Posts Tagged ‘Pablo Neruda vertaling in Afrikaans’

Pablo Neruda - vertaling in Afrikaans

Monday, March 26th, 2012

Pablo Neruda - vertaal deur De Waal Venter

 

Liefde

Vrou, ek het jou seun geword
deur die melk van jou borste te drink,
soos uit ‘n fontein.
deur na jou te kyk, langs my te voel
en jou te besit in ‘n goue lag, die stem van kristal.
Deur jou te voel in my are soos God in die riviere
en jou te aanbid in treurige beendere van stof en kalk,
omdat jy sonder pyn langs my verbygegaan het
en weggegaan het deur die strofe - sonder enigiets sleg -
 
Hoe sal ek weet om jou lief te hê vrou, hoe sal ek weet
om jou lief te hê, lief te hê soos niemand ooit nie!
Om te sterf en steeds
jou meer lief te hê.
En steeds
jou meer lief te hê
en meer.
 
Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter
 
Nota: Hierdie vertaling probeer nie om die klankpatroon van die oorspronklike te volg nie. Dit het ‘n eie klankpatroon wat anders tot uiting kom in Afrikaans. Hier is geen eindryme nie, maar eerder interne klankherhalings.

 

 

Die kat se droom

 

 

Hoe netjies slaap ‘n kat nie,

slaap met sy pote en gravitas,

slaap met sy wrede kloue,

en sy bloeddorstigheid,

slaap met al die ringe

soos ‘n reeks gebrande sirkels

wat die geologie vorm

van ‘n stert die kleur van sand.

 

Ek sal daarvan hou om te slaap soos ‘n kat

met die hele pels van tyd,

met ‘n tong van vuurklip

met die droë drif van vuur

en nadat ek met niemand gepraat het nie,

strek ek myself uit oor die wêreld

met intense vasbeslotenheid

om die rotte van die droom te jag.

 

Ek het gesien hoe hy golwend

slaap, die kat: die nag

vloei deur hom soos donker water,

en miskien val hy,

of daal neer op

ontblote sneeubanke.

Miskien word hy slapend

so groot soos ‘n tier se oupagrootjie,

en spring in die donker oor

dakke, wolke en vulkane.

Slaap, slaap kat van die nag

met biskoplike seremonie,

en jou snor van klip:

orden al ons drome,

beheer die obskuriteit

van ons sluimerende talente

met jou bloeddorstige hart

en die yslike waaier van jou stert.

 

(Die gedig SUEÑO DE GATOS, uit Spaans vertaal deur De Waal Venter)

 

Pablo Neruda (12 Julie 1904 - 23 September 1973) was die skywersnaam en later die wettige naam van die Chileense digter, diplomaat en politikus Neftalí Ricardo Reyes Basoalto. Hy het die naam gekies na aanleiding van die Tjeggiese digter Jan Neruda.  

Neruda het in verskeie style geskryf - erotiese liefdesgedigte, surrealistiese werk, historiese eposse en onbeskaamde politieke manifesto’s. In 1971 wen hy die Nobelprys vir Letterkunde. Die Colombiaanse romanskrywer Gabriel García Márquez het hom eenkeer “die grootse digter van die Twintigste Eeu in enige taal” genoem. Neruda het altyd in groen ink geskryf wat sy persoonlike kleur van hoop was. -DWV

 

 

Ode aan die tamatie

 

Die straat

het vol tamaties geword,

middag,

somer,

lig word in die helfte

gesny

soos

‘n

tamatie,

die sap

loop

deur die strate.

In Desember,

onverpoos

val

die tamatie

die kombuis binne,

met middagete kom hy in,

vat

dit gemaklik

op kombuiskaste

tussen glase,

botterbakke,

blou soutpotte.

Hy skyn

met sy eie lig,

goedaardige majesteit.

Ongelukkig moet ons

hom vermoor:

die mes

sak weg

in lewende vlees,

rooi

binnegoed,

‘n koel

son,

verhewe, onuitputlik,

bevolk die slaaie

van Chili,

gelukkig getroud

met die helder ui,

en om dit te vier,

gooi

ons

olie oor,

essensiële

kind van die olyf,

op die helftes,

peper

gee

ekstra geur,

sout gee magnetisme:

dit is die troue

van die dag,

pietersielie

hys

sy vlaggies,

aartappels

kook lekker,

die geur

van die braaiboud

klop

aan die deur,

dis tyd!

komaan!

en op

die tafel in die middel

van die somer,

die tamatie,

ster van die aarde,

herhalende

en vrugbare

ster,

vertoon

sy vouinge,

sy kanale,

met sy merkwaardige volheid

en oorvloed,

geen pit

geen doppe,

geen blare of dorings,

bied die tamatie

sy gawe

van vurige kleur

en volkome varsheid.

 

 

“Oda al Tomate” - Pablo Neruda

Vert. De Waal Venter, 2012

                 …