Posts Tagged ‘onderhoud met Martjie Bosman’

Onderhoud met Martjie Bosman (Vloeibare middelpunt)

Tuesday, June 21st, 2016

martjie bosman vloeibare middelpunt_b-horz

Johann Lodewyk Marais in gesprek met Martjie Bosman

oor haar nuwe digbundel, Vloeibare middelpunt

*

Martjie Bosman se derde digbundel, Vloeibare middelpunt (2016), het onlangs by Protea Boekhuis verskyn en volg op Landelik (2002) en Toevallige tekens (2010). Sy is met die Ingrid Jonker-prys vir haar debuutbundel bekroon.

Marais: In jou eerste twee digbundels handel heelparty van die gedigte oor ervarings in landelike gebiede. Dit sluit Groblersdal in waar jy gebore is en skoolgegaan het; asook ervarings as sosiaal-wetenskaplike in die Laeveld en KwaZulu-Natal. Aangesien ek tussen 1991 en 2000 saam met jou aan navorsingsprojekte in landelike gebiede gewerk het, was die agtergrond van baie van die gedigte bekend. Waarom was landelike ervarings en die omgewing vir jou “eerste prikkels” om oor te skryf?

Bosman: Die Bosveld waar ek grootgeword het en waarmee ek nog lank kontak gehad het, was uiteraard ’n belangrike verwysingswêreld en ook die inset van die gedigte in Landelik soos “Aand, Sendingstasie”, “Dorpsbegrafnis” en “Reisvaardig”. My kinder- en jeugjare was bevolk met plante, diere, voëls en mense wat nou nog iewers in die bewuste en onderbewuste sluimer. Die sprong van daardie Bosveld na die Laeveld was wat die ruimte betref nie so groot nie, en ek kon van die ervaringe aanhaak aan die bekende. Ander ervarings tydens veldwerk was egter volkome vreemd – nie soseer die subtropiese plantegroei of die diep vallei van die Tugelarivier nie, as die afgesonderheid van die klein dorpies, die bestaanswyse en soms bestaansnood van mense ten tye van die groot droogte van 1991–1992, die armoede, die kommunikasieprobleme in gemeenskappe waar mense nie Afrikaans of Engels kan praat nie. Ek was ook diep onder die indruk van my eie onvermoë om werklik te verstaan hoe dit moet wees om in daardie plekke en omstandighede te woon, en daarby ook die onvermoë om iets daarvan aan ander mense, kollegas, vriende en familie, oor te dra. Toe het ek maar daaroor gedigte geskryf. Die gedig oor Nkandla, wat toe nog uit nie veel meer as ’n landdroshof en ’n stamkantoor bestaan het nie, gee iets weer van die afstand tussen die stedelike besoekers en die nkosi wat die behoeftes van sy mense wil oordra. Die omgewing het van ander belangstellings gekom, onder andere die kursusse in voël- en roofdieridentifikasie wat ek by die Pretoriase Dieretuin gevolg het, en ’n baie besondere dagseminaar oor omgewingsvraagstukke wat ook by die Pretoriase Dieretuin aangebied is.

Marais: Ek het jou as navorser by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) leer ken toe die klem in die organisasie sterk op sosiaal-relevante navorsing geval het. Sedertdien was jy ’n SAUK-klankargivaris en tans ’n redakteur by Protea Boekhuis in Pretoria waar jy digbundels en ander Afrikaanse en Engelse publikasies (onder andere van Karel Schoeman) redaksioneel versorg en hanteer. Het jou werk en werksomgewing bygedra tot die verruiming van die onderwerpe waaroor jy skryf?

Bosman: Die fisiese, ruimtelike omgewing waarin ek werk het sekerlik ’n bydrae gelewer tot my skryfwerk, maar ek dink nie die aard van my werk self nie. Vier jaar se heen en weer ry na die SAUK in Johannesburg het aanleiding gegee tot die skryf van die gedig “Pendelaar, N1” in Toevallige tekens en die drie gedigte vir Aucklandpark het weer ontstaan as uitvloeisel van my stappery oor etenstye buite die SAUK-gebou, maar ek dink nie enige gedigte het hulle ontstaan direk te danke aan my werk as argivaris vir Afrikaans nie, al was programme oor die letterkunde en radiohoorspele ’n belangrike deel van my werk. Ook die werk as redakteur is nie regtig bevorderlik vir eie skeppende skryfwerk nie. Om as poësieredakteur die beste moontlike bemoeienis met ander digters se tekste te maak, vra dat ek eintlik my eie styl en my eie skryfwerk moet opskort of tussen hakies plaas: Ek probeer my indink, inlééf in die digter voor my se werk en as ek enige aanbevelings maak, moet dit in lyn wees met hierdie digter se werk. Dit gee soms ure se geworstel af met enkele woorde of enkele reëls, veral met digters soos jy en Daniel Hugo wat lettergrepe tel! Enigiets wat ’n mens dan wil voorstel, mag nie die perk van agt of tien lettergrepe per reël van daardie betrokke gedig oorskry nie of te min wees nie, en dis nogal ’n groot uitdaging vir die redakteur. Ook Jacobus van der Riet se sonnette was besonder moeilik. En soms het digters ’n eie ritme wat ek nie noodwendig kan peil nie, en dan praat ons maklik by mekaar verby.

Marais: Vloeibare middelpunt se eerste motto is die beroemde Duitse liriese digter Friedrich Hölderlin (1770–1843) se woorde “… dichterisch/ wohnet der Mensch auf dieser Erde”. Hölderlin se woorde het sterk neerslag in die Duitse filosoof Martin Heidegger (1889–1976) se werk gevind. Wat het jy met die motto beoog?

Bosman: Die begrip “woon” is een van die temas wat in hierdie bundel ter sprake kom. In ’n tyd waarin baie Afrikaanssprekendes toenemend vervreemd voel, emigrasie oorweeg, onseker is oor ’n toekoms in Afrika, was die vraag oor my hierwees in Suid-Afrika oor die afgelope paar jare dringender as tevore, en al het ek dit nie noodwendig so beplan nie, handel heelwat van die gedigte in die bundel oor tuiswees teenoor ontheemd voel. Daar is ook die dubbelslagtigheid wat ’n Westerling in Afrika voel: Ek het my land diep lief, maar daar is ook die vreemde gewaarwording van tuis wees in Wes-Europa en met die Europese waardes en kultuurgoedere waarsonder ek nie my lewe kan leef nie. Miskien was Heidegger se lesing “Bauen Wohnen Denken” (5 Augustus 1951), waarmee ek in my derde jaar in die Wysbegeerteklas kennis gemaak het, maar altyd in die agterkop. Vir Heidegger lê die begrip Schonen aan die basis van outentiek woon: Dit beteken dat ’n verhouding van ontsien, bewaar, spaar, in orde hou, bestaan tussen die mens of die sterflikes, soos hy dit noem, en das Geviert, of die Viervoud. Daaroor het ek die reeksie “Viervoud” geskryf wat in Landelik opgeneem is.

In 1951, toe Heidegger hierdie lesing gelewer het, was die woningnood in Duitsland letterlik ’n tekort aan geboue waarin mense kan woon; in 2016 in Suid-Afrika bestaan dié nood ook, maar vir my behels dit ook die vraag na ’n sinvolle bestaan hier; dus nie noodwendig wáár of waarin ’n mens woon nie, maar hóé.

Die begrip woon kom weer aan die orde in die lesing “… dichterisch wohnet der Mensch …” (6 Oktober 1951) waarin Heidegger die Hölderlin-gedig bespreek waaruit die aanhaling kom:

.

Darf, wenn lauter Mühe das Leben, ein Mensch

aufschauen und sagen: so will ich auch sein

Ja. So lange die Freundlichkeit noch am Herzen, die Reine,

dauer, misset nicht unglücklich der Mensch sich

mit der Gottheit.

Ist unbekannt Gott? Ist er offenbar wie die Himmel?

dieses glaub’ ich eher. Des Menschen Maaß ist’s.

 Voll Verdienst, doch dichterisch,

wohnet der Mensch auf dieser Erde. Doch reiner

ist nicht der Schatten der Nacht mit den Sternen,

wenn ich so sagen könnte,

als der Mensch, der heißet ein Bild der Gottheit.

.

Volgens Heidegger beteken dié “digterlike woon” nie net die oomblikke van poëtiese aktiwiteite wat digters soms beleef nie; dit is “die mens” wat digterlik lewe, en dit nie in ’n fantasiewêreld nie, maar “auf dieser Erde”. Die mens moet op digterlike wyse sy maat neem aan die goddelike, onder die hemel maar op die aarde leef, wat weer verband hou met die Schonen-konsep. Die digterlike hou vir my ook in dat dit wat verborge is, te voorskyn gebring moet word, moontlik deur dit te “ver-taal”, uit te spreek. Die estetiese, sê Heidegger in “Die oorsprong van die kunswerk”, is een manier waarop die waarheid as onverborgenheid gebeur. Maar dalk is digterlik lewe om ironies te lewe, in N.P. van Wyk Louw se woorde.

Marais: Die titel Vloeibare middelpunt suggereer ’n ervarende subjek wat sowel in tyd as ruimte bestaan en veelsoortige ervarings beleef. Wat is vir jou die middelpunt of “knooppunt van die paaie” waar sekerhede opgeskort word soos dit in die eerste gedig, “Oidipus”, lui? Wat behels hierdie bewustheid van verskillende werklikhede?

Bosman: Die kruispad of knooppunt van paaie is ’n plek waar verskillende moontlikhede bymekaar kom, waar keuses gemaak moet word. Die gedig vra wie die skuldige is: Oidipus wat koning Laios van Thebe by die kruispad doodmaak, onbewus daarvan dat dit sy eie vader is, of Laios, wat jare tevore ná die voorspelling van ’n orakel opdrag gegee het dat sy pasgebore seun doodgemaak moet word juis om sy eie moord te voorkom. Die implikasie is, hoop ek, dat skuld nie so maklik toegeken kan word nie. Die bedoeling is nie soseer dat hier ’n ongemak met verskillende werklikhede is nie, maar wel ’n bewussyn daarvan, ’n bevraagtekening van die voor die hand liggende en algemeen aanvaarde wanneer van ’n ander hoek af na die kruispad gekyk word.

Marais: In Vloeibare middelpunt merk ek ’n verskuiwing na stedelike temas, wat jou gedigte ’n ander “karakter” gee en as ’t ware in Ryan Loubser se skildery, “Spookhuis in die reën”, op die voorplat weerspieël word. Jy skryf met deernis oor jou stad Pretoria in gedigte soos “September”, “Voëlvlug” en “Woelige Woensdag”. Is jou landelike ervarings nou afgehandel en het jy meer tuis (en ontuis?) in die stad begin voel?

Bosman: Die ruimtes waarin ek my bevind is belangrike stimuli vir my gedigte. Ek kom nie meer so baie in landelike omgewings nie, en probeer ook om meer bewustelik te leef in die stad – om teenwoordig te wees, werklik te ervaar daar waar ek is. Ek het dit as ’n uitdaging aan myself gestel om meer op te let na wat om my aangaan en waar te neem wanneer ek agter my motor se stuurwiel inskuif, en nie die hele tyd te beplan of te dink oor wat aan die einde van die rit voorlê of wat ek oor die radio hoor nie. Die gevolg was meer gedigte oor Pretoria.

Marais: Vloeibare middelpunt het ’n sterk ruimtelike karakter. Benewens Pretoria kom ook verwysings na Cambridge, Oxford, Edinburgh, Heidelberg in Duitsland en Reykjavik in die bundel voor. In al hierdie gedigte is die fisieke daarwees op ’n plek opvallend. Waarom wek vreemde plekke jou belangstelling?

Bosman: J.H. van den Berg het iewers geskryf dat ’n mens skerper herinneringe aan vakansies op ander plekke het omdat jy dan los is van alledaagse kwellinge. Wanneer ’n mens in die buiteland is, plaas jy regtig groot afstand tussen die gewone lewe en die vreemde plek waar jy jou bevind en kan jy konsentreer met al jou sintuie en jou bewussyn. Jy moet ook konsentreer, anders verdwaal jy! Maar dit het waarskynlik ook te maak met jou instelling teenoor die nuwe ervaring: Moontlik gaan jy nooit weer op hierdie plek kom nie, dus moet jy soveel as moontlik inneem. Waarom ek daarin belangstel om plekke in die buiteland te besoek? Baie dikwels beplan ek om ’n plek te besoek omdat my belangstelling in dié plekke geprikkel deur wat ek tevore gelees het (soos Lindisfarne), maar soms duik ’n geleentheid op wat ek net nie deur die vingers kan laat glip nie.

Marais: Jy openbaar wel in gedigte soos “Kanna hy kô hystoe”, “Blok myself” en “The powers that be” ’n betrokkenheid by sosiale kwessies in Suid-Afrika, maar daar is minder as in die vorige bundels.

Bosman: In die vorige twee bundels was daar meer gedigte oor die aktualiteit, maar op hierdie stadium van ons geskiedenis beleef ek die Afrikaner as gemarginaliseer, sonder inspraak, selfs sonder taal. Poësie in Afrikaans oor landsvraagstukke is nie veel meer as ’n binnegesprek oor sake wat al in talle forums opgehaal is en werklik nie veel nuut gaan bydra nie. Dit beteken nie dat ek my terugtrek in die vermaledyde ivoortoring nie, net dat ek totaal ontmagtig voel.

Marais: Hoe regverdig jy dat jy in hierdie bundel andersins, byvoorbeeld in “By twee impromptu’s van Franz Peter Schubert”, “Vir die vroeggestorwenes”, “Traviata, “Les liaisons dangereuses”, “Sole survivor” en “Steenhouer” oor die estetiese in plaas van plaaslike probleme of ʼn problematiserende ingesteldheid skryf?

Bosman: Bedoel jy nie dalk hier dat die gedigte nie handel oor probleme van ’n sosiaal-politieke aard nie? Dis die ou vraag van die private ache teenoor litterature engagée wat in die 1980’s nogal tot debatvoering in Afrikaanse literêre kringe gelei het, nie waar nie? Die gedigte wat jy noem, wentel myns insiens nie om die estetiese nie, al is ’n estetiese objek die aanset of oënskynlike onderwerp van die gedigte. Party van hierdie estetiese objekte het juis hul status in die musiek-, beeldende kunste- of literêre wêreld verwerf vanweë die groot menslike vraagstukke wat daarin aan die bod kom. Ek voel my nie verplig om net oor die aktuele vraagstukke van Suid-Afrika te skryf nie. Ek is ’n mens, alles mensliks raak my.

Marais: Jy het tot in Ysland gereis en gedigte oor dié ervaring geskryf. Vertel asseblief meer en haal een van die gedigte aan.

Bosman: Ek het lank gelede ’n bietjie kennis in verband met Ysland se geskiedenis en taal opgedoen toe ek ’n semesterkursus in Oud-Noors by prof. Heinrich Ohlhoff bygewoon het. Daar was ook drie bundels met Engelse vertalings van Yslandse sagas op my boekrak. Toe die geleentheid dus opduik om in Oktober 2014 na Ysland te gaan, het ek en my reisgenote dit met albei hande aangegryp. Ons het van Gatwick in Engeland met Ysland se goedkoper lugdiens na Keflavik-lughawe gevlieg, van daar met ’n bus na Reykjavik gereis en toe te voet by ons kelderwoonstelletjie redelik sentraal in die stad gekom. Alles in Ysland is vreeslik duur, veral vir Suid-Afrikaners, natuurlik, maar ons het kos by die supermark Bonus (slagspreuk Bigur Beður – groter en beter!) gekoop en onsself net nou en dan met ’n lekker warm koppie Latte beloon terwyl ons die stad te voet verken het. Een dag het ek saam met my broer Phlip ’n kongres by die Universiteit bygewoon terwyl my vriendin Annemarie die munisipale swembaddens en saunas en my broerskind Phlippie jr. die warmwatermeer ’n end buite die stad gaan beproef het. Hy het ook met ’n toerbus staduit gery om die noorderligte te sien, terwyl die ouer lede van die geselskap so gelukkig was om ’n simfoniekonsert met Vladimir Ashkenazy op die podium van die Yslandse simfonie-orkes en Yevgeny Kissin agter die klavier te kon meemaak. Op die laaste dag het ons met ’n bustoer die primordiale landskap met sy sneeubedekte berge, lawavelde en pioniersplante en ’n paar van die belangrike natuurverskynsels gaan besigtig: twee groot watervalle, die geotermiese terrein met die geysirs Strokkur en Geysir wat kokende water en stoom die lug in skiet, en die skeurvallei Þingvellir waar die Noord-Amerikaanse en die Europese kontinentale plate steeds verder uitmekaar beweeg. Dit klink miskien na ’n toeriste-advertensie, maar dit was werklik ’n besonder intense en buitengewone belewenis. Die gedig hier onder probeer iets daarvan weergee:

REYKJAVIK

Ash happens (Yslandse T-hemp)

.

In Reykjavik, in Reykjavik

in ’n smal steeg met runetekens in sy naam,

stoot ons die deur oop van ’n kelderwoonstel.

’n Kat so rooi soos ’n vos kom kuier vriendelik,

vertrek weer doekvoet toe die blonde kinders

bo stommelend begin met hulle spel.

In Oðinsgata staan ’n huis met lang gras

op die spits dak soos in ’n sprokiesboek.

In Reykjavik, in Reykjavik

hang die reuk van swael altyd in die lug,

tril die aarde skaars merkbaar ondervoets,

In Reykjavik praat die goedige mense

’n isolerende taal grinterig soos lawaklip,

eet ons smjörvi en rabarbarasulta op brood,

bak ons salm en fiskibollur in ’n oond

uit onderaardse hekseketels aangevuur.

In ’n winkelvenster wag ’n trollevrou

gestol en toornig op die donker nag ná joel

wanneer sy en haar genote geniepsig

sal toeslaan op afvalliges van die ou geloof.

In Reykjavik, in Reykjavik

lê ná elke kouer bui meer goue blare

van die berk en esp in vlak poele,

verloor elke dag nog kwartiere lig

en word dit haas tyd om te groet,

jou tas op ’n donker môre dreunend

te sleep na die terminus, voor die winter

soos ’n grys wolk uit ysige pieke stort.

.

Onderhoud met Martjie Bosman

Saturday, October 9th, 2010

Tekens wat die toonaard verander

 

Martjie Bosman in gesprek met Lucie Möller

 

 

Martjie Bosman

Martjie Bosman

 

Martjie Bosman is op Groblersdal gebore en het aan die Universiteit van Pretoria studeer. Sy publiseer sedert 1990 gereeld gedigte in literêre tydskrifte en debuteer in 2003 met die bundel Landelik, waarvoor sy die Ingrid Jonker-prys ontvang. ‘n Aantal artikels en ander publikasies oor sosiaal-wetenskaplike en literêre onderwerpe het ook van haar pen verskyn. Haar jongste digbundel Toevallige tekens het pas by Protea Boekhuis verskyn.

 

 

1. Toevallige tekens is jou tweede bundel en wat ‘n vreugde om weer ‘n uitstekende bundel van jou in die hand te hou! Dit is nou ongeveer 10 jaar na jou debuutbundel Landelik, wat met die Ingrid Jonker-prys bekroon is, verskyn het. Van jou nuwe gedigte het wel elders in versamelbundels en tydskrifte verskyn, maar wat het jou intussen so lank besig gehou?

Daar het darem net ‘n bietjie meer as sewe jaar verloop na die vorige bundel! Die gedigte in Landelik het ook oor ‘n lang tyd ontstaan. Toe Landelik verskyn het, was ek nog by die SAUK werksaam, maar sedert 2004 is ek redakteur by Protea Boekhuis en word ek behoorlik besig gehou deur al die digters wat die afgelope ses jaar hier gepubliseer is – ‘n voorreg, maar ook ‘n intense soort werk wat my eie kreatiwiteit seker maar ‘n bietjie aan bande lê. Al probeer ek om werk en privaat lewe te skei, geluk dit nie altyd nie, en soms droom ek selfs van die boeke waarmee ek besig is!

2. Die titel van jou bundel kom uit die laaste gedig in die eerste afdeling, “Eendagskoon”,  in die versreël: “waar ‘n gordyn van glorieryke blou / geil afrank in ‘n slordige tuin / en soos ‘n toevallige teken / die toonaard van die ganse buurt verstel.” Waarna verwys “toevallige tekens”?

Dis ‘n musiekterm. Die dominante toonsoort waarin ‘n komposisie geskryf is, word met die kruise of molle heel links, net na die sleutelteken, op elke notebalk aangedui. Dit bepaal of ‘n stuk byvoorbeeld in D majeur of A mineur of watter ander toonaard ook al geskryf is en dui vir die uitvoerende kunstenaar aan dat al die F’s en C’s byvoorbeeld as kruise gespeel moet word. Wanneer die komponis egter byvoorbeeld vir ‘n deel van die komposisie ook ander note as kruise gespeel wil hê, word ‘n toevallige teken direk voor daardie noot of note geskryf en dit verander dan die toonaard op daardie plek.

Toevallige tekens

Toevallige tekens

In dié bepaalde gedig word gepraat van ‘n vervalle buurt waar purperwinde of eendagskoon, soos die morning glory eintlik in Afrikaans heet, die hele omgewing ophelder. In die 1990’s was ek betrokke by sosiale navorsing by die RGN en moes ons dikwels vir ondersoeke lang tye in taamlik troostelose gebiede deurbring. Ek het myself geskool om op die uitkyk te wees vir iets moois, soos ‘n groot wildevyeboom langs die pad of ‘n helderkleurige doek om ‘n vrou se kop of, in die dorpies, die bloupers blomme van die geharde eendagskoon. Die eerste afdeling van die bundel is dalk ‘n bietjie mistroostig of selfs somber, en ek hoop hierdie gedig bring ‘n bietjie balans.    Die bundel self is dalk ook in ‘n mineurtoon, maar met verskillende tekens wat die toonaard plek-plek verander.

Maar ek het by die samestelling van die bundel ook bewus geword daarvan dat daar in ‘n hele klompie gedigte van tekens sprake is: die taal as tekensisteem, tekens van die seisoene, tekens van ‘n bepaalde landstreek, ensovoorts. Dit is ook vir my belangrik dat die “verskynsels” in die bundel as tekens en nie as simbole gelees word nie, dus nie as iets wat na ‘n ander, onsigbare werklikheid of werklikheid agter die werklikheid heenwys nie. Die verskynsels is as sodanig belangrik, die voorhande werklikheid is waaroor dit in eerste instansie gaan.

3. Hoekom het jy die woorde van N.P. van Wyk Louw as bundelmotto aangehaal?

Dis moeilik om te sê presies wat ‘n motto se funksie is – miskien is dit om ‘n klimaat te skep vir die bundel, of, soos Hans Ester by sy Akademielesing oor Elizabeth Eybers op 30 September 2010 gesê het, om ‘n tuiste vir die bundel te skep. Die keuse was eintlik iets heel intuïtief. Vir my eerste bundel het ek ook ‘n Van Wyk Louw-motto gekies (uit Die pluimsaad waai ver), maar met hierdie motto wou ek eerder aansluit by die teken-gesprek in Tristia, waarop Gerrit Olivier in ‘n artikel gewys het.[1]

4. Met die openingsreël van die eerste gedig “Op die spoor”, “Wildernis is nie eenvoudig nie”, stel jy die ervaring van sekere versluierde tekens en aspekte van “tekens lees” aan ons voor. Dat hierdie “wildernis” misleidend is, word gaandeweg al duideliker binne die gedig en plek-plek onheilspellend in die bundel as geheel. Wat bedoel jy daarmee?

Ek is ‘n bietjie huiwerig om my eie gedigte te interpreteer, maar ek verduidelik graag wat ek met wildernis bedoel en hoe die gedig ontstaan het.

In hierdie gedig moet wildernis in die eerste plek letterlik verstaan word. In die loop van die 20ste eeu het opvattings oor die natuur en oor wildernisgebiede verander. Wildernis is vroeër beskou as iets gevaarliks wat “getem” moet word,  of as onontginde natuur wat vir die mens ekonomiese of ander waarde inhou. Maar in ons tyd word die siening dat die mens die middelpunt van die skepping is en dat alles daar ter wille van dié een spesie is, toenemend bevraagteken. Daar het groter begrip vir die verwikkeldheid van ekosisteme gekom, ook vir die mens se verantwoordelikheid teenoor die res van die skepping. Denkers soos Aldo Leopold en Arne Naess het aangevoer dat die mens se morele verantwoordelikheid uitgebrei moet word om alle lewende wesens en selfs die nielewende natuur in te sluit. Vir hulle is wildernis (of “land”, soos Leopold dit noem) daardie deel van die natuur waar die mens net ‘n toeskouer en besoeker is, wat intrinsieke waarde het onafhanklik van wat dit vir die mens mag beteken en is dit die mens as die magtigste spesie se plig om sulke gebiede te beskerm. 

Met dit alles gesê, bly dit vir ons moeilik om wildernis as ‘t ware klein te kry, om dit te deurgrond en in ons begrip tuis te maak. Dis eintlik oor hierdie onvermoë om wildernis te verstaan wat die gedig na my mening gaan.

Die inval vir dié gedig het gekom toe ek en ‘n vriendin in die noordelike deel van die Krugerwildtuin op reis was tussen Shingwedzi en Punda Maria.  Dit was ‘n goeie reënjaar en daardie deel was besonder ruig met die bos omtrent ondeurdringbaar. Gevolglik het ons nie veel wild gesien nie en eintlik ook min voëls. Hier en daar het ‘n klein diertjie in die bospaadjies weggeskarrel en spoorloos verdwyn. Ek het bewus geword van hoe min ons verstaan van so ‘n stuk bos, hoe die mens eintlik daarvan uitgesluit is en dat ons gewone maniere van sin maak – met verhale, filosofering, wetenskaplike metodes en so meer – ons nie help om tot die essensie van wildernis deur te dring nie. Die verwondering daaroor kan ek darem probeer weergee in die gedig.

5. Die woorde van Willem die Swyger, wat as motto dien van die eerste afdeling, plaas jy in die oorspronklike Frans. Kan jy dit dalk vir ons vertaal en verduidelik hoekom jy juis hierdie heerser gekies het?

Terwyl ek besig was met die redigering van Karel Schoeman se Patrisiërs en prinse, wat oor die Europese agtergrond vir die totstandkoming van die verversingspos aan die Kaap handel, het ek so ‘n bietjie oor die Huis van Oranje en die Tagtigjarige Oorlog van Nederland teen Spanje gelees. Ek het vir die eerste keer in matriek met hierdie geskiedenis te doene gekry, toe Kenau van Theun de Vries vir ons voorgeskryf was.

Willem die Swyger was die leier van die Nederlande se opstand teen Spanje. Hy is in 1584 in sy huis in Delft in opdrag van die Spaanse koning Filips II deur Balthasar Gérard geskiet en het die woorde “Mon Dieu, ayez pitié de moi et de ton pauvre peuple” glo gesê net voor hy gesterf het.  Dit beteken “My God, wees my en u arme mense genadig.” Dit het my aangegryp dat die prins in hierdie omstandighede ook aan die mense van wie hy die leier was, kon dink. 

6. In die eerste afdeling van jou bundel gaan diep jy die lot van die gewone mens in sy bestaansnood in verskeie Afrikalande by die wortels op en ‘n mens word getref deur jou noue betrokkenheid by hierdie situasies. In hoe ‘n mate het jou vroeëre werksaamhede as agtergrond gedien vir gedigte soos die “Mosambiekse vlugteling”-reeks en “Die dokters van die WGO”? En het jy van hierdie gebeure eerstehands beleef?

Die meeste gedigte in die eerste afdeling handel oor die jare wat ek betrokke was by navorsing in landelike gebiede in wat vandag die Mpumalanga- en Limpopo-provinsies is. Die bewuswording van die lyding en moeilike omstandighede van so baie mense het my soms hewig ontstel. As navorser probeer ‘n mens op intellektuele vlak soek na oplossings, probeer jy verstaan, maar die intense emosies bly en het neerslag in hierdie gedigte gevind.  Vandag word ek steeds ontstel deur geweld, armoede en swaarkry. Afrika is ‘n genadelose kontinent. Die motto is maar ‘n versugting dat daar vir die arme en ellendige mense van hierdie kontinent ook ‘n bietjie genade sal kom.

Alles wat ek ervaar het, was egter nie neerdrukkend nie en die vreugde waarmee baie van die mense hul eenvoudige lewens voer, was werklik inspirerend.

7. Die funksionele aanwending van name in “Mutilados” gee op aangrypende wyse uiting aan gebeure wat in die oorloggeteisterde Angola afgespeel het en die verwysing na die boek van die joernalis Dine van Zyl, Die verminktes, is veelseggend hier. Wat was jou oorwegings om die vrouename in hierdie tipografiese patroon te plaas, veral met die naam “Maria” wat telkens inkanterend herhaal word en in begin en eindposisies figureer?

“Mutilados” is seker wat D.J. Opperman ‘n optelgedig sou noem. Die beskrywing van die lot van die vroue in Die verminktes het my aangegryp, veral omdat hulle so dikwels die naamloses en gesigloses bly. Van Zyl gee self ‘n lys name van verminkte, verkragte en getraumatiseerde vroue wat sy tydens haar besoek teëgekom het. Dis sulke pragtige, klinkende Portugese name: Severina, Paola, Gertrudes, Eduarda. Ek het die name net gerangskik volgens klankpatrone: rymende name, name met dieselfde ritme. Dit het my opgeval dat die naam Maria die meeste van alle name voorkom en ek het dit toe so in die gedig ingewerk. In Van Zyl se boek het dit ook so ‘n inkanterende effek. 

8. In afdeling 2 kom die motiewe van angs, bedreiging en woede na vore in gedigte soos “Handsak”, “Huis”, “Venster”, “Pendelaar, M1” (met sy kaatsende verwysing na die sens van die dood) en veral in “Die skreeu”. Was hierdie gedigte reaksies op persoonlike  belewenisse en wat was die eintlike agtergrond vir “Die skreeu”?

Daar is twee maal probeer om my handsak deur die voorruit van my motor te steel: Die eerste maal het ek verbete vasgeklou en my handsak behou, die tweede maal (‘n mens leer ook maar stadig!) is my handsak wel gesteel. Ek en ‘n vriendin het egter die volgende oggend op die stuk oop veld langs die verkeerslig waar die breekslag plaasgevind het, gaan kyk of ons nie iets kon terugvind nie en tot my verligting het ek alles behalwe die handsak self, my beursie, sonbril en selfoon teruggekry. Die dief het selfs die R50-noot laat val wat in die beursie was!

My eie onmiddellike reaksie op die gebeure het my verbaas. Ek het verskriklik geskreeu, hard en aanhoudend. Ek kon die man nog so ‘n ent sien weghardloop tot hy in die donker verdwyn het en ek dink ek wou hom laat hoor wat hy aan my doen. Ek het so hard geskreeu dat van die mense in die motors agter my dit kon hoor en hulp kom aanbied het. Agterna het ek my voorgestel hoe daardie lang, dun skreeu uit my mond die man soos ‘n slang agtervolg het en die assosiasie met Edvard Munch se 1893-skildery was byna outomaties. Al is ek nie beseer of fisies bedreig nie, was dit nogtans aaklige ervarings wat nog lank by my gespook het en my iets laat voel het van die trauma wat misdaad meebring.

In daardie tyd was daar ook ‘n erge misdaadaanslag op die buurt waarin ek woon en het die inwoners baie angs deurgemaak. In “Huis” en “Venster” het ek iets probeer weergee van die durende gevoel van onveiligheid in jou eie persoonlike ruimte wat ‘n mens in sulke omstandighede beleef, terwyl “Pendelaar, M1” geskryf is na aanleiding van die vier jaar wat ek daagliks deel was van die stroom pendelaars tussen Pretoria en Johannesburg.   

9. Jou gedigte tree dikwels in gesprek met digters, komponiste en ander kunstenaars deur intertekstuele verwysings waardeur aanknopings gevind met ‘n grondgedagte of stel motiewe wat hulle deel.  Die reëls: “Hul spore, ‘n honderd treë terug, / begin reeds wegvaag waar ‘n droë wind / sand oor die lieste van die sandlyf stoot” uit die gedig “Kameelkaravaan, Mauritanië” herinner byvoorbeeld in ‘n mate aan N.P. van Wyk Louw se siklus “Drie Diere”, die “Sfinks”-sonnet met die sandduin wat deur eeue oor die toonnael stoot. In “Wolf op die tweesprong”, die volgende gedig, word die prekêre bestaan van die dier uitgebeeld vanaf die vaste “staanplek op die ysskots” tot die onsekere oorkruising na die “uitgestrekte yl bestaan”. Wat het hierdie gedigte geïnspireer?

Kameelkaravaan. Mauritanië.

Kameelkaravaan. Mauritanië.

Albei gedigte is geïnspireer deur twee National Geographic-foto’s wat ek as skermskut op my rekenaar afgelaai het toe ek nog by die SAUK in diens was. Die kantore – of liewer ateljees – van die klankargief was in ‘n kelderverdieping met geen vensters na buite nie en geen natuurlike lig nie. Om te oorleef in sulke omstandighede het ek talle foto’s van natuurtonele op my rekenaar afgelaai.  

Die kameelkaravaan-foto van George Steinmetz vat iets van die onmeetlikheid en tydloosheid van die Sahara vas: Die klein figuurtjies van die mense en kamele op reis deur die woestyn lyk soos hulle waarskynlik ‘n honderd jaar of selfs ‘n duisend jaar gelede kon lyk. Dit het my inderdaad laat dink aan “Sfinks”, alhoewel dit die sfinks in Louw se gedig is wat byna onaangeraak is deur die gang van die tyd.

In teenstelling tot die indruk van tydloosheid wat die woestynfoto nalaat, het die fotograaf Jom Brandenburg met die foto van die wolf by Ellesmere-eiland in die noordelike poolsirkel ‘n vervlietende moment vasgevang. Die kyker weet dat oomblikke nadat die foto geneem is, die toneel sou verander. Wat my aangegryp het, is dat die wolf die skuiwende ysskotse en die deining van die see kon “lees” om op presies die regte oomblik die sprong te  waag. 

Die gedigte staan in die vierde afdeling van die bundel saam met ander gedigte oor musiek, kunstenaars en kunswerke. Hulle is dus nie gegrond op my eie waarneming nie (ek het nog nooit ‘n regte wolf gesien nie), maar op die indirekte waarneming via die oog van die fotograaf as kunstenaar. Ek is dankbaar dat ek deur verskillende kunsvorme deel kan hê aan ervaringe wat my andersins nie beskore sou wees nie, maar ook vir die bewarende rol wat kuns kan speel, soos wat ek probeer suggereer in die twee gedigte oor Jan van der Merwe se installasies wat ook in hierdie afdeling is.

10. In ons gesprekke oor poësie het ons al dikwels gepraat oor skryf (en interpreteer) van die-ding-in-sigself (“das Ding an sich”). Dit val mens op dat jy dinge deurgaans werklikheidsgetrou beskryf, maar mens vermoed tog dat dit nie net oor “die wolf”, die “divisies miere”, die dreigende bye, die woedende tor en die giftige paddastoele wil gaan nie. Wou jy die leser attent maak op dit wat jy self verwoord as “die vermoede van rotte” en onsigbare verval?

Wanneer die gedig op papier staan en die wêreld ingestuur is, kan die digter nie meer beheer daaroor uitoefen nie. Ek kan nie vir lesers voorstel hoe hulle moet interpreteer nie, al het ek my eie vermoedens oor herhalende motiewe en patrone en so meer. Maar ek sou tog graag wou hê dat die lesers eerstens die woorde soos wat hulle daar geskryf staan, ernstig moet opneem. Lees maar, er staat wel wat er staat. Die gedig wil soms nie heenwys na iets anders as die voor die hand liggende betekenis van die woorde nie, maar juis die aandag vestig op ‘n bepaalde saak of gebeurtenis wat deur die taal benoem word, deur dit uit die normale konteks te haal en in die nuwe verband van ander gedigte in ‘n bundel of ‘n oeuvre en selfs ‘n hele literêre tradisie te plaas. Byna soos wat talle twintigste eeuse beeldende kunstenaars ná Marcel Duchamp se omstrede Fountain (1917) met gevinde objekte gedoen het. Miskien is gedigte ook sulke gevinde brokke taal. 

11. Jou gedigte is dus realisties, tog kompleks ook. Die beelde van voëls wat so in die binne-mik van jou gedigte sit, bring dikwels ‘n wending of keerpunt, soms net in stemtoon en atmosfeer. Het die baie voëls in jou gedigte ‘n bepaalde betekenis?

Vir my is voëls in die eerste plek voëls. Indien hulle iets meer moet beteken, dan hoogstens as toonbeelde van natura naturans, die natuur besig om die natuurlike ding te doen, soos wat sir Kenneth Clarke dit in die BBC-televisiereeks Civilization genoem het. In die gedig “Fantasie van die dame met die verkyker” uit Landelik het ek iets probeer ineenvleg van daardie merkwaardige Vlaamse tapisseriereeks uit die 15de eeu, Die dame en die eenhoring, waarna Clarke verwys, en die wêreld waar ek grootgeword het. Eers na die voltooiing van hierdie bundel het ek agtergekom hoe dikwels voëls in die gedigte opduik en ek dink dit spruit gewoon daaruit dat ek byna altyd bedag is op die geluide van voëls, van die eerste sang van die janfrederik voor sonsopkoms tot die spookagtige geroep van die dikkoppe wat soms teen sterk skemer letterlik in die straat voor my huis op hul lang bene rondloop. Dié bewustheid kom seker uit my lang verbintenis met Groblersdal, waar ek gebore is, en waar my ma nog tot 1995 bly woon het in ons dorpshuis tussen die baie bome wat my pa daar geplant het. In die somermaande wanneer die trekvoëls uit die noorde terugkeer, kon ons soms oor ‘n naweek tot 30 soorte net daar op die erf sien. Dit bly my verwonder dat voëls steeds die omgewing met die mens deel, al doen ons soveel skade aan hul oorspronklike habitatte.   

Baie dankie vir die geleentheid om met jou oor hierdie wonderlike bundel te kan gesels. Sal jy asb. een van jou gedigte hier gee sodat lesers kan deel aan die opwindende vooruitsig van jou nuwe bundel ?

SOMERAAND

Die ligte gordyne is oopgetrek

en die gaasraam laat sak.

Die ruik van Mylol styg van my hande

as ek môre se boeke begin pak.

‘n Vrugtevlermuis se sonar tink en tink

en ek weet die werf lê stil en ruig

onder trosse sterre en ‘n louwarm wind.

Pa skuif sy stoel, blaai in ‘n boek.

Ma tap water in die ketel. My sussie bad.

Om nege blaas die fluit. Dis tyd.

Die kussing onder my wang is koel.

Ek hoor vir laas ‘n naguil roep.

 


[1] Tristia in dialoog met N.P. van Wyk Louw se oeuvre, Tydskrif vir Literatuurwetenskap, Junie 2008.