland – daarom dat dit so verwoed kan

stilbly – ook en veral waar dit alles

het om te vertel.

 

In “Sandsteen” (88) word die reis na Tibet gesinkopeer met die herinneringe aan die Boesmansrivier; in “jy wat” (91) is ons in Jordanië.

 

V Somer in Eleusis

Hier is daar die soektog na “na poësieë uit ‘n ander tyd” (94) bekend aan die digter se gesprekke onder andere met Russiese digters. Die vurigheid van die jeugherinneringe word nou meer gedistansieerd en besinnend weergegee. Tog is daar weer eens die digter se unieke beelddrif (“En die druiwe hang soos tepels onder blare”, 98). “Pottebakker” (106) sluit aan by die tradisie van die lykdig en die digter se eiesoortige liefdevolle vertrekverse vir haar geliefde vriende en mede-reisigers.

Eleusis, glo die geboorteplek van Aeshylos, is die ruimte waar die antieke religieuse seremonies gehou is.

 

 

 

http://en.wikipedia.org/wiki/Eleusis

 

Afgetrek 2 Julie 2012

 

Eleusis (Greek: Ελευσίνα – Elefsina, Ancient Greek: Ἐλευσίς – Eleusis) is a town and municipality in West Attica, Greece. It is situated about 18 km northwest from the centre of Athens. It is located in the Thriasian Plain, at the northernmost end of the Saronic Gulf. It is the seat of administration of West Attica regional unit. It is best known for having been the site of the Eleusinian Mysteries, one of the most famous religious events of the ancient Greek religion,[1] and the birthplace of Aeschylus, one of the three great tragedians of antiquity. Today Eleusis is a major industrial center, with the largest oil refinery in Greece.

 

VI Met Afrika af

Ook hier vind ons gedigte vir die self waarin die intieme reiservarings, werklik en verbeeldend, verwoord word. “goue kalf” (113) vra op sy beurt om saamgelees te word met Sheila Cussons se brandende verse, die “verwasende ekstase”. In hierdie afdeling is daar ‘n terugkeer uit die “heidenlande”. Die kode van Jorge Luis Borges (“hommage”, 115) wat homself annoteer, speel weer in op die digter Petra wat haarself annoteer.

Die Jode-vervolging en deernis hiermee kom eweneens aan bod.

 

VII Met die auto af see toe

In die slotafdeling keer ons terug na die jeugervaringe en -indrukke. Aan die stemloses word stem gegee, soos Herklaas Wessels wat nooit ‘n boek geskryf het nie. So sluit die slotafdeling aan by die eerste: die sirkelgang van lewe en dood, onthou en gedig. Die broer se dood word eweneens besweer: sy sal nooit weer oor hom skryf nie; tog doen sy dit (129). Hiermee sluit hierdie bundel dan ook aan by die eerste: Obool (1977).

Onvermydelik word die vers oor die broer uit hierdie bundel opgeroep, waarskynlik een van die mooiste lykdigte in Afrikaans. 1. Hierdie traumatiese ervaring kan gelees word as ‘n pynlike wond en ‘n uitwerping uit die paradys.

Ons vind dat ook – soos dit gaan in spirituele ontdekkings – ‘n stropingsproses, hier onder andere deur die woorde van Rumi: “dra water aan see toe / staan op die strand / leer alle woorde af / leer een woord af” (153). Hierom dan uiteindelik die “silwer stilte” (158) wat in haar ore roep.

Met hierdie bundel wou ek volstaan deur sommer die hele bundel net so vir die leser aan te bied. Hopelik is my kanttekeninge van waarde vir die leser wat in hierdie bundel die werk van ‘n meester aantref.

Hierdie bundel het my weer teruggeneem na Jung se herinneringe aan sy jeug en hoe die perseptiewe jong kind alreeds sekere ervarings het wat die ouer persoon se lewe sal bepaal. Memories. Dreams, Reflections versorg deur Aniela Jaffé het in 1961 verskyn by Random House. In hierdie besinnings oor die lewe (en dood) word die leser teruggeneem na die prosesse wat in hierdie bundel verbeeld word: die psigiese parallellismes en die konneksie tussen ervarings, tussen toe en nou (418).  Hierdie bundel vergestalt wat Jung die mandala (van die Sanskrit) noem en volgens hom is dit ‘n bewys van die heel-heid van die psige – iets wat die leser aantref in hierdie bundel (367).

Die skadu in hierdie bundel is die dood van die geliefde broer waaruit sy regdeur kreatiewe vuur put. By herhaling keer sy terug hierna om telkemale dit te aanvaar in die gemoed. Die broer, en geliefde figure soos die vader en moeder, is “mythologems” waardeur haar psige werk (342).

Die sterk verhalende element van hierdie bundel moet beklemtoon word, ofskoon dit alreeds in Swerfgesange vir Susan en ander (1997) aan bod kom. Hier word mense ook by die naam genome, maar hulle word sterk mitologiese karakters.

Petra Müller is nie ‘n digteres of vroulike aanvulling nie; sy is volwaardig digter, in die oorspronklike sin van die word al skryf sy oor intens vroulike temas.

Ek het hierdie bundel in een vloed gelees – gedink hoe sou sy Die aandag van jou oë kon troef. Wel sy hét veral met die eerste drie afdelings. Dit is ‘n bundel van die hierosgamos: ‘n versoening van al die opposisies in hierdie digterlike onbewuste. ‘n Boek oor die omtes van die hart. 2.

  

Joan Hambidge

 

Junie / Julie 2012

 

 

Endnote:

 

1. Nico Müller, verdrink op 5 November 1961. Ter herinnering

  

Petra Müller

 

 

Hoe sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?

Kyk, die jaar is dragtig –

bome swel, riviere was

en mispels gooi hul vrugte op die grond.

Die jaar het al sy rykdom reeds gebaar

en bly nóg dragtig, swaar met jaar vir jaar

se steeds herhaalde vrug.

Die dae lê soos jong granate in ons hande, seun;

elke pit bloei rooi.

 

Ons het jou op die stam geënt.

Ons het jou in die grond geploeg.

Ons het jou naam by dag en nag geroep

tot selfs die voëls dit verder dra,

en jý, met al jou ongeskonde vreugdes

van hand, van voet en mond,

verklaar jou daagliks onafhankliker,

groei altyd vaster in die honger grond.

 

Die wintergras word wit

en om die heuwels loop die paaie

na alle verre oorde aan.

 

Ek moet jou naam nog eenmaal noem, in liefde en verset.

Hoe anders sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?

 

[Uit: Obool, 1977]

 

2. Boekeblad

Müller se poësie is ‘n liries helder landskap

Joan Hambidge

SWERFGESANGE VIR SUSAN EN ANDER, deur Petra Müller. Tafelberg Uitgewers, Kaapstad, 1997. (Sagteband, 131 bladsye, ISBN 0624035727, R59,95). OoR die bekoring wat Petra Müller se poësie vir my inhou, het ek my al dikwels uitgelaat. Sy is ‘n bestendige kortverhaalskrywer, en as keurder vir Tafelberg Uitgewers het sy deur die jare loflike werk gelewer en menige skrywer van raad bedien. Dit is goed dat sy verlede jaar bekroon is vir haar werk as resensent deur Leserskring se Boekjoernalis van die Jaar Wedstryd.

Petra Müller se jongste digbundel, Swerfgesange vir Susan en Ander, bevestig haar posisie as liriese digter. Sy is nie akademies ingestel nie; eerder spiritueel. En as sy in gesprek tree met ander digters, dan is dit op ‘n praatvlak: een mens tot ‘n ander. (Terloops, agterop verskyn nie ‘n foto van haar nie, maar van Osip Mandelstam (1891-1938).

Verse praat ook terug met gedigte uit ‘n vroeër bundel, soos “nico” met die vers uit Patria, wat handel oor die dood van haar broer:

dit is gedaan en afgesluit: ek skryf jou in die wasem teen die ruit waardeur ek op mistige oggende uitkyk na ‘n landskap wat skoon is, en gestroop

en deur jou helder, eenvoudige naam wit paaie wat wegloop, wegloop.

Dit is ‘n ars poetica van Petra Müller: haar poësie is soos ‘n helder landskap. Of dit is eenvoudige weefwerk wat ‘n mens imponeer om die helder kleure.

Petra Müller het al dikwels oor die Russiese digters geskryf ek dink hier aan haar gedig oor Martina Tsjwetajewa. Die gesprek met Anna Akhmatowa. En die verdigtings van Osip Mandelstam, die Russiese digter wat in ‘n kamp naby Wladiwostok gesterf het tydens die Stalinistiese vervolging. Snags het hy sy gedigte aan sy vrou Nadezjda voorgedra, en sy het dit gememoriseer en sodoende het sy poësie oorlewe.

Die bundel praat dan in die idioom van oorlewing. Van die digter as die een wat kan praat namens die dooies, die vermoordes of digters wat andersins onbekend sou bly in Afrikaans. Swerfgesange is ‘n bundel van verdriet, van afsterwe. Dit handel oor die dood van geliefde vriende: Susan Rudnitzky, Eraine Nankin en Martin Versfeld. In hierdie elegiese bundel het Müller ‘n voorloper in die digter Phil du Plessis en sy lykdigte oor Wilhelm Knobel.

Ons vind in hierdie bundel ‘n ervaring van die digter se kennismaking met die dood. Sy staan ‘n vriendin by in haar laaste reis, en sy wys op die aftakeling en die mens se vrees vir èn soeke na die dood.

In die twee gespreksverse die vriendin word soms aan die woord gestel “Nou en” en “Hier” (bladsy 62) versoek Susan haar om ‘n gedig te skryf. Die digter wil nie, want elke skryfsel skryf haar af. Tog skryf sy ‘n gedig om die dood te besweer:

…’n oorblyfsel, ‘n spelende stelling wat ons sal moet staanmaak in die plek van silwerende wittebome jaar na skoongewaaide jaar.

Die mens word deel van die natuur en a ja, a, die filosoof Martin Versfeld is nie om dowe neute op die voorblad nie. Sy ryk menslike filosofie is die bron vir bykans elke gedig. Dit spreek vanself dat hierdie bundel geskryf is deur ‘n ryp mens; en ook ‘n uiters belese mens. Maar al die invloede is verwerk. Dit kos fyn speur en nalees. Sy het my teruggeneem na Osip Mandelstam se Selected Poems, soos vertaal deur Clarence Brown en W.S. Merwin. Ook na herinnerings aan Rusland en ‘n besoek aan die Hermitage. Ook aktiveer dit die onlangse ontslape digter, Johann Johl se “verslag” oor Rusland, Roulet.

Susan word ‘n reisgesel genoem, en dit is duidelik dat ‘n mens hier kan praat van geesgenote in die ware sin van die woord. Tog is die afsterwe van die vriendin ook ‘n klaarmaak met iets in die digter self:

“drie-uur snags” Hoe hang die vensters in die esbome, elk ‘n dofgeworde vierkant lig in lower, luisterend na die gedig. Ek is vreemd hier. Ek leef van flentertjie tot flentertjie papier.

Dit is die tyd van die nag wanneer mense sterf; die kreatiewe mense lewe, vertel die Jungiane. Dit is wanneer die liggaam se weerstand op sy laagste is, en die psige as’t ware die oorhand kry. Ons weet ook dat die digter ‘n kenner van Jung is en, die bundel so gelees, word eweneens ‘n verslag van afsterwe, van klaarmaak met oortollige psigiese bagasie.

Benewens die gestroopte verse wat tot hierdie leser spreek is daar ook langer gedigte. Haar vers oor Rembrandt hoort in die galery van ander klassieke Rembrandt gedigte in Afrikaans. “Herinnering het jou reeds afgerond/ terwyl ek na jou kyk” (bladsy 72) is die refrein waarmee ek hierdie bundel gelees het. ‘n Mens sal eweneens ook nie die volgende strofe kan vergeet nie:

ek is ‘n digter, ek: ek werk met skaduwees, met liggame op trek; ek kry eers lewe as die avond met gesange uit die rante rek

en enkel swerwers, byna reeds geraamte, op die grondpad vind.

Daar is verwysings na die musiek, Chinese digkuns, die Russiese wêreld, die filosofie, kunswêreld. En ‘n bemoeienis met die dood is ook ‘n bemoeienis met die lewe. En hoë gedagtes veronderstel ook ‘n erkenning aan kafpraters “Sneeu in September: Agter-Pakhuis”, (bladsy 34), word opgedra aan wyle Daantjie Saayman.

Omdat sy hierdie kruis/munt-beginsel besef, is daar reëls soos:

Dit is hier nou nugter oggend in die klippe.

Elke hart het in sy holte tuisgekom.

Dit is ‘n bundel wat sy beslag gekry het in “helderte en pyn”. Die digter knoop ook ‘n gesprek aan met haar eie poësie en sy word al suiwerder. Die eiesoortige aanslag van Petra Müller se poësie, en die onbekende of minder bekende verwysings wat sy aan lesers voorstel, moenie onvermeld gelaat word nie.

Haar poësie is uiters sintuiglik. Sy dig aards, konkreet. Dit is iemand wat die wêreld om haar sién. Sy praat terug met Leipoldt, met Boerneef en met Opperman. Vir die leser lê daar ‘n leeftyd voor om uit te pluis aan hierdie digter se alfabet (om haar woorde aan te pas.)

Dis die moeite werd om saam te reis.

Joan Hambidge

Joan Hambidge is ‘n professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK.

Onderhoud met Petra Müller

Monday, July 23rd, 2012
Petra Müller

 

Sandberigte vir die son

Petra Müller gesels met Melanie Grobler oor haar bundel Om die gedagte van geel

 

“Een honderd lesers van jou gedigte is genoeg.” – Martin Versfeld.

*** 

Petra Müller woon tans in Larmenier Village op die gronde van Nazareth House, ‘n werkende klooster en hospitaal vir kinders met vigs. Sheila Cussons het haar laaste jare hier tussen die hoë dennebome en die alomteenwoordige Tafelberg gebly. Ek kom laatmiddag by Petra aan, te vroeg vir ‘n doppie brandewyn, maar betyds vir rooibostee met een of ander geurige kruieblaartjie daarin. Dan staan sy op en neem my na haar slaapkamer met sy groot venster wat uitkyk op haar geheime tuintjie. Reg by die venster hang die skildery met sy telefoonpale wat soos mense oor die geel landskap stap. Dan keer ons terug na die sitkamer waar ons oor haar nuutste digbundel begin praat …

 

Sewe

 

Daar ís iets aan sewe  ̶ sewe sieners stap deur my lewe.

Dis hoogdag, die skaduwees kort. Geen son te sien nie.

Hoe het die aarde so vereenvoudig geword in dié versadigde

geel, dié inkige blou? En julle sewe, so opreg orent,

my veelvoudige ouers  ̶  wat drá jul oor my heen, perfek

in pas hoewel nie eens verbind?

 

Drome maak so  ̶  raak jou nie aan onderweg nie. Is altyd

bo, of by jou verby. Net die horisontale aarde, ‘n riffeltjie

bruin op ‘n afstand, kan ek verstaan. Dit wil sê, dat die lewe

daar is, in struikgewas: grysbokkies, hase, skilpaaie,

dassies miskien . . .

 

Petra, jy sê dat jou bundel verse, Om die gedagte van geel, gekomponeer is. Jy vertel ook van jou goeie redakteur, Francois Smith, wat insien dat die digbundel onhanteerbaar dik is. Daarom steek hy sy hande in die manuskrip in en lig ‘n goeie derde uit; sit dit eenkant neer. Versteur hierdie handeling die gang van jou bundel?

Ek het opgemerk in my laaste twee digbundels dat my gedigte soos ‘n jaghond in kringe loop. Ek skryf die gedigte oor maande of jare en as dit tyd word vir ‘n bundel pak ek die verse uit op ‘n tafel of op die vloer waar ek hul rondskuif sodat een gedig op die ander volg. Weldra begin die een na die ander tema ook na vore tree; temas verander van bundel tot bundel. In my vorige bundel was dood ‘n sterk aanwysende tema. Maar hier het geel na vore gekom en word dit ‘n bundel van die lewe. Opwindend vir die digter om te sien wat uit die onbewuste na vore tree. Geel is oorheersend: die skildery op die voorblad is lewendig geel, ek skryf oor die son as bron van energie, die sonblom, die graanvelde van die Overberg, die lemoen, die lemoenboorde, die lemoenduifie en die geel lappe waarvan my ma klere gemaak het. In die namiddag het sy so gesit in die sagte lig van die son en dan op die naaimasjien gewerk. Geel kring uit en word die titel van die bundel. Ek werk op ‘n organiese wyse, dig totdat die interne goed na vore tree. Die gedigte vermenigvuldig en word soos deeg wat uit ‘n kom uitrys. Dit word onhanteerbaar. My redakteur, Francois Smit, neem van die gedigte weg. Daarna moet nuwe hegtinge gemaak word sodat niks los staan nie. Die hele proses verbeter die bundel.

Ek vra of jou digwerk ‘n uitvloeisel van ‘n proses is maar die vraag bly rond hang. My gevoel is dat groot gebeure in jou lewe, die dood van Wilhelm, jou verhuising na Larmenier en die toekenning van die Hertzogprys, jou letterlik na dieper kreatiewe poele stoot. Tydens ‘n close reading sessie word ek bewus van die sprong tussen Die aandag van jou oë en Om die gedagte van geel, van nuwe vorme wat uit jou binnewêreld vloei. Wil jy praat oor die veranderende binnelandskap?

Die bundel word ‘n verhaal met ‘n begin en ‘n middel en ‘n einde en daar is karakters wat daarin optree. Die verhaal is van ‘n meisiekind wat groot word. Haar pa is ‘n polisieman op Botrivier, daarna word hy grondbesitter. Die plaas is reg onder die hange van die Langeberge in die omgewing van Swellendam. Sy is ‘n kind wat aanmekaar wegloop en daar is gedigte oor paadjies en waterslote. Daar is bepaalde mense in haar lewe, die pa en die ma is alomteenwoordig. Dan is daar iemand met ʼn demoniese geaardheid, Mal Elsie. Ander figure wat opgeroep word is Hanna Bladcher, ‘n Jodin, ‘n ouer vrou en Harold, ‘n gespreksgenoot. Hanna het groot donker oë soos ‘n panda, ‘n wyse vrou. Reis saam met haar in Sjina, deel ‘n kamer met haar. Terug in Kaapstad word ons vriende. Elsie, die draer van my biografiese gegewe kom sterk na vore. Dis die storie van ‘n kind wat groot word, van jeugliefde, en grootmens hartstogte, verliese. In die volgende afdeling word daar weg gespring na Griekeland, na Ceres, die Godin van Graan en die tema van geel, ‘n verbinding met die wêreld waar die kind groot word met die alomteenwoordigheid van geel. Ek moes by die vader gode verby na die moeder gode. Die digbundel is verhaalmatig; geen vry-swewende gedigte met ‘n bepaalde liriese element nie. Die werk staan op ‘n manier nader aan die nuwer digkuns wat genoem word “gewone praat poësie.” Die karakters praat gewoon en daar is nie bewysbare poëtiese konstruksies nie maar eerder stories wat iets wil openbaar. W.A de Klerk het destyds ‘n opwerking gemaak oor die digterlikheid in my verhale en iets verhalend in my gedigte. In Die omtes van die hart is daar sprake van impressiewe prosa wat neig na die poësie. In hierdie bundel is die gedigte verhalend.

Die gedigte in Om die gedagte van geel is eenvoudig en mens is bewus van die aflegging van geleerdheid, moontlike terwille die besondere volgehoue toon wat dwarsdeur deur die bundel gevoer word.

Kan nie eintlik sê waaroor ek dig nie. Dis ‘n soort bevlieging wat oor my kom. As ek dit nie oombliklik raakvat of neerskryf nie, al is dit net die kern van die gedig, dan is dit verby. Vir altyd verlore. Ek skryf met ‘n potlood op papier omdat ‘n potlood altyd beskikbaar en gewillig is. Mens kan gewoon aaneen skryf, lig of donker en mens kan iets aflei van die hand wat dit neerskryf. Martin Versveld het alles met die hand geskryf, met ‘n potlood. Die hand probeer om die gedigte te vereenvoudig want as mens ‘n bietjie aanstap met die pad soos ek nou aanstap, as die stuk wat voorlê korter word; dit gaan nooit weer langer word nie, word jy pynlik bewus van enige iets wat oordadig is, of nie kernagtig is nie. Dis ‘n sintuig wat mens ontwikkel as jy ouer word. Dan gaan jy terug na jou ou gedigte en dan sê jy vir jouself: “ek kon hierdie ding baie dringender gesê het as ek dit eenvoudig gesê het.” Ek was nie bewustelik op soek na eenvoud nie maar soos ek die gedigte bewerk, probeer ek tog om dit ‘n bietjie helderder te kry as te vore. Ek glo dat die ideale gedig is ‘n water druppel waardeur jy kan sien. Dis nie ‘n einddoel nie, dis deel van bewuswording. Die bewuswording beweeg dan deur die druppel en laat dit dan agter.

Beelde van die dogtersvorm, lappe wat om die lyf gedraai word, die ma wat legendes deur die voetjie van die singer voer, die greep van die berg, die leivoor, die bossies wat mens por en por, die bibberende kringende water, die koei met die donker oë en die groot Oog, die glans van die solder, die lemoenboord, die eerste dag van menstruasie en die rooi papawers, die sikliese induik en die afduik en die durende herhaling; gedigte oor onnoembare gebeurevoermens mee na ‘n magiese aardse belewenis. Hoe verstaan jy hierdie magiese kwaliteite?

Magiese goed is dit wat saam met kinders gebore word en wat hul vir ‘n tyd saam met hulle dra. Dan begin hulle die realiteit deur taal ervaar. Maar vir ‘n lang tyd bly die magiese en dan beweeg dit weg en dan word die kinders deel van hierdie wêreld. Ek is een van die mense wat in ‘n groot mate in die kinderwêreld vas gesteek het. Het die kinderlike magiese kwaliteite behou en op ‘n manier is ek nog altyd aan die speel. Dit is wat die magiese is, ‘n vrye toegang tot die moontlikhede van die wêreld, tot fabulasie, tot die geweldige verlenging van betekenis wat mens in die simboliese wêreld vind. As mens oud word keer mens terug na daardie ding toe; mense word mos kinderlik, op ‘n mooi manier en die “getier” van die wêreld val weg en hulle word weer eenvoudig. Ek self is baie kinderlik en soms ook kinderagtig en is op my gelukkigste as ek met klein kindertjies speel. Miskien het iets hiervan oorgebly in die gedigte. Ek sal bly wees as dit die geval is.

En wat van die Stoepsitters soos jy na hulle verwys?

Die mense van daardie tyd het op die stoep gaan sit en dan het hulle die wêreld verken deur verhale te vertel of deur ‘n relaas wat jy dié dag gedoen het en wat jy gehoor het As jy mooi luister na die stoepsit-geselsery word jy bewus van bepaalde ritmes en herhalende ritualistiese frases. Dan hoor jy Odysseus toe die koning vir hom gesê het: “Kom sit nou hier en dan vertel jy vir my wie jy is.” Dan lewer jý ‘n relaas van jouself wat totaal aan mense en menslikheid gebonde is, waar jy was en wat jy gedoen het, wat die verskuiwings en verskrikkinge is wat jou oorgekom het, net soos Odysseus dit vertel. En dan kom daar ‘n antwoord uit die groep mense wat op die stoep sit, en die een sê, “Ja, ek onthou.” En die ander een sê: “Ja, ek onthou van daardie eiland. Ons het ook daar aangegaan.” Dis ‘n baie ritmiese ding en dis ‘n deurlewing van tyd, persoonlike tyd wat in daardie narratiewe na vore tree. Ek glo dat mense al hoe minder persoonlike narratiewe het. Narratiewe word vir hulle gegee deur Masjiene waarna hul sit en kyk, waarin verhale afspeel en waarop hulle nie kan antwoord nie. Hulle sit passief en kyk. Maar toe ek klein was, was ons deel van verhale en ons het gedurigdeur verhale vir mekaar vertel. Dis hoe ons die wêreld leer ken het. Ek het gedink dat almal so groot geword het. Toe ek klein was het die groot mense vir my gesê: “Jou kop is vol allerhande bevliegings. Jy loop en kyk op in die lug en dan loop jy jouself in die honde-gemors vas. Kyk voor jou voete!” Ek glo dat by die meeste skeppende mense sit daar in die middel van alles, ‘n kind wat nooit die magiese wêreld verlaat het nie. Dis eintlik gelukskinders. My ma en pa was heeltemal merkwaardige mense want hulle het heelal op heelal van mens belewenis in hulle koppe gehad. My ma het stories vertel. Sy was ‘n meester en sy het dit nie geweet nie. My pa het as jong polisieman heroïese goed op sy eie onderneem, vir dae lank ‘n bepaalde wetsoortreder deur die berge agtervolg. Hy het ‘n bepaalde man doodgeloop in die berge totdat die man op ‘n stomp gaan sit het en homself oorgegee het aan die gereg; dis nou my pa wat luister na die vlugteling. “Hier”s ek nou, baas Manie. Neem my nou, ek kan nie meer verder loop nie.” Nou, as mens dit as jou lewenskos inkry, die melk wat jy drink en die brood wat jy eet, gaan alles wat jy dink verder terug. Dis mos waarvan jy aanmekaar gesit is. Dis wat by my gebeur het.

En wat van plaas-mistisisme en of mites?

Dit het my opgeval tussen die plaas mense waar ek groot geword het dat elke enkele boer sy plaas beskou het as die middelpunt van die aarde. Hy het presies geweet wat roer waar en wat my pa getref, hy het na sy plaas gekyk asof dit ‘n bonatuurlike verskynsel was. Dit val my op dat ons hier in Suid Afrika geen mistiek in ons godsdiens het nie. Wat die gedigte van Sheila Cussons betref, hier kan ons praat van mistiek. Al die groot gelowe, die Arabiese, Duitse en Engelse het ‘n mistieke tradisie. Die mistiek wat ons hier aantref sit by die digters of die skrywers wat daardie wêreld oproep. Maar daar’s oral mistiek teenwoordig. Ek onthou toe ek my eerste betaling vir skryfwerk gekry het, ek dink dit was sowat twee halfkrone, ek was toe twaalf jaar oud, toe het ek vir my pa gevra waarin ek die geld moet belê, toe antwoord hy: “in die grond want die grond loop nooit weg van jou af nie. Jy kan vanjaar koring plant en dan plant jy volgende jaar weer iets anders.” As ek en my pa gery het van dorp tot dorp kon hy presies vir my sê wat verlede jaar op daardie land gegroei het en die jaar van te vore. Dit was ‘n boek in sy kop net soos die ou mense van die Weskus wat die see soos ‘n boek in hul koppe lees. En interessant genoeg, hulle het baie beter geheues as hoogs geletterde mense. Hulle kan alles oproep en presies sê waar die skadu van die Losberg geval het daardie dag toe hul die dier gaan soek het en hom nie gekry het nie. Die dier is natuurlik die luiperd. Sulke familie stories word aan gegee van een geslag na die volgende en neem dan ‘n mitiese dimensie aan. Deur herhaling word die storie ‘n legende. Mense het ‘n eienaardige siening van mites. Hulle dink dis iets norms en groots wat aan ander mense behoort. Ek onthou toe ek toe ek en my broer eendag net anderkant Ashton oor die berg se rug gery het, toe my broer vir my sê: “Ja, dis hier waar die oostewind gebore is.” Nou dis Homeries. Wat is die verskil? Dit hang net af hoe dit dan neerslag vind en as een verhaal van een na ‘n ander geslag oorgedra word en nog verder gaan, bestaan die moontlikheid dat mitiese materiaal bygevoeg sal word. Die wêreld is besig om grondliggend te verander wat betref kommunikasie. Ek skryf oor eenvoudige goed en hoop dat my kleinkinders eendag belang sal stel in my stories. Ek het nie ‘n goeie verhouding met die dood nie maar ek sien ek gaan nie hierdie oorlog wen nie. Mens probeer om die dood te omseil met mens se skryfwerk. Wie weet?

Evokasie of die oproep van stemme is deel van jou werk. ‘n Prosessie van mense  ̶ die gesprekgenoot, Harald van vroeëre bundels, mal Elsie van jou kort verhale, vriende soos David en Martin en Cas, die verdrinkte broer, ander broers en ‘n suster, die alom teenwoordige ouers, die mooi Ma en die ‘wilde’ Pa. Jy vertel van jou allemagtige Smalberger tantes.  Loop die daad van evokasie reeds lank saam met jou?

Digwerk is ook ‘n poging om dinge van die stilte te ontruk deur stemme op te roep. Om deur evokasie, die stemme wat stil geword het, weer terug te roep. Vir my persoonlik, as ek die gedigte lees, roep dit vir my ook iets onmiddeliks op. Ek soek dit in poësie. Dit kan gebeur by die musikale liriese verse maar kan ook gebeur by hierdie nuwer gewone praat-poësie wat van die alledaagse spraak gebruik maak. Die jonger digters betree dit, sommige met groot sukses. Hier het ons hier te make met grondliggende veranderinge. Die musikale meer ritmiese verse word al hoe meer afgelê.

Kan ons praat oor stilte en ritme in jou werk?

André Wagner wat nie van die poëtiese wêreld is nie, het na hy na ‘n voorlesing van my gedigte geluister het, die opmerking gemaak dat ek net soveel met stilte as met klank werk. Ander mense verstaan ook eers die gedigte as dit voorgelees word. Toe het ek meteens besef dat daar groot gesinkopeerde, onreëlmatige ritmes in my werk is. As ek dit voorlees weet ek presies hoe om met die lang stiltes en die eienaardige gebroke ritmes om te gaan. As die karakters in my gedigte praat, tree hierdie oneweredighede na vore. Aan die ander kant; ek ondersoek my gedigte nooit.

 

Elsie

 

“ses maal in die moer geskop, ses maal

kleintjie gedrop  ̶  mies, sus, moos, weet nét hóé;

jy staan nog so, dan trek jy al, en waar jy val

is beter dat jy lê . . .

 

“en more kom hy: elsie, elsie, elsietjie; einstetyd

het jy laas nag die koekerasie in die grond begraaf,

en klip daarop gesit;

 

“die boere wat so oor hul landerye loop en sê

ploe hiér, saai dáár,

weet ook maar fôkkol wat in hulle grond lê;

 

“maar die duiwel weet, en die duiwel se bek

klap oop en toe

van als wat kom en als wat gaan,

 

“maar hiervan sê hy níks,

Mies Sus”

 

As deel van die digter-dissipline skryf jy joernale; het reeds 40volgeskryf. Vir jou is die vloei van gedagtes deur die hand ‘n noodwendig daad. Jy skryf gedeeltes van ander skrywers se werk neer; vertaal, veral Zen koans wat jy beskryf as die verdigting van stof na kristal. Is die werk in die joernaal ‘n voorloper van ‘n digbundel?

Ek is nie ‘n mens wat dagboek hou nie maar wat ek al ‘n geruime tyd doen is om dinge te boekstaaf. Ek koop gewoon daardie swart hardeband oefenboeke met lyntjies en skryf redelik gereeld daarin, goeters wat ek teëkom en wat my tref; ‘n stukkie storie of ‘n ding wat ek gesien het, ‘n stuk papier wat in die lug rondgewaai het, prentjies. Werk van ander digters of filosofiese besinninge word ook op geteken. Ek neem die werkboeke of kladboeke saam as ek op reis gaan. Mens kan sodoende op jou eie spore terug loop. Ek skryf ook onklaar gedigte in hierdie boeke en sodoende word beroeringe en bevliegings meer hanteerbaar.

Na die Hertzog Prys-toekenning vir Die aandag van jou oë kuier ek by jou en jy praat oor die gravitas van die Prys; vir jou moet die ontvanger se werk uitmuntend wees en jy twyfel oor jou eie. Jy wil weer kyk na jou werk, dink dat sekere herhalende digpatrone vernuwe moet word. Wil ‘n studie maak van N.P. van Wyk Louw se digkuns. Jy noem dat hy nou soos ‘n ligstraal deur jou nuwe bundel loop. Kan jy meer vertel van die vernuwing in jou werk?

‘n Digter wat die meeste invloed op my gehad het, is N.P. van Wyk Louw. Ek het ‘n manier om name vir mense te gee. Ek noem hom Niklaas. Ek beskou Tristia as ‘n magtige bundel veral na die einde toe. In daardie laaste verse is daar ‘n helderte en ‘n noodwendigheid. Daardie ding wat die Grieke genoem het Adnangke. Dié wat van Wyk se werk ken, sal hoor sy werk eggo in my bundel. Die woordTristia, is ‘n ou woord. Osip Mandelstam het ‘n bundel verse byeen gebring wat hy Tristia genoem het. Triest, is die Afrikaanse woord. Ek het in myself ‘n verskriklike kapasiteit ontdek om te rou, om te treur, byna soos ‘n treurduifie wat die hele Sondag kan sit en treur. In een van Rilke se groot sonnette skryf hy:

 

Ons is die treurendes

eenmaal was ons ‘n groot ryk gewees

‘n groot wêreld van treurendes

 

Om te treur is amper om te dig. As mens dig, roep mens vir ‘n oomblik die dodes terug aarde toe. Baie van my digwerk is treurpoësie. Maar ek is ook ‘n vrou wat daarvan hou om “kamp-grappies” te maak, soos ou Martin gesê het. Ek hou veral van boere-grappe. Ek dink die boere-grap is een van die groot kulturele prestasies van die Afrikaner. Een van sy groot kulturele bydraes.

Ons praat oor Osip Mandelstam, Hans Faverey, Elizabeth Bishop, Emily Dickinson, weereens Emily Dickenson, ook ‘n nuwe leermeester, César Vallejo waar jy hulp soek met die tegniek van vertel. Ongelooflik om te dink dat mal Elsie ‘n draai maak by Vallery in verre Peru! Ook die Palestynse digter, Darwish en byna vergeet ek van die blinde Borges.

Ek lees baie digters en vele van hulle beïnvloed my werk. Ook in my laaste bundel is daar vele invloede wat ek kan raaksien.

Ons het mekaar leer ken in die laat tagtigs. Nou het ons albei meer tyd en sien mekaar meer gereeld, veral rondom die maandelikse byeenkomste van die Tafelberg Leeskring waar ons jou ken as ‘the wise woman’. Ek weet dat jy deurentyd studies van uiteenlopende onderwerpe doen. Kan jy meer vertel en syfer hierdie studies deur na jou digwerk?

Van Wyk Louw het een van die groot konsepte van die Zen vir homself geneem: “Die pad self is die ding wat loop”.  Jy verwys na verskillende studies wat ek onderneem. Dis nie iets wat op enige formele vlak geskied nie. Die pad bring dit na my toe. Ek moet binnekort oor Magmoed Darwish, die Palestynse digter praat. Nou moet ek terug gaan na die verskriklike broedertwis, die familie twis tussen die Jode en die mense van Islam, wat ‘n baie groot en woedende wond is. Daar sit in die Midde Ooste waar die Monoteïstiese godsdienste almal uitgebroei het, ‘n groot klomp gevoelens vir almal in die Weste. Om nou enigsins te begryp wat die woord Palestina beteken moet daar nou ‘n studie onderneem word en kyk waar alles vandaan kom, watter verse inwerk op hierdie mense. So dis iets wat oor die pad kom. My studie van die Kabbala (dis ‘n studie wat ek vir myself gedoen het) spruit uit die feit dat my man ‘n direkte afstammeling is van die groot Talmoedis, Eliaza ben Solomon Slavin, wat ‘n vyand van die Gaside, ‘n ander vorm van Joodse Mistisisme, was. As jy eers die Gaside bestudeer het, kom jy by die Kabbala uit, dis die oorsprong-verhale van die Joodse Mistisisme. In die middel van die Kabbala vind mens iemand met die naam Isaac ben Solomon Luria. Sy storie van hoe die wêreld ontstaan het, is vir my die mooiste. Dan lees jy ‘n boek soos Disgrace en jy sien die hoofkarakter se van is Lurie, dan gaan soek jy, want daardie karakter is ‘n Jood. Hy het ‘n baie lang geskiedenis agter hom wat jy in aanmerking moet neem, as jy oor daardie karakter wil dink. Ek beskou Disgrace as ‘n groot werk. Die boek se naam is eintlik Grace. Die storie gaan oor grace, ‘n gegewe wat net uit die liggaam van die Rooms Katolieke Kerk, uit die Maagd se liggaam gekom het met die geboorte van Jesus Christus. Die studies wat ek onderneem, lei my daartoe om na my eie denke te kyk. Praat hierdie karakter of skrywer die waarheid of lieg hy? Deesdae is die soeke na betekenis onpopulêr, dit het nie meer waarde nie.

Teen die einde van die bundel verander die verse en word die stem stil gemaak. Jy dig oor stilte van die Langeberge teen die einde van die dag. Gedigte verbrokkel en word koans. Het jy altyd belang gestel in die Oosterse digkuns?

Ek het myself bewustelik geskool in gedagterigtings en gewoontes wat vir my vreemd is, byvoorbeeld die wêreld van die Zen. Die Zen-digkuns loop saam met die stilte. Daar is die waterpoel, die rots by die waterpoel en die bamboes by die waterpoel. Op ons bergplasie bo-op Piketberg is daar presies so ‘n plek. Die groot uitbeelders van die Zen-poësie het gedurende hul skoling vir ‘n jaar lank ‘n blaar geteken, leer ‘n paar jaar lank om ‘n waterverftekening te maak van ‘n rots. Dis ‘n hele skoling van die verbeelding en van die hand. ‘n Groot aantal van hulle kort, klein openbaringsgedigte het ek vertaal as oefeninge vir myself. Die koan is eintlik ‘n strikvraag wat jou gemoed van die logiese na die onlogiese neem. Hul observasiegedigte is soos klein abstrakte werkies soos Basho se afskeidsgedig

 

Siek geword terwyl ek nog onderweg was

my woorde bly hang in ou landerytjies

 

Van die korter en langer gedigte in Tristia is perfekte Zen-observasies. Die eenvoud word tot op ‘n punt geneem waar alles verbrokkel. Hierdie is die laaste gedig in my bundel  ̶

 

Die diskrete vuur wat in die roos woon, is dié-

selfde geel, die goud,

wat oor die spits sonwaarts spring

en oplos in herinnering,

 

                                                            en klein wit reiers kantel langsaam af

                                                            en strek hul pote uit

                                                            om tuis te kom in bome

                                                            wat by stilte staan

 

wit vlek die dag se reier

nou die nag;

roer nog ‘n bietjie, strek ‘n vlerk

waardeur die maanlig sif soos gaas

wat geroer word  ̶

oplaas is daar rus

 

                                                            maar

                                                            die gespieëlde lewe in water

                                                            beef met ‘n lang wig lig

                                                            geruisloos  ̶

 

                                                            otter is hier

                                                            vis-in-die-bek

 

                                                            nou flik ‘n silwer stilte

                                                            en volkome

 

Dwarsdeur jou bundel is daar verse wat uitreik of verwys na die ontwykende beminde. Kan hierdie gedigte as liefdesverse beskou word?

Alle gedigte is liefdesgedigte.

Dankie vir die gesprek, Petra. Watter persoonlike gunsteling uit jou bundel kan ons ten slotte aanhaal as sluitstuk by die onderhoud?

 

vroeg I

 

ek gewaar dat jy in die oggend met my wakker word

en saans met my gaan slaap

                                    onderneem jy ook die vaarte oor ‘n aardbol

                                    wat ek onderneem  ̶  die melkwit reis waarin ek swaai

                                    soos in die uier van ‘n koei

                                    vaar jy ook landwaarts, en word daar vir kleingeld

                                    oor die rotse uitgestrooi

                                    maak jy daar ook die radelose liefde

                                    wat ek maak

my vrae buig hul oor jou soos ‘n moeder, al vorentoeër

en al moeër: ken jy die geselle waarvan jy

so veel vertel, my kind?

 

son kom op, nog ver, en lees ons sandberigte

soos ‘n oorlogsheer wat verg dat niks

verberg mag word nie voor sy aangesig

 

tot maan kom, met haar krateragtige aandgesig

waarin daar holtes vir ons voete is

 

                        gaan jou goed, hoor;

                        moenie moed verloor nie,

                        mooi beminde

                        ̶  wat jou teen die aand

                        weer in

           

(c) Petra Müller