Posts Tagged ‘Onderhoud Pieter Fourie’

Onderhoud met Pieter Fourie (Knapsekêrels)

Wednesday, May 17th, 2017

Pieter Fourie gesels oor sy debuutbundel

Knapsekêrels met Louis Esterhuizen

 

Pieter, van harte geluk met hierdie debuut van jou. Op 77-jarige ouderdom maak dit jou eensklaps  die oudste debutant in die Afrikaanse digkuns. Tog het hierdie gedigte nie eers in onlangse tye tot stand gekom nie. Vertel ons dus so ietsie van die voorafgeskiedenis, by wyse van inleiding? Waar kom jou liefde vir die digkuns vandaan, byvoorbeeld. Wanneer het jy begin dig, ensovoorts.

Ek het op skool al rympies gemaak, maar eers as eerstejaar op US [1961] onder D J Opperman gedigte leer ken. Dit het wêrelde vir my oopgemaak en hierdie landskappe van die gees het my uitgelok.  Ek het toegegee.  In die sestigs en sewentigs hier en daar in Sestiger, Tydskrif vir Letterkunde en Standpunte publiseer. O ja, Opperman het ook ʼn gedig, toe ek in sy letterkundige laboratorium was, in Stiebeuel 2 opgeneem.

Opperman het Peter Blum  hoog aangeslaan. Op ʼn dag sê hy, na aanleiding van ’n nuwe bundel,  so heel terloops: “ʼn Digter behoort te debuteer soos Blum. Met agting vir sy vak.” My literêre agtergrond was skamel. My ego broos. Ek het die digkuns versaak en is  teater toe. Met die uitsondering van vyf verse is almal die afgelope drie jaar hier op Onrus geskryf. Onbewustelik dalk ter ere van Uys en Jan. Vanaf my studentejare was ek lewenslank baie naby aan albei van hulle.  Uys het my voorgestel aan die heelal van poësie. Veral ÉLUARD EN DIE SUREALISME  het my absoluut betower. So ook sy vertalings van SUID-AMERIKAANSE VERSE. Die twee keer wat ek Ingrid Jonker ontmoet het, was by hom in Clifton waar hy besig was om haar te bearbei om Éluard te lees.

Jan het my geleer wat is die grein en vesel van jou taal in jou mens- en medemenswees, nie in  jou “Afrikanerskap”, die pingpong balletjie tussen staatskool en kerk nie Hierdie anker gebruik ek in my gedig  SWARTVINKJAG:

vang kwikstertjie

sondag in jou wip

.

laat hom drie keer

in jou palm pik

.

Die Bantoestans kom onmiddellik hierna met:

sewe swartvinke

langs die spruit

.

maar trek versigtig

elke vliegveer uit

.

En dan die swart seuntjie wat die anker optrek in die slot van die gedig:

toe skree ons klonkie ghawoele:

“jy lieg, tokkelossie het self gesê:

.

laksman se hartjie rou insluk

en dood sit wydsbeen in jou mik”

.

Hierdie is een van die vyf vroeë verse en het in STANDPUNTE of TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE verskyn onder die titel K…..VINKJAG. Jammer dat die nuwe titel die gedig se vlerke ʼn bietjie kortknip. Of is dit andersom? Dis nogal ʼn tameletjie, hierdie “don’t paint the words.”

Uiteraard is jy bekend as ʼn veelbekroonde dramaturg. Hoe het jy as skrywer dié twee uiteenlopende ambagte hanteer? Of was hulle vir jou aanvullend tot mekaar?

Onregstreeks beslis aanvullend. Veral in die snoepwees met woorde het ek dit by ʼn teaterman gekry. ʼn Mentor, die Duitse regisseur Dieter Reible, het bykans elke SA akteur gelei met: “Don’t paint the words. The words is the painting.” Ek het dit aangeneem as Credo vir my verse.

Die dramaturg skryf soos mense praat. Die digter soos hy die woord ontgin of hoe die woord hom mesmeraais. Dit is wat ek probeer in my werkproses. Ek het van meet af [drie jaar gelede] geweet ek stap sonder water die woestyn in. Geweet dis dikdom en futiel. Ek moes ʼn woestynwyse klankbord vind. ʼn Kennis het Johann de Lange oor my woordpad gebring. Sy begrip, spoorsny en geduld, asook sy liefde vir ʼn vervloeë Afrikaans was my water. Hy het my baie subtiel laat verstaan tussen drama en poësie is vele padpredikante wat ek eers moet bemeester.  Hierin het hy my vir agtien maande lank bygestaan. Ek hoop ek kry eendag die geleentheid om blad te skud met hom.

Pieter, mag ek noem dat die lees van jou gedigte ʼn besonder aangename leeservaring is: verse met ʼn bykans ouwêreldse sjarme wat kripties, dog met ʼn vonkel in die oog aangebied word. Soos die gedig “Pondok” hieronder byvoorbeeld illustreer. Die trefkrag van ʼn kriptiese benadering is natuurlik enorm, aangesien daar soveel gesuggereerde ruimtes rondom die vers ontstaan wat deur die leser ingevul moet word. Is dit die rede waarom jy tot hierdie styl aangetrokke voel? Het jy nog altyd so kripties te werk gegaan met jou gedigte?

pondok

.

spaar rietjies

suffel jy kan

pondok se dak

.

lek dan en wan

as herdkooltjies

vanaand

witjassie dra

.

kraak die katel

.

twee lywe

dra

verdra

Jy slaan die spyker op sy kop. Dis ʼn waarheid soos ʼn koei. Wat die kriptiese styl betref: in ʼn paar jeugsonde liefdesversies, ja. Maar as  ʼn selfopgelegde styl het alles begin met die Reible- benadering van toneelspel. Ek het met elke produksie gesien, ervaar hoe hy akteurs, tekste en gehore verryk en verruim.

Die ruimtes waarbinne hierdie gedigte hulle voltrek, is dikwels landelik; die persona wat figureer dikwels arbeiders of arm mense. Eenkantmense. Gróndmense. Soos wat ons hulle byvoorbeeld al dikwels in jou dramas teëgekom het. Dig jy hiermee dus voort aan die hand van eie belewenisse? Jy is immers ʼn plaasseun uit die Suidwes-Vrystaat, is dit nie?

Sonder eie belewenisse, vrese, vreugdes, ligloop pasoppens, dwarsgatgooi en koggelary sou ek waarskynlik nog nie ʼn enkele vers of drama geskryf het nie. Die pit van my persona dink ek, is eenwording met die arbeiders, grondmense, ontmensliktes en veral die verontagsaamdes. Die woord agtergeblewenes moet uit ons taal verwyder word en vervang word met die verontagsaamdes. Daar is ook geen ding soos ʼn nuwe SA nie. Werklike SA is die woord. Ek was van kindsbeen af sterk aangetrokke tot die verontagsaamdes. Ek is een van en met hulle, en versot op die onvolprese adel onder hulle. Kennis is soms gevaarlik, altyd tweedehands. Ervaring is onskuldig en deel van ons inisiasie tot menswording….lewenslank.  En altyd eerstehands!

Pieter, die indeling van jou bundel vind ek nie net interessant nie, maar besonder knap gedoen; veral aan die hand van die afdelingstitels: kiekie, knelter, oumeidsoen, veervolk, goljaartjie, duwweltjie en stilte. Hoe het jy hierdie indeling bepaal en waarop fokus elkeen?

Daar was so ʼn ietsie oor die 100 verse. Ek dink so 20 het of die emmer geskop of besluit hul moet elders vir bedmaats soek. Die oorlewendes het duidelik onder mekaar begin vry en saamgekoek in groepies met geloof in die gesegde: soort soek soort. En was ek bly oor die ondertrouery! Daar moet dus iets soos “die muse” wees. Sewe gesinnetjies! Maar nog nie elk met sy eie onderdak nie …

Toe neem ek oor. Roede in die hand. Doop elke familie met sy eie naam en besluit hulle moet sinvol hul plek ken en in ʼn netjiese ry stap na die onafwendbare:

allemensig

die klokhelder stilte

Voor hy sy laaste asem uitblaas sê Hamlet tog so sober: “Die res is stilte.” En ou Willem Skudlat het geweet waarvan hy praat!

Een van die vernaamste pluspunte van hierdie gedigte is die woordeskat; dikwels verouderde of streekstaal wat jy opnuut uit die wakis haal, afstof en met groot lekkerte ons in die mond lê. Is die bêre van taal iets wat vir jou natuurlik kom, of is dit iets anders? (Jy is ook welkom om van die woorde uit te sonder wat vir jou persoonlik van waarde is of plesier verskaf.)

Dit kom vanself. Dis my daaglikse taal met my vriende en familie. In my familie gaan dit maar skraps met Afrikaans. My vier dogters het met hul huwelike ʼn Verenigde Nasies op hul eie begin:

Tanya            ʼn Oostenryker

Mashinka       ʼn Kanadees

Natasja           ʼn Brit

Nandi             ʼn Chinees

En skoonpa kan op 77 nog nie ordentlik Engels praat nie!

Die streektaal is byna oorheersend, maar nie van ʼn besondere streek nie. As rondreisende akteur het ek vir 3 jaar one night stands dwarsoor die land gedoen en as ek ʼn onbekende woord hoor, het ek hom in my kopargief gestoor.  Behalwe my 16 jaar in Kaapstad is daar ook nog: 6 jaar Franschhoek, 5 jaar Sandveld [Kapteinskloof], 11 jaar Oudtshoorn, 16 jaar Rooi Els [Strandhuis], 5 jaar Stilbaai, 5 jaar Robertson en nou in my 4de jaar op Onrusrivier. My kinderjare in  Philippolis en Luckhoff. Daar was nog dosyne der dosyne Griekwa-gesinne werksaam op plase en die dorpe. Ek het by hulle gaan kuier soos by familie en geluister na die mooiste Afrikaans.

Die kopargief het voortdurend uitgebrei. Ek het ook oral en uitgebreid met werkers kontak gehad. Al die ou woorde lê my na aan die hart. Mouster, toorts, treusel, goljaartjie, betjoeks, konfoes, nagkabaai…’n ieder en ʼn elk ʼn oorplesiertjie!

Lees jy dikwels poësie, Pieter? Indien wel, watter? Is daar byvoorbeeld digters (of digkunste) wat jy sou wou aandui as moontlike voorlopers tot hierdie unieke aanslag van jou verse? (N.P. Van Wyk Louw se Klipwerk, miskien?)

Die teater het my opgeslurp en ek het die poësie versaak. KLIPWERK het soort van Bybel vir my geword en is nog steeds.

Knapsekêrels is inderdaad ʼn kragtoer. ʼn Bundel wat talle en talle ontroerende verse bevat. Verse wat jou soms laat glimlag, soms grynslag. En dan ook verse wat jou winduit slaan op die krop van jou maag. Ook intieme, teer verse. ʼn Geskakeerde bundel dus. Nogmaals geluk daarmee; eweneens aan die uitgewer. Hierdie bundel is ʼn belangrike toevoeging tot ons digkuns, myns insiens.

Kan jy dalk by wyse van groet vir ons lesers een van jou gunstelingverse hieronder plak?

voorbode

.

ʼn ouvolk sit

op dophouklip

.

skielik gil

tinktinkie skril

.

in huisnok skuil

die nonnetjie uil

.

dan kou die lam

aan doodsnot van

.

witappeltjie.

.

.

(c) Pieter Fourie (Uit: Knapsekêrels, 2017: Naledi Uitgewers)

.

.

.

.