Posts Tagged ‘Op die vingerpunte van die heelal René Bohnen’

Resensie: Op die vingerpunte van die heelal (René Bohnen)

Friday, October 6th, 2017

Op die vingerpunte van die heelal deur René Bohnen. (Naledi, 2017, ISBN: 978-0-928316-95-7, Formaat: Sagteband, 63p.)

Resensent: Amanda Lourens

In hierdie dae waarin daar soveel argumente gevoer word oor goeie en swak poësie, oor digters wat teen hulself beskerm moet word en resensente wat te gaaf is, is daar tog een stuiwer wat ek in die armbeurs wil gooi: Elke bundel (en kom ons praat nou maar oor dié wat dit tog wel tot by publikasie maak) het ʼn bepaalde hartklop, wat nou verbonde is aan die digter se mens- en digterwees. Bowendien kan die hartklop van verskillende bundels radikaal van mekaar verskil – selfs binne ʼn enkele oeuvre. Met jou vinger op hierdie hartklop kan jy as leser herken wat dit is wat die bundel probeer wees, en wat die digter daarmee wil bereik, asook uit watter soort drade die gedigte gespin of geweef is. En soos ons almal weet, kan jy nie ʼn syrok beoordeel wanneer jy onder die indruk is dat dit eintlik ʼn katoenrok is nie. Wat ek met hierdie ietwat lompe verstrengeling van metafore probeer sê, is dat ek reken dit is nodig om as resensent werklik die hartklop van ʼn bundel te probeer vind en jou oop te stel vir die spesifieke stem wat aan die woord is, alvorens jy aan die hand van watter kennis ook al ʼn billike oordeel kan uitspreek.

Op die vingerpunte van die heelal is die derde bundel uit die pen van René Bohnen. Ek het aanvanklik gesukkel om die polsslag van die bundel te vind, en het dus eers na moontlike leidrade gaan soek om my te help om die bundel te verstaan vir wat dit is. In die digter se onderhoud met Louis Esterhuizen op Versindaba vertel sy oor die verband tussen die vorige en die jongste bundel:

“Ons probeer immers binne versplintering heel koherent lewe – hiervan was ek as kind al bewus. Uiteindelik begin ek daaraan uiting gee, nadat ek in my vorige bundel ʼn plek van innerlike krag kon bereik, waarna ek in ʼn destydse onderhoud verwys het as “eilandjies van stilte”. In hierdie bundel ondersoek ek die lawaai tussen daardie eilandjies, dink ek.”

Dit was aanvanklik moeilik om te probeer peil presies wát die digter bedoel met “die lawaai tussen [die] eilandjies [van stilte]”, maar dit het mettertyd geblyk dat dit ʼn waardevolle sleutel tot die hart van die bundel is.

Hierdie derde bundel uit Bohnen se pen is nie soseer ʼn “samekoms van die alledaagse en die metafisiese”, aldus Marlies Taljard oor haar vorige bundel, nie. Die bundel open wel met gedigte (waaronder “Inkommers”, “jozi op ʼn riff” en “Jaar van die houtperd”) waarin veral die alledaagse aan die orde kom, en dan wel in die gedaante van besonder sintuiglike beskrywings van verskillende dinge in die materiële werklikheid – hetsy ’n skoenlapperinval in Johannesburg of verskeie Oosterse bestemmings.

Lees ʼn mens verder, is daar nog vele gedigte wat akkurate en dikwels kleurryke beskrywings bied van veral omgewings, maar dan is daar ook dié wat kritiek bevat teen die mens se vernieling van die natuur, soos byvoorbeeld in die uiters verdienstelike “Nieu-Bethesda 2020” (oor hidrobreking):

Radioaktiewe kraaie sit in klosse op Shell se torings,

hulle gekrys verdring deur bore se ra-ta-tat-tat, deur

vierhonderd tenkwaens wat druis op die dubbellaanpad.

’n Meermin se uitgestrekte handjies verweer

in die suurreën, haar bierbottel-oë bars,

rapat; breek die watertafel. Sien is glo –

protesplakkate tolbos soos orakels

oor fracking in die Oos-Karoo.

Moederaarde hoes ondergrondse gas, sy het gif in haar are.

Veelvermoedend blêr dragtige ooie sonder ophou in die gras.

Die vorige armes is nog armer, die lug is maalglas

bokant Helen se vaal jaart met krippe en kamele.

Deur die krake in Koos Malgas se gemesselde uile

glip ’n gladde tweekopakkedis. Sien is glo – hoofletter

protesplakkate verbleik langs magnate se beloftes

oor fracking in die Oos-Karoo.

In die broeines hoog teen Kompasberg lê ’n witkruisarend

haar eerste eier – dit is grof, dit gloei in die donker.

Bohnen se vermoë tot oortuigende en oorspronklike beskrywing blyk ook uit ʼn aantal gedigte oor kuns (“om kleur te kerf” en “Die omhelsing”). In laasgenoemde dig sy die werk van die Franse kunstenaar Séraphine Louis (wie se lewe terloops ook raakpunte het met dié van Helen Martins) om tot sonderlinge woordportrette:

Séraphine, jy swyg in ekstase,

dryf op jou spektrum van lig

en onttrekking

want hoe besoek ’n mens gekamde

magrietjies of vere soos vlamme,

suurlemoensonne of oë vir peule,

loodglaskleure in die gelaagde

boom van die lewe?

In die gedig (“Aan die hand van”, p.13) word die verband tussen visuele beeld en beskrywing en die skep van gedigte aan die orde gestel, en hierdie gedig raak dan ook ʼn belangrike leidraad tot die ontsluiting van die bundel:

Voëls kyk is ’n ander manier van gedigte skryf

mymer jy langs broodkrummels en piesangs

in die skemer met jou beker tee heuningsoet

in jou hand – neem nou maar

die kuifkophoutkapper of druppelvlek

wat bont gespat in rooi en geel en swart

uit Pollock se skilderdoek stap

en wat is Goya anders

as die mikstertbyevanger, die sirkuspapegaai Lautrec,

kyk hoe eggo kardinaalvinke Monet se papawerlande,

die kleurblokke uit Warhol se hande, sien Hopper se meeulose

strande teken kwatryne oor halfweghuise met dun gordyne

Kuns kyk is ’n manier van gedigte nader roep

Elke skildery is ’n spieël

en met jou dagboek verberg in die versreëls

van ’n sonnet, soek jy nóg refleksies aan die hand

van verwers en geveerdes

Voëls reis lig

van boom tot boom

of van skets tot see en meer

skryf jy laas nag in ’n droom

toe twee Pollocks tjirrr

in die Pierneef-ets

Hiervolgens is die waarneming van die alledaagse lewe nie ondergeskik aan die proses van kunsskepping nie, en ook bevind die verskillende kunsvorme hulle in ʼn soort organiese verband met mekaar. Waar die vorige bundel die spirituele domein via alledaagse belewenisse betree het, bevind hierdie bundel hom waarskynlik midde-in die uitbundigheid van die aardse lewe self – die “lawaai” waarna Bohnen verwys.

Lesers wat Bohnen se nuwe bundel gaan benader met spesifieke verwagtinge oor betekenis en struktuur gaan dit moeilik vind om ʼn vastrapplek in die bundel te kry. Die gedigte is organies binne die bundel gerangskik, en daar is geen formele afdelings nie. Die gedigte se “betekenis” word dan ook eerder gevind in die feit dat elke gedig ervaar behoort te word, eerder as kognitief uitgepluis te word. Wanneer laasgenoemde die leesstrategie is, is daar die gevaar dat die gedigte as inhoudelik redelik yl gesien kan word. Die hartklop van die bundel word waarskynlik daardeur gekenmerk dat die leser deel raak van die belewenis wat in die gedigte ingebed is, en behoort met daardie ingesteldheid benader te word. Ten beste is dit ʼn poëtiese in-die-oomblik-wees; ʼn diepe ervaring van bewustheid (by gebrek aan ʼn beter vertaling vir “mindfulness”) wat in taal weergegee word.

Aan die ander kant mag lesers ervaar dat die gedigte nie genoegsaam op ʼn inhoudelike substraat staatmaak nie, en moontlik te veel op indrukke berus wat nie altyd vir die leser tot sinmakende patrone saamgedig word nie – alhoewel die digter in die genoemde onderhoud juis wys op die rol van patrone en getalle.

Na patrone word daar heel dikwels in die bundel verwys, soos in die baie bevredigende “Afkopengele in die web” (p.42):

Die vrou

weet nie waar sy hoort nie

nie in die opgerolde duisendpoot

of in hierdie groot mandelbrot nie

Sy is ’n boompie in ’n blomkool se blomkoolboompie,

inderdaad is sy

’n snipperpers knip-en-plak vers

Plek van hiperbool en gebro/ke harte,

iewers is daar ’n nommer, ’n algoritme

vir raak en lukraak

die patrone van donker materie

die koningskandelare bloedrooi

in die veld ná die brand

vuurlelies in die sand

almal palimpses in ’n god se hand

Soms is roekeloosheid ’n noukeurige, toegespitste toewyding

ons plaas maar altyd ons gebede in die krake van ’n muur

; ; ;

is luidkeels op eilandjies van stilte ingeboek

Die “patrone van donker materie” waarna verwys word, tesame met die koningskandelare en vuurlelies, is almal herskryfbare teks in ʼn goddelike hand, oftewel, die natuur is die materiaal in ʼn groter sinmaakproses. Dit skakel weer met die bewussyn van ʼn groter orde in die heelal in die gedig “Luisteraars” (p.41) wat sy aan die bekende Elizabeth Klarer opdra:

Al tik jy deurmekaar is die orde altyd outomaties daar:

sneeu steen en sfeer grot en huis tuig en skrif

rots en tekening die eland en die ewening,

so is ons holografie in die vakuum se gedagte.

Selakante swem in die wolke, daar is ’n woestynvis

teen die rotswand van die ruimte – spieël en raaisel

versmelt in swart glas, hiërogliewe op Rosettas

Dit is met die lees van hierdie reëls dat die bundeltitel uiteindelik wel begin sin maak: Die heelal is die draer van ʼn groter orde wat op kosmiese skaal duidelik is, dus ʼn soort kennis wat die heelal letterlik op sy vingerpunte het.

Bohnen verduidelik ook in die onderhoud dat getalle, wiskunde en numerologie ʼn groot rol in haar poësie speel. Sy sê hieroor: “[As] wiskunde wel die poësie van die heelal is, word dit deur my inderdaad gevoel voordat dit verstaan word, à la T.S. Eliot!” Die neerslag en deurdigting van hierdie gedagtes in die bundel is vir my egter nog te veel van ʼn toevallig bygehaalde nagedagte. En soms raak die woordspel met konsepte uit die mistiek, mitologie en wetenskap darem net te veel van bolangse raaisels, soos juis in die tiende gedig in die reeks “spartikels”:

yskristalle plagieer mistieke getalle,

elke doudruppel is ’n kristalbal

ons is hipoteses in die heelal –

spartelende partikels,

duisendpootpixels

glaukus in ’n poel van lig,

ikarvis;

die weerlig vat dooierus

Hierdie gedig is moontlik een van dié waarin daar slegs ʼn spel met heen-en-weer-verwysings op tekstuele vlak gespeel word, sonder dat die leser regtig in staat is om by die koherente oomblik uit te kom. In tekslinguistiese terme is dit dalk ‘n geval van oppervlakkige kohesie, maar sonder die dieperliggende koherensie.

Die bundel is keurig uitgegee met ʼn omslagontwerp wat moontlik gesien kan word as ʼn grafiese interpretasie van konsepte in die moderne kosmologie.

Op die vingerpunte van die heelal is ʼn verdienstelike en baie genietbare bundel, maar met die voorwaarde dat die leser sy/haar vinger op die hartslag daarvan hou.

 

Nuwe publikasie: Op die vingerpunte van die heelal. (René Bohnen)

Tuesday, August 15th, 2017

Omslag

Op die Vingerpunte van die Heelal

René Bohnen

Hierdie poësie gaan oor verhoudings en patrone. Tussen mense, tussen mens en omgewing, tussen nommers en geloof. Dit is ʼn bundel oor broosheid, struktuur en verval.

Weerloosheid en weerbaarheid van mens en landskap word geteken, daar word gekyk na die kwesbare samehang van die geheel en na onregte op sosiale vlak. Die digter pak ʼn kronkelende reis aan na die onsekere tussenruimtes van bestaan.

Die verse verken bekende kunstenaars aan die hand van persoonlike belewenisse, (en andersom). Om die Ander te besoek is om die Self te begin ontsyfer.

.

Mensboom

(my bloed fluister name)

.

laas nag het wortels uit my lyf gespruit,

in skynlote oor ’n vleiland gekruip

ek was magies en hoog ’n haselboom –

my oë het vervloei en gestol tot murg van neut

tot roomkwaliteit en die pit van weet

ek groei voor die aangesig

van die oppergees van ’n gedig

ek is ’n haseldroom en ek is salm-oud

oor mý heers mercurius en die see

.

daarom swem visse en ’n god stroomop in my takke

daarom is die name silwer in my bloed

.

(Uit: Op die vingerpunte van die heelal, Naledi, 2017)

Biografie: René Bohnen debuteer in 2000 met die bundel Spoorsny en volg dit op met In die Niks Al Om in 2011.  Haar gedigte was ingesluit in verskeie bloemlesings soos Die Groot Verseboek in 2008 en Die heel mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte in 2015. Haar gedigte was ook ingesluit in The Sol Plaatje European Union Poetry Anthology Volume VI. Sy geniet die vermenging van genres en verskeie van haar gedigte is getoonset, een so ’n gedig is nou voorgeskryf in die nasionale ATKV Koorkompetisie. (Naledi, 2017. R 175.00, Sagteband • 112 p, 213 mm x 137 mm . ISBN: 978-0-928316-95-7)

.

Onderhoud met René Bohnen

Wednesday, August 9th, 2017

Onderhoud met René Bohnen oor haar nuwe bundel

Op die vingerpunte van die heelal, deur Louis Esterhuizen.

René, van harte geluk met jou derde digbundel, Op die vingerpunte van die heelal. Jy het in 2000 gedebuteer met Spoorsny as selfpublikasie. Daarna het In die niks alom (2011: Lapa Uitgewers) gevolg. Hoe voel dit om hierdie derde boek te kan vashou?

Dankie vir die gelukwensing, Louis, en ook vir die geleentheid om vrae te kan antwoord. Om hierdie boek vas te hou voel half onwerklik en half wonderlik – ek veronderstel die woord wat dit dan vasvat is: fantasties? Ja, dit voel fantasties. Nou moet die pad ontvou. Elke bundel het sy eie roete, leer ek algaande – ek was tot dusver bevoorreg dat my bundels vir my nuwe deure oopgemaak het en geleenthede geskep het wat ek nooit kon voorsien nie. Ek is opgewonde oor die nuwe reis.

Op die vingerpunte van die heelal is ʼn lieflike titel. Vertel ons iets hieromtrent? Hoekom dié titel, byvoorbeeld, en hoe skakel dit met die gedigte?

Die titel is vir my kosbaar, omdat ek dit nie uitgedink het nie en ek is dankbaar as my leser dit treffend vind. Dit was ʼn geskenk uit die nag. Ook was dit vir my ʼn verrassing, omdat titels gewoonlik die laaste element is wat na my toe kom. Hierdie keer was dit anders. Ek het een oggend so teen vier-uur wakker geword met “op die vingerpunte van die heelal” in my kop. Of is dit hart? Tesame daarmee, die vaste wete dat dit die titel van my volgende bundel is. Die gebrokenheid en geborgenheid wat in die titelwoorde vervat word, bly vir my beduidend. Gedigte wat ek uit vorige bundels weggelaat het, het nou ook lêplek gevind. Ek het egter nie nuwe gedigte geskryf al op die titel af nie – in slegs één gedig het ek die titel doelbewus inkorporeer. Ek hoop dat die res organies saamgebind is en dat dit ook vir my leser sin sal maak as ʼn geheel.

Die bundel open met die indrukwekkende gedig “Inkommers” met die volgende reëls as eerste strofe waarna ʼn pragtige beskrywing van ʼn bepaalde stadsruimte volg:

Op die elfde dag van die eerste maand

asem God vlinders uit

oor bedelaars, bosslapers en biljoenêrs ‒

ʼn geborduurde wasem wat migreer

oor glasgeboue, gaswerke, die bakens

en landmerke, deur slaggate en sandgoue

riwwe van ontginning

Watter stad is hier ter sprake en hoe skakel dié gedig met die sentrale bundelgegewe? Wat is byvoorbeeld die belang van die datum wat jy reeds met die eerste reël aksentueer?

Ek stel belang in migrasiegedrag, in groepsgedrag en kollektiewe geheue. Ek hou van tussenruimtes, oorgange en raakpunte, veral tussen mens en omgewing. Dit gee my groot vreugde om te sien wát oorleef op welke wyse in die stad. Die wit skoenlappers wat elke jaar migreer spook al lank in my verse, ek het in my vorige bundel na hulle verwys as wit vlaggies in die boom voor my venster. En dit is nou maar eenmaal my manier van dink: een ding word altyd geëggo deur ʼn ander ding. So lyk die duisende eiendomsagentbordjies op die sypaadjies vir my soos die blomme in Namakwaland – en dis nie eers vir ʼn gedig nie. Ek wil dus nie slegs die dier of natuur beskryf nie, ek wil daardie sprong na die toepassing vind. Ek voel die sensasie van ʼn vlinderstroom het in “Inkommers” naby gekom aan my visuele ervaring daarvan. Ek kon in hierdie gedig ook met hulle identifiseer, as vreemdelinge in die stad Johannesburg, waar ek ook maar altyd ʼn inkommer sal bly, net soos hulle.

Die datum was gelukkige toeval, ek hoef bloot waar te geneem het. Dit was Januarie, dit was die elfde. Natuurkundig dus akkuraat. Poëties, numerologies en simbolies vir my ʼn vonds. Ene is beginne, net soos Januarie dit is. Maar dit het ook die individu ter sprake, sowel as die eggo’s van Genesis en die verwoording van die skeppingsmite. Om dan die bosslapers en biljoenêrs sáám te kon groepeer teenoor die ene, vestig solank die neiging en problematiek van verhoudings wat ek ondersoek. Dit dui hopelik ook aan dat ek as leek, altyd as leek, speel met die betekenis van getalle en die ordenende aard daarvan. Ons gebruik die Goue Ratio in fotografie, maar op ʼn ander vlak sal ek nog lank moet kou en herkou voor ek die Fibonacci-formule of -beginsel deeglik begryp. Indien Wiskunde wel die poësie van die heelal is, word dit deur my inderdaad gevoel voordat dit verstaan word, à la T.S. Eliot!

Die eerste gedigte in die versameling het almal te make met stedelike en privaatruimtes. Wat die leser egter onmiddellik opval, is die oorweldigende visuele ingesteldheid. Hierdie gedigte plaas die leser direk ín die ruimte danksy die sensoriese beskrywings. Is jy ook aktief by visuele kunste en bestaan daar vir jou ʼn wisselwerking tussen poësie en die skilderkuns of fotografie, byvoorbeeld?

Ja, Louis, ek bedryf fotografie as ʼn bykomende uitdrukkingsmedium. Ek kan nie eintlik onderskei tussen “in prentjies dink” en die klank van woorde nie – ek ervaar ʼn konstante sinestesie. My foto’s en my verse illustreer mekaar nie, hulle benader ʼn tema vanuit twee verskillende rigtings. Soms is ʼn foto meer welsprekend as ʼn gedig, soms is die foto ʼn sneller vir die vers. Ander mense se foto’s dien ook as prikkels vir verse, soos die geval is met Diane Arbus se werk.

Ek boer by kunsuitstallings, skilderye praat met my. Ek ervaar ʼn drang om op die een of ander manier terug te antwoord. Biografieë en outobiografieë is groot leesliefdes van my en ek is, weliswaar as introvert, lief vir mense. Flieks wat gebaseer is op kunstenaars se lewens is nog ʼn gunsteling tydverdryf en ek verslind dokkies. Is dit nie so dat ons onsself herken in ander mense se ervarings nie, dat ons probeer sin maak van ʼn kollektiewe skuld of redding? Deernis, meelewing; waarna soek ons? Wat géé ons? Ek neem graag mense af, probeer die onbewaakte oomblik vind waar die siel en die masker momenteel skei. Dit is só kwesbaar, dit dwing respek af.

Een van die kragtigste gedigte oor hidrobreking in die Karoo is die gedig “Nieu-Bethesda, 2020”. Vertel ons meer omtrent dié gedig en wat dit vir jou beteken? Ter wille van leesgerief plaas ek die gedig hieronder. (Indien jy wil, kan jy dit sommer in verband bring met die daaropvolgende gedig, “rooidata” aangesien dié twee verse teenstellend teenoor mekaar staan, is dit nie?)

Nieu-Bethesda 2020

Radioaktiewe kraaie sit in klosse op Shell se torings,

hulle gekrys verdring deur bore se ra-ta-tat-tat, deur

vierhonderd tenkwaens wat druis op die dubbellaanpad.

ʼn Meermin se uitgestrekte handjies verweer

in die suurreën, haar bierbottel-oë bars,

rapat; rapat breek die watertafel. Sien is glo –

protesplakkate tolbos soos orakels

oor fracking in die Oos-Karoo.

Moederaarde hoes ondergrondse gas, sy het gif in haar are.

Veelvermoedend blêr dragtige ooie sonder ophou in die gras.

Die vorige armes is nog armer, die lug is maalglas

bokant Helen se vaal jaart met krippe en kamele.

Deur die krake in Koos Malgas se gemesselde uile

glip ʼn gladde tweekopakkedis. Sien is glo – hoofletter

protesplakkate verbleik langs magnate se beloftes

oor fracking in die Oos-Karoo.

In die broeines hoog teen Kompasberg lê ʼn witkruisarend

haar eerste eier – dit is grof, dit gloei in die donker.

Die gedig het ontstaan as reaksie op ʼn klein plakkaat teen ʼn boom in hierdie dorpie wat na aan my hart lê. Omrede Nieu-Bethesda alreeds ʼn unieke karakter het as gevolg van die Outsider Kuns wat dit bekend gemaak het, was dit vir my die aangewese voorbeeld van verdere vreemdmaking wat kan plaasvind as die aktuele bedreiging van fracking die landskap kan omvorm tot iets uit ʼn wetenskapfiksie riller. As meerminne en kamele, uile en wyse manne kan woon in ʼn Karoo erf wat na ʼn Mekka roep, is dit die ideale ruimte waarin tweekopakkedisse en neon-eiers kan ontstaan, het ek gevoel. Ek het baie navorsing gedoen oor die gevolge van fracking en die effek daarvan op ʼn landskap en op gemeenskappe. Hoewel ʼn enkele leser gemeen het die reël oor “vierhonderd tenkwaens” is oordrewe of vergesog, is dit inderwaarheid ʼn feit wat na vore gekom het in verskeie berigte en ek het dit eintlik net so neergeskryf.

Met “rooidatawil ek die haiku so ʼn bietjie op sy kop keer, aangesien dit tradisioneel ʼn natuurbeeld bevat en die natuur in die 21ste eeu juis aan groot stres onderworpe is. Eerder as om die landelike te besing wou ek die verdwynende beklemtoon. Die Oosterse vorm moet ook aandui dat ons renosters, byvoorbeeld, blykbaar veral vanuit die Oosterse lande bedreig word. “renoster geenhoring” dui vanselfsprekend op die gruwelike stroping wat ons sien en ook die gevaar wat ons loop dat die renoster sal uitsterf en ʼn skimgedaante word soos die mitiese eenhoring.  Die rooidatalys bevat natuurlik die name van bedreigde spesies, maar ek het dit effens uitgebrei om ook Afrika se minerale te bevat, sowel as die subtieler verwysing na plaasmoorde, waar die bedreigde kraanvoëls dalk langer voortleef as die mense. Groen aktivisme is ʼn verwikkelde stryd wat dikwels met sosiologiese vraagstukke bots; ek wou daaraan erkenning gee. Die skoenlappers was natuurlik ʼn handige ligte eggo deur die bundel, maar die plante en skoenlappers waarna ek in “rooidata” verwys, is wel werklik bedreig. Ek probeer my bes om wetenskaplik akkuraat te werk, al is dit nie my kennisveld nie.

Terwyl ek in my vorige vraag na teenstellende gedigte verwys het, wil ek nou die bundel se struktuur betrek. Dit is opvallend dat jy vanaf jou debuut in 2000, en ook met hierdie bundel, verkies om die gedigte nié in onderafdelings te groepeer nie, maar volgens sikliese samehang. Is dit ʼn bewustelike keuse? Hoe het jy byvoorbeeld te werk gegaan om hierdie bundel te struktureer?

Weet jy, ek probeer elke keer afdelings maak, ek dink selfs lekker name vir hulle uit, werk noukeurig aan die indelings, alles. En dan, sodra ek dit reggekry het, kan ek hoor hoe die gedigte sukkel om asem te haal. Ek hou nie van boksies nie en my gedigte blykbaar ook nie. Alhoewel ek ander digters se afdelings dikwels bewonder, moet ek my verse gehoorsaam en die organiese roete volg. Ek spandeer baie, baie ure om die volgorde vas te stel. Gewoonlik werk ek met ʼn progressie of woordassosiasies om oorgange te bewerkstellig. Soms probeer ek ʼn verdieping of intensivering van ʼn spesifieke emosie, gevaar of situasie daarstel. Dikwels laat ek eindes toe om my na beginne te lei. Titels mekaar te laat eggo of opponeer. Alhoewel elke gedig alleen moet kan staan, moet daar ook ʼn geheelbeeld ontstaan. In “Op die vingerpunte van die heelal” het ek konstant gewerk met die begrip een-tot-geheel en ook my persoonlike gedagtes oor holisme. Dit is vir my besonder belangrik dat die gedigte nie lukraak geplaas word nie en dat die leser op ʼn dieper leesvlak beslis die struktuur kan begin agterkom.

Reg in die middel van die bundel vind ons die lang reeks gedigte “Spartikels” waarvolgens jy bekende kinderliedjies en -verhale met onthutsende beskrywings integreer. Wat ‘n kragtoer is dit nie! Manjifiek gedoen, René. Vertel ons ietsie meer omtrent hierdie reeks? By wyse van inset plaas ek die laaste gedig in die reeks:

10.

yskristalle plagieer mistieke getalle,

elke doudruppel is ʼn kristalbal

ons is hipoteses in die heelal –

spartelende partikels,

duisendpootpixels

glaukus in ʼn poel van lig,

ikarvis;

die weerlig vat dooierus

Dankie, Louis, die kompliment is vir my kosbaar, veral omdat ek hier ʼn meer emosionele stem toegelaat het. Daar moes vir my ʼn versoening wees tussen die oënskynlike kilheid van algoritmes en die subjektiewe ervaring van sodanige ordening van elemente. Die herhaling wat voorkom in volksliedjies moet dien as ironiese teenstelling en ook om die gruwels te aksentueer. Dit is so dat uitroepe van smart deur lydendes byna inkanterend aandoen, dat slagspreuke in oorlog en sport herhaal word en dat religieuse dreunsange, lofliedere en gebede herhalende patrone en refreine het. Dit wat as troos dien, is dus ook tekenend van dit wat martel. Hierdie reeks het vir my die sterkste elemente bevat van hoe fraktale, ratio’s en formules ook op abstrakte vlak voorkom. Die idee van biomimese het my dan ook gehelp om die onderwerpe binne my beheer te hou en groot gedagtespronge weer terug te katrol na ʼn vaste patroon. Ek kon hierdie onderwerpe nie aan streng rymvorme onderwerp nie, dit sou vir my té netjies wees, maar ek wou dit ook nie in chaos laat verval nie. Ons probeer immers binne versplintering heel koherent lewe – hiervan was ek as kind al bewus. Uiteindelik begin ek daaraan uiting gee, nadat ek in my vorige bundel ʼn plek van innerlike krag kon bereik, waarna ek in ʼn destydse onderhoud verwys het as “eilandjies van stilte”. In hierdie bundel ondersoek ek die lawaai tussen daardie eilandjies, dink ek.  Op hierdie wyse skakel die twee bundels ook met mekaar.

Nog ʼn interessante vers is “Tien grepe vir ʼn vindvers”. Hoe het hierdie gedig tot stand gekom? Is dit byvoorbeeld toevallig dat hier van 10 grepe sprake is terwyl die reeks waarna ek hierbo verwys het ook uit 10 dele bestaan?

Dit is wat dit sê dit is: ʼn optelvers, ʼn “found object”. Ons het ʼn twyfelagtige greep op sosiale media, ons almal het ʼn ekstra avatar bygekry. ʼn Mens se vriende en kennisse stroom in liggies op ʼn skerm verby, dit word gemaak in ʼn binêre kode.  Ons verskaf self die kohesie. Hoe sou die samehang lyk, het ek gewonder, indien ek vir sewentig minute lank die kortste plasings wat op facebook verbykom, neerskryf. Die vers moet ʼn weerspieëling wees van die dikwels absurde, vlietende aard van dinge wat belangrik genoeg geag is om te plaas waar ander mense kom lees en “like”. Dit het my verbaas hoe daar ʼn byna surrealistiese logika in die geheel na vore gekom het en ek laat dit aan my leser oor om afleidings te maak oor onbewuste seleksie van stellings wat iewers sin maak. Hierdie klein oefening het ook ʼn Engelse gedig opgelewer, ek het plasings nie vertaal ter wille van ʼn bundel nie.

Om nogmaals beheer te behou en binne die struktuur van die bundel te bly, het ek in albei die verse waarna jy verwys, die getal tien gebruik. Natuurlik speel ek rond met die verhouding tussen die mens se tien vingers en die heelal se onbegryplike vingerpunte. Hierdie tipe spel word oral in die bundel herhaal. Numerologies dui 10 dikwels op eindes of voltooiing. Dit bestaan ook uit ʼn 1 en ʼn 0. Alles binneplesiertjies!

Een van die kenmerke van jou gedigte is die interessante spel met tipografie en konkretisering van die gedig. Ook bedryf jy ʼn webblad waar jy eksperimenteer met visuele uitdrukking van poëtiese materiaal. Vertel ons meer hiervan?

Ek is gedurig besig om die wisselwerking tussen woord en beeld te ondersoek. Hoekom lyk ʼn “O’ soms mooier op papier as ʼn “B”? Dit dien vir my ʼn doel. Ek wroeg oor hoofletters, ek sweet oor ʼn komma. Wit spasies is magtig. Ek weet nie hoekom nie, ek volg nie ʼn konvensie nie (dit weet my teksversorger alte goed), maar daar is ʼn interne riglyn wat ek kan voel, al kan ek dit nie verduidelik nie. Teen die tyd dat die bundels gedruk word, het ek egter al mooi geluister na die raad wat die redakteur en teksversorger gee!

My “Stippelverse” reeks bestaan uit gedigte wat ek visueel probeer weergee, deur die woorde te behou en dan deur middel van ʼn rekenaarprogram met ʼn algoritme te vertolk. Ek kies getalle wat ek wéét (wel, dis ʼn subjektiewe waarheid) die gemoedstemming van die gedig op ʼn numerologiese of vibrasievlak weergee. Dan pas ek hulle toe en ek kyk wat die resultaat is. Afgesien van my nommerkeuse, is ek nie in beheer van die eindproduk nie. Dit verras my telkens dat die visuele beeld wat verskyn, so naby is aan die betekenis van die woorde. Ek sou graag hierdie stippelverse ʼn plek in ʼn bundel wou gee, dalk sal dit eendag moontlik wees.

Ook het jy in 2009 ʼn M.A.-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Watter invloed het hierdie kursus op jou ontwikkeling as digter gehad?

Die graad is om emosionele redes gedoen en was nie eintlik vir my ʼn tegniese strewe nie. Miskien daarom, het ek dan ook perspektief daaruit verwerf, eerder as enige skryfinvloede. Ek het geleer hoe uiteenlopend mense se reaksies op dieselfde gedig kan wees en hoe my temperament op terugvoer reageer. Ek het leer onderskei tussen kritiek en interpretasie. Ek het ook maar deeglik agtergekom waar my leemtes is, veral as leser wat dekades lank in ʼn onverwante veld gewerk het en ʼn ander woordeskat en raamwerk as die literatuur opgebou het. Bowenal het ek geleer dat ʼn mens nooit te oud is om na jou eerste liefde terug te keer nie, al het jy verre draaie gaan loop in die lewe.

Naledi is die uitgewer van hierdie bundel en dit is merkwaardig hoe vinnig hulle hul in die bedryf gevestig het as een van die vernaamste rolspelers ten opsigte van poësieproduksie. Hoe was hierdie ervaring vir jou?

Naledi verdien elke stukkie lof wat na hulle toe kom. Hulle was en is vir my ongelooflik goed – die proses was pynloos; ek het gevoel daar is spanwerk, wedersydse respek en outentieke kommunikasie. Daar heers ʼn demokratiese stemming, maar ek kon veilig voel in die bekwaamheid van kennis en vaardigheid. Naledi se boeke is pragtig versorg en ek dink daar is baie moeite gedoen om te verseker dat elke boekomslag ʼn unieke karakter het. Ek verstaan nou hoe ʼn skrywer verknog kan raak aan ʼn uitgewer! Ek is so dankbaar en bly dat Naledi my bundel uitgee. Ek voel tuis onder hulle ster.

René, nogmaals geluk met ʼn besonder indrukwekkende publikasie. Mag hierdie bundel vir jou alles wees waarop jy gehoop het. Ten slotte wil ek vra of jy so vriendelik sal wees om ʼn gedig met die lesers te deel? Miskien een wat vir jou besonderse waarde en/of betekenis het? Vertel dan sommer ook waarom jy juis dié betrokke gedig kies.

Dankie vir jou insigryke vrae, Louis. Ek waardeer Versindaba se aandag. Ek kies ʼn korter gedig, wat hierdie onderhoud miskien nog ʼn bietjie toelig en sommige van my antwoorde ook bevat.

Baie dankie vir die geleentheid!

Afkopengele in die web

Die vrou

weet nie waar sy hoort nie

nie in die opgerolde duisendpoot

of in hierdie groot mandelbrot nie

Sy is ʼn boompie in ʼn blomkool se blomkoolboompie,

inderdaad is sy

ʼn snipperpers knip-en-plak vers

Plek van hiperbool en gebro/ke harte,

iewers is daar ʼn nommer, ʼn algoritme

vir raak en lukraak

die patrone van donker materie

die koningskandelare bloedrooi

in die veld ná die brand

vuurlelies in die sand

almal palimpses in ʼn god se hand

Soms is roekeloosheid ʼn noukeurige, toegespitste toewyding

ons plaas maar altyd ons gebede in die krake van ʼn muur

; ; ;

is luidkeels op eilandjies van stilte ingeboek

(c) René Bohnen (Uit: Op die vingerpunte van die heelal, 2017: Naledi)