Posts Tagged ‘Onderhoud Pirow Bekker’

Onderhoud met Pirow Bekker (Voor ek my kom kry)

Tuesday, March 7th, 2017

René Bohnen gesels met Pirow Bekker

oor sy nuwe digbundel “Voor ek my kom kry”.

 

Pirow, dankie dat jy ingestem het om my vrae te beantwoord. As toevoeging tot ʼn ryk oeuvre ontvang ons in 2017 díé pragtige blou bundel van jou – en hoe heerlik is die lees daarvan!

Laatwerk is nou seker ʼn woord wat in hierdie onderhoud moet voorkom, dus begin ek sommer daarmee. Die titel van jou nuwe bundel is “Voor ek my kom kry”. Dit skep by hierdie leser die indruk dat tagtig jaar in ʼn oogwink verby is. En dat die digter dit byna met verbasing besef. Verfrissende nuwe gewaarwordinge en vars insigte is duidelik nog aan die orde van die dag. Met watter verwondering skep die beleë digter nuwe gedigte?  Waar lê die prikkels? Waar skuil die noodsaak?

Dit sal moontlik vir jou vreemd  verrassend klink, maar ek moet eerlikwaar beken ek het nie besef dat die titel as ’n soort vooropstelling van die werk van ’n ou digter soos ek gesien kan word nie. Maar dis die eerste indruk wat jy as leser gekry het en tereg: “Er staat wat er staat.”

Wat jou verdere opmerkings hier betref, moet ek sê dat die inherente spanning in die titeluitdrukking my geboei het: “voor ek my kom kry”. Ek dink die titel sondig met twee voorliefdes van my deurdat dit kontras en vaart vooropstel. Die slotgedig met die effense wysiging: “Toe ek my kom kry” reik ook na die titel terug en volvoer as ’t ware die spanningselement wat dus vroeg reeds aanwesig is.

Jou bundel bruis van lewenskragtigheid, ten spyte van die vreeslose konfrontasie met tydsverloop en eindes. Die digter was miskien so besig om te lééf dat hy nie besef het die tyd gaan so vinnig verby nie? Watter rol het poësie vir jou gespeel ten opsigte van outobiografiese dokumentering, indien enigsins?

Dankie vir die opmerking oor “lewenskragtigheid”. Moontlik sluit dit aan by my vorige antwoord. Vir my moet daar beweging in die gedig en by wyse van uitbreiding in die bundel wees. Soms raak die vaart seker te verleidelik (ek word daaroor in die bek geruk) sodat die betekenis eers later moet bykom. Klankspanning, teruggrepe, kontrastering is middele  tot voortgang. Die kontrastering binne die “ek” word, hoop ek, in die afdelingstitels voortgesit. Ek dink hierdie saambestaan-in-kontras – vanuit die persoonlike tot aan die absurde toe soos in “Soggiorno-weeluis” – kom die leser in al my werk teë: die menslike lot onder ’n tweegesigson (die aanbiddelike Ra en die suur wat hy drup in die bundel RASUUR), die eindelik verblindende horison vir wie intens wil kyk soos in my vorige bundel ATLAS TEEN DIE VERGEETRIVIER (weer eens berg teenoor rivier)  So sou ek jou verder kon vermoei.

Jy benader die lewe en die digkuns blykbaar met ʼn heerlike humorsin – ʼn kenmerk wat in al jou bundels te vinde is. (Jy het my ook gewaarsku om nie al jou antwoorde te glo of ernstig op te neem nie J ) Hoe heerlik is dit vir die leser om meegevoer te word deur die “entertainment value” van die humor en dan hard geslaan te word deur die erns van die “boodskap”. Is humor in al sy vorme, soos ironie tot satire, vir jou ʼn bedinkte voertuig of is dit ʼn lewensperspektief wat jy maklik in jou poësie kan aanwend?

Vriendelike woorde dié van jou oor die humor in my werk. Ek hoop net ek is nie die gevaarlike “nar in die norring” soos in die gedig met dié titel nie. Om nou maar persoonlik te raak: My huismense word getreiter deur hebbelikhede soos “Kyk hierso …” en dan lag ek vir my eie storie. Maar ek weet dis nie hierdie soort uitwysing wat jy met “humor” bedoel nie. My humor in dié misbruikte sin spruit waarskynlik uit die nuk om teenstrydighede te laat saamtrek soos byterige perde voor dieselfde kar. En daar sit alreeds ’n stuk erns in. ’n Bedinkte voertuig vir ’n “boodskap”? Nee, ek glo die ironie en satire meld hulself spontaan aan. Volgens getuienis was sulke trekke in my vroegste werk reeds in die vesels sigbaar. ’n Resensent van die destydse STIEBEUEL 2 waarin my gedig “Peins oor ’n plakkaat” opgeneem is, maak melding van die siniese en lughartige met die kritiese ook in die konglomeraat.

Die werkwoord wat by my opkom met die lees van jou werk is “speel”, nie noodwendig speels nie! Jy is vernuftig met woordspel en betekenisspel. Enkele voorbeelde is:

“O brandepyn laat my staan!

Ek stoot die venster opelug

sodat hy liewer gaan,”   uit Wesp op bladsy 10

en

“Erwarming” op bladsy 72. Hoe wonderlik is jou oorspronklike aanwending van die woord “ontpop” Die nuuskierige leser kan gerus gaan naspeur.

Buiten woordspel, vind ons ook intertekstuele spel, tussenspel en inspeling in jou gedigte. Spel is dus beide genot én strategie. Watter gedagtes ervaar jy rondom die begrip “speel” as ek hierdie stellings maak?

“Spel” in al sy betekenisnuanses is ’n glibberige begrip. In baie gevalle, of in die meeste, kom dit met ’n onderbou van erns hoewel “onderbou” weer op ’n te bewustelike aktiwiteit dui. Dit is eerder iets wat uit die gegewe ontwikkel of dwing om die gegewe in ’n nuwe konteks te plaas. In die ontstaansproses sal ’n woord min of meer nie altyd net sy plek ken nie, maar ander daarnaas of daaragter  oproep om saam te praat. Soms daag ou woorde, ook uit vroeër werk, met nuwe ladings op of woorde sirkel terug vir aandag. Dit is soos die klip van die eerste bundel wat aanhou kom sing.

Pirow, kan jy asseblief breedvoeriger uitwei oor spesifiek die gesprekke met of reaksies op ander skrywers – ʼn tegniek wat in al jou bundels voorkom? Ek verwys hier bv. na die Totius en Leipoldt, die Van Wyk Louw en Toon Van den Heever toespelings, onder andere. Die skynbaar ongedwonge soepelheid van jou meedigtings val my op. Ek haal graag die gedig op bladsy 85 volledig aan:

 

Opdrag vir ’n vroeë herfs

(Van Wyk Louw se “Vroegherfs” betrokke)

 

Ruim op die regop bome,

hulle wat kwansuis die winde vang,

hulle is die grondstelers, die waterputters,

sodat die sorghum verlep, die koppe hang

van kruie wat selfs ’n koggelram ’n loslyf gee.

 

Die witter staan is nie van witvoetjie soek:

die bas onder reeds afgestroop, ’n gat

in die stam geboor tot in die bloed,

deur dun tregters diesel ingetap – só bewerk

raak enige kalander tjop-tjop vuurmaakhout.

 

Julle werk vlerkloos stil in die nag, nie verlei

deur hoe die son herfs maak nie, sloop

wanneer die blare dood is, die takke droog,

en omdat die liewe aarde bloeiend moet bly,

sal hy pluimpies luisgras voor jul voete sprei.

 

Ja, ’n mens het op een manier met die landskap van so ’n  gedig bekend geraak. Dis ’n vertroude landskap. Dan kom maak ’n verskillende werklikheid hom tuis en voel jy half jy moet pa staan vir dié aardskudding wat voor jou oë plaasvind. ’n Gedig daaroor skryf, omdat jy niks anders kan doen nie. Daarvoor ge- of misbruik jy die bestaande deurdat dit na die agtergrond skuif.

Klink baie klinies en dis nie altyd regtig so nie. Sterk emosie is wel betrokke soos in hierdie geval, wat sekerlik gegrond is op een van die ontstemmendste werklikhede van ons huidige wêreld, naamlik die verkragting van die natuur.

“Vroegherfs”, die bestaande gedig,  se beelde word ondermyn en loop uit op die “skoonheid” wat die bloeiende natuur aanbied: luisgras. Die ironiese rooi tapyt.

Pirow, jou digkuns word gekenmerk deur ʼn besondere konkrete uitdrukkingsvermoë. Jou verse verval nie in ʼn filosofiese diskoers nie, maar jou sienswyse word tog duidelik oorgedra. Jy blyk ʼn fyn waarnemer van landskap en diere se gewoontes te wees. Is jy ʼn aardse mens? En word “styl” aan ʼn digter gegee, dink jy, of is dit ʼn doelbewuste keuse?

Om aan te sluit by die vorige antwoord: Ja, die aarde en sy wesens is op sigself wonderwerke en ons “skryf seker maar na in (hulle) stof”, om Van Wyk Louw ietwat te verdraai.. Dit is moeilik om ’n “erd-af mens” te wees . (Ek verwys na hierdie afdeling.). Nee, ’n doelbewuste keuse is dit nie. Weer eens die spanning aarde-hemel soos in “Kersnagreis”.

Die bundel open met ʼn interessante weergawe van die skeppingsmite, oftewel met ʼn “Skeppingsprokie”  en die mens as verrassende eksperiment. Vanaf hierdie volkome nie-siniese begingedig tot by die heerlike, eerlike maar goedig-selfspottende slotgedig blyk ʼn pragmatiese lewensvreugde en gewilligheid om ook onaangename feite in die gesig te staar. Is ek reg as ek meen dat jou ars poëtika onlosmaaklik verweef is in al die gedigte? Wil jy by hierdie vraag iets sê omtrent vorm? (ek dink nou aan jou sonnette, byvoorbeeld)

Iemand het êrens gesê dat as jy in prosa sê wat jy in ’n gedig sê, sal dit simpel klink. Ek is iemand wat glo dat taal sy mees gedronge impak in ’n gedig bereik. Die stof soek verbindings en dit kan alleen in ’n elektriese storm geskied. Terselfdertyd moet ek sê daar is min meer oorwerkte terme as “vormvas”. Momentum  betrek versmomente wat dit onvoorspelbaar maak en “trefseker” ontwikkeling in die wiele ry sodat die vastheid verbreek en die moontlikheid geskep word om die voor die hand liggende afsluiting verby te streef. Alles “met ’n edel doel” om iets uit die openingsgedig van die bundel aan te haal. Ek wil liefs by reëls verby hou. Ek wys maar op die hekeling van keurslywigheid in die kort reeks kwatryne onder die oorkoepelende titel “Behouering”. Hier bevat elke kwatryn se kop ’n maksime, met die gediglyf wat dan die aanvaarde grondstelling, soos die wysheid oor die gedrag van weerlig, dekonstrueer.

Jy het aan my genoem dat hierdie bundel “uit (jou) murg kom”. Dit het my getref as ʼn dringende en intense stelling. Is daar dinge wat jy in “Voor ek my kom kry” sê, wat jy nog nooit voorheen gesê het nie? Is dit rouer? Meer gestroop? Meer direk? Ek stel werklik belang om te weet, omdat jy ervare en ja, beleë, is.

Toe ek ’n skoolseun op Smithfield was, het ek gedigte – seker maar getint deur die Engelse romantiese digters – aan ’n vooraanstaande letterkundige op

Stellenbosch gestuur. Hy het my los ballonnetjies geprik met die “raad” van die Nederlandse digter Marthinus Nijhoff: “Fluit nie met jou mond nie, fluit met ’n fluit dan loop die mense agter jou aan soos die kinders van Hameln.” (Ek is nie seker of dit kinders of rotte is nie.) Dinge het natuurlik ontwikkel en dalk weer meer bek(ker) as panfluit geword, soos die titel en van die gedigte getuig hoewel buite-instrumente en –spelers ook betrek word.

Pirow, in jou vorige bundels al, het die leser kritiek op en stekies na die literêre establishments, keurders, akademici en kritici teëgekom. Net soos jy nie skroom om sosiale kommentaar te lewer nie, kry jy dit reg om op elegante wyse te reageer op tekortkominge wat jy in die bedryf waarneem. Nou weer, vind ons kostelike raad aan die jong digter, op bladsy 95:

Bly van die gras af!

Jy’t ingebreek by die private poort,

jy oortree blatant,

jy steek ongemanierd oorlams

met hoed op die kop

jou pote langs die skraperrooster,

jou hand uit na my snelreaksieknop

om dit te druk: Astrant

 

Aan die grondslag lê die veranderlikheid van maksimes, om maar weer dié woord te gebruik. Toe ek ’n skoolseun was wat publikasie probeer haal het, was ek oortuig die lekkerste werk op aarde is dié van keurder by Die Huisgenoot. Jare later toe ek gevra is om as keurder vir ’n uitgewery op te tree, het ek dit ná ’n paar probeerslae heeltemal laat vaar. Ek het as dosent dikwels aan ontluikende skrywers moes raad gee en dan het ek graag gehelp want ek kon met al die oop moontlikhede daarin saamspeel. ’n Mens kan daarvan seker wees dat die poësie wat jy skryf met jou maag aan ’n koel kop onderwerp gaan word en vir jou gesê kan word om dit op jou maag te skryf. Jy dink met jou vraag hier seker aan die geval Toon van den Heever – Jan Celliers waaroor ek in die bundel VAN ROES EN AMARANT ’n satire het. Maar die gestalte wat by my opgekom het (praat van ’n fluit!) by die gedig waaruit jy aanhaal, is dié van die jong Jacques Perk wat soos sovele aspirante met sy digbundel rondloop op soek na ’n uitgewer.

Die liggaam, die lýf, is sterk teenwoordig in hierdie bundel, soos ook siekte, agteruitgang en die dood. Mediese prosedures en –terme word op oorspronklike wyse beskou. – soos ons kan sien in die openingsgedig ook. Ouderdom blyk meer voelbaar te wees aan die lyf as aan die gees, wil dit ook uit die liefdesverse voorkom (vergelyk “Proekamer van die liefde”, bladsy 73).  Die gedig “Lyf op die spel”, bladsy 100, is ʼn treffende oordenking van “hierdie lewe”, met Dante wat betrek word as teenwig vir “die slot van jou verhaal”. Kan jy bietjie meer vertel oor hierdie verwikkelde gedig wat so maklik lees? (Ons hoef nie geheime weg te gee nie, die lesers moet self gaan kyk!)

Figure wat deur lewensbedreigende omstandighede – na aan die dood –  gekom het, word in hierdie gedig betrek. Hulle het oorleef om te skryf of dalk deur te skryf: Dostoyevsky, Solzhenitsyn. Dit tesame met die “ek” se eie ervarings, ook die “tweedehandses” en selfs dié wat vrywillig aangegaan sou kon word (Dakar, Everest), weeg alles egter nie op teen die Groot Avontuur wat uiteindelik vir almal wag nie. Dis m.i. korrek as jy Dante noem as teenwig vir “die slot van jou verhaal”. Die roos is uitbeelding van die finale paradys in Dante se DIVINA COMMEDIA.  Die storie lui dat die slot-canto’s van die epiese werk vermis was ná sy dood en dat Dante in ’n visioen aan sy seun verskyn en bekend gemaak het waar die vermiste dele gevind kan word. Sodoende is dus “uit sy ware lewe” die gedig voltooi.

Die Vredefortkoepel word ʼn paar keer genoem en ander landskappe of bakens kom ook by die naam voor: Verkykerskop, Secunda, Pelindaba. Ek wonder of die leser ook ironie moet soek in jou keuse van plekname? Of in die aard van die spesifieke landskap? Dien die name ʼn bykomende doel?

Die landskap van die Vredefortkoepel en veral die plasie Doornhoek daar wat meer as twintig jaar vir ons ’n toevlugsoord uit die knellinge van die stad was, figureer op velerlei maniere in my werk. Trouens plekname skep konkreetheid en op so ’n pakkende wyse dat dit meer sê as lang omskrywings. Uiteraard is daar dus ’n doel daarmee. Vergelyk byvoorbeeld die gebruik van einste Doornhoek asook Gomvlei uit my jeugwêreld in die gedig “Erd-af mens”. Om egter terug te keer na die Vredefortkoepel: Ek het jare gelede ’n bydrae tot ’n “Hartland”-reeks gelewer onder die titel “Onder koepels van ’n Vredefort”. Dit help klaar dalk op wat ek sê. Die ander plekke wat jy noem, is inderdaad ook vanweë hul veelseggendheid gekies. Verkykerskop kom tewens voor in die laaste gedig van my vorige bundel om redes wat daar uit die konteks blyk. Secunda en Pelindaba is veral om hul ironiese konnotasies geplaas, ja.

Pirow, ek kan nog op soveel besonderhede ingaan; die pou wat sy oë oopvou, op jou gebruik van akuut-aktuele verskynsels, jou verwysing na facebook as plek van memoriams, die lys gaan aan en aan. Veelsydig is jy, gevarieerd is die bundel. Ouderdom en wysheid kom nie altyd saam in dieselfde pakkie nie. Maar by jou het dit wel. Baie dankie dat jy hierdie gedigte vir ons gegee het. Dit het my as leser verryk. Baie geluk, ook!

Kom ek gee die laaste “vraag” aan jou: deel asseblief enige gedagte en/of gedig met ons, ter afsluiting. Ons luister graag.

Wat jy in jou slotwoord sê, oortuig my dat die deurlees van die bundel vir jou ’n boeiende ervaring was en steeds is. Dankie. Dit lei my in die versoeking om iets mee te deel oor die rol van die onbewuste in die skeppingsproses. Ek was einde verlede jaar in die hospitaal met ’n heupvervanging. Die bundel was reeds verby die proefleesstadium, maar een kort gedig wou maar net nie sy lê kry nie. Dis “Erwarming” wat jy ook noem. Met dié in my bewussyn is ek die teater in. Terwyl ek nog half deur die blare uit die narkose kom wat, soos die vrolike narkotiseur my vooraf meegedeel het, ingedrup sou word, kom meld die stroomop gedig hom by my aan en daar kop ek dat elke woord in sy plek gedrup het. Te bang om te laat glip, versoek ek ’n skryfding en op ’n flentertjie papier pen ek die woorde neer en laat dit in die bekwame hande van my geduldige redakteur, Martjie Bosman. Toe kon ek weer sê: “Kyk hierso, ek het ’n hele liefdesverhaal in net vier reëls geskryf en dit met die hulp van hout.” Maar nou twyfel ek of dit regtig ek is wat dit geskryf het.

**