Posts Tagged ‘Parzival’

Marlies Taljard: Jung en die Anfortas-wond

Monday, December 5th, 2011

 

Anfortas, Graalskoning

Anfortas, Graalskoning

Die sielkundige Carl Jung verwys in sy werk by herhaling na ‘n kondisie wat hy die Anfortas-wond noem, maar verduidelik dié term slegs eenmaal in een van sy moeilikste werke, naamlik Psycological Types. Baie eenvoudig gestel verwys dié term na ‘n inherente gespletenheid in die mens se psige – Jung noem dit die gekultiveerde en die barbaarse fasette van die mens. Dit is vandag natuurlik ondenkbaar dat ‘n mens sulke terme kan gebruik wanneer na die menslike psige verwys word. Waarop dit dus neerkom, is dat Jung aanvoer dat verwonding ‘n integrale deel van die menslike kondisie is, as gevolg van ‘n bepaalde dualisme wat eweneens deel van die mens se psigiese samestelling uitmaak. Die mens se gedurige strewe na heelwording, harmonie, integrasie – noem dit wat jy wil – verteenwoordig dan die wond wat nooit genees nie, die wond wat die mistieke Graalkoning, Anfortas, eeue lank laat ly alvorens hy deur die empatie van Parzival uit sy lyding verlos word (soos ek in ‘n vorige blog aangetoon het).

Hierdie behoefte van die mens tot sogenaamde “eenwording” impliseer dan ‘n ideale toestand van heelheid. (Ek lees op die oomblik DJ Winterbach se Die Begunstigde waarin die hele kwessie van gespletenheid en heelheid ‘n belangrike tema van die roman is). Strewe na eenwording is natuurlik die basiese gegewe van alle mistieke soeke. Mistieke eenwording met die Oerbron behels allereers ‘n aflegging van die ego en kennis van die “ware self”. Die “ware self” is inderdaad die siel van die mens, en wanneer ‘n mens kennis bekom van homself (sy siel), bekom hy terselfdertyd kennis van God, van wie die siel ‘n afsplintering is. Die ego met sy menslike strewes is egter die konstante belemmerende faktor wat eenwording teenwerk, want die ego streef na uniekheid, terwyl die siel streef om een te word met die Bron – dus integrasie. Die ego is dié faset van die mens wat hom gedurig daartoe lei om op aardse genietinge te konsentreer en na aardse doelwitte te strewe. Sodoende kan dit maklik gebeur dat ‘n mens in sy lewe eensydig op die verkryging van bepaalde dinge fokus wat vir die individu belangrik is.

 

Die verhaal wat vertel hoe Anfortas sy wond opgedoen het, word breedvoerig in Wolfram se Parzival uiteengesit en beskik ook oor duidelike mitiese trekke. Anfortas se strewe na mag bring hom in stryd met Klingsor, ‘n magshonger towenaar en verpersoonliking van boosheid. Sy seksuele begeerte na Kundri verhoed hom om behoorlik te konsentreer in die stryd teen Klingsor. Laasgenoemde kon toe Anfortas se swaard steel en hom daarmee in die lendene verwond.

In Psychological Types verkry die Amfortas-wond mitiese (en dus universele) betekenis wanneer Jung wys op die tendens tot dissosiasie en fragmentasie wat ‘n kenmerk van alle mense is. In paragraaf 105 skryf hy: The breakdown of the harmonious cooperation of psychic forces in instinctive life is like an ever open and never healing wound, a veritable Amfortas’ wound, because the differentiation of one function among several inevitably leads to the hypertrophy of the one and the neglect and atrophy of the others. Waarskynlik bedoel hy hiermee dat ons geneig is om op ons omstandighede te reageer deur middel van hoofsaaklik een aspek van die psige en dat ons sodoende die ander aspekte verwaarloos en as’t ware laat “afsterf”. Die wond-simbool verteenwoordig in Jung se werk ‘n soort dodelike rigiditeit of verbetenheid wat geen moontlikheid laat vir buigsaamheid en dus volledige genot van die oorvloed van dit wat vir die mens in die skepping beskore sou kon wees nie. Dink ‘n mens nou aan tallose verhale, byvoorbeeld die Odusseia, die Illias, Tristan en Isolde of welke groot verhaal ookal, is dit duidelik dat verwondingsverhale meestal volgens ‘n argetipiese verhaalpatroon gestruktureer is wat te alle tye en op alle plekke die menslike kondisie uitbeeld en die mens vandag steeds aangryp.

In sy bekende werk Einfache Formen tipeer André Jolles die mite as ‘n antwoord op ‘n versoek aan die skepping om homself te openbaar. Die antwoord (die mite) is altyd ‘n onomstootlike waarheid – ‘n waarheid waarin die skepping een of ander aspek van homself openbaar of verklaar. Belangrik is dat tyd geen rol in die mite speel nie – die mite is waar vir alle tye. Ook Lévi-Strauss lê klem op die temporele struktuur van die mite. Hy wys daarop dat mitiese gebeurtenisse uit die verlede slegs mitiese relevansie geniet indien hulle ‘n durende struktuur vertoon, ‘n struktuur waarin verlede, hede en toekoms een groot, aaneenlopende geheel vorm.

Wat baie interessant is, is dat Jung klem lê op die feit dat magsug en klem op seksualiteit nie in eerste instansie verantwoordelik is vir die Anfortas-wond nie, maar slegs die motoriese moment vir die val van Anfortas verskaf. Volgens Jung het verwonding te make met die mens se houding. Hier praat hy egter nie van die houdings van individuele mense nie, maar van ‘n houding wat in die kollektiewe onbewuste lê en waartoe die mens toegang het deur die primordiale beelde (argetipes) van die onbewuste – dus ‘n aangebore, algemeen-menslike houding. Slegs dié mense wat oor die spirituele krag en die selfkennis beskik om te reflekteer oor die aard en die oorsake van hulle kondisie, kan suksesvol met hierdie simbole omgaan (en dus tot “versoening” kom met die inherente wond wat die mens blykbaar as deel van sy menslikheid geërf het).

En nou lê dit mos in die aard van die digkuns om juis hieroor te besin. In hierdie sin sou ‘n mens inderdaad kon beweer dat die digter, wat besinnend oor die menslike kondisie skryf, by uitnemendheid in staat is om iets van die gebrokenheid van die mensdom te heel. Maar dan slégs indien die digter toegang het tot die sterk simbole of argetipes wat in staat is om tot die menslike psige te spreek. Waar kry die digter dié simbole en hoe verkry hy toegang tot die kollektiewe psige van sy lesers? Ek dink die antwoord lê beslis in belesenheid en oopheid – Antjie Krog skryf van “… geopend leef / met volledig toegang tot jou naaste self”. Dit is vir my veral jammer dat baie min jongmense vandag nog Europese tale ken, soos Duits en Frans, laat staan nog maar Middelhoogduits of selfs Latyn of Grieks … Tog is daar baie goeie tekste in Engels beskikbaar waarin die digter kontak kan maak met kragtige simbole. Ek praat van tekste soos die Bybel, die Tao te Ching, die Bhagavad Gita, die Egiptiese en Tibetaanse Dodeboeke, die Weg van die Boeddha, die Illias, die Odusseia, Grimm se (oorspronklike) sprokies, ou tekste soos Parzival en Tristan & Isolde, Shakespeare, Goethe se Faust, Schiller … daar is te veel om op te noem.

Nietemin, Jung se aanvoeling dat die refleksiewe mens in staat is om heelwording te bewerkstellig, raak aan die kern van die mistieke. Ook volgens mistieke teorieë is verwonding ‘n algemene metafoor van die menslike kondisie, deurdat klem op aspekte van die ego heelwording of integrasie verhoed en ‘n wanbalans in die mens teweeg bring. Veral in Wagner se weergawe van die Parzival-verhaal, word daar klem gelê op die “suiwer dwaas” wat alleen in staat is om die Anfortas-wond te heel. Die “suiwer dwaas” is dié mens wat op grond van sy opregte deernis na sy medemens uitreik – dit is Parzival wat (uiteindelik) die reddende vraag vra: “Wat makeer, Oom?” Vandaar Wagner se refrein: Durch Mitleid wissend, der reine Thor (“Wysheid wat deur empatie bekom is, die suiwer dwaas”). Die mistieke betekenis hiervan is dat die siel die lewe van die mens moet beheer alvorens hy kan “heel” word – terwyl die intellek in beheer is, word die siel onderdruk. Omdat liefde (in sy mees omvattende vorm) die essensie van die siel is, kan die mens eers tot redding kom wanneer hy sy siel in beheer plaas. Die siel ken geen verskil tussen die self en die Ander nie, en daarom sal sy met deernis en empatie reageer op die pyn van die Ander, omdat sy dit as pyn aan haarself ervaar.

Parzival, die Reine Dwaas

Parzival, die Reine Dwaas

 

Hierdie faset van die Parzival-verhaal word deur Wagner se opera egter nie naastenby so kompleks uitgebeeld as in die gedig van Wolfram nie. In dié gedig beslaan die gedeelte tussen Parzival se eerste en sy tweede ontmoeting met Anfortas ongeveer een derde van die gedig (in my weergawe ongeveer 80 bladsye). Parzival is wel aanvanklik ‘n dwaas, omdat hy oor geen sosiale vaardighede beskik nie. Hoewel hy die eerste keer wanneer hy Anfortas sien, wel diep medelye met die beseerde man het, waag hy dit nie om te vra wat makeer nie, omdat nuuskierigheid indruis teen die ridderlike etiek wat hy pas vantevore aangeleer het. Na sy verbanning uit die Graalsburg kom hy egter te wete dat hy direk verantwoordelik is vir sy ma se dood. Hy verkry ook kennis en wysheid deur die leringe van onder andere ‘n mistieke kluisenaar wat hom tot dieper insig van die menslike kondisie bring. Omdat hy self nou verskeie kere liggaamlik en geestelik verwond is en swaar dra aan die skuldlas van sy ma se dood, kan hy, as mede-verwonde mens, empaties op die pyn van Anfortas reageer – teen dié tyd is Parzival egter nie meer ‘n jong man nie en beslis geen dwaas meer nie. Die woord “dwaas” word deur Wagner dus nie in sy letterlike betekenis gebruik nie, maar in die konteks van iemand wat vanuit sy diepste menswees, vanuit sy ingebore integriteit, reageer.

 

Samevattend sou ‘n mens – in ‘n bepaalde lesing van die Parzival-verhaal – tot die slotsom kon kom dat Klingsor, Kundri en Parzival afsplinteringe is van Anfortas se psige wat inherent verskeur en soekend is. Dit is duidelik dat hier ‘n sterk mistieke element teenwoordig is, naamlik dat die siel (Parzival) die vermoë het om die wêreldse begeertes (magsug en wellus) in bedwang te hou en te onderdruk en om die psige te help om weer “heel te word soos aan die begin”.     

Marlies Taljard: Anfortas se Wond

Tuesday, November 15th, 2011

Parzival voor die Graalsburg

Parzival voor die Graalsburg

 

In die Augustus 2011-uitgawe van die Canadian Medical Association Journal kritiseer Michael Susmoy Sanatani, MD ‘n sekere hospitaal in Kanada wat ‘n ruk gelede besluit het om nie meer die “bedside history” persoonlik op te teken elke keer wanneer ‘n pasiënt tot die hospitaal toegelaat word nie. Hulle beoog om dié gegewens wat op die rekenaar beskikbaar is, eenvoudig op die nuwe toelatingskaart te plak. Sanatani se argument berus hoofsaaklik op die verhaal wat in ‘n dertiende-eeuse teks vervat is. Hy voer aan dat Wolfram (von Eschenbach) se epiese gedig Parzival die beste voorbeeld verskaf van wat nie deur dokters, verpleegsters en ander versorgers gedoen behoort te word nie. Parzival het naamlik, weens sy opleiding as ridder wat bepaal dat hy nie persoonlike vrae aan onbekendes mag rig nie, versuim om die siek koning Anfortas te vra wat makeer. Daardeur het hy ‘n geweldige verlies gely wat eers dekades later reggestel kon word.

Sedert die vroegste tye was siekte en herstel ‘n belangrike tema in gesproke en geskrewe verhale. Dink maar aan Job, aan die gestremde man by die Bad van Bethésda en aan Achilles. Steeds word dié tema verbind met argetipiese handelinge en behoeftes wat eie is aan die mens as sodanig. Baie Middeleeuse verhale is eweneens geskoei op dié tema, soos byvoorbeeld Hartmann se Grogorius, Gottfried se Tristan und Isolde en Wolfram se bekende epiek Parzival.

Wolfram was ‘n minnesanger wat van 1170 tot 1220 geleef het en Parzival aan die begin van die dertiende eeu geskryf het. Benewens hierdie grootse gedig, het hy ook liriese poësie geskryf. Parzival is waarskynlik, met die uitsondering van Dante se Goddelike Komedie, die mees komplekse Middeleeuse gedig. Eenvoudig gestel wentel die sentrale problematiek van dié gedig rondom die vind van ‘n balans tussen wêreldse en ‘n spirituele waardes wat uiteindelik kan lei tot verligting (wat in die Boeddhistiese tradisie satori genoem word). Baie mense beskou dit ook as ‘n poging om harmonie te bewerkstellig tussen die Oosterse en die Westerse kulturele en spirituele tradisies. Wat seker is, is dat Parzival tussen tekste van sy tydgenote uitstaan weens sy omvangrykheid, sy kompleksiteit en sy tekstuele koherensie, asook weens die statige register waarin dit geskryf is.Die verhaal van Parzival verenig die ridderlike tradisie met die graal-tradisie. Die plot val gedeeltelik saam met die Arthur-verhale en die verhale van die Ronde Tafel. Die eintlike verhaal begin ‘n geslag voor die geboorte van Parzival, met die lotgevalle van sy vader Gahmuret en dié se reis na Bagdad en Afrika. Daar trou hy met die heidense koningin Belacane en verwek ‘n seun, Feirefiz. Met die verskoning dat huwelike tussen Christene en heidene ongeldig is, verlaat hy Belacane egter nog voor die geboorte van hulle seun en trou later met Herzeloyde, ‘n Spaanse koningin. Parzival is hulle seun. Gahmuret verlaat haar egter ook om te gaan oorlog voer, maar sterf in die stryd. Herzeloyde neem Parzival saam en gaan woon diep in ‘n verlate woud, omdat sy bang is dat hy haar ook ontneem sal word. Eendag sien hy egter die ridders van koning Arthur, dink hulle is hemelse wesens en dring by sy ma aan om hulle te volg. Hulle belowe om hom na die hof van koning Arthur te neem. Herzeloyde trek Parzival soos ‘n gek aan met die hoop dat hy deur almal wat hom sien, gespot sal word en na haar sal terugkeer. Daarbenewens het sy hom nooit vertel wie hy is nie, en ook nagelaat om hom enige iets van die wêreld daar buite vertel – met die hoop dat hy nie dieselfde ideale as sy vader sal najaag en te vroeg sal sterf nie. Kort na Parzival se vertrek, sterf sy van verdriet.

Intussen beleef Parzival die een bloedige avontuur na die ander, verslaan die ridder Ither en verneem wat sy ware identiteit is. Hy word deur Arthur tot ridder geslaan en vertrek om verdere avonture na te jaag en sy ridderlike pligte na te kom.

Tydens sy omswerwinge ontmoet hy Gurnemanz de Graharz by sy kasteel. Gurnemanz leer Parzival om die kruis te slaan en hoe om as Christen op te tree. Hy word ook onderrig in die fynere kunste van die ridderorde. Een van die belangrikste lesse wat Gurnemanz hom leer is: “im sult niht vil gefrâgen” (“Moenie te veel vrae vra nie!”) Nadat hy Gurnemanz verlaat het, word Parzival die redder van koningin Condwiramurs. Hy trou later met haar en word koning van haar koninkryk. Parzival se reislus laat hom egter nie toe om lank stil te sit nie, en gou is hy weer op pad.

Op ‘n dag bereik hy ‘n groot meer waar hy verskeie vissers by hulle skuit sien staan. Die sogenaamde “Visserkoning”, Anfortas, laat nooi hom na sy wonderbaarlike kasteel Munsalvaesche. Dit blyk dat Anfortas Herzeloyde se broer is. Die aand word daar ‘n luisterryke fees gehou, maar die ridders is almal bedroef en terneergedruk. Die rede blyk die siekte van koning Anfortas te wees. Voordat die ete bedien word, word die siek koning op ‘n draagbaar die saal ingedra. ‘n Hofknaap loop voor hom uit met ‘n swaard druppend van bloed. Agter hulle loop die koningin met die Graal – in hierdie verhaal is dit ‘n wondersteen (iets soos ‘n robyn) wat sowel kos en drank as die ewige lewe van dié wat in sy teenwoordigheid leef, verseker. Gedagtig aan die opdrag van Gurnemanz, vra Parzival egter nie vir Anfortas wat hom makeer nie – onbewus daarvan dat dié vraag die koning van sy siekte sou genees het en Parzival die opvolger van sy koninkryk sou maak. Parzival slaap onrustig. Toe hy die volgende oggend wakkerword, is hy alleen in die woud – die hele hofhouding het verdwyn. Slegs een dienskneg waak by Parzival en lees hom die leviete voor oor sy hartelose optrede teenoor die siek koning.

Parzival en die Graal

Parzival en die Graal

 

Parzival is buite homself van skaamte en hartseer. Hy neem hom voor om die res van sy lewe aan die soektog na die Graal te wy en om God, wat hom versaak het, se diens te verlaat. Weer eens volg talryke avonture wat vervleg is met die avonture van Arthur se Ridders van die Ronde Tafel – talle vroue word uit aanhouding gered, booswigte word verslaan en Parzival verwerf al hoe meer wêreldse aansien. Ongeveer vier en ‘n half jaar sedert hy uit die Graalskasteel uitgeskop is, treur Parzival steeds omdat hy koning Anfortas en die Graal nie kan opspoor nie. Op ‘n koue oggend in vroeg-Mei ontmoet hy ‘n stokou ridder, Gabenis, wat hom aanraai om die kluisenaar Trevrizent op te soek.

Hy vind die kluisenaar in sy grot en verwyl etlike weke daar. Trevrizent verwys na Plato, maar ook na die reinheid van Christus. Uiteindelik laat vaar Parzival sy verbittering teenoor God. Trevrizent vertel hom die antieke verhale oor die Graal en sy wonderbaarlike eienskappe. Hy vertel Parzival ook dat ‘n mens nie die Graal kan vind as jy nie geroepe is deur die Graal self nie. Parzival rep niks oor sy vorige ontmoeting in Munsalvaesche nie. Trevrizent vertel dat die Graal die hele gemeenskap wat daarmee in kontak is, onderhou en dat geen mens wat in die teenwoordigheid daarvan is, kan sterwe nie. Dit is die éintlike lot van Anfortas. Toe hy in sy jeug sy kasteel verlaat het om wêreldse plesier na te jaag, is hy deur ‘n Moslem met ‘n giftige pyl aan sy geslagsdele verwond. Omdat die pylpunt bly steek het, sweer dit aanhoudend. Die teenwoordigheid van die Graal verhoed hom egter om te sterf. Dit vertel Trevrizent vir Parzival en waarsku hom teen egosentrisme, want Anfortas se wond is die gevolg van sy beheptheid met liggaamlike liefde. ‘n Ridder moet genoeg selfbeheersing aan die dag lê om balans in alle aspekte van sy lewe te vind.

Later vra Trevrizent Parzival se identiteit, en wanneer hy verneem wie hy is, vertel hy hom dat sy moeder Herzeloyde haar doodgetreur het toe haar seun haar verlaat en nie teruggekeer het nie. Hy vertel hom ook dat daar jare gelede mistieke woorde op die Graal verskyn het wat die verlossing van die siek koning deur die simpatieke vraag van ‘n jong ridder geprofeteer het. Die ridder het wel gekom, maar het skandelik nagelaat om die siek man te vra wat makeer. Parzival besef dat hy in sy naïwiteit baie pyn en hartseer veroorsaak het en kwel hom geweldig daaroor.

Weer eens swerf Parzival wyd en syd, totdat hy jare later as ouer, wyser man ‘n tweede keer die kasteel van Anfortas bereik. Hierdie keer weet hy wat om te doen, en nadat hy die verlossende vraag gevra het, sterf Anfortas. Parzival, wat intussen sy belangstellings na binne en na spirituele doelwitte gewend het, word die nuwe Graalskoning.

 

Hierdie verhaal bevat ‘n groot verskeidenheid argetipiese temas en simbole en is byna onuitputlik in terme van literêre toepassingsmoontlikhede. Die afgelope jare het daar ook in die Afrikaanse poësie verskeie gedigte (en selfs digbundels) verskyn waarin die tema van pyn en siekte en die mens se omgang daarmee, belig word. Die verhaal van Anfortas is vir my een van die sterkste moontlike intertekste wanneer die tema van siekte en dood aangeraak word. Dit lewer sosiale kommentaar wat in ons tye steeds sinvol is, naamlik dat deernis en simpatie steeds, ten spyte van moderne kommunikasietegnologie, spirituele energieë genereer wat fisieke, geestelike en spirituele genesing kan bewerkstellig. Dié waarheid geld nog deur alle eeue, naamlik dat die eenvoudige vraag: “Hoe gaan dit?” ‘n mens wat in pyn, vrees en siekte verkeer, kan verlos deurdat dié persoon as medemens geag word en nié as pasiënt – dus as objek van mediese belangstelling – nie!

Die Anfortas-wond dui sterk op ‘n siekte van ons tyd, naamlik die verslawing aan “love” en gepaardgaande oppervlakkighede. Ironies genoeg, kan “love” niks en niemand gesond maak nie. “Ware liefde” – simpatie, deernis en meelewing met die mensdom as sodanig – is egter ‘n wondermiddel teen negatiwiteit en depressie wat dikwels voortspruit uit ‘n gebrek aan ware medemenslikheid en mens-tot-mens-kontak. In die moderne praktyk behels kontak egter nie altyd teenwoordig-wees nie. Ek lees in die Parzival-verhaal veral die storie van die moderne mens se gebrek aan luistervaardigheid en opregte bemoeienis met die medemens in nood. Geen selfoon, geen e-pos en geen twitter kan opregte belangstelling in mekaar se (geestelike en fisieke) gesondheid simuleer nie. Prestasie bepaal nie die vlak van ons menswees nie. Om mens te kan wees, moet ons leer om om te gee – en ja, dit kán aangeleer word, soos die epiek van Parzival tereg aantoon!

Ten slotte lees ek in Parzival egter ook die verhaal van wedersydse genesing. Soos die verhaal ontvou, val die klem in die hooffiguur se lewe al hoe meer op ‘n verkenning van die binne-ruimte. Die held vra al hoe meer: “Wie is ek?”, ten einde by die antwoord op die vraag: “Wie is God?” uit te kom. Die soeke na spirituele waardes word die éintlike doel van sy lewe, en wanneer hy ryp en wys genoeg is, word hy weer deur die Graal geroep. Hierdie keer maak dit nie meer saak wat die wêreld van hom dink nie, en hy beleef dat die vraag wat Anfortas uit sy leed bevry, ook vir hom tot seën word. Dit is dus inderdaad waar dat opregte deernis en omgee na beide kante toe werk. En dít kan ons as moderne mense wat ons geloof soms blindelings in die mediese wetenskap plaas, van hierdie oeroue verhaal (wat waarskynlik al millenniums lank in die volksmond bestaan) leer: dat menslike belangstelling, teenwoordigheid en simpatie hulle plek langs medikasie en wetenskaplike genesingsmetodes kan inneem. Die mediese wetenskap kon tot op datum nog niks uitvind wat die mens se rol in genesing kon vervang nie. En watter moderne medisyne maak ook die dokter wat dit toedien, gesond …?