Posts Tagged ‘Onderhoude deur Gisela Ullyatt’

Onderhoud met Corné Coetzee (nou, hier)

Sunday, August 27th, 2017

 

Corné Coetzee in gesprek oor haar debuut nou, hier, met Gisela Ullyatt

 

Baie geluk met jou debuut, Corné.

 

Nou, hier se voorblad is treffend en dit is veral die kleure wat my aandag getrek het. Hoe het jy op die voorblad besluit? Het jy eers ander konsepte vir die voorblad oorweeg?

Ek is veral in my skik daaroor dat my dogter Clara die voorblad ontwerp het. Ek het vir haar beskryf wat ek in gedagte het, nie baie goed nie, min of meer “’n rytjie van sulke Melville-rige huisies daar in die onderste strate, jy weet mos en met ’n Boeddha wat bo-op die huise dryf”, vir haar ’n klompie gedigte gewys en ’n klompie foto’s van die internet af aangestuur en gesê: “dié soort ding”… Toe kom sy met hierdie voorblad vorendag, Human& Rousseau het die eerste konsep-probeerslag goedgekeur. Die mooi blou kom van Clara se verfkwas en is ook te danke aan Mike Cruywagen wat dit digitaal verwerk het.

Jy debuteer in Nuwe Stemme 4 (2010). Ses van jou gedigte is in hierdie bundel opgeneem, naamlik “Aard”; “Beroerte”; “Bruide kyk”; “Die dag toe jy”; “Kombuis” en “oomblik op die trap”. Die leser sal dieselfde gedigte aantref in nou, hier waarin daar enkele veranderinge aangebring is. Die mees opvallende veranderinge kom voor in “Oomblik op die trap” (20). Ter wille van die leser, haal ek beide die Nuwe Stemme-weergawe asook die een wat in nou, hier verskyn, aan:

 

oomblik op die trap (2010:67)

 

gegewe dat dit toevallig kan wees

of dat ver planete ten opsigte van

hierdie halwe hektaar in ewewig dryf

of bestem deur een wat alles gemaak het

of ’n lui kapries van gode gemoedelik ná die maal

 

– hierdie sagte voorlentemiddag op die stoeptrap,

terwyl ’n wil-wil klam bries dink om te waai

stemme agter in die eetkamer rustig styg en daal

’n ver telefoon tevrede begin koer

en ’n erdebak bone inskiklik week vir later –

 

wetend dat die wind kan opsteek

die gesprek vrank kan raak

die tyding kan kom

die eters met messe beduie: waar’s die vleis

 

sien ek nogtans en desnietemin tekens

in die leeurik in die kamferboom

die opslaglelies in die paadjie

en vanmiddag se waterige maan

*

Oomblik op die trap (2017)

 

Gegewe dat dit toevallig kon wees

of dat drywende planete ten opsigte van

hierdie halwe hektaar in ewewig staan

of bestem is deur een wat alles gemaak het

en steeds mildelik uit sy hand laat stort

of ’n lui gril is van gode

gemoedelik ná die maal

 

– hierdie sagte voorlentemiddag op die stoeptrap

terwyl ’n bries wil-wil waai

stemme in die eetkamer rustig styg en daal

’n ver telefoon tevrede begin koer

en ’n erdebak bone inskiklik week –

 

wetend dat die wind kan opsteek

die tyding kan kom

die gesprek vrank raak

die eters straks met messe beduie: waar’s die vleis

 

sien ek nogtans en nietemin tekens

in die leeurik in die kamferboom

die opslaglelies in die paadjie

en in die waterige middagmaan

redeloos teologieloos woordeloos.

 

Vertel ons meer van die evolusie van hierdie gedig: hoe het die veranderinge plaasgevind?

Dis ’n gedig wat deur die Nuwe stemme-, die Tukkies-poësie-werkswinkel sowel as my wonderlike redigeerder, Nèlleke de Jager van H&R, se meule is. By nabetragting amuseer hierdie prosesse ’n mens, dis nog ’n voorbeeld van omstandighede, besluite en toevallighede – juis soos wat ek in die gedig wou illustreer.

Die laaste reël, “redeloos teologieloos woordeloos” was eers in, toe uit, en toe weer in. Ek meen hy moet daar wees, dit verduidelik die satiriese gemymer oor astrologie, godsbesluite en afgode aan die begin.

Die argument oor waarom “straks” ingevoeg moes word, onthou ek nie meer nie, vandag lyk dit vir my oorbodig, selfs hinderlik, dit versteur die ritme.

Dit is min dat ’n gedig bykry, eerder as gesnoei word.

Jy het ’n Magister in Kreatiewe Skryfkuns onder leiding van Henning Pieterse verwerf. Is dit ’n proses wat jy sal aanbeveel vir digters wat ernstig oor hul digkuns voel en graag wil publiseer?

Ek het baie daarby gebaat. Dalk werk dit nie vir almal nie. Die akademiese gedeelte, dié van die mini-verhandeling (wat nie vir my soos ’n mini gevoel het nie, ’n mens verleer die akademiese aanslag) was vir my heerlik. Die vergrootglas van verskeie pare oë in die werkswinkels was ’n goeie dissipline. Dit het my ook gedwing om weer behoorlik te léés – jou eie en ander se werk. Ek het Henning Pieterse se kritiese maar simpatieke lesing van my gedigte asook sy uitgebreide kennis geweldig waardeer.

Ter aansluiting by vraag 3: Jou mini-verhandeling, met die titel, Van boere-paradijs na die dirt box in die middestad: Ekokritiek en in die besonder stedelike ekokritiek as lens vir die lees van 12 gedigte oor Johannesburg as tuiste, is ’n besondere knap verkenning van gedigte vanuit ’n ekokritiese benadering. Kan jy vir ons ’n paar gedigte uitlig wat jy onder die soeklig laat val het? Het jy oorspronklik aan Johannesburg gedink as ruimte of was dit ’n soektog wat jy mettertyd verfyn het namate die verhandeling se navorsingsvoorstel gevorder het?

Dit het lank geneem om die fokus – die uiteindelike onderwerp – te kry. Die ekokritiek het gekom nadat ek ’n vaag omlynde onderwerp aan Henning voorgelê het en hy my Lawrence Buell se The Future of Environmental Criticism laat lees het. Die Johannesburg-verfyning was deels omdat ek belangstel in die stad en sy geskiedenis en deels omdat ek moes inperk.

Ek het pret gehad met die kies van gedigte. Ek het nie noodwendig na literêre gehalte gekyk nie, ek wou fokus op die metodiek van ekokrities lees. Dit het my uitgebring by onder meer S.J. Pretorius se “Stadswyk” van 1963 met sy eerste reël wat vandag aan David Kramer herinner: Hier staan die voorskootvrouens, maer of vet, / alewig in die ander tyd. Ook Johanna Cornelius se propaganda-gedig van 1939 vir die Klerewerksunie, “Die stryd in die stad” wat vandag naïef lyk, maar tóé mense aangevuur het. Ek het vir die eerste keer besef hoe ideologies gelaai Totius se Trekkerswee is. En Wilma Stockenström opnuut lief gekry.

Iets wat my oog getref het in jou Literatuuroorsig is die volgende:

Andries Bezuidenhout maak in sy verhandeling, waarin hy ruimtelikheid en morele agentskap in ’n bundel van Gert Vlok Nel ondersoek, die stelling dat daar in Suid-Afrikaanse feministiese sosiaal-literêre kritiek ’n besondere fokus op die verband tussen huishoudelike ruimtes en die volk is. Hy haal Irma du Plessis aan ‘wat ontleed hoe letterkunde kunsmatige skeiding tussen private en openbare ruimtes destabiliseer. Die kwessies van sistemiese geweld – iets wat ‘daar buite’ gebeur – ook in die intieme ruimtes van huishoudings plaasvind [sic]’ (2013:12-13).

Die eerste vraag oor hierdie aanhaling: is die digkuns veral die genre wat hierdie kunsmatige skeiding destabiliseer?

Ek meen dit is ’n kenmerk van baie kuns dat dit die skeiding tussen die algemene en die besondere; teorie en praktyk; die groot tema en die klein persoonlike destabiliseer. Dink maar aan Die swerfjare van Poppie Nongena, Agaat, Dan Sleigh se 1795 of William Kentridge se werk. Wat my gedigte betref, ek dink in konkrete voorbeelde – die wyer opset waarbinne enigiets plaasvind, die tipiese in teenstelling met die spesifieke, kom altyd later. Ek dig juis oor wat in die “intieme ruimtes van huishoudings” plaasvind –soos talle ander – en dit ís dikwels ’n vorm van (gewoonlik beheersde) geweld.

’n Verdere vraag wat verweef is met bogenoemde aanhaling het te make met die eerste drie afdelings van die bundel: “Nymphaea Gloriosa“; “Die vreemdelinge in ons arms”, en “Oos, wes”. Sou jy sê dat hierdie afdelings kentekenend is van geweld (fisiese, maar veral psigologiese) in die intieme huishoudelike ruimte? Ek dink hier aan ’n gedig soos “Een nag” (13):

 

Een nag na aan die begin

het ons tesame wakker geword

en monde skouers lendene bekken

ineengestrengel gevind

die ekstase soos springende vlamme

die pyl wat swiep tot in die blonde son

beaam

en met mekaar se tonge gefluister:

Jy. Net jy. Ewig.

 

Die volgende oggend

het al twee geskrik

en onderskeidelik tranerig en verbouereerd

begin rusie maak.

 

Gewis. Ook in die huisvrou-gedigte. Ek simpatiseer baie met huisvroue wat so ’n lae status in die wêreld het en wat so braaf, gewoonlik ter wille van kinders, soveel vorme en grade van teenstand trotseer – ’n mens sou dit geweld kon noem.

Maar dis darem nie net oor die verskillende soorte geweld (of hartseer, of eensaamheid) nie. Ook oor hoe intiem geluk is.

Die gedigte gaan oor hoe ’n mens alles aan jou lyf voel. In die gedig wat jy aanhaal, voel die minnaars sintuiglik in die nag en verstaan die volgende oggend serebraal die omvang van verbintenis.

In die afdeling, “Waarvandaan”, is daar ’n besonderse gedig, “My ystervark” (57):

 

Ek het mos ’n ystervark,

’n donker buksie

met een pronkstreep op die kruis.

Gewoonlik slaap hy.

 

Maar jy het skaars geland,

of hy reis hom op en ritsel.

 

Die dag voor jy weer weggaan

waaier sy stekels uit,

hy stamp sy pote,

hy snork en steun.

Wanneer ons jou rug dophou,

al hoe meer vreemdeling in die vertreksaal,

steek sy penne

in sagte vlees, longvleis.

 

By ons huis

is alles onmoontlik stil

 

net die ystervark sit ’n show op,

draai sy spitsige stertkant na my.

ek kan nie naby hom kom nie

maar as ek hom kýk

 

sien ek

sy snoet is weerloos,

hy is die kleur van grond en klip en lamproet.

Oormôre gaan lê hy weer.

hy woon mos hier, agter my ribbes.

 

Kan die ystervark-metafoor as ’n innerlike geweld gelees word wat in die individu plaasvind? Indien wel, is hierdie geweld iets wat met die moderne samelewing te make het; ’n gebrek aan kalmte en stilte?

Die gedig is geskryf vir en oor my kind wat in Brittanje woon, dit gaan oor my reaksie op haar besoeke. Die oomblik wat sy land, begin ek haar vertrek vooruit te vrees. As ’n soort leerling-Boeddhis streef ek daarna om dit juis nié te doen nie, om die hier en nou ten volle te ervaar. As iets goed voel, reg. As iets erg voel, ook reg. Alles verander gedurig.

Maar ja, dit gaan daaroor dat die emosies oor die besoek en die vertrek as gewelddadig ervaar word. En dat groter kalmte sou help om dit alles te aanvaar as deel van die vloei, die gang, van bestaan.

Die laaste afdeling genaamd “Die leemte in die kern” het assosiasies met śūnyatā, die Sanskrit vir die Boeddhistiese nosie van ‘leegheid’. Dis ook opvallend dat jou sesde afdeling se titel “Saadskiet” is. Kan hierdie twee afdelings as ’n jukstaposisie beskou word of wou jy juis dualiteit vermy? Hoe het jy op die titels besluit?

Ek glo daar is minder dualiteit as wat ons gekondisioneer is om te dink, veral met ons gewoonte van kategorisering – wat natuurlik noodsaaklik is om sin te maak van die wêreld. Laat ek vir myself praat: hoe meer ek lees en dink oor Boeddhisme, hoe makliker is dit vir my om byna alles as aspekte van mekaar te sien.

Die bundel vorm ’n soort chronologie van lewensbeskouing, van jongdae se storm en drang, verliefdheid en woede tot oudae se rustiger en wyer kyk, na die gemeenskap sowel as die eie innerlike. Slegs en bloot my eie. Die titels van die afdelings was gewoon ’n reël en ’n gedigtitel wat ek gemeen het ’n soort samevatting vorm.

“Voor, ná” (102) se eerste sewe strofes handel oor Tenzin Palmo, (gebore Diane Perry), ’n Engelse Boeddhistiese non in die Karma Kagyu-linie (‘lineage’) van die Tibettaanse Boeddhistiese tradisie wat vir twaalf jaar in ’n grot in die Himalajas ’n tradisionele retreat gedoen het.  Vertel meer oor jou skryfervaring oor haar?

Ek het haar haar outobiografiese boek Reflections on a Mountain Lake raakgeloop en toe Cave in the Snow gaan soek en gelees. ’n Jaar of twee later het ek na ’n praatjie wat sy in Johannesburg gelewer het, gaan luister. Sy bly vir my ’n inspirasie juis oor wat sy oor leke, veral vroue, in die gewone lewe sê. Soos dat kinders ’n wonderlike “teacher” kan wees, soos sy enigiemand of enigiets noem by wie of waardeur ’n mens geestelik kan leer: Jy kan nie ophou met ouerskap as jy moeg word daarvoor nie;  dit bied jou die beoefening en oefen van onvoorwaardelike liefde, onselfsugtigheid. En so meer.

Dis waarom die legende van die Chinese non Tsjijono wat dikwels en in verskillende variasies oorvertel word, die tweede deel van daardie gedig vorm. Ek sal net bysê dat Tsjijono  in geen variasie wat ek teëgekom het, ’n kind op die rug dra nie, dis blote versinsel.  Daar is ’n spreuk: Before enlightenment, chop wood, carry water. After enlightenment, chop wood, carry water.

Speel die bundeltitel, nou, hier in op wat in Westerse Boeddhisme as die “here and now” verstaan? Indien wel, waarom nie hier, nou nie?

Die volgorde is maar persoonlike voorkeur. Vir my is die “nou” – die oomblik – selfs belangriker as die plek, “hier”. Tyd, verlede, hede of toekoms soos wat ’n mens dit ervaar, voorveronderstel plek, nie andersom nie.

Ja, dit slaan gewis op die Boeddhistiese konsep van “in die oomblik wees”. Afrikaans sukkel met ’n gawe woord vir mindfulness.

Linguisties gesproke is dit interessant (vir taal-nerds) dat “here and now” in Engels beter klink as “now and here”, terwyl dit in Afrikaans, met miskien ’n subtiele verskil, om’ t ewe is: “nou, hier” of “hier, nou”. Boeddhistiese geskrifte het natuurlik via Engels na ons gekom, ek self het geen toegang tot oorspronklike geskrifte nie.

Corné, is daar ’n bepaalde gedig in jou debuut wat jy graag met Versindaba-lesers wil deel?

Een van die omgewingsgedigte, die een oor die uitgestorwe padda.

 

Platipuspaddas

.

Hul wonings was langs vinnige riviere

in die klein kolke en sloepe en versnellinkies

tussen klippe. Hulle het graag in sagte reën gesit.

Hulle was ligbruin met donker vlekke

geel en geilgeel aan die binnekant van die lede-

mate en glad en witterig by die bors soos riffels

son en skaduwee op ’n rivier.

’n Handpalm groot; snoet stomp, gerond,

vingers aan die voorpote bruin en slank

tone geweb en riviervaardig.

Die mannetjie het sy liefde vir groot, mooi vroue

kor-kor-kor-kor van lente tot hoogsomer geroep.

Die wyfie het die eiers ingesluk, hoe raar is dit?

Hulle ander naam was buikbroeiers.

Van die paddavissies weet ons byna niks.

Hulle het langs riviere gewoon.

Hulle het graag in sagte reën gesit.

.

***

 

Onderhoud met Susan Smith (Die aarde is ‘n eierblou ark)

Saturday, November 5th, 2016

onderhoud-gisela-en-susan

Susan Smith gesels oor haar nuwe digbundel

die aarde is ‘n eierblou ark, met Gisela Ullyatt

.

Susan, hartlik geluk met die aarde is ’n eierblou ark.

Die bundeltitel impliseer ’n metaforiese verhouding tussen aarde en ark. Die byvoeglike naamwoord dui op die kleur van hierdie aarde-ark. Hoe het jy op die titel besluit?

Dankie, Gisela.

Die frase, “die aarde is ’n eierblou ark” kom uit een van die gedigte, maar het vroeg reeds bly vassteek as ’n moontlike titel. Die alternatief wat ek oorweeg het, was bloot “ark”. Nadat ek dit aan ’n paar mede-digters voorgelê – en uiteenlopende reaksie gekry het – het ek besef dat ek maar my instinkte sal moet vertrou. Die verbonde verbande laat ek aan die leser oor.

Die voorbladkuns is een van jou eie skilderye. Die ongewone tekstuur daarvan is opvallend en sluit goed aan by jou tweede bundel-motto wat uit Neruda se “Memory” geneem is:

I have to remember everything,

keep track of blades of grass, the threads

of all untidy happenings

the resting places, inch by inch,

the infinite railroad tracks,

the surfaces of pain.

 

(a) Het die keuse van die skildery meer te make met die bundeltitel of die bundel as geheel?

(b) Vertel ons meer oor die skildertegniek(e) wat jy gebruik het om daardie ‘gekraakte’ tekstuur te verkry.

Die skildery is gemaak ten tye van die skryfproses, seker so ’n jaar gelede, toe ek met verskillende teksture gespeel het om ’n organiese oppervlak tot stand te probeer bring wat moontlik verband sou kon hou met die woorde waarmee ek gedurende daardie tyd besig was. Ek het in dieselfde tyd ook ’n aantal linodrukke gemaak wat tot bepaalde gedigte spreek en deel vorm van ’n kunstenaarsboek – byvoorbeeld die albatros, die meisie met vis, die selakant en pas nou ook die kantblom. Ons “printmaster”, Jeff Rankin, het daarin geslaag om my te laat nadink oor wat ek probeer uitdruk, oor die simboliek van lyn en tekstuur en kleur.

Wat op die buiteblad van die bundel afgedruk is, is ’n nabyskoot van ’n skildery. Elke makrobeeld onthul ’n nuwe perspektief op die geheel. Die kleure – goud, blou, wit, sandkleur, grys – was ’n doelbewuste keuse. Vir my is blou die kleur van ontroering, die kleur van broosheid.

Ek het geëksperimenteer met verskeie mediums wat krakies op die boonste laag verf veroorsaak, letterlik vanaf kouelym en spreiverf tot kraakglasuur wat dan verder gemanipuleer word om krake in verskillende groottes te vorm, na gelang van die dikte van die oppervlakmedium. Die uitkoms is ’n totale verrassing en die skildery kan nie werklik herhaal word nie.

netwerk-2016-susan-smith

“Netwerk”, 2016 (Susan Smith)

Wat verder verrassend is, is die nuwe wêreld wat oopgaan voor die kameralens se inzoemende oog: detail wat bykans verlore gaan vir die blote oog, word landskappe van kraters en riviere uit verf en glasuur.

netwerk-makrobeeld-1

“Netwerk”: makrobeeld 1

netwerk-makrobeeld-2

“Netwerk”: makrobeeld 2

netwerk-makrobeeld-3

“Netwerk”: makrobeeld 3

Ek hoop dat die voorblad weerklank vind regdeur die bundel, nie net as beeld van oppervlak nie, maar ook van netwerk en verbintenis. Die spanning op die oppervlak van die verf en glasuur, die vorming, eers, van klein krakies, wat uurliks groter word, totdat groter kontoere tot stand kom, is nie net ’n metafoor vir die voortdurend veranderende landskap nie, maar ook die verrassende vorming van woorde oor tyd.

“patryspoort” (13) se eerste strofe aktiveer die Karoo-hemelruim:

 

in die kom van die Karoo kan jy

deur die patryspoort van die nag

die diereriem se werwelinge hoor

met gestrekte vinger

deur die krakies in die lugruim boor

met versigtige nael

ágter die foelie skilfering van die heelal skraap

 

In jou debuutbundel, in die afwesigheid van sin (2012), verskyn daar ’n reeks gedigte genaamd ”karoo-narratief”. Hou “patryspoort” daarmee verband?

My geboorteplek is die Karoo, De Aar, om presies te wees. Nêrens anders is die aarde so oop nie, nêrens anders die lug so helder nie. Dit voel vir my na ’n natuurlike vertrekpunt, hetsy per voet of metafisies die hemelruim in.

Reeds in die inhoudsopgawe kan die leser sien dat die bundel ryklik omgaan met gedigte wat water as leitmotief utiliseer. Voorbeelde hiervan is “onderwater” (15); “Wildekus” (18); “water (i)” (55-56); “water (ii)”(57); die “alfabet van water” (59), en so meer.

Een van die sterkste gedigte in die bundel is so ’n voorbeeld:

 

in ons saadskulp is ek en jy

soogvisse van die water

twee gesigte na mekaar:

’n konkawe vivipaar

 

Wat beteken die waterelement vir jou as digter?

Die voor die hand liggende belang by water is dat dit in die algemeen en ook mities gesien word as ’n plek van oorsprong, dalk van lewe self. Die rykheid aan mitiese sowel as religieuse simboliek bied oneindige moontlikhede aan die digter. Water is egter ook deel van die verbintenis wat ek voel met plek en is omgewingspesifiek, vandaar my belang by die Ooskusstreek en al die dinge hier in hul onderlinge verbintenisse tot water en aarde en plek.

Dit gaan vir my daaroor om die betekenis en evolusie van water te karteer op veelvuldige wyses: die kennis en beskrywing van water lê in die parallelle tussen wetenskaplike feite en mitiese verhale, tussen skepping en “mothering”, tussen Darwin en die akwagenesiese wordingsteorieë van Ellis, tussen die ryk Bybelse verwysingsraamwerke en die oratuur. Dit sluit in om water te sien as ’n soort aqua mater, maar ook simboliese, mitiese en religieuse aspekte in berekening bring; om soos Elaine Morgan die moontlikheid te oorweeg dat sommige van die sleutels tot evolusie opgesluit lê in die fisiologiese karakteristieke van die vrou.

Water is magies; water is enigmatiese materie. Water is die fokus van menslike nuuskierigheid – die alomteenwoordige gemene deler van alle dinge en in wisselwerkende verbintenis met die aarde beskermer van lewe en behouering van lewende en nielewende dinge.

’n Verdere leitmotief is taal/die woord: ’n voorbeeld hiervan is die program-gedig, “huls”:

 

die droë peul knal naatlangs oop

die halwe huls ’n ligte boot

waarin ’n klein swart alfabet

van sade stroomaf

na ’n beskutte hawe vaar

 

Praat met ons oor die verhouding tussen skryf/dig en die natuur soos aangedui in bogenoemde gedig.

Hierdie gedig is ’n hele ruk gelede geskryf en het verskeie permutasies beleef. Dit is as ’t ware ’n saadkern waaruit ander gedigte ontkiem het. Ek vermoed dat ’n digter voortdurend besig is met die gedagte aan die proses van “woordplanting” en hoe een woord tot ’n ander lei. ’n Doelbewuste ars poetica is dit nie: eerder ’n onbewuste proses van alliansies soek tussen dinge. Of dalk ’n knal.

Soveel berus daarop om die wêreld om ons op ’n nuwe manier te sien deur dit nuut naam te gee, die soeke na die ewig ontglippende vaspen van dinge. Die volmaakte woord is eweneens ’n knal. Dit verplant die aarde en dit wat daarin en daarop is, oor op die bladsy; die leser ruik nog die omgedolwe grond. Die presisie daarvan moet ’n skok wees van sowel feitelikheid as van verbeelding, van herkenning en geheue.

Digter William Merwin skryf met passie oor die drang om name te ken en te onthou. Hiermee identifiseer ek:

I have lived without knowing

the names for the water

from one rock

and the water from another

and behind the names that I do not have

the color of water flows all day and all night

the old man tells me the name for it

and as he says it I forget it

Ek is ’n ewige soeker na die woorde wat in herkenning kan knal, om naam te gee aan elke oppervlak, elke gras, om te onthou, om te bewaar. Ek ervaar ’n intense gevoel van verlies oor voëls in my omgewing wat ek nog nie “ken” en geïdentifiseer het nie (oor die 40 spesies om my huis en tuin het name, afgemerk in my voëlboeke); ek het nodig om die grasse en die bosse van my omgewing te lys: droog-my-keel, duinekatstert, koedoebessie, krulkransie, maagpynbossie, marramgras, skilpadbos, sonskynster. Ek is bang dat hierdie name verlore raak.

(My redakteur het my van myself gered deur my ellelange lys van noemname met spesiename daarnaas, liefs weg te laat, en ’n onmoontlike lang opnoemgedig tot sinvolheid te verkort.)

Maar met elke naam wat ek “red”, is daar soveel wat verlore gaan. “Always naming, always words galvanizing the things of this world”, sê Felstiner in Can Poetry Save the Earth? En Linnaeus self het gesê: “As die name onbekend is, gaan ook die kennis van dinge verlore.” Taal is die enigste ark waarin ons die name en die kennis kan bewaar.

In die gedigreeks, “saad”, is daar ’n beduidende interaksie tussen die oopskryf van ’n digter se verlede en die ontkieming van saad. Hierdie ontkieming word ook gelykgestel aan die ‘ontkieming’ van ’n digter.

Verder is daar ‘n sterk wisselwerking tussen gebruiksaanwysings wat gebruikstaal verteenwoordig en poëtiese taal. Ironies genoeg word hierdie katalogisering juis die stramien vir die poëtikale. Kan jy vir ons meer oor hierdie wisselwerking vertel en waar die idee ontstaan het?

Ek is ’n aantal jare gelede aan Robert Kroetsch se briljante Seed Catalogue bekend gestel deur Peter Midgley, digter en skrywer wat tans in Alberta, Kanada woon. Die lang gedig van Kroetsch het my bygebly, veral sy gebruik van “gevonde” taal in iets so alledaags soos ’n saadkatalogus. Uit die nie-poëtiese het Kroetsch doelbewus en dikwels op ironiese wyse poësie geskep. Ek het lank met die gedig geworstel, en probeer om gebruikstaal en selfs verbruikerstaal sodanig te stroop dat dit gelade kon word, in samehang en wisselwerking met die gedigkern. Die gebruik van gevonde taal het nuwe uitdagings gebied en spel met vorm toegelaat.

Ek skryf doelbewus teen eenvormigheid in, sekerlik nie altyd geslaagd nie, maar ’n genuanseerde, geskakeerde digbundel wat beide vorm en inhoud betref, laat my sintuie tintel. Miskien, iewers in my toekoms, lê ’n droombundel wat meer palimpsestiese skets- en notaboek as digbundel sal wees.

Jou bundel maak melding van onder andere Mary Oliver, Walt Whitman, Linda Hogan, Karl von Frisch, Carl Linnaeus, Jane Bennett, Thomas Huxley en Spinoza. Hoe het hulle hulleself by jou aangemeld? Watter rol het hulle gespeel in die skryf van die bundel?

Elke gedig is ’n ontdekkingstog en ’n speurverhaal die onbekende in. Karl von Frisch het byvoorbeeld navorsing gedoen oor die gedrag van bye en in 1927 die ontdekking gemaak dat die lengte en rigting van die “rondtedans” en “wiggeldans” van bye in direkte korrelasie is tot die ligging van en afstand na voedselbronne en dat hierdie navigasie onder andere moontlik gemaak word deur die polariserende patrone van blou lug. Dit is die alfabet van bye. Linda Hogan se kinderverhale het ’n bewussyn van die lewe van vlermuise geskep; my vriende Jane Bennett, David Abram, Greg Garrard, Timothy Morton en vele meer is my medereisigers deur die wêreld van die ekokritiek. Hulle het nogal ’n manier om so ’n bietjie aan mens af te gee.

Dit is vir my noodsaaklik dat die feite in my gedigte moet klop. Ek vind dit onmoontlik om met enigiets anders as die waarheid te werk, ek jaag die meedoënlose akkuraatheid van ’n Marianne Moore na; die wetenskaplikheid van ’n T T Cloete. Selfs die realm van die verbeelding en die magiese moet met noukeurigheid betree kan word.

mangliete-1

mangliete-2

Mangliete in die Nahoonstrandmeer, Oos-Londen (Foto’s: Salmon Smith)

tafoni

Tafoni by Keisterstrand, Oos-Londen. (Foto: Susan Smith)

 

Opvallend in die bundel is die ikonisiteit van sommige van die gedigte in die bundel, soos byvoorbeeld in “die oortjies van die gedig” (49) en “skulpgruisgrys” (63):

 

keiserstrand

34 km wes van oos-londen

 

wolkgrys misgrys meeugrys  veergrys

watergrys brandergrys skuimgrys

rotsgrys klipgrys  klipskeurgrys

sandgrys   skulpgrys

skulpgruisgrys

 

32°58’ suid

 

Is konkrete poësie of die gedig-as-ikoon ’n proses wat jou na aan die digterlike hart lê? En is dit ook ’n aspek wat “groen poësie” mee omgaan?

Ikonisiteit gaan natuurlik oor soveel meer as net die uiterlike tipografie van die gedig. Dit is wel so dat die bladspieël en die wit van die bladsy groter prominensie het in die sogenaamde groen poësie, veral waarneembaar by die Kanadese ekodigters. Die bladsy word ’n plek, ’n terrein of perseel waarop bepaalde ruimtelike patrone neerslag vind – ’n materialisering van die gedig.

’n Ikoniese gedig is veronderstel om die leser in ’n energieke ontmoeting te plaas met die materiaal en materialiteit van skryf: die alfabet as sisteem van lyne en hoeke; herhalings van komponente; fisiese en visuele lyne. Die digter orkestreer die alfabet en woorddele as visuele rym en die aandag verskuif vanaf die transparante funksie van betekenis na die konkrete funksie van plek op papier. Die digter is besig om die fokus van die leser te manipuleer en te beheer, selfs te disoriënteer. Ritmiese stiltes, perkussiewe enumeratiewe herhalings en die oopmaak van spasies tussen woorde verkry ’n betekenis in sigself.

Ikoniese gedigte word dikwels nie as hoofstroompoësie gesien nie, maar die speelse en selfs dramatiese aanslag daarvan, boei my. Om te dink hoe die oog moet kyk, hoe die bladsy en die gedig self plek word, maak die digter deel van die materialiseringsproses, maak die lesende leser ’n kykende leser op ’n konkrete vlak.

’n Boeiende gedig is “Xolobeni Mineral Sands, Wildekus” (87). Hier word melding van gemaak dat dit “na ’n gedig van Derek Walcott is“. Kan jy vir ons aandui watter gedig jy hier in gedagte gehad het?

Is Walcott ’n gunsteling op jou boekrak?

Walcott se uitbeelding van land en see en sy verwoording van veral die Karibiese eilande vertoon ’n intense gewaarwording van die verhouding tussen plek en bewussyn en gewete, waarby ek aanklank vind. Enkele versreëls uit die lang gedig “Omeros” het my aandag getrek weens die toepaslikheid daarvan op die gebeure wat oor die afgelope aantal maande ontvou het by Xolobeni aan die Wildekus.

Na maande van intimidasie, geweld en die uiteindelike sluipmoord op mense wat die voorgenome mynbedrywighede deur ’n Australiese mynmaatskappy by Xolobeni teenstaan, word daar nou in die media ook oor Gupta-betrokkenheid en grondkaping gespekuleer.

’n Mens vra vrae: is hierdie lewens nie belangrik nie? Is die mense wat ’n leeftyd daar woon se stemme nie belangrik nie? Hoekom word ons natuurlike omgewing minderwaardig behandel? Waar kom aardreg te pas?

Benewens ooglopende omgewingsrisiko’s is daar die wit-, rooi- en swartmanglietwoude in die strandmeergebiede by Xolobeni (ironies beteken die naam Xolobeni “plek van hartseer”) wat dien as wieg vir jong marienevisse en skulpdiere. Die raar Manglietvisvanger is ook inheems aan hierdie gebied. Dit is die Wildekusstrook waar ’n versteende woud in die rivierbeddings van die Mazambarivier gevind kan word en wat die hoogste konsentrasie fossiele bevat, waarvan sommige gedurende laagwater ontbloot is, wat die bestudering van die beweging van tektoniese plate moontlik maak en wat, na raming tussen 84 en 86 miljoen jaar oud is.

fossiele

Fossiele blootgelê tydens laagwater (Foto en blog: http://simontothemax.blogspot.co.za/2009/06/red-dunes-of-xolobeni-curse-of-black.html)

Dit is ironies dat inwoners van ’n land soos Australië, wat self so intens sy eie grense teen stroping bewaak, gewetenloos toesak op teikens in Afrika en dit vir geldelike gewin probeer uitbuit. Dieselfde geld natuurlik vir die dreigende skaliegasontginning van die Karoo en Oos-kaap deur die Shell-maatskappy.

Susan, sou jy jouself as “ekodigter” identifiseer of is so ’n etiket nie haalbaar vir jou as digter nie? 

’n Doelbewuste groepering of etikettering kan verskralend inwerk en ek sal altyd versigtig daarmee omgaan.

Terselfdertyd besef ek egter dat weens die invloed van my spesifieke belangstelling in ekopoësie en –teorie daar ’n bepaalde “insuur” plaasvind wat my siening van dinge en my eie werk beïnvloed. Ek dig oor allerlei dinge; in hierdie spesifieke bundel het daar ’n onbewuste weerspieëling tot stand gekom met dit waarmee ek op ander plekke in my lewe besig is – ’n bewussyn vir die bevraagtekening van hiërargiese strukture, die bevraagtekening van benoeming, wat in essensie ook ’n soort toe-eiening is, wat juis die hiërargiese bewussyn uitkalwer.

Ten laaste: watter gedig uit die aarde is ’n eierblou ark sal jy graag met Versindaba-lesers wou deel?

Moontlik is dit gepas om af te sluit met die slotgedig in die bundel, “Missa Gaia: ’n hooglied van die kompos”:

 

Ons is van die aarde

en ons sal terugkeer

aarde toe. Ons bemin

die onthegte blomme;

die geknakte stingels

is vir ons mooi. Kyk hoe lieflik

die molmwording van fyngesnaarde

blare; ons hoor die inleidende korale

van nagskoflarwes. Die sonate

van Latour se liewe wurm-

en maaierwerkers het ons lief;

in u wonings van fosfaat-

en kalsiumvlegsels grond

is ons tuis.

 

Wys tog, sielsbeminde, waar u

die takkies neerlê,

waar u nuwe steggies plant.

 

Ons is die wemeling van donker sterre

onder die grond; die engele

se heilige mikropartikels

wat die kosmos tot kontoer

en gefermenteerde leefspin smee.

 

Ons is van die aarde. Die aarde

het ons gemaak.

 

.

Onderhoud met Ronelda S. Kamfer (Hammie)

Wednesday, February 10th, 2016

hammie combineRonelda Kamfer gesels oor haar nuutste digbundel “Hammie”

met dr. Gisela Ullyatt

.

Ronelda, baie geluk met jou derde bundel.

Hammie is opgedra aan Allisen Gertrude Kamfer, jou moeder. Heel aan die begin van die bundel kry die leser ’n glimp van Hammie deur die volgende aanhaling: ‘Ronelda, jy is my kind en jy bly my kind tot die dag wanneer die maan ’n ander naam kry’ (November 1999, Stratford Green, Eersterivier). Dit is byna of die leser, deur die lees van hierdie aanhaling, mede-getuie van Hammie se direkte woorde word. Die detail (datum en presiese plek) is verstommend. Is dit ’n spontane herinnering of het jy dit byvoorbeeld iewers neergeskryf daardie tyd? Was dit moeilik om hierdie baie persoonlike aanhaling met die leserspubliek te deel?

Dis woorde wat my ma aan my gesê het na ek uit die hospital gekom het na ek overdose het op prescription pille. Dit het my by gebly.

 

Ronelda, vertel ons meer van die aangrypende voorbladfoto? Kan lesers aanneem dat dit Hammie is? Hoe het jy op hierdie spesifieke foto besluit?

Dis ’n foto van my ma op Southfield stasie; sy het vir jare daar gewerk. Ek het ’n ander foto in gedagte gehad vir die voorblad, maar toe ek en Nathan so deur die foto’s van my gekyk het, toe val sy oog op hierdie foto en hy insist dít moet die voorblad wees.

 

Jy maak gebruik van drie bundel-motto’s uit die musiekwêreld: REM se ‘Nightswimming’; Elbow se ‘The night will always win’ en Tupac Shakur se ‘Dear mama’. Wat opval uit hierdie lirieke is die nag-motief wat later ook deur die bundel ontgin word. Hoekom hierdie aanhalings en het hierdie songs ’n bepaalde invloed gehad met die skryf van die gedigte wat later die bundel sou word? Skryf jy meestal met of sonder musiek?

Nightswimming’ en ‘The night will always win’ was maar net swaar om van weg te kom terwyl ek geskryf het; vir my is die swaarste tyd om aan my ma te dink in die nag, wanneer al die distractions van die dag weg is en ek is alleen met my gedagtes. In ‘Dear Mama’ is daar ’n line: ‘Even as a crack fiend, mama you always was a black queen’ dit vang heeltemaal vas wat ek wou doen met Hammie, die eerlikheid waarmee Tupac geskryf het oor sy ma vir wie hy baie lief was sonder om weg te skuil van die contradictions binne haar. ‘Dear Mama’ is ’n deeply significant song vir enige Coloured persoon wat in die 90’s grootgeword het in armoede. Dit is soos ons eie klein, persoonlike National anthem.

.

Op die agterblad sal die leser die volgende beskrywing vind: ‘Die verse eggo temas uit Kamfer se vorige werk en het ’n sterk outobiografiese inslag’.

In After Confession: Poetry as Autobiography (2001), skryf Kate Sontag:

[…] the question remains: to what extent do we need permission when we reveal family secrets or use as subject matter the personal lives of our relatives and friends, and to what extent do we own the material once we have transformed it into poetry?

Hoeveel moet ’n digter ‘reveal and conceal’? Pas jy enige self-sensuur toe in jou skryfproses? Hoe reageer jou familie op jou poësie?

Alles wat ek oor skryf is goed waaroor ek kan praat; ek reveal nooit enige secrets in my gedigte nie. Ek probeer altyd dat my eie stem alles en almal waaroor ek skryf oorheers; ek is eintlik baie protective oor mense en veral hulle stories. Na my ma se dood het my familie en my idee van familie baie kleiner geword.

 

Om aan te sluit by die kwessie van outobiografie: die agterblad maak ook melding dat jy ‘dig oor die sosiale kwessies rondom taal, kultuur en geskiedenis’. (a) Dis moeilik om nié jou poësie in sy sosio-politiese konteks te lees nie. Die volgende gedig spreek vanself (71):

 

Apartheid

 

toe ek klein was

het ek eendag

my ouma vir ’n wit man

hoor baas sê

ja my baas

 

ons was op ’n bus

terug plaas toe

toe ek ouer was

het my ma my vertel

hoe sy twee boerklongens

 

uitgekak het een oggend

die een het ’n blikkie na haar

en my antie geskop

 

sy het die blikkie opgetel

hy het gevra wat nou hotnot

 

toe gooi my ma die blikkie

terug en sê is omdat jou

voorouers nie hulle trille

in hulle broeke kon hou nie

dat jy vir my kan skrie hotnot

jou vuilgat

 

ek het gewens iemand

noem my ’n hotnot to my face

sodat ek ook daai line kon gebruik

 

toe eendag

ek dink dit was net na

die einde van apartheid

is ons Clovelly beach toe

ek en my suster

het in die vlakwater gespeel

twee wit mans het verby ons gestap

ek kon die een hoor sê

is dit nou mooi

 

blêrrie kaffers

ek het niks terug

gesê nie

Edward Hirsch (2014) skryf soos volg oor die term ‘political poetry’: ‘[…] the madness of any country’s brutality has often wounded its poets into a political response in poetry’. Voorts sê Hirsch: ‘a political poem need not be a didactic poem. It can be a poem of testimony and memory’.

Tot watter mate stem jy saam of nié saam met Hirsch se aanhaling? Kan die ‘political’ ooit van die ‘personal’ geskei word?

 

(b) Verder, kan poësie die wêreld verander of nie? Ek dink hier aan W.H. Auden se ‘In Memory of W.B. Yeats’:

 

Mad Ireland hurt you into poetry.

Now Ireland has her madness and her weather still,

For poetry makes nothing happen: it survives

In the valley of its making where executives

Would never want to tamper, flows on south

From ranches of isolation and the busy griefs,

Raw towns that we believe and die in; it survives,

A way of happening, a mouth.

Vir my persoonlik is dit onmoontlik om die persoonlike te skei van die political. Die political geskiedenis is soos ’n groot skaduwee wat val oor als, wat slightly die kleur change van als rondom jou. Dit sal dalk nog verander, maar dis soos ’n sunrise wat vir ewig vat om te kom. My ouers was gevorm in die crucible van Apartheid: ek is ’n result van wie my ouers was, so wat maak dit my?

 

Terselfdertyd is die spreker in Hammie ’n ontheemde individu; die toonaard dié van geweldige isolasie en vervreemding van die self en ander, soos veral gesien in ‘Slapende honde’ (59):

 

[…] jy gaan waves maak

Afrikaans op sy kop draai                                                   

 

pryse wen

die wêreld aan jou voete

’n tipe Jonker/Krog/Bukowski mash-up

 

gelukkig het ek

hulle nie geglo nie

omdat ek weet

hoe mense is

 

hulle is kak

hulle hou van ’n vrou

in pyn

hulle hou van ’n dronk suicidal

teef

met genoeg suicide

vir hulle om op af te jerk

en genoeg teef om te admire

 

Sal lesers verkeerd wees om Ronelda S. Kamfer as ’n nihilistiese digter te sien?

Ja. Ek is ’n eerlike persoon so ver ek kan sien. Dis die wêreld wat nihilisties is.

.

Jy verkies om in Afrikaans te skryf, maar in ‘Rocco de Wet’ (61) het die spreker geweldige ambivalente gevoelens oor haar taal, veral in die laaste vier versreëls:

 

ek skryf in Afrikaans

die taal van die duiwel

die engel met die

superiority complex

 

Dink jy dat Afrikaans ooit hierdie ‘superiority complex’ sal kan afskud of sal die taal altyd ’’n ‘inherent paradox’ bevat?

Ek dink die taal is besig om sy relevansie te verloor en daarmee sy krag; ek dink dat vir die taal om te oorleef gaan dit sy dancing shoes moet aantrek en bietjie gaan mingle met ander tale. Ek is van ’n generasie wie nog geworstel het met taal en kultuur, dis meer ’n persoonlike gevoel waaroor ek in hierdie gedig skryf. Ek dink nie dis iets regtig belangrik vir jonger generasies nie, ek dink Afrikaans het lankal sy superiority verloor, nou sit dit net met ’n complex.

.

Terselfdertyd is die manlike figure in Hammie gewelddadig (‘Box cutters’:36; ‘Tronk-teaparty’:51) of pedofiele (‘Getuienis’:58; ‘Uncle Jerry’:70; ‘Hulle wattie afgie nie’:80).

Een van die digters wat jou die meeste beïnvloed het, was Charles Bukowski. Alhoewel Bukowski allermins ’n pedofiel was, is hy nie juis ’n gunsteling onder sommige feministe nie. Hoe versoen jy sy ‘dirty old man’-poësie (ek dink hier ook veral aan sy prosa-titels, Notes of a dirty old man (1969) en Erections, Ejaculations, exhibitions and General Tales of Ordinary Madness (1972)) met:

 

ek het dicks gehaat

veral die middle-aged dicks waaraan ek

by daai tyd al unwillingly exposed was

 

Bukowski het hom surround met mense en vrouens soos homself; ek ken mense soos Bukowski en ek ken die soort vrouens oor wie hy skryf. Hulle vestaan mekaar, hulle soek mekaar uit, dis nie vir my om kommentaar daarop te lewer nie, en dis nog minder die rol van ’n middle-klas wit vrou (Amerikaanse feministe) wie niks ken omtrent die lewens van arme mense nie. Ek dink ook dis klein bietjie unfair om vir Bukowski te band met die paedophiles; dis ’n bietjie harsh, hy het self ’n dogtertjie gehad. Die snaakse ding is dat die regte paedophiles lyk nooit soos Bukowski nie, hulle is altyd die ordentlikste, kerklikste mense.

 

Jy is getroud met Nathan Trantraal, aan wie die Ingrid Jonker-prys (2015) toegeken is. Hy het ook die ATKV-veertjie vir Poësie (2014) gewen. Jy self is ‘n bekroonde Afrikaanse digter wie se digkuns ook in Nederlands vertaal is. Die Jan Rabie Marjorie Wallace Skrywersbeurs is ook aan jou toegeken. Het elk van julle ‘n skryf-roetine wat in harmonie is (byvoorbeeld: skryf julle albei gedurende die dag) of verskil dit hemelsbreed?  Staan julle krities teenoor mekaar se werk of los julle dit vir die redakteur?

Ons skryf vir mekaar. As ek iets skryf wat hy nie van hou nie eindig dit gewoonlik op die cutting floor en vice versa. Ons lees mekaar se werk regdeur, vanaf die eerste drafts na die eindproduk. Die idee is gewoonlik om so min as moontlik aan ’n redakteur oor te los.

Ek skryf gewoonlik gedurende die dag, maar ek stoor idees en gedigte op vir weke en dan vat ek ’n paar uur om ’n set van so twee tot vier uit te skryf. Nathan is ook ’n cartoonist en ’n rubriekskrywer so hy doen dit meeste van die tyd en skryf gedigte wanneer hy kan, somtyds baie vroeg in die oggend of baie laat in die nag, so van twee uur die oggend af, maar hy skryf amper elke dag.

 

In haar zuihitsu, ‘blunt instrument’, konstateer Kimiko Hahn: ‘I completely despise remarks about poetry being therapeutic. So is kicking in a door. Therapy in print – that’s for journal entries’. Was die oopskryf van jou ma se afsterwe enigsins terapeuties of stem jy eerder saam met Hahn?

In my eie persoonlike experience is dit nie therapeutic om oor dinge te skryf nie, dis nie soos om dinge uit te praat nie; dis ’n werk, miskien is om te werk therapeutic, dieselfde soos dit dalk vir ’n mechanic sou wees om terug na sy karre te gaan en sy hande besig te hou en sy mind ’n ruskans te gee. Ek voel certainly nie nader daaraan om my ma se dood te verstaan nie.

.

Ronelda, deel met ons ’n gedig uit Hammie?

.

Waarheen die goeies gaan

vir prof. Jakes Gerwel

.

soms verbeel ek my

ek sien die sand dans

soos kindertjies in water

die bome huil

soos iets wat ’n prys gewen het

en blomme kniel

asof adellikes verby ry

omdat hulle kan sien

waarheen die goeies gaan

ons wat agterbly treur

want die wêreld word stiller

en goedheid word minder

ons dans nie

ons huil nie

ons kniel nie

ons sien nie

.

***

Onderhoud met Nini Bennett (Boekstaaf)

Tuesday, June 9th, 2015

Boekstaaf: Onderhoud met Nini Bennett deur Gisela Ullyatt.

 

1. Van harte geluk met jou nuwe bundel, Nini. Die voorblad van Boekstaaf toon ’n skildery van Liekie Fouché, genaamd Another world is calling, wat herinner aan René Magritte se bekende man met die bolkeil en jas. Wat my opgeval het, is dat die figuur in Fouché se skildery ’n manlike subjek daarstel. Is daar ’n rede waarom jy, as vroulike digter, hierdie invalshoek gekies het? Of verwys die figuur na die gedig, “Die man met die grys tas” (11): “Dan stap ek en hy spieël hom / teen ’n lewende skilderdoek”? Hoe het jy op die voorblad besluit?

Baie dankie, Gisela. Ek het aanvanklik ’n ander ontwerp gehad. Die literator by Cordis Trust wat die manuskrip ná keuring moes afteken vir publikasie, het egter beswaar gemaak teen die omslag – dat dit strak en verbeeldingloos vertoon. Ek het met toestemming van dr. Fanie Marais (van Cordis Trust) vir Liekie Fouché gekontrakteer vir ’n nuwe omslagontwerp. Ek hou van haar werk, veral die uitbeelding van wolke en water. Ek het grafika aangestuur (onder meer voorbeelde van Goth– en post-apokaliptiese musiekalbums se ontwerpe), en breedweg vir haar verduidelik wat ek wil hê. Dit het ’n man met ’n jas, hoed en tas voorgestel. Liekie het haar eie vertolking aan die idee gegee en die skildery gemaak. Die ontsluiting van René Magritte se werk skakel ook plek-plek met die surreële sfeer in die bundel, asook die titel,  Another world is calling, wat die alternatiewe werklikheid van die bundelkonteks suggereer. Die omslag verwys inderdaad na “Die man met die grys tas”, maar ook na ander enigmatiese figure in sommige van die gedigte. Die ontwerp kan natuurlik ook ’n androgiene figuur voorstel – dis oop vir interpretasie.

2. Ter aansluiting by die voorblad: die subjek dra ’n bolkeil. Die programgedig, “Da Capo”, aktiveer die hoed-motief reeds in die tweede versreël: “is min dinge so leeg en eensaam soos ’n hoed”. Alhoewel die gedig dit aan die leser oorlaat watter hoed  hy/sy visualiseer, kan ’n konnotatiewe betekenis aan die laaste twee reëls toegeken word: Milan Kundera se The unbearable lightness of being. Sabina, die minnares van Tomáš, die protagonis, is baie geheg aan ’n bolkeil wat ’n nalatenskap van haar oupa is. Hierdie bolkeil simboliseer verskeie moontlikhede wat geleidelik deur Kundera ontplooi word, veral die verwikkelde seksuele kode tussen die twee minnaars.

[…] Ek het jou liefgehad

soos ’n hoed of ’n eenvoudige profesie.

Wat was die stukrag agter dié gedig?

Die eerste prikkel met die skryf van die gedig was ’n sensuele toneel in die film Modigliani (2004), waar dié skilder en sy minnares, Jeanne Hébuterne, op speelse wyse vir mekaar ’n hoed aangee en daarmee flankeer – soortgelyk aan die hoedkodes wat The unbearable lightness of being oproep. In ander tonele word die hoed verwissel tussen Modigliani en Picasso, en suggereer dit ’n magspel. ’n Hoed het my nog altyd gefassineer as die ‘getuie’ van iets, en in die bundel is dit waarskynlik ’n simbool van reis deur tyd en ruimte en die blootlegging of versluiering van identiteit. Da capo, wat beteken “herhaal vanaf die begin/kop” hervat weer die sikliese gang van die bundeleenheid ná die slotgedig: […] “en alles / neig van voor af na vuur”.

3. Die bundeltitel is veelvlakkig. Was daar ander werkende titels waaroor jy besin het voordat jy die finale titel-keuse gemaak het?

Ek het die titel Fynskrif in gedagte gehad waar laasgenoemde onder meer die lesersooreenkoms  tussen leser en outeur voorstel en waarin poësie as implisiete taal sou gestalte vind binne dié “kontraktuele verbintenis”. Ongelukkig het die basiswoord “skrif” met nuwe prefikse in velerlei gedaantes verskyn as boektitels en afdelings in bundels en gevolglik het ek die titel verander. Met Fynskrif was ek ook versigtig vir ’n moontlike soetsappige konnotasie met kalligrafie. Dus het ons op Boekstaaf besluit.

4. Die bundel het vier afdelings: Deel i fokus op die boekstawingsproses van die spreker se geliefde asook die metaforisering van hulle donker en soms dodelike passie vir mekaar; Deel ii se oorkoepelende tema is ekopoëties; in Deel iii is verlies veral opmerklik asook gedigte met ’n filmiese invalshoek. In Deel iv is verganklikheid die fokale punt. Het hierdie temas organies ontwikkel en watter het jy op ’n bewustelike vlak geëksploreer en nagevors?

Die meeste gedigte het organies ontwikkel. Ek maak sterk staat op intuïsie as ek skryf, en skryf slegs as ek iets het om te sê. Aanvanklik het ek gedigte losweg volgens tema en stemming gerangskik. Ek lees wyd oor natuurverskynsels en wetenskapverwante onderwerpe. As iets my boei, maak ek ’n punt daarvan om dit in diepte na te vors. Ek het veral met die ekoverwante gedigte organismes deeglik geëksploreer en ook die films waaroor ek geskryf het, twee of drie maal gekyk.

5. Wie beskou jy as dig-mentors, hetsy op direkte of  indirekte vlak (byvoorbeeld ’n digter wat jy nog nie ontmoet het nie, maar wie se oeuvre jou boei)? Wie is jou ideale leser, die eerste persoon wat jy toelaat om ’n nuwe gedig van jou te lees? Wie of wat inspireer Nini, die mens, en ook Nini, die digter?

Ek het nie ’n formele digmentor nie, maar wel ’n paar digtersvriende met wie ek kan klankbord oor nuwe gedigte. Ek benut elke kans om te leer, maar dis veral die oeuvre van Marlene van Niekerk, Breyten Breytenbach en Tom Gouws wat my boei. As digmentor moet ek self beproefde en nuwe studiemateriaal internaliseer, en ek het nog altyd wyd gelees.  Die eerste persoon wat ek toelaat om ’n nuwe gedig onder oë te neem, is my lewensmaat, Mellet Moll. Ek is bevoorreg om in die dampkring van ’n persoon met so ’n buitengewone intellek en aanvoeling vir digkuns te leef. Enige iets kan my inspireer, maar normaalweg is dit ’n prikkel wat uit visuele waarneming ontstaan en wat lei tot ’n onderwerp wat ek in detail wil ondersoek. Inspirasie kan ook spruit uit ’n gevoelsbegrip vir iets of iemand. Die sneller daarvan is gewoonlik  ’n melankoliese gewaarwording.

6. ‘Baragwanath-hospitaal, 18 Desember 2006’ (3) aktiveer ’n hospitaal-ervaring en is opgedra aan G. Bennett, wat die leser laat vermoed dat die gedig ’n sterk outobiografiese element insluit. Was dit vir jou ’n moeilike proses om hieroor te dig?

My eerste man is oorlede toe ek 34 jaar oud was. Die aflegging van die proses was moeilik, maar toe ek die gedig geskryf het, het ek soos ’n buitewaarnemer ingekyk op die situasie en niks gevoel nie. Die gedig bevat wel elemente wat emosioneel die waarheid is. Miskien was die gedig vir my simbolies die afsluiting van ’n siklus en die begin van ’n nuwe tydvak.

7. Nini, nie net is jy  ’n bekende en geliefde aanlyn digmentor nie, maar ook het jy by vanjaar se Woordfees saam met digters soos Danie Marais ’n poësie-slypskool aangebied. Ook skryf jy ’n Poolshoogte-artikel vir LitNET oor  die aanlyn-digkunsakademie (http://www.litnet.co.za/Article/poolshoogte-die-bedryf-van-n-aanlyn digkunsakademie.) Verruim en verskerp mentorskap jou eie digproses? Watter keuringsprosedure volg jy wanneer voornemende digters vir mentorskap by jou kom aanklop en moes jy maar ook al ’n paar die virtuele deur wys?

Mentorskap verruim en verskerp inderdaad my eie digproses. Ek leef in noue interaksie met die digters saam, al is dit aanlyn. Ek gaan saam met hulle deur al die soms gebroke prosesse van digterskap en ontwikkeling, en elke klein triomf voel  soos my eie. ’n Digmentor is ook maar ’n sielkundige – jy kan nie die mens en digter in kompartemente begrens nie. Ek maak gebruik van holistiese onderrigmetodes om kreatiwiteit te stimuleer en ’n liefde vir literatuurstudie aan te moedig.  Uiteraard bly ek woordfiks en soek ek gedurig na nuwe materiaal vir my program. Ek het al ’n paar mense die virtuele deur gewys. Voor ek iemand aanvaar, kyk ek na, naas die lewensvatbaarheid van talent, ook na die ‘pakket’ as mens: intelligensie, of die persoon skeppend is in ander velde, beroep en kwalifikasies, ensovoort. Die korrekte digtershouding is ook belangrik: of die persoon ontvanklik sal wees vir die leerkurwe wat die program bied.

8. Cordis Trust was ook die uitgewer van Kodeks,  jou debuutbundel. Hoekom het jy besluit om weer by hulle te publiseer en nie byvoorbeeld by Tafelberg nie?

Ek het ’n verbintenis met dr. Fanie Marais van Cordis Trust sedert 2011. Cordis Trust is ’n huis met baie wonings, en Cordis Trust Publikasies is ’n onafhanklike uitgewer van nispublikasies. Cordis Trust maak gebruik van dieselfde keurders, kunstenaars en medewerkers as die hoofstroomuitgewers. Ek het vertroue in die gehaltekontrole waaraan nuwe bundels onderwerp word en dat Cordis poog om afgeronde produkte die lig te laat sien.

9. Een van die gedigte wat my opgeval het, is “Ave Kundera” (20):

Filigrein in wolke

kristallyne van riviere

 

die sonvlekke skadu voëls

en ek sweef deurskynend

 

ek is die vliesare van gevleueldes

 

ek, die skoenlapper

wat vlieg met gebrandskilderde vlerke.

Die beeldgebruik, ‘sweef deurskynend’, ‘vliesare van gevleueldes’ en ‘skoenlapper’ ondersteun die idee van ligwees en vryheid. Om aan te sluit by ’n vorige vraag: hou hierdie metaforiek sodanig verband met Kundera se The unbearable lightness of being? Of is daar ander motiewe in Kundera se oeuvre wat jy as basislyn vir die gedig gebruik het? Wat wou jy met die titel aktiveer?

Die gedig is geskryf as ’n vlugtige saluut of groet aan Milan Kundera. Die metaforiek speel in op The unbearable lightness of being. Die vlug van die skoenlapper (die beliggaming van lig(wees)) binne ’n groter landskap wat sélf lig is en as’t ware deur die skoenlapper morf, aktiveer ook ander temas soos sterflikheid, ewigheid, en eksistensiële gewigloosheid versus gewigtigheid.

10. “Hoogskrif” (22) is ’n aangrypende gedig (reëls 1-4):

Die mooiste God het ek bemin

 

in my kinderbybel met die af rug:

Noag se ark, Moses se staf

en Simson en die leeu.

 

’n Deurlopende tema is die spreker se worsteling met haar godsbegrip wat wissel tussen verwondering en teleurstelling. Sou ’n agnostiese leser hiermee kon identifiseer? Of iemand met byvoorbeeld ’n Calvinistiese agtergrond wat gaandeweg sinies oor godsdiens geraak het?

Ek dink dat ’n agnostiese leser wel met die gedig sal kan identifiseer. Daar is baie ware geloof in twyfel en baie twyfel in ware geloof. Die gedig mag dalk ’n bittersoet herinnering by die agnostikus laat; die gedig kan waarskynlik ook as tipe geloofsfabel van die spreker gelees word. Daar moet gelet word daarop dat min individue agnosties gebore word. Die meeste mense word groot binne ’n religieuse tradisie en neem daarna die vryheid op om hulle eie besluite te neem. Daarom is die nostalgie wat die gedig opwek, myns insiens steeds universeel.

11. ’n Sterk ekopoëtiese inslag word gevind in Afdeling ii se gedigte. Titels soos “Kremetart” (31) en “Slak” (32) utiliseer sub-titels waarin die Latynse naam voorkom. “Vuurgees Strelitzia reginae” (38) is ’n treffende voorbeeld hiervan:

Strelitzia brand blou

voor dit oranje spring

en sketterend spits in

kroonblare wat vlamme mimiek,

want Strelitzia is vuurgees

kraanvoël- en piesangblom

rebelse hibried

blouvuur: botanie

se avonturier.

Vertel ons van jou belangstelling in ekopoësie en wie in hierdie konteks jou grootste invloede, teoreties- en poësiegewys, is.

Ek stel eerstens belang in die brandpunte op die wêreldagenda wat sentreer rondom die volhoubaarheid van die planeet: ekologie, bio-ekonomie, klimaatsverandering, energie- en watervoorsiening, ruimteverkenning, sosiale transformasie en die verligting van armoede. Die geskiedenis het bewys dat die politici nie baie suksesvol is in die oplossing van hierdie vraagstukke nie, dus moet denkleiers, wetenskaplikes, akademici en ook skrywers hande vat om hierdie uitdagings aan te spreek. Sover moontlik probeer ek die werksaamhede van die Zeitgeist Movement, The Club of Rome en The Tesla Foundation volg. Ek is lief vir die wetenskappe en genereer dikwels idees vir my gedigte uit joernale wat ek lees. Belangrike eksponente van ekokritiek en -poësie in Afrikaans is onder meer Susan Smith, Johann Lodewyk Marais, Hennie Nortjé en Marlene van Niekerk.

12. ’n Gedig waaroor ek jou graag wil uitvra is “Skulp” (49). Jy voer aan dat dit na ’n idee van e.e. cummings geskep is. Kan jy met die nuuskieriges onder ons deel of daar ’n spesifieke gedig was wat jy in gedagte gehad het of was dit ’n tema of motief in sy gedigte? Wat beteken cummings se oeuvre vir jou?

Die gedig, “no time ago” van Cummings het my op die idee gebring van ’n Christus wat ’n eensame wese is; dat ’n verhouding met ’n Christus ’n verhouding met eensaamheid (self) word. Daar is egter ’n paradoksale vervulling of volkomenheid in só ’n verhouding, waarin die skulp as konkrete matrys (en metafoor) laasgenoemde klandestiene verhouding huisves. Ek hou van Cummings se oeuvre omdat hy ’n grensverskuiwer was en hom nie deur die kanon laat stuit het in sy tipografiese eksperimente nie. Ook vind ek Cummings se ideebeelde en metaforiek verfrissend.

13. Jy gebruik onder andere prosodiese digvorme soos die villanelle in “Changing of the guards” (52) en “Apollo-ligte, 1969” (66). Is daar ’n tendens in resente poësie om na tradisionele digvorme terug te keer? Indien dit die geval is, waarom?

Ek vermoed dat digtendense ook maar soos modegiere kop uitsteek. Die afgelope paar maande het ek byvoorbeeld ’n toename in die voorkoms en frekwensie van die villanelle bespeur – aanvanklik eers deur gesoute digters op die sosiale media; later deur digters op gesaghebbende webwerwe. Villanelle-kompetisies is uitgeskryf en boekpryse is uitgeloof. Dit lyk of digters gaandeweg weer terugkeer na tradisionele digvorme, alhoewel die vrye vers steeds die botoon voer. Digters hou van uitdagings – en ná die eksploitasie van die vrye vers vir soveel dekades word ’n tradisionele digvorm weer as ’n ‘nuutjie’ ervaar. Dit word ook vergesel met ’n mate van trots as ’n digter ’n versvorm, wat dissipline vereis, kan bemeester. Die verwagtingshorison en kanon van die dag dikteer ook in ’n sekere mate digters se gedrag.

14. Jou gedigte spreek ook van musikale kennis (soos gesien in die titel “Da Capo”) en liefde vir musiek; musikale terme word plek-plek gebruik. Ook is jou gedigte  klankryk. Was daar enige spesifieke snitte, groepe of komponiste waarna jy geluister het terwyl jy aan die bundel gewerk het of het jy merendeels stilte nodig om te dig?

Ek skryf met stilte en musiek; dit hang af van die gedig. As ek ’n sekere stemming wil skep wat emosioneel evokatief is, luister ek na die musiek van Goth-groepe, soos Diary of dreams, Lacrimosa, of na Saint-Preux, Chopin of Steampunk. As ek in stilte werk roep ek soms die musiek  in my geestesoor op; die musiek is binne-in my.

15. ’n Gedig wat diep tref (“In memoriam”:78) aktiveer die tema van buitestanderskap of ‘die Ander’ (the Other) wat buite die veilige verwysingsraamwerk van die burgerlike samelewing val:

in Weskoppies sterf mense

grafloos; geen steen of muur

vir siele wat  ongebreideld

loot uit ’n saligspreuk nie

maar volmaak

in die aarde ankerskiet –

in Weskoppies groei roosbome

kransstandig gekruis op mense

se dood en herinner

 

dat psigiatrie steeds die stiefkind

van die mediese wetenskap is.

 

Werp vir ons lig op die laaste twee versreëls.

Ek het empatie met mense wat swaarkry of ly. In die geval van psigiatriese pasiënte is daar soms ’n beletsel op hulle handelingsbevoegdheid, en pasiënte wat geïnstitusionaliseer is, se familie versaak hulle gewoonlik. Sulke mense is baie kwesbaar. As gevolg van negatiewe etikettering verloor hulle persoonlike geloofwaardigheid. Die Wet op Geestesgesondheid bly ongelukkig in gebreke om sulke pasiënte te beskerm en hulle sterf uiteindelik eensaam en alleen.

16. Laastens: kan jy vir ons jou gunsteling gedig met ’n liefdesmotief uit Boekstaaf aanhaal? Waarom lê hierdie gedig jou na aan die hart?

“Nabeeld” was een van die eerste gedigte wat ek geskryf het nadat ek my lewensmaat, Mellet Moll in 2012 ontmoet het. Een van sy stokperdjies is fotografie, ’n kunsvorm wat albei van ons se digkuns aanvul. Ek kan lank na foto’s kyk en word veral geboei deur die ‘binnebeelde’ wat in die oënskynlike skuil. Ek het nie gedink ek gaan weer gedigte skryf nie, maar Mellet se geesdrif met sy eie digkuns was aansteeklik. Ook het ek nooit gedink dat ek my sielsgenoot sou vind nie. Dié gedig was ’n rigtingwyser vir ’n besondere tyd in my lewe, alhoewel die inhoudelike oor afskeid en afsluiting van ’n vorige lewensfase handel.

Nabeeld

Foto: ’n snipsekond wat vir ewig leef.

Daar is soveel ruimtes om jou, waarom

het ek dit nie voorheen gesien nie?

Of tolk tyd sy eie gapings? My geestesoog

dissekteer jou digitaal. Wat wás

die splytsekond tussen strooilig en sluiter,

die binnekyk van die lens se dun ooglid?

Ek skandeer dieper rondom jou ingeskulpte

liggaamstaal en droom van jou, beminde,

’n nabeeld uitgegloei in die matrys van tyd.  (16)

Baie dankie vir stimulerende en interessante vrae, Gisela.