Posts Tagged ‘Paris Review’

Desmond Painter. Damon Galgut en die vervlietende reis

Wednesday, September 8th, 2010

“A journey is a gesture ­inscribed in space, it vanishes even as it’s ­made” — Damon Galgut, In a Strange Room.

Ek is terug uit die buiteland — en Victoriastraat is of groen van jaloesie, of dit is inderdaad lente in Stellenbosch! Ek wou meer gereeld uit Engeland blog, maar eers het die kongres (in Southampton) my aandag opgeneem en daarna (nog twee dae in Londen) het ek probleme met my skootrekenaar se webkonneksie ondervind. Ek sal wel nog af en toe hier na my reis terugverwys: ek wil byvoorbeeld graag ‘n paar bloginskrywings maak oor jong Britse digters.

Maar eers iets anders (of dalk ook nie…). My resensie van Damon Galgut se uitstekende In a Strange Room het eergister in Die Burger verskyn. Moenie dat hierdie boek by jou verby gaan nie. Galgut is ‘n uitstekende skrywer, en hierdie is een van die beste prosawerke uit Suid-Afrika tot dusver hierdie jaar. Myns insiens. Dit is ‘n fynbesnaarde, subtiele teks en ‘n diepgaande meditasie oor reis, eensaamheid en die ‘enigma van tuiskoms’ — om Naipaul aan te haal. Ek plaas dit hier vir diegene wat nie Die Burger te lese kry nie:

Damon Galgut op reis

Damon Galgut op reis

As jy onder die indruk verkeer dat Engelstalige prosa in Suid-Afrika altyd in die skadu van die Nobelpryswenners Nadine ­Gordimer en J.M. Coetzee sal staan, of dat dinamiese hedendaagse prosa hier te lande slegs in Afrikaans geskryf word, maak jy ’n baie groot fout.

Skrywers soos Ivan Vladislavic en Damon Galgut, om maar twee persoonlike gunstelinge uit te ­sonder, lewer werk van wêreld­formaat. Albei is meesters van ’n soort afstandelike, maar altyd deernisvolle perspektief op die Suid-Afrikaanse werklikheid.

Albei ontgin en strek die estetiese moontlikhede van Engels om ’n Suid-Afrikaanse werklikheid ná apartheid onder woorde te bring.

Boeke soos Vladislavic se ­Portrait with Keys, seker een van die skitterendste Suid-Afrikaanse prosawerke van die afgelope ­dekade, en Galgut se roman The Good Doctor hoort op enige ­ernstige ­leser se boekrak.

Dit kom dus nie as ’n verrassing dat Galgut hom met sy jongste boek, In A Strange Room, weer ­binne trefafstand van die gesogte Man-Bookerprys bevind nie. Met The Good Doctor het hy in 2003 reeds die kortlys gehaal, en sy jongste is onlangs tot die langlys van 13 boeke benoem.

In A Strange Room het as sub­titel “Three Journeys”. Die werk word op die flapteks getipeer as ’n ­roman, maar die drie verhale het oorspronklik as afsonderlike ­tekste in die tydskrif Paris Review verskyn. Hulle kan gelees word as outobiografiese reissketse, as ­lange­­rige kortverhale, en inderdaad ook as ’n novelle of roman in drie episodes.

Maar hoe jy hierdie boek ook al benader, Galgut verbluf met subtiele maar trefseker karak­teri­sering, en met die onder­­beklem­toonde, maar psigologies baie ­presiese oopskryf van inter­­per­soon­like verhoudings. Dit is ’n boek vir herlees, waarin die ­­­eint­like dramas onder die oppervlak speel. Dit is ’n boek vol een­saam­heid en verlange, maar ­sonder ­melo­drama of onnodige ­effusie.

Galgut vertel drie verhale. In elk is die verteller op reis –- in ­Griekeland, Afrika en Indië. In elk bevind die verteller hom in ’n ­komplekse, soms aftakelende ­verhouding met ’n reisgenoot. In die proses skryf Galgut eintlik ’n reeks meditasies oor die sielkunde van die reis, die soeke na immer ontwykende ­liefde en tuiskoms, en die aard van vriendskap en gemeenskap.

In die hand van ’n mindere ­skrywer kon die gegewens van die reis en gedoemde verhoudings maklik geyk geword het, maar by Galgut is dit nie die geval nie. Dit is verhale wat ’n mens bybly en, by tye, lank by ’n mens spook. Die laaste verhaal, “The Guardian”, het my katswink geslaan. Dit is een van die aangrypendste, hartseerste verhale wat ek in ’n lang tyd ­gelees het; en die siel­kundige ­profiel wat daarin ter sprake kom word absoluut outentiek ver­gestalt.

Galgut se evokasie van landskappe is deurgaans meer as bloot romantiese verfraaiing. Die vreemde landskap, en die in­heemse bevolkings, is ook nie bloot ’n skerm waarteen ’n uit­eindelik egosentriese, eksisten­siële ­proble­matiek geprojekteer word nie. Soos in Albert Camus se briljante verhaal, “Die Owerspelige Vrou”, word landskap en reis by Galgut bemiddelend vir die interpersoonlike en psigologiese ver­stol­pings en verskuiwings waaroor die ­verhale eintlik ­handel.

“A journey is a gesture ­inscribed in space, it vanishes even as it’s ­made”. Só skryf Galgut aan die ­einde van ’n boek waarin hy die ­gebaar of beweging wat ons “reis” noem met bedrieglike eenvoud verken. In die proses lewer hy ’n teks wat die vervlietende aard van daardie reis beslis sal oorleef.