Posts Tagged ‘Oppikoppi’

Oppikoppi 2010: My hart op Klein Tambotieboom

Thursday, August 12th, 2010

Om van Oppikoppi te herstel is soos om van jet lag aan te sterk ná daardie lang vlug van Sydney na Johannesburg. Dis egter die moeite werd, veral gegewe die musiek wat ʼn mens daar hoor, die ou vriende wat jy raakloop.

Ek het reeds iets genoem oor die baniere met gedigte wat aan die luidsprekertorings langs die hoofverhoog gehang het. Dit het indrukwekkend gelyk. Die organiseerders sê hulle wil meer poësie op vele meer plekke ophang in die toekoms.

Maar die gedigte is ʼn side show. Oppikoppi gaan in die eerste plek oor musiek. Hoogtepunte?

Gil Hockman, die baskitaarspeler van The Buckfever Underground, het ʼn mooi solo set gedoen - net stem en akoestiese kitaar. Hy’t heel eerste gespeel, op die James Phillips Main Stage en afgesluit met ʼn cover weergawe van James Phillips se “Shot down.” Heel gepas. Ek’s bly ek het my donkerbril opgehad.

Vusi Mahlasela en Albert Frost. Vusi sing oor die feit dat hy altyd sal weet hy kom van Afrika, al loop hy in die strate van New York of Londen. Die mense sing saam, hande in die lug. Op die verhoog se backdrop is die gesig wat soos Jacob Zuma s’n lyk, wat gemaak het dat stommerikburokrate van beide Johannesburg en Pretoria die mense van Oppikoppi verbied het om die festival se plakkate op te hang. As die regime se politieke kommissarisse tog net ʼn blaadjie uit Vusi Mahlasela se song book kan neem… En ‘n sin vir humor iewers kan gaan aanskaf (dalk by Milan Kundera).

Cortina Whiplash. Hierdie vroue mag maar rock ‘n roll. Sommige van die band was voorheen lede van Rokkeloos. Daar’s veel meer aan hulle musiek as Loandi se bravade op die verhoog. Luister fyn.

Blk Jks. Wow! As daar een band is wat die grense van rock verskuif, is dit hierdie ouens. Four piece - drums, bass, lead kitaar, rhythm kitaar. Al vier sing, selfs die drummer. Kombinasie van Engels en Sotho. Weird, weird, weird, maar deksels mooi. Rock, jazz, mbaqanga, opera? Geen wonder dis een van die min Suid-Afrikaanse bands wat Uncut Magazine haal nie.

Van Coke Kartel se cover van Koos du Plessis se “Skadu’s teen die muur”. Hulle speel laat Sondagaand, net voor Jack Parow.

Ek was bekommerd dat ek nie van Die Heuwels Fantasties live sal hou nie, want dis moeilik op pop live te doen. Ek luister al ʼn rukkie daarna in die kar. Maar dit werk. “Ek soek pille vir Kersfees…” en:

As die donker my kom haal
en die here my nie soek nie
as die osoonlaag vergaan
en in ʼn kandelaar van sterre val
begrawe my hart op Klein Tambotieboom
en strooi my as oor die Bosveld-horison

Die tribute vir Valiant Swart. Ek hou veral van Francois van Coke se weergawe van “Buitenkant”. Hy begin met ʼn lae stem, skiet dan ʼn oktaaf op en skree:

Die wit kinders dans met die rastas vanaand,
hoor hoe sing daai boer van Babilon, hey hey,
Vrydagaand met ʼn bottel in die hand, Buitenkant…

Valiant klim self op die verhoog met Mystic Boer. Lumart en Bibi gaan mosh, maar die jonger fans verstaan helaas nie wat hulle doen nie.

Jack Parow? Ek het gemengde gevoelens. Interessante visuals, sommige heel pornografies. Aan die einde van sy set lyk dit amper asof hy moeg vir homself raak. Hy doen nie die songs met meer intelligente lirieke op sy CD nie. Te moeilik om die woorde te onthou? Nie crowd pleasers nie?

All in all ʼn lekker naweek. Ek’s bly ek het my overdraft verder laat sak om in die Kreef Hotel te bly, waar hulle tente vir ʼn mens opslaan met ʼn lekker dik matras in. Dis elke pennie werd, veral die ontbyt by ʼn tafel met ʼn skoon bord, die warm storte waar hulle musiek speel sodat jy nie self hoef te sing nie. Ek raak te oud vir Distrik 9, of Mordor, waar vyftienduisend mense met hulle tente en koelbokse en motorradio’s kamp (Dis die eerste keer dat al die kaartjies uitverkoop is).

Vriende vertel van ʼn toneel wat by ʼn vorige Oppikoppi afgespeel het. Mense in die tent langsaan raas ʼn bietjie (of baie) in oomblikke van passie. (Onthou tog, tente het nie baksteenmure nie!) Toe die jubelkreune ophou, vra die een toe die ander wat haar naam is.

“Amanda,” antwoord sy en vra: “And what is your name?”

“Robert,” antwoord hy.

“So, where do you come from?” wil hy van Amanda weet.

“Pretoria,” antwoord sy.

“O, is jy ook Afrikaans!” sê Robert toe heel ingenome.*

Heeltemal te veel mense in die Bosveld-horison se stof en as, heeltemal te veel pret. Ek dink aan die T-hemp wat Oppikoppi jare gelede gemaak het: “Young, gifted, and staying.”

Soms is dit darem moer lekker in Afrika.

__________________________________________
* Name verander vir obvious redes.

Rockers en digters, vervolg…

Thursday, July 22nd, 2010

ʼn Rukkie gelede het ek ʼn paar eiers gelê oor rockers wat digters wil word. Dis nou nadat Hunter Kennedy (Fokofpolisiekar, aKing, Die Heuwels Fantasties) as digter in Nuwe Stemme gepubliseer is. Dit lyk asof Antjie Krog nie meer bekommerd hoef te wees oor die feit dat digters nou eerder rockers wil wees nie. Woorde vloei in die ander rigting ook.

En nou kom Opppikoppi met grofgeskut om poësie heeltemal op die voorgrond te plaas by hulle jaarlikse rock festival. In plaas van advertensies, gaan die speaker towers wat weerskante van die verhoë staan met gedigte opgevrolik word. Mense wie se gedigte op die torings gaan pryk is, Lesego Rampolokeng, Danie Marais, Gabeba Baderoon, Mbongeni Khumalo, Nadine Botha, Siphiwe Ka Ngwenya, Richard Fox, Donald Parenzee, Ingrid de Kok en ekke.

Hoe’s daai?

In ʼn persverklaring sê die mense van Oppikoppi: “Instead of just staring at the wall of sound: we thought you might as well read something.” ‘n Mens sou dit seker “wall of words” kon noem.

Maar dis nie al nie. Die musiekkanaal MK op DSTV het ʼn aantal “picture poems” gemaak, wat op die skerms agter die verhoë gewys gaan word, met kunswerke van mense soos Ronelda Kamfer, Toast Coetzer se The Buckfever Underground, Jax Panik, Straatligkinders, Sean Brand, Fokofpolisiekar, Tamara Dey, Liam Lynch en ʼn paar ander.

Ek het die mense van Oppikoppi gevra of ek ʼn voorskou hier kan plaas, so hier is twee van die panele wat teen die speaker towers gaan hang.

Klik op die prente om dit vergroot. Ek hoop dit werk.

Ja, dis reg, die gulsige Danie Marais kry sowaar sy eie toring!

Besoek Oppikoppi hier. Daar’s baie meer inligting oor die festival - die naweek van 6-8 Augustus. Hierdie jaar se plakkaat is deur Anton Kannemeyer ontwerp.