Posts Tagged ‘Oor vis en vlees’

Leon Retief. Fossiele: Oor vis en vlees

Tuesday, January 3rd, 2017

foto-1

 

Fossiel van T. rex, Royal Tyrrell Museum in Drumheller, Alberta

 

FOSSILS

At midnight in the museum hall
The fossils gathered for a ball
There were no drums or saxophones,
But just the clatter of their bones,
A rolling, rattling, carefree circus
Of mammoth polkas and mazurkas.
Pterodactyls and brontosauruses
Sang ghostly prehistoric choruses.
Amid the mastodontic wassail
I caught the eye of one small fossil.
“Cheer up, sad world,” he said, and winked-
“It’s kind of fun to be extinct.”

(c) Ogden Nash

‘n Kykie na die fossielrekord toon dat die ouer rotslae fossiele bevat van organismes met koppe (bv. visse), gevolg deur organismes met koppe, nekke en bene (bv. reptiele) in jonger lae, dan diere met koppe, nekke, bene, hare en melkkliere (katte) terwyl ons in die jongste lae fossiele vind van organismes met koppe, nekke, hare en melkkliere wat op twee bene loop en opponerende duime het: mense.

 

Ecce homo

 

Wat het hom tog besiel om te wil

regop staan? Kierts! Tog nie net

dors na kennis, die bykom van ‘n appel

boaan ‘n baie groot, sugtende boom nie?

Hande-viervoet sou hy ook, op ‘n lei,

kon leer lees en skryf het, later

die relatiwiteitsteorie vinger-in-die-sand

kon uitgewerk het, en uitgevee het

(want waarvoor?) met minder rugkwale.

Hande-viervoet kan jy godsdiens beoefen,

loer in ‘n mikroskoop, klavier speel,

beeld boetseer, op jou rug rol om plafonne

te beskilder, weer omrol en van jou steiers

afklouter, fronsend, ingedagte, honger.

Hande-viervoet is eet en drink speletjies,

paring vanselfsprekend. Alles gaan.

Net toneel speel, lyk dit my, sou bedenklik

Ingewikkeld, haas onmoontlik en regtig

lagwekkend wees. Regtig. ‘n Kruipende

Faust. ‘n Klutaimnestra met swengelende

borste. Nee! Drama wil hoog reik!

Daar staan hy nou met sy weekdele bloot,

die mens, die sot, die groot toneelspeler.

 

(c) Wilma Stockenström

 

Die bouplanne (meer oor hierdie woord later) van al hierdie organismes hierbo genoem het met verloop van tyd veranderings ondergaan, maar die anatomiese kenmerke van voorgangers het nie sommer net verdwyn nie – oorblyfsels (ja Maria, spore J ) van voorouers word steeds in die anatomie van elkeen van ons gevind. Hierdie spore kan vergelyk word met ‘n palimpsest – omdat dit in die jaar toet te duur was om elke keer ‘n nuwe stuk perkament te gebruik is die bestaande skrif dikwels afgekrap en die skrywer se gedagtes is dan op die tweedehandse dokument neergeskryf. Hierdie hersirkuleerde manuskripte is palimpseste genoem, na die Griekse woord palimpsestos, wat “weer geskraap” beteken.

Net soos moderne tegnieke ons in staat stel om die teks van sommige van hierdie manuskripte te ontsyfer kan ons al geruime tyd, meer as ‘n eeu om die waarheid te sê, met toenemende akkuraatheid waarneem wat in die verre verlede in die liggame van ons voorouers “geskryf” was. Namate ons kennis toeneem verskaf hierdie palimpseste ‘n al duideliker en al meer fassinerende beeld van ons evolusionêre verlede.

Die meeste fossiele word gevorm uit relatief harde weefsel soos been of kraakbeen maar van tyd tot tyd word oorblyfsels van sagte weefsels, miljoene jare oud, ook in fossiele gevind. Die eerste en bekendste voorbeeld is die kollageen in ‘n T. rex fossiel van 68 miljoen jaar gelede wat in 2005 deur Mary Schweitzer beskryf is. Interessant genoeg toon daardie fragmente van die dinosouriër-kollageen wat analiseer kon word duidelike ooreenkomste met die kollageen wat in hedendaagse voëls gevind word –  verstaanbaar, aangesien dit algemeen aanvaar word dat dinosouriërs aan voëls oorsprong gegee het. Baie fossiele word egter elders as in die grond aangetref: elkeen van ons, elke lid van H. sapiens en elke leser van Versindaba is tjok-en-blok vol fossiele van ons evolusionêre verlede, sagte sowel as harde weefsel.

In ‘n brief aan Asa Gray skryf Darwin: “…embryology is to me by far the strongest single class of facts in favour of change of form…” Ek dink dat die liewe oom Charles hartkloppings van plesier sou kry as mens hom uit die dode kon opwek en hom bekend stel aan molekulêre genetika, ‘n studieveld wat byna ‘n eeu na publikasie van sy Origin of Species eers begin ontwikkel het. Hierdie vakgebied het sedertdien nog veel meer fassinerende feite aan die lig gebring wat die evolusieteorie nog stewiger gevestig het en dalk sal dit vir beide lesers van hierdie inskrywing interessant wees as ek kortliks kyk na ‘n voorbeeld of twee uit elk van hierdie vakgebiede.

‘n Mooi palimpses van ons visvoorouers wat in ons binneste skuil is die anatomie van die rekurrente laringeale senuwee. Die basiese patroon van bloedvate en senuwees in visse en die vroeë menslike embrio stem verbasend baie ooreen soos in die illustrasie onder gesien kan word.

 

figuur-1

 

 

Vergelykende anatomie van ‘n vis (in hierdie geval ‘n haai maar dit is dieselfde by ander visse) en ‘n amniotiese embrio soos by mense aangetref. Die aortaboë by menslike embrios is voorheen brangiale boë of brangiale arteries genoem en is ekwivalente strukture by mense en visse.

Namate die menslike embrio (en dié van ander vertebrate) verder in die uterus ontwikkel, verby die visstadium, verander die bloedvate en senuwees van posisie en sommige word absorbeer. Die proses is in detail beskryf maar ek gaan nie afbeeldings daarvan plaas nie. Die hele evolusionêre volgorde kan tydens hierdie veranderinge in utero waargeneem word, na ons visagtige voorkoms neem menslike embrios die kenmerke van embrioniese amfibieërs aan, gevolg deur die kenmerke van embrioniese reptiele. Eventueel bly net drie van die ses vate in soogdiere oor en op die ou end ontstaan ‘n volledig volwasse soogdieragtige sisteem met ‘n asimmetriese rangskikking van die aorta, karotis- en pulmonale arteries en pulmonale venes.

Die gevolg van al hierdie gewoel is ‘n interessante en kenmerkende anatomie van twee van die senuwees (die rekurrente laringeale senuwees) wat die larinks van soogdiere voorsien, met die langer linkerkantste senuwee wat vanuit die vagussenuwee ontspring en rondom die aortaboog haak voordat dit omdraai en na die larinks loop, terwyl die korter regtekantste senuwee sy draai rondom die regter subklaviese arterie maak soos onder gesien kan word.

 

figuur-2

Hierdie suboptimale ontwerp is die direkte gevolg van ons evolusie van visse na soogdiere. In visse bly die dorsale aorta waar dit is met die vagussenuwee (nie aangedui in figuur 1 nie) min of meer parallel daarmee maar by soogdiere beweeg die bloedvate van die vierde en sesde brangiale arteries/aortaboë na onder om die aorta te vorm. Die laringeale senuwees moet natuurlik steeds gekonnekteer bly aan die embrioniese strukture wat later die larinks gaan word en namate die hart en aorta in die toekomstige toraks in beweeg laat dit hierdie senuwees met geen ander keuse nie as om rondom die genoemde bloedvate te krul.

Die menslike werwelkolom, ook ‘n oorblyfsel van ons verlede as viervoetige primate, is onderworpe aan meer stress as gevolg van swaartekrag weens ons regop posisie en die manier waarop ons loop. Intervertebrale skywe is by mense meer geneig om te hernieer en kan soms druk op senuwees uitoefen. Dit kan nogal ongemaklike, pynlike en soms vreesaanjaende situasies tot gevolg hê.

 

lumbale mikrodiskektomie

 

by Bakoven staan die rooi stoel leeg

ek sit nie meer daar in my hart nie

 

ek kyk nie vorentoe nie

die rooi ritme spat uiteen

 

ek kyk nie na die see nie

of ‘n boot se skuimsleep

in die baai nie

 

die stoel sit hoog op hierdie

brokkelrots van pyn

 

ek het nooit gedink aan die stroom

die onbewuste vloed van

nek na stuitjie nie

ruggraatrivier van bloed en murg

waar visse swem

 

bodems wit met spoelklip

perfek soos pêrels ingeryg

 

trap o trap

versigtig

stoor die asem vir later

steur geen vis

hulle broei op druppeltjie-eiers

en migreer vogtig deur elke seisoen

 

die rooi stoel is leeg

toegerank met pompende buise

van suurstof en bloed

 

hoekom sit ek nie daar nie

vra ek die neurochirurg

vra ek die narkotiseur

die suster die skoonmakers

 

die pype die drup

hoekom klop die rooi alleen

hoe keer ek terug

hoe keer ek om

 

slapend mompel ek kinderryme

toegeswel soos alikruik

onthou dan dat ‘n kraakbeenskyf

net voor die uitloop

in die delta verkrummel het

 

my pols skuif agtertoe

soek die antwoord ruglangs

 

diep in die fasetblok

klop die vier ontsteekte vlerkies

vlak bo die boud se naat

 

my palms balanseer die gewig

van ‘n ganse lewensloop

werwel stadig om

en om

en

 

die rooi stoel

wag my bakhand in

 

(c) Marlise Joubert

 

*

 

A Short History of the Back

 

Against the wall, upright on chairs, supine

on beds, the back is settlement and return,

a way to silence, rest. Be warned it can shout,

in sudden pain, a syntax of pops and yelps,

lumbar region in revolt, extra vertebrae

trumpet their right to curve the spine. Sciatica

stings a column of ivory, squeezes vortex into

sculpture, balanced on a twist, a thoracic

tower of Babel and bone threaded through

the trunk. Walking upright is hazardous. We

pay the price to be taller than orangutans

in their monks’ robes, to move in a straight line

away from the chimpanzee’s amble, gorilla’s

hump and heavy mastoid process. Remember

how the dorsal fin that served as our rudder

shrank down to muscle? Trapezius. Intercostal.

Back to back they faced each other.

 

(c) Tanis MacDonald

 

Nog meer (en meer interessante) fossiele is in ons gene vasgelê. Meer as negentig persent van die menslike genoom bestaan uit rommel-DNA (junk DNA) wat nie funksioneel is nie – “dooie” DNA, onder andere gene afkomstig van ons voorouers en ook heeltemal ander spesies soos virusse. Hierdie DNA is nutteloos sowel as skadeloos, dit kan dus in die genoom bly voortbestaan – trouens, rommel-DNA word deur die evolusieteorie voorspel.

Retrovirusse plaas hul DNA in die genome van die organismes wat hulle infekteer en word dan endogene retrovirusse genoem. As hierdie genetiese materiaal te lande kom in die selle wat sperms and ova maak dan word hierdie DNA deur die nageslag geërf. Elkeen van ons se genome bevat die DNA van duisende sulke virusse, meeste is onaktief as gevolg van mutasies maar daar is al meer aanduidings dat virusse ‘n betekenisvolle rol gespeel het in die evolusie van mense en ons voorouers.

Nog ‘n voorbeeld van die hele aantal verskillende soorte rommel-DNA is pseudogene. Wanneer een of ander eienskap nie meer deur ‘n organisme gebruik word nie of wanneer daardie eienskap verander word dan sal die gene wat vir daardie eienskap kodeer nie sommer so ewe netjies uit die genoom verwyder word nie. Daardie DNA-oorblyfsels staan bekend as pseudogene, oftewel gene wat nonfunksioneel geword het en nie meer vir proteïne kodeer nie.

Die evolusieteorie, soos mens van enige ordentlike natuurwetenskaplike teorie verwag, moet nie net ooreenstem met feite nie maar moet ook toetsbare voorspellings kan maak: ons verwag dat die menslike genoom (en ander genome) talryke voorbeelde sal bevat van pseudogene wat van voorouers afkomstig is en dit is dan ook die geval – ons genoom is in der waarheid ‘n ware begraafplaas van voorouerlike pseudogene.

Ek het nog nooit gesien dat ‘n hond lemoene eet of lemoensap drink nie, maar selfs al sou hulle dit doen sou dit onnodig wees. Mense daarenteen benodig ‘n bron van vitamien C. In meeste soogdiere word vitamien C in vier stappe vanaf glukose gesintetiseer, vir elke stap is ‘n ensiem nodig en vir elke ensiem is daar ‘n geen wat vir daardie betrokke ensiem kodeer. Die heel laaste ensiem in hierdie metaboliese weg staan bekend as L-gulono-ɤ-laktoon oksidase, afgekort as GLO of GULO, afhangende van wie mens lees.

In primate (dus ook by mense), vrugtevlermuise en marmotte het die geen wat vir GLO kodeer ‘n mutasie ondergaan, by mense het ‘n enkele nukleotied verdwyn en dit is nou ‘n onaktiewe pseudogeen bekend as ΨGLO. Presies dieselfde nukleotied is ook by ander primate afwesig. Dit toon dat die mutasie wat die GLO-geen onaktief gemaak het plaasgevind het in die gemeenskaplike voorouer wat ons met ander primate deel. Die inaktivering van hierdie geen by marmotte en vrugtevlermuise het onafhanklik gebeur omdat die mutasies in hul gene van primate s’n verskil. But wait, there’s more, soos die advertensie ons vertel. Die aminosuurvolgorde van ΨGLO in mense en sjimpansees, ons naaste familielid, toon noue ooreenstemming met mekaar maar meer verskille met dié van oerangoetangs, wat nie so naby verwant is nie, terwyl die volgorde in marmotte weer heeltemal verskillend van dié van primate is omdat die geen onafhanklik inaktiveer is in ‘n stamboom wat lank gelede reeds van dié van primate divergeer het.

Dit is dus ooglopend dat ons en ander primate ‘n gemeenskaplike voorouer deel – hierdie verskynsel kan op geen ander manier verklaar word nie. Molekulêre biologie is besaai met geweldig baie sulke voorbeelde, nie net in primate nie maar ook ander organismes.

Dit behoort uit bostaande duidelik te wees dat die mens (en organismes oor die algemeen) nie optimaal “ontwerp” is nie. Dit beteken weliswaar nie dat hulle noodwendig wanaangepas by hul omgewings nie – meeste lewende wesens kom baie goed klaar ten spyte van minder as perfekte “bouplanne.” Soogdiere sien heeltemal goed alhoewel hul oë (anders as seekatte) ‘n blinde kol het, meeste mans kry nie beklemde liesbreuke nie en meeste vroue kan geboorte skenk ten spyte van die wanproporsie tussen die fetale skedel en die vroulike bekkenuitgang. Al bogenoemde is die gevolg van fossiele wat ons in ons liggame dra.

Evolusie gaan nie te werk soos ‘n gesofistikeerde ingenieur wat in ‘n gevorderde werkswinkel of laboratorium sit nie – die proses behoort liewer vergelyk te word met ‘n outydse agterplaasmekkêniek wat met ‘n tang, ‘n stuk draad en ‘n pot koue lym te werk gaan om iets aanmekaar te timmer of te herstel. “Survival of the fittest” kan ewe goed vervang word met “survival of the good enough” of “survival of the somewhat better” aangesien die oorlewing van ‘n spesie eintlik maar net beteken dat ‘n organisme in staat moet wees om meer nasate as sy buurman te lewer wat op hulle beurt weer meer suksesvol kan voortplant as hulle bure.

Om hierdie redes het ek besware teen die gebruik van metafore soos bouplan, bloudruk, ontwerp en dies meer, sowel as die begrip dat iedere en elke eienskap wat ‘n organisme besit die gevolg is van een of ander adaptasie wat deur evolusie tot stand gebring is – dit is nie soos hierdie proses werk nie. Evolusie “muddles through” soos die rooinekke sê, maar natuurlik ook nie altyd nie soos die talle en talle uitgestorwe spesies in die fossielrekord toon. Dit lewer nie perfekte produkte, bouplanne of ontwerpe nie. Daar is twee artikels wat hierdie standpunt beter en in meer besonderhede bespreek: die beroemde een deur Stephen Jay Gould en Richard Lewontin oor die booghoekmure van San Marco en een deur Massimo Pigliucci en Maarten Boudry, dus gaan ek nie verder daaroor uitwei nie. Pigliucci is ‘n bioloog wat ‘n mutasie ondergaan en ‘n filosoof geword het (ek weet nie of dit hom in staat gestel het om meer nasate te produseer nie) en na my mening behoort die kring van filosowe wat hulle oor die biologie uitspreek meer sulke mense te bevat. Indien enigeen nog na my relaas wakker is en genoeg belangstel, die verwysings word aan die einde verskaf.

 

Making Do

 

Who can forget the ripple of disgust

that twisted the piano tuner’s lip

on viewing the repair some former owner

(oh no, not us) had made with a bootlace?

It did the job, holding the pedal up.

But who could fault his scandalized recoil?

By now we ought to be familiar with

that look of flouted, outraged expertise

surveying the offense of ignorant

contrivances, cheap shortcuts, slovenly

expedients only a manic devotee

of puttering could approve or even think of.

Just so, when we moved in, the electrician

stared at the spiderweb of circuitry

some tinkering precursor hooked on wiring

trellised the basement with. And the house painter

almost swallowed his cigarette when he saw

the alligatoring my hapless, hand-done

sanding had left sitting on the clapboards.

 

Inured to such embarrassments, I grant

their right to be disgruntled: well-equipped

professionals are honor bound to scorn

the botch and haste of clueless amateurs.

(Although, come to think of it, a major

part of their living comes from cleaning up

our mean shifts or mad ambitious messes.)

I envy their straight saw-cuts, their rock-steady

hands with a ruler, fully furnished toolkits,

top grade hardware, knowing just how poorly

versed and outfitted most are doomed to be.

When shall I ever use the right length nail,

or hang a picture not a smidge too high?

Don’t we, most of us, mince up an onion

to take the place of seldom-bought shallots?

 

(c) Robert B. Shaw

 

http://georgealozano.com/teach/evolution-UNBC/papers/Gould1979.pdf

En:

https://www.dropbox.com/s/3wf2k1fia6v2ygt/2013-Pigliucci-The%20mismeasure%20of%20machine-%20synthetic%20biology%20and%20the%20trouble%20with%20engineering%20metaphors-Studies%20in%20History%20and%20Philosophy%20of%20Biological%20and%20Biomedical%20Sciences.pdf?dl=0