Posts Tagged ‘onderhoud Louis Esterhuizen’

Onderhoud: Louis Esterhuizen (Amper elders)

Tuesday, March 27th, 2012

Omslag

 

Hoe meer elders, hoe meer tuis

Louis Esterhuizen in gesprek met Marlies Taljard oor sy nuutste bundel, Amper elders.

 

 

Louis, eerstens baie geluk met ‘n besonder sterk bundel! Die buiteblad is een van die treffendstes wat in ‘n lang tyd verskyn het. Dit hou duidelik verband met die eerste gedig in die bundel, naamlik duiwedanser waarin jy skryf:

as ‘n afgetrede sirkusarties staan hy

sononder in die oopte tussen hoë geboue,

draai met uitgestrekte arms stadig

deur die ritme

van ‘n ouwêreldse dans –

 

roep dan met ‘n vertroude gebaar

sy strooisel duiwe uit naburige dakke op

na waar hy met wye jas en kierie

die jare se tentflap

vir hulle eenkant toe sleep

Vertel asseblief meer oor die buiteblad waarop ‘n fladdering spierwit duiwe teen die agtergrond van imposante klassieke suile uitgebeeld word, maar ook hoe die voorblad en die gedig duiwedanser verband hou met die belangrikste temas van die bundel.

Duiwe het nog altyd ‘n bepaalde teenwoordigheid in my gedigte gehad, Marlies. Met die konsep van Amper elders het hulle geneigdheid om altoos te wil terugkeer na waar hulle uitgebroei is, my goed te pas gekom. Aanvanklik was dié betrokke vers nie geoormerk vir opname in hierdie bundel nie, aangesien dit voor die Europese reis wat ek en Marlise in 2008 onderneem het, geskryf was en uiteraard nie met die reisgegewe skakel nie. Maar na ‘n bepaalde traumatiese insident waartydens ek langs die siekbed van ‘n geliefde moes waak, het die twee slotverse, “Waakeenheid” en “Verposing“, hul opwagting gemaak en meteens was “duiwedanser” ‘n gepaste, bykans profetiese, openingsvers vir die bundel.

Omrede die narratiewe lyn van die reisjoernaal so sterk deur die bundel loop, was ek bang dat die bundel gewoon as reisverslag gelees sal word; ervarings wat myns insiens sekondêr is en gewoon as katalisator dien tot ‘n besinning oor kwessies soos identiteit en die vervlugtende aard van die mens se bestaan en sy verhoudings tot dinge en mense. Laasgenoemde tema’s word dan by uitstek gedra deur die ses duifgedigte (wat in frekwensie toeneem na die einde van die bundel) wanneer die “terugkeer” op hande is. Daarom was dit sinvol om dié verskuilde suggestie reeds met die omslag te plant; veral gesien teen die agtergond van hemelse poorte … (Toemaar, dis net ‘n sydelingse grappie.)

Nietemin, Doug Lew is een van die VSA se bekendste waterverfskilders en iemand met wie Marlise van tyd tot tyd korrespondeer. Toe ek dié betrokke skildery in een van sy boeke sien, was ek sommer baie opgewonde, en daarom uitermate dankbaar dat hy goedgunstelik tot die gebruik van sy skildery as omslag ingestem het.

Hmmm … jou verwysing na hemelse poorte is natuurlik ‘n reis van ‘n ander aard – wat, soos jy sê, ook plek-plek in die bundel aan bod kom. Die vyfde gedig in die bundel, ark roep een van die mees argetipiese duif-simbole op. Is jou duiwe simboliese duiwe? Indien wel, wat simboliseer hulle? Of wissel/versmelt die simboliek soms?

Nee, ek dink darem nie ‘simboliese duiwe’ nie. Die duif-motief verwissel immers telkens: van die noodlotsfiguur in duiwedanser, tot uitdrukking van liefde in die gedig duifgrys, die liefde (p.62). Ook die brose vervlugting in die slotgedig. Wat egter wel vir my in alle opsigte rondom die duif-gegewe sentraal staan, is die sirkels wat voltooi word.

Amper Elders is vir my die poëtiese weergawe van ‘n foto-boek. Die subtitel is ‘n Reisjoernaal. Dit is ook inderdaad die verslag van ‘n reis deur Europa met sterk sensoriese en narratiewe elemente – elke gedig is as’t ware ‘n foto ingebed in ‘n groter verhaal. Watter soort reis was dit – het jy die reis onderneem met die oog op ‘n bundel of het die bundel as “neweproduk” van die reis ontstaan? Wanneer en hoe het die gedigte ontstaan – sommer ter plaatse, na aanleiding van ‘n dagboek of by nabetragting? Hoe het die kreatiewe proses in dié spesifieke bundel gewerk?

In teenstelling tot Marlise is ek geen reisiger nie. Trouens, hierdie was maar my tweede reis oorsee. Ons moes egter gaan om Marlise se dogter se troue in Cambridge by te woon en omrede ons vorige reis (in 2002) maar ‘n tref-en-trap-affêre was, het ons besluit om dié reis die moeite werd te maak; veral met ‘n langgedroomde besoek aan Praag as uiteindelike hoogtepunt. Op daardie tydstip was daar nog geen bundel in die vooruitsig nie; Sloper het enkele maande vantevore verskyn en ek was besig om afrondingswerk te doen aan Wat die water onthou. In Antwerpen het ons tuisgegaan by Piet en Anic wat ‘n gastehuis met die inspirende naam Amper elders bedryf. Die idee vir die bundel was meteens daar; alhoewel die uiteindelike bundel drasties verskil van dit wat ek aanvanklik beoog het.

Tema’s en indrukke het ek tydens die reis neergepen, maar by die fisiese skryf van die gedigte het ek eers later gekom ná Wat die water onthou afgehandel was. 

Wat jy hier sê, is baie interessant, veral vir mense wat met literêre teorie werk. Is dit altyd vir jou so dat jy die stof as’t ware laat ryp word oor ‘n tydperk (soos goeie wyn en kaas)? Die eindproduk is dus – as ek jou reg lees – ‘n onontrafelbare vermenging van feit en fiksie asook ‘n goeie skoot beplanning en intuïsie? Soos Van Wyk Louw dit stel: dat die eindproduk “niks wat somers is meer het / nie pit of dop of rank”?

Sekerlik kan ek nie namens alle digters praat nie, Marlies, maar vir my werk dit beslis so. Trouens, vir my is die maande der maande van beplanning, bepeinsing, navorsing en aantekeninge maak van die lekkerste aspekte van die skryfproses. Aangesien toon vir my uiters belangrik is by ‘n gedig (en by implikasie van die bundel), verkies ek om te begin skryf eers wanneer ek die gedig(te) gemoedsonthalwe kan ‘voel’. Die uitdaging is natuurlik om met dié agternaperspektief nie die gevoel van onmiddelikheid verlore te laat gaan nie … Veral nie met hierdie bundel waar die leser die reisgenote tree vir tree vergesel nie. Vir my was dít van kardinale belang ten einde die intimiteit (met die reis) te kan behou. Ook omrede daar nogal heelwat verse is wat met ‘n historiese bril kyk na die voorgeskiedenis van ‘n plek. ‘n Mens is immers die somtotaal van al jou wedervaringe; so ook ‘n bepaalde plek of groep mense.

‘n Mens sou seker by die eerste vlak van betekenis kon vassteek en die gedigte suiwer as die verslag van ‘n reis lees. Daar is egter te veel aanduiders na ander dimensies in die bundel om so ‘n lees te regverdig. Ek dink byvoorbeeld aan die gedig reisigers met die slotreëls:

maar vir iemand wat in liefde reis,

is geen bestemming

 

ooit te ver of naby genoeg nie

 

Word die reis in hierdie bundel vir jou ook metafoor van iets anders?

O, beslis. Myns insiens reis ‘n mens deurentyd met die volgehoue plasing van vergelyking en parallelle tussen die vreemde en dit waarmee jy bekend is; hoe meer jy dus ‘elders’ is, hoe meer is jy ‘tuis’. Net so is dit nie ‘n ánder ‘Louis’ wat hom daar in die vreemde bevind nie; die mens wat jy is, bly onbeskaamd . Trouens, weens die volgehoue bevraagtekening en verbandlegging ervaar jy jou eie menswees waarskynlik méér intens as wanneer jy jou binne ‘n bekende omgewing met vertroostende en stabiliserende rituele en roetines bevind … Jy is dus nooit werklik ‘elders’ nie. Hierdie teenstrydigheid vorm die tematiese grondslag van die bundel. Ironies genoeg is dit seker ook net so van toepassing op die wyer doek van lewe en niks; nooit is die lewensgras soeter as wanneer jy in die kamp van “amper bokveld” gewei het nie …

Louis, te oordeel aan die aantal en die kwaliteit van die gedigte in Amper elders lyk dit asof jou verkeer in die liminale sone vir jou baie kreatief was. Teoretici beweer egter ook dat die oorsteek van die drumpel gepaard gaan met verwonding en pyn wat op hulle beurt weer lei tot dieper besinning (soos jy aantoon!) en identiteitskonstruksie. Dit is ‘n vreeslike mondvol jargon … maar sou jy – heel abstrak gesproke – met hierdie stellings kon saamgaan? Met ander woorde: is die Louis (as mens en digter) wat teruggekeer het, dieselfde mens/digter wat gegaan het? Het die reis vir jou die geaardheid van ‘n inisiasie gehad?

Sjoe. Uiteraard verander ‘n mens deur die loop van ‘n reis en is die  jy  wat terugkeer, nie dieselfde as die een wat gegaan het nie … Maar net so sou ek ook verander het indien ek tuis gebly het. Hoe kwantifiseer ‘n mens so iets? Jy is immers die somtotaal van jou wedervarings … Tog is dit so dat ‘n mens – gestroop van dit wat bekend is en ook jou gebruiklike roetine – dalk sintuiglik skerper ingestel is op jou wedervaringe in die vreemde. Maar nee, die reis was vir my in dié opsig waarskynlik van minder belang. Veel belangriker is die kontras tussen wat bekend is en dit waarmee jy nié vetroud is nie. Met die ommeswaai na die terugkeer wanneer selfs die bekende onverwags angswekkend onseker blyk te wees. Die brose sekerheid van verwagting wat gefnuik word. (Die slotvers se titel is nie verniet Verposing nie …)

Vlug BA58  is een van ‘n hele paar gedigte wat oor die skryfproses handel:

 … as die nag gemaak is

van papier, word alles neergeskryf en gelees,

 

word rigting bepaal deur samehang en

verband: die drukskrif wat iedereen

sintakties plaas in ‘n landskap wat afgelees

 

word lank ná die toustaan

met paspoort, visum

en verklaring: wanneer die nag

 

gewoon teks word en jy

na die deurslag kyk wat verwagting is –

 

jona, in die maag van sy vis

 

Ek interpreteer dié slot as ‘n stelling dat die skrywer die gevangene is van sy skrywes en/of van die skryfproses. Wat is jou reaksie hierop?

Inderdaad, Marlies. Met so ‘n stelling gaan ek akkoord. Natuurlik met die agternagedagte dat die skryfwerk iets is wat jy sou verkies het om te vermy; iets waartoe jy gedwíng word deur omstandighede waaroor jy bitter min beheer het. Die onvoorspelbare en onverwagse wendings van die reis – ten spyte van verwagting – staan voorop. So ook tydens die proses van skryf.

Die gedig bevat ook die suggestie dat skryf bepaalde risiko’s inhou? Hoe voel jy oor die gedigte wat jy die wêreld instuur?

Ja, maar die risiko is waarskynlik meer persoonlik van aard. Die skryfproses is immers ‘n manier van dink; ‘n manier waarop jy probeer om begrip (en samehang) te vind te midde van bepaalde ervarings. En dié insigte is nie altyd gemaklik nie. Oor hoe ek voel oor gedigte wat ek “die wêreld instuur”? Wel, ‘n mens kan maar net hoop dat dit iewers ‘n leser sal vind wat bereid is om dieselfde moeite daarmee te doen as wat jy as digter daarmee gehad het … Die skryfproses is immers nooit afgehandel alvorens die kommunikasie via die teks voltrek is nie.

Die gedig Upanishad is vir my die wonderskoonste gedig in die bundel met sy slot:

 

            datta, dayadhvam, damyata …

                         aum shantih, shantih, shantih

 

            die nagelate holte

            wat alle begrip oorskry

 

Die voorafgaande deel van die gedig maak dit duidelik dat dit gaan om “die behoud van verlore grandeur” wat nou / oopgestel word aan die publiek / teen £4.00 per persoon …” Die gemiddelde leser van jou bundel sal dalk nie heeltemal vertroud wees met die vreemde woorde nie, maar ook nie met die slotreëls wat duidelik daaruit voortvloei nie. Verduidelik asseblief vir ons eers dié slot. Hierdie gedig moet, dink ek, saamgelees word met ten minste die voorafgaande katedrale. Sou ‘n mens in gedigte soos dié ‘n gevoel van ontnugtering kon inlees?

Tog seker, ja, Marlies. Té veel vreugde is immers nie goed vir die mens nie … Met dié bundel het ek onder andere ook ‘n subtiele spel met die kwessie van identifikasie (en gepaardgaande identiteit) probeer speel. Die Cambridge-gedigte word dus gekenmerk deur ‘n spottende (dikwels afwysende) toon; ook nog met heelwat Afrika-verwysings teenwoordig. Met die daaropvolgende reekse (Antwerpen en Amsterdam) verminder dié aspek drasties met ‘n sterker wordende gevoel van identifikasie en ‘tuis wees in die vreemde’. Aan die einde van die reis, met die fantasmagoriese aard van Praag as fokus, tree die gevoel van vervreemding weer sterker na vore en is die gepaardgaande terugverlang na Afrika en die bekende plek van oorsprong meer prominent.

Die gedig Upanishad (en ander in dié reeks) moet dus teen dié agtergrond gelees word. Terloops, die slotreëls wat jy hierbo aanhaal, probeer heel koelbloedig ook hande vat met T.S. Eliot se ikoniese The Waste Land.

Louis, jy is al ‘n gesoute skrywer. Amper elders verskil op die gebied van vormgewing én tematiek ingrypend van jou vorige bundels, onder andere wat die water onthou. In welke mate dink jy sluit Amper Elders tog aan by jou vorige werk en sou jy sê dat daar vernuwing, verruiming en/of groei plaasgevind het?

Dankie vir die kompliment, Marlies. Maar of ‘n mens jou ooit as “gesout” kan of wil ervaar, weet ek nie. Nietemin, ‘n interessante vraag. ‘n Uiters belangrike aspek vir my as maker van gedigte is dat ek met elke bundel probeer om ‘n bepaalde uitdaging as rooi doek voor my te hang. (So wou ek met Wat die water onthou kyk in welke mate dit moontlik is om ‘n “stromende” bundel te skryf; amper iets soos die bewegings in ‘n musiekstuk.) Na aanleiding van die afgelope jare se debat rondom die kwessie van die anekdotiese vers in ons digkuns, wou ek met Amper elders kyk in welke mate dit moontlik is om liriese verse binne ‘n streng narratiewe struktuur te laat funksioneer. Anders gestel – die vraag wat myns insiens sentraal staan by ‘n narratiewe teks, is: Wat gaan volgende gebeur? In die geval van ‘n gedig is dit weer: Wat gebeur híér?! Met Amper elders het ek dié twee vrae probeer kombineer; enersyds narratief, andersyds besinning. Myns insiens leen ‘n reisjoernaal hom uitmuntend hiertoe, want dit betrek (bykans per definisie) albei aspekte.

Oor die kwessie van vernuwing, verruiming en/of groei sal die kritici maar moet oordeel, Marlies. Tog wil ek nog ietsie sê oor die aansluiting van Amper elders by vorige werk. Aanvanklik was dit nie so beplan nie, maar ek skat dat dié bundel uiteindelik ‘n noodwendige voortskryf was op Sloper wat in 2007 verskyn het; veral na aanleiding van die traumatiese insident waarna ek reeds verwys het.

‘n Belangrike sleutel tot Amper elders is dus die slotvers in Sloper:

 

Valkenier

 

niks is daar meer om te vrees nie

en ook dít sal jou vernietig, soos die spiraal

waarmee die water

jou na onder suig en jy sal

onthou

van die valk wat in die wind greep verloor

en wyer al hoe wyer uitwaaier

met die blou se soomlose

banier

wanneer die valkenier

effens verleë bly staan met niks

in sy hand

om alles mee terug

te lok nie

 

Die verband tussen dié vers en die reeds aangehaalde openingsvers, “duiwedanser“, is voor die hand liggend. So ook met die slotverse in Amper elders. (Veral met die gedig “Leë kamer“). Net so kan dié bundel seker gesien word as ‘n voortskryf op Opslagsomer, tien jaar later.

Louis, wanneer ‘n digter die grense van sy genre oorsteek, soos jy gedoen het toe jy besluit het om narratiwiteit die ordenende faktor in jou bundel te maak, is dit maklik om die aard en die wese van die digkuns in die proses te onderbeklemtoon en selfs uit die oog te verloor. Hoe het jy bewustelik probeer verhoed dat jou gedigte mank gaan aan poëtiese stylmiddele? Ek dink nie dit is suiwer intuïsie nie? Kom dit met tyd, ervaring, kundigheid …?

Ek glo dat enige kunstenaar die volle potensiaal van sy of haar bepaalde medium moet (probeer) ontgin. Aangesien die digkuns by uitstek die kunsvorm van die verbeelding is, is dit in staat om bykans enige ervaring of aspek van menswees poëties te kan ver-beeld (of ver-dig). In hoofsaak omrede die gedig ‘n taalkonstruksie is wat die totale omvang van ons breinfunksies (logiese, analitiese,  assosiatiewe en emotiewe denke) betrek. Narratiwiteit staan dus myns insiens nié in opposisie tot dit wat as ‘poëties’ gereken word nie. Dit is gewoon ‘n klemverskuiwing van die assosiatiewe emosie na (waarskynlik) die logiese en analitiese. Die proses bly dieselfde, myns insiens. Met verwisselende klemverskuiwings, natuurlik.

Jy dra die bundel op aan jou vrou Marlise – “My eerste leser en reisgenoot”. Mag ‘n mens hieruit aflei dat daar ‘n mate van kruisbestuiwing bestaan tussen jou werk en Marlise se skilderwerk en poësie? Kan jy iets sê oor die interaksie wat noodwendig moet bestaan tussen twee kreatiewe kunstenaars wat ‘n reis deel, soos jy dit stel? Wat was dus jou vrou se aandeel aan hierdie bundel?

Daar bestaan seker heelwat verskillende sienings oor dit wat ons “liefde” noem, Marlies. Maar die een aspek wat vir my persoonlik sentraal staan, is die kwessie van ‘vermeerdering’. Selfs die mees terloopse belewenis wen net soveel aan intensiteit en konteks wanneer dit met ‘n geliefde gedeel word. En ja, ek en Marlise deel alle aspekte van ons menswees op ‘n baie direkte en persoonlike vlak. ‘Kruisbestuiwing’ is dus ‘n gegewe as gevolg van die uitruil van idees en insigte; ook vanweë al die verkennende gesprekke oor aangeleenthede wat vir ons albei van belang is. Met behoud van individualiteit en respek vir mekaar se manier van doen, bygesê. Marlise is vir my ‘n enorme bron van inspirasie; júís vanweë die manier waarop sy ánders is as ek. Trouens, ek vermoed dat ons op presies dieselfde manier van mekaar verskil as wat ons eenders is. Onverdiende bevoorregting, noem ons dit.

Nietemin, jy vra na haar aandeel? Uiteraard met volgehoue aanmoediging en kommentaar. Na amper elke vers het ek gevoel: Nee, dié ding kan nie. Die verse was vir my té simplisties en eendimensioneel; met die verlammende vrees dat dit as “geleentheidsverse” afgemaak gaan word. Dan het Marlise begin por en mor en gewys op allerhande moontlikhede wat ek by die verse kon inwerk. En dan skryf ek maar weer verder.

En ja, sekerlik is Amper elders ook ‘n dankie-sê vir al die momente van aankoms en vertrek wat sy op so ‘n besonderse manier met my deel en hopelik nog vir vele jare sal áánhou deel …

Baie dankie dat jy bereid was om so openlik oor jou bundel en ook oor die kreatiewe proses te praat, Louis. Ek weet dit is vir digters ‘n baie persoonlike en sensitiewe saak. Op die vooraand van die verskyning van jou bundel Amper elders … mag ek vra wat sou jy jou breinkind op sy pad wou toewens?

En plaas sommer een van die gedigte heelonder as lusmaker vir die lesers?

Dit was ‘n voorreg, Marlies. Wat ek hierdie gedigte sal toewens? Waarskynlik maar presies dit wat ‘n duiweboer sy duiwe toewens wanneer hy hulle uit die hokke laat: dat hulle terugvlug veilig en doelgerig sal wees te midde van donderstorms, winde en valke wat op honger drade sit en wag op hul verskyning …

As leestoegif dan een van die meer speelse verse in die bundel.

*** 

Ter wille van die goeie orde

Kennisgewings teen die mure van Westcott House, Cambridge

 

Biduur vanaand om ses in die sitkamer.

 

Maak seker dat die voordeur op knip is.

Moenie op die trap hardloop nie.

Nota vir Ben McKenzie: Gaan weg!

Skakel die portaalligte af.

Stilte asseblief.

Geen fiets mag aan die relings geketting word nie.

 

Biduur vanaand om ses in die sitkamer.

 

Pasop vir jou kop. Kyk waar jy trap.

Was asseblief jou eie skottelgoed.

Los my jogurt uit!

Dis Amie se wyn hierdie – moenie eers daaraan dink nie!

Moenie die deure klap nie.

Hou kombuis netjies.

 

Biduur vanaand om ses in die sitkamer.

 

Spoel asseblief die toilet na gebruik.

Geen soliede voorwerpe in die spoelbak.

Slaan die klap af na gebruik.

Was die bad uit.

Moenie jou tandeborsel op die wasbak los nie.

Maak seker dat die deur op knip is.

 

Biduur vanaand om ses in die sitkamer.

 

In geval van brand: Maak dadelik alarm.

Alle deure en vensters toe. Maar moenie sluit nie.

Haas jou langsaam na die voordeur.

Moenie hardloop of gil nie.

Kyk waar jy trap. En – indien die vuur tussen jou

en die voordeur is, is dit mos reeds gesê:

 

Biduur vanaand om ses in die sitkamer.

 

(c) Louis Esterhuizen (Uit: Amper elders, 2012: Protea Boekhuis)

 

Louis Esterhuizen

Louis Esterhuizen

Louis Esterhuizen gee onderwys by verskeie skole en word later adjunkhoof van Pretoria Boys’ High School. In 1999 verhuis hy na die Kaap waar hy vakhoof vir Afrikaans by Rondebosch Boys’ High School word. Sedert Junie 2002 is hy bestuurder van Protea Boekwinkel op Stellenbosch.Esterhuizen debuteer met die digbundel Stilstuipe (1986), waarna Op die oog af (1988), Die onderwaterweg (1996), Patzers (1997) Opslagsomer (2001), Liefland (2004) en Sloper (2007) volg. Sy agtste digbundel wat die water onthou verskyn in 2010 by Protea Boekhuis en word bekroon met die Protea Poësieprys vir 2011.  Die bundel was ook genomineer vir die UJ prys vir Letterkunde en die ATKV Woordveertjie vir Poësie (2011).Van sy verse is in verskeie bloemlesings opgeneem, te wete Poskaarte, Die Afrikaanse Poësie in ‘n 1000 en enkele gedigte, Groot Verseboek, en Nuwe Verset. Hy was een van die stigters van Bekgevegte, ‘n verbale “boksgeveg” waartydens twee spanne van drie digters elk teen mekaar meeding aan die hand van temas wat deur die gehoor gegee word. Esterhuizen is die inisieerder van die jaarlikse poësiefees Versindaba.

 

 

Onderhoud. Louis Esterhuizen

Tuesday, February 16th, 2010

Eenheid in teenstelling

Andries Visagie in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Louis Esterhuizen

Louis Esterhuizen

Louis Esterhuizen behaal ‘n B.A. (Hons.) in Afrikaans aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy gee onderwys by verskeie skole en word later adjunkhoof van Pretoria Boys’ High School. In 1999 verhuis hy na die Kaap waar hy vakhoof vir Afrikaans by Rondebosch Boys’ High School word. Sedert Junie 2002 is hy bestuurder van Protea Boekwinkel op Stellenbosch. Esterhuizen debuteer met die digbundel Stilstuipe (1986), waarna Op die oog af (1988), Die onderwaterweg (1996), Patzers (1997) Opslagsomer (2001) en Liefland (2004) volg. Sy sewende digbundel, Sloper, het in 2007 verskyn. Van sy verse is in bloemlesings opgeneem, te wete Poskaarte, Die Afrikaanse Poësie in ‘n 1000 en enkele gedigte, Groot Verseboek, en Nuwe Verset. Hy was een van die stigters van Bekgevegte, ‘n verbale “boksgeveg” waartydens twee spanne van drie digters elk teen mekaar meeding aan die hand van temas wat deur die gehoor gegee word. Esterhuizen was een van die inisieerders van die jaarlikse poësiefees Versindaba. Tans is hy inhoudsbestuurder van die Versindaba webblad sedert 2009.

 

Louis, vir die poësie begin die jaar op ‘n hoë noot met die verskyning van jou nuwe bundel wat die water onthou.  Veels geluk met ‘n pragtige versameling gedigte.  Die gehalte van jou digkuns volg nog steeds ‘n stygende lyn, waaraan André P. Brink ook onlangs erkenning gegee het met die groot aantal van jou gedigte wat hy in sy nuwe Groot verseboek opgeneem het.

 

Reeds die titel van jou bundel is al oorrompelend mooi.  In die gedig “dat herakleitos reeds aan die begin” lig jy die sluier oor die betekenis van die bundeltitel wanneer jy skryf “dat water nooit terug- / draai nie, maar te alle tye alles opneem // en onthou”.  Gaan dit vir jou daaroor om die oeroue en basiese bestaansvorm van water (en ander dinge) onder woorde te bring? En het die geheue van water daarmee te make dat dit weens die primordiale aard daarvan sedert die vroegste tye feitlik alles al oorspoel en gekonstitueer het?  Kan jy ook aandui hoe jy met die titel by Herakleitos aansluit?

 

Dankie vir die vriendelike woorde, Andries, maar nee, die primordiale aard van water was vir my van minder belang by dié verse. Wel die kwessie van “eenheid in teenstelling”, soos Herakleitos dit verwoord het aan die hand van sy opmerking dat jy nie dieselfde rivier twee keer kan betree nie. Water as simbool van sikliese tydsverloop (proses én konstante) is dus vir my belangriker as die primordiale. Water is immers teenwoordig in alle dinge; van die begin van die skepping af (as konstante) en tog is dit ook terselfdertyd in ʼn staat van volgehoue verandering. Soos dit ook die geval is met geheue.

 

Ek het êrens gelees dat jou vrou en mededigter Marlise Joubert (aan wie jy wat die water onthou opdra) onlangs ook ‘n kunsuitstalling met dieselfde titel gehad het.  Beteken dit dat julle gesamentlik hierdie verkenningstog aangepak het?  Is daar voorbeelde van Marlise se werk in digitale vorm beskikbaar sodat ons dit te siene kan kry?

 

wat die water onthou

wat die water onthou

Inderdaad het die bundelkonsep by Marlise ontstaan. Sy het haar naamlik met groot entoesiasme begin toespits op waterverf as tegniek van skilder. Uiteraard het ons baie gesels oor die “poëtiese” implikasies van die akwarel as kunsvorm in teenstelling tot olieverf, byvoorbeeld. Die gedigtereeks “die geduld van water” was die direkte uitloop van dié gesprekke, maar uiteindelik was dit ʼn kruisbestuiwing met gesprekke wat gedigte word en gedigte weer skilderye. Terloops, hierdie reeks vorm myns insiens die ruggraat van die bundelkonsep aangesien die “afgebeelde landskap” wat behoue bly na die water verdamp het, die konstante verteenwoordig (= taal / woord /gedig), terwyl die “water wat verdamp” weer die veranderlike is (= gesprek / tydsverloop / geheue). En ja, Marlise se akwarelle kan wel op haar persoonlike webblad gesien word.

 

Dit is opvallend dat die meeste van die gedigte in jou nuwe bundel begin met die voegwoord dat, soos byvoorbeeld in die volgende vers oor jou jeugjare in die mynwêreld van Virginia:

 

dat jy ‘n leeftyd reeds sit en kyk

na ‘n landskap wat jy ken, en tog

ook nie: die afwesige berge

 

van jou kindertyd, die slyk en dam

wat vorm kry wanneer tonnels

oopgeskiet word ondergronds

 

Wou jy met hierdie ongewone sintaktiese vormgewing van jou gedigte ‘n forse kopknik in die rigting van N.P. van Wyk Louw maak wie se “Klipwerk” met die volgende bekende reëls begin:  “dat akkers op die sinkdak val / en vye op die ringmuur breek”?

 

Weereens ʼn besliste “nee”. Trouens, “Klipwerk” het nêrens in my gedagtes gefigureer nie. Vanweë die sikliese aard van die bundelopset was dit vir my belangrik om die een vers na die volgende te laat “vloei”. Daarom – geen hoofletters of punte nie, met bykans elke gedig wat met ‘n voegwoord begin. Die “dat” is maar om die titelreël te voltooi: “wat die water onthou (is) dat …” Die geheue is immers iets wat nie puntsgewys “afgesluit” kan word nie; dit stroom gewoon voort van die een moment na die volgende.

 

In nog ‘n treffende gedig, “dat jou pa se pa ‘n delwer was”, keer jy soos dikwels in die verlede terug na jou voorsate en hulle mynwerkersagtergrond.  Jy skryf oor Virginia “waar jy as eersgeborene, / oplaas jou geboortereg verruil / vir woorde, woorde wat jy // soms uit die taal uit delf”.  Ek is huiwerig om hierdie woorde te persoonlik op jou van toepassing te maak, maar is hier nie ‘n suggestie van verlies en selfs skuld oor die “jy” wat as woordsmid ‘n breuk met die delwersvoorsate gemaak het nie?  Sou jy bereid wees om iets van jou familiegeskiedenis aan ons oor te vertel?

 

My familiegeskiedenis is maar soos dit in die gedigte geskryf staan, Andries. My oupagrootjie was inderdaad ʼn delwer en my pa (na bepaalde omswerwinge) ʼn mynwerker in die Goudveld. Ek is op Welkom gebore, maar het in Virginia gematrikuleer. Vir ʼn tydperk van twee jaar – terwyl my pa tabakboer was in die toentertydse Rhodesië – het ek by my ouma op Philippolis gebly ten einde my skoolloopbaan daar te begin. Oor die kwessies van “verlies” en “skuld” sou ek liefs nie hier wou uitbrei nie. Dit is egter wel so dat daar met elke besluit wat jy ook al in jou lewe mag neem, elemente van “wins” en “verlies” ter sprake is. So ook vreugde en frustrasie. Of ontnugtering.

 

In nog een van die watergedigte in jou bundel, die werklik voortreflike “dat ‘n landskap van oewer en rivier”, skryf jy boeiend oor die verhouding tussen werklikheid en kuns.  Die gegewe van ‘n kanovaarder op ‘n rivier wat op film vasgelê word, is die vertrekpunt:

 

dat ‘n landskap van oewer en rivier

bestaan, ‘n oomblik met bome

enkeldiep oor die breedte van ‘n foto

 

en mis wat lê in elke kolking

deur die spaan gevorm

toe die roeier sy dun kano ritmies

 

wou stuur die spieëlbeeld in

na waar geen

versnelling moontlik is

 

in die bevrore posisie

van die lens nie

 

In dié gedig wil dit lyk asof die werklikheid van die rivier, die bome, die mis en die kanovaarder iets moet inboet wanneer hulle in die lens van die kamera vasgevang word.  Die bome word nou maar net met ‘n “enkeldiep” grootte op die foto weergegee en die kanovaarder kom noodwendig tot stilstand “in die bevrore posisie / van die lens”.  Vind jy dat die kuns (en dus ook die poësie) maar net op ‘n ontoereikende manier op die werklikheid kan reageer of kan die kuns ook waarde aan die natuur en die werklikheid toevoeg?

 

Die gedig is ‘n voorloper van die reedsgenoemde reeks “die geduld van water” en net soos dit die geval is met die akwarelle, werk dit met die opposisie van “vloei” en “stol”. Maar om jou vraag te beantwoord: alles wat ons waarneem (en onthou) word gekleur deur ʼn hele reeks assosiasies en/of suggesties. Die kunswerk is dus myns insiens net nog een manier waarop waarde aan ʼn bepaalde belewenis toegevoeg (of verdoesel) kan word. Die vervlietende moment of indruk wat vir altyd (en almal) behoue bly en interpreteerbaar is, is waarskynlik die belangrikste funksie van ‘n kunswerk. Terloops, dié gedig vind ʼn belangrike teenwig in die slotvers van die bundel (“Melopee”) waar daar weer van ‘n kanovaarder sprake is. Maar nou het die kanovaarder buite sig verdwyn en al wat bly, is die water “as enigste verloop”.

 

Louis, jy het “Tema met veertien variasies” na aanleiding van ‘n gedig van Rosa Alice Branco geskryf.  Die twaalfde variasie bestaan uit twee insiggewende reëls waarmee jy kommentaar lewer op al die voorafgaande watergedigte in die bundel:

 

Niks behoort aan jou nie.

Nie eens die woorde waarmee jy die water heg nie.

 

Kan jy dalk iets meer sê oor Rosa Alice Branco en hoekom jy juis by haar werk aanklank gevind het?

 

Op dié vraag sal ek uitgebreid moet antwoord, aangesien dit direk met die struktuur van die bundel te make het. Vanweë die volgehoue klem op vloeipatrone in die bundel het ek ‘n probleem gehad oor hoe om die bundel sinvol te “sluit” aangesien water tog nie net liniêr vloei van geboorte (“dat daar altyd ʼn begin is”) na sterfte (“Melopee”) nie; dit vorm ook sirkels en kolkings en bestaan natuurlik ook in die vorm van waterdamp. Derhalwe wóú die bundel eindig met ‘n oorskouende reeks gedigte wat soos wolke oor die voorafgaande gedeeltes “dryf” met behoud van tema (en veral toon) wat in hul dampkring opgeneem is … Aanvanklik het ek ‘n ander reeks in gedagte gehad; een wat meer op die primordiale aard van water (soos jy dit noem) ingespeel het, maar na ek ‘n deeglike en uiters werkbare verslag van my keurder ontvang het, het ek besluit om – op die keurder se aanbeveling – dié reeks te laat vaar aangesien dit sowel ‘n strukturele as tematiese breuk met die voorafgaande gedigte tot gevolg gehad het.

Op hierdie tydstip het ek die Portugese digter, Rosa Alice Branco, se drie gedigte in New European Poets (2008: Graywolf Press) raakgelees, die ooreenkomste ten opsigte van tema en toon geregistreer, en meteens was die oplossing daar: om die bundel af te sluit met drié reekse gedigte wat ek losweg en ietwat ambisieus volgens ‘n fugale-struktuur van tese-antitese-sintese probeer struktureer het. Die slotvers, “Melopee”, is dus as coda bedoel  en die voorafgaande titellose, voegwoord-deurdrenkte gedigte die voorspele. “Tema met veertien variasies” vorm dus die “tese” en is persoonlik/privaat van aard by monde van ʼn ander (Branco), terwyl “Posisies op ‘n bord” as antitese meer eksistensiële, nie-persoonlike temas aanspreek. Die derde reeks, “Duskant die uitloop” bevat elemente van beide voorafgaande reekse en oorskouend, ook van die bundel in sy geheel. Op dié manier (hoop ek) word die watersiklus voltooi.

Maar hoekom Rosa Alice Branco, vra jy? Die waarheid is dat dit net sowel ‘n ánder digter kon wees, want ek wóú in die betrokke reeks met ‘n ander, bestaande teks werk; nie soseer weens intertekstualiteit nie, maar eerder om die oorwegend persoonlike trant van die voorafgaande verse te ondermyn en ook ter wille van die meerstemmigheid wat ʼn voorvereiste van die fuga is. Terselfdertyd probeer ek hiermee dan ook om die element van vervreemding, wat na die einde van die bundel al hoe sterker na vore kom, te aktiveer. Die rivier wat sy walle oorstroom, by wyse van spreke. Hierdie reeks is dus nié as vertaling of selfs interteks bedoel nie; dit is veeleer veertien tematiese verwisselings, soos ek dit in die erkenning aan die einde van die bundel stel.

In ieder geval, dit is wat ek beoog het. Of ek enigsins daarin geslaag het om dit alles sinvol by die groter opset van die bundel te integreer, is iets waaroor die kritici maar sal moet besluit.

 

Jou opmerking dat jy met Rosa Alice Branco ‘n meerstemmigheid in jou bundel wou inbring, maak my nuuskierig na jou mening oor samehang in ‘n bundel.  Pak jy jou digkuns tematies samehangend aan sodat elke bundel bestaan uit gedigte wat met mekaar verband hou?  Dink jy dat lesers van die Afrikaanse poësie tans nog geduld het met bundels wat losser gestruktureer is?

 

Inderdaad is dit hoe ek te werk gaan, Andries. ʼn Bundel is myns insiens gewoon nié ʼn bloemlesing van beste verse wat in ʼn bepaalde skryfperiode ontstaan het nie; veeleer ʼn komposisie van temas en toon wat rondom bepaalde gegewens byeengebring word. ʼn Vers word net soveel beïnvloed deur verse wat dit voorafgaan as wat daarop volg. (Natuurlik is die uitdaging aan ʼn digter dat ʼn bepaalde vers ook sterk genoeg moet wees om buite bundelverband op sy eie te kan staan.) Die plasing van ʼn vers binne bundelkonteks en -opset is vir my belangrik aangesien ander verse daarrondom resoneer en sodoende  ʼn besliste bydrae lewer tot die leeswaarde van ʼn vers. Oor die laaste deel van jou vraag is ek minder seker, omrede die meeste bundels wat ek van weet, wél van die een of ander “ordeningsbeginsel” gebruik maak. Met die saamstel van ʼn keur uit ʼn digter se oeuvre is dit natuurlik anders gesteld; alhoewel Antjie Krog die gedigte in haar keur, “Digter wordende” (2009: Human & Rousseau), tóg tematies georden het.

 

Die gedig “skoling” uit die reeks “die geduld van water” gaan oor die waterverfkunstenaar wat weens die eise van die besondere verfmedium noodwendig vinnig moet speel om beelde op papier vas te vang.  Verklap hierdie gedig ook iets oor jou eie werkswyse as jy poësie skryf?  Vind jy dat jy vinnig moet reageer op ‘n kreatiewe inval om dit in ‘n gedig vas te vang of werk dit by jou juis anders?

 

Nee, dit is nie heeltemal dieselfde as wat dit die geval is met akwarelle nie. Ek loop wel lank en dink aan ʼn gedig; doen selfs navorsing en maak notas voor ek by die skryf daarvan kom. Aangesien die toonaard van ʼn vers vir my baie belangrik is, kan ek hom gewoon nie neerskryf voor ek hom kan “voel” nie. Daarna volg ʼn bra langsame proses van skryf en herskryf tot ek tevrede is. En – namate die bundel begin vorm aanneem – sal ek weer teruggaan na vroeëre verse ten einde hulle meer gemaklik binne konteks (of opset) te laat pas. Tema en toon is dus vir my van belang; inhoud (of beelding) minder so. (Iets wat ek probeer verwoord het in die gedig “Skarniere” in die genoemde reeks.) Maar, gelukkig is die onderbewuste ʼn wonderlike ding. Soms gebeur dit wel dat ʼn vers net plotseling “daar” is, maar helaas, dit gebeur maar selde.

 

In die liefdesgedigte in wat die water onthou gaan meestal oor die indrukke van ‘n tweede persoon, ‘n “jy” wat waarneem en ervaar en dus nie ‘n “ek” of ‘n “hy” nie (bv. “dat jy soms na haar draai en sê”).  Waarom het jy hier probeer wegskryf van die eerste persoon, die “ek”?

 

Ter wille van die afstandelikheid. Aangesien die verse handel oor die geheue en deurleefde ervarings, was die gevaar groot dat die verse “ekkerig” sou aandoen; terselfdertyd was ek bang dat die volgehoue toon van melancholie deur middel van ʼn eerstepersoonverteller tot iets sentimenteels sou versand. Maar dié besluit lê ook op tematiese vlak: water was daar lánk voor die mens en sal (waarskynlik) nog lank ná die mens bestaan. Die eerste vers in die bundel handel dus oor die geboorteproses van die mens wat ook maar in hoofsaak uit water bestaan (“water wat aan water / geboorte gee”, rr. 11-12, p. 11), terwyl die mens (as kanovaarder) in die laaste vers buite sig verdwyn met net die water wat as “getuie” agterbly; dit is immers die water wat eendag sal onthou dat daar eenmaal iets soos ʼn “mens” op aarde was … Nietemin, in ʼn bepaalde opsig kan die “stem” in die bundel dus gesien word as die water wat die lewe van ʼn spesifieke persoon (die “jy“) in oënskou neem. Dié inspeling word hopelik ook deur die titel, wat die water onthou, ondersteun. (Let wel: die “jy“-aanspreekvorm word regdeur die bundel gehandhaaf; nie net met die liefdesverse nie.)

 

In die besonder treffende vers uit “Duskant die uitloop” oor die gegewe van ‘n musikale opvoering van die Kersverhaal in ‘n amfiteater wat kort-kort onderbreek word deur loeiende sirenes slaag jy daarin om die onstuimige omstandighede in die Midde-Ooste tydens Christus se geboorte te skakel met soortgelyke voorbeelde van vergrype teen kinders in die hede.  En dan ná die applous is die musiek en ook die sirenes (wat uitwys na die misdade in die hede) skielik stil “om alles weer veilig te laat / soos dit ‘n verhoog sonder gehoor betaam”.  Is ek reg met my vermoede dat jy met hierdie slotwoorde te kenne wil gee dat die kuns (hier die musikale opvoering) gevaarlik is en sowel die kunstenaar as die publiek aan ervarings blootstel waarmee hulle onstuimige waters moet aandurf?

 

Sekerlik kan dié vers so gelees word. Andersyds is dit ook ʼn poging om die “meerstemmigheid” van die beoogde fugale onderbou te versterk en die mens (as gehoor) buite sig te plaas soos dit in die volgende vers, “Melopee”, verwoord word. Maar hier gaan dit oor die gemeenskap en met laasgenoemde oor die enkeling. Ook het ek probeer om met dié vers die bundel se tydsperspektief wyer te trek deur die Bybelse gegewe met die teenswoordige te verweef. Hierin speel dit dan ook terug op die vroeëre reeks “die heiligheid van water” (pp.25 – 27) waarin die (nagmaal)beker herhaaldelik aangegee word “na wie ook al hier langs jou steeds // afwesig blyk te wees”. Die “uitloop” van dié reeks se titel kan dus op verskillende maniere vertolk word; dit dui enersyds op die voltooiing (afloop) van iets wat op hande is, en andersyds op die dood en daardeur heel letterlik die mens (gehoor) wat die teater verlaat ná ʼn wêreld (ruimte) tot stand gebring is waarbinne die mens nie (sal) kan oorleef nie. Terloops, die rede waarom ek in hierdie vers (en ander in dié reeks) deurentyd op kinders konsentreer, is om die bundel weer terug te buig na die eerste “kolking” (pp.13 – 18) waar dit in hoofsaak oor (eie) jeugherinneringe handel wat nou amper idillies voorkom in kontras tot die grusaamhede wat in hierdie voorlaaste vers verwoord word.

 

Hierdie vraag is dalk moeilik om te beantwoord, maar kom ons probeer:  As jy hierbo oor die slotgedig in die bundel, “Melopee”, opmerk dat jy die mens (hier verteenwoordig deur die roeier) “buite sig te plaas” sodat “die water / as enigste verloop” agterbly, is die implikasie dat die menslike element en ervaring weggevee word.  Betekenisvol genoeg eindig die bundel dan ook op die oomblik dat die mens uit die prentjie verdwyn.  Die vraag is:  Wat bly saam met die water oor?  Is die wegvee van die menslike element nie ook ‘n wegvee van die poësie nie?  Kan jy moontlik ook oor die titel, “Melopee” (‘n monotone en melankoliese lied), waarmee jy weer een van die twee motto’s van wat die water onthou aktiveer, kommentaar lewer?

 

Op die eerste deel van jou vraag het ek helaas geen antwoord nie, Andries. Daarom dat die vers (en bundel) met ʼn aandagstreep eindig; ʼn onbepaalde, oop punktuasie. Uiteraard sál iets volg, maar helaas, vir die mens is dit nie beskore om te weet nie … Jou vraag oor die “wegvee van die poësie” vind ek interessant. En ja, sekerlik is jy reg, maar ek sal dit ook graag met die geheue in verband wil bring aangesien die geheue myns insiens identiteit onderlê, soos die Jaan Kaplinsky-motto voor in die bundel dit suggereer. Sonder geheue het jy immers géén identiteit nie. In dié omstandighede is die poësie dan inderdaad tot niet.

Paul van Ostaijen se gedig “Melopee” was nog altyd vir my ʼn gunstelingvers in enige taal. Daarom, toe die idee van die bundel in my gedagtes begin vorm, was dié vers ʼn belangrike wegwyser ten opsigte van toon, struktuur en tema; trouens dit is myns insiens só ʼn belangrike sleutel dat ek dit eenvoudig direk by wyse van motto en verstitel móés betrek.

 

As ‘n mede-organiseerder van die jaarlikse Versindaba in Stellenbosch is jy gereeld in kontak met ander digters.  Jy skep dus talle geleenthede vir ander digters om hulle werk bekend te stel en koester die netwerk wat tussen digters bestaan.  Vind jy gesprekke met ander digters leersaam en bevorderlik vir jou eie digkuns of ervaar jy soms die behoefte om jou juis van ander digterstemme af te sonder?

 

Inderdaad bevind ek (en Marlise) ons in gelukkige omstandighede. Vanweë ons betrokkenheid by Protea Boekwinkel op Stellenbosch het ons nie net uitgebreide kontak met ander skrywers en instansies nie, maar beskik ons ook oor die infrastruktuur om iets soos die Versindaba moontlik te maak. Ons aktiwiteite rondom die digkuns is eintlik maar net ʼn direkte uitvloeisel van ons leef- en werksomstandighede. Die laaste gedeelte van jou vraag is egter meer problematies, aangesien ʼn mens wel die uitgebreide kontak en gesprekke geniet en dit vir ons iets van enorme waarde is. Maar ja, soms is dit ook moeilik om by privaatdinge (soos eie skryf- en leeswerk) uit te kom. Ek moet egter erken dat ek my ook hier in ʼn gelukkige posisie bevind deurdat ek getroud is met ʼn vrou wat nie net ten volle betrokke hierby is nie, maar ook iemand is wat deur middel van begrip en leiding meehelp om dinge bymekaar (en ook uitmekaar) te hou. Dit bly maar kwessies van “hand” en “oog” en die stryd om dit alles te balanseer …

 

Louis, baie dankie vir jou antwoorde op al my vrae.  Jou opmerkings gaan beslis help om die bundel vir baie lesers toegankliker te maak.  Kom ons hoop hulle staan tou voor die boekwinkels om hulle eie eksemplaar aan te koop!

Is jy dalk bereid om ‘n vers uit die bundel hieronder as “lusmaker” te plaas?

 

Graag. Wat van die twee ‘maalgate” waarna in die onderhoud verwys is?

 

 

dat herakleitos reeds aan die begin

daarop gewys het dat dit nie moontlik is

om dieselfde stroom twee keer

 

te betree nie, dat water nooit terugdraai

nie, maar te alle tye alles opneem

 

en onthou, aangesien elke klip,

elke gleuf en worsteling

saamgesleep moet word

 

na die geheue se uiteindelike

verdwarreling

 

met die groter water

sonder vaart

 

***

 

Melopee

 

Hitte en koue, wind, water en sneeu.

Die aarde se agente van verweerde

versplintering: vuur, wind en verbrokkeling.

 

Afdraand, alles, alles, altyd afdraand

met die vloeikaart van ‘n hand

wat ook maanlignagte en vlaktes onthou,

 

die blinkgetrapte spinnerak van voetpaadjies

teen kliprante, selfs die droë koggel

van ‘n windpomp in ‘n verste kamp, soms.

 

Hitte en koue, wind, water en sneeu.

Soggens, met eerste lig, die mis

by ‘n studie van rivier en boom, uitasem,

 

die enkele roeier wat verby

kreukel, vir ‘n oomblik

die watervlak steur: afdraand,

 

alles, alles, om gedwee spane

neer te lê en buite sig te verdwyn

met die water

as enigste verloop –

 

© Louis Esterhuizen (Uit: wat die water onthou. 2010: Protea Boekhuis)