Posts Tagged ‘Pablo Neruda vertaling in Afrikaans’

Pablo Neruda. Vertalings in Afrikaans

Monday, January 29th, 2018

Pablo Neruda. Vertaal deur De Waal Venter

.

El Perezoso

Pablo Neruda

 

Continuarán viajando cosas

de metal entre las estrellas

subirán hombres extenuados

.

Die luiaard

 

Hulle sal aanhou om tussen die sterre

te vaar, hierdie goed van metaal,

moeë manne sal opstyg

om die sagte maan geweld aan te doen

en daar hulle apteke te vestig.

 

In hierdie tyd van die uitgeswelde druif

begin die wyn lewe kry

tussen die see en die bergreekse.

 

In Chile dans die kersies,

donker meisies sing

en water skitter in kitare.

 

Die son raak aan elke deur

en maak ’n wonderwerk van die koring.

 

Die eerste wyn is rooskleurig,

soet met die teerheid van ’n kind

die tweede wyn is kragtig

sterk soos die stem van ’n matroos

die derde wyn is ’n topaas,

’n papawer en ook ’n vuur.

 

My huis het die see en die aarde,

my vrou het pragtige oë

die kleur van wilde haselneut,

wanneer die nag kom

trek die see wit en groen aan

en later droom die maan in die windskuim

soos ’n meisie van die see.

 

Ek wil regtig nie van planeet verwissel nie.

 

(Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter / 2018)

 

Wicus Luwes. Ode aan ‘n Souttekort

Saturday, November 29th, 2014

 

Hierdie tyd van die jaar begin die souttekorte erg deurslaan. Dis veral die binnelanders, wat deur skoolvakansies vasgepen word, wat dit die ergste voel. Hulle kan al die Groot Dam ruik. Hulle kan al die meeue en raserige branders hoor. Hulle kan al die growwe sand onder hul tone voel (al hou hulle nie van sand nie). Die Dam se water bring genesing vir klein snytjies wat ander medisyne nie kan heel nie.

Ek wonder waarin die helende effek van die Groot Dam lê. Miskien is dit die afskakel van die normale dagtake. Dit is moontlik soos die rustigheid van ‘n ouer se asemhaling op ‘n klein kindjie – daardie oerritmes van die kosmos wat die maan en die sterre deur eb- en springgety vir ons kom openbaar. Dit is moontlik die ironie dat water, wat ons dors normaalweg les, ons eerder dors kan maak.

“Wit is the salt of conversation, not the food.”
– William Hazlitt

Deel van die resep, maar nie bo die dis verhewe nie. Sout is deel van ons dieët, maar die regte hoeveelhede is soos met enigiets die belangrikste deel daarvan. Jy kan altyd sout byvoeg, maar as jy eers te veel sout bygevoeg het, is dit moeilik om die dis weer eetbaar te maak. ‘n Groepie vriende smul by geleentheid aan ‘n heerlike dis en begin redeneer oor wat alles in die dis kan wees.
“Ek dink ek proe origanum,” sê die een gas.
“Miskien baie fyn gesnyde sampioene?” raai die volgende.
Die gasheer het geknik as hul reg geraai het.
Na verskeie raaiskote en kopknikke, het die gasheer laat weet:
“Julle het al die bestanddele nou reg geraai, behalwe vir een.”
Die gaste het eksotiese en inheemse speserye genoem en met kullinêre kinkels a-la-Kokkedoor vorendag gekom. Aan die einde van die aand, was dit die gasheer wat met ‘n skalkse glimlag sy gaste elkeen by die deur kon groet met die woorde:
“Die laaste bestanddeel was sout!”

“Julle is vir die aarde soos sout in kos. Maar as sout nie meer soos sout smaak nie, dan kan niemand dit weer soos sout laat smaak nie. Daardie sout beteken niks. Mense gooi dit buite weg en hulle trap daarop.
– Matteus 5:13 uit die ‘Bybel vir almal’-vertaling

Daar is party dinge wat ons as vanselfsprend aanvaar. Ander dinge waarby ons verbykyk alhoewel dit ‘n bitter belangrike deel van ons samestelling is. Daar heers bekommernis oor die mens se Jodium-inname in ons moderne tyd. In die 1920’s is Jodium by sout gevoeg om die tekorte aan te vul. Dit speel ‘n belangrike rol by die skildklier en tekorte kan tot gebrekkige konsentrasie, stadige metabolisme en selfs goiter-probleme lei. Die moderne mens word geleer dat sout sleg is vir die hart en verder voeg vervaardigers ook minder en minder Jodium by sout. Die lewe gaan mos maar oor balans en soos met jou verlange na die sout van die see, weet ‘n mens dit nie eers altyd dat jou liggaam na ‘n bietjie Jodium smag nie. Dit is net asof daar iets kortkom in jou kos of jou lewe.

My Oupa het dikwels ‘n eetlepel sout gesit en eet. Ek het as kind ook somtyds hom probeer na-aap, maar ek het gegril daarvoor. Daar sou seker een of ander mediese rede vir sy sout-etery wees, maar ek sal dit maar eerder oor my kos neem. Die belangrikheid van sout in die verlede is interessant. Tydens die sluit van belangrike ooreenkomste, moes daar sout geruil word. Ek wonder of die gebruik dat besigheid oor ‘n lekker maaltyd bespreek word, nie sy oorsprong by die sout-ruil gebruik kry nie, want daar word mos sout oor die kos gegooi. Die woord ‘salaris’ het ook sy oorsprong by sout, want Romeinse soldate se ransoen was hul ‘geld om sout mee te koop’. Die salaris was dus ‘n soort ‘geld vir sout’ of soutgeld. Dit het definitief raakpunte met die spreekwoord dat ‘n goeie werker sy ‘sout werd’ is.

Ode aan sout
deur Pablo Neruda (vertaal deur De Waal Venter)

Hierdie sout
in die soutpot
het ek gesien op die soutvlaktes.
Ek weet
jy sal my nie glo nie,
maar
dit sing,
die sout sing,  die vel
van die soutvlaktes
sing
met ‘n mond versmoor
deur die aarde.
ek het gesidder in daardie
verlatenheid
toe ek geluister het
na die stem
van die sout
in die woestyn.
Naby Antofagasta
die hele
salpeter pampa
weerklink:
dis ‘n gebroke
stem
‘n treurige
lied.

En daar in sy grotte
die soutjuweel, berg
van verborge lig,
deurglansde katedraal,
kristal van die see, vergetelheid
van die golwe.

En daar op elke tafel
op aarde,
sout,
jou rats
substans
gesprinkelde
lewenskragtige lig
op ons kos.

Preserveerder
van antieke
skeepsruime,
ontdekker
jy het gevaar
op die oseaan
eerste
die onbekende, half verborge
paaie van die skuim in.

Poeier van die see, die tong
ontvang van jou ‘n soen
van die nagsee:
smaaklikheid in elke
heerlik gegeurde dis
berus op jou oseaanagtigheid
en so wys
die kleinste
miniskule
golfie uit die soutpot
ons nie alleen sy huishoudelike witheid nie,
maar die sentrale smaak van die oneindige.

Kantlyn-nota: Hierdie blog het eintlik begin toe ek die belangrikheid van sout in die realm van religie probeer navors het. Ek is ‘n groot aanhanger van gruwelflieks (alhoewel ek nie gruwelboeke kan lees nie, want dit bly my te lank by). Baie gruwelfilms wys dat slegte geeste ‘n lyn of sirkel van sout respekteer. Die Algemis binne-in my is nog besig met die navorsing, maar ek vind dit werklik interessant.

Ons besef baie keer eers te laat dat ons ‘n sout-tekort het of gehad het. Ek sien daarna uit om een van my seesout-tekorte aan te vul met die lees van ‘n ander soort see in ‘In a burning sea’. Die vertalings kan ‘n mens opnuut na ‘n gedig laat kyk – amper soos wanneer jy bo en onder die oppervlak van die see inbeweeg.  Een so ‘n dimensie van die see het vir my oopgegaan met die lees van Johann Lodewyk Marias se bundel ‘In die bloute’.

Tierkourie
Cypraea tigris
deur Johann Lodewyk Marais

‘n Digter het eens oor ‘n skulp geskryf,
selfs die binnekant in detail verbeeld
en voor die leser se oë laat leef.
Ek het met verwondering geluister.
Tuis het ek die skulp in my hand geneem,
hom om en om gedraai en goed bekyk.
Hoe moet ek dan te werk gaan as ook ek
dié sieraad uit die see nou wil vereer?
Moet ek eers weer op my boekrak gaan soek
om meer oor die oseane, vorm
en gedrag van dié boorling van Pemba
te lees voor ek ‘n woord op papier sit?
Moet ek hom desnoods alkant bestudeer,
in sy binneste inkyk, notas maak
en sy samestelling deeglik vasstel?
Moet ek die man van Maputo loop pols
by wie ek hom vir ‘n hand vol munte
van die hoop voor sy voete gekoop het?
Of moet ek hom liewer teen my oor druk
en luister of hy self iets te sê het?
Miskien sal ek maar ‘n digter moet vra.

Vir T.T.Cloete

Dit is partykeer nodig om die aarde se ritmes te probeer naboots, want dit is groter en langer en wyer as ons. Die asemhaling van die see. Die sout wat die see vir ons as geskenk aanbied. Partykeer is daar kalmte te bespeur in die nabootsing van daardie ritmes. Die see is net ‘n skulp-oor-die-oor ver en die sout is bietjies-bietjies in alles verstrooi.

Ballade van ‘n soutpot wat leegloop

sout

sou

so

s

Bronne:
1. Internet: http://blogs.24.com/poems/2013/12/22/neruda-se-ode-aan-sout/
2. Internet: http://www.bybel.co.za/search/search-detail.php?prev=-2&book=MAT&chapter=5&version=2&GO=Wys
3. Internet: https://pbs.twimg.com/profile_images/313400428/salt_shaker_photo.jpg
4. Marais, J.L. In die bloute. Pretoria: Cordis Trust Publikasies, 2012

Pablo Neruda – vertaling in Afrikaans

Sunday, October 6th, 2013

 Pablo Neruda – vertaal deur De Waal Venter en Johann Lodewyk Marais

 

Sonnet C

 

In die middel van die aarde sal ek

die smaragde wegskuif om jou beter te sien

en jy sal die koringare kopieer

met ‘n water-pen boodskapper.

 

Wat ‘n wêreld! Watter dieptes van pietersielie!

Wat ‘n seilboot wat vaar in die heerlikheid!

En jy miskien en ek miskien ‘n topaas!

Daar sal nie meer wanklanke in die klokke wees nie.

 

Daar sal niks meer wees as die vrye lug nie,

die appels gedra deur die wind,

die sappige boek tussen die takke,

 

en daar waar die angeliere asemhaal

sal ons ‘n kledingstuk aanmekaarsit wat die ewigheid

van ‘n seëvierende soen sal weerstaan.

 

(Pablo Neruda : Soneto C ; uit Spaans vertaal deur De Waal Venter)

 

 

Ode aan wyn

 

Wyn met die dag se kleur,

wyn met die nag se kleur,

wyn met purper voete

of bloed van topaas,

wyn,

sterre-kind

van die aarde,

wyn, glad

soos ‘n swaard van goud,

sag

soos wilde fluweel,

spiraalgeskulpte wyn,

deurdrenk met liefde,

soos die see,

nooit kon net een glas jou hou nie,

een lied, een man,

jy is koraal, mensliewend,

en op die minste moet jy gedeel word.

By tye

teer jy

op sterflike herinneringe,

en jou golf

spoel ons van tombe na tombe,

klipwerker van ysige grafkelders,

en ons ween

verbygaande trane,

maar

jou pragtige

lenterok

is anders,

die bloed styg op in die stamme,

die wind roer die dag,

niks bly oor

van jou stil siel nie.

Wyn

laat die lente bloei,

geluk groei boontoe soos ‘n plant,

mure verkrummel,

kranse,

skeure gaan toe,

‘n lied word gebore.

O jy, ‘n fles wyn, in die wildernis

met daardie geurigheid waarvoor ek so lief is,

het die ou digter gesing.

Dat die wynfles

liefdesoen op liefdesoen gee.

 

My liefling, skielik

word die lyn van jou heup

die oorvloedige kurwe

van die wynglas,

jou bors is ‘n druiwetros,

die lig van die alkohol skyn in jou hare,

jou tepels is druiwekorrels,

jou nawel is ‘n kuis seël

gestempel op die fles van jou maag,

jou liefde ‘n onuitputlike

kaskade van wyn,

die lig wat my sinne verhelder,

die aardse prag van lewe.

 

Maar dis nie net liefde nie,

die vurige soen

of brandende hart nie

jy is

die wyn van die lewe,

maar ook

vriendskap van mense,

deursigtigheid,

koor van dissipline

oorvloed van blomme.

Dis lekker om op die tafel,

wanneer mens gesels,

die lig van ‘n bottel te hê

met intelligente wyn.

Drink dit,

en onthou in elke

goue druppel

in elke topaas-glas

in elke purper skeplepel

wat die herfs geswoeg het

om die houer met wyn te vul,

die donker man onthou,

in die gang van sy dagtaak,

om te dink aan die grond en sy plig,

om ‘n loflied aan wyn uit te sing.

 

(Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter)

 

 

 

Gedig 19

POEMA 19

Niña morena y ágil, el sol que hace las frutas,

Pablo Neruda

 

Bruinhaar, ratse meisie, die son wat die vrugte vorm,

die koring ryp maak en die seewier krul,

het jou lewenskragtige lyf gemaak, jou helder oë

en jou mond wat die glimlag van water inhou.

 

‘n Swart en opgewonde son rol jou in die krulle

van jou lang donker hare wanneer jy jou arms oopmaak.

Jy speel in die son, soos in ‘n riviermonding

en dit maak twee donker poele in jou oë.

 

Bruinhaar, ratse meisie, niks van jou kom na my nie.

Alles van jou gaan weg van my, soos van die middag.

Jy is die dolle jeug van die by,

die bedwelming van die golf, die krag van die koringaar.

 

My somber hart soek na jou, nie te min,

en ek bemin jou lewenskragtige lyf, jou sagte en vrye stem.

Bruinhaar vlinder, so lieflik en seker

soos die koringlande, en die son, die papawer en water.

 

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

16 Junie 2013

 

***

 

ʼn Klompie gediertes

Dit was die aand van die likkewaan.

Van sy reënboogkleurige kroon
sy tong soos ‘n werppyl
weggesink in die groenigheid,
die monnikagtige miervreter
het met musikale voete deur die oerwoud gestap,
die guanaco, delikaat soos suurstof
in die wye bruin hoogtes
het gaan wandel in sy goue stewels,
terwyl die lama sy onskuldige oё
geopen het vir die fynheid
van ‘n wêreld gevul met dou.
Die ape het ‘n eindelose
erotiese tou gevleg
langs die dagbreek-kus,
mure van stuifmeel afgetrek
en die pers vlug
Van Muzo se skoenlappers verskrik.
Dit was die nag van die kaaimanne,
die suiwer, polsende nag
die snoet wat uit die slym steek
en uit die sluimerende moerasse
die dowwe geruis van skubplate
wat terug gaan na die oorsprong van die aarde.
Die luiperd het die blare aangeraak
Met sy gloeiende afwesigheid,
die puma hardloop deur die ruigtes
soos ‘n verterende vuur
terwyl in hom die alkoholiese oë
van die oerwoud brand.
Ratels krabbel op die oewer
van die rivier, snuif aan ʼn nes
vol sidderende lekkernye
wat hulle met rooi tande gaan verslind.

En in die diepte van die groot waters
soos die sirkel van die aarde,
is die reuse anakonda
bedek met seremoniële klei,
verslindend en religieus.

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter. (Die gedig “Algunas bestias” kom uit sy bundel “Cantos General” en is besonder interessant omdat dit getoonset is deur Mikis Theodorakis as ‘n oratorium.  Jy kan hier kyk en luister na die canto.)

 

 

voorheen Klippe van die hemel

 

Hier is die boom in suiwer klip,

onomstootlik, in soliede prag,

oor tien miljoen jaar opgebou.

Agaat en kornalyn en altaarlamp

die hout en sap is omgesit

tot die reuse stam

bestand was teen die verrotting van water

en dit soos ‘n standbeeld begin lyk het:

die lewende blare

het hulleself vernietig

en toe dit omgedruk is,

vlammende bos, brandende stofwolk.

hemelse asse het dit omhul

tot tyd, en die lawa ‘n geskenk

geskep het van deursigtige klip.

 

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

 

  

Poësie

 

En dit was op daardie ouderdom … poësie het gekom

om my op te soek. Weet nie, weet nie waarvandaan

dit ontstaan het nie, uit die winter of ‘n rivier.

Weet nie hoe of wanneer nie.

nee, dit was nie stemme, dit was nie

woorde, nie stilte nie.

Maar ek is uit ‘n straat geroep

uit die takke van die nag,

skielik tussen die ander uit,

uit gewelddadige vlamme

of alleen teruggekom,

daar is ek sonder gesig

en dit het my geraak.

 

Ek het nie geweet wat om te sê nie, my mond

het nie geweet

hoe om te praat nie.

my oë was blind,

en iets was aan die klop in my siel,

koors of verlore vlerke,

en ek het alleen geraak,

daardie brand

ontsyfer,

en ek het die eerste vae reël geskryf,

vaag, sonder liggaam suiwer

nonsens,

suiwer kennis,

van hom wat niks weet nie,

en skielik

die lug sien

onthul

en oopgaan,

planete,

polsende saailande,

deurdronge skaduwees,

deurspek

met pyle, vure en blomme,

die oorstelpende nag, die heelal.

 

En ek, die kleinste wese,

bedwelm deur die grootse niks

sterrestelsels,

die beeltenis

van geheimenis,

het myself suiwer deel gevoel

van die leegte,

draaiend saam met die sterre

my hart losgebreek in die wind.

 

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

 

 

Ode aan ‘n groot tuna in die mark     

ODA A UN GRAN  ATÚN EN EL MERCADO

Uit: Tercer libro de las odas [1955-1957] (1957)

 

In ‘n groentemark,

‘n koeël

uit die dieptes

van die oseaan,

‘n swemmende projektiel,

het ek jou raakgeloop,

dood.

 

Oral om jou

was daar slaaikoppe

seeskuim

van die aarde,

wortels,

druiwe,

maar

die waarheid

van die see,

van die onbekende,

van die

onbepaalbare

skadu,

die waters

se dieptes,

die afgrond

wat net jy oorleef het

‘n pikswart, glansende

getuie

van die diepste nag.

 

Net jy, donker koeël

uit die afgrond,

akkuraat,

verniel

net aan een punt,

voortdurend

herbore,

geanker in die stroming,

sy gevleuelde vinne

vinnig

waaiend

in die vlug

van

die

skadu

van die see

soos ‘n treurende pyl

pylpunt van die see,

vreeslose olyf.

 

Ek het jou daar dood gesien,

‘n gestorwe koning

van my eie oseaan

lewenskragtige

groen, silwer

ondersese

den

kern

van getygolwe,

daar,

oorblyfsels van die dood,

in die mark

sien ek

egter

was jou vorm

die enigste een met ‘n doel

tussen

die verwarrende warboel

van die natuur:

jy was

tussen die delikate groentes,

soos ‘n skip

vin en boeg swart en geolie,

asof jy nog steeds

die voertuig van die wind was,

die enigste

en suiwere

masjien

van die see:

ongeskonde, varende

op die waters van die dood.

 

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

 

Arme ouens

(Pobres muchachos – Pablo Neruda)

Wat kos dit op hierdie planeet
om mekaar lief te hê in vrede:
die hele wêreld ondersoek die lakens,
almal bemoeilik jou liefde.
En hulle sê vreeslike goed
van ‘n man en ‘n vrou
wat, na baie rondval,
en baie oorweging,
iets onvervangbaars doen,
saam op ‘n bed neerval.

Ek vra myself af of die paddas
hulleself dophou, hulleself geringskat,
of hulle fluister in dammetjies
teen onwettige paddas
teen die genietinge van hulle soort.
Ek vra myself af of die voëls
voëlvyande het
en of die bul luister na osse
voor hy begin vry na die koeie.

Nou het die strate oë,
die parke het polisie,
die hotelle het geheime,
die vensters skryf name af,
troepe en kanonne word uitgestuur
vasbeslote teen die liefde,
onophoudelik aan die werk
die kele en die ore,
en ‘n ou en sy meisie
word gedwing om te blom
terwyl hulle vlug op ‘n fiets.

(Uit Spaans vert. deur De Waal Venter)

*

 

Jou voete
(Tus pies – Pablo Neruda)

Wanneer ek nie na jou gesig kan kyk nie
kyk ek na jou voete.

Jou voete met benige boë
jou harde klein voete.

Ek weet hulle dra jou,
en dat jou lieflike gewig
gelig word op hulle.

Jou middel en jou borste,
die dubbelpers
van jou tepels,
die holtes van jou oë
wat pas weggevlieg het,
jou breë vrugtemond,
jou bos rooi hare
my klein toring.

Maar ek is lief vir jou voete
juis omdat hulle geloop het
op die aarde en op
die wind en op die water
tot hulle by my uitgekom het.

(Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter)

 

*

EK SAL TERUGKEER

 

‘n Ander keer, man of vrou, reisiger,

later, wanneer ek nie meer lewe nie,

kyk hier, soek na my

tussen klip en oseaan,

in die lig stormend

deur die skuim.

Kyk hier, soek na my,

want hierheen sal ek terugkeer, woordeloos,

sonder stem, sonder mond, suiwer,

hierheen sal ek terugkeer om die gekarring

van die water te wees, of

sy ongebroke hart,

hier, sal ek ontdek en verlore wees:

hier, sal ek, miskien, klip en stilte wees.

 

(vert. Johann Lodewyk Marais, 2012)

 

*

 

Werkwoord

 

Ek gaan hierdie woord frommel.

ek gaan dit wring,

ja,

dis heeltemal te glad

dis of ‘n reuse hond of groot rivier

sy tong daaroor gelek het of water

oor baie jare.

 

Ek wil dít in die woord hê

dat die ruheid gesien word.

die ystersout

die tandelose krag

van die aarde,

die bloed

van hulle wat gepraat het en hulle

wat nie gepraat het nie.

 

Ek wil die dors sien

binne die sillabes:

ek wil raak aan die vuur

in die klank:

ek wil die donkerte voel

van die skreeu. Ek wil

woorde hê, ru

soos maagdelike rotse.

 

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

 

*

 

Liefde

Vrou, ek het jou seun geword
deur die melk van jou borste te drink,
soos uit ‘n fontein.
deur na jou te kyk, langs my te voel
en jou te besit in ‘n goue lag, die stem van kristal.
Deur jou te voel in my are soos God in die riviere
en jou te aanbid in treurige beendere van stof en kalk,
omdat jy sonder pyn langs my verbygegaan het
en weggegaan het deur die strofe – sonder enigiets sleg –

Hoe sal ek weet om jou lief te hê vrou, hoe sal ek weet
om jou lief te hê, lief te hê soos niemand ooit nie!
Om te sterf en steeds
jou meer lief te hê.
En steeds
jou meer lief te hê
en meer.

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

Nota: Hierdie vertaling probeer nie om die klankpatroon van die oorspronklike te volg nie. Dit het ‘n eie klankpatroon wat anders tot uiting kom in Afrikaans. Hier is geen eindryme nie, maar eerder interne klankherhalings.

 

*
 

 
Die kat se droom

 

Hoe netjies slaap ‘n kat nie,

slaap met sy pote en gravitas,

slaap met sy wrede kloue,

en sy bloeddorstigheid,

slaap met al die ringe

soos ‘n reeks gebrande sirkels

wat die geologie vorm

van ‘n stert die kleur van sand.

 

Ek sal daarvan hou om te slaap soos ‘n kat

met die hele pels van tyd,

met ‘n tong van vuurklip

met die droë drif van vuur

en nadat ek met niemand gepraat het nie,

strek ek myself uit oor die wêreld

met intense vasbeslotenheid

om die rotte van die droom te jag.

 

Ek het gesien hoe hy golwend

slaap, die kat: die nag

vloei deur hom soos donker water,

en miskien val hy,

of daal neer op

ontblote sneeubanke.

Miskien word hy slapend

so groot soos ‘n tier se oupagrootjie,

en spring in die donker oor

dakke, wolke en vulkane.

Slaap, slaap kat van die nag

met biskoplike seremonie,

en jou snor van klip:

orden al ons drome,

beheer die obskuriteit

van ons sluimerende talente

met jou bloeddorstige hart

en die yslike waaier van jou stert.

 

(Die gedig SUEÑO DE GATOS, uit Spaans vertaal deur De Waal Venter)

 

Pablo Neruda (12 Julie 1904 – 23 September 1973) was die skywersnaam en later die wettige naam van die Chileense digter, diplomaat en politikus Neftalí Ricardo Reyes Basoalto. Hy het die naam gekies na aanleiding van die Tjeggiese digter Jan Neruda.

Neruda het in verskeie style geskryf – erotiese liefdesgedigte, surrealistiese werk, historiese eposse en onbeskaamde politieke manifesto’s. In 1971 wen hy die Nobelprys vir Letterkunde. Die Colombiaanse romanskrywer Gabriel García Márquez het hom eenkeer “die grootse digter van die Twintigste Eeu in enige taal” genoem. Neruda het altyd in groen ink geskryf wat sy persoonlike kleur van hoop was. -DWV

 

*

 

Ode aan die tamatie

 

Die straat

het vol tamaties geword,

middag,

somer,

lig word in die helfte

gesny

soos

‘n

tamatie,

die sap

loop

deur die strate.

In Desember,

onverpoos

val

die tamatie

die kombuis binne,

met middagete kom hy in,

vat

dit gemaklik

op kombuiskaste

tussen glase,

botterbakke,

blou soutpotte.

Hy skyn

met sy eie lig,

goedaardige majesteit.

Ongelukkig moet ons

hom vermoor:

die mes

sak weg

in lewende vlees,

rooi

binnegoed,

‘n koel

son,

verhewe, onuitputlik,

bevolk die slaaie

van Chili,

gelukkig getroud

met die helder ui,

en om dit te vier,

gooi

ons

olie oor,

essensiële

kind van die olyf,

op die helftes,

peper

gee

ekstra geur,

sout gee magnetisme:

dit is die troue

van die dag,

pietersielie

hys

sy vlaggies,

aartappels

kook lekker,

die geur

van die braaiboud

klop

aan die deur,

dis tyd!

komaan!

en op

die tafel in die middel

van die somer,

die tamatie,

ster van die aarde,

herhalende

en vrugbare

ster,

vertoon

sy vouinge,

sy kanale,

met sy merkwaardige volheid

en oorvloed,

geen pit

geen doppe,

geen blare of dorings,

bied die tamatie

sy gawe

van vurige kleur

en volkome varsheid.

 

 

“Oda al Tomate” – Pablo Neruda

Vert. De Waal Venter, 2012