Posts Tagged ‘Pablo Neruda’

Heilna du Plooy. Waar die poësie ‘n digter gaan haal

Wednesday, June 29th, 2011

Waar die poësie ‘n digter gaan haal

Deel I

Jasper van Zyl

Jasper van Zyl

Die titel van Jasper van Zyl se bundel Die lewe tussen pikkewyne kom uit ‘n gedig “dit is nes jy daar sê, ja” (p. 20). In die gedig is ‘n spreker en ‘n “jy” saam in ‘n bootjie en hulle trek “silwer vissies” uit die see. Die gedig begin met die volgende gedagte: “soms is dit só dat een mens/ deur ‘n ander kan praat”.  Die leser besef dat die “jy” in die gedig waarskynlik verwys na ‘n alter ego of ‘n ander persona van die self wat die boot met die spreker deel. Die boot is eers staties, rustend, “in utero”, maar die “jy” wat die “taal van meeue” praat, droom dat hulle strand. Die boot bots dan ook onverwags teen ‘n ysberg en die spreker en die “jy” moet op die ys verder lewe. Die verloop van die boottog is nie beplan nie, dit gebeur asof dit so bestem is buite die bootvaarder self om. Die stranding op die ys is egter wel duidelik onvermydelik en ontkombaar. Die lewe word in nuwe omstandighede voortgesit en hierdie lewe word uiteindelik ‘n manier van bestaan, ‘n yslewe tussen pikkewyne. Die “jy” wat ook soos ‘n geliefde uitgebeeld word, is “pragtig” en “yslik mooi”, lieflik en koud, maar ook groot, vir my dus onder meer ook in die sin van ysingwekkend. Die buikspreektaal van die geliefde is geheimsinnig en versluierend soos vaal rook.

Dit is vir my ‘n poëtikale gedig wat verwys na die onvermydelikheid van die poëtiese aktiwiteit, van die digterskap wat sigself soos ‘n ysberg aanmeld, wat aandring en sigself selfs opdring, wat alles in ‘n ander rigting stuur: iets wat pragtig is, maar ook ietwat skrikwekkend en waarteen die digter styf slaap totdat die koue warm word.

Pablo Neruda

Pablo Neruda

Nou het Antjie Krog ook al gepraat van die “snode ys” van die poësie, maar die gedig het ook by my ander gedigte opgeroep wat gaan oor die onontkombaarheid van die digterskap en die digtersaktiwiteit. In Van Zyl se gedig is daar twee gedagtes wat hier ter sake is. Die eerste is dat die digterskap nie gekies word nie, maar soos ‘n ysberg aanmeld, dat dit iets is wat in die digter se weg kom staan. Die ander gedagte het te make daarmee dat die digterskap, die poëtiese aktiwiteit of dalk ook die gedig self, intimiderend, bedreigend of koud is, maar ook vreugde bring, dat dit ‘n ander manier van lewe is wat die digter dan aanvaar.  Die idee dat die digter nie sy rol as digter kies nie, maar as ‘t ware gekies word, dat die digterskap die digter kon roep of kom haal en dat die digter dit opvolg ten spyte van alles, kom dan ook meermale in gedigte van bekende digters na vore. Ek gaan hier net enkeles noem wat vir my besonder mooi is. Die eerste is die gedig “Poetry” van Pablo Neruda, waarin die digter vertel hoe die poësie hom kom haal het en hom aan die wind oorgelewer het op die mees bevrydende manier.

Poetry
          - Pablo Neruda
And it was at that age … Poetry arrived
in search of me. I don’t know, I don’t know where
it came from, from winter or a river.
I don’t know how or when,
no they were not voices, they were not
words, nor silence,
but from a street I was summoned,
from the branches of night,
abruptly from the others,
among violent fires
or returning alone,
there I was without a face
and it touched me.

I did not know what to say, my mouth
had no way
with names,
my eyes were blind,
and something started in my soul,
fever or forgotten wings,
and I made my own way,
deciphering
that fire,
and I wrote the first faint line,
faint, without substance, pure
nonsense,
pure wisdom
of someone who knows nothing,
and suddenly I saw
the heavens
unfastened
and open,
planets,
palpitating plantations,
shadow perforated,
riddled
with arrows, fire and flowers,
the winding night, the universe.

And I, infinitesimal being,
drunk with the great starry
void,
likeness, image of
mystery,
felt myself a pure part
of the abyss,
I wheeled with the stars,
my heart broke loose on the wind.

Dit bly net eenvoudig ‘n gedig om weer en weer te lees en vreugde te hê aan die vloei van gedagtes, die ritmiese oorgange wat ikonies is van die vloeiende aard van liriese denke. Wat my ook bly opval, is dat dit nie net gaan om liefde vir woorde nie, ook nie oor gedagtes nie, maar oor ‘n lewenswyse: die poësie self is iets onbenoembaar wat ontbrand in die binneste en dan ontsyfer moet word. En terwyl Neruda praat van die intuïtiewe aard van sy eerste pogings, is die gedig self wel deeglik samehangend, lieflik in sy eie logika. Oor hierdie gedig moet daar dan ook inderdaad nie veel meer gesê word as net om iemand aan te moedig om dit weer te lees nie.

‘n Ander gedig wat die gedagte aanbied dat die poësie voor die digter kom staan, hom in ‘n ander rigting dwing, is “Earthy Anecdote” van Wallace Stevens. Nou is dit so dat Stevens self geen kommentaar wou lewer op die poëtikale interpretasie van die gedig nie en bloot net gesê het dat te veel interpretasie die pret van die gedig as sodanig bederf. Hoewel die gedig natuurlik as ‘n soort allegorie op baie verskillende sake van toepassing gemaak kan word, het Stevens nie die poëtikale interpretasie ontken nie.

 

Earthy Anecdote

                   Wallace Stevens

 

Every time the buck went clattering
Over Oklahoma
A firecat bristled in the way.

Wherever they went,
They went clattering,
Until they swerved
In a swift, circular line
To the right,
Because of the firecat.

Or until they swerved
In a swift, circular line
To the left,
Because of the firecat.

The buck clattered
The firecat went leaping,
To the right, to the left,
And
Bristled in the way.

Later, the firecat closed his bright eyes
And slept.

In hierdie gedig word die misterie van die “firecat” (die volksnaam vir die bergleeu), wat so “bristle” en daarmee die bokke wat reguit wil hardloop, dwing om van koers te verander, op geen manier nader toegelig nie. Stevens bly hier getrou aan sy uitspraak: “Poetry must resist the intelligence almost successfully”. Nogtans, net soos by Neruda, is die poëtiese kwaliteit van die segging buite tyd en ruimte uitsonderlik goed. Edmund Wilson het van Wallace Stevens se werk gesê: “Even when you do not know what he is saying, you know that he is saying it well.”

TT Cloete
TT Cloete

‘n Ander merkwaardige poëtikale gedig is T.T.Cloete se “penkop hoor meer as een stem” waarin die digter sy digterskap as ‘n soort roeping sien. Dit is nie vir hom maklik nie, hy voel homself onwaardig en te swak, nie taai genoeg nie, nie weerbaar genoeg nie, maar hy moet voortgaan. Tog word die digterlike werk ook ‘n troosmiddel, ‘n verweer, ‘n tuiste op sigself.

 

 

 

 

penkop hoor meer as een stem

          T.T.Cloete

Hy wat my gemaak het, weet alte goed
ek is dun van vel, sonder harnas, gebukkel.
Ek vlug swaar, loop met groot gesukkel,
skraal, klein van moed.

Ek is geen goeie soldaat
en geen wenner nie, nie kordaat
of dapper nie, swak is my gelaatstrekke
en my hele lyf is vol teer oop achillesplekke.

Tog is ek - deur Wie nou weer? - aangesê:

Ek wil juis jóú liggaam in die slagveld hê.
Skryf op,
Ek hou jou dop.

Hulle sal jou op albei wange slaan
en op jou mond, maar hou aan.
Loop heel voor en loop regop.
Daar is ook vreugde en geluk
maar ook dáárvoor sal jy rondgepluk
en gestamp word. Kom sukkelaar, kom penkop.

Oefen goed om te koets.
Dè, hier is jou stewels, slaapsak en pauliniese tent.
Leef soos Godsjakkalse bloot. Slaap orent.
Gaan ongewapen en barrevoets
en leer om te hol. Wees paraat…

Hoe? Dit is eenvoudig:
in die blote gedig.
(maklik gepraat)

“Waaroor mag ek skryf en hoe,
wat is toegelaat en wat is taboe?”

“Vra hulle wat weet wat God alleen weet.” Tjoepstil
is Hy oor wat Hy met my wil.

Soek antwoorde
uit die ongehoorde…

… snags hou ek my hande ongetroos
uitgestrek. al my nadink bring net vrae,
hou my slapeloos.
Ek dink my verslae.

 

 

En, o ja, om van honoreer te praat -
dit is doelbewus nagelaat.
Om net aan die kaktus te vat
is voldoende, tydelik… gaan daarop prat.

Jy moet op pynlik vreemde maniere leer
om waardeloos te waardeer.

So word jy kerngesond
gereed gemaak vir die ergste wond.

Steeds neem die dinge in ons vorm aan,
steeds is daar in ons nuwe onstaan

as jy kaalhande skryf-skryf
die dorings van die turksvy afvryf.

Hierdie slotmetafoor is een van dié wat ‘n mens nie maklik weer vergeet nie: die dorings van die turksvy word skryf-skryf afgevryf.

Die poësie is dus koud en blootstellend. Jy kan dit egter tot warmte slaap, dit kan die turksvydorings help wegskryf en dit is die bron van voortdurende vernuwing. Nogtans dwing die poësie die potensiële digter en selfs die gevestigde digter tot stilstand teen die ysberg of voor die “firecat” se grimas en trillende pels. Uiteindelik gee die poësie die digter vleuels wat hom, in Neruda se woorde, dra op die wind.

 

Deel II

 

Nou weet ek ook van ‘n ander geval, van iemand in ‘n ander lewe soos in ‘n ander land. Hy het altyd graag stories vertel en het dit later ook begin neerskryf. Op ‘n keer stuur hy ‘n storie vir ‘n (nogal!) literêre tydskrif. Die verhaal het inderdaad verskyn en hy het dit geniet om sy woorde in druk te sien. Sommer so in sy eie stilligheid want die verhaal is gepubliseer onder ‘n skuilnaam.

‘n Tyd later skryf hy weer ‘n verhaal en stuur dit na dieselfde tydskrif. Die verhaal is ook aanvaar en gepubliseer maar wel onder sy eie naam. Dit het hom geïnspireer en hy het ook ander verhale geskryf waarin hy probeer het om op subtiele maniere die kwesbaarheid van mense uit ‘n ongewone hoek te benader.

Op ‘n dag kry hy uit die bloute ‘n brief van ‘n redakteur wat by ‘n uitgewer werk. Sy het geskryf dat sy die verhaal in die tydskrif gelees het. Sy het dit baie geniet omdat dit oorspronklik en vol lewe was en sy het gevra of hy nie nog sulke verhale het nie.

Die man (hy was geen skrywer nie en het homself ook nie so gesien nie) gaan krap toe in sy laai en soek ‘n stuk of ses verhale uit, onder meer ook die een wat die positiewe kommentaar uitgelok het. Hy stuur dit na die uitgewer, hou sy hart so ‘n bietjie vas maar gaan tog gewoon aan met sy lewe wat op sigself heeltemal vol genoeg was.

Na ‘n taamlike verloop van tyd (hy het in elk geval geen idee gehad van hoe lank sulke dinge sou kon neem nie en het ook glad nie heeltyd daaraan gedink nie), kry hy die pakkie verhale terug met ‘n verslag daarby. Tot sy totale verstomming is die verhale uiters negatief ontvang en wel deur dieselfde redakteur.

Selfs die verhaal wat aanvanklik die aandag van die redakteur getrek het, was nou vir haar glad nie goed nie.

Nou moet daar seker bygesê word dat dié dinge gebeur het in ‘n tyd wat daar in dié bepaalde letterkunde ‘n paar opspraakwekkende boeke verskyn het, boeke wat alles oopruk en seks en politiek eksplisiet en direk en lekker sappig uitbeeld. Mens kan dit ook verstaan dat sulke boeke ‘n uitgewer se droom is, dat verkoopsyfers ‘n onbetwyfelbare troos is in enige uitgewersbedryf. Besigheid is immers besigheid en nie liefdadigheid nie.

Die redakteur se verslag was inderdaad min of meer in dieselfde trant geskryf: dat die markplek bepaal wat gepubliseer kan word en dat dit nou die tyd is om oop te maak en uit te ruk. Daarna vat sy toe elke storie en tot die man se verbasing (en ontnugtering, het hy later ook teenoor homself erken) was haar beswaar teen elke storie presies gerig teen dit wat in die bedremmelde skrywende mens se oë die kern van die spesifieke verhaal was.

As ‘n onervare skrywer en baie bewus van sy gebrek aan ervaring en kennis in die praktyk van skryf, het hy gedink hy moet dit dus aanvaar dat sy verhale oor onderwerpe handel waaroor niemand wil lees nie. Hy het in elk geval ook vermoed en aanvaar dat die verhale nie goed genoeg geskryf was nie, want anders sou dit immers ‘n beter impak moes hê. Wat hom wel verbaas het, was dat die verhaal wat aanvanklik die redakteur se aandag getrek het, so sleg daarvan afgekom het. Op die hele manuskrip self was lang strepe getrek en die geheelindruk van die verslag en die kwaai strepe was dat die stories die redakteur geïrriteer het. Hy was nogal geskok oor dié duidelike irritasie. Later het hy wel gedink dat hy dalk te sensitief was. Dit is inderdaad ook moontlik dat hy hom misgis het oor die irritasie wat hy raakgelees het in die verslag. Maar, meer as duidelik het die man die boodskap gekry! Want dom was hy nogal nie en selfs ‘n onnosele sou dit nie kon misverstaan nie. Hy het geweet dat sy geskriffies gebêre moes word, so spoedig en so stilletjies as moontlik as hy met enige waardigheid nog vir homself in die spieël wou kyk oor die skeerseep heen.

Desnieteenstaande het hy selfondersoek begin doen en besluit sy belangstelling in die lewe gaan oor die agterkante van die bestaan, oor dit wat agter dinge lê, dit wat van die onderkant af die oppervlak beïnvloed. Hy het ook begryp dat hy meer geboei word deur wat dinge beteken as deur die feit dat dinge gebeur. Hy het ook besef dat hy lewe in ‘n tyd wat vra vir aksie en direktheid, beslis “showing” en nie “telling” nie, en nog minder bespiegeling oor vertel en oor die verhaal. Dit is net vir die groot skrywers beskore en dit sou hy immers nooit wees nie. Hy het besef hy sou op sy beste ‘n gewone skrywer kon wees, maar dat hy dalk ‘n bietjie van ‘n anachronisme was. Hy het ook gewonder of hy dalk leef in ‘n tyd met ander oordele as dié waarmee hy van nature geprogrammeer was. Hy het aanvaar dat hy nie in staat sou wees om ‘n storie te skryf, ‘n kortverhaal of ‘n roman, waarin sy belangstelling in onderliggende filosofiese kwessies goed genoeg verhaalmatig ingewerk sou wees dat mense dit interessant sou vind nie.

Sy lessenaar by sy huis het aan die een kant laaie en aan die kant ‘n deurtjie met twee rakke gehad wat deurloop tot aan die ander kant van die lessenaar. Dit was dus regtig diep rakke en daar het hy die pakkie stories tot teen die agterste houtwand ingeskuif. Dit was nogal ‘n bevryding want hy het besef dat as hy met die storieskrywery sou wou aanhou, dit hoër eise aan hom sou stel en dat hy homself daarvoor nie opgewasse gevoel het nie. En, het hy besluit, wie wil nou sy mislukkings of onvermoë openbaar maak as dit nie nodig is nie. Waarom sou ‘n mens jou blootstel met iets waarin jy kennelik nie goed genoeg is nie? Dit is buitendien geen ramp of skade van formaat nie. Dit raak hom en niemand anders nie. ‘n Mens se saak is immers jóú saak. Hy het so half lig gevoel asof hy ‘n las afgelê het. Daarmee was die verhaalskrywery op ‘n einde.

Met verloop van tyd kom hy toe agter dat hy wel steeds soms behoefte het daaraan om met woorde te werk. Hy begin toe sulke los aantekeninkies maak, kort sinnetjies en frases en hy begin dit baie geniet om met die subtiliteite van die taal te speel. Dan bêre hy dit in die rak voor die hopie stories en vergeet dit. Dit was vir ‘n lang tyd sy geheim, ‘n heerlike speletjie waarvan niemand weet nie. Die persoonlike erns daarvan was sy saak alleen en die gebedskraal stringetjies woorde was aan geen toetsing behalwe van homself onderworpe nie.

Maar op ‘n aand sien hy dat van die skryfseltjies ander patrone begin maak, sinstrukture of klanke wat herhaal en ‘n gedagte wat gestel en omgedop kan word. Hy kon ook sien hoe hulle bymekaar aansluit, hoe daar klein kettings gevorm word. Later het hy ook agtergekom hoe iets so broos soos ‘n ritmiese patroon wat herhaal ‘n lang gedagtegang kan saambind. Hy kon by die vrae wat hom interesseer uitkom sonder om dit in ‘n storie uit te weef en kon dit direkter aan die hand van metafore doen.

En op ‘n dag het hy gesien dat hy byna sonder om dit te besef en gewis sonder dat hy dit beplan het, reeds ‘n gedig geskryf het. Nie juis ‘n goeie gedig nie, maar nogtans ‘n gedig. So gewoon en onvoorsien het dit gebeur.

Jare later het hy geweet dat dit vir hom ‘n kosbare besit geword het, hierdie gedigte wat hy geskryf het sonder om dit te wil of te beplan, hierdie woordkettings en -konstruksies wat so vanself na hom toe gekom het in die plek van die mislukte verhale. Hy het iets afgelê sonder om aan plaasvervanging te dink en tog het daar iets opgedaag, soos ‘n toegif. Dit was vir hom meer as ‘n geskenk, dit was, ja werklik, ‘n toegif, iets ekstra en bykomend, wat hy ten spyte van enige tekortkominge daarin nooit sou wou bevraagteken nie en ook nooit sal wil aflê nie.

So het die poësie ook hierdie klein en onbekende digtertjie kom haal, maar die gedig daaroor moet hy nog skryf.

Pablo Neruda. The Captain’s Verses

Friday, February 12th, 2010
Omslag

Omslag

Pablo Neruda is allerweë bekend as die digter wie se debuutdigbundel “Twenty love poems and a song of despair” al meer as ‘n miljoen kopieë verkoop het. In daaropvolgende bundels het hy oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe gedig, maar dit is in wese sy liefdespoësie wat hom internasionaal as ‘n gunsteling onder poësieliefhebbers gevestig het. En tog is ek telkens verbaas oor hoe min mense bewus is van sy ongelooflike bundel “The Captains Verses” (2004: New Directions), wat na my mening waarskynlik van die mees onvergeetlike liefdesverse bevat wat jy ooit te lese sal kan kry …

Neruda het hierdie verse geskryf in die tydperk wat hy as banneling op die eiland Capri saam met sy sekretaresse (en minnares) Matilda Urrutia gewoon het. Aangesien hy op daardie tydstip nog nie van sy vrou geskei was nie, het hierdie verse anoniem verskyn in 1952 met ‘n beperkte oplaag van net 50 kopieë. Eers veel later, in 1963 nadat Neruda en sy Matilda reeds getroud was, het Neruda erken dat hy die digter is van hierdie bundel. Hy het hom soos volg hieroor uitgelaat: “Matilda and I took refuge in our love…. It was the first time we had lived together in the same house.  In that place of  intoxicating beauty, our love grew steadily.  We could never again live apart.  There I finished The Captain’s Verses, a book of love, passionate but also painful…. My love for Matilda, homesickness for Chile, passion for social consciousness fill the pages of this book that went through many editions without its author’s name.”

En ja, dit is op hierdie gegewe wat die bekende film, “Il Postino” gebaseer is.

Ter verdere motivering, die volgende kommentaar deur ‘n onbekende leser op Amazon.com se webblad: “I had heard about Pablo Neruda a few years before and I wasn’t too fond of his poetry. When I opened “The Captain’s Verses” in a bookstore a few months ago, I knew that I had to have it. Since then this has become my most treasured book of poetry. I don’t even know how to describe Pablo Neruda. When you read his poetry you just become entranced by the way he is so accurately able to convey such passion in his simple words and beautiful imagery. Even now after I have read each poem in this book at least a hundred times I am still amazed by the way he does it. I have not yet found another book of poetry that can evoke such feeling as “The Captain’s Verses.” I believe that this is essential to any poetry lover’s collection of poetry and that those who are not big fans of poetry would enjoy the love poems of Pablo Neruda.”

Amen. Vir jou leesplesier plaas ek die gedig “Lives” onder aan vanoggend se Nuuswekker.

***

Ten slotte fokus ek jou aandag op Desmond Painter se nuwe plasing wat oor Ernst van Heerden en Paul Wittgenstein handel. Laasgenoemde was natuurlik die insprirasie vir Ravel se Klavierkonsert vir die linkerhand.

En dan is dit hierdie Sondag Valentynsdag. Mag dié ervaring jou sodanig inspireer dat jy sommer ‘n brief aan die Brieweboks sal skryf waarin jy van jou gunsteling liefdesvers of -bundel vertel. Want waaragtig, dit wil my voorkom asof ons die hele idee van ‘n “Blogfokus” sommer vroeg-vroeg gaan moet kanselleer weens gebrek aan belangstelling. Ai, ai.

Hoe dit ook al sy - mag jy verras word deur die liefde hierdie naweek.

Mooi bly.

LE

 

Lives

 

Ah how ill at ease sometimes

I feel you are

with me, victor among men!

 

Because you do not know

that with me were victorious

thousand of faces that you can not see,

thousands of feet and hearts that marched with me,

that I am not,

that I do not exist,

that I am only the front of those who go with me,

that I am stronger

because I bear in me

not my little life

but all the lives,

and I walk steadily forward

because I have a thousand eyes,

I strike with the weight of a rock

because I have a thousand hands

and my voice is heard on the shores

of all the lands

because it is the voice of all

those who did not speak,

of those who did not sing

and who sing today with this mouth

that kisses you.

 

© Pablo Neruda (uit: The Captain’s Verses, vertaal deur Dondald D. Walsh)

Vergun my om u voor te stel…

Sunday, September 13th, 2009

Ek is nie ‘n digter nie.

Dit spyt my om dit te moet sê, want natuurlik wou ek ‘n digter gewees het! En nie sommer enige digter nie. Ek wou ‘n groot, ruimgeestige, uitgesponne, ontembare digter gewees het: die politieke opstoker en mitiese gerugbaarmaker van ‘n vasteland, soos Pablo Neruda; die kragprop van ‘n ge-elektrifiseerde kultuur, soos Bob Dylan; of die kortstondige, bloedstollende kreet van ‘n verdoemde generasie, soos Wilfred Owen.

Ja, ek het groot gedroom. Ek wou die Bertold Brecht van Brackenfell wees, die Allen Ginsberg van Goodwood, windverwaai en high… Maar nou ja. Ander mans speel air guitar en droom van groupies en dromme slaan vir Aerosmith. Ek, daarenteen, meng woordslaai in gedagte, en my verbeelde Leaves of Grass sit jaar-na-jaar dikker uit om die lyf… Ou Walter Witman van Suid-Afrika, my barbaarse tjank skaars ‘n tjilp, ‘n weifelende “ugge-um, Mevrou Mafarsikos”, ‘n hondefluitjie, onhoorbaar hoog bo die ruising van voorstedelike verkeer!

Of dit ‘n gebrek aan talent, luiheid, of ‘n kombinasie van die twee is, weet ek nie. Maar die terloopse gediggie ten spyt, daardie Sondagmiddag-respyt van skaam, sielvolle seuns, ‘n regte digter gaan ek nooit word nie. Geen bundels, toekennings of luilekker kuiers op Gorée vir my nie. En dis ook goed so. Dis OK. Ian Craib, in ‘n boek oor die psigoanalise, verwys na the importance of disappointment, en ek stem saam. ‘n Mens word immers ook gedefinieer deur dit wat jy nie is nie, deur dit wat jy ten spyte van jouself, teen jou bitterwete in, bereid is om af te lê. “Are you giving him up?” “Yes, I am giving him up”: daardie ysingwekkende laaste woorde van J.M. Coetzee se Disgrace… Ons het almal ‘n handvol of drie drome al verloor. En drome is ook honde.

In elk geval, ek is tot my groot teleurstelling nie ‘n digter nie, maar ek lees gedigte. Verkieslik hardop; verkieslik onsistematies en ongedissiplineerd; verkieslik nie alleen nie. Dit is dus as ‘n leser, ‘n belangstellende, ‘n fan, nie as ‘n digter of literator nie, dat ek hierdie blog sal skryf. Idees en temas uit die sielkunde, sosiale wetenskappe en filosofie – my daaglikse brood – sal seker elke nou en dan ook kop uitsteek – ‘n mens is ook immers wat jy (w)is.

Tog wil ek beslis nie ‘n akademiese blog skryf nie. Trouens, ek hoop om die digkuns so dan en wan ook as ‘n loopgraaf te gebruik om guerrilla-aanvalle te loods teen die dikwels steriele en taalverydelende diskoerse van die akademie – en veral teen my eie groep, die sielskunniges, die sielkudde. Om te wys hoe die ‘waarheidseffekte’ (as ek die filosoof Foucault ietwat buite konteks kan aanhaal) van die dissiplines omgedolwe kan word, en hoe ‘n mens weer digterlik bewus gemaak kan word van dit wat plofbaar, grotesk, diabolies, dansend, breekbaar of oordadig in enige taal – en mens – is.

So bly te kenne, en wees my maar genadig! (Ugge-um…)

Vredesdigter in tye van konflik

Wednesday, August 12th, 2009

 

Mahmoud Darwish

Mahmoud Darwish

Waar die Oos-Europese digkunste sowat ‘n dekade gelede ongekende blootstelling en erkenning geniet het, het die fokus die afgelope jare nogals ietwat verskuif met veral die Midde-Oosterse digters wat al hoe meer aan internasionale aansien begin wen. Met digters soos Adonis, Mahmoud Darwish, Yehuda Amichai, Dan Pagis en Dahlia Ravikovitch in hul geledere is dit ook geen verrassing nie. Tragies genoeg was dit Sondag, 9 Augustus, presies ‘n jaar gelede dat een van hul mees begaafde digters, Mahmoud Darwish, weens komplikasies na hart-chirurgie in Houston, Texas, gesterf het. Hy was 67 jaar oud.

Gebore in Al Birweh, Palestina, moes Darwish se ouers met hul gesin na Labanon vlug tydens die vestiging van die Israelse staat in 1948. Na vele omswerwinge het hy in 1996 na Israel teruggekeer en hom by Ramallah aan die Wes-Oewer gevestig. Meer as dertig bundels het na sy debuut in 1964 verskyn en hy was ongetwyfeld die mees prominente Palestynse digter; danksy die groot getal bundels wat na Engels vertaal is. Hieronder tel die volgende: Unfortunately, It Was Paradise: Selected Poems (2003), Stage of Siege (2002), The Adam of Two Edens (2001), Mural (2000), Bed of the Stranger (1999), Psalms (1995), Why Did You Leave the Horse Alone? (1994), en The Music of Human Flesh (1980). Die mees onlangse, The Butterfly’s Burden (Copper Canyon Press, 2006) is skitterend vertaal deur Fady Joudah en is sonder twyfel ‘n móét vir enige ernstige poësie-liefhebber. (Terloops, dié lywige bloemlesing van 326 bladsye se verkoopprys is ‘n skaflike R250.00 …)

Oor Mahmoud Darwish se werk het Naomi Shihab Nye die volgende te sê gehad: “Mahmoud Darwish is the Essential Breath of the Palestinian people, the eloquent witness of exile and belonging, exquisitely tuned singer of images that invoke, link, and shine a brilliant light into the world’s whole heart. What he speaks has been embraced by readers around the world-his is an utterly necessary voice, unforgettable once discovered.” Amen. Ek kan ten volle hiermee akkoord gaan. So, snuffel gerus op die internet rond en lees meer oor dié formidabele digter wat ons ‘n jaar gelede ontval het. Gaan kyk veral na Darwish se buurman, Raja Shehade, se ontroerende stuk wat hier te lese is.

Meteens besef ek hoeveel van die vernaamste digters in wêreldpoësie hul werk juis te midde van ontheemding en verbanning gelewer het (of steeds lewer): Adonis, Bei Dao, César Vallejo, Pablo Neruda, Faiz Ahmed Faiz, Josph Brodsky, Osip Mandelstam en Paul Celan. Om natuurlik ook nie van Breyten Breytenbach te vergeet nie! Miskien het dit te make met iets wat Luigi Pirandello by monde van ‘n karakter in een van sy drama’s gesê het: “For never is man so introspective as when he suffers.”

Maar wag, nou begin ek babbel. Hieronder is ‘n vers van Mahmoud Darwish uit The Stranger’s bed (1998), soos vertaal deur Fady Joudah.

En bly tog uit die greep van die struikrowers vandag.

Mooi bly.

LE

 

SONNET V

 

I touch you as a lonely violin touches the suburbs of the faraway place

patiently the river asks for its share of the drizzle

and, bit by bit, a tomorrow passing in poems approaches

so I carry faraway’s land and it carries me on travel’s road.

 

On a mare made of your virtues, my soul weaves

a natural sky made of your shadows, one chrysalis at a time.

I am the son of what you do in the earth, son of my wounds

that have lit up the pomegranate blossoms in your closed-up gardens.

 

Out of jasmine the night’s blood streams white. Your perfume,

my weakness and your secret, follows me like a snakebite. And your hair

is a tent of wind autumn in color. I walk along with speech

to the last of the words a bedouin told a pair of doves.

 

I palpate you as a violin palpates the silk of the faraway time

and around me and you sprouts the grass of an ancient place-anew.

 

© Mahmoud Darwish (vertaling: Fady Joudah)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Johann Lodewyk Marais. Ants Kirsipuu roskam Pablo Neruda

Friday, May 22nd, 2009

 

Ek het in Tiptolstraat in Silverton by Wilma Stockenström en haar man, die oud-Estlander en poliglot Ants Kirsipuu, Portugese kos gaan eet. Ants was lank by die WNNR se navorsing oor die hoë voorkoms van lewerkanker onder die Sjangaans in Mosambiek betrokke; hy was ook die organisasie se skakelbeampte vir die Lusofone lande.

            Later die aand luister ons musiek. Ek het Canto General saamgebring. Dit is Mikis Theodorakis se toonsetting van die gedigte van Pablo Neruda, Chileense digter en Nobelpryswenner vir literatuur in 1971 en boesemvriend van president Salvador Allende wie se bewind in 1973 deur genl. Auguste Pinochet omvergewerp is.

            Nadat ons na Amália Rodrigues se fado’s en ’n paar jazzplate geluister het, gee ek die Theodorakis aan. Toe die musiek begin speel, word Ants bloedrooi in die gesig en spring op.

            “Sit af! Sit af! Ek wil niks van Neruda hoor nie! Ek het gesien hoe hy voor 1975 in Lourenço Marques deur die kommuniste vir propaganda gebruik is! Sit af! Luister net daar! Dit is net ta-ta-ta-ta-ta! Sit af! Sit af!”

            Hy gluur my aan. Bewend begin hy tussen sy plate soek en trek een uit met ’n kerk op die omslag. Hy haal die plaat versigtig uit.

            “Nee, luister liewer na die Misa Criolla van Ariel Ramirez,” sê hy en sit die plaat op die draaitafel. “Luister …”

            Wilma het doodstil gesit, maar toe Ants opstaan om vir ons nog wyn te gaan haal, sê sy asof sy verskoning wil vra: “Ants het gesien wat die kommuniste in Lourenço Marques gedoen het. Neruda was hulle groot held.”

 

                        Aangepas uit: Lae wolke oor Mosambiek: ’n Reisboek (2003)

           

Ants en Wilma het met hulle vertellings van hoe dit voor 1975 in Lourenço Marques was ’n groot rol gespeel om my belangstelling in Mosambiek te prikkel. Ants het Mosambiek geken soos geen ander persoon wat ek ooit geken het nie. Die laaste gesprek met hom was in April 2003, net meer as ’n week voor sy dood. Ter nagedagtenis aan hom het ek ’n gedig van Wopko Jensma uit Izwi 6 (vol. 1, nr. 6, Okt. 1972, p. 18) vertaal:

 

            REIS NA Lourenço Marques

                        vir ants kirsipuu

 

            ons het na die tyd by jou hotel opgedaag

            jy het ’n geselsie met die bestuurder aangeknoop

            ons het na jou kamer toe gegaan

            jy het jou koffers uitgepak

            deftige klere vir elke geleentheid

            jy het gebad jou opgetof

            ons het ’n ou vriend besoek

            daarna het jy weggegaan en ek was alleen

            volgende oggend het ek met dagbreek opgestaan

            en jou in die nag in my alleen gelaat

 

 

TRIP TO Lourenço Marques

                        for ants kirsipuu

 

            we arrived at you hotel afterwards

            you had a chat to the manager

            we proceed to you room

            you unpacked your suitcases

            high class clothes for every occasion

            you had a bath dressed up

            we visited an old friend

            then you left and I was alone

            next morning I arose with the dawn

            and left you in the night in me alone

 

 

 

Johann Lodewyk Marais