Posts Tagged ‘Onversadig’

Digstring. TT Cloete. Swerwende verse

Thursday, November 10th, 2011

 

Let wel: Vanweë die lengte van die versreeks waarop hierdie vrae en antwoorde gebaseer is, volg die reeks “Swerwende verse” uit Onversadig (2011), heelonder.

 

Wanneer het u dié gedig geskryf, professor Cloete? Hoe het dit ontstaan?                            

Hierdie gedig is in 2005-2007 geskryf  in die tyd toe my vrou baie siek was, betreklik kort voor haar dood, en toe ek baie gelees en herlees het langs haar siekbed. en my verdiep het in die ou Egiptiese poësie, met name Ichnaton se “Himne aan die son”, waarmee ek jare lank al vertroud was. Ek het toe my vrou se lyding en my eie probeer weglees deur sonnige gedigte te lees.

Kon u dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Ek het aanvanklik al die gegewens as ‘t ware in my hand gehad maar dit het ‘n tyd gevat om dit te rangskik en te laat voeg. Dit gaan naamlik hier om die integreer van verskillende ou tekste en wêrelde: Egiptiese, Joodse, Italiaanse, my eie en ander Afrikaanse.

Hoeveel van dié vers is aan u “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Die gedig het ‘n lang aanloop gehad. Die konsep van swerwende verse het ontstaan toe ek by die lees van die “Ilais”, “The Secret History of the Mongols”, die Ou Testamentiese Psalms, Ichnaton se “Himne aan die son” en Franciscus se “Sonlied” ingesien het hoe die een gedig tot die ander een lei. Ek het daar ‘n artikel oor geskryf in Tydskrif vir Letterkunde 44[2] 2007 Lente. Kort daarvoor het ek Goethe se “Faust” herlees, en dit het toe vir die eerste keer tot my deurgedring dat Van Wyk Louw se “Die Swart Luiperd” tot in die woordelikse toe teruggaan op “Faust”. Daaroor het ek ‘n artikel geskryf wat opgeneem is in die huldiginsbundel vir Ina Gräbe, “Word, (Wo)men, World ” [ red. H. Roos e.a., 205]. Intussen het die gedig parallel met die skryf van die artikels gegroei tot wat dit tans is.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het u byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Dit was ‘n kwessie van rangskikking van materiaal wat hulle self aangebied het. Soos JC Bloem sou gesê het: ek het die raam gekry, ek moes net invul.

Het u die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat u as klankbord gebruik terwyl u aan ‘n vers werk?

My vrou was altyd my klankbord. Sy het my gedigte altyd gelees. Ek kon haar oordeel vertrou. Na haar dood is daar wel so ‘n twee- of drietal vertrouelinge, vriendinne, maar ek is sku om voor pulikasie iemand se raad te vra.

Hoe lank na die vers voltooi is, hetu dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Die gedig het begin ontstaan in 2005 en het in “Onversadig” [2011] verskyn.

Kan u ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Wel, die feite is dat digters mekaar lees, van toeka af veral in lande rondom die Middellandse See, en later oral in Europa, Engeland, Amerika, en dat gedigte ander gedigte maak, dus: fiksie maak fiksie, net so goed as wat feite fiksie maak. Dit is waarom ons van ekfrasis praat. Ek het hierdie term wat taamlik vreemd in Afrikaans was ‘n klompie jare gelede onder die aandag van die WAT gebring en sien dit slaan nou oral uit..

Kan u kortliks sê waaroor die vers, volgens u, handel?

Moeilik om te sê. Ek hoop daar is nie net een inhoud nie. Sê maar die gedig handel oor ons gesamentlike menslike besit, met name ons verering vir die wonderlike in die skepping en die goddelike daarvan. Digters is meestal so besitlik, maar niks is werklik joune nie, nie in die kunste nie en allermins in die wetenskappe.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Ja, ander gedigte, soos ek hierbo gesê het.

Het u ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer u aan ‘n vers werk?

Nee glad nie, maar ek is beslis nie gerig op populisme nie.

In welke mate verskil hierdie vers van u ander gedigte?

Ek dink dit is meer epies as my ander verse, konseptueel en integrerend omvattender?

Is daar iets in dié vers wat u as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nie tipies Suid-Afrikaans in sy geheel nie, maar die lesers sal sien dat ook Eugène Marais iewers ingewerk is, en iets van my eie bewonderende belewe van ons natuurlewe, wat ons Suid-Afrikaanse wêreld integreer met die Europese, Egiptiese [Afrika-se] Welt, selfs dus met die ou-ou wêreld.

Kon u dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Nee, ek is doodtevrede.

Was u tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ja.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan u nog die eerste vers wat u ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Die vroegste reëls wat ek onthou, en wat vandag nog nie klaar is nie, is ‘n melankoliese gedig: 

            Trek dig die dekens oor jou kop en slaap

             Die lug is somber buite…

Ek onthou nog dit was ‘n reënerige dag, in die koshuis, ‘n bleek dag. Later in my lewe het ek geleer om liewer na die sonnige te kyk.Ek het daardie fragment nog in  my deurmekaar argief, dink ek.

_____________________________________________ 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.

***

 

swerwende verse*

(Akhenaton: Hymn to the Sun)

May you always appear thus gloriously in the horizon of the sky,

O living Aton, origin of life!

Arisen from the eastern horizon,

you have filled all earth with your splendor;

You are beautiful, great, dazzling, exalted above each land,

yet your rays encompass the lands

to the limits of all which you have created;

There in the Sun, you reach to their boundaries,

making them bow to your Son, whom you love;

And though you are far, your rays are over the earth,

and you are in the faces of those who watch your journeying.

 

2 (Psalm 19: 5-7)

Die uitspansel maak die werk

van sy hande bekend.

Die een dag gee die berig deur aan die ander

en die een nag deel die kennis aan die volgende mee

en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde.

Vir die son is daar in die hemel ‘n tent opgeslaan.

As hy stralend begin om sy baan te volg,

is hy soos ‘n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom.

Aan die een kant van die hemel kom hy op

en aan die ander kant gaan hy onder,

en niks ontkom aan sy gloed nie.

 

3 (Hymn)

You go to rest in the western horizon,

and earth is in a darkness like death,

With the sleepers in bedchambers, heads covered

Every lion comes forth from his doorway

 

The Sunfolk awaken and stand on their feet,

for you have raised them up;

Their bodies are bathed, they put on their clothing,

their arms raised in praise of your appearing.

Throughout the land they take up their work.

 

4 (Psalm 104)

U is beklee met koninklike luister,

U is met ‘n kleed van lig omhul.

Dit is U wat die hemelkoepel

soos ‘n tentdoek gespan het.

As U die donker bring en dit nag word,

roer al die diere in die bos.

Die leeus brul op soek na prooi

 

As die son opkom, sluip hulle weg

dan gaan die mens na sy werk toe

en hy werk tot die aand.

 

5 (Hymn)

You have risen, and they are alive;

you go to rest, and they die.

For you are the measure of Time itself

 

6 (Psalm 104)

U het die maan gemaak

om die vaste tye mee aan te gee,

die son weet wanneer om onder te gaan.

 

7 (Hymn)

Ships go downstream or upstream as well,

each path lies open because of your presence;

The fish in the River dart about in your sight,

and your beams are deep in the Great Sea.

 

8 (Psalm 104)

Daar is die see, groot en wyd,

wat wemel van diere, klein en groot.

Daar vaar die skepe, en daar is die Leviatan.

U het hom gemaak om mee te speel.

 

9 (Hymn)

For you have placed a Hapy in the sky

that he might come down upon them –

Making waves upon the mountains

like those of the Great Green Sea

to water the fields in their villages.

 

10 (Psalm 104)

Uit die hemel laat U dit op die berge reën,

die aarde word versadig deur die reën wat U gee.

 

11 (Hymn)

The herds are at peace in their meadows,

trees and the vegetation grow green,

Birds fly from their nests,

their wings spread wide in praise of your Person;

All the small beasts leap about on their feet,

and all who fly up or settle to rest

live because you have shone upon them.

 

12 (Psalm 104)

Daar kom al die wilde diere drink

en die wildedonkies hulle dors les.

Die voëls maak hulle neste langs die water

en kwetter tussen die takke.

U laat gras uitspruit vir die diere

die seders op die Libanon,

dié wat Hy geplant het,

waar die voëls hulle neste maak,

en die reier sy huis in die boomtoppe bou.

Die hoë berge is ‘n tuiste vir die klipbokke,

die rotse is ‘n skuilplek vir die dassies.

 

13 (Hymn)

It is you who create the seed in women,

shape the fluids into human beings.

Nurturer from the womb to those given breath

to bring into life all that he has created.

You have risen, and they are alive;

you go to rest and they die.

 

14 (Psalm 104)

Hulle is almal van U afhanklik,

U gee hulle kos op hulle tyd.

Maar as U U terugtrek,

is dit klaar met hulle,

as U hulle asem wegneem, is hulle dood.

U gee die lewensasem en daar is lewe.

 

15 (Vagebond 1)

van verwondering vervul

dink ek aan my vrugbestaan

in my Ma se skoot verhul

 

al die bene van my lyf

elke dag van my bestaan

was toe reeds volledig opgeskryf

 

16 (Vagebond 2)

eeue daarvóór was ek lankal daar

in die donker slaap

 

toe breek die lig en ek ín haar

gedroom           die tyd wat roer roteer

 

nou word ek weer en weer

gebore           elke oggend staan ek op en elke keer

is dit ‘n avontuur

 

tienduisend kilometer en derduisend jaar

skei my van die digter-koning van die Jode

en nog verder terug die digter-farao

van die Egiptenare

 

tog is dit steeds dieselfde bruidegom

wat uit die ooste se slaapkamer

soggens met opstaantyd na my in Afrika toe kom

 

dit is dieselfde mense wat dan ontwaak

en land toe gaan

en rou aarde braak

 

en wat die son se lig

in hul gesig laat straal

en in dieselfde suurstof

en atome asemhaal

 

steeds drink die donkies en die ander diere

hier in die verre suide

soet koel lafenis uit die aarde se riviere

 

bo my ver van die Middellandse See soveel later

bo my uitgedroogde bar land

versamel die wolke in hulle kamers water

 

as Krom Joggom Konterdans

uit die Groot Woestyn reën maak

op sy Afrikaviool

en die weerlig die wolke oopkraak

 

die wind en die grootwild maal

dan op die vlaktes rond

en die kleinvolk roer ontroer

diep onder in die grond

 

vinke maak hulle neste

aan die wilgertakke wat druip

oor die Vaalrivier

waar die reier ‘n padda bekruip

 

die Bosveld se Leviatan

die luislang se spiraal

soos ‘n cochlea wurg uit die impala

sy laaste asemhaal

 

by Letaba lê die Nylkrokodil en rus

op die sand

in die deining

speel die walvis by Hermanus

 

by Satara hoor ek snags lig beangs

hoe brul die leeus           Egipte en Palestina

se verre nakomelinge           by hul vangs

 

dit is dieselfde see waarop die skepe vaar

kruis en dwars

en oor dieselfde ewenaar

 

dieselfde horlosie van die maan en son se lig

laat mense gesamentlik vir die Omvattende Gedig

 

lofliedere sing

 

onder dieselfde son

waar ek in God se bakhand knus

en doodgerus

 

luister na Dawid en Achnaton

 

17 (Akhenaton: Hymn to Aton en Sint Franciscus:

Canticle of the Sun)

met geringskatting van die nasies word

onmerkbaar langsaam en sag

fluisteringe van die een dag in die ander dag

millennium ná millennium uitgestort

 

Achnaton en Franciscus is op ‘n interdigterlike plek

binne die fanakalo se poëtiese taal

skoon glansend bonasionaal

buite tydruimte onder die son saamgetrek

 

waar waters is wat in borrelende wolke vry

en minagtend oor ons kwansuise grense

hoog oor ons klein aarde ry

 

18 (Hymn)

May you always appear thus gloriously in the horizon of the sky,

O living Aton, origin of life!

Arisen from the eastern horizon,

you have filled all earth with your splendor;

You are beautiful . . .

 

19 (Canticle)

Most high, all powerful, all good Lord!

All praise is yours, all glory, all honor, and all blessing.

Be praised, my Lord, through all your creatures,

especially through my lord Brother Sun,

who brings the day; and you give light through him.

And he is beautiful and radiant in all his splendor!

Of you, Most High, he bears the likeness.

 

20 (Hymn)

For you have placed a Hapy in the sky

that he might come down upon them –

Making waves upon the mountains

like those of the Great Green Sea

to water the fields in their villages.

 

21 (Canticle)

Be praised, my Lord, through brothers Wind and Air,

and clouds and storms, and all the weather,

through which you give your creatures sustenance.

Be praised, My Lord, through sister Water;

she is very useful, and humble, and precious, and pure.

 

22 (Vagebond 3)

die een dag roep die ander dag op met lig

met mense en bome gevul, met diere en water           die een gedig

roep die ander op oor tyd en afstand

met minagting vir mense se taal en afgegrensde land

 

agter die ooste staan daar ‘n immergroen boom vol

ryp appelkose           elke oggend nou al

millenniums lank kom ‘n enkele een oor die horison aangerol

om ‘t ewe of dit oor Italianer

is of Jood, Egiptenaar of Afrikaner

 

of is dit elke keer dalk, van son

gemaak, ‘n nuwe diskobolos

van die onvermoeide Griek Myron

 

*** 

 

* Nota: Daar is onmiskenbare ooreenkomste tussen die Egiptiese farao Achnaton se Himne aan die Son (Aton: die son) en uit ‘n later tyd Psalm 19 en 104, al drie lank v.C., en ook tussen die Himne aan die Son en Sint Franciscus se Canticle of the Sun (Cantico di frate Sole) van nog veel later (1224). Die Himne en die Psalms kan as skeppingsgedigte al drie dalk teruggaan op ‘n mondelinge bron wat rondgeswerf het rondom die Middellandse See. Achnaton, later die Psalmdigter Dawid en baie later Franciscus het al drie gekom rondom die Middellandse See. Franciscus se verwantskap met Achnaton is dalk direk, dalk indirek deur middel van die Psalms, wat Franciscus goed sou geken het.

Die ooreenkomste tussen hierdie skeppingsgedigte is maar by benadering deur my gekursiveer om die identifisering van die interdigterlike te probeer vergemaklik. Ons het welliswaar hier met vertalings te make, maar die oorkoepelende ooreenkomste is onmiskenbaar, en dat die ooreenkomste selfs woordeliks ondanks die vertalings deurskemer, maak dit soveel merkwaardiger.

Die vertaling in Engels van Achnaton se Himne is van J.L. Foster. Van Franciscus se Canticle is daar talle Engelse en ander vertalings.

 

© TT Cloete (Uit: Onversadig, 2011: Tafelberg)

 

0nversadig

Tuesday, May 3rd, 2011

Cloete, T.T. 2011. onversadig. Kaapstad: Tafelberg. ISBN 978-0-624-04903-6; 152 pp., prys: R175,00 

Resensent: Heilna du Plooy

 

Vloeibare filosofie

Onversadig

Onversadig

T.T. Cloete is ‘n bekende en gevestigde digter in Afrikaans. Almal wat iets weet van Afrikaanse poësie, weet van hom en ken sy werk, meer of minder goed. Sommige hou van sy digterlike styl, ander nie, sommige dink hulle kan verstaan hoe die digterlike denke in sy oeuvre werk, ander verstaan dit nie of wil nie verstaan nie. Wat mense lees en waarvan hulle hou, bly immers ‘n persoonlike reaksie en oor mooi en lekker stem niemand ooit saam nie.

 

By die lees van Cloete se jongste en negende bundelbundel, onversadig, vra ek my egter af of lesers van Afrikaanse poësie en van die poësie in die algemeen, besef hoe eiesoortig Cloete se oeuvre is. By die verskyning van sy eerste bundel, Angelliera, het D.J. Opperman gepraat van “koningskos”, dit is bekende geskiedenis, maar al ken ‘n mens die tegniek en styl van hierdie digter, bly dit die noukeurige leser steeds verstom hoe hy homself in en deur die poësie vernuwe. Dit begin by die titel as sodanig: onversadig, en dit op 86-jarige ouderdom. Nie net is die publikasie van ‘n omvattende, omvangryke  en ideëryke bundel op hierdie ouderdom merkwaardig nie, maar die inhoudelike skopus van die onderwerpe in die bundel toon dat die digter inderdaad steeds die werklikheid met “onversadigde” oë en ore, met alle sintuie en met sy totale geestelike vermoë intens ervaar en beleef en daar steeds verwondering en vreugde in vind. Alles wat hy belewe, word poësie, nou selfs meer as vroeër toe daar baie ander dinge was wat die digter se lewe gevul het.

 

Die gedagte van “onversadig” word verder uitgewerk in die gedig “die druif geel en wynrooi glansend”. In die gedig word verwys na die “Landheer” se goeie werk, van die kleinste geskape dinge tot by die skouspelagtige weerverskynsels, en hoe die Landheer die leemte wat daar nog was, gevul het met die skepping van die mens, “toeskouers wat kan waardeer/ ‘n man en vrou wat kan takseer”. Nogtans word daar iets, ‘n “On-” van die mens weerhou, volledig sal die mens nooit ken of verstaan nie. Dit is dan ook vir die digter goed dat dit so is, dat van die hele onoorsigtelike versameling appels in die boord van “Kingstar-On-weet” die meeste nog verborge gebly het. Dit hou die mens honger, dit laat hom strewe, dit hou hom aan die soek en laat hom steeds en opnuut uitreik na nuwe dinge om te weet. Hierdie onversadiging, hierdie honger, is ‘n voorreg, want daarin setel die mens se dryfkrag om uit te vind, om te ontdek en veral om hom te verwonder aan wat hy vind. Daarom sê die digter van die mens: “hou hulle/ kraaimaer en pynlik honger en gesond”.

 

Hoe vreemd aan die denke van ons tyd is dit om te vra dat die mens juis nie alles moet kry of moet hê nie, dat die mens sy beperkinge as ‘n voorreg sal sien! Hierdie gedagte dekonstrueer die vroeg-twintigste-eeuse aanname dat die mens alles kan hê of selfs het, dat alles toeganklik is, dat alles uitgevind kan (en sal) word, dat die mens alles kan en alles mag. Ons lewe in ‘n tyd van oordaad, van oorvoeding van die sintuie en die liggaam. Soveel dinge is beskikbaar en toeganklik en selfs maklik. Maar hierdie oordaad werk afstompend. Die gedig reageer dus ook op die kontemporêre opvattings van die belangrikheid van sukses en voorspoed, van die hele voorspoedskultuur wat voorgehou word as die ideaal. Elke mens sal eventueel toegang hê tot alles wat sy hart begeer, maar as die mens alles het en niks oorbly om na te strewe nie, as niks meer ontdek kan word nie, sal alles dan perfek wees? Sal dit goed of lekker wees vir die mens om niks meer te hê om te ontdek of om oor verwonderd te wees nie?

 

Hierdie selfde gedagte lê ten grondslag van “fragmente van die onvolledige gedig” waarin die siening verwoord word dat alle skeppingsdinge in hulle uniekheid en kunstige samestelling as gedigte beskou kan word (vgl. in hierdie verband ook die bekende gedig “God die digter” uit Jukstaposisie, 1982). Geen gedig kan egter alles insluit of omvat nie en omdat die heelal volgens wetenskaplikes voortdurend steeds uitdy, kan selfs hierdie gedig van die fisiese werklikheid nooit voltooid wees nie. Geen totaliteit sal dus ooit verwoord of omvat kan word nie. Dinamiek en groei en beweging is inherent deel van die heelal én van die mens as onderdeel daarvan. Die pragtige vers “Net één” bevat ‘n lewenscredo waarin bemoediging en aanmoediging maar ook ‘n waarskuwing opgeslote is. Die mens moet en kan geniet van alles, hy moet sy lewe waardeer en elke oomblik uitbuit, maar oordaad liefs vermy:

 

“Jy kry net één lewe. Net één.

Versorg en koester dit,

vier dit en vind daar vreugde in.

… Kom liefs tenger

onversadig en honger

maar voldaan terug.”

 

Die bundel is ingedeel in 13 onderafdelings, waarvan drie benoem is, afdeling 5 (“saamsing”), afdeling 7 (“kardoes”) en afdeling 10 (“L’amor che move il sole e l’altre stelle”).  Die afdelings is egter nie afgeslote of onverbonde groepe nie en sluit subtiel by mekaar aan om ‘n deurlopende betoog te vorm. Hoe dieper ‘n mens lees, hoe meer kom jy agter hoe die gedigte in die bundel op veelvuldige maniere aan mekaar koppel. Mens sou kon sê dat die verse in die bundel oor baie onderwerpe handel, maar tog almal familie van mekaar is (wat Cloete se eie manier is om die verband tussen gedigte te beskryf). Baie van die gedigte sou op meer as een plek in die bundel kon inpas en daar is ‘n onderliggende deurlopende gesprek oor die vorme en aard van die lewe en van menslike ervaring. Juis in die aangesig van die dood word die lewe in sy onvolmaakte volheid al hoe kosbaarder en daarom word dit meer intens waargeneem en ervaar.

 

Die bundel begin met vier gedigte wat met vorme van menslikheid gemoeid is. Helen Keller en Helen Martins, met haar uilhuis, was beide uitsonderlik in hulle menslikheid. Liggame wat fossileer in die aarde vertoon ook steeds menslikheid. Twee ander spesifiek menslike eienskappe kom in hierdie afdeling aan die orde, naamlik die mens se vermoë om te treur en te huil en die mens wat praat of meer spesifiek, die mens wat taal tot poësie skik.  Die gedig “stilhuil” eindig met ‘n besonder sterk beeld van smart, daardie diep smart wat jou laat huil in stilte, wat die uiterste kwesbaarheid inhou en as ‘n verblindende maar ragfyn fisiese pyn manifesteer:

 

stilhuil laat in die boom van jou are

deur jou lyf ragfyn strak

staande ‘n gloeiende gestolde weerlig vertak

 

Die volgende afdeling handel oor die “Landheer en pagters”. Die “blitsvinnige Landheer Skepper slaak/ uit ‘n leë niks alle bestaan in ‘n kitsoogwink” terwyl die pagters wik en “traagdink” en poleer sonder om in enige vergelykbare mate sukses te behaal. Die gedagte van die reddende waarde van onversadigbaarheid word in hierdie afdeling voortgesit. In die gedig “die eenvoud van die eenvoudiges” word die leë selftevredenheid van sommige mense, diegene met ‘n cv “so netjies verdig/ dat dit inpas in ‘n grafskrif”, vergelyk met die onversadigdes wat weet dat hulle steeds soekende sal wees, steeds sal uitreik na die ontbrekende. Hierdie lewensuitkyk word dan ook gesoek in historiese figure en historiese omstandighede in afdeling 4. Die vraag is of die mens nie eers in die dood iets van sy ideaal bereik nie: “Haal ons die ideaal …dan volmaak alleen/ as ons ophou asemhaal?” 

 

In die afdeling “saamsing” is die digter intertekstueel besig. Dit gaan egter nie net daaroor dat hy ander tekste aanhaal om ‘n eie teks te laat eggo nie. In “swerwende verse” kom die intertekstuele verbande tussen antieke tekste in herdigtings en omdigtings na vore. In hierdie reeks gedigte word akademiese kennis en insig in digterlike formaat aangebied. Cloete het naamlik agtergekom dat daar sterk ooreenstemmende beeldspraak in verskillende beroemde antieke tekste uit uiteenlopende tradisies voorkom, onder meer in die Bybelse Psalms, in Akhenaton se “Himne aan die Son” en “Himne aan Aton” asook in die “Canticle of the Sun” van Sint Franciskus. Hy dig gedeeltes uit hierdie tekste om en wys hoe dieselfde gedagtes en beelde gebruik word, maar hy voeg daarby die kommentaar van Vagebond 1, 2 en 3, wat natuurlik gestaltes van die digter self is. In hierdie kommentaar lê hy verbande tussen die antieke gedagtes enersyds en sy eie bestaan en die bestaan van die mens en ander lewensvorme andersyds. Hy sluit die reeks af met die gedagte dat gedigte ook ander gedigte oproep soos die een dag die volgende roep waarmee die band tussen mense en kunstenaars van alle tye gesuggereer word.

 

Die afdeling bevat meer intertekstuele gesprekke met ander Afrikaanse digters, maar die ander merkwaardige gedig in die afdeling is  “Achilles se skild”. Die gedig beskryf die uitvoering van die taak wat Hefaistos opgelê word om vir Achilles ‘n skild te maak. Die hele proses van die maak van die skild word beskryf, maar ook dit wat op die skild uitgebeeld word. Cloete volg hierin sy bron, naamlik Homeros se Ilias en spesifiek Boeke 18 en 22, taamlik noukeurig, maar deur slim woordkeuse word daar subtiele kommentaar in die gedig ingebou.

Die skild van Achilles is ‘n representasie van ‘n hele werklikheid en al die aspekte van die menslike lewe, die skoonheid, die vrugbaarheid, die heerlikhede en die wreedheid. Cloete lê in die eerste gedeelte baie klem op Hefaistos se gebreklike liggaam: hy is “die hinkende horrelvoet Hefaistos”, “die krom kreupele” op sy “tenger hoepelbene”, maar ook op Hefaistos se kunstenaarsingesteldheid: hy weet as hy behendig is en as hy geduldig en langsaam sy werk verrig, daar iets moois tot stand sal kom.

Die gedig is ‘n ekfrastiese gedig soos wat Homeros se beskrywing van die skild ook ekfrasties ‘n visuele kunswerk in taal representeer, maar Cloete se hantering maak van sy gedig nie net ‘n her-representasie van die skild nie, maar ook ‘n toevoeging tot sy eie verkenning van die temas van krag en swakheid of onvolkomenheid en gestremdheid, asook van die funksie van die kuns en die kunstenaar wat juis nie sterk is nie, maar tog invloedryk. Ek dink hier aan die progressie in “toepassings van dante” in Idiolek (1986) waar die uitbeelding van skoonheid gekontrasteer word met die wanstaltigheid van bepaalde duifsoorte, en die suggestie dat kuns vormgewing is en as sodanig goed in die oë van die m(M)aker. Daar is in Cloete se oeuvre ook ‘n hele aantal verse oor ander gebreklike kunstenaars soos Toulouse-Lautrec, Saint-Saëns en Beethoven (vgl. “bukse”, in Driepas, 1989:75). Daar is ook gedigte oor die digter self waarin hy homself in sy kreeftegang beskryf, hoe hy voor God in sy gestremdheid en pyn huppel (vgl. onder meer “refraksie”  en “artropatie” in Idiolek, 1986:44 en 50). Die belangrikheid van die kunstenaar kom ook herhaaldelik aan die orde byvoorbeeld in die gedig “beethoven 2” (Cloete, 1986:112):

Hy het vir ‘n molto adagio
beethoven aan die lewe gehou

God het vir ‘n a-mineur
Hom aan beethoven gesteur

 

Cloete wil dus via Homeros se beskrywing van die maak van Achilles se skild iets sê oor die mens, oor hoe voortreflikheid en wreedheid, kuns en oorlog, die beste en die slegste in die mens juis onvoorstelbaar na aan mekaar lê. Cloete plaas klem op wat uitgebeeld word in die skild en as omdigter suggereer sy woordkeuse dat wat Hefaistos gedoen het, was “om ons ontglippende dubbele menslikheid/ in een stuk te smee”.

 

Hierdie uitbeelding van ‘n hele werklikheid geskied ook by implikasie in die bundel self wat gedigte oor ruimtereise en die “die siermotiewe van die smerige vlieg” langs mekaar plaas en in die afdeling “kardoes” kleiner gedigte saamgroepeer soos wat bont lekkers in ‘n tuitgedraaide bruinpapierkardoes saamlê.  Van die grootse gedagtes en ruimste sirkels af kom die digter ook uit by die eietydse Suid-Afrikaanse werklikheid en selfs die Dakar tydren word ‘n gedig. In al die gedigte bly die besinnende digterstem die agterliggende begeleiding sodat uitbeelding en kommentaar poëties versmelt.

 

In die volgende twee afdelings het die digter dit oor die liefde, eers oor “die liefde wat vriendskap heet” en die komplekse vorme van die weemoed oor mense wat nie meer daar is nie, en dan die pragtige afdeling “L’amor che move il sole a l’altre stelle”. Dié afdeling staan onder die titel van die slotreëls van Dante se “Die Paradys”, die derde deel van La Divina Commedia: “deur die Liefde wat die son en die ander sterre beweeg”.

 

Die gedigte handel oor die afskeid en dood van die geliefde vrou, die lewensmetgesel van baie jare. Die gedigte verwoord wat eintlik onmoontlik is om verwoord te word; die smart, die verslaenheid van smart en die pogings om deur herinneringe ervarings te besweer. Die digter beskryf hoe hy uitstappies wat vroeër gedeelde ervaring was, weer onderneem:

 

het sy my ontval

my duifie sonder gal

sy het in ‘n ondeurdringbare wakkerland gaan bly.

Soms het ek die ou roetes daarna

verdwaas uit die dorp oor en oor gery

en asof dit ‘n uitkoms inhou in my wanhoop

 

Die digter sien drie troupante op ‘n plek waar hierdie voëls gewoonlik nie aangetref word nie en wonder: “vlieg jy in een van hulle rond miskien”. Hy ry ook weer terug na die plek maar weet:

 

…hoe maak

ek met ‘n troupant ‘n afspraak

 

vir wie moet ek kwaad

word vir ‘n hand vol reënboogvere se verraad

 

Die afdeling sluit af met ‘n gedig wat suggereer dat geen kunstenaar nog ooit met sy kuns werklike gemis kon transendeer nie: geen pigment kan “skryn” weergee nie, geen leemte kan toegemaak word deur “ondigte geperforeerde taal” nie en die klanke van die komponis verloor “hulle afsonderlikkende simf”. 

 

Desnieteenstaande kan die digter ‘n mate van rus vind in die groter beeld van ‘n lewe en die omvattende werklikheid. Hy kan weer luister na die voëls en weet: “inskiklik/ lê ek my by die pynlike soet/ van die stadige sterflikheid neer”. Hy staan soos ‘n bonsai “klein maar droom”, en beskryf ‘n wonderlike plek, daardie plek waar “ons almal … daardie einde (sal) haal”.

 

‘n Bundel soos hierdie waarvan ek slegs ‘n saamgetrekte oorsig kon gee, is ‘n omvattende leeservaring – dit is nie kitsleesstof of iets waarmee ‘n uurtjie gevul word nie. Dit is ook eintlik by herlees wat ‘n mens eers ten volle begryp hoe kompleks elke gedig is, hoe sorgsaam die verwoording, die sintaksis, die tipografie en die klankpatrone ingespan word om die mees subtiele suggesties vas te vang. Vir ‘n digter soos T.T. Cloete is die skryf van gedigte ‘n natuurlike uitvloeisel van sy lewe en as sodanig bestryk die gedigte ‘n uitgebreide intellektuele en emosionele register. Hy is en bly eenvoudig “a poet’s poet” want mededigters staan telkens opnuut verwonderd oor sy virtuositeit en vindingrykheid ten opsigte van sowel tematiese as tegniese aspekte van die poësie.

 

In die slotgedig gee die digter self ‘n aanduiding van sy digterlike soeke en waar hy hom tans bevind. So word die noue verband tussen lewe en vers geïllustreer:

 

met gevou en gepas het ek gesoek

in ‘n verskietende lang moeisame verlede

waar ek inpas en langsaam het ek tuisgekom

in die deursigtige tent van my ouderdom

 

Die gedagtegang in onversadig is verreikend en steun op die kulturele arsenaal van ‘n belese en beleë persoonlikheid en ‘n skerp assosiatiewe brein. Daar word in gesprek getree met kerntekste uit die Westerse verlede, maar ook met ander Afrikaanse digters. Daar word kommentaar gelewer op die mens in die geskiedenis en op die mens van vandag in sy besige bedrywighede en vermaak. Hierdie poësie is nie ‘n versameling lukrake verse nie, dit is die verslag van ‘n denkwyse, dit representeer die deurlopende digtende aard van ‘n lewe en die dinge wat in daardie lewe gebeur en waaraan daardie lewe raak. Dit gaan hier nie net oor goeie en voortreflike poësie nie, hoewel dit weldeeglik deur ‘n studie van die tegniese aspekte van die gedigte aangetoon sou kon word. Dit gaan om ‘n soort poësie wat ‘n mens vloeibare filosofie sou kon noem, poësie wat denkend is, wat gedagtes wakkermaak en voed, maar steeds in taal wat oopmaak, wat dinamies is, wat ‘n vloeiende denkproses ondersteun en voortgang bewerkstellig.

 

 

Amanda Lourens. Die krieketbal en sy skaduwee

Friday, April 8th, 2011

 Sedert Cloete se debuut met Angelliera in 1980 is die saamdigting van disparate dinge een van die uitstaande kenmerke van sy digterskap.  Sy intellektuele aanslag en vermoë om beskouend terug te staan en met deurgaanse beheer oor sy onderwerp te skryf, maak van hom ’n besonder sterk en herkenbare stem in die Afrikaanse poësie.

 In ‘n onderhoud met Joan Hambidge beskryf Cloete die gedig as “wakkermaker”, onder andere ook vanweë die gedig se vermoë om te dien as koppelvlak met die verskeie fasette van die lewe, wat ook die dood insluit.  Cloete sê dan ook self: “Wie intens bewus is van die dood, kry die lewe lief en leef intens”, sodat ons in sy poësie ’n saambestaan van lewe en dood, en ook dood as singewende deel van die menslike bestaan kan verwag.

 In Onversadig wat onlangs verskyn het, is daar ’n hele paar verse oor sy gestorwe vrou, haar siekte en sy ervaring van die sterwensproses.  Vir Cloete is die dood deel van die lewe; iets waaroor eerlik geskryf moet word en waardeur die waarnemer verryk kan word.

 Vir ons as moderne Westerlinge is die dood nie juis deel van ons daaglikse lewens nie, alhoewel ons in koerante daarvan lees en dit as fiksie in rolprente beleef.  Vir die Middeleeuse mens egter, was die dood ’n sigbare teenwoordigheid en ’n onmiddellikheid, soos versinnebeeld in ou afbeeldings van die danse macabre – die dood as dansende figuur in die midde van die lewendes.  Sonder antibiotika en die ander wondere van die moderne medisyne was memento mori ’n immer teenwoordige refrein en die meeste mense het geleef met intieme kennis van siekte en dood.

  

Wetenskaplike vooruitgang en die institusionalisering van gesondheidsorg het siekte en dood egter toenemend uit die samelewing verwyder, sodat die beeld van die grynslaggende dood vervang is deur eietydse mediabeelde van jeugdige liggaamlike perfeksie.  In hierdie konteks verteenwoordig die terminaal siek liggaam volslae abjeksie, en word dus waar moontlik uit die openbare oog gehou waar dit die waarnemer met afgryse mag vervul.Dit sorg wel soms vir vulgêre sensasie en hou sirkulasiesyfers hoog wanneer daar ’n tekort aan skandale onder die glansrykes is (“Het jy gesien hoe lyk X?,” as die foto van ’n terminaal siek Hollywoodster in Huisgenoot verskyn).

Afbeelding van die danse macabre

Afbeelding van die danse macabre

 

 

 Die eietydse liggaam wat deur die media as ideaal aangebied word, is een wat aan die eis van perfeksie moet voldoen, al moet dit kunsmatig vermag word.Kyk gerus na die verskille tussen die filmsterre van die tagtigerjare en vandag – toe is skewe tande en selfs plooie nog geduld, maar vandag word die liggaam deur tegnologiese ingrepe getransformeer tot plastiek-perfeksie; word die illusie geskep dat die liggaam selfgenoegsaam, intak en veral onaantasbaar is deur iets so natuurlik soos ouderdom, wat nog te sê siekte.

 Hiermee saam gaan die mitevorming van skuld: normale veroudering word verwring as jou eie nalatigheid omdat jy nie eet en oefen en Botoxbehandelings ondergaan soos die ghoeroes voorskryf nie.  Jy “laat gaan” jou liggaam en die gevolge is sigbaar vir dese en gene: skande, skande. Siekte word ook binne die skuld-mite gesitueer, soos Susan Sontag in Illness as metaphor (1978) en AIDS and its metaphors (1988) aangetoon het.  Veral in die twintigste eeu is ’n siekte soos kanker toenemend gefiksionaliseer as die “skuld” van die slagoffer: “[C]ancer is regarded as a disease to which the psychically defeated, the inexpressive, the repressed – especially those who have repressed anger or sexual feelings – are particularly prone, as tuberculosis was regarded throughout the nineteenth and twentieth centuries (indeed, until it was discovered how to cure it) as a disease apt to strike the hypersensitive, the talented, the passionate” (Sontag 1991:98).

 Uiteindelik maak ons perfeksie-gedrewe samelewing van die siek liggaam die uiterste ongewenste; word siekte die vergestalting van die “onnatuurlike”, soos Sontag aangetoon het. Siekte – wat soos gesondheid deel van die lewe is – word ontkoppel van ons konstruk van “lewe” en word verban na areas agter geslote deure, verkieslik inrigtings wat siekte met die minimum morsigheid kan hanteer. “Dood” as romantiese gedagte is tradisioneel dikwels in die kunste geïdealiseer, maar uitbeeldings van siekte en die fisiese realiteit van siekteprosesse dikwels dié wat lesers laat terugdeins.  (Ek herinner my in dié verband hoe mense destyds gekla het oor die uitbeelding van die siekte- en sterfproses in Ek stamel ek sterwe as “onsmaaklik” en “grillerig”.  Ek sien wel dat onlangse webkommentare dit as “chilling” maar “baie goed” bestempel.)

 Sontag koppel ons aversie teenoor siekte aan ons vrees vir die aftakeling en verlies aan waardigheid wat dit inhou. Om hierdie rede word siektes soos kanker of vigs meer gevrees en byvoorbeeld ’n hartaanval, omdat laasgenoemde gesien word as ’n “maklike” of “vinnige” dood (Sontag 1991:124). Die negentiende eeuse romantisering van tuberkulose berus byvoorbeeld grootliks op die inhoudsgewing daaraan as ’n “sagte” sterwe. Deur die ontkenning van die pynlike realiteit van tuberkulose is ’n mite daarvan opgebou as ’n aandoening van veral kreatiewe en boheemse persoonlikhede (Keats, Shelley en D.H. Lawrence was almal tuberkuloselyers). Hierdie persepsie het natuurlik die ruimte geskep vir brose, eteriese heldinne soos Marguerite, Violetta en Mimi. (Dit sal natuurlik interessant wees om die stigmatisering van tuberkulose in die twintigste eeu na te gaan, toe die siekte met arm gemeenskappe geassosieer geraak en sy romantiese kleur begin verloor het.)  Maar siektes met sigbare en aftakelende simptome – veral wanneer liggaamlike uitwerpingsprosesse ter sprake kom – sal waarskynlik vandag nog veel eerder in die doofpot gestop word. 

 Juis teen hierdie agtergrond is Cloete se gedig “helder Saterdag” een wat my opgeval het. 

Helder Saterdag

 

hoe wonderlik is hierdie dag

 

haar eerste dialise word gedoen vroegdag

en Adcock Ingram se glukose word getap

slopemmers vol

 

vannag het die osmose goed presteer

dit weeg 12 kilogram

“dit is ’n goeie oes”

 

Johannes stort die aftreksel plek-plek

uit oor die tuin

 

mog dit die blomme goed laat was

die komas daarmee saam wegspoel

die kanker in die nier die klomp poliepe

en die spasme in die kolon

 

die nagsuster vertrek ’n uur ná sonop

 

hom maak hy vermoeid dig toe

diep in die uitskopstoel vlak langs haar bed

en slaap sy kort vermoeide slaap

 

haar voete is geswel en blou

waar sy haar toon gestamp het

 

die ribbes wat gekraak is

en die skaambeen ná haar val

genees langsaam maar dit genees

 

haar huid jeuk steeds en is ’n fyn

deursigtige vliesdun membraan

 

teetyd gee Kobus haar fisio

 

daar’s bloed in haar urine

 

die peristalsis móét vandag saamwerk

 

dit wat ons daagliks uit die aarde inneem

dit eis sy daagliks weer van ons terug

 

vir ons self afstootlik

herinner sy ons aan ons aardsheid

 

sy doen dit langsaam tot sy ons self vat

 

die warfarin maak beettuin onder haar huid

 

sag aan haar roomgeel vel vat hy

streel oor die pers bloedvlinders

 

geboortevlekke van die dood

 

hy streel sag oor haar buik

wat bult asof sy swanger is

 

haar dun skene haar breekbaar dun polse

betas hy goties slank

soos op ’n skildery van Jan van Eyck

 

vroeg in die dag is sy doodmoeg

 

tog het sy goed geslaap vannag

 

sy word benoud en bleek

 

haar pols tik flou           die bloedsuiker is 6.1

sy mag vandag agurkies eet as toegif

en jellietots suig vir die bitter mond

 

die vispastei vir middagete gooi sy op

 

die mooiste woord uit haar langsame mond

op hulle middaguitstappies met die Honda is mooi

 

mooi laatmiddagson      mooi grasvlaktes

mooi kwikkies in die tuin

 

hulle is porselein wat maklik kraak

poreus vir die insypel en klad van pyn

 

die kinders bel gereeld en sien na hulle om

daagliks kom hulle kuier en troos liefdevol

deur net die name in hulle monde vas te hou

 

saam sit die twee en kyk krieket

sy slaap in van vermoeienis       die skare

se gejuig as iemand uitgeboul word

laat haar opskrik

 

daar is ’n bal en ’n tweede bal

’n rooie en ’n swarte wat die son

grondlangs maak wat onfeilbaar begelei

 

vandag is sy helder

sy weet hoe laat dit is en watter dag

 

’n onaardse dag waarin bont mense

stampvol luilekker op paviljoene sit

of skuins lê onder reënboogsambrele

op hellings groen gras en kyk

hoe speel atlete in lakenwit klere krieket

met die lewe wat skreeu en gil

en in die hande klap

  In die gedig is die voulike liggaam sentraal, maar dan hoegenaamd nie die glansryke, jeugdige liggaam van die massamedia nie. Hier word die ernstig siek vroulike liggaam sentraal gestel, met ’n deernisvolle waarnemer wat egter nie terugdeins voor die realiteit van die siekte nie. Interessant genoeg toon die waarneming van die siek liggaam ooreenkomste met die populêre uitbeelding van die vroulike liggaam – spesifiek deur die gefragmenteerde blik op die liggaam. Mediabeelde, en veral die advertensiebedryf, maak dikwels gebruik van geïsoleerde vroulike liggaamsdele: oë, ’n mond, bene of rug, wat dikwels vertolk word as die objektivering van die vroulike liggaam in diens van ’n bepaalde produk.

 Verskillende fragmente van die liggaam word dan hier waargeneem en beskryf, waaronder die voete, ribbes, skaambeen, huid, buik, skene en polse. Telkens val die fokus op die aantasting van die betrokke liggaamsdeel, hetsy die geswelde en gekneusde voet, die gekraakte beendere, die bloed in die urine of die onderhuidse bloedings.  Daarmee saam word verskillende liggaamlike prosesse en mediese aspekte ook fragmentaries belig: die dialiseproses, fisioterapie, uitskeiding, middelnewe-effekte, polsslag, bloedsuikervlak, dieet, braking. Die keuse om juis gefragmenteerde beelde te gebruik om die siek liggaam uit te beeld, kan die leser laat met die vraag of die gedig nie die siek liggaam reduseer tot bepaalde simptome en aantastings nie, wat dit nie veel anders maak as die gekritiseerde mediabeelde nie.  Die leser sal voorts ook oplet dat daar oorwegend na die “laer” liggaamsdele verwys word en dat die vrou se gesig aanvanklik glad nie betrek word nie.  Ook dit is skynbaar in ooreenstemming met die objektivering of verontmensliking van die vroulike liggaam.  Of slaag die gedig daarin om meer te wees; om ’n sintese van lewe en dood teweeg te bring?  En dan boonop een wat eerlik na siekte kyk, sonder romantiese pretensies? 

 Die gedig bevat twee elemente wat my lei om die gedig as méér te sien.  Die eerste hiervan is beelde wat met swangerskap en geboorte verband hou, maar terselfdertyd die band tussen lewe en dood aandui: “[…] die pers bloedvlinders / geboortevlekke van die dood” asook “[…] haar buik / wat bult asof sy swanger is”.  Hierdie beelde suggereer moontlik die kreatiewe of verrykende aard van die sterwensproses, overgesetsynde, sterfte as ’n ander vorm van geboorte. Ook dui dit moontlik op die empatiese blik van die waarnemer wat die siek vrou steeds in haar volle vrouwees erken, eerder as wat die waarneming ’n element van die groteske verkry . 

 As tweede element kom die vrou se mond te sprake – oënskynlik weer eens ’n fragment van haar liggaam, maar by nadere ondersoek blyk “mond” om ’n metonimiese aanduiding van haar spraakvermoë te wees.  Meer nog is dit haar interaksie met haar omgewing wat hierdeur aangedui word, maar dan as die brose uitings van die ernstig siek persoon.  So lees ek die “hulle is porselein wat maklik kraak / poreus vir die insypel en klad van die pyn” as juis haar talige uitings wat, soos haar liggaam, kwesbaar geraak het.  Eerder dus as ’n objektivering van ’n siek liggaam, word die leser gekonfronteer met die beeld van die totale vrou wie se uitreik na haar omgewing afhanklik is van haar liggaamlike toestand – dan juis ’n afwysing van dualisme? 

 Hiermee saam kan ons dan die reëls lees wat met die gedigtitel skakel: “vandag is sy helder / sy weet hoe laat dit is en watter dag”.  Ook hier is die vrou se bewussyn afhanklik van haar fisiese toestand, met die “helder(heid)” waarskynlik die direkte gevolg van die dialise.

 Deur dit alles ervaar ons hoe die siek persoon as volledig mens uitgebeeld word; word beklemtoon dat die gees steeds afhanklik is van die liggaam, maar dat die fisiek siek persoon steeds volledig mens is; tot aan die einde in staat om die objek én sy skadu waar te neem (“daar is ’n bal en ’n tweede bal / ’n rooie en ’n swarte […]).  Op dieselfde wyse aanskou ons as lesers hier lewe en sy skadukant siekte, wat ook deur Sontag (1991:3) “the  night-side of life” genoem word. 

 

Bronne:

Sontag, S. 1991. Illness as metaphor and AIDS and its metaphors. Londen: Penguin.

Joan Hambidge en Heilna du Plooy bring hulde aan TT Cloete by US Woordfees [Internet]. 2011. Beskikbaar:  http://nb.book.co.za/blog/2011/03/10/joan-hambidge-en-heilna-du-plooy-bring-hulde-aan-tt-cloete-by-us-woordfees/. [2011, 8 April].

T.T. Cloete in Poëziekrant

Wednesday, March 9th, 2011
TT Cloete

TT Cloete

Ai, watter plesier is dit nie om onverwags iets oor Afrikaanse digters in buitelandse publikasies raak te lees nie; veral in hierdie tye waar dit gebiedend noodsaaklik geword het om die profiel en prominensie van ons plaaslike digters internasionaal te vestig nie. So vind ek tot my vreugde in die nuutste uitgawe van die Poëziekrant, wat ek verlede week ontvang het, ‘n sewetal van T.T. Cloete se gedigte wat skitterend deur Carina van der Walt en Geno Spoormans vertaal is.

Net so treffend is die oorsigartikel waarmee die vertalings ingelei word: “T.T. Cloete heeft de naam een academische dichter te zijn. Dat is in het licht van zijn loopbaan niet zo vergezocht. Op het eerste gezicht doen ook de titels van zijn bundels een beroep op belezenheid: Jukstaposisie (1982), Allotroop (1985), Idiolek (1986), to name a few. Zijn referentiekader is klassiek Europees. Iets wat in het van taalpolitiek en ‘selfbeheptheid’ (fixatie op zichzelf) doortrokken Zuid-Afrika niet per se gewaardeerd wordt. Poëzie is in dit land in hoge mate politiek. En T.T. Cloete heeft zich daar niet in betrokken met zijn werk. Geen geëngageerde poëzie en ook geen landschaps- en identiteitslyriek. Dat maakt T.T. Cloete tot een witte raaf. Toch is zijn werk niet strikt intellectualistisch te noemen. In een gedicht als ‘Silhouet van Beatrice‘ tekent hij met zijn pen het profiel van Dantes muze in woorden, heel eenvoudig en direct. Als zo vaak in zijn werk laat hij zich verleiden door lichamen, fysieke gewaarwordingen en voorstellingen. In zijn gedichten wordt met grote gulzigheid gekeken, tot op het voyeuristische af. T.T. Cloete is een dichter van de vertraagde blik. Hij lijkt de tijd stil te willen zetten om hem uit te breiden. Van terloopsheid maakt hij een strategie. Uit alle lichamelijkheid, verval en sensualiteit lijkt steevast een gedachte te verschijnen die nog een tijdje naglanst als het gedicht al uit is.”

Inderdaad ‘n besonderse huldeblyk aan ‘n besonderse digter.

En, indien jy nog nie kennis geneem het daarvan nie, kan jy gerus die onderhoud lees wat Joan Hambidge met die digter gevoer het ten tye van die verskyning van sy mees onlangse bundel, Onversadig. Uit dié bundel volg die vers “Seën” onder aan vanoggend se Nuuswekker vir jou leesplesier.

***

Sedert gister het daar heelwat nuwe bydraes bygekom. Aan die blogkant van sake skryf Desmond Painter oor David Briggs en sy improvisasies; Amanda Lourens werp ‘n teoreties-besinnende kyk op die dwingende debat van ‘n Nasionale Boekeredakteur en by Wisselkaarten het Roel Richelieu van Londersele ‘n interessante stuk geplaas oor Rense Sinkgrave, ‘n slamdigter van Groningen. Dan is daar ook ‘n nuwe gedig in Johann Lodewyk Marais se verskamer om te lees.

Ten slotte fokus ek jou aandag op Bernard Odendaal se resensie van Mari Grobler se nuutste bundel Toe dit nog vroeg was wat gister geplaas is.

Lekker lees en geniet die vele poësie-items op die Woordfees vandag.

Mooi bly.

LE

 

seën

 

hulle wil alles inpas

in ‘n begrypbare en afdoende plan

die minuskule, ‘n goggatjie,

‘n mosterdsaadjie,

die grootse massiewe heelal

maar die glibberige visse

van die smart en liefde swem los

deur die gate van die seën

wat hang in ‘n rivier

wat bokspring op ons afkom

 

© TT Cloete (Uit: Onversadig, 2011: Tafelberg Uitgewers)

 

Onderhoud met T.T. Cloete

Saturday, March 5th, 2011

Die gedig as wakkermaker

T.T. Cloete in gesprek met Joan Hambidge

 

TT Cloete

TT Cloete

T.T. Cloete is op 31 Mei 1924 op Vredefort gebore. Hy matrikuleer in 1941 aan die Hoërskool Monument op Krugersdorp en studeer daarna aan die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Suid-Afrika en die Potchefstroomse Universiteit. Van 1949 tot 1953 studeer hy aan die Gemeentelike Universiteit Amsterdam. Hy doseer Afrikaans en Nederlands aan die Potchefstroomse Universiteit en word in 1965 as hoogleraar aan die Universiteit van Port Elizabeth aangestel. Sedert 1970 is hy hoogleraar in Afrikaans-Nederlands en Algemene Literatuurwetenskap aan die Potchefstroomse Universiteit en bly na sy aftrede in 1983 aan as buitengewone professor. Cloete ontvang in 1976 die Gustav Preller-prys en in 2002 die N.P. van Wyk Louw-medalje vir sy literatuurwetenskaplike publikasies.

Hy debuteer in 1981 as digter en het tot dusver agt digbundels, ‘n drama en twee bundels kortverhale gepubliseer. Vir sy poësie het Cloete die Ingrid Jonker-prys, die W.A. Hofmeyr-prys, die Louis-Luyt-prys, die CNA-prys, die Rapport-prys en die Hertzogprys ontvang. Cloete se herdigting van die Psalms in Afrikaans het wye erkenning ontvang.

T.T. Cloete se negende bundel, Onversadig, verskyn in Februarie 2011 by Tafelberg Uitgewers.

 

 

Hartlik geluk met u jongste bundel Onversadig. Dit is ʼn groot opgesette bundel. As Opperman u eerste as “koningskos” beskryf het, dink ek hierdie bundel is ʼn feesmaal waarna die leser by herhaling kan terugkeer. Die liefhebber van gedigte kan nie gou hiervan versadig raak nie.

U skryf:

 dit is my basis

hier in ‘n huis met blomme vol gedigte

hier in ‘n straat met naam en nommer

hier waar ek alles kan skandeer

net vir die sommer

En hieruit volg my vraag: waarom dig u?

Ek wens ek het geweet. Daar is waarskynlik nie een verklaring daarvoor nie. Niks is klaar afgerond nie, selfs nie die kosmos nie, en die digter probeer aanvul, of oop plekke invul. Veral dink ek dit gaan daarom dat die gedig die mens moet afleer om bloot te biologeer soos ʼn vis of donkie. Die gedig is ʼn opwekker of wakkermaker, ʼn slaapversteuring, ʼn openbaarmaking of bewusmaking van die wondere van die lewe in sy geheel (die natuur, die liggaam, die sosiale mens, alles mensliks, ad infinitum), ʼn bewusmaking met name van die vele gedaantes van die liefde en selfs van die mysterium tremendum, die dood. Wie intens bewus is van die dood, kry die lewe lief en leef intens.

Die volgende parodie van “Heimwee“, daardie lied waaraan Mimi Coertse ikoniese status verleen het, klink so:

 

Heimwee?

 Wie verlang vir langer as ‘n uitstappie

na die stilte van die wye wuiwende veld?

Waar lewe tier, is doefdoefmusiek en stadsgeluide

en my bank se vriendelik klinkende klank van geld.

Ek is keelvol vir die storie van die rustelose lewe

van mense wat kwansuis kom en wat gaan.

En ek sukkel om iets van die vrye ruimte

waar ‘n siel in woon (verbeel jou) te verstaan.

O ja, ek ken die clichés: die son op die velde

en die kamtige ewige blou daarbo.

Hoe skiet ‘n hart vol watse heimwee?

Kan drome swem? En hóé, in ‘n ou se oë?

‘n Anonieme digter, en Celliers, en Toon het allerlei

ylblou gesien, Wyk ook en Kleinjan, op die westerkim.

Hoe loop weemoed? Het dit voete en bene?

Hoe kan dit sag uit nostalgiese liedere klim?

Ek verlang na die stad se ligte

wat ná sononder onder die aandster begin skyn,

na die ligte van Berlyn, Harare,

Phnom Penh, Ieper en die Rooiplein

 

U oeuvre tree van meet af in gesprek met ouer digters. Ek dink onder andere aan die gedig oor Leipoldt, die gesprekke met Nijhoff. Hoe sien u so ʼn soort parodiese gesprek?

Die poëties-ongevoelige mens van vandag word in hierdie gedig gesatiriseer, die mens wat al minder natuurmens en digterlike mens is. Om in gesprek met ouer digters te gaan, is om verder te help voltooi, aan te pas, aan te vul, te wysig na die geleentheid van ʼn veranderlike tyd-ruimte.

Die wetenskap en die samehang en sin van alle dinge loop ook regdeur hierdie bundel:

Die eiertjies en die semenpaddavissies,

die vorm, bloed en vlees van die harte is presies

eenders.  (p.55)

Vanwaar die wetenskaplike belangstelling oor teleskope en diere?

Ek wil hiermee sê dat alle mense presies eenders is, en ons is ook verwant aan die diere, selfs aan die vrugtevlieg. Vroeg voorgeboortelik lyk ons soos akkedisse. Die digter werk met dieselfde werklikheid as die wetenskaplike; die digter sien net onmiddellik en moeiteloos dromend in wat die ander een met navorsing moeitevol ontdek. Digters is savante. Wat die samehang betref, hou ek van Jan Smuts se Holisme. “In each of the parts there is something of all the other parts” (Henry James). “Er ligt in elk ding schuilend fijne essence van andr’re dingen” (Gorter). “How does an electron know that it’s an electron, that it should behave exactly like electrons on the other side of the universe?” (T. Ferris).

So praat u oor die “interdigterlike taal” en dat daar niks nuuts onder die son is nie. Veral in “swerwende verse” kom dit aan bod:

17 (Akhenaton: Hymn to Aton en Sint Franciscus:

Canticle of the Sun)

 

met geringskatting van die nasies word

onmerkbaar langsaam en sag

fluisteringe van die een dag in die ander dag

millennium ná millennium uitgestort

Achnaton en Franciscus is op ‘n interdigterlike plek

binne die fanakalo se poëtiese taal

skoon glansend bonasionaal

buite tydruimte…

 

U het onlangs in ʼn Boekmerk (in Beeld) gepraat oor oertekste wat oor en oor dieselfde boodskappe oordra. Wil u verder op hierdie fassinerende gesprek ingaan?

Niks is selfstandig, onafhanklik en in sigself voltooi nie, ook nie gedigte nie; maar binne die veranderlike is daar ʼn onveranderlike kern, daarom kom dieselfde versreëls voor by Achnaton, Dawid en Franciscus, wat eeue uit mekaar geleef het. Die hele lewe is een groot gedig vol refreine.

In die volgende gedig lewer u – soos ook in die vers oor sokker – kommentaar op die politieke werklikheid:

Op Toon se Hoëveld

The times they are a-changin’

– Bob Dylan

 

Op die Hoëveld, waar dit oop was, en die hemel ver daar bo,

waar kuddes waaigras gehuppel het oor die veld

kon jy die aarde ruik en aan ‘n bestemming glo.

Koolstofdioksied borrel nou uit skoorstene waar hulle erts smelt.

As ek in die spreekkamer van die pulmonoloog sit en droom

van winde wat die wolke deur die hemele ry,

dan hoor ek die geluide van bekstang, ruik ek saal en toom

soos toe ek gaan kyk het waar my beeste en my skape wei.

Op die Hoëveld, waar dit wyd was, waar jy baie ver kon sien,

(Celliers en Van Wyk Louw se ylblou het ‘n knop gebring in jou keel)

jol jakkalse in murasies. O, boereplaas, uitgemoor en uitgedien,

dis die plek waar ondervoede kinders nou tussen kaias speel.

As die slukderm kwaai wurg en ek hoor my larinks fluit,

dan sweef ek na die Hoëveld op ‘n tuimelende wind

en soek ek in die yl maanlig al die mooiste plekke uit

waar ek kleiosse gemaak het as ‘n kind.

 

Ek lees hierdie vers as ʼn nostalgiese verlange na ʼn ou wêreld. Hoe ervaar u hierdie nostalgiese verskeurdheid as digter?

Ek het iets in my van Jean Jacques Rousseau en Alexander The Supertramp (Chistopher McCandless), oor “the nature man”, maar ek het nie veel aan Nietzsche se Űbermensch nie. Ons leef vandag in ʼn hoogs getraumatiseerde wêreld van geweld, moord, verkragting, ons lewe agter lemmetjiesdraad en tralies, en ons drink slaappille, rook dagga om ons stres te verwerk, alles die gevolg van die Industriële en Tegniese Revolusie wat nog steeds aan die gang is. (My volgende gedig sal daaroor gaan). Ons is skisofrene wat maan toe vlieg, maar koolsuurgas inasem en ons water met ons eie uitwerpsels ondrinkbaar maak; ons bou luukse voorstede met naasaan krot-agterbuurtes. Ek dink die natuurmens soos die San byvoorbeeld was ver gelukkiger as ons moderne en post-moderne mense.

In die sterk vers oor Dakar skryf u ʼn satire.  Hoe sien u die rol van satire? Ek onthou destyds hoe ʼn kritikus die “kokkie en kokkie se maat” geïnspireer het met ʼn mis-lesing!

Die satiriese Dakargedig gaan weer oor ons skisofrenie: ons bestee miljarde aan sport, skend die natuur daarvoor, maar ons laat mense sterf van honger. Die satire is maar een van die baie maniere waarop die gedig  mense wil wakker maak, oë probeer oopmaak, die Klaas Vakies skrikmaak, verkeerde waardes ontmasker.

Die bundel bevat aangrypende verse oor u vrou wat u onlangs ontval het. U het per geleentheid opgemerk dat sy u eerste leser was van al werk en sinryke kommentaar gelewer het op u werk. So dig u oor haar:

foto van vrou by die see 1966

 

geprofileer in ‘n diep leunstoel, bene gekruis,

afgetrokke en diep agteroor in ‘n strandhuis

sit sy in die vliesdun emulsie op dun karton

in ‘n wit bloes en broekpak by die venster in die lig

van die glansende see en geel wasige donsson

mymerend en byna deursigtig.

toe was sy nog veilig. hoe

veilig was sy toe

sy sit aandoenlik ingedagte en sereen

met die weerkaatsing in haar agteroorgesig

van die see sit sy in een hand ‘n skuins glas

vingers aan die pols van die ander een

hang bo die teetafelkleed. die vingerpunte tas

effe aan die bokhaarmateriaal. sy kyk dromerig

na haar vingers. die sigbare

stilte swyg. die oureool in haar hare

gloei sag. gevoelige vingerpunte van haar hand

hang tastend af aan haar geknakte pols hoog

bo die skerp stut van haar elmboog.

elders, ver, baie ver veraf elders doenig

is die kanker met ‘n ander iemand

wat sit in die vliesdun emulsie op dun karton

in ‘n broekpak by die venster in die lig

van die blink see en geel wasige donsson

dromerig mymerend en byna deursigtig

skimmig geskryf met lig

 

Hierdie gedig, soos die ander aangrypende verse oor haar, bring ʼn nuwe perspektief op die tradisie van die funeraire gedig waar die oorsaak van die persoon se afsterwe dikwels nie vermeld word nie.  Wat is u gevoel hieroor?

Daar is te veel taboes oor die dood en oor die elegie. Die gedig moet ons ook vir die dood wakker maak. A.G.Visser het vir my gevoel al te fraai oor die gestorwe geliefde geskryf. Al te mooi! En Totius alte tingerig. Ek glo met Viktor Frankl, Kübler-Ross, Brand e.a. dat ʼn mens nie moet romantiseer oor die dood nie, maar ook nie daarvan moet wegskram en dit nie moet ontken nie. “Death is part of life.” Ons moet realisties en sonder eufemismes daaroor skryf. Ek kry so die indruk die Europeërs van vandag beskou dit as taboe om oor die dood te praat en skryf; in Hollywood is glo nie ʼn begraafplaas nie, net heldehalle vir filmsterre. Dis ʼn groot leuen. Dit mag vreemd klink, maar die wrede dood en langdurige afsterwe van my geliefde vrou, oor ʼn tydperk van vyf jaar, het my kyk op die lewe en liefde daarvoor verryk. Dit het my ryper gemaak. Kübler-Ross het gesê die sterwende mens moet ons leermeester (“teacher”) wees.

En kan ʼn gedig ʼn mens troos wanneer die geliefde jou ontval? U skryf immers dat die agtergelewene ook doodgaan.

Die skrywer is meer as een mens, hy is vol gaspersone. Daarom kan hy teenstrydige liedere (Ernst van Heerden se term) skryf. Hy kan die een keer iets liefhê, die ander keer dit haat. Daarom kan ek twee gedigte oor Monroe skryf wat gans verskillend is, twee heeltemal teenoorgesteldes. Jy kan in die een gedig saam met jou geliefde sterf, in die ander gedig opstaan en die lewe meer intensief as ooit tevore liefhê. Daardie doodgaan van die agtergeblewene moet ons verstaan soos Frankl dit beskryf het: “Usually death is compared with sleep. Actually, however, dying should be compared with being wakened.” Dit is die paradoks. Ek is nou al vyf jaar aan die sterwe, maar ek sterf al skrywende. Die lewe was vir my nooit wonderliker as juis nou nie. Die gedig oor die dood van die geliefde is terapie, pynlik, soos genesende fisioterapie dikwels pynlik is.

In ʼn lang opgesette vers “fragmente van die onvolledige gedig” meen u:

mense beslym gedigte in die smet

van hulle alledaagse gesprekke

hulle trap daarop en loop dit stukkend

met die wonders van hulle voete

die boer ploeg dit argeloos om

hy roei dit uit as plae

aan die grashalms en veldblomme

die slagter met die wit jas slag                             

dit in die vark vir die supermark

die stralende weerlig slaan mense daarmee dood

vuurspuwende berge spoeg dit uit

dit stroom af in riviere

en die mere van Afrika swem daarvan vol

dit is dit wat kersvlamme

boontoe laat brand

 

Dis ʼn siniese blik op die digkuns, meen ek. Hoekom dan enigsins verse publiseer?

Dit is een van die twee bundeltitelgedigte. Ek sou eerder dink dit is “ʼn ontnugterende i.p.v. siniese gedig, wat dan juis weer meer gedigte vra. ʼn Mens hou aan met gedigte skryf, al gaan dit teen weerstande in, omdat die werklikheid en die menslikheid onversadig is. Mense leef in ʼn wêreld vol digterlikhede, maar herken dit nie as natuurlike gedigte nie en vernietig dit dan. As jy ʼn kersvlam doodblaas, blaas jy ʼn natuurlike gedig dood. Weet ons van die wonder waarom ʼn kersvlam regop staan en nie platval nie? So eenvoudig, so asembenemend. As die seun ʼn duif doodskiet, skiet hy ʼn natuurlike gedig (duif) dood met ʼn natuurlike gedig (die klipppie in sy kettie!). Jy moet aanhou gedigte skryf, omdat die gedig dit wat in onkunde vernietig word, tot die lewe herstel. Gedigte is genesend, terapie, aanvulling van die onvoltooide, die onversadigde, openbarend van die wonderlike. Jy moet aanhou gedigte skryf, as korrektief, as opwekker. Hierdie gedig wil verder sê dat alle digters van alle tye en tale saamwerk aan die Onversadigde Een Groot Gedig wat groter is as alle digters van alle tye en tale saam. Dit verstom my altyd dat daar in die literêre wêreld, waar daar samewerking moet wees, soveel venyn, nydigheid en toutrekkery is. Mea culpa, maar ek dink die dood van Anna, en die hoë lewensjare, het my in mindere of meerdere mate ‘ontsondig’ of verontskuldig.

U het met u Marilyn Monroe-verse ʼn geweldige gesprek in Afrikaans ontlok met gedigte wat terugpraat met die voortreflike verse oor die ikoon. Hoe beskou u die kwessie van invloed en beïnvloeding?

Gedigte maak gedigte. Van Achnaton af, via Dawid, Franciscus, Shakespeare, ens., skryf almal aan een gedig. Wat ons invloed noem, kan geweldig verrykend wees. In die huldigingsbundel wat uitgegee is vir Ina Gräbe met haar aftrede (World, [Wo]man, World) het ek daaroor geskryf hoe Van Wyk Louw se Die swart luiperd byna huid en haar ingegee is deur Goethe se Faust, met ver-rykende gevolge. In die artikel “Swerwende Verse” in Tydskrif vir Letterkunde (44[2] 2007: Lente) het ek ander gedigte betrek by hierdie soort ver-ryking: die Ilias en Mei (Gorter), Himne aan die son (Achnaton) en die Ilias; Mei en die Himne; die Himne en die Psalms; The Secret History of the Mongols, die Bybel en die Ilias … wat ʼn manjifieke poëtiese vlegwerk of inkladwerk.

Die werk as psalmberymer het kennelik ʼn invloed gehad op hierdie bundel. Ek weet u lees Frans, Italiaans en Hebreeus vlot. Hoe transponeer ʼn mens so ʼn oerteks na die moderne wêreld?

Ek weet party hou nie daarvan as ek daardie onderneming “superior amusement” noem nie, maar dit is wat dit vir my was: om ʼn antieke gedig in vandag se Afrikaans om te sit, en dan daarop te wys dat dit maar dieselfde mens is, toeka en tans s’n. Anthonie Donker het gesê daar is geen enkele menslike emosie wat nie in die Psalms voorkom nie. Depressie byvoorbeeld is nie ʼn hedendaagse verskynsel nie; gaan lees Ps. 6 en veral 88. Moses se gebed (Ps. 90) is elke mens van alle tye se biografie.

U het indertyd u doktorale studie oor Totius en Opperman voltooi. Het hulle steeds ʼn bepalende invloed op u digkuns?

Totius het klaarblyklik nie invloed op my gehad nie, Opperman wel. Ek kan my vereenselwig met sy siening van die digter se sewe selwe, soos ek my kan vereenselwig met Van Heerden se teenstrydige liedere. Die digter is ʼn verkleurmannetjie, eerder: ʼn agtpotige seekat. (Baie mense is verstom om te hoor seekatte verkleur vinniger en effektiewer as verkleurmannetjies.) Joernaal van Jorik is een van die heel grootste Afrikaanse gedigte, plus Opperman se groot siklusse soos Kroniek van Kristien en Brandaan. Hy was ʼn meester.

Die vermoë om oor emosionele sake on-emosioneel te dig, soos in “stilhuil“, is indrukwekkend. Hoe kry u dit reg om die poësie vas te vang in oënskynlik nie-digterlike momente? Om as’t ware die disparate saam te voeg?

stilhuil

 

stilhuil knyp die gapermosseloë tóé, knyp

vuur by die stram spleet van die ooglede uit. stilhuil ruk

‘n droë wurg af deur die kramp van jou sluk

af in jou strot. die huid huil gloeiend in stilhuil. dit gryp

jou onder die gesakte ken aan die keel.

dit swel die lippe tot ‘n bloederige dik

roes. dit kyk die bome, die telegraafpale skeel.

stilhuil suig ‘n brandende droë snik

binnetoe, dit laat die ooghare

soos die nat rooigras van die bulte in die reën swaar

grond toe hang, voel die toevou van ‘n donker hand

se palm en vingers om die son se brand.

in stilhuil huil die hele liggaam

bloederig saamgetrek in die neuspunt

stilhuil laat in die boom van jou are

deur jou lyf ragfyn strak

staande ‘n gloeiende gestolde weerlig vertak.

 

Ek weet eerlik nie hoe ek dit regkry nie. Soos maar met elke gedig. Ek weet net: Hierdie gedig is met ʼn wurgpyn in my keel afgedruk en geskryf op die begrafnisbrief in die kerk by die begrafnis van ʼn dierbare middeljarige man wat aan kanker gesterf het. Ek weet nou nog nie wat die predikant gesê het nie. Die gedig het in een worp ontstaan. Ek weet nie hoe nie. Ek weet net dit is ʼn slegte stukkie cliché om te sê jy huil of skryf met jou hart. Jy huil en skryf met jou hele liggaam, ʼn skok (of streling) wat deur al jou bloedvate, deur jou hele senustelsel trek.

In die gedig “die eenvoud van die eenvoudiges” maak u sterk filosofiese uitsprake wat nie die gedig ondermyn nie. Hoe kan ʼn digter filosofiese wyshede oordra sonder dat dit die gedig abstrak maak of verswak? (Die gedig is vanselfsprekend uiters ironies.) Vir my gevoel werk u sterk sintuiglik?

Dankie vir die sintuiglikheid! Weer eens: ironie is ʼn slaapversteurder, ʼn boetie van satire, en verlangs aangetroud hoort die siniese ook tot hierdie familie. Ek het dit in hierdie gedig teen mense (dalk die meeste mense) wat gewoon biologeer soos kakiebos of boetebossies … en gelukkig is! Eintlik beny ek (satiries) as geteisterde mens die mense wat dom-gelukkig in De Dapperstraat voortstap.

U skryf geweldig oor die klassieke: Orfeus, Priamos, Achilles – hierom dan die vers oor Theo Wassenaar?

foto van Theo Wassenaar

 

gedas in ‘n pak klere aan sy ou lyf

asof hy kantoor toe gaan by sy lessenaar

sit vroegdag al die bejaarde Theo Wassenaar

hy kyk na die Griekse teks   hy skryf

en laat Sofokles Afrikaans praat vertaal

is insout  Theo gaan haal

iets uit die vergeetboek    sy hand

met die pen hou voorlopig

sy eie boek van die dood op ‘n afstand

daar is tydelike duur in ‘n gedig

 

ʼn Saak van die gedig wat dit wat oud is, lewendig hou, en dan wel die digwerk wat nie net aan een taal gebonde is nie. Die gedig is lewe, selfs as dit oor die dood praat. Hierdie ou digter gee nuwe en langer lewe aan ʼn ou teks waarvan die skrywer al eeue gelede oorlede is! Nie ewig nie maar lank lewe die gedig!

U gee ook endnote. Dink u nie ons gaan deesdae oorboord met verklarings en erkennings aan die einde van bundels nie? Maak dit nie lesers lui nie?

Ek volg maar die mode. Ek sien Hollandse en ander Europese digters doen dit ook, en ons moenie vergeet nie: T.S. Eliot het dit ook gedoen. As ek nie verduidelik dat die woord “seën” ʼn trekvisnet beteken nie, gaan lesers glad nie verstaan wat ek bedoel nie. Dieselfde geld vir die woord “nes” soos waar waar een drinkglas in ʼn ander pas (“Achilles se skild“). Lesers gaan nie woordeboeke toe nie, want hulle gaan hulle vergis en dink hulle ken mos hierdie woorde!  Maar miskien het jy gelyk: ons bederf die lui lesers en maak hulle nog luier. Ek belowe om dit nie weer te doen nie.

Dankie vir die gesprek, professor Cloete. As verdere leesprikkel volg die gedig “identiteit” (p.54) hieronder.

 

identiteit

 

Tongues are separated by words,

The natures of persons as well;

And their skins are made different

So you can distinguish the peoples.

 

Praat is so menslik, maar vir mekaar

is ons soos die diere as ons praat

soms meer met die gebaar

as met die taal verstaanbaar.

 

Ons walg dikwels onderling.

 

Maar soos die voëls

kan ons almal sing.

 

Ons gesigte is haarloos, ons kruin

is sluik of korrelig bedek

blond of bruin.

 

Appelkoos of houtskool is ons huidskleur

met skakerings van lig

of skadu tussendeur.

 

Party kyk met amandels, party skreef

horisontaal, ander is soetskeel

of die oë lê soos die wolf s’n skeef.

 

Wat sê die oë? Dié wat blou lig

soos ‘n nuwe ster straal

of dié wat van buite onpeilbaar

geheimsinnig is en ondeursigtig?

 

Ons almal is aan die mossie verwant,

bipedies, jonk en orent

of met ‘n onvaste pikkewynwaggeltrant.

 

Duisende ander dinge onderskei

ons van mekaar. Tog weer, aan die ander kant,

op dieselfde manier berei

is almal se uitskot ‘n houtbruin brei

met dieselfde afstootlike skatoolgeur.

Deur die chemie van die nier

het almal se urine die kleur

van goed gebroude bier.

En dan veral, hoe die variasies ook varieer,

ons gryns as ons huil en treur

dieselfde sout en speeksel … Die variasies

varieer op die vals trots van die nasies …

 

Die eiertjies en die semenpaddavissies,

die vorm, bloed en vlees van die harte is presies

eenders.

                        Ons moet die nuwe boodskap aanvaar

al is dit met pyn almal gaan na dieselfde plek

slaaf, Skith, vryman en barbaar.

 

Dié winddun wasempie dan: identiteit,

ons raak dié glibberige

slymerige vis eenders kwyt.

Almal slaak dit met ‘n laaste sug

en stort dan in die oer-Een terug.

Haal ons die ideaal

!ke e: /xarra //ke

dan volmaak alleen

as ons ophou asemhaal?

 

(c) T.T. Cloete (Uit: Onversadig, 2011: Tafelberg Uitgewers)