Posts Tagged ‘Onderhoud met Adriaan Coetzee’

Onderhoud met Adriaan Coetzee (Gordel)

Friday, May 2nd, 2014

“Ek strewe na ’n poësie tussen die prul en die praat”. (AC)

 *

Adriaan Coetzee in gesprek met Gisela Ullyatt,

oor sy debuutbundel Gordel by Protea Boekhuis.

 

Adriaan, baie geluk met Gordel. Jy is die eerste digter uit Nuwe Stemme 5 om te debuteer. Tot watter mate het die hele Nuwe Stemme-proses jou op jou eie digbundel voorberei?

Baie dankie, Gisela. Die eerste debuut van vele uit hierdie groep, voorsien ek. Die Nuwe Stemme-proses was ’n belangrike sport in die leer. Die sny van tande op Facebook. Die werkswinkel by Media 24 saam mede-digters en Riana van Tafelberg. Selfs toe een van 44 on Stanley se kelnerinne my meegedeel het ek het lankal die kinders se spyskaart ontgroei. Ook die blootstelling op Versindaba later.

Kan jy ons meer oor die konseptualisering van Gordel se voorblad vertel en waar die uitsonderlike foto geneem is?

My redakteur, Martjie Bosman, en ek het tydens redigering mekaar gepols oor moontlikhede vir die voorblad. Die foto wat my vrou Nadia geneem het van ’n vy naby Leeupoort wat tydsaam kantel was nommerpas. Hanli Deysel het daarna verskeie ontwerpe voorgelê.  Ek is dolverlief op haar enkele vergunnings van lig wat die omslag minder “swart soos Bybel” laat lyk. Gelukkig het my oerdeeglike redakteur volhard dat van die kleur en tekstuur van die gedigte self in die omslag opgevang moet word. Toe is daar gestem by Protea Boekhuis vir ’n gunsteling konsep.

Gordel se epigraaf is uit Efesiërs 6:14: “Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas”. Met hierdie epigraaf in gedagte, sou jy sê dat die invalshoek besonder sterk op die konsep van “waarheid” (waarmee die digter homself omgord) val gedurende die skryfproses? Word hierdie “waarheid” later gesensureer of uitgeredigeer of voel jy dat jy jou “digterlike” of persoonlike integriteit tot die laaste weergawe van ’n gedig behou? Meer nog, moet die leser die bal aan die rol sit wanneer dit by die ontsyfering van die bundel se “waarheidsgordel” kom?

Woord vir woord is ’n proses op sy eie. As wie of wat manifesteer die digter op enige gegewe oomblik? Die bedrieër, ’n vertroueling of verwarde? As belydende Christen is liefde my grootste waarheid. Ek glo so liefde versoen eerder as troef. En hoop lesers dra vrug in dier voege.

Watter ander titels het jy vir die bundel oorweeg? Die manuskrip wat aanvaar is vir publikasie, was oorspronklik getiteld weerligbos. Dit is op sy beurt weer gebore uit ’n lywige manuskrip getiteld waar mense nestel.

Soms konfronteer Gordel die leser met gewelddadige brokke uit die Suid-Afrikaanse samelewing soos gesien in “Main Reef” (9):

 

Miskien die ouens by die asgat

wat die penis van ’n dier rondgeskop het

en mekaar skielik wou bliksem

oor die stukke ysters wat hy weggooi.

 

“Kennisgewing aan nuwe moeders” (20) en “Djong tik-dealer” (40) is voorbeelde van weggooibabas en tik-verslawing asook die gepaardgaande maatskaplike en emosionele probleme. Dink jy digters het ’n plig om sulke probleme in hul digkuns aan te spreek? Speel die media ’n beduidende rol in dit wat jy skryf?

Verskillende dinge moveer verskillende digters. Plig klink effe voorskriftelik. “I would not want to deprive a nonchalant poet hell-bent on his or her scenic route.” Dit is juis ’n versugting na skoonheid wat ’n werk soos “Magoebaskloof” gelewer het. “And the powers that be granted me that ‘thread of light’ ”. Ek skryf eerstens oor goed wat ek ken. My meth mouth credentials kan getuig van ’n verlede waarop ek geensins trots is nie. Ek lees koerant, miskien in ydele hoop dat Wilde Willemien weer haar opwagting sal maak. Ek luister radio mineur en majeur, kyk televisie soos wat ’n mens groente eet, blaai deur tydskrifte se prentjies en hou stil by die sterrewiggelaar vir ’n bietjie lag. Net anderdag het ek as enigste werknemer van my tuinbousaak tot my ontsteltenis gelees daar is mededinging om my pos- die skisofrenie! Die Internet pluis ek nog uit. Maar tot watter mate dit alles neerslag vind in my werk het ek nog nooit in oënskou geneem nie.

In die inhoudsopgawe word sestien eenhede aangegee. Interessant aan hierdie struktuur is die feit dat die oplettende leser reeds hieruit kan aflei dat tipografie ’n belangrike rol in die bundel speel, veral ten opsigte van tematiese strukturering, omdat die “titel” van elke eenheid in ’n groter druktipe verskyn. Elke numeriese eenheid en titel word voorafgegaan deur ’n kort gedig wat meestal uit een versreël, ’n koeplet of ’n tersine bestaan. Is daar ’n rede waarom die sestien titels (byvoorbeeld “opdrifsels”) slegs in die inhoudsopgawe verskyn? Verder, hoe het jy te werk gegaan om hierdie spesifieke struktuur van tematiese aanmekaarskakeling te bewerkstellig?

Wat die struktuur betref wou ek iets daar stel wat ek nog nooit in ’n bundel teëgekom het nie. Die stapgids funksioneer as inleiding tot die bundel. Die sestien numeriese eenhede vorm saam een gedig getiteld “Kafgenaai”, die oorspronklike gesprek met Wilma Stockenström se poësie. Elke numeriese eenheid en titel dien ook afsonderlik as voorspraak tot ’n meer in diepte-gesprek. Die onderlinge titels uit ’n samebindende landskap is die rotse met woordvye as gordel.

Nog ’n duidelike tematiese draad wat deur die bundel loop is die natuur; jy verstom lesers met jou kennis van plant en -diername. Die bewaring van die natuur/vernietiging van die aarde word op nuwe wyses geëksploreer in “Littekens van ons tye”(57) en veral in die gedig, “Luipaardsvlei Stortingsterrein” (74). Opvallend is hoe jy jou natuurkennis en -ervaring met die stedelike milieu verweef en aanwend om ’n intense binnewêreld te verwoord: in “Grasuilvere” (16) word die details van ’n brutale gesinsmoord daargestel. Die laaste paar versreëls sorg egter vir ’n buitengewone ontknoping, deur middel van natuur-metaforiek wat met “hooftooisel” ’n sjamaanagtige beeld oproep:

 

my vriend se pa het met ’n geweer sy rondloperma

se maag deur haar rug oopgevlek,

toe sy eie onderkaak weggeskiet, gevolg deur die res.

My vriend is daar weg, weg van daardie huis langs die treinspoor.

En nou is hy feitlik al sy erfgeld kwyt.

Wat bly oor vir my?

Ek skraap die smeersels grasuil van die pad,

pluk die vere uit die bloederige vleise,

maak vir myself ’n hooftooisel.

 

Vertel meer van die rol wat die natuur in jou daaglikse bestaan speel en hoe jy dit laat deursyfer en –sypel na jou skryfwerk? Beskou jy jouself as ’n eko-digter en/of bewaringsdigter?

Ek herwin soms ’n idioom of twee. Boekevat op ’n ashoop verg ruggraat. Ek preek met chutzpah. Woorde wek. Ek lewer graag ’n bydra en breek nuwe wêrelde oop vir lesers en mede-digters. Maar, en vergewe my, dade trek. Ek is ’n  tuinier in murg en been met ’n goeie kennis van die natuurlike omgewing waarin ek leef en laat leef. Dit is my heenkome. Skryf is nie my job nie. Die poësie wat digby die oë in die berg ontgin word is die waterbessie se nektar vir bestuiwers. Die intense binnewêreld waarna jy verwys het ’n innerlike konflik, ’n soort liefdestwis: die een se paradys is altyd ’n ander se long drop. En daar is ’n belydenis van die digter as roofvoël van ander se lief en leed. Of so ’n toorkrag die stam baat?

“as kanker weer kom” (62) is myns insiens ’n besondere geslaagde en ontroerende gedig. Eerstens  dekonstrueer jy die ou hallelujalied “as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels” wat dadelik die leser, aan wie hierdie lied bekend is, se aandag aangryp:

 

as kanker weer kom

as kanker weer kom

kom haal dit ou kêrels

siek ou kêrels moeë kêrels

verdienstig in loon

Die stiefpa wat sterwend is aan kanker word omring deur stiefkinders: “ons maplotters”, “die hele gespuis”, en “net die vuilgatte met harte soos brandsiekmerke”. Daarteenoor is die stiefpa se eie seuns:

 

jou bloedseuns kon dit nie maak nie,

te besig met huurkoopbesittings wegdra

en plastiekgeld kollekteer

 

Tematies herinner bogenoemde versreëls aan D.J. Opperman se gedig, “Odysseus Ruik Moer” (73) (Komas uit ’n Bamboesstok) met die idee van die sterwende wat alle beheer verloor het en wat sy eie familie nie kan vertrou nie: “Die jongste/swier met motor pleks van klavier./Jou skoonseuns pas jou klere aan.”

Die leser voel intuïtief aan dat hierdie gedig outobiografies met die onderwerp omgaan. Hoe skep jy die nodige afstand in sulke gevalle? Kan jy byvoorbeeld eers lank na iemand se dood daaroor skryf?

Nou is ek eers spyt dat Komas uit ’n Bamboesstok moes terug  biblioteek toe voor ek dit klaar kon lees. Jou insig spoor my aan om die oefening te voltooi. Ek is bly die gruweldig was geslaagd. Een van die tegnieke wat ’n gruwelfilm inspan is die kind as instrument van boosheid en daarom die stiefkindergesiggie en die ou hallelujalied soos ’n krans kameelboomdorings van ’n kind. Kanker is ’n wrede ding. Ek nie. Om een te word met so iets is afstand genoeg. Skrywes oor afgestorwenes of sterwendes word ontvang. Die goed het hulle eie kalender. Ek dateer wel die tydstip met sigbare fenomene.

In “dood van ’n enkeling” (64) lui die aanvangsversreëls: “dit is ’n tragedie om begrawe te word/in ’n belt wat jy selde gedra het”. Die verganklikheidsmotief wat neerslag vind in Gordel word hier deur die “belt” verwoord waarvan die dooie nou vervreemd is, tot so ’n mate dat die gedigtitel dalk alternatiewelik as “belt/gordel van ’n enkeling” kon lees. Tot watter mate is daar ’n verband te bespeur tussen die bundeltitel en hierdie gedig en is dit ’n bewustelike verband?

Hierdie vers was nog altyd ’n bysaak. Die afsydigheid is tasbaar. James, die enkeling hier ter sprake, se ware gedig staan in sy brief onder die titel: Draers by die graf. ’n Kind/ ’n susterskind/ ’n kleinkind/ broer is begrawe deur die ondernemer, ’n werkgewer, kollegas, sy huisnooi en twee van haar vriende. Miskien ’n vervreemding van geliefdes.

Jy werk vernuwend met Internetkonsepte in jou werk soos gesien in die gebruik van GPS-koördinate in “Moenie jou verlede Google Earth nie” (29). Dit laat dus ruimte vir die leser om interaktief om te gaan met die gedig deur die koördinate op te soek. Hoe sou jy dié gedig aan ’n gehoor voorlees?

Ek sal nooit hierdie gedig voorlees nie. Hou dit liewer vir die intieme ruimte. Ek tjank genoeg in die kerk as ons lostrek met T.T. Cloete. Buitendien, nie almal kan soos Antjie Krog lees nie. Ek verkies dramatiese uitbeeldings van poësie op ’n verhoog. “Voëlverskrikkers” en “as kanker weer kom” is voorbeelde van werke geskryf vir voordrag.

Gordel sluit ook voorbeelde van konkrete poësie in soos “diemasjiensalkomenditsaljounommerhê” (71). Nog ’n voorbeeld is “laat i indruk” (66) wat oorspronklik op Litnet gepubliseer is. In die erkennings word dit genoem dat dit ’n herskrywing van Gert Volk Nel se gedig “landskap” is. Kan jy ons meer vertel oor die verband tussen “laat i indruk” en “landskap”? Hoe moet die leser in hierdie geval “herskrywing” verstaan?

Ja, “Binêre Boerneef” en sulke dinge lê nog iewers in ’n laai.  Met ’n bietjie skuur en skaaf miskien nog ’n blou saffier in LitNetland. In Gert se oorspronklike gedig vorm ’n landskap van woorde Kosie April se lyk. In my gedig vorm die repetisie van ’n enkele woord die agtergrond en die leemte daarin die dodedans. Die enigste verband is dus die ommekeer van die idee t.o.v. die lyk van ’n gedig (met doelbewuste erkenning opgesluit in die gebruik van die “i” as sarkofaag in die titel). Ek wil graag tydens my aanhou beweeg en geraas maak net een sin ’n honderd keer uitskryf op die swartbord, want les bes is ons die dood verskuldig: ek is hoogstens geregtig om sesvoet diep spore na te laat.

Daar is klein verskille in drie van die vier gedigte wat in Nuwe Stemme 5 verskyn het en hoe hulle in Gordel verskyn. Byvoorbeeld, in “Op die luiperd se spoor” (56) bestaan die Nuwe Stemme-weergawe uit nege versreëls waar dit in Gordel uit twaalf bestaan, deur dele van bestaande versreëls aan te las of af te kap. Kan jy ons deur die redegeringsproses van hierdie gedigte vir Gordel neem en hoekom dit nodig geag was om hulle te verander?

Ek is altyd oop vir voorstelle ter verbetering van iets. “Instrumentalis” is verder gestroop van oortollighede, “laat die kind kom” loop weer klopdisselboom met Jan Rabie se “Droogte” as onderstel en my redakteur het my bietjie geskool in die voorkoms van ’n gedig wat die lengte van versreëls betref.

Sou die leser wat “Elamshal” (54) as prosa (kort-kortverhaal, byvoorbeeld) beskou, verkeerd wees en wil jy dit waag om dit in tot ’n spesifieke genre te klassifiseer?

Ek strewe na ’n poësie tussen die prul en die praat. ’n Letterkunde wat nie die leek oorweldig of die literati verveel nie. “Elamshal” is miskien te eksperimenteel vir party. Maar wat genres betref kom ek dalk vorendag met ’n corny term soos “proësa”. Nee, eerder nie, laat die leser se wil geskied.

Met watter gedig in Gordel het jy ’n spesiale band gevorm, tot so ’n mate dat met die herlees daarvan, jy byna niks aan dit sou wou verander nie?

Ag nee wat, hulle is almal weeskinders wat in spanning wag om aangeneem te word deur goeie huise.