Posts Tagged ‘Onderhoud met Fourie Botha Krap uit die see’

Onderhoud met Fourie Botha (Krap uit die see)

Monday, July 17th, 2017

Fourie Botha gesels oor sy tweede digbundel

“Krap uit die see”

met Louis Esterhuizen

 

Fourie, van harte geluk met jou tweede digbundel, Krap uit die see. Volgens my is hierdie bundel nie net ʼn bestendiging van jou digterskap nie, maar ʼn baie sterk vooruitbeweeg sedert jou reeds debuut, Donkerkamer (2011: Queillerie). Uiteraard is daar altyd meer druk op ʼn skrywer met ʼn tweede publikasie ten einde aan die verwagting wat met die debuut gestel is, te voldoen. Hoe voel jy persoonlik, terugskouend, oor die openbare reaksie op jou debuutbundel?

Baie dankie, Louis. Ek was dankbaar vir die ontvangs van Donkerkamer. Dit was ʼn bundel waaraan ek lank gewerk het en waarmee baie mense my gehelp het. Ek sal die persoonlike boodskappe van lesers en digters uit die bloute altyd onthou.

In welke mate het jy met Krap uit die see probeer voortskryf op jou debuut en in watter opsig(te) gaan jy vernuwend te werk?

Sommige temas in Krap uit die see sluit aan by Donkerkamer, maar dié slag is daar geen visuele materiaal in die boek nie. Die toonaard van die tweede bundel is ook anders. Baie van die gedigte is kort ná Donkerkamer begin, so ek hoop lesers wat van die eerste gedigte gehou het, hou ook van die nuwes.

Die omslag van jou digbundel vind ek besonder interessant. Hoekom juis dié foto  en watter verband bestaan daar tussen dié foto en die gedigte?

Dit was die eerste voorstel wat my uitgewer vir my gestuur het en ek het onmiddellik daarvan gehou. Die beeld het sy in ʼn boek wat in 1907 verskyn het opgespoor en dit het vir my baie goed by die bundel gepas. Die man wat met die krap worstel, of miskien dans. Amper een gedierte word. Die feit dat dit ʼn Oosterse man op die omslag is, was ook ʼn gelukskoot: dit het my forseer om ʼn gedig wat ek reeds in Donkerkamer se dae probeer skryf het, uiteindelik klaar te maak: “Chang Bunker aan sy Siamese broer, Eng”.

Die gedigte in hierdie bundel is in vier afdelings verdeel, met ʼn enkele gedig, “Krappegesang”, as programgedig. Die vier afdelings is: Laagwater, Vuisneste, Rakende en Dryf. Volgens watter ordeningsprinsipes het jy op hierdie indeling besluit?

Ek wou gedigte oor jeugervarings vroeg hê, om aan te sluit by die jeugverse van die vorige bundel. Dan verloop die gedigte chronologies, amper soos ʼn lewe: daar is woedende liefdesteleurstellings, daarna gedigte wat met die buitewêreld te make het. Die laaste afdeling wou ek ligter hê; sonder die skuim om die mondhoeke wat die gedigte vroeër in die bundel het.

Twee van die aangrypendste gedigte in dié bundel is volgens my die twee sluitverse: “See” (p.58) en “Mosambiek” (p.59).  In eersgenoemde lees ons van die see as reliëf van verlies, terwyl laasgenoemde weer daarop dui dat die wêreld (moontlik) met laagwater sou kon terugtrek soos ʼn krap in sy nuwe dop. “Geseënd is jy, geseënd,” sing die see. Volgens my lê die tematiek van hierdie bundel in die teenstelling tussen dié twee gedigte vasgevang: enersyds die reliëf van verlies, dog andersyds die seën van ʼn nuwe begin. Sou jy kon akkoord gaan met so ʼn beskouing?

Die ou idee van die ouroboros, die slangetjie wat sy eie stert sluk, was in my gedagtes toe ek dié twee gedigte gekies het om die bundel mee af te sluit. Ek wou ʼn swaar, seer bundel met ʼn korrel hoop eindig. Met ʼn weerbegin. Dieselfde truuk as met die slotgedig in Donkerkamer. Om iets uit te krap is nie net seer nie, dit bring ook verligting.

ʼn Besonder interessante tematiese inspeling wat ek met die lees van hierdie gedigte registreer, is Peter Blum se “Man wat mal word”; by tye baie direk soos met “On the rebound 11” (p.25) ) en dan weer meer subtiel soos met “Mondwerk” (p.51). Ook in ander gedigte is daar suggesties van waansin. Trouens, reeds met die openingsgedig, “Krappegesang” (p.7) lees ons: “Jirre, hoe jeuk, hoe krap dit nie / in hierdie skedelpan van my kop? / Ek wil jou skud soos ʼn blik spykers, / witvleise uit jou doppe skraap.” Na die beste van my wete is dit die eerste keer in afgelope tye dat waansin so deurlopend as leitmotief in ʼn Afrikaanse bundel ontgin is. Is daar ʼn bepaalde rede hiervoor, gegewe die tydsgewrig waarbinne hierdie verse tot stand gebring is?

Dit was vir my ʼn interessante eksperiment om te sien hoe ek my ingehoue self tot by die rand van ʼn “rant” kon kry. Ek wou die tipe waansin van liefdesverhoudings wat aan die misluk was as ‘n soort waansin of selfs ʼn besetenheid uitdruk. Ek het met Wordsworth se “emotion recollected in tranquility” gestoei. Hoe hou jy die woede woedend as jy die besigheid netjies in ʼn gedig moet verpak?

Aansluitend tot voorafgaande vraag is dit ook opmerklik dat koerantberigte, fotografie en ander komponente van die eietydse in jou gedigte neerslag vind. Volgens my oordeel is jou digkuns nié verse van ontvlugting nie, maar juis konfrontasie. Gaan jy akkoord met so ʼn siening?

Ek vermoed die sardoniese toon het te make met ʼn frustrasie dat jy hulpeloos staan teen die aanslae van die mensdom. Ons is Stockenström se “Ecce Homo” oor en oor.

Fourie, is dit moontlik om vir ons lesers ʼn aanduiding te gee van hoe ʼn gedig by jou tot stand kom? Is dit normaalweg ʼn prikkel van buite af – iets wat jy lees; ʼn film, of fotografie, selfs – en hoe verloop die verdere proses?

Ek hou al sedert skooldae dagboek. Dit is in hierdie boeke waar die meeste van my gedigte gebore word. Maar soms kom ʼn beeld in ʼn droom by my op. Die slot is vir my die belangrikste. As ek eers die slot het, kan ek die gedig daarrondom bou. Dan skryf ek die weergawes oor en oor en oor totdat ek die metrum reg het.

Ten slotte. Vanuit die aard van jou werk is jy iemand wat ten nouste betrokke is by die uitgewersbedryf. Mag ek vra wat jou siening is van die Afrikaanse digkuns tans? Is daar aspekte wat jou opgewonde maak; ander dalk wat jou beklem?

Die enigste benoudheid is rondom die min uitgeemoontlikhede vir digters, maar tog verskyn daar jaarliks soveel bundels, veral by kleiner, onafhanklike uitgewerye. Kyk byvoorbeeld na wat Michèle Betty en Joan Hambidge onlangs met Dryad Press van stapel gestuur het. So, al bevind ons ons in ʼn bedryf waar poësie nie ekonomiese waarde het nie en waar my werkgewer byvoorbeeld nie meer poësie publiseer nie, beteken dit nie daar is nie minder poësie nie. In ʼn wonderlike inleiding tot sy versameling essays Transformations skryf Imraan Coovadia hoe die essay en die gedig ooreenstem: “Because the essay is worth nothing to the organisation, it is permitted the freedom of the marginal, just like the poem.” Daar is iets bevrydend daaraan om ʼn literêre aasdier te kan wees.

Fourie, nogmaals geluk met ʼn besonderse publikasie.  In haar dankwoord ten tye van die ontvangs van die Hertzogprys vir poësie het Antjie Krog die opmerkings gemaak dat ʼn goeie gedig is ʼn versneller van die bewussyn. Inderdaad is dit op jou gedigte van toepassing.

Graag vra ek dus, by wyse van groet, of jy dalk bereid is om een van jou gedigte met die lesers te deel?

*

My broer staan voor ʼn vistenk

 

Vreemder as die blinkgrys visse:

my broer hier agter glas.

Hy staar na hul kwiksilwerlywe

in die akwarium belig,

kaatsend soos skroot ná ʼn botsing ter see.

Onthou hy hoe my pa ons leer visvang?

Ons op ʼn keer in Natal

elk ʼn chroomvislepel gee?

Onkant betrap deur die sardynloop

sink hy sélf ons stokke,

sy eie roede toe nog in stukke

op die Ford se roofrack vasgeklem,

styf soos my ma se mond.

Maar ons gut was glo te lig:

morsaf breek ons lyne,

twee blink loodmarlyne die water in.

Só staan my broer in die donker

voor die glimmende visse.

ʼn Katrol in my kop gee mee, sing.

 

(c) Fourie Botha (Uit: Krap uit die see, 2017: Protea Boekhuis)