Posts Tagged ‘onderhoud Robert Pearce’

Onderhoud. Robert Pearce

Tuesday, April 20th, 2010

“Flaaitaal vir’ie moegoes wat’ie weetie”

Robert Pearce in gesprek met Louis Esterhuizen

 

 

Robert Pearce

Robert Pearce

Robert Pearce, akademikus, dramaturg, digter en musikant,  is sedert April 2009  Direkteur Biblioteek-en-Inligtingsdienste van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) in Port Elizabeth. Robert Pearce was tot einde Maart vanjaar verbonde aan die Universitieit van Suid-Afrika se Biblioteekdienste as Direkteur Kliëntedienste – ‘n pos wat hy vir 9 jaar beklee het. As Akademiese Bibliotekaris is hy goed toegerus vir sy taak by NMMU aangesien hy onder andere ‘n Meestersgraad in Biblioteekkunde en ‘n Diploma in Kliëntediens van Unisa het. Pearce is bekend vir sy dramas oor die lewe in die bruingemeenskap. In sy graad 11-skooljaar het hy saam met Philip Louw, sy eerste drama, From hippie to normal: the story of sinners and the birth of Jesus Christ, geskryf. In teenstelling met Shakespeare se Macbeth, waarin die bewussyn van trauma met die voorstelling van ‘n indiwiduele personasie verbind word, verbind Pearce die ervaring van trauma in sy tekste met die indiwidu as lid van ‘n gemeenskap. Sy mees onlangse toneelstuk was, The charter (in search of quality, culture and service excellence), wat in 2007 in die Z.K. Matthews saal van Unisa opgevoer is en wat ook op DVD opgeneem is. In Pearce se toneeltekste is daar ‘n sterk teenwoordigheid van ‘n gemeenskapsbewussyn. Dit sluit onder andere in ‘n sterk plaaslike sosiale bewussyn van die voorkoms van dwelmmisbruik, prostitusie en bendebedrywighede. Pearce het skouer geskuur met die grotes in Afrikaanse literatuur-wêreld. Mens dink aan skrywers soos wyle Patrick Petersen, Adam Small, Peter Snyders, Diana Ferrus en vele ander.

 

 

 

Robert, in ʼn persoonlike skrywe aan dr. Michael le Cordeur het jy jou kommer uitgespreek jeens die feit dat flaaitaal in die hele taaldebat wat tans in die media gevoer word, agterweë bly. Daarom, gesien in die lig dat jy reeds jare lank by navorsing oor dié taal (wat jy self as jou “vadertaal” beskou) betrokke is, die volgende vrae. Maar eers, ter wille van diegene wat nié vertroud is met flaaitaal nie – kan jy dalk vir ons kortliks ʼn aanduiding gee van die aard en voorkoms daarvan?

Louis, voordat ek antwoord op jou vrae, net ʼn paar  openingsaanmerkings:  Daar sal gevra word waarom ek nie hierdie onderhoud en die vrae in Tsotsitaal beantwoord nie? Waarom die gebruik van Standaard Afrikaans? Daar kan verskeie antwoorde wees, maar belangrik is dat die lexicon en grammatika van Tsotsitaal na al die jare nog steeds aan die ontwikkel is en dat die woordeskat beperk is tot ʼn vermenging van Afrikaans, Engels, Sotho, Zulu en Xhosa-‘n andersoortige Fanagalo. Nog ʼn rede, is dat Tsotsitaal onverstaanbaar is vir die geteikende leserskorps en soos ʼn vriend van my uit Vlaandere eenkeer vir my genoem het, as hy in ʼn Vlaamse dialek skryf bereik hy duisende, maar as hy in Nederlands skryf, bereik hy miljoene. Tsotsitaal is tot op hede nog steeds meer ʼn praattaal as ʼn skryftaal. Ek dink Kaaps het dieselfde dilemma. Dit is nie verskonings nie net feite.

Ek wil nie kopiereg op Tsotsitaal/Flaaitaal opeis nie en hoop dat toekomstige navorsers ten minste na die gesprek tussen ons sal verwys wanneer verdere navorsing oor Tsotsitaal gedoen word en hoofstukke in boeke daaroor opgedateer word. Nog ʼn observasie  van my kant, is dat Tsotsitaal “eie goed” is, eie aan die Townships van Suid Afrika, maar nou word daar in ons bos gekap en ander eis sommer goedsmoeds Tsotsitaal as hul eie ontdekkings. Hier verwys ek spesiaal na onkundiges wat op ʼn afstand die (Tsotsi) Taal aanskou en ʼn kommersiële geleentheid sien om op die wa te spring en die hele kwessie te kaap.

Hier verwys ek spesifiek na mense soos Lebo Motshegoa wat in  2005 ʼn powere poging aangewend het met sy  The A-Z Dictionary of South African Township Lingo, en Daniel Hugo se hoofstuk oor  Tsotsitaal in Halala Afrikaans wat in 2009 by Protea Boekhuis verskyn het. Ek weet dit is sterk stellings, maar in albei skrywers se werke ontbreek indiepte  navorsing.

Dit bring my by die punt dat Protea Boekehuis kenners soos Dennis Kekethi Makhudu kon genader het om so ʼn hoofstuk te skryf. Almal is gaande oor Louis Molamu se  Tsotsitaal, a dictionary of the language of Sophiatown, maar Makhudu se  Honneurs (1980) en MA  (1984) verhandelinge en ander geskrifte oor  Tsotsitaal (1995) , die werk van Willem Schurink  (1981; 1983), Peter Bekker (1974) en Sipho Sipamla  (1982) se werke was voorlopers. Ek het in my besit dokumente wat ek oor dertig jaar versamel het en kan dus ook ʼn bydrae lewer om meer omvattende navorsing  te doen. Nou kom die vraag op, hoekom is ek reaksionêr en kyk dat ander publiseer oor Tsotsitaal en dan soos ʼn klein keffertjie agterna daaroor blaf? Ek het gewoon net nie die tyd om dit nou neer te skryf nie, aangesien ek navorsing doen vir ʼn Doktorale studie in Biblioteekkunde. Ek sal in die toekoms aandag daaraan gee.

Aard, oorsprong en voorkoms:  Lees ʼn mens die werke van Makhudu, Molamu en Schurink word daar aangedui dat die eerste keer dat daar geskryf is oor Tsotistaal was so ver terug as 1916. In teenstelling met wat Molamu voorhou, dat dit die taal van Sophiatown (alleen) is, weerlê Makhudu dit deur aan te dui dat dit ook in die Swart en Bruinwoonbuurtes van Atteridgeville, Marabastad en Bantule in Pretoria gepraat is gedurende die 1950’s. Makhudu noem ook Soweto en Sophiatown as plekke waar die Taal gepraat word.

Tsotsitaal , die vermenging van tale soos Afrikaans, Engels en ander Swart tale het ʼn eie woordeskat wat altyd  aan die ontwikkel is. Daar is nie vaste spellingspatrone nie. So byvoorbeeld word die word vir “lekker”, “Mca” in Tsotsitaal ook gespel as “Nca”.

ʼn Tsotsi  verwys na die swakker kriminele elemente binne jou Swart en Bruin Township-gemeenskappe. Gewoonlik is dit jong mans met ʼn kriminele rekord. Waar die woord “Flaai” of “Fly” vandaan kom, is ʼn verwysing na die Tsotsi’s wat  vinnig praat, vinnig stap en vinnig dinge doen – asof hulle vlieg! Dit was ook in verlede na verwys as Bendetaal, Mynwerkerstaal en Shebeentaal.

In jou skrywe aan dr. Le Cordeur tref jy ʼn onderskeid tussen flaaitaal as “vaderstaal” en Afrikaans as “moederstaal”. Net so verwys Daniel Hugo in sy oorsig van flaaitaal in “Halala Afrikaans” (2009: Protea Boekhuis) daarna as synde ʼn “mannetaal” wat hoofsaaklik in tronke funksioneer. Bestaan daar inderdaad dié geslagsvoorkeur ten opsigte van flaaitaal?

Ja, daar bestaan ʼn geslagsvoorkeur. Ek het dit byvoorbeeld in die 1950’s  in Claremont en Marabastad in Pretoria by my pa en sy vriende geleer. My pa het die gewoonte gehad om my altyd saam te neem na sy vriende en daar kon ek my verlustig in die taal wat so anders was as die taal wat ek op die skoolbanke moes aanleer. My pa is al oorlede, maar ek praat dit nog steeds met my ooms wat nou in hulle 70s is. Ek en my vriende laat waai ook met die lingo! Vrouens het nog altyd die Tsotsitaal as onvroulik en nie juis as beskaafd gesien nie – selfs in ons huis het my ma ons probeer beskerm van die Tsotsitaal aangesien dit gekoppel was aan bendes. Maar, soos ek in my gedig “My Flaai-Tsotsitaal” sê: dit is ook die lingo van die township-intellectuals.

Om dit te staaf, het ʼn vriend van my David Ernest ʼn honneurs studie in Linguistiek gedoen en spesifiek Tsotsitaal-woorde voorgehou aan Manlike Onderwysers, Mediese Doktors en ander geleerdes binne die Eersterust (oorwegend Bruin) gemeenskap. Hulle het almal die woorde verstaan en kon ook Tsotsitaal praat. Ek en ʼn ander Taalnavorser aan Unisa, Doktor Elvis Saal, het aan ʼn artikel gewerk (gepubliseer in 2005) – “The persuasive effect of Tsotsitaal in HIV/AIDS material”. Bruin hoërskoolleerlinge is gevra om ʼn paragraaf oor HIV/VIGS in Standaard Afrikaans te lees. ʼn Sielkundige het getoets wat hulle verstaan. Ek het dieselfde paragraaf in Tsotsitaal vertaal en dit is weer aan dieselfde leerlinge gegee om te lees. Na dit is hulle weer getoets en daar is bewys dat die boodskap duideliker deurgekom het in Tsotsitaal.

Ek en my vriende praat Tsotsitaal en ons is nie Tsotsi’s nie. Van hulle sluit in akteurs, akademici, musikante en skrywers. Ons probeer ook hard om te help dat die stigma van die tsotsi iewers agter gelos moet word. Vriend David Ernest het verdere navorsing gedoen en in sy MA- verhandeling wat hy in 2004 aan Universiteit van Pretoria verwerf het, stel hy voor dat Tsotsitaal eerder herdoop moet word na Oorspronklike Afrikaans!

In die reeds genoemde artikel oor flaaitaal deur Daniel Hugo toon hy nog ʼn vreemde teenstrydigheid aan: dat flaaitaal enersyds ʼn “geheimtaal” is, dog andersyds ook “omgangstaal”. Bestaan dié teenstrydigheid ten opsigte van eksklusiwiteit vandag nog onder die sprekers daarvan, of is daar bepaalde inisiatiewe om daaraan ʼn breër gebruiksbasis te verskaf?

Dat Tsostitaal ʼn lekker taal is vir die “auties wat notch” (die manne wat die taal ken) is nie te betwyfel nie. Die ekwivalent daarvan is Kaaps, Moffietaal, Namakwalands ,Tienertaal, sms-taal – almal met hul  eie geheimsinnige gebruike sodat die “moegoes wat nie die Lingo kan weetie nie, swak gelos word”  (die dommes wat nie die taal kan praat nie, onnosel bly).

Daar is ongestaafde beweringe dat selfs die ANC, toe hulle in exile was, Tsotsitaal as kodetaal aangewend het. (Dit is iets wat dalk navorsingswaardig is.)

Robert, jy is die afgelope 30 jaar al betrokke by navorsing oor flaaitaal en het ook al verskeie lesings oor dié onderwerp moes lewer. Kan jy dalk vir ons ʼn meer spesifieke aanduiding gee van die belangrikste onderwerpe waaroor die gesprekke rondom die status en voortbestaan van flaaitaal tans handel?

Heel interessant dat daar ewe skielik groot belangstelling  in Tsotsi-/Flaaitaal is. Selfs op die Internet, by Google en Wikipedia is daar talle artikels oor Tsotsi/Flaaitaal. Met die aanwending van nuwe elektroniese middele word  die jonger geslag tegnologiese jongmense ook blootgestel aan Tsotsitaal.

Wanneer daar gekyk word na dié artikels is dit verblywend om te sien dat die onderwerpe wat aangeraak word, die volgende is:

– Definisie van Tsotsitaal

– Geskiedenis

– Struktuur

– Die Sosiale betekenis van Tsotsi/Flaaitaal en Iscamtho

Wat ook baie aangespreek word in die media, is die ontwikkeling van Kwaito-lirieke uit Tsotsi/Flaaitaal. Kunstenaars soos Arthur, Mandoza en TK Zee gebruik almal Tsotsi/Flaaitaal in hul lirieke en sodoende betrek hulle ʼn hele nuwe geslag jonger gebruikers by Tsotsi/Flaaitaal. Lebo Motshega se gebrekkige pogings moet ook nie geringskat word nie. Hy probeer ten minste met sy Township Lingo-woordeboekies om Tsotsi/Flaaitaal te verklaar. Hy het ook af-en-toe ʼn Woordeskatlys van Tsotsi/Flaaitaal woorde in die Daily Sun-dagblad. Selfs die Afrikaanse dagblad, Beeld publiseer af-en-toe artikels oor Tsotsitaal. Hier moet Stephanie Nieuwoudt se 2003 artikel in Beeld,Intellektuele Tsotsi’s: Nou kan moegoes ook Sophiatown se taal verstaan”, genoem word. Op Beeld se Webwerf kon  ek ook vier ander artikels oor Tsotsi/Flaaitaal opspoor. Vir die toekoms hoop ek dat PANSAT geld sal bewillig vir nog meer navorsing oor Tsotsi/Flaaitaal.

Is dit dalk moontlik om vir ons enkele voorbeelde van flaaitaal te gee?

Bushie (Boesman/Kleurling)

Tsafendas (as jy iemand met ʼn mes steek – Nav Tsafendas se moord op Verwoerd in 1966);

Scaberesh (ʼn Slegte vrou)

Groot Verkoue (HIV/VIGS)

Gwarra (Terg)

Zalties (Dood gaan)

Outie (Man gewoonlik in ʼn liefdesverhouding met ʼn vrou)

Ousie (Vrou gewoonlik in ʼn liefdesverhouding met ʼn man)

Ek en my Ousie verstaan (Ek en my meisie het ʼn verhouding)

Kan jy dalk nog voorbeelde byvoeg van ander digters wie se “flypoems” jy oor die jare versamel het?

Mattera, Don. 1991. Die Bushie is dood

Sepamla, Sipho. 1982. Baby Come Duze

Johennesse, Fhazel. 1979. 

– bra bizza dink according change

– bra bizza dink according die americans

– bra bizza dink according  kopstaan

Dankie vir die gesprek, Robert. Uiteraard is ons in die besonder geïnteresseerd in die poësie van flaaitaal; so dra ek kennis van ʼn wonderlike vers, “My Flaai-Tsotsitaal”, wat jy geskryf het. Met jou vergunning plaas ons dit dan ter afsluiting hieronder.

 

My Flaai-Tsotsitaal

 

Gebore uit fornifikasie

tussen Coloured-Afrikaans, Township-Sotho en Zulu

jy, Isicamtho, taal van die outies wat notch.

Jy het ge-survive,

al wou húlle jou soos ʼn mommage

reduce het tot Fanagalo.

 

Come Duze baby,  sê Ntate Sipamla

Original Afrikaans,  noem Uncle David jou

Onverstaanbaar,  sê die Moegoes wat hassal ken.

Onverstaanbaar vir wie majita?

 

Is dollie my bra dat jy my ʼn culture ge-gha het en by de way,

thanks my Flaai-bra dat jy ons allow om jou te chop-en-change.

Met daai permission  raak jy ʼn Ursus

en is jy nie net ʼn Tsotsitaal,

maar ook  lingo van die Township-intellectuals. 

 

Ooms Adam en Peter het hulle Kaaps,

Loit sy Goema-Afrikaans,

Links sy Nama-Afrikaans en

Du Plessis gegapsde Griekwa-Afrikaans,

maar ons hier in Gauteng                                          

 

het ons lekker Tsotsitaal-deng

daarom sal alle nasies in jou seng

en Flaai-Tsotsi-Isicamtho meng:

Come duze scaberesh, come duze…

Al sal alle lingos thleri

sal ek jou nog wietie,

vir jou, mca lingo van my M& Toppie.

 

© Robert Pearce

 

WOORDVERKLARINGS:

 

Gebore uit fornifikasie (Geslagsomgang/Seks)

tussen Coloured-Afrikaans, Township-Sotho en Zulu

jy, Isicamtho, taal van die outies wat notch. (ook genoem Iscamtho=’n vermenging van Zulu en Sotho wat gepraat was deur die AmaLaita Bende en gebruik was in die 1920’s)

Jy het ge-survive, (oorleef)

al wou húlle jou soos ʼn mommage (ook soms gespel moemmage of momish=iemand wat dom is en nie straatwys)

reduce het tot Fanagalo. (taal wat onstaan het op die Suid Afrikaanse Myne uit tale soos Afrikaans, Engels, Zulu, Xhosa, Sotho en SiSwati)

 

Come Duze baby, sê Ntate Sepamla (titel van gedig: Kom nader baba/meisie sê Oom Sepamla-verwysend na Sipho Sydney Sepamla)

Original Afrikaans,  noem Uncle David jou (Oorspronklike Afrikaans)

Onverstaanbaar,  sê die Moegoes wat hassal ken. (Dommes wat niks weet nie; sien ook mommage)

Onverstaanbaar vir wie majita?  (Man of jongman)

 

Is dollie my bra dat jy my ʼn culture ge-gha het en by de way, (dit is goed my vriend dat jy my ‘n kultuur gegee het en sommer so padlangs)

thanks my Flaai-bra dat jy ons allow om jou te chop-en-change. (dankie my vinnige-straatwysvriend dat jy ons toelaat om jou willens en wetens te verander)

Met daai permission  raak jy ʼn Ursus [Met daardie toestemming raak jy soos Ursus  die  Bruin Beer (Ursus  Arctos is ook gebruik deur die Grieke om ‘n sterk man te omskryf)]

en is jy nie net ʼn Tsotsitaal,  (Taal van die Bendes en Straatwys manne)

maar ook  lingo van die Township-intellectuals. (Taal van Slim/Intellektuele persone van die Woonbuurt)

 

Ooms Adam en Peter het hulle Kaaps, (Adam Small en Peter Snyders)

Loit sy Goema-Afrikaans, (Loit Sôls)

Links sy Nama-Afrikaans en  (Tony Links)

Du Plessis gegapsde Griekwa-Afrikaans, (Hans Du Plessis)

maar ons hier in Gauteng                                          

 

het ons lekker Tsotsitaal-deng (Taal van die Bendes en Straatwys manne se ding)

daarom sal alle nasies in jou seng (sing)

en Flaai-Tsotsi-Isicamtho meng: (vinnige-straatwystaal van Bendes en Straatwysmanne en vermenging van Zulu en Sotho)

Come duze scaberesh, come duze… (Kom nader slegte meisie, kom nader)

Al sal alle lingos thleri (Al sal alle tale doodgaan)

sal ek jou nog wietie, (sal ek jou nog praat)

vir jou, mca lingo van my M & Toppie. (vir jou, mooi taal van my Ma & Pa)