Posts Tagged ‘Palimpses’

Johann Lodewyk Marais. Lucie Möller se Watermerke/Waterberg

Tuesday, October 20th, 2009

Lucie Möller het my gevra om by hierdie bekendstelling van Watermerke (2009) ‘n een en ander oor die Waterberg te sê. Dit is die streek noord van ons, waar sy bevoorreg is om ‘n naweek- en vakansiehuis op ‘n lappie Bosveldplaas met die naam Volmoed, ‘n gedeelte van die oorspronklike Rietvlei, te besit en wat sy in heelparty gedigte in herinnering bring. My belangstelling in Eugène N. Marais sou my, moes ek aflei, met ‘n mate van gesag beklee om iets in hierdie verband by te dra.

Voor ek by die Waterberg uitkom, gaan ek ‘n een en ander oor Lucie sê. Ek het haar ontmoet toe ek as navorser by die destydse Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) by die RGN aangestel is. Lucie was toe by die Suid-Afrikaanse Naamkundesentrum werksaam en goed in haar vakgebied ingegrawe. Ek het die soort navorsing waarmee hulle besig was boeiend gevind en reeds in my tweede digbundel, Palimpses (1987), gedigte opgeneem waarin naamkundiges se invloed duidelik was.

Lucie het letterkundiges aangemoedig om van die literêre onomastiek kennis te neem deur daaroor te gesels, artikels oor die onderwerp aan te dra en self oor onder meer die plekname in die verhale van Herman Charles Bosman te skryf. Sedert die 1980’s het letterkundiges soos Johan Jacobs, Charles Malan, Bertie Neethling en Louise Viljoen boeiende artikels oor naamgewing in die Suid-Afrikaanse letterkunde gepubliseer en van die naamkunde ‘n interdissiplinêre dissipline help maak.

Danksy Lucie het ek by twee internasionale naamkundekongresse referate gelewer en artikels gepubliseer oor die naamgewing in Marais se “Klein Riet-alleen-in-die-Roerkuil” en Chris Barnard se Mahala (1971) (daardie roman wat ek elke jaar in die lente herlees wanneer weerlig rondom op die horisonne uitslaan en die eerste reёn begin val).

Tydens my jare by die RGN was Lucie ‘n stimulerende gespreksgenoot. Saam met doktor Peter E. Raper en professor G.S. (Gawie) Nienaber was sy deel van ‘n gedugte span, wat internasionale aansien verwerf het. (Of die besluitnemers wat wild en wakker plekname verander van hulle notisie neem, is ek ongelukkig nie so seker nie.)

Intussen het baie water in damme en in die see geloop. Die enkele gedigte wat Lucie tydens my RGN-dae in haar laai gehad het, het mettertyd aangegroei en ‘n jaar of so gelede het ek tot my groot verbasing en vreugde gehoor van die digbundel wat aan die kom is. Ek was bly dat Lucie volhard het en bereid was om (saam met die redakteur, Martjie Bosman) hard te werk om die bundel tot sy huidige vorm af te rond.

‘n Verdere verrassing was die gedigte in die bundel wat in ‘n meerdere of mindere mate oor die Waterberg handel. Weens my noue kennismaking met die Waterberg, veral tydens my navorsing oor Marais se wetenskaplike prosa en die ontdekking van die Waterbergse broodboom, was ek nuuskierig om te sien hoe Lucie met hierdie streek omgaan. Dit is immers ‘n besondere streek! Peter Raper skryf in Streekname in Suid-Afrika en Suidwes (1972) die Waterberg-streek is “genoem na die Waterberge, wat dit van die suidweste na die noordooste deurkruis. Die Noordelike Pongolo-, die Groot-Palalarivier, en die Nylstroom of Magalakwinrivier het hul oorsprong in hierdie bergreeks, en dit sou op sigself voldoende rede gewees het vir die naam. Toe die naam gegee is, was die gebied besonder waterryk; warm en koue mineraalbronne het by skeure in die bergreeks uitgevloei en uitgeborrel, en dit het tot die benaming aanleiding gegee.”

Veral Marais word sterk met die Waterberg geassossieer. In sy opstel “‘n Paradys van weleer” – in ‘n Paradys van weleer en ander geskrifte (1965) – skryf hy oor sy eerste jare en hoe hy gefassineer was deur die landstreek Agter-die-Berg (”ten noorde van Magaliesberg, vanaf Hornsnek tot ver by Wolhuterskop verby”). Hy maak vroeg reeds met die Waterberg kennis en in “The road to Waterberg” – in The road to Waterberg and other essays (1972) – skryf hy hartstogtelik oor hierdie streek, wat hy “the mystery region of my boyhood” en ‘n “wonderland” noem.

Marais het in die loop van 1907 op die plaas Doornhoek, naby Erasmus in die distrik Naboomspruit (tans in die Limpopo-provinsie), gaan bly en vir tin en platina begin prospekteer. Kort daarna het Marais saam met ‘n ander prospekteerder, Alec Austin, in hutte gaan woon wat hulle vir hulleself in die sogenaamde Bobbejaankloof op die plaas gebou het. Hier het Marais oor ‘n tydperk van drie jaar die waarnemings van bobbejane in hulle natuurlike omgewing gemaak waarop hy Burgers van die berge (1938), die reeks artikels oor “Die siel van die aap” en The soul of the ape (1969) gegrond het.

Tydens Marais se verblyf in die Waterberg besoek hy talle plase en dorpe in die streek en leer hy kleurryke karakters ken (onder andere die veldkenner Jan Wessel Wessels, die wildvanger Emil Tamsen, die Nylstroomse kruiedokter Ebrahim Ravat en “‘n ou Boesman, outa Hendrik”, by wie hy Dwaalstories (1959/1927) gehoor het). Hy leer ook die omgewing goed ken deur aan jagtogte deel te neem en wyd te reis. Hy trek deur Bokpoort in die Hanglipberg na die Palala-plato, waar hy enkele maande op die plaas Purekrans bly en in hierdie gebied die Waterbergse broodboom (Encephalartos eugene-maraisii Verdoorn) sien en laat navors: ‘n broodboom wat in 1944 na hom vernoem sou word. By geleentheid besoek hy ook die Soutpansberg en die Limpoporivier.

Byna al sy waarnemings oor die gedrag van diere en talle ander natuurkundige verskynsels het Marais in die Waterberg gemaak. Talle van sy publikasies, wat sedert die 1920’s verskyn, vestig vir die eerste keer die aandag op hierdie besondere streek en sodoende stel hy die Waterberg aan ‘n wye publiek bekend. In sy artikels en bellettristiese prosa figureer hierdie streek as ‘n opvallende ruimte en maak die leser met talle figure kennis wat hy daar leer ken het of pertinent in dié ruimte geplaas het (soos dié wat ek reeds genoem het).

Lucie betrek Marais eksplisiet in een van haar gedigte, wat oorspronklik in Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1903 (2006) verskyn het.

 

‘N MINDER BEKENDE RELAAS

 

By Tamsen tap ons vol

en swenk êrens by Tweestroom af

na die voetheuwels van die Waterberg.

 

Kort voor die Donkerhoekpoort

kry ons die afrit na Rietvlei

tussen fluitjiesriet en populier.

 

Saans steek ons kerse aan

en hang die stormlantern buite op,

gooi sekelbosstompe in die stoof;

lees pik-pik soos kuikengoed pik

na wit larwes van termiete.

Ons wag vir die besoeker.

 

Doodluiters en tydsaam kom hy

uit die kweperlaning aangestap oor die werf

tot in die binnekring van stemme en spore

van so ver as Swaershoek en Diepkuil.

 

Deur die klein vensterruit

van die witgekalte huis

sien ons hom later sit en skryf:

moontlik oor die siel van die mier,

die melancholie van primate, en leer

hoe hy woord vir woord verdig

tot elke latente winternag.

 

In talle ander gedigte in Watermerke kry ek die gevoel dat dit juis die Waterberg is waaraan Marais hom so verwonder het wat hier ter sprake is en wat aanvullend deur hierdie bundel in kaart gebring word. Talle van die gedigte verwys na plekke in dié streek en die waterryke landskap met sy fauna en flora word skouspelagtig aan die leser voorgestel. Uit hierdie gedigte spreek daar meermale verwondering oor die verrassings wat die landskap bied en daar word stip gekyk om soveel moontlik hiervan raak te sien en te beskryf. Nie verniet nie is daar dikwels sprake van spore op die grond en ‘n voortdurende bewustheid van die skeppingsproses.

Betekenisvol is die wyse waarop die fauna en flora noukeurig met hulle volksname voorgestel word (daar is byvoorbeeld gedigte oor die woudvaring, moepel, grysappel, wildepeer, janfiskaal, kolgans, woestynolifant, aardvark, aardwolf en bruinhiёna).

 

PYLVLEKKATLAGTERS

 

Die swerm spring

gespikkel teen die skemer in,

raserig van tak tot tak

in boekenhout en wildesering.

 

Die nag hou asem op:

volmaak eers as die stilte sak.

 

Soos reeds gesuggereer, is Lucie ‘n fyn waarnemer en gaan sy sorgsaam met haar Waterbergse ervarings om. Sy is nie in wese ‘n ‘groen’ digter nie, maar sy is op dieselfde manier as die ekodigter bewus van die rol wat plek en spesieverskeidenheid in ons aardse bestaan speel.

Een van die gedigte, “Bosvarke”, vir my een van die bestes in die bundel, illustreer mooi wat Lucie met haar waarnemings maak.

 

BOSVARKE

 

Toe die bergnewels laatnag uit die klowe sak,

draf die bosvarke kop onderstebo

soos skimme uit die groot sloot

met maanhare skuins in die wind.

 

In die donker hou ons asem op:

Hoor hoe kou hulle bolle van rankplante

los tussen raasblaar en rosyntjiebos

en wei aan wortelknolle.

 

Ons hoor hulle snorkend peule dop.

Al langs die kante van die donker

verloor ons uiteindelik die spoor

en misgis ons met die geheime

van dié omnivoor.

 

Hierdie is een van ‘n hand vol gedigte oor diere. In dié gedig word enkele kenmerke van die bosvark gegee. Dit is egter nie ‘n beskrywing wat ‘genoeg’ wetenskaplike kenmerke van hierdie spesie aan die leser voorhou nie. Die digter probeer iets anders doen. Die mense luister aandagtig na die geluide wat die vretende bosvarke in die donker maak. Hierdie waarnemenings word opgeteken en sinvol georden. Maar die bosvarke verdwyn weer in die nag in en uit die gedig. Die slotsom waartoe die digter kom, is dat die mens hom met “die geheime / van dié omnivoor” misgis. Die digter erken die eiesoortigheid van hierdie diere en dus ook hulle reg om naas en saam met die mens in hierdie landskap te bestaan.

Plek- en persoonsname kom in baie gedigte voor; asook kaarte, wat van die belangrikste bronne vir die bestudering van name is. Een van die fassinerende prosesse wat in die bundel voltrek word, is bowendien die wyse waarop die professionele naamkundige die dinge en hulle gekatalogiseerde name as ‘t ware aan die geheime werking van die poёsie teruggee. Daar is genoeg hiervan om die lees van die bundel ‘n besondere estetiese ervaring te maak en ons opnuut na ons Suiderland, waaronder die Waterberg, te laat kyk. My eie ervaring van (onder meer) die Waterberg is deur hierdie bundel verryk. Dit is ‘n publikasie waarmee Lucie, net soos op haar gedugte akademiese bydrae, trots kan wees.

Rede gelewer tydens die bekendstelling van Lucie Möller se Watermerke (Pretoria: Protea Boekhuis, 2009) by die Huis vir Afrikaanse Poёsie (hAp) in Capital Park, Pretoria, op 17 Oktober 2009.

Johann Lodewyk Marais. Die berge se geheue

Saturday, August 8th, 2009

Op 5 Desember 1997 is oom Jan Fourie van die plaas Cecilia naby Skeurklip uit die NG Moedergemeente op Harrismith begrawe. Hy was 80 jaar en sterk, het dominee De Jager gesê, maar daar is nie nog 80 jaar nie. Dit het tyd geword.

Ek het in Pretoria eers om vyfuur die oggend op die dag van sy begrafnis van sy dood gehoor, maar het dadelik besluit om die diens om elfuur op Harrismith te gaan bywoon. Ek het immers onder sy oë grootgeword en by hom baie oor die berge en sy mense geleer.

Oom Jan het “windpompe opgesit” en sy eie grond verhuur. Met sy groen, en later grys, Volkswagen-bakkie het hy die wêreld platgery en ingery waar die meeste mense dit deesdae verkieslik met ‘n 4×4 sal waag. Op dié manier, en omdat hy ‘n paar keer as sensusbeampte opgetree het, het hy die distrik soos die palm van sy hand leer ken.

Boere het hom graag gevra om te kom help om water aan te lê en ander take te verrig. Oom Jan, met sy bruin weermagstewels en groot, growwe hande, was ‘n bekende gesig by ‘n windpomp: besig om met ‘n bobbejaanspenner aan die pype te werk of, vreesloos bo-op die platform, besig om aan die kop te vroetel.

Niemand het oor sy werk gekla nie. Hy was ook ‘n welkome gas, want hy kon lekker gesels. Iemand met ‘n aansteeklike jovialiteit. Ek het graag geluister (en tande getel!) as hy iets vertel en beduie, en kon my as kind verkyk aan die koperarmband wat hy altyd gedra het teen die rumatiek.

Maar ek het hom ook op ‘n ander manier leer ken. Sy kinders het, soos ek, by mnr. Gert Olivier op Mont Pelaan skoolgegaan. Elke week het ons ouers beurte gemaak om ons skool toe te neem, sodat ek gereeld saam met oom Jan gery het.

Hy het geweet wie op watter plaas bly én wie vroeër daar gebly het. Hy kon ook vir jou sê waar Groothoek se eerste winkel gestaan het, en dat daar ‘n ou kerkhof aan die oorkant was.

Hy het geweet waar en wanneer die vliegtuig teen die Witkoppe vasgevlieg het. Wanneer Barry Swarts die laaste bruinhiëna geskiet het. Waar daar ‘n vergete pas in die Drakensberge is. Wanneer die Steyns op Santiago (waar daar voorheen ook ‘n polisiepos was) die laaste keer hulle beroemde appels verkoop het.

Waar jy geelhoutbome kry. Waar die witkruisarende broei. Waaraan ‘n geelvis die graagste byt. Wanneer dit laas behóórlik gekapok het.

Vir my was hy ‘n bron van kennis en wysheid. Sonder hom sou ek kwalik ‘n digbundel soos Palimpses (1987), waarin ek my plaasherinneringe opgeteken het, kon skryf. My gesprekke met hom in later jare is van my kosbaarste herinneringe.

Ek het voorgestel dat die volgende woorde op oom Jan se grafsteen in die Harrismith-begraafplaas moet staan: Hy was die berge se geheue. Dit is daarop aangebring.

Johann Lodewyk Marais. Die dinge as sodanig

Tuesday, June 30th, 2009

Die veelduidige betekenis van die palimpses het eers tot my deurgedring nadat ek geruime tyd al aan die manuskrip van Palimpses (1987) gewerk het. Veral gesprekke met dr. Francis Galloway, my destydse kollega by die RGN, en die kunstenaar John Clarke, aan wie Francis my in die helfte van 1987 voorgestel het, het my nuwe betekenismoontlikhede laat insien. Die palimpsistiese aard, wat as ’t ware op ’n natuurlike wyse tydens die skryf van die bundel tot stand gekom het, is toe aansienlik versterk. Ek vertel graag dat ek ná my kennismaking met John ’n stuk of sewe nuwe gedigte vir die bundel geskryf het.

 

Ek wil nietemin nog steeds glo dat dit eintlik die Oos-Vrystaatse landskap en die geskiedenis (o.m. my eie familiegeskiedenis) was wat ’n “gelaagdheid” aan my bekend gemaak het. Daarvan het ek reeds as kind bewus geword. Landskappe hou aan om my te inspireer, terwyl my historiese bewussyn, glo ek, al sterker word. Benewens die Oos-Vrystaat het daar ook ander plekke en tye bygekom. Maar Palimpses was ’n goeie plaasleerskool … en hou selfs aan om dit te wees.

 

My belangstelling in omgewingskwessies het eers ná Palimpses ontwikkel, maar die landelike agtergrond het wel ’n rol gespeel. Later het die Darwinisme en ’n spesifieke biologiese belangstelling ook bygekom. Dit is daarom heel ironies dat ek uiteindelik in ’n kantoor op die agt en twintigste verdieping van ’n gebou in die middestad van Pretoria beland het!

 

Tans werk ek sporadies aan (o.m.) ’n bundel gedigte oor die see waarin daar ’n sterk marinebiologiese bemoeienis is. So ’n projek dwing my om heelwat oor die lewe in en om die see te lees en bied ’n verskoning as ek van tyd tot tyd nog ’n mooi boek oor visse, skulpe en dergelike onderwerpe koop. (Ek gaan tog gedigte daaruit haal!) Ek het egter nooit nét literêre oogmerke nie; die projek moet my meer oor (bv.) ’n faset van die natuur leer. Toe ek gewerk het aan Aves (2002), wat in die geheel aan voëls gewy word, het ek voëlkursusse bygewoon, jare lank agter voëls aangeloop en baie oor die onderwerp gelees. Die uitbreiding van my kennis oor voëls het my groot plesier verskaf.

 

Die ding of dinge as sodanig interesseer my.