Posts Tagged ‘Ons ongehoorde soort’

Amanda Lourens. As jou vervaldatum verstryk

Wednesday, February 2nd, 2011

Desmond Painter se onlangse blog oor die versnelling waarmee die geskiedenis deesdae voortbeweeg, het my baie laat nadink oor die geweldige pas waarteen ons wêreld oornag verander, hom eintlik herontwerp.  Natuurlik was verandering nog altyd deel van die kosmos, maar kosmiese veranderinge en ook evolusie op aarde praat van tydperke wat so lank is dat ek my dit op geen manier kan indink nie. Soos Desmond geïllustreer het, word voorwerpe nutteloos nog voor die verweer dit kon beetkry.

 

 Maar al kan ek my banksake nou gerieflik in lugversorging afhandel, wonder ek of daar nie ’n dag sal kom wanneer my senuweeimpulse en oordragstowwe bloot te kort gaan skiet nie.  Dat ek nie sal kan byhou met al die veranderinge nie; dat ek op ’n dag gaan voel: dis net te veel, te vinnig.  Dat ek die internet van 2050 (of wat die informasiesnelweg van die toekoms ook al mag wees) net nie sal kan hanteer nie. Dat ek liewer gaan besluit om ou musiekvideo’s uit die tagtiger- en negentigerjare te kyk, in die gees gaan terugkeer na die stadiger wêreld van my skool- en studentedae en sal sug dat die lewe toe darem sóveel beter was.  Soms voel ek asof ek alreeds daar is as my laerskoolkinders my ietwat neerbuigend wys hoe die PVR nou eintlik werk, net sodat ek weer eens vergeet en hulle volgende keer maar weer tot my BBT- (born before technology is wat hierdie bedrewe klein operateurs ons noem) redding moet kom.  Kortom, ek is bang dat my ouerwordende self bloot eendag ’n buitestander gaan wees in ’n wêreld wat waarskynlik heelwat anders gaan lyk as wat Isaac Asimov of Arthur C. Clarke hulle kon voorstel. 

 

 Alhoewel dit nie hierdie presiese gedagtes is wat die spil vorm vir Krog se gedig “Dommelfei” (Verweerskrif, 2006) nie, vind ek tog in die gedig ’n blik op ’n vrou wat haar buite die bedrywighede van die media en kulturele kern bevind.  Wat my op ’n manier ontstem (en waarom moet ek nog verder uitpluis) is die voorstelling van die ouer vrou as buitestander ten opsigte van ’n wêreld waarin sy geen inspraak / meer het nie”.

 sy lees nie meer boeke

nie – dit het niks vir haar te sê

nie. sy luister nie meer

 

musiek nie – dit maak haar

onrustig en verlangend. sy

kyk nie meer televisie

 

nie – dit getuig van ’n

wêreld waarin sy geen inspraak

meer het nie. geen kinders

 

sal nou uit haar gebaar

word nie en sy weier om ander

s’n groot te maak

 

sy stel nie belang in die

magsbinnekringe van mans

nie, jong mans verveel haar

 

ou mans maak haar treurig

magtige mans revolt haar

’n rooi gemantelde kleinkind

 

met fris beentjies is op pad

na haar. sy het die eise

van geslag en gedrag

 

soos ’n voorskoot uitgetrek

en ry haar lewe

uit soos ’n lied

 

sy staan op as dit lig is

sy gaan slaap as dit donker is

sy leef met die sterre saam

en die maan wat ’n glansende

teenwoordigheid in haar huis is

 

die verwering van haar eierstokke

besweer sy met aandblom-olie, soja-

vlokke en klawer, met tinkture van

swart kohosh, wilde yam en duiwelskos

maak sy die streptokokke in haar skede

 

los. met ginseng maak sy knokke glad

hou wande nat en kook infusies

van blouslangkop en kalmoes om

kankerknoppe uit die bors te tap

met haar oggendpie gooi sy haar

 

dahlias nat. ’n bloukraanvoël stap aan

haar sy wanneer sy wilde malva vir die

salwe sny, of houtkapperskruid wat digby

groei wanneer ’n arend met enkele vlerkslag

haar gesigsveld binnesny. sy sal jou begelei:

jou dye knie, jou afsterwende vel, jou
bo-arms met balsems beny, jou versakende
hart sal sy troos.  jou oë versigtig van die
aarde loshaak, jou ore uitdoof, jou reuk
afskakel, jou tong sag inlê in jou onderkaak

 

as sy jou na die koue draai is jy alleen
– singend in geskroeide murg en been

 

 

Louise Viljoen het baie insiggewend oor hierdie gedig geskryf in haar boek oor Krog, Ons ongehoorde soort.  Hierin toon sy aan dat die ouer vrou haar losgemaak het van die gemeenskap en nou in harmonie met die natuur saamleef.  In ’n sin is dit ’n idilliese voorstelling van die moontlikhede vir diegene wat sekere sisteme doelbewus die rug wil toekeer.  Van hierdie keuses kan die individu ook help met die persoonlike groeiproses wat deel van die volwasse lewe is:  Om byvoorbeeld die “eise van geslag” (bedoelende die soms verspotte patriargale eise waaraan vroue hulle steur) af te lê, kan vir vroue van alle ouderdomme net wins inhou.

 Maar hoe gemaak as die nuwe wêreld jou op ’n dag bloot agterlaat; wanneer die  wêreld wat jy daagliks betree min ooreenkomste toon met die wêreld waarin jy gebore is en jy amper ’n Buck Rogers (wie onthou die reeks nog?) in een leeftyd geword het? En as dit boonop teen jou sin geskied, dat jy nog wil deel wees, wil agternadraf en ’n saamrygeleentheid vra?  Maar jy besef dat dit alles bloot nie meer vir jou sin maak nie, dat jy terugverlang na ’n wêreld wat nie meer bestaan nie?  Of was dit dalk die gewaarwording van al die uitgestorwe spesies wat net nie suksesvol kon aanpas by nuwe omgewings nie?     

 

 

 

 

 

 

 

 

Johann Lodewyk Marais. Voortreflike poësiekritiek

Thursday, October 15th, 2009

Die vraag kom meermale by my op wat die mooiste, insiggewendste of bes geskrewe stuk literêre kritiek in Afrikaans is. ‘n Mens sou natuurlik eers goed moet besin oor die maatstawwe vir jou keuse en net so goed moet motiveer waarom die keuse op ‘n bepaalde stuk val. Hieroor gaan ek nie in soveel besonderhede uitwei nie.

Oor die jare heen was daar in Afrikaans kritici wat met besondere werk vorendag gekom het. Een van dié is Elize Botha, wat met haar voortreflike geselsstyl insiggewend en baie onderhoudend skryf. Dit is ‘n groot vreugde om te sien hoe sy met haar belesenheid, kennis van heersende literêre strominge en benaderings, en met groot respek oor skrywers en boeke skryf. Die leser het ook waardering daarvoor dat sy selde ‘n byl te slyp het, wat so dikwels die bydraes van ander prominente figure met groot gebare kenmerk en vertroebel.

Botha het die beste opstelle oor figure soos Eugène N. Marais, Jochem van Bruggen, Etienne Leroux en Henriette Grové geskryf, wat sedert die 1960’s daartoe bygedra het om aan die Afrikaanse prosakritiek ‘n prominente plek te besorg. Toe ek ‘n keer gekla het omdat ouer kritici kritiekbundels so oorheers, het die oud-Akademieman en -uitgewer Danie van Niekerk tereg opgemerk: “As jy Elize Botha vra, weet jy ten minste dat jy ‘n goeie bydrae gaan kry.” My gunsteling onder Botha se opstelle is haar bespreking van D.J. Opperman se gedig “Blom van die baaierd” in Merwe Scholtz (red.) se Woord en wederwoord: Bundel aangebied aan D.J. Opperman by geleentheid van sy sestigste verjaardag, 29 September 1974 (1974).

Nog kritici wat ek graag lees, is Merwe Scholtz en T.T. Cloete. Scholtz was benewens kritikus ook ‘n digter van onder meer die vernuftige Grimas: 1969-1973 (1976), een van my gunsteling Afrikaanse digbundels. Dit verbaas nie dat Scholtz gedigte geskryf het nie, want sy opstelle is spitsvondig, speels en taalgevoelig. Hy slaag daarin om met verrassende insigte ‘n mens verwonderd te laat oor die werkinge van taal en taalvirtuose. Wie kan ooit sy ontleding van N.P. van Wyk Louw se “Dood in die berge” in Nuwe verse (1954) vergeet? Dit slaan die leser se asem as ‘t ware weg. Cloete weer is doodgewoon een van ons oorspronklikste lesers (kyk byvoorbeeld sy opstel oor “Die taalavontuur van ‘Die swart luiperd'” in Op die woord af: Opstelle oor die poёsie van N.P. van Wyk Louw (1963)).

Ek sou nog die name van, op hulle beste, E. Lindenberg, Louise Viljoen, Daniel Hugo, Joan Hambidge en Charl-Pierre Naudé wou noem, maar oor elkeen van hulle behoort ‘n mens by ‘n later geleentheid te skryf. Hoe veral die Afrikaanse poësiekritiek op die oomblik daar uitsien, is in elk geval ‘n onderwerp om (nog steeds!) oor te besin. Miskien is dit genoeg om te sê dat indien dit nie vir Bernard Odendaal se deeglike en ingeligte oorsig oor die onlangse poësie in Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Deel 3 (2006), Louise Viljoen se Ons ongehoorde soort (2009) oor Antjie Krog se poёsie en Ronel Foster, Yves T’Sjoen en Thomas Vaessens (reds.) se Over grenzen: Een vergelijkende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёzie/Oor grense: ‘n Vergelykende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёsie (2009) was nie, ons vandag veel minder sou gehad het om oor opgewonde te wees.

Maar ek wil eintlik iets sê oor my gunsteling stuk kritiek in Afrikaans! Dit is naamlik drie bladsye in Opperman se Digters van Dertig (1954), spesifiek die inleiding tot “Die hooffiguur van Dertig: N.P. van Wyk Louw”. In hierdie evokatiewe bladsye gee Opperman sketsmatig biografiese inligting oor Van Wyk Louw se jeugjare en maak ‘n byna tasbare voorstelling van hoe die Louws se Rôeveldse wêreld gelyk het. Hy beskryf dit op so ‘n manier dat dit as ‘n sleutel by die interpretasie van Van Wyk Louw se gedigte kan dien. Lees byvoorbeeld hoedat die bokkoppe in die (Lord Milner-)hotel op Matjiesfontein die eerste prikkeling vir Raka (1941) geword het. Min woorde, maar slim!

Vrydag, 29 Mei 2009

Friday, May 29th, 2009

Môre vind ‘n besonderse boekbekendstelling by Protea Boekwinkel op Stellenbosch plaas, naamlik “Ons ongehoorde soort – Beskouinge oor die werk van Antjie Krog” deur Louise Viljoen wat deur Sun Media uitgegee word. (Gaan lees gerus Louise Viljoen se Dana Mouton-gedenklesing onder “Artikels & Lesings” wat óók in hierdie besonderse werk vervat is.) Joan Hambidge, die bekende digter en literator, sal as gespreksleier optree terwyl die immergewilde Antoinette Kellerman toepaslike verse uit Antjie Krog se oeuvre sal voordra. Gewis is hierdie ‘n geleentheid wat jy nié wil misloop nie …

(Kliek op die duimdruk hieronder ten einde Sun Media se uitnodiging te kan lees. Dit is ‘n ope uitnodiging en toegang is – soos altyd – gratis.) So, maak gerus ‘n draai indien jy jou môre binne trefafstand van Stellenbosch bevind. Maar kom vroeg. Dit gaan vól wees …

‘n Lekker naweek vir julle almal; Nuuswekker hervat weer Maandag.

Mooi bly.

LE

Uitnodiging