Posts Tagged ‘Onderhoud Johan Myburg’

Onderhoud met Johan Myburg (Uittogboek)

Friday, May 19th, 2017

 

Johan Myburg gesels oor sy nuwe bundel Uittogboek met Louis Esterhuizen

.

Johan, van harte geluk met die publikasie van jou nuutste digbundel, Uittogboek. Volgens my is hierdie een van die mees indrukwekkende poësie-publikasies in afgelope tye. Maar vertel ons iets omtrent die titel?

Baie dankie, Louis. Die begrip “Uittogboek” kom ter sprake in die gedig “Prosopopeia”, die Griekse term vir die stylfiguur wat “persoonsverbeelding” sou kon beteken, maar met dié kwalifikasie dat die skrywer afstand kry van die gegewe in die gedig deur ʼn ander persoon as spreker aan die woord te stel. In dié geval iemand wat gesterf het en volgens Egiptiese rituele weggelê word in ʼn sarkofaag of graftombe. Die spreker verwys na die Uittogboek “as ʼn soort gids deur die git van die onbekende”. Maar dit is dalk die onmiddellike of direkte betekenis van die titel.

Uittogboek is maar jou vierde digbundel sedert jou debuut, Vlugskrif, in 1984. Die ander bundels is: Kontrafak (1994) en Kamermusiek (2008). Jy kan dus beslis nie daarvan beskuldig word dat jy ʼn veelskrywer is nie. Hoekom hierdie lang stilswyes? Werk jy konstant aan gedigte, of is jy ʼn sporadiese werker?

Gewis is ek nie ʼn veelskrywer nie! Dikwels beny ek mense wat meer en vinniger kan werk. Maar dit beteken nie dat ek sporadies werk nie. Dit is dalk net ʼn geval dat ek stadiger werk as wat ek sou kon. Jou keuse om te praat van “werk” eerder as “skryf” is belangrik. Want skryf is net ʼn deel van gedigte maak, dit is net ʼn deel van die werk. ʼn Ander belangrike deel is lees (en dan is daar ook nog luister, nadink, kyk, ervaar, ensovoorts en in geen spesifieke orde nie). Skryf is die neerslag van ʼn onsigbare bedryf wat tyd verg.

Hoe dit werk dit weet ek nie, maar ʼn mens weet wanneer ʼn gedig klaar is (soos in afgehandel sowel hopelik klaar soos in helder).

Sou ek meer wou geskryf het? Ja. Is ek tevrede met die lang tussenposes? Ek sou dit dalk nie anders wou gehad het nie.

Danksy jou werkswyse slaag jy baie effektief daarin om met elke bundel van jou ʼn unieke aanslag ten opsigte van sowel styl as tema te gebruik. In welke mate stem Uittogboek ooreen met sy suksesvolle voorganger, maar veral: in welke mate verskil dié nuwe publikasie van sy voorgangers?

As elke bundel ʼn unieke aanslag het, is ek innig dankbaar. Miskien is dit juis die lang stiltes tussenin wat daartoe bydra. Dalk is dit soos kinders wat ver uit mekaar grootword. Elkeen is iets van ʼn enigste kind en dit verduidelik miskien waarom hulle so van mekaar verskil.

Nietemin bly die bundels, soos telge, “familie”. Soms dink ek elke digter sê sy of haar lewe lank dieselfde ding oor en oor. As dit op verskillende maniere kan gebeur, is dit natuurlik wonderlik.

Dalk staan ek te naby om verskille met die voorgangers aan te dui. Die stem van Cloete het ek lank in my binneoor gehad. Minder dalk in Kamermusiek as in Kontrafak. Met betrekking tot dié nuwe bundel kan ek nie afdoende oordeel vel nie, hoewel ek weet dit voel vir my asof ek in Uittogboek ʼn stem hoor waarmee ek gemaklik voel. As dit my eie is, sal dit gaaf wees.

Humor en ironie vorm myns insiens skering en inslag van hierdie bundel. En in dié opsig maak jy veral van die klassieke gebruik; soos reeds met die motto se heenwys na die ietwat obskure keiser Aelius Hadrianus, wat weens ʼn hartaanval in 138 n.C. gesterf het, se vyfreëlige afskeid aan die lewe:

animula vagula blandula

.

liewerdste klein swerwersiel

metgesel en gas van die lyf

waarheen mik jy nou: ʼn oord

waar jy kaal en koud en styf

geen grap meer kan verwoord?

Op welke manier verskaf dié reëls die nodige sleutels om die bundel mee te ontsluit?

Hadrianus is as keiser, soos jy sê, dalk minder bekend as van die ander Romeinse keisers. Maar hy is die een wat ʼn belangstelling in die kunste gehad het en ʼn besonderse argitektoniese nalatenskap gelaat het (benewens die Pantheon in Rome onder meer ook sy villa en tuinery by Tivoli, ʼn paar kilometer buite die stad, asook bouwerk in Griekeland). Hy het opdrag vir heelwat beeldhouwerke gegee, het kuns versamel en was teen die einde van sy lewe ook digter (hoewel “animula vagula blandula” die enigste vers van hom is wat behoue gebly het). Hy het buite die Latynse wêreld belangstelling gehad in Griekse en Egiptiese kuns en kultuur, wat hy eerstehands op talle reise verken het.

Hadrianus se “vyfreëlige afskeid aan die lewe” wat hier tegelyk motto en openingsgedig is, dui myns insiens op temas wat in die bundel aan die orde kom: die vertroude en beminde; swerftogte; lyflikheid; die dood, verganklikheid en vergetelheid; en die vermoë om te kan verwoord (of te skryf). Die grap, by wyse van humor en ironie, moet ʼn mens nooit onderskat nie. Dit is, soms wrang soos dit is, ʼn voertuig wat soveel verder kan loop as dodelike erns.

Van die aangrypendste gedigte in Uittogboek is die lykgedigte oor Marthinus Beukes (pp.28 – 29) en veral T.T. Cloete (“Reitzstraat, Potchefstroom”, p.45): “Na jou voorbeeld het ek groenigheid begin troetel / en algaande woord vir woord aan die groei gekry, / later selfs ryme jasmyn lelie iris roos aangelê, my verloor / in kwatryne. Sedertdien swymel ek steeds oor die boeket / van tuine en die toorkrag van ʼn rymende eindkoeplet”, lees ons in laasgenoemde. Vertel ons ietwat van jou vriendskap met dié twee literêre reuse en die invloed wat hulle op jou gehad het?

Benewens vriendskap was dit buurmanskap wat ek met dié twee gedeel het.

Marthinus Beukes het ek leer ken tydens ons studiejare in Potchefstroom. Jare later het ek hom weer raakgeloop toe hy lektor in Afrikaans-letterkunde was aan die Universiteit van Johannesburg en die laaste paar jaar van sy lewe het hy skuins oorkant my gewoon. Marthinus was nie sonder mankemente nie (wie is?). Wat my altoos van hom beïndruk het, was die manier waarop hy ʼn teks gelees het. Dit het my verheug en verbaas. Sy noukeurige lees wat sienderoë ʼn opgewondenheid in hom gewek het, was wonderlik om te aanskou. Daarby het hy ʼn literêre verwysingsraamwerk gehad wat verduidelikings oorbodig gemaak het: Hy was wat enige digter “die ideale leser” sou noem.

TT Cloete het ek, voordat ek later die statuur van die man as literator en toe as digter sou snap, as tuinier leer ken. Ek was 14 toe die Cloetes oorkant die huis waar ek grootgeword het in Reitzstraat ingetrek het en prof. TT, soos almal hom genoem het, op ʼn ongerepte stuk grond ʼn tuin begin aanlê het. Ek het steeds prentjies in my kop van die mank man wat tuinslange aansleep, van sproeiers in sy tuin wat saans tsk-tsk, van ʼn tuin wat jaar ná jaar gedy en ʼn man wat laatnag met gordyne oop by sy lessenaar sit en werk. Later het ek by hom klas gehad en nog later het ons vriende geword.

Ek is bevoorreg om dié twee mense te kon ken.

Johan, die vernaamste indruk wat dié gedigte op die leser maak, is dié van verskeidenheid; nie net tematies nie, maar veral stilisties. So wissel jou aanbod van die sillabiese vers, na kwatryne (pp.95 – 96), prosagedigte (pp. 98 – 100), rondeau (p.53) en dit wat seker as “stringgedig” beskryf kan word: “Nanas de la nada” (pp.105 – 107), ʼn reeks gedigte wat opgebou is met versreëls van kwalik 5 lettergrepe per versreël. Wat beteken die titel en hoekom dié gedigte opdra aan César Antonio Molina?

Jare gelede het ek in Madrid in die blad Intramuros ʼn onderhoud met César Antonio Molina gesien. Die opskrif was “Vivir sin ser visto” (Lewe sonder om gesien te word) en ek het die koerantartikel in my koffer saamgebring huis toe en dit woord vir woord sit en vertaal – dit was voor die luukse van Google en die ondeug van Google Translate. Die gedagte aan onsigbaar leef het my aangegryp. Dit was my eerste blootstelling aan dié digter en later het ek vertalings van sy gedigte in die hande gekry. Molina (1952) was benewens Spaanse minister van kultuur ook joernalis en direkteur van die Cervantes-instituut.

Die vertaling van “Nanas de la nada” sou iets kon wees soos “Wiegeliedjies van nêrens” of “Wiegeliedjies uit die bloute”. Dié “string”-vorm, soos jy dit mooi noem, het ek by Molina raakgelees.

Helaas is dit nie moontlik om die tematiese verskeidenheid van dié bundel binne die bestek van ʼn onderhoud te hanteer nie. Maar een van dié temas is die deurlopende reismotief; veral weens die kontras wat dit vorm met die tema van verblyf ten opsigte van die talle huis- en tuingedigte. Het jy baie gereis tydens die skryf van hierdie bundel en indien wel, hoe het dié reisindrukke jou digkuns beïnvloed?

Reis het wonderlik verruimende aspekte – een reis is die ekwivalent van hoeveel boeke nou weer? Maar reis het ook die voordeel dat dit die reisiger onmiddellik op losse skroewe stel. Die sekerhede vervaag en die “vreemdheid” wat ʼn mens maklik aan plekke toeskryf, setel inderwaarheid in jouself. Dit is per se nie plekke en mense wat vreemd is nie – dit is jý wat jouself as vreemd ervaar in sekere omstandighede, soos wanneer mense wat jou nie verstaan nie en jy hulle ook nie verstaan nie.

Reis maak jou bewus van die gewoonheid waaraan jy mettertyd gewoond geraak het. Dit skerp jou op om met nuwe oë te kyk, na nuwe sowel as na bekende dinge. Om nuut te hoor, nuut te ruik…. Selfs al is jy tuis.

Leunstoelreis moet ʼn mens ewenwel nie onderskat nie: om deur ander se oë en ervarings te reis bied vistas wat nie te versmaai is nie. Of dit nou deur boeke is, deur flieks, deur musiek of die internet.

Onderstaande reëls uit die slotgedig, “Oggend” (p.102), verskaf terugskouend ʼn besonderse perspektief op Uittogboek. Kan jy dalk dié reëls vir ons binne konteks plaas, asseblief; veral in die mate wat dit as antwoord dien op die reeds aangehaalde openingsvers?

Wat besiel onthou? Is dit die lig, die glim, die fraiings

in die loom van die dag, geruis soos dié van ’n duif

wat dalk broei in ’n palm, hoog en rustig

in hierdie balsemoggend, ’n wolkie appeltabak

wat ópstuif van die straat? Om hier te wees

en terselfdertyd nié hier nie: die lyf iewers tussen

versugting en nader aan slytasie; om te onthou

en voortdurend in onthouding te leef.

Soms is dit juis die sintuie wat onthou aktiveer: die manier waarop lig val, ʼn geluid of ʼn geur. Smaak en die tassin minder, so lyk dit vir my. Dié gewaarwordings is belangrik omdat onthou ʼn manier is om verganklikheid (en vergetelheid) te oorleef. Ek vermoed dit is waarom mense name in steen gekrap het, beelde uit klip gekap het, geskryf het. En dit steeds doen.

Inderdaad, Johan, inderdaad. Soos ook jy nog steeds doen met hierdie gedigte.

Ten slotte, by wyse van lusmaker, wil ek graag vra of jy nie perdalks een van jou gunstelinggedigte uit dié versameling hieronder wil plak vir die lesers nie?

Gunsteling? Daarvan is ek nie seker nie. Maar miskien ʼn gedig wat nie tot stand sou kon kom nie sonder die fokus op en sug na “leefstylartikels” in populêre tydskrifte.

Ars poetica

Nuttige wenke: Kleur jou eie toga, à la Gaius Plinius Secundus

“Purper is die nuwe wit,” twiet dié met vingers op die pols, dié wat giere peil, voorspel

hoe modes neig, wat wenke met lesers deel oor natuurlike stowwe soos sy en wol;

boonop wat kleur kan doen vir ’n klerekas. In bylaes vir die doen-dit-self-entoesias wys

redakteurs stap vir stap hoe om jou eie lap te kleur. Dis eenvoudig, hou artikels vol,

mits jy die raad volg van ons kenner, Plinius die Ouere. Maak só: Beste is om te wag

vir die Hondster om op te kom, die wagwoord is immers seisoenaal. As Orion se brak

van somerhitte begin hyg, moet jy gereed wees om seeslakkies te gaan oes, óf vra

jou handelaar op die hoek vir Bolinus brandaris, maar maak seker die jel is steeds intak –

dis die geheim van dié resep. Verwyder die hipobranchiale kliere met sorg en hou eenkant,

voeg daarby sout, 600 ml vir elke 45 kg sekresie en laat die spulletjie vir drie dae week.

Berei ’n vuur en giet oor in potte van tin of lood (yster of koper kan die kleur beduiwel),

bring tot kookpunt en laat prut vir tien dae oor indirekte hitte. Die vloeistof moet bleek

en wasagtig wees. Skep telkens met ’n sif onsuiwerhede af tot jy eindelik ’n gladde tekstuur

in jou ketel het. Op dag tien kan jy jou mengsel toets: Dompel in die kokende pot ’n vag

wol of ’n stuk sy en sien hoe dit voor jou by die uithaal oksideer en verkleur in skakerings

van karmosyn tot dieper purper. Laat jou lap droog vir vyf uur en doop dan nog ’n slag,

herhaal tot jy sit met die rojaalste tinte getrek uit die fluim van ’n slak. LW: Om jou te tooi

in ’n toga van Tiriese praal moet jy vir 1 g kleursel reken op 10 000 slakke as prooi.

.

(c) Johan Myburg (Uit: Uittogboek, 2017: Protea Boekhuis)