Posts Tagged ‘Onderhoud met De Waal Venter’

Onderhoud met De Waal Venter (oop sirkel)

Friday, September 1st, 2017

Onderhoud tussen De Waal Venter en Louis Esterhuizen,

oor Venter se nuwe bundel Oop sirkel wat onlangs by Naledi verskyn het.

 

De Waal, van harte geluk met hierdie publikasie. Jy het egter reeds in 1963 met Kiem gedebuteer en daarna het Pols (1975) verskyn. In 2010 het daar ʼn Engelse bundel, Entangling states of mind, verskyn. Ek weet dat jy reeds vyf dekades lank aktief betrokke is by die digkuns in haar vele gedaantes: maar hoekom hierdie lang tye tussen publikasies?

Daar is hoofsaaklik twee redes. Eerstens het ek verskeie ander boeke oor die jare gepubliseer: jeugromans, kinderverhale, radiodramas, kortverhale asook die bundel Engelse verse. Ek het ook musieklirieke geskryf. Die tyd was ʼn bietjie beperk.

Ek het wel ʼn paar keer manuskripte aan tradisionele uitgewers voorgelê, maar het dit telkens ongelukkig getref deurdat die keurders blykbaar nie die kloutjie by die oortjie kon bring wat my gedigte betref nie. Marlise Joubert het ʼn tydperk lank by my aangedring om te publiseer en my uiteindelik so ver gekry om Naledi te nader. Gelukkig het Naledi toe ʼn keurder aangestel met die insig en kennis wat die meriete van ʼn groep van my gedigte kon raaksien.

Die vroeë 1960’s was inderdaad opwindende tye in ons letterkunde. So was jy byvoorbeeld saam met digters soos D.P.M. Botes, Phil du Plessis, Marié Blomerus, Wilma Stockenström e.a., betrokke by die invloedryke tydskrif Wurm. Vertel ons by wyse van oriëntasie meer omtrent dié tydperk en meer spesifiek die aktiwiteite rondom Wurm?

Louis, die tydskrif het seker ʼn rol gespeel in die verloop en rigting van die Afrikaanse letterkunde. Met die stigting van “Wurm” was ek ʼn baie jong man en digter. Ek was bevriend met D.P.M. Botes wat destyds pas teruggekeer het van ʼn verblyf in Europa. David Botes was die eintlike aanstigter van die idee om ʼn avant-garde tydskrif op die been te bring. Ek het met ʼn paar van my vriende gesels (jy noem van hulle in jou vraag) en ons het ingetrippel waar engele sou huiwer om op hulle tone te loop – en die eerste uitgawe van die tydskrif opgestel en gepubliseer.

Ons wou nie ʼn “mooi” naam hê vir die tydskrif nie, want ons wou die establishment die stryd aansê. Ek het “Wurm” voorgestel aangesien ons wou werk soos die wurm in die grond wat die plant (van selftevrede en versandsuikerde establishment) wou afknaag sodat ons nuut kon begin. Die voorstel is aanvaar en die res is (ongeskrewe) geskiedenis.

Daar is wel ʼn deeglike verhandeling oor die tydskrif geskryf wat baie insigte bring. Die skrywer is Philip John van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit. Ek haal kortliks daaruit aan:

“Dit is waarskynlik dat Venter se voorstel vir ʼn ongekwalifiseerde oopheid gesien moet word as ʼn reaksie op ʼn siening van die (Suid-) Afrikaanse kultuur- en literêre wêreld as vasgevang in ʼn soortgelyke stasis as dié van die hoofstroom Europese kultuur aan die begin van die twintigste eeu – waarop die belangrikste avant-gardistiese bewegings gereageer het.”

Jy is ook die afgelope jare veral aktief op die internet. So bedryf jy byvoorbeeld ʼn eie webblad waar jy veral vertalings publiseer. Ook is jy baie aktief op Versindaba e.a. webtuistes. Watter moontlikhede bied die sosiale media en internet vir jou aan die hand van hierdie aktiwiteite?

Louis, die internet bied wonderlike geleenthede vir ʼn skrywer. My webblad, wat jy hierbo noem, gee my die vermoë om my eie gedigte en vertaalde gedigte te publiseer net wanneer ek wil. Ek bedryf dit nou al ʼn paar jaar en die mense wat gereeld die gedigte lees, het toegeneem. Ek plaas ook ʼn skakel op Facebook wanneer ek ʼn gedig plaas sodat FB lesers net daarop hoef te klik en dan kry hulle die gedig op hulle skerm. Daar is bykans 2 000 mense wat ek op hierdie manier daagliks bereik. Verder het ek ʼn aparte webblad waar my hele oeuvre taamlik volledig uiteengesit word. Dan is daar nog ʼn webblad waar mens gedigte kan lees wat ek uit Europese tale vertaal het. En ʼn belangrike aspek van sosiale media is dat lesers direk met die skrywer kan kommunikeer. Dit is ʼn groot voorreg en bate vir ʼn skrywer.

Voor ons meer spesifiek oor Oop sirkel begin gesels, wil ek tog oor jou vertalings vra. Hoekom is hierdie aktiwiteit vir jou so belangrik en op welke mate beïnvloed dit jou eie digkuns? Jy vertaal byvoorbeeld uitsluitlik Spaanse en Sweedse gedigte; is jy dié tale magtig en waarom spesifiek ikoniese digters soos o.a. Pablo Neruda en Tomas Tranströmer?

Eerstens die belangrike vraag of ek die tale magtig is. Ek kan die tale lees, maar nie praat nie. Verder gebruik ek die baie hulpmiddele wat deesdae beskikbaar is vir ʼn vertaler. Behalwe goeie woordeboeke is daar masjienvertaling-geriewe wat mens kan help om ʼn basiese begrip te kry van ʼn gedig. Verder is daar die geleentheid om my eie vertaling te vergelyk met Engelse, Duitse en Hollandse vertalings, tale wat ek taamlik goed ken. En dan is daar vir sommige gedigte kommentare en kritiek deur literatore wat mens ook as hulpmiddels kan gebruik.

Ek vertaal graag Tomas Tranströmer se werk uit Sweeds en Pablo Neruda uit Spaans. Ek het ook gedigte van twee ander Spaanssprekende Suid-Amerikaanse digters vertaal: Antonio Gamoneda en Octavio Paz, asook die melancholiese Europeër Cesar Vallejo. Terloops, ek vertaal nie uitsluitlik uit Spaans en Sweeds nie. Ek het van Fernando Pessoa, die “heteronieme” Portugese digter, se werk vertaal, en gedigte van die Franse matematikus-digter, en Oulipo-lid, Jacques Roubaud. Ek het ook van die jongere Spaanse digters vertaal soos David Huerta, Tamara Kamenszein en Claude Esteban.

Vertaling is vir my belangrik om ʼn paar redes. Eerstens vergroot dit my kennis van poësie in die algemeen aangesien ʼn vertaler ʼn gedig baie goed moet ken om dit te herskep in ʼn ander taal. Algaande leert men: jy sien werkswyses en benaderings raak  van ander digters wat jy self later kan gebruik. Verder bou jy kennis op van die taal waaruit jy vertaal. Dan dink ek ʼn goeie vertaling in Afrikaans kan ons eie literatuur verryk en meer lesers bemagtig om belangrike digters in ander tel te leer ken.

Die rede waarom ek ikoniese digters vertaal, is voor die hand liggend. Hulle werk is ryk aan inhoud, bring nuwe insigte, het interessante werkwyses en open deure na ander kulture en letterkundes. Ek het ʼn webblad opgestel waar baie van hierdie gedigte gelees kan word.

Vervolgens wil ek meer spesifiek oor jou nuwe digbundel, Oop sirkel, gesels. Kontekstualiseer vir ons die titel? Dit sal ook gaaf wees indien jy die treffende omslag by jou antwoord kan betrek.

Daar word baie gesê in die bundel oor ontstaan, skepping, begin – en dan ook verloop en einde, ʼn sirkelgang. In die gedig “En sien die wêreld” is alles leweloos totdat die baba sy oë oopmaak en alles tot stand bring. “Tel tot tien en terug” eindig so:

Die son is so rond

soos ʼn nul,

die heelal begin hier

en eindig hier.

Die tema van die sirkel en rondheid kom dikwels voor. Maar dit is nie ʼn geslote sirkel nie. Die leser kan op enige plek die bundel “binnegaan” deur enige gedig te lees, en sal nie gevolglik “verlore” wees soos wanneer jy in die middel van ʼn roman begin lees en die begin van die verhaal en die ontwikkeling van die karakters misloop nie. ʼn Sirkel bestaan uit ʼn oneindige reeks punte, daar is geen enkele “beginpunt” nie.

Die omslagontwerp, bestaande uit klein sirkels wat so georganiseer is dat dit ʼn groot sirkel suggereer, lei die oog tot ʼn oënskynlike diepte wat die kyker intrek, baie soos ʼn swart ster (black hole) wat alles rondom intrek, maar dan weer uitstrooi, in ʼn ander dimensie, miskien.

Die bundel is onderverdeel in agt afdelings. Waarvolgens het jy op dié strukturele binding besluit? Skakel die afdelings (en gedigte) byvoorbeeld onderling met mekaar?

Die afdelings bevat verskillende style wat wissel van outobiografiese gedigte, liefdesgedigte, humor en ironie tot filosofies-besinnend en surrealisties. Tog is daar ʼn bindende faktor in die sin dat die sirkelgang van die bundel begin met die digter se jeug en dan deur verskeie stadia van die lewe beweeg met talle eindes wat weer by die begin aangesluit kan word.

Afdeling een bevat dus outobiografiese materiaal, afdeling twee liefdesgedigte, drie bevat gedigte oor geboorte en skepping, vier sit die tema voort met ʼn ondertoon van humor en ironie, vyf bekyk die lewe deur die lens van die wetenskap en tegnologie, in afdeling ses tree humor sterker op die voorgrond, in sewe word die digter se ars poetica uitgelê en in agt is daar tien prosagedigte.

Volgens my is een van die treffendste gedigte in hierdie versameling “Droom geregisseer” (p.4) wat beskryf hoe die persona se vader by ʼn paduitgrawing stilhou om ʼn foto saam met ʼn vriend te kan neem. Die gedig eindig met die volgende reëls:

Ek sal later terugkom hiernatoe

wanneer die kar weg is,

en kyk na die spore

in die grondpad,

ver na agtertoe

en wat vorentoe verdwyn.

Ek sal teruggesny word

in die bed,

en wakker word in ʼn vorentoe flits.

Hier registreer ek iets van ʼn volgehoue spanning tussen die voltooide en nooit-voltooibare; veral weens die dubbelbetekenis van die slotwoord “flits”.  Lees ek reg, want hiervolgens het ons inderdaad met ʼn oop sirkel te make.

Ja, Louis, ek dink hier gee jy ʼn knap ontleding van die gedig. ʼn Mens kom in hierdie gedig te staan voor die begrip van tyd wat nie noodwendig net vorentoe beweeg nie – “The arrow of time”. Daar word tans ernstig deur sekere wetenskaplikes beweer dat tyd “agteruit kan beweeg” onder sekere omstandighede.

Die titel van die gedig “Droom geregisseer” dui onder andere daarop dat die droomwerklikheid in der daad “geregisseer” word en dat gebeure in die verhaal met “terugflits” en “vorentoe flits” hanteer word.

Nog ʼn aangrypende gedig is “Liefde se geure” (p.16) wat nié ʼn vergelyking met D.J. Opperman se bekende “Sproeireën” onwaardig is nie. Die slotreëls lees soos volg:

Tiemie praat Sanskrit,

dit praat in Urdu, in die tale

van die nomade, middeleeuse Spaans;

dit ruik na Mediterreense lug,

ʼn valk wat hang

en dan soos ʼn mes op sy prooi neerduik.

Jou hande ruik soos vars uie,

jou asem is appelkose,

jou liggaam geur van die aarde,

die heel aarde.

Die verwysing na “die heel aarde” in die slotreël is veelseggend, want ek vermoed dat dit ook heel letterlik bedoel word? Kan jy dalk ietsie meer hieromtrent vertel?

Die gedig besing ʼn reeks heerlike geure wat uiteindelik metafories is van die liefde. Dit is ʼn verheerliking van die liefde, en per slot van sake, van die geliefde. Die “heel” dui op die volkomenheid en die ongeskondenheid van die liefde wat versinnebeeld word deur al die lieflike eienskappe van die aarde.

De Waal, jy is ʼn persoon met ʼn enorme wye belangstellingsveld; insluitend letterkunde, natuurkunde, sport, politiek, taalwetenskap en biologiese en ander vertakkinge van die wetenskap en tegnologie. En jy gebruik dit alles ter voeding van jou digkuns. Dit is veral die manier wat jy fisika en die grondbeginsels daarvan by jou gedigte betrek wat my fassineer. Ek glo dat dit betreklik uniek is in ons digkuns. Kan jy hierop uitbrei? Het jy byvoorbeeld fisika (of enige ander wetenskap) bestudeer? Watter temas vanuit die sfeer van die wetenskap betrek jy direk by jou gedigte?

Ek het net eenjaar-kursusse in Fisika, Fisiologie en Chemie gevolg. Maar ek het gedurig verder gelees in die verskeie vertakkinge van die wetenskappe. Toe ek jonk was het die meeste mense nog Einstein se mening oor spukhafte fernwirkung gedeel en het nie besef dat hulle genome het nie. Ek kan waarskynlik as ʼn outodidak beskryf word.

Ek dink baie mense plaas die “harde” wetenskappe verkeerdelik in ʼn kategorie wat heeltemal anders is as die geesteswetenskappe of die kunste. Ek dink alle kennis, alles wat die mens kan ervaar is legitieme materiaal vir die digter en die kunstenaar. Fisika is nie iets esoteries, ver weg van menslike ervaring nie, dit is deel van ons daaglikse lewe. In die tyd van Theocritos was die boer die fisikus. Hy het gewerk met grond, klippe, water, plante en diere. Vandag se wetenskaplikes doen dieselfde, hulle weet net héélwat meer as Theocritos se mense. Maar as Theocritos nie sy atoomteorie verkondig het nie, sou ons vandag dalk nie so ver gewees het as wat ons nou is nie.

Uit die fisika kry ek idees soos die ontstaan van materie, d.w.s. van die heelal. Na die oerknal (as daar wel een was) was daar eers net eenvoudige helium en waterstofatome. Geleidelik het atome begin verdig tot ingewikkelder kombinasies tot die stowwe wat ons vandag ken. In die gedig “Beskildering van ʼn wit doek” lees ʼn mens van die totstandkoming van die heelal, die ontstaan van lewe en van die mens, die ontstaan van tale en die radio-aktiwiteit van elemente (half-lewens).

In “Poësie as ʼn organisme” word daar weer sterk staatgemaak op begrippe uit die biologiese wetenskappe: selle, weefsel, organisme.

Net so vervul die visuele kunste ʼn belangrike funksie in jou gedigte. So is daar talle verwysings na die skilderkuns en ook fotografie. Trouens, ten spyte van ʼn anekdotiese aanslag, is die sterk visuele ingesteldheid van jou verse dit wat die leser telkens ontroer. Is jy – afgesien van jou literêre aktiwiteite – ook by die visuele kunste betrokke?

Ja, Louis, ek is by die visuele kunste betrokke in die sin dat ek ʼn geesdriftige amateur-fotograaf is en ook graag grafiese kunswerke maak, hoofsaaklik om as illustrasiemateriaal te dien by die gedigte wat ek op my webblad plaas. Dikwels verwerk ek ʼn foto elektronies om sekere effekte te kry. Ek het ʼn term geskep vir hierdie bedrywigheid. Ek noem dit “fotografika”.

Die gedig hierbo genoem, “Beskildering van ʼn wit doek”, totstandkoming ex nihil uit die wit, is ʼn gedig wat sterk visuele temas bevat. “Om ʼn vrou te fotografeer wat nie daar is nie” besin weer onder andere oor die skeppende werkwyse van die fotograaf. Dit is nie die kamera wat die foto neem nie, maar die fotograaf se siening.

De Waal, hierdie bundel bevat talle onvergeetlike gedigte. Nogmaals geluk daarmee. En mag hierdie publikasie alles wees wat jy (en die uitgewer daarvan!) op hoop. Sal jy dalk so vriendelik wees om by wyse van groet ʼn spesifieke gedig uit die bundel wat vir jou persoonlik spesiaal is, hieronder te plaas? Miskien kan jy dan ook sommer verduidelik hoekom jy juis op dié gedig besluit het?

Die volgende gedig het ook heelwat te doen met die wetenskap. Maar hier is ʼn sterk humoristiese inslag en ook ʼn skeut surrealisme. Dit gee voor dat Einstein en Dr. Seuss, die beroemde kinderboekskrywer en tekenaar, oor kwantumfisika en ander konsepte sit en gesels. Ek hou van die speelsheid wat ʼn bietjie spot met gewigtige begrippe. Ironies genoeg, verstaan Einstein nie dat hy met die werklike outeur gesels, en nie met ʼn “fiksionele karakter” nie.

Einstein en Seuss hou nie van die lyn-teorie nie

Doktor Seuss en professor Einstein

drink bier

in ʼn ersatz Switserse kroeg

in ʼn Los Angeles

wat voortdurend opgedateer word.

Einstein skommel ingedagte ʼn paar dobbelsteentjies in sy hand:

“God speel nie hiermee nie,”

sê hy koppig.

“Tyd is ʼn pretzel,”

antwoord doktor Seuss,

tel een op en hap daaraan.

“Eienaardig dat ek sit en gesels

met ʼn fiksionele karakter,” mymer Einstein.

“Nie so vreemd as die werklikheid nie,” glimlag Seuss

en vat ʼn teug van sy bier.

“Nou watse hoed is dit daardie van jou?”

vra Einstein.

“Ons hou daarvan om verskillendes te dra,

ek en my neef.”

“Neef?”

“Ja, hy’s ʼn bietjie van sy kop af, ʼn hoedemaker.”

Einstein dink ʼn bietjie. En dan: “Watter hoed

dra jy nou?”

“Die een waarin die heelal ʼn ballon is,”

verduidelik Seus en vee sy bolip af.

“Die een sonder vaste lyne.”

Einstein se snor glimlag.

© De Waal Venter (Uit: Oop sirkel, 2017: Naledi)