Posts Tagged ‘onderhoud met Gilbert Gibson’

Onderhoud met Gilbert Gibson (Die sin van die hut)

Sunday, November 26th, 2017

Gilbert Gibson in gesprek oor sy nuwe bundel, Die sin van die hut,

met Louis Esterhuizen.

 

LE: Gilbert, ten eerste wil ek jou van harte gelukwens met ʼn uiters indrukwekkende bundel. Dit was inderdaad vir my ʼn enorme leeservaring. Die sin van die hut is reeds jou sesde digbundel sedert jy in 2005 gedebuteer het met Boomplaats (Tafelberg), wat met die Protea Boekhuisprys vir poësie bekroon was. Daarna het jy nie net talle toekennings ontvang vir volgende bundels nie, maar jou gevestig as een van die min hermetiese digters in Afrikaans.

Tog wil ek ons gesprek met ʼn sywaartse stap begin. In Riana Scheepers en Leti Kleyn se Die Afrikaanse Skryfgids (2012: Penguin) het jy een van die belangrikste bydraes oor die digkuns gelewer met ʼn essay getiteld “Die gedig as Laingsburg”. Jy begin jou argument met die volgende stelling: “Die eerste en heel belangrikste element van digkuns is om koelbloedig en met voorbedagte rade ʼn aanslag te maak op die emosionele, op die tonus van die leser se gevoel.”  (Die Afrikaanse Skryfgids, p.165)

Uiteraard verwag ek nie van jou om die hele relaas van jou essay hier te herhaal nie, maar ek beskou hierdie stelling as een van die mees akkurate taakstellings van die digter; sal jy daarom asseblief hierdie siening by wyse van aanloop tot ons gesprek kortliks in perspektief stel?

 

GG: ʼn Gedig is een van die maniere waarop teks onderskei tussen ʼn narratiewe mededeling en ʼn emosionele mededeling.

Gedigte is nie ʼn in-wêreld soos musiek nie, maar ʼn nie-in wêreld, ʼn fiksionele ruimte van en na buite. Die emosionele gevolg wat hierdie ‘nie-in’ ruimte in ʼn mens bewerk is afhanklik van die empatie wat  ʼn mens met ander het. En daarin lê dan die leser se konstante beelding en hipotese-vorming oor daardie empatie, en die voortdurende ontwikkeling van die interaksies wat  ʼn mens met ander mense rondom jou het.

Op daardie manier het gedigte nie eintlik ʼn storie nie, maar ʼn emosionele opwekking. Gedigte het natuurlik ook hulle gewone fonetiese en sintaktiese struktuur, hulle gewone semantiese betekenis, maar poësie besit ook ʼn semiotiek wat bietjie ʼn verwysing met die eksterne wêreld verloor in hierdie betoog dat dit meer gemik is daarop om emosie by die leser op te wek as wat ander teks noodwendig sou (wou) doen. Hierdie emosionaliteit van gedigte is nie afhanklik van die klassieke retoriese oordrag van feite nie (wat aan teks eintlik ʼn forensiese of gemaakte inhoud sou gee). Gedigte gaan hoofsaaklik om die emosionele mededeling, met of sonder ʼn narratief. Sodat jy (die leser) dan anders dink as wat jy intuïtief sou dink.

Die gedig moet jou herinner aan wat jy alreeds vergeet het. Dit moet jou herinner aan wat jy nog nie weet nie.

Die leser en die digter bereik onderskeie sukses in die lees en in die skryf van ʼn gedig in direkte verhouding met dit wat hulle met of in empatie deel.

LE: Dankie, Gilbert. Ek wens só dat ek jou kon vra presies hóé jy hierdie ontroering bewerkstellig, maar dit sou nou wees om iemand na sy fabrieksgeheime te vra … Nietemin, dit slaag, want in hierdie bundel van jou – soos in al jou voriges – is daar talle verse wat die leser nie net emosioneel ontroer nie, maar as sodanig onvergeetlik is.

Aan die hand van jou vorige publikasies het ons jou leer ken as ʼn digter waar hoegenaamd niks lukraak of ongemotiveerd gebruik word nie. Kom ons begin dus by die titel Die sin van die hut. As motto gebruik jy ʼn wonderlike aanhaling, geneem uit Gaston Bachelard se La Poétique de l’Espace (1957). In die Engelse vertaling van Maria Jolas: “The house./ From cellar to garret./ The significance of the hut.” Kan jy hierdie aanhaling – en daarvolgens ook die titel – vir ons kontekstualiseer ten opsigte van hierdie bundel? (Volgens bepaalde gedigte is die “hut”, oftewel “huis”, byvoorbeeld nie net ʼn plek van toevlug nie, maar ook slagveld. Is ek reg?)

GG:  Bachelard se boek ondersoek die filosofiese ruimte in argitektuur (topoanalise). In sy werk is die as van (dig)kuns en die as van wetenskap simmetries en opponerend tot mekaar, en poog hy om hierdie uiteenlopende pole te versoen deur die een tot die ander te komplementeer – hy redeneer dat die “huis” sy kosmetiese effek verloor en dat spasie in en om die huis (die hut) ʼn baie kunsmatige verhouding koester met die inwoners van daardie huis. Die intieme ruimte van die “hut” word eintlik ʼn ander tipe ruimte, ʼn ruimte van krisis en afwyking en uitsluiting en illusie wat die huis in ʼn ander wêreld kontekstualiseer.

LE: Die omslag vind ek besonder interessant, in hoofsaak omrede dit basies ʼn tipografiese ontwerp is met die titel en outeursnaam in groot blokletters soos bakstene wat in ʼn muur gemessel is. En tog – agter die outeursnaam is ʼn swerm duiwe in ʼn tipiese sirkelvlug om ʼn geïmpliseerde huis se dak. Dié suggestie word verder versterk vanaf die eerste gedig, (tuin), se openingsreëls en verder na gedigte soos (bodrumpel) (p.16) en die aangrypende (geute) (p.57) – my gunsteling gedig in die bundel! Ter wille van die leser haal ek aan:

 

Uit die ooste kom die lig wat soos lig of

bloed deur die tuin spoel dat voëls opvlieg nes oorlewendes

na ’n ramp van onherstelbare verwoesting

***

Op die dak loop wolke hul valse toenadering

laat ons in koue sweet agter as hul voete

op die sink om teen die skuinste op na die nok hul

vlerke bonatuurlik grys te keep teen die lyf

waaronder heupe nes meerderwaardigheid

die middeljare verspil in liefdestories.

.

Op die dak loop wolke langs geute hulle

.

Ontstig jou oë blink sirkone ywerig en skoon

soos woorde wat in stilbly girts

as die dreigende voëls op die dak

die bodrumpel met amper raak beloon

***

As dit eendag genoeg Laingsburg reën

deur die drif van leë leivore tot

lopende water enkeldiep op paaie staan

veërs wat verstreep en versigtige

motors deur uitlaatgasse soos

roofvoëls voor wolke verby

.

As dit eendag genoeg Laingsburg reën

sal vol geute ons sypaadjies

gronddamme wat oor-

loop en welige spaansriet op die

banke en daaronder verspoel

sodat jy soos ’n duif pleit om hierdie

ark te verlaat

***

In al drie die aanhalings vind ons die duif (of voëls) as simbool van sowel oorlewing as bedreiging weens die verwysings na “ramp” en “verwoesting” (tuin), “dreigende voëls” (bodrumpel) en “roofvoëls” (geute). Ook dít hou verband met die teenstelling tussen die huis as ruimte van geborgenheid én slagveld.

Kan jy hierop uitbrei, asseblief?

GG: Soms is daar hierdie stil oomblik.

Soos. As jy terugry huis toe: jy hou stil in die motorhuis, die garagedeur gaan toe, jy sit nog steeds geëlektrifiseer in die bakkie, te uitgeput om te beweeg, en jy visualiseer hoe jy uitklim en opstap huis toe, in die voorkamer instap, ʼn rol vervul van iets wat die huis vul en daardie stil oomblik om jou kop voel soos ʼn orakel, op ʼn manier bekend maar ook onbekend – net soos ʼn droom wat ʼn mens net halfpad gedroom het.

Dit is in hierdie gaping waarin die voëls bokant die huis vlieg. Die gaping tussen die een lewe en die ander, die gaping tussen die een ruimte en die ander. In die stil oomblik.

 

LE: Nog ʼn gedig wat direk met die titel verband hou, is (skuiling) op p.31. Ek haal aan:

 

Ek sit nie my hart in jou hande nie

maar druk dit in jou bors waar dit soos

asemrige verligting elke sug in jou

slaak. Dan sal jy weet my hart bly

waar jy dit sal moet bewaar

in die skuiling wat drome in jou are

plaak. So klop ek in jou bloed. So

stuur jy my in die rigting van die hut

Hierdie vers, dog ook ander, laat die vermoede ontstaan dat die “hut”, oftewel “huis”, nie noodwendig ʼn fisiese entiteit is nie, maar ʼn abstrakte konstruk soos die taal, byvoorbeeld. Lees ek skeef, of kan die titel, Die sin van die hut, ook na die taal as huisvesting én slagveld verwys? Met ander woorde: die hut (gedig) as sin (taal)?

GG: Om hierdie rede is die hut vandag nie noodwendig die veilige toevlug nie, maar ʼn spasie van opponerende emosie: in hierdie faling van ons veilige ruimtes ondersoek ons die sin (betekenis) van die hut, asook die sin (sentence) van die hut.

LE: In aansluiting tot bogenoemde is dit ook so dat talle gedigte – die hele eerste groepering (pp.7-20), byvoorbeeld – na die “hut” oftewel “huis”, as iets liggaamliks verwys. Daarvolgens bevat hierdie versameling besonderse mooi, dog ongewone, liefdesverse; asof die maak van ʼn gedig terselfdertyd is soos om “liefde te maak”. Of oorlog te verklaar. Jou kommentaar?

GG: Liefde is so “isoleerbaar” deel van die sosiale en kulturele wêreld waarin jy leef. Dit is onmoontlik om dit te ignoreer as ʼn mens praat oor vertroue en empatie en gesin en kinders en respek en vertroue en geluk. Binne in al hierdie dinge lê daar die morele wêreld van liefde, wat dan per definisie vatbaar is vir jaloesie en naywer en blaam en wraak en woede en diesulke.

Dit is presies hoe oorlog ook is.

As jy jouself in die geveg van liefde of oorlog begewe, dan weet jy dat krag jou laaste toevlug gaan wees. En dat daar geen limiet is nie, net die limiet van hoeveel krag tot jou beskikking is.

Daardie twee (die liefde en die veldslag) is nader aan mekaar as ʼn road less travelled.

LE: Nog ʼn verwysing wat reeds met die openingsgedig, (tuin), geaktiveer en deurlopend as tematiese motief behou word, is die kwessie van stilte. Ek haal die slotreëls aan:

Uit die ooste kom die lig tot waar

.

Woorde soggens lig soos bloed op die bed

wegraak en hoe die geblaf buite sal bepaal

dat die donker net tot herinnering dreineer

.

En deur die huis tot stilte.

Buite. Die honde asemhaal

.

Wat is die belang van hierdie prominente (tematiese) teenwoordigheid van “stilte” te midde van taal en deklamasie?

GG: As ʼn mens ʼn geluid hoor en die geluid raak weg, word dit opgevolg deur ʼn ander geluid. Hierdie tweede geluid kan nie ʼn geluid van niks wees nie: dan is dit ʼn non-geluid. Tussen hierdie twee geluide is die oomblik van stilte. Wallace Stevens:

The house was quiet and the word was calm.

The reader became the book; and summer night

 

Was like the conscious being of the book.

The house was quiet and the world was calm.

 

The words were spoken as if there was no book,

Except that the reader leaned above the page,

 

Wanted to lean, wanted much most to be

The scholar to whom his book is true, to whom

 

The summer night is like a perfection of thought. 

The house was quiet because it had to be.

 

The quiet was part of the meaning, part of the mind:

The access of perfection to the page.

 

And the world was calm.  The truth in a calm world,

In which there is no other meaning, itself

 

Is calm, itself is summer and night, itself

Is the reader leaning late and reading there. 

LE: Gilbert, waarskynlik is Die sin van die hut jou mees toeganklike bundel sedert Boomplaats; in hoofsaak weens die mindere gebruik van tipografie en punktuasie as elemente van betekenisverdigting. Twee tegnieke wat jy egter deurgaans gebruik, is die titels in hakies en die afwesigheid van punte aan die einde van die gedigte. Is daar ʼn spesifieke rede hiervoor?

GG: Daar is niks wat so doodstop soos ʼn trein wat ʼn vlieg tref nie. Daar is niks wat so doodstop soos ʼn koppie wat ʼn mens neersit in ʼn piering dat die teelepel rinkel nie. Daar is niks wat so doodstop soos ʼn deur wat klap nie. Niks wat so dodelik stop soos ʼn punt aan die einde van ʼn gedig nie. Soos ʼn hol kol op jou maag. Wat jou laat besef soms is dit goed om te stop. Andere kere nie.

LE: Wat ʼn treffende antwoord. Nietemin, nog ʼn treffende gedig in hierdie bundel is (lintel) op p.69 met sy direkte verwysing na Christus se kruisdood. Veral die slotreël vind ek besonders weens die dubbelsinnigheid daarvan. Ook in jou vorige publikasies was Bybelse verwysings ʼn sterk teenwoordigheid; dog selde op ʼn direkte, eenduidige wyse. Mag ek vra wat die belang hiervan vir jou is, verwysende na Cas Vos se ietwat kontroversiële bloemlesing Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (2017: Lux Verbi)? Bestaan daar vir jou, bv., iets soos ʼn “Christelike” gedig? Moet hierdie gedig as sulks beskou word?

 

Ter wille van die leser haal ek die betrokke gedig aan:

.

Ek’t met ’n passer

pleks van ’n spies

 

’n Gat in jou sy gesny

die naaste suur ’n

 

Droë nartjieskil ingeskuif

onder die bank.

 

Die klere wasgoedmandjie

met bloed van die skerp

 

En eendag Turyn ons

deurgeskeurde gordyn

 

Opgerol sodat dit

styf oor die lintel pas.

 

Voordat die slaap weer voordat

my hande in onskuld was

GG: Daar bestaan nie vir my iets soos ʼn Christelike gedig nie.  Wat sou dit tog beteken? Sou dit bedoel dat daar sekere morele of moralistiese gewig in die gedig is? Of verwysings bevat van en na die Judaïese God of drie-eenheid? Sou dit beteken dat daar ʼn morele interpretasie volg op die gedig wat jou ʼn beter mens sou maak? Daar is sekerlik nie regtig onchristelike of christelike gedigte nie.

Daar is net gedigte en nie-gedigte.

LE: Gilbert, ten slotte kan ek jou net nogmaals gelukwens met ʼn uitsonderlike publikasie. Mag hierdie huis wat jy op so ʼn indrukwekkende wyse tot stand gebring het, toegang en skuiling bied aan alle liefhebbers van die digkuns.

Kan jy dalk, by wyse v groet, een van die gedigte hieronder plaas en dan sommer ook kortliks verduidelik waarom jy juis dié betrokke gedig kies?

(beddinglaag)

.

Bo my hond se voete riviere van lang treë voor sy

arms en skouers met kronkelende waardering

van gras die gras gepraat soos halms in die mond

wat my neiging tot drome ontruim met potloodbene

en praktiese wenke oor jakkalsjag die lyf behang

met ’n pels soos katoen die kraag wat soos twee

mane op nate oor die nek buig en daarbo die geboë oë

versier met stof waarin oplaas soos goggas kom lê.

Nou’s my hond dood ’n beddinglaag vorentoe in die donker.

Sy ore wat hang in swart as en okkerneut die

sagte skans van blaf met bitsige gal nog soet uit

sy mond en ek is lief vir hom terug

met my hart en alles wat in riviere van

lang treë met die sin van die hut

vorentoe vloed

.

(c) Gilbert Gibson (Uit: die sin van die hut, 2017: Human & Rousseau)

 

Onderhoud met Gilbert Gibson (Vry-)

Tuesday, August 11th, 2015

Gilbert Gibson gesels oor sy nuwe bundel, Vry-, met Gisela Ullyatt

.

Gilbert, baie geluk met jou nuwe bundel. Gedurende die Vrystaat Kunstefees se Boekefees vanjaar was jy in gesprek met Francois Smith, jou vorige redakteur. Gedurende hierdie interessante gesprek het Francois jou na die voorblad van vry- gevra. Kan jy dalk ook vir Versindaba-lesers meer oor die voorblad vertel?

  1. die voorblad is ontwerp deur Michiel Botha  http://www.michielbotha.com
  2. in-sigbaarheid die tema van donkerheid van landskap
  3. en die garingbome wat daarbinne na verwys word
  4. (sisal van Mexiko) hoe ons naby die garingbome gespeel het
  5. sien Michiel duidelik wat want hy lees
  6. hy lees die manuskrip deur voordat hy die skut ontwerp.

.

In een van die plaaslike koerante (Bloemfontein-area) konstateer ’n joernalis dat jy bekend is vir jou “postmodernistiese, eksperimentele styl”. Stem jy saam met hierdie waardeoordeel? Waarom of waarom nie?

  1. die veronderstelling oor ’n postmodernistiese of eksperimentele styl
  2. is maar ʼn interpretasie of waarneming wat iemand maak ,
  3. wat impliseer dat iemand ʼn vertrek van modernisme het
  4. ʼn skeptiese interpretasie teen kultuur en ekonomie en geskiedenis handhaaf
  5. en deur dekonstruksie probeer om goed
  6. vir myself meer duidelik te maak
  7. wat ek nie sal weet of dit enigsins
  8. waar is nie

.

Wat my veral opgeval het in vry- is die feit dat jy met die landelike milieu omgaan in jou verse (ook weerspieël op die voorblad). As internis woon en werk jy egter in ’n stedelike omgewing. Waarom het jy besluit om die landelike gegewe as leitmotiv te gebruik?

  1. die onderskeid tussen die landelike en stedelike omgewing
  2. is dalk bietjie kunsmatig .  dit verwys
  3. na die geografie waarin die digter is,  en nie die
  4. geïnternaliseerde landskap wat binne in die digter is nie.
  5. die landelike gegewe as onderbou in die bundel
  6. is maar die metafoor waarmee die skrywer ʼn sekere
  7. ding probeer sê. hierdie metafoor kan stedelik of
  8. landelik of enigiets wees en is
  9. maar ʼn skadu van die werklikheid, gekleur
  10. met beelde wat vir die leser soms bekend is

.

In jou essay, “Die gedig as Laingsburg” (Afrikaanse Skryfgids:165) lui die openingsparagraaf soos volg: “Die eerste en heel belangrikste element van digkuns is om koelbloedig en met voorbedagte rade ’n aanslag te maak op die emosionele, op die tonus van die leser se gevoel”. Voel jy dat die gedigte in vry- hieraan voldoen? Ook: volgens jou, voldoen Afrikaanse digbundels wat die afgelope paar jaar verskyn het aan hierdie aanname? Laastens: kan selfgepubliseerde bundels hieraan voldoen of is dit die taak van ’n deurwinterde redakteur om die snoeiskêr in te lê, veral as ’n gedig neig na die sentimentele toonaard?

  1. nie heeltemal seker hoe die gedigte voldoen nie:
  2. as dit geen emosionele opwekking bring by ʼn leser nie
  3. dan is dit ʼn mors van papier en tyd.
  4. ek lees nie so baie nie maar het
  5. Narokkong. en  Mede-wete. en al die Lieflike Dade.
  6. geniet.
  7. aan die kriteria van emosionele opwekking
  8. hang maar seker af wie se opwekking en wie se kriteria.
  9. self-publiseerders kan teoreties. teoreties. hieraan voldoen.

.

Jou oeuvre  word as hermetiese digkuns beskou en gedurende die gesprek met Francois sê jy ook dat jy dalk meer ‘betrokke’ (sosio-polities) moet skryf. Het jy gedigte iewers in ’n laai wat as betrokke beskou kan word? Moet digters as sodanig ‘betrokke’ gedigte skryf?

  1. my gedigte gaan om met ʼn baie klein wêreld,
  2. waarin ek grootgeword het en
  3. waarin ek nou is.  dit is toevallig. dit is ʼn wêreld van/in die landelike vry-
  4. staat en ʼn wêreld van my werk
  5. gesin en verhoudings met god(e) en ander skrywers en hul.
  6. van buite af ontruim. geografies klein.
  7. daar is digters wat baie
  8. relevante sosiale bewussyn koester en
  9. in die hedendaagse politiese
  10. gebeure ʼn belangrike rol vul – die digter as profeet.
  11. ek is nie daardie nie

 

Soos jou vorige vier bundels, ontwrig vry- konvensies van taal: “as kind ongewoon” se eerste versreël is ’n goeie voorbeeld van ongewone sintaksis: “as kind ongewoon met ma afgevlieg kaap toe” (10). In hierdie bundel eksploreer jy egter ook punktuasie in gedigte soos “soos.//[’n invalide.sit&doodgaan&buurdogter:bring]” en “dit.[neem:/’n.tydomtot.verhaal.te]. Die titels herinner byna aan ’n web-adres se struktuur. Kom hierdie strukture na jou toe met die neerpen van die eerste weergawe van ’n gedig of sien jy later eers die moontlikhede van ontwrigting op sintaktiese- en betekenisvlak? Enige digters wat jou sodanig beïnvloed het?

  1. die verwarring van taal in die gedigte laat punktuasie ook ʼn rol daartoe speel
  2. deur Mary-Anne Breeze (die Australiese digter) al so 20 jaar terug
  3. en hierdie strukture help om die koderings-eienskap van die gedig te ontbloot/ weg te steek,
  4. die gedig kode of simbool van iets agter.
  5. dan inderwaarheid drie maal verwyder van die werklikheid
  6. dit is meer ʼn visuele ding as ʼn tipografiese ding
  7. want as jy dit lees moet jy dit lees
  8. asof daardie tekens nie bestaan nie
  9. maar die oog sien dit raak en skep
  10. ongewone aksie, reaksie, spanning.

 

kaplyn aktiveer verskeie Westerse dig-tradisies: onder andere dié van Neruda, Emily Dickinson en Wilma Stockenström. vry- reaktiveer die idee van die kanon, maar dié keer moet lesers veral staatmaak op hulle kennis en agtergrond van die Afrikaanse dig-kanon en byvoorbeeld die afkortings, [GVN] en [SC], dekodeer. Hoekom hierdie digters?

  1. die verwysings na ander digters in hierdie bundel vind plaas omdat ek my verbeel
  2. dat daardie digters deur die bundel met my praat en nie
  3. ek deur die bundel met hulle nie die-
  4. sulke Gert Vlok Nel, Dirk Opperman, NP van Wyk Louw , Breyten Breytenbach, Peter Blum, Sheila Cussons en C Louis Leipoldt

 

Selfs jou inhoudsopgawes verbreek konvensie: kaplyn en oogensiklopedie lys gedigte alfabeties in die indeks. Maar vry- het geen inhoudsopgawe nie. Is dit die vry-breek van tradisie, of het dit ink gespaar?

  1. vry- het geen inhoudsopgawe nie want
  2. die digbundel is ʼn eenheid, in hierdie geval at least,
  3. moet dus as ʼn eenheid gesien word en
  4. inhouds-opgawe sal dit struktureel verbreek.

 

In jou gedigte “al wat oor is in die leë park” (42) en “my twee honde is riffel en roes hulle lê op goiingsakke” verwys jy na Francis, jou seun. Dig jy anders vandat jy pa geword het en soos Francis deur die verskillende stadia van ontwikkeling groei, dink jy dit sal op sig self jou digdenke en -emosie beïnvloed? Terloops, wat dink Francis van jou gedigte? Ek het opgelet dat hy selfs ’n vraag gevra het by jou en Francois se boekbespreking. Dink hy jy is ’n beter geneesheer of digter?

  1. francis is in ander bundels ook, hy is in metafoor sekerlik
  2. (die kind is die pa van die man) , deel van daardie klein wêreld
  3. hy dink my gedigte is “groot woorde”. hy dink ek’s ʼn swakker digter as dr.
  4. hy word op ʼn psigo-wiskundige (is daar so?) vlak die kind tot die gedig soos die skrywer
  5. tot die lewe.

.

Alhoewel die solidus of skuinsstreep nie neerslag vind in elke gedig nie, word dit in ’n hele paar verse gebruik, soms in die middel van ’n versreël, soms aan die einde, soms een keer, soms meer. Markeer dit grepe of eenhede van betekenis (caesura) of het dit meer te make met ’n limen wat tipografies uitgelig word?

  1. die solidus gebruik ek baie spesifiek omdat dit ʼn ekstra breuk bring, ʼn
  2. verdere enjambement (veral in die konteks van The End of the
  3. Poem deur  Giorgio Agamben waar enjambement die sleutel word waarop alle digwerk rus)
  4. die skuinsstreep dus het betekenis en poëtiese eenheid waar
  5. byvoorbeeld ʼn ruim/ rym-woord
  6. tipografies verbloem is in die gedig self.
  7. dus meer as een enjambement tot die digter se gebruik

.

As gebore en getoë Vrystater het die volgende gedig vir my uitgestaan, veral vanweë die betekenismoontlikhede van “klipkrale” (54):

 

en hier is nie valleie waarin skeibare waters

 

en hier is nie valleie waarin skeibare waters versaak nie,

net die soberheid van turf en gras en die priem van

klipperige boedels waar niks die land van toegeneentheid red nie,

nie reën of ander neerslae, geen bewaking in

klipkrale nie net elke dag meer stof van hierdie vlakte,

in die styl van ’n rebelse faksie, ’n gevaarlike onderneming

.

Gilbert, in die derdelaaste paragraaf van die essay “Die gedig as Laingsburg” (171) skryf jy: “Die punt is: Poësie is nie verdun nie. Dit is gekonsentreer tot die absolute”. Haal vir ons ’n vers uit vry- aan wat jy voel hierdie aanname die beste illustreer.

  1. seker

.

ver wes van die uitdaging in en om die huis versuim die bloute oor

ons die aanhoudende pad tot allendale verby/ in plaas van kalmte

die woestyn wat ons binnekort betree, die kar se vensters oopge-

draai, lugversorger op volstoom as ons kyk na skape op ʼn

stoppelland. dit was laatsomer die maan soos ʼn opheffing bo die

rante wat blou bestry van ver kan jy die padstal om die draai sien

asof vorentoe die vaart en die woorde in ʼn lugspieël tussen

die kosmos langs die pad ons rit stramien/  oomblikke voor

die hemel oor die aarde oor windpompe teen die horison opstaan

en teen die droë winde roei vir onsigbare water wat beweeg, en in

die raamwerk van beweging beteken

Onderhoud met Gilbert Gibson

Monday, March 11th, 2013

Gilbert Gibson in gesprek met Amanda Lourens oor sy nuutste digbundel, [vii].

 

 “Die gedig as verborgenheid impakteer in suksesvolle gevalle net soveel op die leser as byvoorbeeld  ʼn verhalende gedig of ʼn praatvers.”

 

Gilbert, baie geluk met die verskyning van jou jongste bundel, [VII].  Dit is jou vierde bundel in agt jaar, wat stellig sprekend is van ’n aktiewe digterskap en ’n produktiewe digterlike verbeelding.  Dit het my wel opgeval dat die twee vorige bundels – Kaplyn (2007) en Oogensiklopedie (2009) – se bewuste omgang met terminologie en ook die eksplisering daarvan (soos vergestalt in byvoorbeeld die woordelyste, waarna Louis Esterhuizen ook in sy 2009-onderhoud met jou verwys) nie in die nuwe bundel aanwesig nie.  Ek dink in hierdie verband ook aan Joan Hambidge (2009) se vraag of jy juis deur middel van die eksplisiete verwysings in Oogensiklopedie die leser wil bewus maak van jou “notas en die prosesse róndom die skryf van ’n gedig?”  Is hier dalk nou ander prosesse werksaam as in jou vorige bundels, overgesetsynde, verteenwoordig die nuwe bundel moontlik ’n bepaalde ontwikkeling in jou oeuvre?

Ek hoop dat my nuutste ʼn sigbare ontwikkeling is in my skrywes. Dit is tog een van die sentrale motiewe van lewe: ontwikkeling; “growth”; vernuwing. Verandering. Dit is ook in digkuns seker nie ʼn geval van “survival of the fittest” nie, maar eerder ʼn geval van oorlewing “as a result of being the most responsive to change”, soos Darwin gesê het. Hierdie vernuwing of herontdekking staan op ʼn manier teenoor die ontwikkeling van die eie stem, die uniekheid van ʼn digter se eie digkuns, en is daar ʼn fyn balans tussen die twee. Anders gebeur dalk wat oor (ek dink) Charles Simić gesê is: hy skryf net een gedig, oor en oor, maar dit is ʼn fantastiese gedig! 

Wat die proses(se) aan betref, die: ek dink nie gedigskrywery is so intuïtief soos mense dink nie. Daar is iets koelbloedig en eintlik in wese onaangenaam daarin. So. Ek is nie so in kontak met hierdie prosesse in my skrywery nie – ek poog eintlik om die proses, en by implikasie, die gedig self, te vermy.  JH se vraag (ek het duidelik nie genoeg daaraan gedink nie) laat kom by my eintlik ʼn etiese kwessie in en rondom die digkuns op. Waarmee gaan die digter om? Ekself, byvoorbeeld, is ʼn groot opgaarder van skryfbehoeftes (stasionariteit): allerhande penne en sakboekies en potlode en eksotiese ink. Die belangstelling gaan egter nie om skryf nie, maar om die penumbra van skryf. Dit handel met die handeling, en verwyder eintlik die skrywer van sy (toekomstige) gedig. Hiervan moet die digter homself seker ʼn bietjie probeer losmaak.

 

Jy daag die leser van [VII] verseker uit deurdat jy slegs genommerde, titellose gedigte aanbied. Ek vermoed die meeste lesers (ek ingesluit) wonder ook spesifiek oor die bundeltitel (sewe is immers ’n gelade getal vol intertekstuele moontlikhede).  Maar natuurlik wonder die leser ook oor die afwesige gedig nommer 7.  Wil jy dalk meer hieroor vertel?

Ek dink (alle ander getuienis tot die teendeel) dat die getal sewe nie juis inherent heilig is nie. Terloops. Die antieke Grieke (manne met rokke en baarde op die markpleine) het geglo dat die aarde omring was met sewe ander sfere (Mercurius; Mars; die Maan; die Son; Venus; Jupiter en Saturnus) wat elkeen hulle eie metaal (“metal”) gehad het – silwer; kwik; koper; goud; yster; tin en lood. En as die liggaam na die dood sou opvaar na ʼn ander (ʼn beter?) plek, dan moes hy deur al hierdie lae reis, en het so eienskappe van al hierdie metale ontvang.

Die titelloosheid is om (my) pre-okkupasie met slimmige opskrifte te verhoed. Die gedig staan alleen in hierdie reis, in hierdie op-pad na ‘n ander plek.

En die afwesige 7de gedig is die bundeltjie self (die kleiner tot die groter, soos die groter tot die hele gedeelte).

 

In aansluiting by hierdie gedagte van die nommer 7: Die uitgewer se beskrywing lui onder meer dat dit in die bundel gaan oor “’n konfrontasie met die simboliese lading van hierdie getal, ’n woordestryd teen die wete dat voltooiing die einde beteken, dat volmaaktheid noodwendig ook die dood impliseer”.  Is dit teen hierdie agtergrond betekenisvol dat veral gedig nommer 6 wil voorkom asof dit ’n grensgebied of toestand verken? En dat gedig nommer 8 skyn ’n ruimte van transformasie aan te bied? 

Die hele bundel as gedig is vir myself ʼn baie aantreklike gedagte: dit maak eintlik matematies ʼn “self-swallowing statement”, sodat die bundel in homself verdwyn in ʼn heksesirkel; ʼn sonder begin of einde. Enige plek is dus suksesvol as medias res, en die reis kan enige plek en ter gelegener tyd begin. Die bundel [vii] is die sewende gedig, amper ʼn poëtiese fraktaal (Mandelbrot). Die sesde gedig is die verklaring van die grond, die geografiese verwysingspunt, en gedig agt die persoonlike verklaring, die ek.

 Tussen hierdie twee lê alles. Ook die hond se skaduwee.

 

Jy skryf poësie wat redelike groot uitdagings aan die leser bied, en Andries Visagie het in 2009 tydens ’n Versindaba-onderhoud met Louis Esterhuizen ’n pleidooi vir die plek van die hermetiese poësie gelewer waarin hy spesifiek na jou digkuns verwys het. In die onlangse verlede is establishment-digters onder meer op die sosiale media van ontoeganklikheid beskuldig.  Wat is jou mening oor hierdie kwessie, synde ’n digter wie se werk dalk deur baie lesers as “moeilik” of selfs ontoeganklik ervaar word? 

Dit is eintlik jammer dat enige digter se werk vir die leser ontoeganklik is. Ek dink ‘ontoeganklikheid’ word dikwels gelyk gestel aan die hermetiese, aan ʼn digkuns van geheimenis, wat uiteraard nie in eie reg of noodwendig ontoeganklik is nie. Die gedig as verborgenheid impakteer in suksesvolle gevalle net soveel op die leser as byvoorbeeld ʼn verhalende gedig of ʼn praatvers. Dit gaan tog in sy wese oor die emosionele gevolg, en nie oor die narratief nie.

En as die inkvis op die bodem van die see sy stert swaai, en verdwyn in eiegemaakte swart, dan is beide die vis en die spore van die vis nog steeds daar.

 

Werklik treffend – ek dink dat hierdie beeld van die inkvis besondere insigte bied om lesers te help om jou poësie te benader.  Ek wil tog in aansluiting hierby vra: In watter mate skryf jy vir jouself, en in watter mate vir ’n gehoor? En miskien wil jy uitkom by die vraag – wáárom skryf jy?

Die vraag is een van daardie wat amper refleksief geantwoord word met ʼn leuen: ek skryf nie “vir myself”, of “vir ander” nie. Nie as welkome afwisseling uit die sleur van ʼn ‘ander’ beroep nie; nie as emosionele puring as liefde of stres oorweldig nie. Ek dink ʼn digter skryf om/vir ʼn ander rede, dalk vir iemand wat beide nie die ek of die leser is nie. Daardie iemand is die persoon wat jou dophou as jy alleen deur ʼn lang en donker gang stap, en kyk of jy jou voete met gravitas en sekuurheid op die plankvloer neersit. Die onbekende, amper onbestaande  betragder.

 

Die voorblad van die bundel met die afbeelding van ’n hond en sy skaduwee laat die leser dadelik wonder of belangrike kodes in die bundel hierdeur gesuggereer word.  Daar is weliswaar meer as een gedig waarin die spreker en sy hond in samesyn verkeer (reeds die openingsgedig in die eerste reël stel die hond aan die leser voor; so ook tree spreker en hond op in gedig 19 en 71).  Wanneer die voorblad in samehang met ’n gedig soos nommer 71 gelees word (vergelyk reëls soos “die monsters kom oor die dakke en ek weet / ek moet wakker word anders sal die vrees my oorval / my droomportefeulje met die wring van hande gevul”) wonder die leser of die skaduwee moontlik die rol van die onbewuste impliseer? Met ander woorde, dat daar ondersoek ingestel gaan word na die verborge dinge – ook die angs – agter die alledaagse? 

As vrees sigbaar is, is van alle verborge dinge angs die belangrikste. En ek het so vae suspisie dat angs die dryf vir meeste gedigte is. As dit nie die digter se angs is nie, dan minstens die mense in sy omgewing sʼn. Die hond is die katalisator vir daardie angs. Die hond is die vredemaker, die buffer, die gelyksteller.

Vroegoggend en laataand is die skaduwee altyd groter as die hond.

In fotografie is die lig dan beter.

In gedigte is die angs dan groter.

(Want voor is die bome. Dan volg die kind. Dan volg die hond. Dan die angs.)

 

Intertekstuele spore, soos in jou vorige werk, is volop en skyn deel te wees van jou omgang met ’n groter kenniswêreld wat jy baie subtiel met jou lesers deel.  Reeds in die tweede gedig kry die dood konkreet gestalte in die gedaante van die dooie duif in die swembad wat jy ook baie behendig skilder.  Die verwysing na die gedig van Gerard Manley Hopkins (“margaret ons wonder / are you grieving”) bring moontlik die tema van verandering, die verbygaan van dinge en verlies in die bundel in.  Is verlies hier ter sprake as tema en ook in die res van die bundel? 

Verlies interesseer my oor die meedoënlose aard daarvan, die onomkeerbaarheid van om-iets-te-verloor.  So asof dit uniek is. Die pyn is sekerlik uniek, maar die verlies nie. Uit die aard van my beroep word ek blootgestel aan andere se verliese, en is derhalwe al hoe meer onder die indruk van hoe generies verlies eintlik kan wees. Hoe byvoorbeeld die dood van geliefdes vir almal wag, en dus ly tot temas van die verlore kind of die verlore ouer of die verlore broer of suster. Wat meganisties eintlik meer eie aan die ek is, is die handeling van verlies, die proses, die ervaring van.  Daardie handeling staan teenoor die afwesigheid van die geliefde soos hitte staan teenoor die sigbaarheid van die vlam. Jy sien dit, en weet dan wat die gevoel sou wees as jy nader na die vuur tree. 

Die tweede aspek van verlies wat ek probeer ondersoek is die verlies aan dit wat nie jou eie was nie, waarvan die maklikste voorbeeld dalk God/god sou wees, daardie wenteling wat in die mens plaasvind as hy of sy uit die geloof beland, as die eksterne waarheid of raamwerkpunt of filosofiese anker verdwyn. In daardie proses is verlies natuurlik iets anders, en iets wat kan lei tot ʼn ander tipe distimie.

Dit is vir my poëties so dat verlies en die afwesigheid-van nie dieselfde ding is nie.

 

Met ’n eerste lees lyk dit asof die bundel heelwat liefdesgedigte bevat – dalk onder meer gedig [28].  Wil jy dalk meer vertel oor die aard hiervan en die spesifieke beeldmateriaal?

 

[28]

 

ek weet jy lê in die nag wakker

en luister of ek nog asemhaal

jou oë in die donker oop

soos paddas in ’n droë moeras

sodat ek dan omdraai

en dieper slaap vir die droom

wat op my wag

soos ’n pendelaar wat wag op ’n bus

die asem stuur die vuur van slaap

stuur die koelte van water

langs donker oopoog onder

die aanslae van apnee

ek is ingebed in die opwel van jou hart

as joune klop

sal myne

as joune stop

sal myne

 

Die liefde is ʼn vreemde ding – ek weet baie seker dit is nie Vyftig variasies van Vaal nie. Dit skif maklik tot weersin en haat. En is die beste poëtiese model van betrokkenheid. Oor die gedig spesifiek: my vrou sê een oggende vir my “jy hou op asem haal as jy op jou rug slaap”.

 

Die eie verlede, maar daarby ook die landelike verlede, is teenwoordig as ’n deurlopende element, maar tog raak dit nie die vooropgestelde gegewe nie en bly dit eerder op die agtergrond huiwer.  Wil jy meer oor hierdie aspek vertel? 

In hoe mate maak die geskiedenis saak, dus? Die eie his-storie, die landelike verlede, die gisters? Ek veronderstel hier dat my gedigte bed in ʼn konteks van wat was, waarskynlik omdat dit vir my so moeilik is om te skryf van nou af vorentoe, in die niks in. Daardie punte in die verlede dink ek dien as die précis vir nou se argument. Ek is presies om die rede nog jaloers dat Piet Haasbroek klaar die titel ‘Die jaar nul’ gebruik het. Dit is ʼn amper volmaakte titel vir ʼn bundel in hierdie konteks van gister en vandag. Daar moet altyd ʼn tese wees voor ʼn antitese kan bestaan.  Voor die vuurpeleton sou dit my verdediging wees oor ʼn oordrewe belangstelling in gister.

 

Jou gedagtes rondom die saambestaan van tese en antitese stuur my gedagtes in die rigting van die eietydse tradisie van ’n “inskryf teen”. Die geding met die vader (hetsy biologies of literêr) is dan ’n sterk manifestasie van die skrywe wat teen die voorganger gerig is. In vele van jou gedigte is die figuur van die vader of grootvader teenwoordig, maar ek vermoed nie as ’n inskryf teen hierdie figure nie?

Sou hierdie ‘inskryf teen’ beteken daar is ʼn suggestie van woede of kwaad of patologiese bemoeienis met? Ek dink dit is bloot psigodinamies onmoontlik om daardie vraag eerlik te beantwoord: die komplekse aard van die verhouding tussen ouer en kind (tussen pa en seun, met al sy Jungiaanse en Freudiaanse ondertone) word ʼn bietjie onderskat. Dit het ek as jong man vermoed, maar nou, self met ʼn seun, is dit vir my ʼn innige (sou dit die regte woord wees?) tema om te ontgin. Is dit Daniel H. wat gesê het – “ek het jou lief soos ek jou haat?” Seuns, selfs in alle liefde in die wêreld, vergewe hulle pa’s nooit. Meer nog, pa’s vergewe hulle seuns ook nooit. In die konteks van ʼn verhouding van toegeneentheid wat pa’s en seuns met eenander het:

 

[69]

 

oupa is in negentien sewe

en sewentig dood ek was veertien

en het die omvang van sy

siekte nie besef nie

wou opsluit daardie naweek

’n maatjie laat kom kuier francois

wie se pa by die stasie gewerk het

ons het vrydagaand in die

woonkamer gesit toe pa

swaarvoet die deur oopstoot

en sê oupa is weg hy het sy

bril afgehaal en oor sy oë gevee

huiwerig voor al hierdie vreemde

hartseer het ek nie geweet

hoe om op te tree nie en

eers jare later besef

in eie haard met eie kroos hoe

om eintlik ’n pa

oor dooie pa te troos

 

Dit het my opgeval dat voertuie (hetsy ’n kar, motor, bakkie) herhalende motiewe in die bundel is (ek het vinnig gaan kyk en let dit op in gedig 2,4,32, 33, 39, 44, 51, 60, 61, 67, 85, en dan is die lys sekerlik nie volledig nie). Ek herinner my ook dat dit eweneens ’n terugkerende motief in jou oeuvre is.  Is dit ’n doelbewuste motief?

Ek dink dit is ʼn onwillekeurige motief. Bestaan daar so iets soos ʼn onwillekeurige motief?  Ek wil nog dig oor vlieg, of oor fietse. Dinge wat ook kan reis. Daar.

 

Ek wonder oor die teoretiese moontlikhede om jou poësie te lees binne die raamwerk van Julia Kristeva se beskrywing van die sogenaamde semiotiese, oftewel “vroulike” taal wat staan teenoor die simboliese taal, wat die taal van die Vader, van die patriargale orde is. Kristeva beskryf die semiotiese taal as gekenmerk deur gapings, ellipse, vloeibaarheid en sintaktiese verwringing, wat myns insiens kenmerke van jou poësie is.  Wat sou jou reaksie op so ’n lesing wees?

Kristeva se semiotiese is nie die studie van simbole nie, as ek reg verstaan. Dit is ʼn wending in taal: die taal van instink, die gapings tussen betekenis, die witspasie rondom foto’s, die stiltes tussen die bliksemstraal en die donder. Op daardie vlak sou ek kon dink dat my gedigte in antipatriargale taal tuis is. Dit sou minstens die afbraak van (eers) rym en vorm, en (dan) metafoor, en (uiteindelik) enjambement ondersteun, sodat daar ʼn nuwe poësie te voorskyn tree wat buite alle vorige verbande staan. So ʼn poësie stel hoër eise vir die leser as vir die digter. In die semiotiese taal is betekenis (of anti-betekenis) meer geheim vir die digter as vir die leser.

Miskien ontstaan alle digterlike ontoeganklikheid daar:

 

“ek en ʼn hond loop van die windpomp terug huis toe

in die donker plek-plek val ʼn vreemde lig

oor die klippe langs die pad”

 

 

 

 

Onderhoud: Gilbert Gibson

Thursday, October 29th, 2009

Die kodes van waarneming

Gilbert Gibson in gesprek met Louis Esterhuizen

 

 

Gilbert Gibson

Gilbert Gibson

Gilbert Gibson is in 1963 gebore. Hy word tussen Winburg en Marquard as ’n plaasseun groot en skryf matriek aan die Hoërskool Marquard. Hy studeer medisyne aan die Universiteit van die OVS en praktiseer as internis in Bloemfontein. Hy het ’n belangstelling in kardiovaskulêre risikofaktore en siektes wat met slaap verband hou.
Gibson se eerste verse verskyn in Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde terwyl hy nog op skool was. Sy debuutbundel, Boomplaats, verskyn in 2005 en word in 2006 met die Protea Poësieprys bekroon. In 2007 word dit opgevolg met  die digbundel Kaplyn. Sy derde digbundel, oogensiklopedie, verskyn in 2009 by Tafelberg.

 

 

 

 

 

 

Gilbert, met jou eerste twee digbundels, Boomplaats en Kaplyn, het jy jou reeds gevestig as een van ons mees gedurfde digters wat sy ambag met gróót omsigtigheid en vernuf benader. ʼn Titel soos oogensiklopedie is dus nié lukraak gekies nie; watter betekenisse wens jy met dié titel op te vang?

 

die titel verwys my na die byeenbring van verspreide kennis (’n periodiese of  sikliese kennis) in en deur die oog. met wetenskaplike inligting wat ’n halflewe van sowat vyf jaar het, is die ensiklopedie as bron van/ vir kennis maar treurig. as aanduider van die stand van kennis vanuit ’n sekere tydgleuf, is dit voortreflik. die oog is daardie vreemde orgaan wat lig waarneem en elektriese impulse via die optiese senuwee na die visuele-  en ander areas in die brein stuur, sodat die persepsie van sig ontstaan.  ons sien nie met ’n oog nie, maar met die brein.  die oog is die om-kodering van waarneming, sodat  die eksterne sein in visuele chaos tot ’n gevormde elektriese sinjaal kom waaruit die binneste (soms) sin (kan) maak.  oogensiklopedie probeer my visuele wêreld poëties kodeer.  verwys Dickinson “I’ve seen a dying eye/ Run round and round a room/ In search of something, as it seemed,/ Then cloudier become;/ And then, obscure with fog,/ And then be soldered down,/ Without disclosing what it be,/ ‘T were blessed to have seen.

 

Een van die hoofkenmerke van jou digkuns is die eiesoortige hantering van taal. Dit is asof jy die taal verwring en buig tot dit amper soos ʼn kodetaal begin funksioneer wat enersyds die leser op ʼn afstand hou, maar andersyds by die “privaatwêreld” van die gedig inlyf. Kan jy kommentaar lewer op dié vreemde teenstrydigheid van vervreemding en intimiteit?

 

die teenstrydigheid tussen afstand en nadering, tussen vervreemding en intimiteit,  ontstaan dalk toevallig uit die psigodinamiese hoek vanwaar ’n mens skryf.  en hoe jy die wêreld sien. in die proses van skryf gaan ek met myself om, en nie met die toekomstige leser nie.  klink so bietjie voor-die-hand liggend, maar hierdie proses lei tot afsondering, en daarom ’n onwillekeurige neiging om die leser eintlik as’t ware weg te hou. jare terug vertel Petra Müller my: “ niemand val die naakte man aan nie”, of iets in dier voege.  dink baie daaraan: in die oop vlakte van ’n vers, waar skrywer weerloos word, is hy/ sy meeste bestand teen die oë van die leser.  desnieteenstaande is hierdie verhouding tussen skrywer en leser onoorkomelik kompleks. taal is slegs die tuig.  woorde het nie inherent magiese eienskappe nie.  die buig van taal is toelaatbaar, en intuïtief, onopsetlik.

 

Hiermee sluit jy aan by nog ’n vreemde teenstrydigheid in jou poësie, Gilbert. Die kwessie van intuïsie. Vanweë die digte netwerk van verwysings en taalverwringing sou iemand wat oppervlakkig lees, jou verse as serebrale poësie beskou en tog is dit juis nié. Jou verse werk besonder assosiatief en met ’n haas onfeilbare intuïsie. Hoe belangrik is dié werkswyse vir jou? Jy is immers ook ’n skilder, is jy nie?

 

om intuïtief te werk is vir my taamlik moeilik om te beskryf.  sou makliker wees om te spekuleer hoekom iemand op jeugdige ouderdom reeds grys is, of koffie bo tee verkies. dit is bloot net so.  ek dink Jung het veronderstel dat intuïsie een van die vier psigologiese ‘funksies’ is wat in die Myers-Briggs model vandag nog gebruik word (twee waarnemende funksies –  intuïsie, en wat ’n mens noem “sensing”,  en twee funksies van besluitneming, naamlik denke en gevoel).  hierdie vier funksies is in ʼn poëtiese model redelik na aan mekaar, maar intuïsie het miskien meer as die ander te doen met ’n aangebore meganisme van insameling en verwerking van informasie.  die inligting van intuïsie is dikwels abstrak, en word onwillekeurig toegepas op ’n konkrete model of probleem wat voor die skrywer lê.  miskien sal dit beter wees om in hierdie konteks te praat van instink. jare terug het ’n buurman van ons beeste uit Holsteen ingevoer. na ’n lang tog per skip het hulle in die hawe op Port Elizabeth aangekom, en daar vir die eerste keer in geslagte kennis gemaak met die reuk van ’n leeu wat opdryf uit die nabygeleë Boswell Wilkie – die daaropvolgende chaos kan nie in eenvoudige terme beskryf word nie.  die digter is so bietjie soos ʼn frieskoei.  hy reageer blindelings op dinge waarvan hy nog nie weet nie, anders as ander modaliteite van skeppende kuns waar die kunstenaar omgaan met modaliteite waarvan hy dikwels baie weet.  ek weet hoe om verf te meng en het ’n versameling kwasse en allerhande stelle waterverf en papier en akriele en olies en leë doeke en prente deur die uwe wat in my huis of in my kantoor hang. ek het dus al geverf, maar ’n skilder is ek nie.

 

Uit ʼn vorige onderhoud wat jy met Joan Hambidge gevoer het op LitNet, weet ek dat die emotiewe lading van ʼn gedig vir jou baie belangrik is. “Die emosie van gedigte (anders as die tegniek) is ʼn primordiale ding wat opkom as mens met jou eie binnekant in taal (of met taal as werktuig) omgaan,” het jy gesê. Ter wille van volledigheid: kan jy dalk op hierdie uiters belangrike stelling van jou uitbrei?

 

as ’n mens gedig maak, dan vertaal jy sekere impulse sodat die leser dit vertolk en as ’n emotiewe opwekking of ’n emosionele uitdrukking kan ervaar.  iets anders as tegniek, want diesulke is aangeleerde en soms geposeerde dinge wat jy uit ’n boek kan naslaan.  die emosionele opwekking uit die gedig kom uit bloed.  die bloed van die skrywer; die bloed van die gedig; die bloed van die leser. die oriëntasie in daardie bloed word bepaal deur die vertolking van skrywer (die slaap ’n nagtelike dood) teenoor die leesvermoë van die betragter (die slaap as ’n uitweg tot droom). Sê Eliot: “Poetry is not a turning loose of emotion, but an escape from emotion; it is not the expression of personality, but an escape from personality. But, of course, only those who have personality and emotions know what it means to want to escape from these things.” taal het sekere gebreke, en sal in beginsel gebuk gaan onder die babelse juk van verwarring. in die ideale gedig sal daar geen grens tussen die leser en die skrywer wees nie – die woord sal dus in hierdie ontmoeting verdwyn.  ek verbeel my daarom dat die ideale gedig ’n wit papier is. Die onlangse verwysings tussen poësie en prosa kom ook hier aan die bod: prosa dra inligting oor, poësie iets emosioneel.

 

oogensiklopedie. gilbert gibson

oogensiklopedie. gilbert gibson

Die deurlopende toon van die verse in oogensiklopedie is myns insiens die van angs: ʼn angstigheid wat gevoed word deur onsekerheid en die gepaardgaande bevraagtekening van waarneming. Iets wat natuurlik met ongelooflike resultate deur die verwringing van taal in jou verse gerugsteun word. Stem jy saam, of lees ek verkeerd?

 

die toon van verse is dalk ge-angs omdat dit in daardie verse alleen is. en gedurig delf na vervreemding, gemarginaliseerdheid, veral daardie tipe van “een tussen baie”.  angs is dikwels die eerste tree of die eerste hoeksteen van ander affekversteurings. en ánders as vrees (’n bang gevoel teenoor iets gespesifiseer: weerlig; slange). dit is die paniek voor die onnoembare, vir die onsienlike, en volg al te dikwels op alleen.  is die lewe nie op sy beste juis ’n verlies aan dinge nie – asof jy volmaak gebore word, en daarna progressief guur onder noodwendige biologiese afbraak tot die einde in en van stof? angs is vir my  ikonies onder die emosies. en hoort in gedigte soms ook net omdat dit in die wêreld so is. as jy angsloos is, is dit net omdat jy nie die feite het nie.

Jou verse ontstaan allermins in ’n vakuum; daar is ’n besonder sterk buitegerigtheid ten opsigte van lokaliteit en sosiale bewussyn; sonder om kommentaar te lewer of oordeel te vel. Lê die onsekerheid jeens ons sosiaal-aktuele problematiek na aan die wortels van genoemde “angstigheid”, of probeer jy juis wégskryf daarvan?

 

 

angs kom lê in die bewussyn omdat die wêreld en sy inherente probleme nie ’n oplosbare probleemstelling is nie.  dit skep angs.  die gaping tussen die wat het en die wat nie het nie, elke dag groterwordende. onderliggende grondstof elke dag minder. nuttelose toestroom van inligting elke dag meer. die mens as ‘een tussen baie’ elke dag eensamer. as daar ’n aardse oplossing vir angs is, was hierdie wêreld die hemel. ek is dus nie altyd seker of die skrywer skryf na die waarheid toe (in poging om die waarheid te vind) of weg van die waarheid af (om van waarheid te vlug) nie.  poësie interpreteer nie noodwendig eksterne inligting nie, maar sal altyd emosie daar-rondom ondersoek en weergee.
 

In hierdie bundel maak jy selfs nog meer as in jou vorige bundels gebruik van woordverklarings, indekse en semantiese (poëtiese) koderings in die kantlyn langs die gedigte. Hou hierdie werkswyse verband met die kodifisering van taal vir jou, of het jy iets anders in gedagte?

 

woordverklarings, indekse, voetnotas en diesulke gebruik ek om die taal op te splyt vir ’n meerlagigheid in woorde.  dit amper asof vir elke woord ’n interne waarheid (die woordeboek), ’n eksterne waarheid (wat ek dink dit beteken), en ’n interpretatiewe waarheid (wat die leser daarvan/ daaruit dink). dit het ook tipografiese impak – byvoorbeeld. as jy die oë van links na regs in ’n reël beweeg, en dan terugspring tot die volgende reël, gebeur daar selfs dan vir ’n breukdeel iets emosioneel in die brein. tipografie van poësie is dus nie so lukraak as wat dit op die oog (if you’ll excuse en daardie) af lyk nie. in Idea of Prose skryf Giorgio Agamben (en dit sluit aan by die prosa/ poësie klief)  No definition of verse is perfectly satisfying unless it asserts an identity for poetry against prose through the possibility of enjambement.  Quantity, rhythm, and the number of syllables – all elements that can equally well occur in prose – do not, from this standpoint, provide sufficient criteria.  But we shall call poetry the discourse in which it is possible to set a metrical limit against a syntactic one (verse in which enjambement is not actually present is to be seen as verse with zero enjambement).  Prose is the discourse in which this is impossible. Enjambement reveals a mismatch, a disconnection between the metrical and syntactic elements, between sounding rhythm and meaning, such that (contrary to the received opinion that sees in poetry the locus of an accomplished and a perfect fit between sound and meaning) poetry lives, instead, only in their inner disagreement. voetnotas, indekse, lywaartse verwysings en diesulke breek natuurlik daardie enjambement in ’n mate op, verdoesel die interne vaart van die gedig. interessant genoeg kom voetnotas uitgebreid in fiksie voor (Paul Auster, Oracle Night; Jorge Luis Borges, Ficcione;  Michael Chabon, The Amazing Adventures of Kavalier & Clay;  James Joyce, die “lessons” hoofstuk uit Finnegans Wake; Georges Perec, Life A User’s Manual (La Vie mode d’emploi); en so aan…)

 

Bybelse verwysings en – inspelings kom vry algemeen voor in jou verse. Vorm hierdie tendens deel van “die geding met God” vir jou, of probeer jy hiermee die privaat-persoonlike belewenis van die enkeling plaas teen ’n groter bestel van wat ’n mens “noodlotsbepaling” kan noem?

 

ek het gepoog om die landskap bokant die skrywer te ontgin, anders as die landskap in byvoorbeeld Boomplaats waar die landskap langs my in taal omgeskakel is. hierdie soeke na “God” is eintlik  ’n teenstrydigheid. die persoon wat soek na God impliseer eintlik dat God voor sy soeke reeds daar is, en het dus reeds die eerste tree, daardie blinde sprong waarvan Paulus praat (die hoop op die onsienlike), gegee. die mens soek dikwels dus nie na God nie, maar na die manifestasies van God: die stok wat ’n slang word; die bos wat begin brand; die water wat oopkloof. so asof dit jou sou oorhaal tot bevestiging van ’n eksterne waarheid wat vir jou troos bring in die gang van elke dag.  die wêreld is nie ons woning nie. en die Bybel is teks.

 

Iets wat ek besonder interessant vind, is die struktuur van jou bundel: sonder afdelings, met die gedigte wat alfabeties volgens titel geplaas is, vanaf die sterk geografies-gelokaliseerde openingsvers (28°47’S, 27°19’O) tot die algemeen besinnende slotvers wat die mens; ’n werkswyse wat enersyds die ensiklopedie-matigheid van die titel ondervang, dog andersyds die vermoede plaas dat die verse geïsoleerd naas mekaar geplaas is en as sulks gelees moet word. Maar wanneer ’n mens die bundel lees, besef jy alte gou dat daar wél van progressiewe groepering sprake is: soos gesê, die verse beweeg myns insiens van ’n “nabykyk” na ’n “verafkyk”; van persoonlike tot meer algemeen-besinnende verse. Kommentaar?

 

inderdaad is hulle gekies om te loop vanaf die hier en nou tot by die toe en daar. die weggaan van die ek in die mitologiese lug; die asem van God.  die groot verskil tussen prosa en poësie het te doen met presies daardie beweging: in prosa word ’n kleine dikwels beskryf en omgebou met meer en meer woorde. in poësie word ’n groot handeling beskryf in al hoe minder woorde (die kleiner tot die groter, soos die groter tot die hele gedeelte – amper ’n literêre Fibonacci). om dieselfde rede is poësie waarskynlik meer ontoeganklik en bietjie elitisties. maar dan, natuurlik moet poësie elitisties wees, want dit is die hoogste vorm van taal, en taal is die suiwerste werktuig in kuns: “Poetry, whose material is language, is perhaps the most human and least worldly of the arts, the one in which the end product remains closest to the thought that inspired it.” (Hannah Arendt).  om die rede eien ek poësie altyd met agting, en gaan ek met  ontsag met die skryfproses om. per slot van rekening sien jy nooit Mediterreense vissers sonbaai nie. op hulle strande is hulle besig om te werk.

 

Verstegnies beskou, vind ek oogensiklopedie ’n uiters opwindende bundel; nie net vanweë die tematiese gevarieerdheid nie, maar ook in stilistiese aanbod. ’n Voorbeeld hiervan is die gedig “glimlag” (p. 45) wat tipografies aan Bybelteks herinner. In dié vers is daar ten slotte sprake van verraad: “ … maar ook ten dele, soos grepe grammatika tot die prul van inkyk gemaan; dit wat woorde wek, selfs die obskure, in vele herhalings van verraad. ek soen die jesus op sy lippe. glimlag. toe was dit aand. toe nag” Sinspeel hierdie “verraad” gewoon op ’n verraad teenoor taal of het jy iets anders in gedagte, hier?

 

let op dat Judas nie ’n dissipel geword het met eie intensie om Christus te verraai nie – hy het inteendeel daardie sosiale kontrak aangegaan om goed te doen, min wetende dat. verraad verwys na die onwetende toekomstige breuk in daardie kontrak. verraad in hierdie geval nie net teenoor die Christus nie, maar ook teenoor Judas self, daar dat twee partye betrokke was, nes skrywer en leser.  taal word eintlik (double bind) deur sy onderlinge woorde verraai.  taal is die skriftelike en ouditiewe simbole van kommunikasie. woorde verraai soms daardie simbole in die weergee van wat nie bedoel is/ word nie.  hierdie meervoudige taligheid of veelbetekenis-eienskap van taal is vir my soms ’n groot probleem in die skryf van ’n gedig.  in die lees van ’n gedig is dit natuurlik glad geen probleem nie, maar eerder ’n redding.  verraad egter noodwendig, net soos by Judas. 

 

Nog ’n tegniek wat jy met groot sukses gebruik, is die sogenaamde uitsteltegniek, soos in die besonder treffende vers “another roadside attraction” (p.13). Hierdie vers het ook deel gevorm van Allooi – ’n woord / visuele kunste-projek tydens die Volksblad-kunstefees verlede jaar. Hoe belangrik is dié “buitekurrikulêre” aktiwiteite vir jou as digter?

 

uitsteltegniek laat my dink aan iemand wat ek geken het wat soms sy asem vinnig ingetrek het asof hy iets wou sê, en dan op die nippertjie daarteen besluit.  dan sou jy as luisteraar al in gespanne afwagting woorde hoor wat nie gaan kom nie. uitsteltegniek. Cartier-Bresson het geskryf dat dit meer belangrik is wat buite die foto hoort, as wat binne die foto is.  dit is sekerlik in gedigte ook so – dit wat ongesê is, die spasie tussen die reëls, die oomblikke voor en die oomblikke na die gedig, die verwagte gebeurtenis wat nooit gebeur nie, dit alles skep daardie heerlike en tragiese interne spanning binne ʼn gedig, so asof daar meer nog is wat kom, meer nog wat kom, meer nog wat kom, nes ’n kind se gedagte oor die lewe self. ‘buite- kurrikulêre’ aktiwiteite rondom digkuns en letterkunde is vir my merendeels vreemd. ek’s viervoetig in ’n ander wêreld waar ek my daaglikse sweet in die aanskyn van wetenskaplike brood verdien.  ek spandeer dus nie tyd in die openbare oog, of koester belangrike opinie rondom ander digte en digters nie.  ek skryf. en vir rekreasie drink ek eerder ʼn koppie koffie, of luister na Glenn Gould se asemhaling tussen die Goldberg variasies deur. 

 

Nou praat jy! Toevallig is Glenn Gould een van my ’n gunsteling pianiste … Terloops, watter opname van die Goldberg variasies is jou gunsteling? Die 1955 opname met my frenetiese aanslag, of die 1981 opname met sy teruggehoue, bykans bewoë stryd teen stuwing? Speel musiek ’n belangrike rol in jou skryfwerk?

 

ek kan nie na Gould luister sonder om te dink aan Kasper Krone nie (The Quiet Girl: A Novel – Peter Hoeg; Farrar, Straus and Giroux; 2007), met sy verstommende “ability to access people’s acoustic essence, especially children’s”. hou van die ’81 opname meer, die een van toewyding, waar hy die aria met variasies as ’n enkel passie-en-passasie (!) hanteer; teenoor die meer voortstuwende styl van die ’55. musiek is amper meer nog basies in die kreatiewe wêreld as poësie (eerste was per slot van rekening klank, toe woord). en by my ’n groot belangstelling. ken jy daardie gedig van Conrad Aitken, The House Of Dust: Part 03: 13: The half-shut doors through which we heard that music?

 

The half-shut doors through which we heard that music
Are softly closed. Horns mutter down to silence.
The stars whirl out, the night grows deep.
Darkness settles upon us. A vague refrain
Drowsily teases at the drowsy brain.
In numberless rooms we stretch ourselves and sleep.Where have we been? What savage chaos of music
Whirls in our dreams?—We suddenly rise in darkness,
Open our eyes, cry out, and sleep once more.
We dream we are numberless sea-waves languidly foaming
A warm white moonlit shore;

Or clouds blown windily over a sky at midnight,
Or chords of music scattered in hurrying darkness,
Or a singing sound of rain . . .
We open our eyes and stare at the coiling darkness,
And enter our dreams again

 

 

Jy is inderdaad bekend as iemand wat besonder wyd lees … Is daar spesifieke skrywers wat vir jou persoonlik van belang is? Digters na wie se werk jy telkens sal terugkeer en by wie jy ’n mate van aanklank vind? 

die skrywers wat al emosioneel op my impakteer het, is te veel om op te noem.  die afgelope tyd het ek stil gestaan by post-apokaliptiese fiksie soos die van Bruce Sterling, William (Neuromancer) Gibson, China Miéville, Walter M. Miller, Jr. (A Canticle for Leibowitz), en Cormac McCarthy (The Road).  die gedigte van WS Mervin en die prosa van James Salter maak iets binne wakker.  ek loer altyd terug na die werke van Michael Ondaatje, na Frank Stanford en Galway Kinnel. die nuwe Atwood (The Door; Virago: 2007) is aangrypend. Opperman maak my bang, so noukeurig is sy woord.  en Jacques Elluil lees ek nou, ook omdat hy die uiteindelike ondergang van woorde teen visuele media voorspel. dit is wat ek lees.

 

In die Junie-Julie uitgawe van Poeziekrant vanjaar het daar ’n omvattende artikel oor jou werk deur Luc Renders verskyn. Bestaan daar dalk ’n moontlikheid dat jou verse in Nederlands vertaal gaan word?

 

ek twyfel. ek sukkel genoeg onder die keurende blik van Francois Smith (my redakteur) om my verse in Afrikaans te vertaal.

         

Luc Renders sluit bogenoemde artikel af met ’n verwysing na jou as ’n “meesterdichter” – met goeie reg – met ’n “boeiende en eigenzinnige” stem. Net so het jy belangrike pryse met jou vorige bundels verwerf en ek vermoed dat oogensiklopedie ’n soortgelyke roemryke paadjie gaan loop … Ervaar jy dat hierdie hoë verwagting (en verering) jeens jou werk jou des te meer inspireer of dalk intimideer?

 

ek dink ‘meesterdichter’ het dalk in Nederlands ander emotiewe waarde as in Afrikaans.  Zandra Bezuidenhout skryf in ’n onlangse artikel juis “Bowendien het ons in die geval van hierdie twee tale te kampe met ‘n groot aantal “valse vriende”, dit wil sê woorde wat in albei tale eenders lyk, maar nie noodwendig dieselfde betekenis dra nie. Etlike voorbeelde is aan ons bekend, soos dat ‘n “beest” op Nederlands beslis nie na ‘n bees of koei verwys nie, maar na ‘n dier in die algemeen. En dat ‘n “beestje” geen jong kalfie is nie, maar ‘n gogga van een of ander geaardheid, of enige klein diertjie.” nee wat – ek soek onmeesterlik op/ in my eie na die ‘verlore woord’, so bietjie soos die Moody Blues In search of the Lost Chord. vir die Protea wat ek vir Boomplaats gewen het, is ek baie dankbaar – dit het ’n (kunsmatige) sin tot behoort (sense of belonging) in die boekwêreld geskep. soos jy nog beter weet as ek, dit het nie baie te doen met die literêre meriete van skryfwerk of skrynwerk nie. die reaksie van ander op eie gedigte is sonnestelsels verwyder van die woord self.

 

Baie dankie vir die geleentheid tot gesprek, Gilbert, en veels geluk met ’n bundel wat myns insiens ’n uiters belangrike bydrae tot ons digkuns lewer. Met jou vergunning plaas ons hieronder die slotgedig uit oogensiklopedie; ’n vers wat eintlik die hele bundel op treffende manier “sluit”:

 

wat die mens

 

wat is die mens dat u

verby die duister ondergrond van ʼn vrou, verby

die vermindering van gevoel, verby die bekken so leeg soos die knersvlakte

 

(dofheid van elke dag se opstaan die elektriese sleep van wakkerword;

kinders van skaapdiewe en uitgestorwe lammergiere;

verhale uit lapland;

ʼn leë silo se koringkafreuk;

die whooii-whooii van ’n paniekerige ambulans;

intervensie tot droom

geloof, die sluipende suspisie;

bome wat in die wind buig soos rek agter ʼn kettiemik, uitgestrekte;

grys, soos gemengde verf of die vooraansig van septisemie;

die mite dat die tyd genees;

kragte van toordokters sonder grense; 

ʼn kapskoot op die grassy knoll, tsafendas se innerlike okapi;

aandete, en ingeligte gesprek;

die ritsel van blaaie bloupers soos stormwolke in die skemer;

mistige oorde uit ouer, verhalende gedigte;

bauhaus;

ongelukke naby leeu-gamka;

die stil gebed van prozac;

en ʼn onstuimige hart wat in woorde soos in water sink)

 

aan hom dink?

 

© Gilbert Gibson (Uit: oogensiklopedie, Tafelberg, 2009.)