Posts Tagged ‘Openbare diskoers’

Kopskuif. Die stand van openbare diskoers (Joan Hambidge)

Sunday, November 27th, 2011

Joan Hambidge in Karnak

 

Kopskuif is ʼn inisiatief waarvolgens ons van tyd tot tyd op bepaalde kwessies wil fokus deur ʼn stel vrae aan spesifieke kommentators te stuur vir hul insette. As eerste “kopskuif” het ons gedink om op die belangrike kwessie van openbare diskoers te fokus aangesien die opmerking heel dikwels gemaak word dat die vlak van openbare gesprekvoering veel te wense laat … Té gereeld word die man eerder as die bal gespeel wanneer meningsverskille ontstaan en ontaard die gesprek eerder in ʼn verdagmakery as wat daar konstruktief oor ʼn bepaalde aangeleentheid besin word.

As verdere bydrae plaas ons Joan Hambidge (foto) se reaksie.

***

Kommer word dikwels uitgespreek oor die lae vlak van openbare diskoers in Suid-Afrika. Wat is jou mening hieromtrent?

Die bydraes alreeds van ander deelnemers aan hierdie debat bewys dat daar tog op ‘n sinryke wyse verskil kan word. Die moderne media – en veral blogs – gee aan almal ‘n reg tot ‘n siening wat onmiddellik gepubliseer word. Dikwels in die hitte van die stryd word opmerkings gemaak wat die skrywer waarskynlik agterna berou (as dit nie onder ‘n skuilnaam is nie). Ons het in veral in die verlede op Litnet (met ‘n skoorsoekende webmeester wat die vure wou stook) bytende en lafhartige kommentaar gekry. ‘n Mens moet egter wanneer jy ‘n mening publiseer, verwag dat ander miskien anders mag oordeel. As ek byvoorbeeld sou skryf dat ek dink ‘n vergete digter is onderskat, sal kenners van daardie tydvak van my kon verskil.

In die ou dae van Standpunte het dit maande geduur voordat ‘n gedig opgeneem is. Die digter het dan ‘n brief gekry van Ernst van Heerden wat ‘n streng keurder was. Op webruimtes is gedigte dalk gouer daar; en dalk gouer vergete? Dieselfde geld standpunte op die internet wat dikwels niks minder as ‘n getjommel word nie. Wie kan nou die hek teen die internet wat dikwels ‘n Raka word, sluit?

Ons het Crito (wie dit ook nou mag wees?) wat resensies beoordeel.

Ten spyte van die ligte skokgolfies wat dit soms veroorsaak, hou dit die gesprek aan die gang. Terloops, ek is nie Crito nie. My gevoel is dat dit ‘n groepspoging is tensy die persoon sy / haar styl kan aanpas.

‘n Resensie is ‘n eerste mening van ‘n ingeligte (wel hopelik) persoon wat bereid is om binne die voorgeskrewe lengte en teen ‘n spertyd die werk te lewer.

Ek is sowel skrywer as resensent. So ek ken die bedryf van beide kante af. As jy ‘n meningsverskil het met ‘n kollega wat dit later uithaal in ‘n resensie met min pitkos, moet jy dit ignoreer en eerder ‘n gedig skryf. Of kyk wat van waarde mag wees. Selfs uit die mees onkundige of persoonlike reaksie is daar iets te lere.

Ek skryf altyd ‘n reaksie op ‘n kwetsende resensie vir myself, pos dit terug aan my eie e-pos-adres, lees dit die volgende dag en transformeer dit later in ‘n gedig. Of dink na oor dit wat geldig is.             

Kan ‘n mens resensent en skrywer wees? Ja. Jy moet net jou posisie duidelik verklaar.

Watter faktore, volgens jou, gee daartoe aanleiding dat ‘n bepaalde meningsverskil dikwels in ‘n persoonlike twisgesprek ontaard eerder as konstruktiewe debat?

Miskien wil iemand die tafel dek vir sy eie soort werk en dan (onbewustelik) ‘n polemiek begin om ‘n saak te stel vir sy eie werkswyse?

Ons letterkunde is besonder klein. Almal ken mekaar wat faksievorming bevorder.

Ons het verskillende persoonlikhede, smake en ons is mense: almal het blindekolle. Daar is nie soiets as ‘n Objektiewe resensie nie. Daar is wel iets soos ‘n goed geargumenteerde bespreking waarin die kritikus sy / haar smaak uitspel en binne die opset van die bespreking verduidelik. Ek dink nie kollegas behoort mekaar te resenseer nie, maar binne ons klein bedryf gebeur dit onvermydelik wel dat ‘n resensent oor ‘n vriend / kollega iets skryf. As dit ‘n blinde bewondering of verbete aftakeling is, sal die kierangs braai. Onvermydelik berokken dit die boek dalk skade.

Daar is mense van wie ek nie hou nie; maar ek mag wel van die boek hou of eerder niks daaroor skryf nie. Dan is daar mense van wie ek hou, maar hulle werk praat nie met my nie. Dan bly ek liefs stil.

Ons moet ook versigtig wees om sterk meningsverskille dadelik as “persoonlik” af te maak. Dikwels is ‘n sterk antwoord noodsaaklik om die ander standpunt te stel. Ek dink aan Camille Paglia se “Sontag Bloody Sontag” waarop Sontag alle swye bewaar het en die argument dus uitgewis het. Totdat haar seun opgekom het vir haar. En dit het toe so kleinserig gelyk, omdat hy die satiriese aspek en OTT-aanslag van Camille Paglia se reaksie nie genoegsaam verreken het nie.

In Engeland is Martin Amis dikwels aan mense se kele. Dit is wat hy oor Nabokov se laaste roman geskryf het: “: “When a writer starts to come off the rails, you expect skidmarks and broken glass; with Nabokov, naturally, the eruption is one on the scale of a nuclear accident.” (The problem with Nabokov http://www.guardian.co.uk/books/2009/nov/14/vladimir-nabokov-books-martin-amis

Dit gaan hier egter om ‘n belangrike saak: die publikasie van ‘n nagelate roman deur die outeur se seun en die Amis se harde woorde was noodsaaklik om die skade uit te wys.  

Die kortste bespreking was van Abba se Voulez Vous waarop die resensent Non! geskryf het. In Afrikaans, as ek reg onthou, het Brink indertyd in een paragraaf ‘n digbundel afgeskryf met die woorde dat hy hom nie daaroor wil uitlaat nie, want daar is te min poësie te vinde in die boek.

Watter riglyne beskou jy as noodsaaklike uitgangspunte ten gunste van konstruktiewe gesprekvoering?

Wanneer jy iets plaas ter wille van ‘n gesprek, stel jou saak onomwonde. As jy egter iets plaas wat omstrede is – soos julle weet nie eintlik so goed as ek nie; of julle is slaafse navolgelinge van ‘n beweging / diskoers, hier is die waarheid – gaan daar reaksie wees. Trouens, jy weet wanneer jy iets publiseer, gaan daar altyd iemand iewers wees wat gaan verskil, jou resensie by ‘n boekbekendstelling gaan brand of vir jou ‘n anonieme geskenk toestuur. Of jou verwen met ‘n bitsige e-pos.

If you can’t stand the heat, get out of the kitchen.

Ek onthou hoe wyle W.E.G. Louw, ‘n fantastiese teaterkritikus op sy dag, vertel het dat hy ‘n pakkie in die pos ontvang het na ‘n striemende resensie. Binne in watte toegedraai ‘n klein hondedrolletjie. Hulde aan Louw. Hy het dit skreeusnaaks gevind.

Die belangrikste riglyn is: moenie verbaas wees as iemand reageer of verskil nie. Moenie jou standpunt verander nie. Wanneer jy bloggereer en jy begin amendeer, gee jy dalk toe dat jou argument water hou nie?

Wat beteken jy moet ook kan toegee dat ander kan verskil of dat jy gewoon nie iets raakgesien het wat ‘n ander leser uitwys nie.

Gee die persoon eerder gelyk. Jy is nie in ‘n bokskryt nie. Die denkbeeldige bokskryt van die polemiek was plesierig vir my jare gelede; nie meer nie.

Dan is daar (en hierdie is ‘n baie belangrike riglyn) wat warm debatte is. Soos die taaldebat. As jy hier indreun, gaan daar of ‘n dawerende stilte wees van die vreesbevanges aan die US of diegene wat sterk, ingeligte menings het. Ek sal tweekeer dink voordat ek met Herman Giliomee redekawel oor die statistieke hieroor of vir Bill Nasson aanvat oor byvoorbeeld die Boereoorlog. Hieroor het ek my sieninge ja, maar ek is bewus daarvan dat historici op sekere gebiede ‘n groter prentjie raaksien. Dieselfde geld my beskouings oor wat sê byvoorbeeld ‘n geslaagde gedig is.

Dit is jammer dat die knieknak-reaksie altyd die groepering of etiket is. Taalbulle, regs, links, gay, militant, grys skoene eerder as om te lees wat die persoon skryf.

Die debatte in die briewekolom van Die Burger (wat gelukkig nou tot stilstand gekom het) tussen Kreasioniste en Ewolusioniste was die beste voorbeeld van mense wat nie hóór wat die ander een sê nie. En dus wonderbaarlik by mekaar verbypraat.

Kan jy dalk voorbeelde noem (hetsy plaaslik óf internasionaal) van konstruktiewe meningsverskille? Noem gerus ook waarom juis dié betrokke debat vir jou tot voorbeeld dien.

‘n Konstruktiewe meningsverskil kan ook ‘n persoonlike of satiriese een wees, al is dit net om die vermaaklikheidswaarde.  

Nederlanders kan driftig verskil en tog mekaar steeds vir ‘n biertjie agterna kry.

Om iemand name te noem, bewys dat jy nie genoeg intellektuele argumente het nie. En om op ‘n openbare platform ‘n mede-kritikus as oneties, ‘n kansvatter of watookal te brandmerk, boemerang altyd. Oh what’s in a name!

Ek het al op Litnet konstruktief met Bernard Odendaal verskil.

Gerrit Brand wat net fokus op die argument in sy blog op Litnet en nooit kwaad word nie.

Terry Eagleton se resensie van Richard Dawkins se The God Delusion en die debat daaromheen is ‘n leersame stuk, al sou jy verskil van hom:  http://www.lrb.co.uk/v28/n20/terry-eagleton/lunging-flailing-mispunching afgetrek 27/11/2011

Kyk net hoe begin Eagleton:

Imagine someone holding forth on biology whose only knowledge of the subject is the Book of British Birds, and you have a rough idea of what it feels like to read Richard Dawkins on theology. Card-carrying rationalists like Dawkins, who is the nearest thing to a professional atheist we have had since Bertrand Russell, are in one sense the least well-equipped to understand what they castigate, since they don’t believe there is anything there to be understood, or at least anything worth understanding. This is why they invariably come up with vulgar caricatures of religious faith that would make a first-year theology student wince. The more they detest religion, the more ill-informed their criticisms of it tend to be. If they were asked to pass judgment on phenomenology or the geopolitics of South Asia, they would no doubt bone up on the question as assiduously as they could. When it comes to theology, however, any shoddy old travesty will pass muster. These days, theology is the queen of the sciences in a rather less august sense of the word than in its medieval heyday.

Dawkins on God is rather like those right-wing Cambridge dons who filed eagerly into the Senate House some years ago to non-placet Jacques Derrida for an honorary degree. Very few of them, one suspects, had read more than a few pages of his work, and even that judgment might be excessively charitable. Yet they would doubtless have been horrified to receive an essay on Hume from a student who had not read his Treatise of Human Nature. There are always topics on which otherwise scrupulous minds will cave in with scarcely a struggle to the grossest prejudice. For a lot of academic psychologists, it is Jacques Lacan; for Oxbridge philosophers it is Heidegger; for former citizens of the Soviet bloc it is the writings of Marx; for militant rationalists it is religion.

Letterkundige tekste is nie wetenskaplike tekste nie. Dis waarom daar meningsverskil sal wees. En dikwels word skrywers vergeet of verkeerd beoordeel. Kyk byvoorbeeld hoe Etienne Leroux weer opstaan uit die dode (Harold Bloom se Apophrades) in Deon Meyer se 7 Dae en Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip.

In hierdie bedryf het ek al skrywers sien kom en sien gaan; modes sien kom en verdwyn.

Die konstruktiewe meningsverskil erken die tradisie en as die skrywer iets nuuts doen, mag die kritiek onkant betrap word. Maar die tyd wys foute uit: oorskatting en onderskatting.

Confucius het beweer dat hy wat met modder gooi dalk mag uitvind hy het later nie meer grond onder sy voete nie. Of so iets.

Sela.

 

– Joan Hambidge

 

 

Kopskuif. Die stand van openbare diskoers (Johann Rossouw)

Monday, November 21st, 2011

Kopskuif is ʼn inisiatief waarvolgens ons van tyd tot tyd op bepaalde kwessies wil fokus deur ʼn stel vrae aan spesifieke kommentators te stuur vir hul insette. As eerste “kopskuif” het ons gedink om op die belangrike kwessie van openbare diskoers te fokus aangesien die opmerking heel dikwels gemaak word dat die vlak van openbare gesprekvoering veel te wense laat … Té gereeld word die man eerder as die bal gespeel wanneer meningsverskille ontstaan en ontaard die gesprek eerder in ʼn verdagmakery as wat daar konstruktief oor ʼn bepaalde aangeleentheid besin word.

As derde bydrae plaas ons Johann Rossouw (foto) se reaksie.

***

Kommer word dikwels uitgespreek oor die lae vlak van openbare diskoers in Suid-Afrika. Wat is jou mening hieromtrent?

Dat die diskoers op ´n lae vlak is, is myns insiens waar en onwaar. Waar vir die volgende redes:

1. In ´n mate ly die land nog aan ´n post-imperiale babelaas: sowel die NP as die ANC het ontstaan in reaksie op die Britse imperialisme, lank reeds saliger, terwyl die ANC verdere stukrag in sy reaksie op die NP-bewind gekry het. Die idees wat in sowel Afrikaner- as Afro-nasionalistiese kringe ontwikkel is, was aanvanklik baie skeppend, maar dit het telkens na die magsverowering van eers die NP en toe die ANC kort voor lank steriel geraak. Waarom? Omdat die idees nie meer gefunksioneer het om die status quo uit te daag nie, maar dit in stand te hou. Die dominante idees in die SA openbare ruimte vandag – transformasie, swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie, die nasionale demokratiese rewolusie, kaderontplooiing, ens. – word die een na die ander vandag gebruik om partybelange te verskans eerder as om groter maatskaplike geregtigheid en vryheid te bewerkstellig.

2. Die neiging om standpunte in die openbaar te verpersonaliseer, byvoorbeeld “Malema” wat instaan vir ´n sekere agenda, “Zille” vir ´n ander, ens. veroorsaak ´n gebrek aan saaklikheid in die gesprek. As die saak nie van die persoon geskei word nie, is die neiging om die man eerder as die bal te speel dikwels aan die orde van die dag. So word standpunte dikwels met geweldige aggressie gestel, wat die ruimte vir ´n robuuste gesprek inperk.

3. Die neiging om kritiek op ´n standpunt of ´n ander se werk of idees as “reaksionêr”, “regs”, “links” of “onnodig venynig” af te maak. In plaas daarvan dat die kritiek dan by wyse van teenargumente hanteer word, word dit met kleinlike persoonlike aanvalle en verdagmakery hanteer – wat beteken dit word glad nie hanteer nie.

Onwaar vir die volgende redes:

1. Debatte in SA word met groot intensiteit en eerlikheid gevoer. Die pas waarteen ons ´n wye verskeidenheid diepsnydende onderwerpe gereeld aan die orde stel, is merkwaardig.

2. Daar is oor die algemeen diep sentimente by Suid-Afrikaners oor die land en hulle plek daarin. Ons is ´n omstrede samelewing waarin stabiliteit nooit ´n gegewe is nie. Daarom die felheid en rouheid van ons gesprek; daarom dat ons voortdurend op ons voete dink. Ons moet dink, want ons het nie die luukse om dit aan iemand anders toe te vertrou nie.

Watter faktore, volgens jou, gee daartoe aanleiding dat ‘n bepaalde meningsverskil dikwels in ‘n persoonlike twisgesprek ontaard eerder as konstruktiewe debat?

Dit wat ek onder my eerste punt 2 en 3 hierbo aangeroer het.

Watter riglyne beskou jy as noodsaaklike uitgangspunte ten gunste van konstruktiewe gesprekvoering?

1. Die aanvaarding dat konsensus in ´n diep verdeelde en plurale samelewing soos ons s’n selde voorkom, en dat ons dus eerder tevrede moet wees met die voortgaande uitdaging van mekaar se sekerhede, gegewe die feit dat ons almal sulke uiteenlopende vertrekpunte en verwagtinge het.

2. Saaklikheid.

3. Eerlikheid.

4. Ontvanklikheid.

Kan jy dalk voorbeelde noem (hetsy plaaslik óf internasionaal) van konstruktiewe meningsverskille? Noem gerus ook waarom juis dié betrokke debat vir jou tot voorbeeld dien.

In die filosofie die debat tussen die sogenaamde liberale en kommunitêre skole in die 1980’s; asook die huidige debat tussen sekularisme en sy teenstanders. In albei hierdie debatte het groter konseptuele duidelikheid oor die verskillende aspekte na vore getree, asook ´n beter begrip van die huidige konteks. Politieke en maatskaplike debatte kan ten beste groter insig in die werklikheid bring, en ek dink dit het in daardie twee debatte gebeur. In SA sou ek sê die Boetman-debat oor diensplig en die Grensoorlog was katarsies en insiggewend vir die meeste betrokke partye.

  • – Johann Rossouw

 

 

 

 

Kopskuif. Die stand van openbare diskoers (Charl-Pierre Naudé)

Tuesday, November 15th, 2011

 

Kopskuif is ʼn nuwe inisiatief waarmee ons op die Versindaba-webblad begin. Hiervolgens wil ons van tyd tot tyd op bepaalde kwessies fokus deur ʼn stel vrae aan spesifieke kommentators te stuur vir hul insette. As eerste “kopskuif” het ons gedink om op die belangrike kwessie van openbare diskoers te fokus aangesien die opmerking heel dikwels gemaak word dat die vlak van openbare gesprekvoering veel te wense laat … Té gereeld word die man eerder as die bal gespeel wanneer meningsverskille ontstaan en ontaard die gesprek eerder in ʼn verdagmakery as wat daar konstruktief oor ʼn bepaalde aangeleentheid besin word.

As tweede bydrae plaas ons Charl-Pierre Naudé (foto) se reaksie.

*** 

Charl-Pierre, kommer word dikwels uitgespreek oor die lae vlak van openbare diskoers in Suid-Afrika. Wat is jou mening hieromtrent?

Die vlak van diskoers is beroerd, maar het begin verbeter sedert die lae vlak daarvan in die openbaar veroordeel is. Wat beteken dat ‘n groot rede vir die beroerdheid gewoon kansvattery is. Dis rede 1.

Daar is nog redes. Nr. 2: Debatte word dikwels gevoer vanuit die eie identiteit en die sug om daardie identiteit te bevorder. Dit gebeur uiteraard op strydvaardige wyse. Daar word nie gedebatteer  oor aangeleenthede of sake nie en ook nié vanuit ‘n strewe na groter insig nie. Ons identiteitspolitiek van die verlede en van die hede lê ten grondslag hiervan.

Rede nr. 3: Die “waarheid” in Suid-Afrika word nie gesien as iets wat feitelik begrond hoef te wees nie maar iets wat aanvaarding moet geniet. Dit was so in die verlede en is weer so. Tydens die Protestantste rasoligargie van apartheid het onder andere “geloof” pleks van feitelike begrondings die septer geswaai. En vandag is dit die  heersende fasiele opvatting van  “demokrasie” of verantwoordelike  besluitneming as gewoon die mees wyds aanvaarde idee, sowel as die feit dat die nuwe Suid-Afrika ‘n media-skepping (dus blatant ‘n “storie” is). EN nog iets: die postmoderne verval van vaste etiese basisse. Al drie hierdie dinge lê op húl beurt ten grondslag van rede nr. 3.

Watter faktore, volgens jou, gee daartoe aanleiding dat ʼn bepaalde meningsverskil dikwels in ʼn persoonlike twisgesprek ontaard eerder as konstruktiewe debat?

Ek het die vraag hierbo beantwoord. Maar ek sal ‘n verdere voorbeeld gee. Die flagrantste oortredings en minagtings ten opsigte van openbare argument kom dikwels van individue wat voormalig of huidiglik hulself verdruk voel, soos swartes en byvoorbeeld sommige homoseksuele persone. Maar dan kan mens vra: Waarom is organisasies soos Solidariteit of Afriforum nie ewe skuldig hieraan nie, huidiglik is daar ook sprake van diskriminasie teenoor húlle mense? Dit lyk of daar bykomstiglik ‘n opportunistiese houding teenoor jou eie morele kapitaal aanwesig moet wees. Hier wil ek graag ‘n kostelike passasie uit die mond van ʼn karakter uit Orhan Pamuk se roman “Snow” aanhaal: “It is not enough to be oppressed, you must also be in the right, because most oppressed people are in the wrong to an almost ridiculous degree.” Die probleem kom dus juis in wanneer “verdruktes” dink hulle hoef nie meer reg te wees of te probeer wees nie want hulle beweerde “verdrukking” regverdig alles en enige houding.     

Watter riglyne beskou jy as noodsaaklike uitgangspunte ten gunste van konstruktiewe gesprekvoering?

‘n Groter bewustheid van die “reëls” van argumentering. Die opponering en dekonstruksie van redes 1 – 3 genoem hierbo, en ‘n meer onverbiddelike houding deur mense wat in ʼn posisie is om daardie reëls te bevorder.  

Kan jy dalk voorbeelde noem (hetsy plaaslik óf internasionaal) van konstruktiewe meningsverskille? Noem gerus ook waarom juis dié betrokke debat vir jou tot voorbeeld dien.

Die onlangse debat oor skuld en apartheid was konstruktief. Mense het hul heilige dolosse op die tafel geplaas, ander het dit met argumente stukkend geslaan. Dit was konstruktief omdat die pretensie tot ontleding minstens bestaan het, die debat het in die filosofiese sfeer ontstaan. Nog ʼn konstruktiewe debat is die huidige kritiek op die fondasies van die verbruikerskapitalisme, soos beliggaam in die Wall Street betogings. Die betogings is weliswaar strydvaardig maar die argumente ter stawing daarvan word daagliks in die pers gevoer.   

 

– Charl-Pierre Naudé

 

Kopskuif. Die stand van openbare diskoers (Gerrit Brand)

Friday, November 11th, 2011

Kopskuif is ‘n nuwe inisiatief waarmee ons op die Versindaba-webblad wil begin. Hiervolgens wil ons van tyd tot tyd op bepaalde kwessies fokus deur ‘n stel vrae aan ‘n aantal belanghebbendes te stuur vir hul kommentaar. As eerste “kopskuif” fokus ons op die belangrike kwessie van openbare diskoers aangesien die opmerking heel dikwels gemaak word dat die vlak van openbare gesprekvoering veel te wense laat … Té gereeld word die man eerder as die bal gespeel wanneer meningsverskille ontstaan en ontaard die gesprek eerder in ‘n verdagmakery as wat daar konstruktief oor ‘n bepaalde aangeleentheid besin word.

As eerste skuif plaas ons graag Gerrit Brand (foto) se bydrae.

***

Kommer word dikwels uitgespreek oor die lae vlak van openbare diskoers in Suid-Afrika. Wat is jou mening hieromtrent?

Gerrit Brand: ‘n Mens moet versigtig wees vir veralgemening. Daar word wel van tyd tot tyd sinvolle openbare gesprekke gevoer, onder meer op ruimtes soos Versindaba en LitNet. Trouens, ‘n kenmerk van ons tyd is dat, danksy die internet, meer moontlikhede ontstaan het vir hoëgehalte-gesprek, ook tussen kleiner groepies mense wie se stem dalk andersins nie gehoor sou kon word nie. Terselfdertyd het dit nadele – soos dat dit dalk té maklik is om van ‘n mens te laat hoor, dat minder sorg dus geneem word om deurdagte, logies gestruktureerde standpunte te stel. Die vinnig-dink-vinnig-skryf-kultuur kan tot oppervlakkigheid lei; dit laat ‘n mens toe om iets te kan sê sonder dat jy self weet presies wát dit is wat jy nou eintlik probeer sê. Daar is in ‘n mate ‘n aantreklikheid aan “van my te laat hoor” as ‘n doel insigself. Niks hiervan is egter noodwendig nie. Dieselfde faktore wat dit moontlik maak, maak dit ook moontlik om oop en intellegente gesprekke te hê. Die vraag oor die gehalte van openbare diskoers roep verder sekere vrae op: Wat maak ‘n diskoers openbaar? Was daar ooit ‘n openbare diskoers wat in die algemeen deur hoë gehalte gekenmerk is? Vertrek ons met die vraag na die gehalte van openbare diskoers nie van sekere romantiese aannames nie?

Watter faktore, volgens jou, gee daartoe aanleiding dat ‘n bepaalde meningsverskil dikwels in ‘n persoonlike twisgesprek ontaard eerder as konstruktiewe debat?

GB: Is dit iets nuuts dat meningsverskille in persoonlike twisgesprekke ontaard? Ek is nie so seker nie. Ja, die internet – om weer die nuwe god ter sprake te bring – maak dit vir mense maklik om mekaar sleg te sê en af te kraak sonder gevolge vir hulself, maar in die verlede was daar ook skuilname en dies meer. Wat my die laaste twee of drie dekades opval, is hoe sensitief ons geraak het vir robuuste debat wat alte gou persoonlik opgeneem word. Vryheid van spraak, dink baie mense, beteken dat ek jou, of jy my, uitlatings nie mag kritiseer nie. Daar was ‘n tyd (sê die romantikus in my!) toe mense publieke kommentaar kon skryf soos: “Ek sit hier in die kleinste vertrek in die huis met u manuskrip voor my. Dit sal binnekort agter my wees.” (Die oorsprong hiervan is omstrede, maar dit is regtig geskryf.) Sal ernstige intellektuele vandag nog so skryf? Ek weet nie, ek wonder maar net. Natuurlik is dit lelik wanneer debatte persoonlik en beledigend raak, maar ek is nie seker dat dit in ons tyd meer voorkom as in die “goeie ou dae” nie. Vryheid van spraak – ook dom en onbeskofte spraak – is myns insiens belangriker as mense se lang tone. John Stuart Mill het gesê liberalisme beteken elkeen kan doen wat hy of sy wil, mits dit nie iemand anders “injure” nie – en daaraan toegevoeg dat “offense” nie as “injury” kwalifiseer nie. As jou gespreksgenoot jou persoonlik beledig, het jy altyd die opsie om nie tot dieselfde soort taal verlei te word nie (dis seker ook soms lekker …), maar die gesprek na die inhoud van die geskil terug te bring. Met ander woorde: doen dit soos jy dink dit gedoen moet word, en knip daai tone korter sodat jy nie te gou weghol wanneer die vonke begin spat nie!

Watter riglyne beskou jy as noodsaaklike uitgangspunte ten gunste van konstruktiewe gesprekvoering?

GB: Dit hang van die soort gesprek af. Goeie spekskiet lyk anders as goeie akademiese diskoers, byvoorbeeld. Wanneer dit om beredeneerde meningsverskil en gedagtewisseling gaan, dan is die kriteria, nou ja, beredeneerde meningsverskil en gedagtewisseling. Daar is ‘n element van aanvoeling en sjarme by betrokke: hoe praat of skryf ‘n mens in hierdie verband? Wat is goeie styl? In sekere kontekste moet ‘n goeie gesprek veral genotlik wees. In ander kontekste is dit ‘n wapen in die stryd. ‘n Goeie spreekkunstenaar verstaan die konvensies, maar weet ook wanneer om hulle te rek en sodoende iets reg te kry wat die moeite werd is. Te veel rekkery kan egter die hele praktyk in duie laat stort. Dalk is dit waaroor mense bekommerd is wanneer hulle oor die lae vlak van openbare diskoers kla? Dat sekere sóórte gesprekke al hoe skaarser raak omdat al hoe minder mense nog ‘n smaak en aanvoeling daarvoor het?

Kan jy dalk voorbeelde noem (hetsy plaaslik óf internasionaal) van konstruktiewe meningsverskille? Noem gerus ook waarom juis dié betrokke debat vir jou tot voorbeeld dien.

GB: In Nederland het ek greeld byeenkomste van al die universiteite se godsdiensfilosowe (dosente en doktorale studente) bygewoon. By elke geleentheid het een dosent en een student die geleentheid gehad om ‘n lesing te gee. Op daardie lesing is dan ook voorbereide repliek gelewer deur iemand anders, en daarna kon almal aan die gesprek deelneem. Die repliek en gesprekke was dikwels heftig; geen doekies is omgedraai nie, maar ek het bitter selde die indruk gekry dat mense kwaad word vir mekaar, en na afloop van die lesings het almal saam ‘n gesellig borrel geniet. Onlangs was ek weer in Duitsland, waar daar ‘n openbare debat oor pre-implantasie seleksie tussen ‘n teoloog en ‘n bekende skrywer was. Laasgenoemde is nie aan die kerk verbonde nie, maar beskou homself as sekulêr. Hulle het skerp verskil oor die onderwerp, maar sjoe, kan hulle hul argumente verwoord! En hulle neem mekaar se argumente ernstig. Die gevolg is dat daar uiteindelik tog ook ‘n sekere oorvleueling van standpunte ontdek word. Waar ek werk in ‘n teologiefakulteit het ek ook die voorreg om daagliks met kollegas in gesprek te wees wat dit geniet om aan ‘n verskeidenheid standpunte blootgestel te word en daarmee te worstel. My ervaring is dus dat daar daar nog baie goeie en leersame gesprekke in die wêreld gebeur. Wat hulle gemeen het, is ‘n gedeelde liefde vir saam dink en saam verstaan.

 

– Gerrit Brand