Posts Tagged ‘Oorblyfsel/Voice over’

Onderhoud: Breyten Breytenbach

Sunday, January 24th, 2010
Breyten Breytenbach

Breyten Breytenbach

Breyten Breytenbach het onlangs die Max Jacob-Prys gekry vir die Franse weergawe, Outre Voix, van sy jongste Afrikaanse bundel Oorblyfsel. Die volgende verbatim onderhoud wat Charl-Pierre Naudé met Breyten gevoer het, bestaan uit politieke sowel as literêre antwoorde, en is ook op Rapport se webwerf te lees. ‘n Verkorte aangepaste weergawe van hierdie onderhoud word hier geplaas.    

 

 

 

 

 

 

 

Môresê, Breyten!

 

Goeienaand, Charl-Pierre.

 

Geluk met die  Max Jacob-Prys aan die Franse weergawe Outre Voix van jou jongste bundel Oorblyfsel.

 

Dankie.

 

Elke prys het sy  beduidendheid. Met dié een is jy in geselskap van onder meer skrywers wat skryf vanuit kwesbare kulture. Beteken dít die siening van Afrikaans as onderdrukkerstaal in die buitewêreld het verander?

 

Ek het ‘n paar toekennings gekry wat name dra wat vir my tel: die Jan Campert (Campert was digter en Nederlandse versetstryder), in Italië die Malaparte en die Pier Paolo Passolini, in Suid-Afrika die Allan Paton, en in Frankryk die Max Jacob. Hierdie figure was gemarginaliseerd en kon as verstekelinge beweeg in ‘n area van suiwer betrokkenheid deur skryfwerk. “Afrikaans-as-gewas-van-Apartheid” (soos in “elke-Arabier-is-‘n-terroris”) het wel nog ‘n houvas. Maar die siening begin verander.

 

Die “Nazi-taal” Duits was tog ook die taal van Paul Celan?

 

Natuurlik! As ‘n taal gemeet moet word aan die mate waartoe dit vir rassisme aangewend was, is daar geen staanplek vir Engels, Frans, Russies, Chinees nie. Afrikaans was eweneens ‘n taal van verset. Het Bettie du Toit en Bram Fischer en Adam Small en P.J. Philander en Jan Rabie en Van Zyl Slabbert en Beyers Naudé hul nie van Afrikaans bedien nie? Met Alex la Guma kon ek slegs Afrikaans praat. 

 

Daar blyk ‘n sinergie tussen Max Jacob en jouself. Dié Joods-Franse skrywer was digter én prosaïs én skilder, en ‘n skakel tussen die simbolisme en surrealisme. Die simbolisme, wat so loer in jou eie werk, word nog maar karig in Suid-Afrika verstaan. “Close reading” is belangrik maar verwys te nougeset na wat “teenwoordig” is in die teks. Die simbolisme betrek ‘n vryswewende verbeelding en verwys juis na wat “nie teenwoordig” is in die teks nie.

 

Ek hou van hierdie benadering. Ek probeer om ‘n wye verwysingsveld te skep wat déél in assosiasies op collage-agtige wyse, en dit wat nié “teenwoordig” is nie (maar wel teenswoordig). Die simbolisties-surrealistiese tydvak was gekenmerk deur ‘n skeppende saambestaan van die private droomwêreld én die politieke werklikheid én betrokkenheid daarby. Jacob was dandy, flaneur, mistikus,  eksperimentalis. Soos Jean Cocteau het hy “betekenis” gesoek in die rituele van beweging, nie in bourgeois konvensies nie.

 

Jacob was ‘n baanbreker van die prosagedig. Op jou aanbeveling is Katastrofes as poësie in jou versamelbundel Ysterkoei-blues ingesluit, terwyl dit jare lank as prosa gelees is. Eien ons poësie te veel na uiterlike vorm?

 

Absoluut. Hierdie gewaande afbakening tussen poësie en poësa – of sogenaamde prosaverse – is gebaseer op ‘n dom fundamentalistiese debat. Waar sou mens Samuel Beckett se “fizzles” inpas, of Rimbaud se Une Saison En Enfer? ‘n Gedig is ‘n geval van “as jy hom teëkom sal jy hom herken”, aan ‘n genoegsame eienskap van stilte en spanning, dat die lyne spanlyne is. Dit beteken nie dat mens bestaande konvensies ontken nie. Maar om teen die prikkels (die vorm) te werk is om die grense van betekenis te toets.

 

Is Outre Voix ‘n streng vertaling, en het jy dit self gedoen?

 

Dis ‘n “oorsetting” uit die Afrikaans, deur Georges Lory.

 

Dit lyk of die prys sekularisering aanmoedig. Dink jy die begrip “demokrasie” word by ons fundamentalisties benader?

 

Vir die ANC is “demokrasie” ‘n sjibbolet, ten nouste verwar met een-party meerderheidsregering. En die staat as “geprivatiseerde” lobolakoei word gemelk totdat sy huil van armoede. Die ANC is nié draer van “moderniteit” (werklik sekulêre waardes, afwenteling van mag, uitwissing van ekonomiese onregverdighede) nie. En hierin is dit fundamentalisties: alleenbesit van mag, straffeloosheid en patronisering. Vraag is: Met hierdie kreeftegangkennis, sou ek hulle steeds ondersteun het teen apartheid? Beslis! 

 

Jy bevorder die idee van ‘n vrye Afrikaanse universiteit. Dis al aangetoon dat die Universiteit Stellenbosch se rede waarom hy Afrikaans afskaal, naamlik om meer bruin en swart studente te lok, vals is.

 

US word merendeels ‘n wit, Engelstalige universiteit. Kom ek gooi ‘n klip in die bosch – US gee nie ‘n trippens om vir bruin of swart studente nie. Dis belangrik dat moontlikhede gebied moet word aan ‘n geslag wat nie die voorregte van ‘n Emma Malema het nie. Maar om te slaag móét so ‘n inisiatief gedryf word deur die burgerlike samelewing met steun van die privaatsektor.

 

Daar is ‘n growwe mistasting by taalbeplanners: dat die indiwiduele sprekers ‘n taal dra. Alle streng denke oor taal, van Wittgenstein tot Derrida tot later, beklemtoon taal as ‘n kollektiewe kragveld waarin die sistemiese, hoewel vryswewende, integriteit van die taal die bepalende faktor is. Die indiwidu se deelname volg op hierdie integriteit en gaan dit nié vooraf nie.

 

Ek is dit hart en mond met jou eens. Daadwerklike erkenning aan diversiteit is progressief en in teenstelling met die reaksionêre verstokking van ‘n hegemoon van “oorwinnaars” waar almal één kaktaal praat. Vergeleke met die res van die wêreld, is Msanzi is agter die klip.

    

Taalbeplanning gee min erkenning aan die prestasies van Afrikaans. Daar word uitsluitlik gekyk na “getal moedertaalsprekers”. Maar selfs hierin vergelyk Afrikaans (6,3 miljoen) én plaaslike eweknieë nie sleg nie met beroemde kultuurtale: Noorweegs (4,7 miljoen), Deens (5 miljoen), Eslands (1,1 miljoen), Hebreeus (5 miljoen).

 

Moet mens lag of huil oor die closet colonials? Het hulle al gehoor hoe klap en knik ‘n Namakwalander se tong van kies tot koningskos? En oor die getalle-argument: Jy ken die uitdrukking (ek versag) – eat sjous, a thousand flies can’t be wrong!

 

Jakes Gerwel laat blyk in Beeld dat Afrikaanse intellektuele teen apartheid deesdae “regs” voorkom. Hierin sien ek ‘n miskenning van die uiteenlopendheid van oortuigings wat apartheid beëindig het. Dis tog ‘n mite dat die ANC SA alleen bevry het?

 

“Regs” (djy wiet mos) staan in  vir “rassiste”. Wil jy nou kom sê die Sowjet-Unie hier op die laaste, of die Chinese Volksrepubliek tans, was of is “links”? En die ANC het g’n vir SA “bevry” nie. Hulle het dit óórgeneem. Ek hoop een van hulle het FW se lighter as aandenking gekry.

 

Daar word vergeet apartheid was ‘n struktureel gewelddadige program (die ANC hou daarvan om dit voor te stel as ‘n burgeroorlog) wat die swart bourgeoisie landuit gedryf het en die armes arm gehou het. Nou word die wit bourgeoisie landuit gedryf in ‘n program wat eweneens gewelddadig is (nie in gelyke mate nie!) en die groot gros armes is armer.

 

Apartheid was ‘n volksmisdaad gepleeg deur mense wat geweet het wat hulle doen. Dis druk van binne – van die civics, vakbonde, kerke, wat die strukturele geweld daagliks aan die bas gevoel het – wat dit verander het. Die tragedie is dat die buitelandse vleuel van die ANC met die oorname slimmer as tien Manuels was. As toegif is die wittes ontslaan en hulle kinders noodgedwonge landuit. En die werklike ramp is die groeiende ellende veroorsaak deur die Gucci-comrades. 

 

Herman Giliomee skryf hoe Afrikaanse sakeleiers en die filosoof Willie Esterhuyse in 2000 Pres. Thabo Mbeki “gewaarsku het teen ondermynende neigings soos minderheidsregte”. Is dit nie tyd vir ‘n “waarheidskommissie” oor fasiele en selfsugtige begrippe wat pseudo-bevryding meegebring het nie?

 

Jy terg my nou. Jy behoort te weet van die hoë agting wat ek koester vir die wittes wat met die oë klam van ‘n nuutgevonde patriotisme aan die baas se voete sit, wat vergeet het dat hulle gister vir die Nattes gewerk het of hul geld uit die Afrikaners gemaak het. Natuurlik het ons ‘n diepgaande “waarheidskommissie” nodig. En net so het dit nodig geword om ‘n bestekopname te maak van wat gewerk het en wat nié. Soos ook elders in Afrika sal ons nuwe modelle wat meer ruimte bied moet beding.

 

Jy glo in minderheidsruimtes. Pres. Zuma se poligamie is ‘n minderheidsgebruik …

 

Werklik minderheidsgebruik? Wat van Steve Hofmeyr? (Grappie.) Poligamie is diskriminasie teen vroue. Hoekom dan nie veelmannery wettig nie?  

 

 

 

oorblyfsel / voice over

Friday, September 25th, 2009

Oorblyfsel / Voice Over

Oorblyfsel / Voice Over

oorblyfsel / voice over.

Breyten Breytenbach.

Kaapstad: Human & Rousseau.

ISBN 978-0-7981-5071-2.

Prys: R150.

 

 

 

 

Breytenbach het al meer as een keer gedreig om op te hou skryf in die “dooie taal” Afrikaans. Derhalwe is dit telkens ’n dubbele vreugde om ’n nuwe bundel van hom te lese te kry.

So ook met die pas verskene oorblyfsel / voice over. Dié titel eggo twee vorige “oorblyfsel”-bundels uit sy oeuvre, te wete Oorblyfsels (1970) en Oorblyfsels: ’n Roudig (onder die skrywersnaam Jan Blom – 1998).

Die subtitel “(op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj) / (the nomadic conversation with Mahmoud Darwish)” verklap dat die 12 gedigte (in Afrikaanse sowel as Engelse weergawes) geïnspireer is deur die dood verlede jaar van die gevierde Palestynse digter, wat deur Breytenbach tot een van sy goeie vriende gereken kon word. Onmiddellik na die sterfte van Darwiesj tydens ’n opehartoperasie in die V.S.A., so verklaar Breytenbach in die “Nota” aan die einde van die bundel, het hy “hierdie reeks begin skryf as fragmente van ’n voortgesette gesprek met hom”.

Elkeen van die gedigte behels enersyds vertaalde gedeeltes van Darwiesj-gedigte (maar dan uit bestaande Franse en Engelse omwerkings van die oorspronklike Arabies, wat Breytenbach nie beheers nie). Soms gaan dit om die omsetting van ’n spesifieke gedig, ander kere om die betrek van fragmente uit verskillende verse. Daartussendeur het Breytenbach dan, andersyds, sy “eie stem […] vervleg”.

“Die beelde, in ’n mate selfs die ritme en die vormgewing,” is Darwiesj s’n, maar dit behoort duidelik te wees dat die verse eintlik as Breytenbach-werke gesien kan word. “[G]etransformeerde ‘variasies’” noem hy hulle.

Die bundel verteenwoordig daarom ’n huldiging van Darwiesj, maar is ook ’n volbloed toevoeging tot die Breytenbach-oeuvre self (wat al voorheen vertalings ingesluit het).

Ook binne die bepaalde bundelopset word die transformerende variëring voortgesit. “Die Engelse weergawes hier het terugwerkend gespruit uit my Afrikaanse pogings, met die bedoeling om ’n gesprek tussen die twee tale te bemiddel. Hulle is dus nie woordelikse ‘vertalings’ nie. Soms het ’n eggo of ’n assosiasie in die Engelse segging weer ’n ander moontlikheid in Afrikaans oopgemaak.”

So geefsel verskillende betekenisse van die tweetalige bundeltitel op. Die oorspronklike gedigte is ‘oorblyfsels’ van Darwiesj, maar wat via die omsettings – die “voice overs” – hom (en sy stem) nou ook in Engels én Afrikaans laat ‘oorbly’ (= vertoef), of selfs ‘oor bly’ (= van voor af laat bly). By dit alles moet die “voice over” van Breytenbach se eie stem inbegryp word.

“Reis” en “gesprek” (op verskillende vlakke) is die twee sentrale motiewe in die bundel wat deur die subtitel uitgelig word. As Darwiesj in die V.S.A. sterf, verneem Breyten daarvan in Wes-Afrika, op Gorée-eiland. Die aangroeiende maan in gedig 1, totdat dit word “’n skip van been / jou skedel, Magmoed”, verbeeld ’n toenemende indiwiduele vereenselwiging van die “ek” met die “jy” in die bundel – ’n voortsetting van die voortdurende preokkupasie met identiteitsvorming en -omvorming in die Breytenbach-oeuvre. “[D]aar is geen identiteit,” word in gedig 2 verklaar. En dan, in ’n beeldopstapeling wat funksioneel ‘troebel’ is:

alleen ’n ruisende ruimte van bewing

alles is beweging totdat dit ophou beweeg

om te sing van die tyd

toe tyd nog tydsaam die minnaar in ’n minaret was

oor beeldpatrone van die lyf[.]

 

In die derde gedig, deur “ses, sewe, agt dae en nagte” as inset duidelik gemerk as ’n vervolg op die “drie, vier, vyf dae en nagte” waarna in gedig 1 verwys is, word gewag gemaak van ’n reis na Katalonië. As die “jy” dan “in ’n koma” langs die reisende “ek” kom sit, en ’n gesprek aanknoop, is dit onseker of dit ’n onthoude of verbeelde gesprek is, en wie dit is wat dood is, wie lewend; wie skrywer is, wie geskryfde. Vergelyk die slotreëls van die gedig:

miskien is ek iewers inktussen

en miskien is ek ’n afgetrede ontslapene

tydelik in die lewe met verlof[.]

 

In Engels:

perhaps I am somewhere in the ink-between

and perhaps I’m an aftertime corpse

temporarily on leave in this lewd life[.]

 

Die volledige identiteitsvervlegting word in gedig 4 herhaaldelik bevestig:

gegroet, hy wat met my ’n bewussyn deel

[…]

gegroet, hy wat my glas met my deel

[…]

want wie het dan gesterwe … wie?

 

Gedigte 5 en 6 het as basis twee treffende Darwiesj-verse waarin groepe mense aangespreek word. In 5 word die Israeli’s vermaan dat hul nie hul identiteit deur geweld en afsondering terug kan vind nie. Hul essensie is eerder in die universeel menslike geleë, iets wat hulle met die Palestyne wat deur hulle onderdruk word, deel:

kom, kom drink Arabiese koffie saam met ons

en julle sal sien dat julle mense is

net soos ons   net soos ons ook ween

ook in doodskiste pas[.]

 

In 6 kom Darwiesj se Palestynse volksgenote aan die beurt, naamlik in ’n relaas oor hul nasionale identiteit. As indiwidualiteit erken word, as lewe, liefde, ensovoorts nie vernasionaliseer word nie – eers dan sal hulle waarlik ’n volk kan wees. Maar dat dié twee gedigte in wese ook oor Breytenbach se eie volk, die (Suid-) Afrikaners handel, word duidelik as daar later in 6 staan:

ons sal ’n volk wees wanneer dit die sanger toegestaan word

om ’n vers van die soerat van Rahman by ’n gemengde troue

in die Bo-Kaap te sing soos ’n kanarie

 

ons sal ’n volk wees wanneer die patriot sy vierkleur nog net hys

in sportstadions en by skoonheidskompetisies

en tydens herinneringe aan die Groot Vlug – net dit net dit[.]

 

Ook ’n kollektiewe vereenselwiging word dus in die bundel verwoord. Want (luidens die inset van gedig 7):

identiteit is ’n gesprek, Magmoed

wanneer jy soos in ’n droom hoor

wat die ander vertel

en jy jou verbeel jy het verstaan/bestaan

 

om te wees is om te beweeg[.]

 

In gedig 8 word gewag gemaak van die “verre noorde” en “die blinde sanger”, klaarblyklik onderskeidelik verwysend na Friesland en na die blinde Friese digter Tjêbbe Hettinga waarvan Breytenbach in die “Nota” vertel. Die “blinde sanger” spreek nou ook mee (gedig 9) – en die indiwiduele en kollektiewe identiteite eggo in al groter kringe uit. Daarby tree digterskap en poëtikale besinning al sterker op die voorgrond (gedigte 10 en 11). Trouens, so sterk is die identiteite van die drie genoemde digters vervleg in 10, dat dit haas onmoontlik word vir die leser om te onderskei wanneer Darwiesj of Breytenbach of Hettinga ‘praat’. Want:

die vers wat slegs ’n enkele digter onder die vlerke dra

het immers alle ritme verloor[.]

 

Of in Engels:

the poem that carries a sole poet under the wing

will spiral down in a loss of rhythm[.]

 

Dit is die lewe – met sy geweld, sy “onvolmaking” en al – wat die digter(s) luidens gedig 11 in die oog het. Die digkuns is sowel ’n spieël as ’n herskeppingsdaad:

[…] om deur die leë erwe van vergaan te dwaal

is om die heiligmaking van die niet te verkondig

soos die blinde digter van walvisse

as buitelende heuwels in die maanlig sing

 

skryf op: Arabier

skryf op: Palestyn

skryf op: Afrikaner

skryf op: ook mens[.]

 

Die bundel eindig hoopvol (gedig 12). ’n “[A]nder dag” van vrede, skoonheid en waarheid word selfs voorsien – met die kwalifikasie: “asof die tyd sluimerend met vakansie is”.

’n Komplekse en myns insiens boeiende spel van identifikasie, identiteitsbepaling en -spieëling deur middel van gesprekvoering vind dus in oorblyfsel / voice over plaas. Spieëls, die (aangroeiende, lig-reflekterende) maan en weerkaatsende waters (soos putte) is belangrike ondersteunende motiewe in die bundel in hierdie verband. Die vervlegting en ooreenskuiwing van digterlike stemme, en die gelaagdheid van (transformerende) vertaling op vertaling op vertaling, vergestalt dit verder. Dis heel funksioneel dat die bundel dubbeltalig aangebied word. “Vertaling, om oor te gaan van een taal in ’n ander, is ook ’n reis,” skryf Breytenbach in die “Nota”.

Na die verskyning van Breytenbach se A Veil of footsteps verlede jaar het ’n pennestryd losgebars oor die kwaliteite van die Engels wat hy gebruik. En al klaar is weer kritiek uitgespreek (deur Hans Pienaar in 20 September se Rapport Weekliks) oor die Engels in oorblyfsel / voice over. Ek moet ruiterlik erken dat my beheersing van Engels nie van so ’n aard is dat ek oor die meriete van die aanklag kan oordeel nie. Wat ek wel weet, is dat Breytenbach so kreatief beeldend, transformerend en spelend met taal te werk gaan dat die meetsnoere van die grammatika en die stilistiek in elk geval ernstig uitgedaag word daardeur.

[O]orblyfsel / voice over vertoon tematiese, stilistiese en vormlike eienskappe wat welbekend is uit Breytenbach se oeuvre. Die wyse waarop dit alles aanmekaargesit is in dié bundel, is egter uniek.

Ook die parallelstelling van ’n/die Afrikaner se posisie met die van ’n/die Palestyn is ongewoon, juis gesien teen die agtergrond van Afrikaners se tradisionele vereenselwiging met die lotgevalle van die Oudtestamentiese Israeliete, en wat in die tweede helfte van die twintigste eeu in ’n simpatieke houding jeens moderne Israel neerslag gevind het.    

 Bernard Odendaal