Posts Tagged ‘Otters in bronslaai’

Gisela Ullyatt. Ballade van ’n tweedehandse bibliofiel.

Friday, February 19th, 2016

Boeddha en boeke

Die reuk van tweedehandse boekwinkels is onmiskenbaar: dié van muf en ou sigarette. Sommige word deurdrenk met die giftige geur van motbolle. Uit ander sypel ’n ongedefinieerde, suurderige klankie.

Dikwels sit daar ’n triest persoon agter die kasregister. Soos in die winkel-in-‘n-stegie wat ons gedurende ’n kort besoek aan ’n ander stad ontdek het. Ter wille van veiligheid is daar ’n deurklokkie om toegang tot dié ‘boeketronk’ te beperk. Geroeste burglar bars; ruite bespikkeld met ou vuil. Metaal-hard klik die veiligheidshek oop. Toegang op eie risiko.

Die plek ruik na nat mat en verlatenheid. Agter die toonbank staan ’n bejaarde dame (dalk chronologies nie só bejaard nie). Haar gesig is gevlek; haar mond ingeplooi soos dié van ’n skilpad. Bebrilde oë volg elke beweging.

Swak ventilasie: ’n waaiertjie hersirkuleer die benoude lug.

Ons begin van ’n punt af: bibliofiele is immers ou strydrosse wat (byna) enigiets sal trotseer. Spoedig het ons ’n hele stapeltjie bymekaar: Ernst van Heerden se Etikette op my koffer en Wolk van die mooi weer. Opperman se Naaldekoker en Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan. Etienne Leroux se Onse Hymie. Plus ’n paar interessante selfhelp-boeke in Engels. ’n Biografie of twee. Die FAK-sangbundel, derde druk: 1963.

Ons vorder fluks tot by die toonbank. Die dame kyk na elke boek voordat sy die pryse intik. Vra ons hoekom ons so baie van Afrikaanse boeke hou. Die meeste lesers is immers versot op Engels. ’n Paar gawe woorde later en haar ingetoënheid verander in ’n gebreekte damwal waardeur woorde spuit. Dis asof haar skouers minder hang.
Al meer as twintig jaar wat sy vir die eienaar van dié winkel werk.
My man grap dat dit meer na ’n vonnis klink. Haar oë word vogtig: Ja, seg sy.
Weinig customers oor die jare  het die moeite gedoen om na die storie van ’n old biddy soos sy te luister.  Soos haar man.

Dié is jare terug geboard. Stook glo soos ’n ou koolstoof. Sit-lê heeldag voor die tiewie. Sy jeremiades en rookasem kan sy nie meer verduur nie. Vyf-en-veertig jaar van haar lewe, gemors op ’n hypochondriac.
Maar wat, vra sy, is die alternatief?

Sy lyk verniel soos die winkel se weeskinders van papier.
Lankal uit druk. Moontlike waterskade. Gevreet deur silwermotte van die verlede.

Die tweedehandse dame is alleen. Sans assistent. Maar sy ken haar plig: om boeke uit bokse te pak, te sif, te organiseer. Daar is nie ’n boek in hierdie boekegrot wat nié deur haar onversorgde hande is nie.
Hier is sy die enigste doeane: sy ken elke immigrasie- en emigrasiewet van boeke op die punte van haar stomp vingers. Maar immers is die doeane niemand se vriend(in) nie.

***

Daar is ’n paar redes waarom ek die weeskinders onder boeke so bemin: elkeen is soos ’n outydse lucky packet. Jy weet nooit wat jy tussen die blaaie gaan ontdek nie: boekmerke, vergeelde resensies. Vergete briewe. Onderstreepte woorde wat eens iets vir die leser beteken het. Aantekeninge, notas; sommige netjies neergestip in potlood, ander vernielsugtig in blou of rooi ink.

Ek deel met lesers ’n paar voorbeelde van tweedehandse Afrikaanse digbundels en boeke oor poësie wat ek in die laaste jaar of wat ontdek het.

Wilhelm Knobel se Mure van mos (1970) is besonder goed opgepas en reukloos.

Wilhelm Knobel

Die eienaar was kennelik ’n musiekliefhebber: twee knipsels oor die komponis, Arnold van Wyk, die onderwerp van die reeds-bekroonde Nagmusiek deur Stephanus Muller. Die eerste knipsel dateer uit Die Volksblad van Saterdag, 20 Oktober 1979. Prys: 14c + 1 c belasting= dus ’n hele 15c. Die opskrif: “Roomse mis in ’n N.G. Kerk”. Van Wyk self is die outeur van hierdie artikel wat handel oor sy ‘Missa in illo tempore’ wat reeds in 1945 in ’n sketsboek deur dié komponis aangeteken is. Eendag hoop ek om genoeg te spaar om Muller se Nagmusiek aan te skaf.

Arnold v Wyk 2 Arnold v Wyk 3

Ook vind ek die agterkant van knipsels mateloos interessant. In hierdie geval is dit ’n veelbesproke boksgeveg tussen Gerrie Coetzee en John Tate wat ‘omstreeks 22h20 gebeeldsaai’ sou word. Voorgevegte: omstreeks 18h15: een van hulle tussen Kallie Knoetze en Randy Stephens van die VSA. Wie het uiteindelik geseëvier?

Boks paradoks

Knipsel 2 oor die Van Wyk-Mis is ongedateer en moontlik ook uit Die Volksblad geknip. Die joernalis/resensent was ene ‘D. de V’. In die resensie word dit aangedui dat die Mis in die NG Kerk Dalsig, Stellenbosch, uitgevoer is. Groot lof is Van Wyk toegesing.

Arnold v Wyk 1

Die eerste druk van Breyten Breytenbach se Kouevuur (1969) bevat ’n interessante knipsel (sommer ingegom).

Breyten 1

Dié kort resensie is in Engels deur ene ‘D.M.’ geskryf. Daar is egter geen aanduiding van die koerant nie (lesers is ongelukkig nie noodwendig navorsers nie). Die Engels klink plek-plek onaf: “Breyten Breytenbach lives today in Paris” […] “Even high up in the pressurized aircraft, he can feel the heat and smell the sweat”. En “Then the poet cries: ‘Africa, my Africa, the land which is God to me. You dare not remain just an abstract, not for me.” Sela.

Breyten 2

NP van Wyk Louw se Berigte te velde. Opstelle oor die idee van ’n Afrikaanse Nasionale Letterkunde (derde druk, 1971) het twee gefotostateerde gedigte: die een, “Hansie en Grietjie” en die ander, “Die slagoffer”.

Van Wyk Louw 1

Beide is gedigte van Eveleen Castelyn uit die bundel, Hemel en aarde. Verder blyk dit dat die persoon die tema wat deur beide gedigte aangespreek word, dalk persoonlik ervaar het en daarom die knipsels bewaar het. Of dalk was hulle bloot voorgeskrewe gedigte op universiteit.

Hansie en Grietjie

daar was eendag ’n woud
aan die kant van die son,
die maan is ’n flou olielamp,
saans brand honderde kersies,
die volgende môre word die kindertjies
afgelaai by die heks se huisie
hulle huil tot vanaand
na-vyf, na-werk kom die
stiefmammies en -pappies hulle haal
met ’n ysterswaan
die nuutste model blaas rook
en jaag oor riviere teer
tot by kelders parkering
dan word hulle opgehys
gebad en gevoer in ’n hok
moet hulle soet gaan slaap
eennag [sic?] het hansie en Grietjie
weggeloop, bo-oor die tralies geklim
en fyn en flenters geval
op die paadjies sement
ver van die huis af

Eveleen Casteleyn knipsel 2

Die slagoffer

Ma het toesig verkry oor my
volgens ’n hofbevel
op voorwaarde dat:

Pa my al om die ander naweek
kan kom haal en elke vakansie
moet ek by hom ook gaan kuier

hoekom haat hulle mekaar so dat
hulle my wil verskeur
en soos ’n pop
rondpluk aan my arms?
hulle verwyte steek
gate in my lyf
die semels loop uit
my maag voel hol
van verlange

my ma en my pa,
Mammie en Pappie,
Moeder en Vader
het my almal kwaadwillig verlaat

Eveleen Castelyn knipsel 1

Groot was my vreugde toe ek DJ Opperman se Komas uit ’n bamboesstok by ’n boekmark opspoor.

Opperman 1

Talle potlood-aantekeninge kan in hierdie kopie gevind word, soos gesien in ‘Vreters van die Bossie’ (56).

Opperman 2

Sommige van die gekrabbel kon ek egter nie uitmaak nie. Ek haal die versreëls aan wat hier betrekking het en dui die dienooreenkomstige aantekeninge in hakies aan wat ek wel kon ontsyfer:

in die Donker Kolk [Marais] die swart serpentyn […]
en in die vreugde van die laterale lyn
die ongeordende, evangeliese walrus
preek [Erasmus Smit] […]
en wilder die goue kruier rol –
almal na die jonger nimf in blinker skubberok
wat haar treurlied tussen Drie Ankers sing [Ingrid Jonker]
in benede- en in bowetone
voor die opper- en die ondermane

Opperman 3

Eenkant wei afwykende amfibiane; [Van Wyk Louw]
diepseeskilpaaie deur lou waters […]
en die seeluis en slierdrelle
van die eerste kwalle uit die Dal, [Patrioters? (Sic?)]
[…] visse van die stok en spies, die glad en die glibberige [Peter Blum]
tong, die bekbroeiers en die horingslakkies
wat in vlakwaters vroetel
met die blaasoppies en muntelose meerminbeursies
oor die streep gespat. [die vier laaste reëls word genoteer as: ‘groepering homoseksuele digters’]

Opperman 4

Marié Blomerus se Fosforblom (1968) sluit ’n briefie tussen bladsye 54 en 55 in.

Marie Blomerus

Die gedig op eersgenoemde bladsy is ‘L’hirondelle’ wat ‘swaeltjie’ in Frans beteken:

Al die swawels is weg.
Soms haal ek een baie somers oud
wat soet soos water ruik
uit skemer sakke van my jurk
en blaas in sy neus
blaas in sy bek:
sy vleueltjies wil nie sprei
sy oë wil nie roer
hy sit
gebalsem in my hand.

Die briefie is hartseer en in ’n kinderlike handskrif. Dis gerig aan ‘Marie’, maar is nie Blomerus (Marié) nie, maar vermoedelik die vorige eienaar van die bundel, wat Mari sonder ’n ‘e’ gespel word voor in die bundel. Ek haal verbatim aan, sonder redigering van taal- en spelfoute:

Liewe Marie

Ek wil graag saam marie vakansie hou
speel in die kamer
met my asb
baie dakie
vir alles
baie dankie vir
die mooi
brief. Ek sal baie na marie vallang as marie
weggaan
ek sal eensaam
wees

maro marcelle

briefie 1briefie 2

’n Resensie oor I.L. de Villiers se Manna oor die duine (1974) word voor in die gelyknamige bundel gevind.

Izak de Villiers 1

Die eerste eienaar (1974) word aangedui as iemand wat woonagtig was in Strand waarna dit in 1995 aan ’n persoon in Stellenbosch behoort het. Die publikasie van die knipsel word nie aangedui nie, maar val onder die rubriekhoof ‘Boekbeskouing’. Die resensent word as JJM aangedui.

Izak de Villiers 3

Op die agterkant van die resensie is daar ’n interessante brief (’n leser?) van iemand genaamd GM Daneel van Pretoria; die opskrif: ‘Liefde vir swart medemense’. Wat sou die reaksie op so ’n ‘progressiewe’ brief wees?

Izak de Villiers 2

Antjie Krog se Otters in Bronslaai (1981) is in ’n goeie kondisie, behalwe vir die dele wat kwistig in blou ink genoteer en onderstreep is.

Krog 1

Dalk die swaar hand van ’n gefrustreerde student?

Krog 2

Die laaste voorbeeld van my tweedehandse boek-ervaring is geweldig sinchronisties. Ek en my gabba, Ilisna Nel, gaan verken een van die winkels in Bloemfontein. Ons steek vas by die Afrikaanse digbundels, meeste vir ‘n appel en ’n ei te koop. Ek soek vir haar twee bundels uit (maar sonder om binne-in te loer), een daarvan NP van Wyk Louw se Gestaltes en diere (1972-uitgawe).

Gestaltes en diere

Dieselfde aand kry ek ’n paar whatsapp’e van haar: ‘check bietjie wat kry ek binne-in …’
Die eerste gefotostateerde knipsel is deur ene G.T.:

Conception

At a time of such uncertain certainties
such certain uncertainties
– it’s dark in this room –
what do we know of the light beyond the windows –
of the morning which will come noisily tomorrow
using our face to call our name?
All you, for whom hurting
is synonymous with living –
I live.
I also live –
shielding my modest flame with my hand
as in a storm –
I open the door of the tomb
and go in …

Empie 1

Die tweede whatsapp lees: is hierdie digter familie van julle?

Three ways of Hearing a Solitary Bird
(for Diane)

Whispering of …
terribly far off…
my lady,
my love,
a solitary bird calls.

A solitary bird calls:
my lady my love
lady my love
my love my lady
love my lady
my lady my love
a solitary bird calls,
and I ride upon its song.

Across the empty desert lands,
a solitary bird sings,
a whisper on the wind terribly far,
and you are with me,
my lady,
my love.

Inderdaad ken ek toe die digter. A.G. Ullyatt oftewel Tony, my man. Dié gedig het verskyn in Unisa English Studies (1975). Soos menige digter voel hy dat hy hierdie ou gedig eenvoudig wil junk. Die foto wys die oorspronklike tipografie wat ongelukkig deur Word Press omgekrap is.

Empie 3

Toeval, sal party dit noem.
Vir ’n tweedehandse bibliofiel bestaan die woord ‘toeval’ nie.
Daarvoor is die kanse nét te skraal.

Bibliografie
Blomerus, M. 1968. Fosforblom. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Breytenbach, B. 1969. Kouevuur. Kaapstad: Buren.
De Villiers, I.L. 1974. Manna oor die duine. Kaapstad: Tafelberg.
Knobel, W. 1970. Mure van mos. Kaapstad: Human & Rousseau.
Krog. A. E. 1981. Otters in Bronslaai. Kaapstad: Human & Rousseau.
Louw, N.P. Van Wyk. 1939 (1971). Berigte te velde. Kaapstad: Tafelberg.
Louw, N.P. Van Wyk. 1942 (1972). Gestaltes en diere. Kaapstad: Tafelberg.
Opperman, D.J. 1979. Komas uit ’n bamboesstok. Kaapstad: Human & Rousseau.
Ullyatt, A.G. 1975. “Three ways of hearing a solitary bird”. Unisa English Studies, 13(1), 26.

Amanda Lourens. Op soek na ’n venster vir ’n tikkende madam

Saturday, January 15th, 2011

Ek het die gesprek oor veral ras in die Suid-Afrikaanse samelewing en denkwêreld na aanleiding van Pieter se blog van 14 Desember  met groot belangstelling gevolg.  Self is ek in my daaglikse lewe baie bewus van ras, klas en gender, soms in so ’n mate dat ek  al gewonder het of ek dit moontlik te ver voer en my as’t ware benadeel deur graag  vanuit hierdie perspektief na die lewe en die letterkunde te kyk? Kompliseer ek dinge dalk soms onnodig, deurdat ek dikwels vrae stel oor “onskuldige, alledaagse” situasies? 

Antjie Krog is spesifiek ’n digter en skrywer wat dit keer op keer regkry om my eie gedagtes of ervarings trefseker te verwoord, sodat ek my eie belewenisse dikwels beter begryp na ek haar werk gelees het.  So vertel sy in Begging to be black hoe sy elke gesinsbesluit oorweeg: Is hierdie spesifieke aksie  nie dalk wit-bevoorreg, uitbuitend, onregverdig nie?  Sy besluit byvoorbeeld daarteen om na ’n produksie van Lohengrin in Pretoria te gaan kyk – die sopraan se vliegkaartjie alleen kan die plaaslike township ’n jaar lank van elektrisiteit voorsien.  Wanneer ek dit lees, wil ek in die strate uithardloop en dit uitbasuin: Iemand, en boonop ’n grande dame van die letterkunde, ervaar dieselfde as ek!  Dalk is ek oplaas nie hopeloos stapelgek, soos my hoërmiddelklaskennisse reken ek is nie.  Ek wens ek kon op Antjie se voorstoep opdaag en haar vra wat máák ’n mens met jouself as hierdie dinge gereeld by jou spook; hoe leef jy met die konstante vrae oor reg en onreg, oor bevoorregting en skuld?

 Dus het spesifiek Wysneus se een stukkie kommentaar my bygebly:  “Daar is meer aan die lewe as ras, klas en geslag.”  Daarmee saam het ek  gewonder: Is dit moontlik vir my en my generasie om ooit verby hierdie werklikhede (of is hulle eerder konstruksies?) te kyk?  Ek verstom my dus gereeld aan studente se vryheid van sommige van die obsessies wat my en my tydgenote steeds striem. 

Wat gender betref – ’n anekdote.  Ek het my studente op ’n slag Krog se “weer eens” (haar intertekstuele gesprek met Eybers se bekende gedig) laat ontleed:

ek kom weer eens nie uit met my budget nie

die suiker en melkkoepons is op

langs my masjien lê stapels stukkende klere

spinnekoppe weef macramé teen die mure

my gesin grawe in leë koekblikke na iets om te eet

my baba het brandboudjies

my dogtertjie swere

my oudste hakkel van een of ander tekort

my man byt op sy tande

stoot die koolbredie agteruit

en druk sy sigaret stadig in die bordjie dood … […]

 

Ek het gehoop dat hulle die dwingelandy van die eise wat die (patriargale) samelewing aan ma’s stel, sou raaklees.  Die meeste van hulle was egter vas oortuig dat armoede die tema in bostaande uittreksel is.  Die “leë koekblikke”en “stukkende klere” is vir hulle nie die vergestalting van die huisvrou se algemene gevoel van ontoereikendheid nie ; hulle herken nie die skuldgevoel van die ma wat voel dat álles wat in die huis verkeerd loop – brandboudjies, swere, ’n gehakkel –  haar persoonlike skuld is nie.  Miskien is hulle bloot te jonk; dalk het ons verbruikersamelewing hulle gekondisioneer om te dink dat stukkende klere nie heelgemaak kan word nie en dat winkelkoekies die enigste opsie is?  Dalk het die nuwe generasie grootgeword sonder die juk van modelle van vroulike huishoudelike perfeksie.  (In my studentedae op Tukkies het die meisies nog hulle kêrels se wasgoed in die waskamer staan en stryk, sodat die hele koshuis van hulle status as onderweg-na-mevroue kon kennis neem.  Ja, regtig.) 

’n Mens sou nog kon redeneer dat vroue van my generasie dalk bloot moet besef ons leef in ’n nuwe eeu, en dat skuldgevoelens oor  nie-perfek versorgde huise en spruite maar na hul graf neffens gepermde en gespuite haarkapsels gestuur moet word.  (Of is ons in dermate ingeperk, geprogrammeer deur die voorskrifte en modelle van ons jeug dat ons as amper-middeljariges steeds probeer gehoor gee aan die eise van ’n nou minder sigbare sisteem?) 

Maar sonder om gender heeltemal saam met die skottelgoedwater uit te gooi, bly ras en klas op ’n meer direkte, en meer ontstellende manier met ons.  Sonder  ’n bewustheid van of nadenke oor die kwessies van ras en klas en sou die lewe moontlik geriefliker kon wees; ’n verleidelike gedagte, inderdaad.  Maar hoe moontlik is dit in die realiteit van ’n Suid-Afrika in 2011 waar verdelings langs hierdie lyne nog vlymskerp in die samelewing loop? 

Jare gelede het ek tydens my navorsing vir my meestersgraad afgekom op ’n artikel waarin einste Antjie Krog beskryf hoedat die bevoorregte wit vroue van die tagtigs en negentigs hulle energie kon wy aan hulle tuine, die verfraaiing van hulle huise of aan hulle kinders, terwyl swart vroue húlle kinders elders moes laat om aan wit vroue hierdie vryheid te gee.  (Ek kry nie meer die verwysing nie – is daar iemand wat dit dalk onthou?) Self besef sy haar bevoorregte posisie, soos sy dit ook treffend verwoord in ’n sleutelgedig soos “Lady Anne by die mikrogolfoond” (Lady Anne, 1989) wat skerp kritiek lewer teen die oppervlakkige lewens van hoërmiddelklasvroue en wat die ineenstorting van hierdie gerieflike lewenswyse voorspel:

o my susters in kombi’s en stasiewaens

met stylvolle donkerbrille en hare teen die grys getint

liggame wat soggens in fleurige leotards

                                                jog en gym en joga

                                                verbete klou aan soepelheid en Pil

[…]

 

soos ons op sandersonlinne sit en aai en paai

en die mans by ingeboude kroeë druk drink en desperaat praat oor naai

weet ons ons is die laaste

die laaste wat die kinders teer laat verblond op melk en heuning

ons is die laaste

agter ons onder ons langs ons

stort met die sagte geluid van as

strukture wat ons soort in stand hou

in hulle maai.

 In 2011 is die politieke strukture van destyds inderdaad in hulle “maai”, maar die ekonomiese strukture wat ’n voorstedelike lewenstyl ondersteun is tot ’n groot mate nog in plek.  Bevoorregte wit vroue is hoegenaamd nie ’n uitgestorwe spesie nie  (alhoewel daar gelukkig intussen ’n paar bevoorregte swart vroue tot die geledere toegetree het sodat die wit mevroue hulle wysmaak dat die speelveld nou gelyk is).  Die kombi’s en stasiewaens van destyds is weliswaar vervang deur viertrekvoertuie; die leotards en die res van die Body Beat-attire is uit die oude doos, maar daar is steeds geld vir duur oefendrag en gym-ledegeld.  En al is ek nie ’n wafferse gymmer nie, is ek steeds skuldig aan die soort gerieflike lewe in die suburbs wat in ’n hoë mate afhanklik is van huis- en tuinhulpe se arbeid.

Ek het toevallig ’n paar jaar gelede navorsing gedoen oor huishulpe se persepsies van  opleidingsgidse (kookkuns, kinderversorging ens.) en of hulle dit byvoorbeeld as toeganklik en ontdaan van stereotipes ervaar.  Ek het dus gesels met ‘n groep vroue wat as huishulpe werk en deeltyds by ’n nieregeringsorganisasie opleiding ontvang.  Groot was my verbasing toe ek moeite ondervind het om die gesprek op die gidse gefokus te hou, en die gesprek beweeg het in die rigting van ’n vergelyking van kantoorwerk  teenoor fisiese arbeid.  Die meeste van die vroue se mening was onomwonde: Om op ‘n rekenaar te sit en tik, is ’n ydele aktiwiteit, dis nie werk nie.  Vloere was en mop, stryk en skottelgoed was is ware werk.  Sedert daardie dag kom sit ’n skuldgevoel tussen my blaaie sodra ek my rekenaar aanskakel.  Want prakties beteken dit iemand doen daardie “regte werk” vir my, sodat ek die vryheid het om te kan studeer, te kan lees, te kan skryf.  (Ook vertel Antjie in Begging to be black : Wat moet haar weeklikse huishulp se gedagtes wees as sy haar werkgewer op haar rekenaar sien tik, en boonop daaruit ’n inkomste genereer vir  ’n huis, motor, klere en oorgenoeg kos?)  

As ek net verby ras en klas kon kyk en buite daardie parameters my lewe kon lei, sou ek waarskynlik makliker in ’n voortsedelike gemaksone kon leef.  Prakties sal dit beteken dat jy skuldgevoelvry kan sit en ‘n digbundel lees terwyl iemand anders jou kroos se wasgoed opvou.  Jy sal die spinnekopneste  in die hoek kan delegeer en Anna Karenina nadertrek.  

Soms lyk dit vir my asof die jonger generasie makliker met hierdie dinge omgaan; asof hulle reken  get over it, laat die lewe aangaan, dis dinge van die verlede.  (Vergewe tog as ek dalk veralgemeen.) Ek verwonder my aan my kinders se vermoë om verby kleur te kyk en die mens raak te sien; ook aan hoe hulle skynheilige politieke korrektheid nie nodig het nie.

Ek dink tog dat ek nie regtig anders wil of kan dink nie.  Ek wil ras, klas en geslag raaksien en ek wil aanhou om dit in tekste te vind, want ek is bloot te diep en te veel daardeur geraak om van die kennis daarvan afstand te kan doen.  Dit sal wees om intellektueel en psigies mutton dressed up like lamb te word; om myself te bedrieg dat ek kan deel in my kinders se ligter tred deur ons land. 

Miskien, dink ek intussen, het ek bloot ’n ander perspektief op hierdie kwessies nodig; ’n ander bril, ’n ander lens of filter.  Hierdie ketting van betekenisse bring my op ’n manier intuïtief by “venster”, sodat ek Loftus Marais se debuut, Staan in die algemeen nader aan vensters, van die rak afhaal en die gedig “Terug op die plaas” opnuut lees:

“daar’s min politiek in jou verse” sê my suster

“die digter het tog ’n verantwoordelikheid”

 

suster, ons generasie is die wesies van ideologieë

die groot idees staan teen die horison soos bouvalle

beeldskoon en gevaarlik soos dié ou waenhuis

’n karkas met ribbebalke en gate in sinkplate

ons loop in stof tussen blikke, klippe

verby, vermoedelik, ’n bylsteel, ’n pispot

en daardie murasies wat die kroeke was

ons onthou apartheid as alledaagse dinge

enemmelborde, selfgerolde sigarette, ’n aparte kraan

die skok van uitvind grieta het kinders en ’n man

suster, kyk na die leë skure teen die rand

waar destyds skeertyd dertig werkers per saal

geskeer, geëet, gesing, geslaap het

daar lê nou skerwe glas, draad, skerp stukke roes

daar’s ’n waarskuwing op karton

om nabye huise se kinders te verdryf:

“danger gevaar ingozi” – van meer nut

as enige gedig wat ek kan skryf

 En sedertdien loop ek rond met hierdie wonderlike gedig wat ek in my skedel van bakboord na stuurboord laat bons in die hoop om die “betekenis” of die “boodskap” te vind.  Sou dit kon wees dat die jonger geslag hulle ervaar as diegene vir wie al die ideologieë van twee of drie dekades gelede nie meer ‘n werklikheid is nie, vir wie dit nie ’n verskil gemaak het nie?  Of is hulle bloot moeg vir hulle ouers se gewroeg met ideologieë, hulle destydse flirtasies met Marxisme?  Sien hulle ‘n meer tasbare werklikheid raak – die praktiese een waarin apartheid die gesig van iets soos afsonderlike eetgerei aangeneem het?  Voel hulle dat die literatuur nie veel van ’n verskil kan maak nie en dat ons eerder prakties mense se lewens moet probeer verbeter?  Maar hoe verskil dit dan van my eie aan-die-lyf-ervarings van die verlede wat steeds saamleef, selfs in iets so eenvoudig soos die madam wat tik terwyl die huishulp die houtvloere poleer?  En watter oplossing, watter venster is daar vir ’n tikkende madam?