Posts Tagged ‘PEN Afrikaans’

PEN Afrikaans. Protes teen die dreigende kopiereghervorming

Tuesday, July 4th, 2017

Beste lid van PEN Afrikaans

Die bestuur van PEN Afrikaans het reeds in ‘n vorige spesiale nuusbrief op 9 Junie 2017 daarop gewys dat die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, 13 van 2017, groot gevare vir skrywers en uitgewers inhou.

Ons het intussen in oorleg met die kopieregkonsultant Catrina Wessels ‘n skriftelike voorlegging voorberei wat ons voor die sperdatum vir kommentaar (7 Julie 2017) in samewerking met PEN South Africa aan die Porfeuljekomitee op Handel en Nywerheid sal voorlê.

Ons versoek jou hiermee om die belang van hierdie kommentaar te beklemtoon deur jou naam, of dié van jou organisasie/uitgewery/onderneming, ter ondersteuning hieraan te koppel. Die lys van ondersteuners sal saam met die kommentaar ingelewer word.

Die Afrikaanse weergawe van ons kommentaar is hier op ons webportaal beskikbaar; die Engelse weergawe hier. Jy kan op enige een van hierdie bladsye jou ondersteuning aandui en ook ons kommentaar op die wetsontwerp verder op sosiale media deel.

Help ons asseblief om stem dik te maak oor hierdie blatante poging tot die onteiening van intellektuele eiendom.

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

Hier is die Afrikaanse weergawe van ons voorlegging aan die Portefeuljekomitee:

Kommentaar deur PEN Afrikaans op die
WYSIGINGSWETSONTWERP OP OUTEURSREG, 13 VAN 2017
Ingedien vir aandag: Me. J Fubbs
(Voorsitter: Portefeuljekomitee op Handel en Nywerheid)
Per e-pos: ahermans@parliament.gov.za

Inleiding

PEN Internasionaal, die wêreld se voorste outeursvereniging, is ’n nie-politiese organisasie wat Spesiale Raadgewende Status by die Verenigde Nasies geniet, en Geassosieerde Status by UNESCO. Dit is gemik op die bevordering van letterkunde en die beskerming van vryheid van uitdrukking op ’n internasionale vlak. PEN Afrikaans ondersteun hierdie doelwitte en is daarop toegespits om as drukgroep op te tree vir die regte van outeurs, joernaliste en uitgewers, soos en waar nodig. PEN Afrikaans is ’n vereniging van outeurs, joernaliste en uitgewers wat, deur lidmaatskap aan PEN Internasionaal, sy lede in ’n internasionale konteks verteenwoordig. PEN Afrikaans se ledetal bestaan uit outeurs wat in die Afrikaanse taal in alle genres en kategorieë skryf en publiseer. PEN Afrikaans verteenwoordig outeurs wat vir die algemene handelsmark skryf (fiksie, niefiksie, en kinder- en jeugboeke), opvoedkundige werke soos skoolhandboeke, asook akademiese en vakkundige publikasies.

PEN Afrikaans is oortuig dat verskeie van die wysigings aan die Wet op Outeursreg, 98 van 1978 (hierna “die Wet”), wat deur die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, 13 van 2017 (hierna “die Wetsontwerp”) voorsien word, ’n regstreekse en nadelige uitwerking op sy lede, en Suid-Afrikaanse outeurs in die algemeen, sal hê. Daarom aanvaar PEN Afrikaans die Portefeuljekomitee op Handel en Nywerheid (“die Komitee”) se uitnodiging aan belanghebbendes om geskrewe kommentaar op die Wetsontwerp in te dien, en lê hiermee sy kommentaar voor.

Omvang

Selfs met die uitstel van die sperdatum vir skriftelike voorleggings tot 7 Julie 2017, is PEN Afrikaans van mening dat belanghebbendes nie voldoende tyd gegun is om behoorlik met die inhoud van die Wetsontwerp om te gaan en daarop te reageer nie. Hierdie voorlegging is daarom nie ’n omvattende en afdeling-per-afdeling kommentaar op die Wetsontwerp nie, maar eerder ’n uiteensetting van die hoofoorwegings wat PEN Afrikaans se lede, en Suid-Afrikaanse outeurs in die algemeen, sal raak.

Verskeie ander belanghebbendes het meer gedetailleerde analises van die Wetsontwerp ingedien, met voorstelle van hoe die teks verbeter kan word. PEN Afrikaans doen ’n beroep op die Komitee om noukeurig te let op daardie voorstelle, aangesien dit duidelik is dat die Wetsontwerp deurtrek is van foutiewe terminologie en opstelfoute wat tot beduidende regsonsekerheid sal lei indien dit ongewysigd as wetgewing bekragtig word. PEN Afrikaans moedig die Komitee aan om spesifieke aandag te skenk aan die skriftelike voorlegging van die Anton Mostert Leerstoel vir Intellektuele Goederereg, ’n afdeling van die regsfakulteit van die Universiteit Stellenbosch.

Opsomming

Die toekenning van ’n reeks uitsluitlike regte aan die outeursreghouer dien as aansporing aan skrywers en die groter kreatiewe bedrywe om hul talente en vaardighede in te span om nuwe werke te skep tot almal se uiteindelike voordeel. Outeursreg stel skrywers in staat om inkomste uit hul skeppende werk te verdien. Die instelling van uitgebreide uitsonderings op en beperkings van outeursreg sal skrywers ontmoedig om boeke te skryf, en uitgewers ontmoedig om die finansiële risiko te loop om boeke te publiseer, aangesien dit ’n klimaat skep waarbinne die vrye kopiëring van outeursregwerke vir ’n wye verskeidenheid doeleindes toegelaat word. Ander besware is die voorgestelde verswakking van morele regte en die staat se toe-eiening van die outeursreg in alle staatsbefondsde outeursregwerke. PEN Afrikaans sien hierdie wysigings as onverstandig en versoek die Komitee om te heroorweeg.

Ons maak verder melding van die volgende:

1. Toevoeging van die reg op kommunikasie aan die publiek

PEN Afrikaans verwelkom die voorgestelde toevoeging van die reg op kommunikasie aan die publiek as ’n eksklusiewe reg van outeursreg. Die reg van kommunikasie aan die publiek word beskou as die ekwivalent van die reproduksiereg in ’n internet-omgewing. As sodanig verteenwoordig die insluiting daarvan ’n belangrike stap om Suid-Afrika se outeursregwetgewing by te werk om in tred te bly met die digitale era. PEN Afrikaans moedig die Komitee aan om ook die eksklusiewe verspreidingsreg by te voeg.

2. Instel van uitgebreide uitsonderings op en beperkings van outeursreg

Die instel van uitgebreide uitsondersings op en beperkings van die ekslusiewe regte van outeursreg is ’n uiters kommerwekkende aspek van die wetsontwerp.

Hierdie uitsonderings sluit in:

·        ’n “Billike gebruik”-verweer en outeursreg-uitsondering vir opvoedkundige doeleindes

Baie skrywers verdien hul brood en botter uit skryfwerk vir die opvoedkundige mark. Die opvoedkundige mark is ’n werkende mark en by verre die grootste sektor binne die boekuitgewersbedryf. Om toe te laat dat boeke vrylik gekopieer mag word en outeursregmateriaal sonder toestemming by kursuspakkette ingesluit mag word in plaas daarvan om opvoedkundige instansies aan te moedig om eksemplare van boeke aan te koop of lisensies te bekom om outeursregwerke te reproduseer, sal skrywers se vermoë om ’n bestaan te maak uit skryfwerk vir die opvoedkundige en akademiese markte drasties beperk.

·        ’n “Billike gebruik”-verweer en outeursreg-uitsondering vir die uitbreiding van toegang aan onderbediende bevolkingsgroepe (“underserved populations”)

Hierdie toevoeging sal aansienlike regsonsekerheid veroorsaak. Daar is geen definisie van “onderbediende bevolkingsgroepe” in die Wetsontwerp nie. Eweneens gee die Wetsontwerp ook geen aanduiding van wie op hierdie manier toegang kan “uitbrei” en wat dit presies beteken nie. Wat wel duidelik is, is dat daar nie sprake sal wees van outeurstoestemming of -vergoeding wanneer werke gereproduseer word om “onderbediende bevolkingsgroepe” se toegang te vergroot nie. Hierdie uiters breë uitsondering is oop vir uitbuiting ten koste van outeurs.

Onderwys en navorsing is ongetwyfeld belangrike beleidsoorwegings, en PEN Afrikaans ondersteun die reg op toegang tot inligting ten volle. PEN Afrikaans maak egter beswaar teen die voorgestelde verswakking van outeursregbeskerming om hierdie doelwitte te bereik.

Dit is verder hoogs onwaarskynlik dat die uitgebreide uitsonderings wat deur die Wetsontwerp voorsien word, voldoen aan die vereistes van die internasionale verdrae waartoe Suid-Afrika as ondertekenaar verbind is. Enige uitsonderings of beperkings wat tot die Wet bygevoeg word, moet in ooreenstemming wees met die drie-stap-toets wat in die Berne Verdrag uiteengesit is. Dit vereis dat enige uitsonderings beperk moet wees tot “sekere spesiale gevalle wat nie in stryd is met die normale ontginning van die werk nie, en wat nie die regmatige belange van die outeursreghouer onredelikerwys benadeel nie”. 1

3. Staatsbefondsde werke

Die Wetsontwerp voorsien dat outeursreg met betrekking tot staatsbefondsde werke outomaties by die staat sal berus. Die vlak van befondsing word egter nie omskryf nie. Dit sal onredelik wees vir die staat om beslag te lê op outeursregwerke op grond daarvan dat enige vorm van befondsing bygedra is.

4. Inmenging met kontraktuele bepalings

PEN Afrikaans teken beswaar aan teen die oogmerk om verpligte en standaard kontrakbepalings voor te skryf vir ooreenkomste wat in terme van die Wet aangegaan word. Hierdie oormatig wye bewoording sal die outeur se vermoë beperk om die vrugte van sy of haar arbeid deur lisensiëringsooreenkomste te ontgin. Die Wetsontwerp bepaal verder dat kontraktuele bepalings wat gemik is op die inperking van die wye uitsonderings op en beperkings van outeursreg onafdwingbaar sal wees. Die outeur se vermoë om sy of haar werk te kommersialiseer word hierdeur belemmer.

5. Verswakking van morele regte

Artikel 19 van die Wetsontwerp stel wysigings voor aan Artikel 20 van die Wet, wat die outeur se morele regte bepaal. Die voorgestelde wysiging ontneem outeurs van die geleentheid om hulle op hul morele regte te beroep indien enige van die outeursreg-uitsonderings of -beperkings ter sprake is. Hierdie beperking is ongemotiveerd en behoort summier geskrap te word.

6. Impak op die boekuitgewersbedryf in Suid-Afrika

PEN Afrikaans is uiters besorgd oor die feit dat daar versuim is om ’n onafhanklike ekonomiese impakstudie te doen oor die moontlike uitwerking van die beoogde instelling van ’n outeursreg-uitsondering vir opvoedkundige doeleindes. Ervarings in ander regsgebiede dui op ’n potensieel rampspoedige ekonomiese impak op die boekuitgewersbedryf. Met inagneming van die simbiotiese verhouding tussen die twee partye, sal die skade aan uitgewers noodwendig ook skrywers tref, veral dié skrywers wat hul bestaan maak uit die skep van materiaal vir opvoedkundige en akademiese doeleindes.

PEN Afrikaans verskil sterk van die volgende stelling in die Memorandum oor Doelwitte van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg:

“Daar word ook in die vooruitsig gestel dat die voorgestelde wetgewing outeurs […] sal beloon en aanspoor.”

In vele opsigte is die teenoorgestelde waar. Die Wetsontwerp stroop skrywers van hul regte en ontneem hulle van geleenthede om met hul skryfwerk vergoeding te verdien. PEN Afrikaans beveel sterk aan dat die Wetsontwerp heroorweeg en hersien word om die belange van outeurs en die kreatiewe bedrywe te beskerm en te dien.

Laat weet gerus indien u verdere terugvoer namens outeurs verlang. PEN Afrikaans sal graag aan verdere gesprek deelneem. ’n Effektiewe outeursregstelsel is van uiterse belang vir lede van PEN Afrikaans, en ook vir skrywers in die algemeen.

Die uwe,

Kerneels Breytenbach

Voorsitter: PEN Afrikaans

1 Art. 9(2) Berne Convention, Art. 13 TRIPS, Art. 10 WIPO Copyright Treaty.

 

Pen Afrikaans. Oor: Meertaligheid en moedertaalonderrig as die uitgangspunte van ‘n bemagtigende Suid-Afrikaanse onderwysstelsel, en die beplande wysiging van die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid

Monday, November 16th, 2015

Beste lid van PEN Afrikaans

Die aankondiging van die Universiteit Stellenbosch se voorneme om Engels die verstektaal aan dié instelling te maak het die bestuur van PEN Afrikaans genoop om ernstig oor die implikasies van so ‘n stap na te dink. Ons het ná baie oorleg die volgende tweetalige verklaring opgestel.

Deel dit asseblief wyd indien jy daarmee saamstem en laat hoor van jou as jy die saak anders sien.

Met vriendelike groete
Die Bestuur: PEN Afrikaans

PEN Afrikaans eis meertaligheid en moedertaalonderrig as uitgangspunt vir onderwys in Suid-Afrika en ’n heroorweging van die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid

[The English version of this declaration follows the Afrikaans below.]

Die openbare reaksie van skok op die voorgestelde afskaffing van Afrikaans as een van die verstektale aan die Universiteit van Stellenbosch het Afrikaans by ’n kruispad gebring waarin die ander inheemse tale hulle reeds van voor die dae van die apartheid-regime bevind. Een van Afrikaans se laaste verskansings as bevoorregte taal is nou daarmee heen, en die taal bevind hom so te sê in dieselfde bootjie as al die ander inheemse tale. Daar kan nie nou langer water getrap word nie oor die uiterste noodsaaklikheid vir die staat om te besin oor die meertalige aard van die Suid-Afrikaanse gemeenskap.

PEN Afrikaans doen hiermee ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om onmiddellik gelyke opvoeding vir alle Suid-Afrikaanse taalgroepe te verseker deur meertaligheid as uitgangspunt te aanvaar.

Ons eis dat moedertaal-onderrig die hoeksteen moet word van ons meertalige bestel, en dat die staat ophou om groot dele van ons bevolking te vervreem van gehalteopvoeding, hulle intellektueel te verarm en hulle te verdoem tot lewens van knegskap en armoede weens onbegrip van die taal wat op hulle afgedwing word, naamlik Engels.

Geen ekonomies, intellektueel en/of polities toonaangewende land in die wêreld dwing die meerderheid van sy bevolking om in ’n tweede of derde taal onderrig te word nie.

Ons betreur die feit dat die Universiteit van Stellenbosch se besluit om Engels te aanvaar as verstektaal, die Afrikaanse gemeenskap ontneem van ’n sentrum waar die onderwysers van die toekoms opgelei kan word om kennis deur medium van Afrikaans aan skoliere oor te dra. Ons is uiters bewus daarvan dat dit rampspoedige gevolge vir die groei en oorlewing van Afrikaans as gebruiks-, wetenskaplike, kunste- en handelstaal sal hê.

Ons skaar ons egter in hierdie besef by ons landgenote wat deur die apartheid-regime én die huidige regime die kans ontneem is om in hul moedertaal kennis te verwerf, hoofsaaklik weens ’n minderwaardige onderwysstelsel bedryf deur mense wat self nie Engels ten volle magtig is nie.

Ons eis dat die staat in ag neem dat die getal Engelse moedertaal-gebruikers ver oorskadu word deur die hoeveelheid moedertaal-gebruikers in sowel Zoeloe en Xhosa as Afrikaans. Dit is ewe noemenswaardig dat daar eweveel moedertaal-gebruikers van Setswana, Sepedi en Sesotho is as wat daar van Engels is.

Ons beskou dit as een van die wrangste ironieë in die geskiedenis van Suid-Afrika dat die regering toesien en meehelp dat Engels, die taal van die kolonialiseerder, die botoon voer bo al die inheemse tale, waaronder ons Afrikaans tel.

In dieselfde jaar dat die #RhodesMustFall-proteste daarin geslaag het om ’n standbeeld wat Britse imperialisme simbolies verteenwoordig, van die Universiteit van Kaapstad se kampus te verwyder, wil die regering kennelik toesien dat Rhodes se taal die enigste toegang tot kennis en demokratiese deelname word. Hierdie soort “dekolonisering” in Engels is ’n oksimoron en ’n voorbeeld van verdere selfkolonisering. Ons voorvaders is in hierdie land gedwing om die taal van die Britse koloniseerder te praat, maar in die jaar 2015 besluit ons vrywillig om aan te dring op tersiêre onderrig in uitsluitend daardie taal?

Dit is nou die tyd om hierdie proses te stuit. Om voort te gaan om Engels af te dwing op skoliere wat dit nie verstaan nie, is een vorm van verraad teenoor die burgers van ons land; om te verhinder dat aan opleidingsbehoeftes voldoen word in alle plaaslike tale, is verraad nie alleen teenoor hulle wat so hard geveg het om hierdie land van sy koloniale juk te bevry nie, maar ook die geslagte van die toekoms wat geen kans het om die kulturele erfenis van hul moedertaal te bestendig en oor te dra na volgende geslagte nie.

Die nuwe, voorgestelde taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch is een van die laaste stuiptrekkings van Afrikaans as taal van tersiêre onderrig as dit, soos al duideliker blyk, ook by Tukkies, die NWU en die UV dood verklaar gaan word. Ons eis dat die regering nie alleen die risiko’s hieraan verbonde erken nie, maar ook dat daar van owerheidskant rekenskap gegee sal word van wat gedoen gaan word om die enorme agterstand wat die ander inheemse tale reeds op tersiêre vlak het, uit te wis.

Ons eis voorts dat die lede van die Raad van die US, wat op 30 November 2015 oor die aanvaarding van hierdie voorgestelde nuwe taalbeleid moet besluit, hul stem daarteen sal uitbring omdat dit Engels bevoordeel ten koste van alle ander landstale. Ons eis dat die Raad oop kaarte speel oor die mate waarin finansiële oorwegings en politieke druk van owerheidskant agter die nuwe taalbeleid sit. Ons eis verder dat elke Raadslid sy of haar stem openbaar maak, sodat die breë publiek ten volle ingelig is omtrent die besluite wat namens hulle geneem word.

Ons doen ten slotte ’n beroep op die Suid-Afrikaanse parlement om, as saak van uiterste dringendheid, aan die parlementêre Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalgemeenskappe opdrag te gee om die marginalisering van inheemse tale te ondersoek en ’n aanbeveling te maak oor die aanwysing van universiteite wat na die verskillende taalbelange kan omsien.

PEN Afrikaans

PEN Afrikaans demands that multilingualism and mother-tongue education become the cornerstones of the South African education system and that the language policy at Stellenbosch University be reconsidered

[Die Afrikaanse weergawe van hierdie verklaring is bo die Engels te lees.]

The public’s shocked reaction regarding the proposed abolition of Afrikaans as one of the default languages ​​at Stellenbosch University, has brought Afrikaans to the same crossroads already faced by the other indigenous languages ​before the days of the Apartheid regime. Afrikaans’ last bastion as a privileged language is now gone, and the language finds itself in more or less the same position as all the other indigenous languages. There can now be no more delays in the extreme necessity for the state to consider the multilingual nature of the South African society.

PEN Afrikaans hereby urges the South African government to immediately ensure equal education for all the South African linguistic groups by accepting multilingualism as a point of departure.

We demand that mother-tongue education should become the cornerstone of our multilingual dispensation, and that the state should stop alienating our people from quality education, impoverishing them intellectually and condemning them to lives of servitude and poverty due to a lack of understanding of the language forced upon them, namely English.

No economically, intellectually and/or politically prominent country in the world, forces the majority of its population to be taught in a second or third language.

We lament the fact that the decision of Stellenbosch University’s to accept English as the only default language of instruction is depriving the Afrikaans community of a centre where the teachers of the future can be trained to transfer knowledge through the medium of Afrikaans to pupils. We are very aware that this will have disastrous consequences for the growth and survival of Afrikaans as a language for common use, science, the arts and commerce.

Yet we hereby side with our compatriots in realising that the Apartheid regime as well as the current regime have denied them the opportunity to acquire knowledge in their mother tongue, mainly due to an inferior education system run by people who are not fully conversant in English.

We demand that government takes into account that the number of English mother-tongue speakers is overshadowed by the number of mother-tongue speakers of isiZulu, isiXhosa and Afrikaans. It is equally noteworthy that the number of mother-tongue users of Setswana, Sepedi and Sesotho is approximately equal to that of English.

We regard it as the wryest of ironies in the history of South Africa that the government ensures and assists that English, the language of the coloniser, will prevail over all the indigenous languages, amongst which we list Afrikaans.

In the same year that the #RhodesMustFall protests have succeeded in removing a statue, symbolically representing British imperialism, from the University of Cape Town’s campus, the government wants to ensure that Cecil John Rhodes’ language becomes the only access to knowledge and democratic participation. This kind of “decolonisation” in English is an oxymoron and is an example of further self-colonisation. Our ancestors in this country have been forced to speak the language of the British colonisers, but in 2015 we decide to voluntarily insist that tertiary teaching be exclusively delivered in that language?

Now is the time to stop this process. To continue forcing English onto pupils who do not understand it, is one way of betraying the citizens of our country; to prevent our training needs from being fulfilled in all local languages, is a betrayal not only to those who have fought so hard to liberate this country from the colonial yoke, but also of future generations who are denied the opportunity to consolidate and transfer the cultural heritage of their mother tongue to the next generations.

The new proposed language policy of the Stellenbosch University is the last convulsion of Afrikaans as a language of instruction after it will most probably be pronounced dead as a language of tertiary instruction at the University of Pretoria, The North West University and the University of the Free State. We demand that the government not only acknowledge the risks associated with it, but also that government give account of what will be done to eradicate the enormous backlog that the other indigenous languages ​​already have at tertiary level.

We demand that the members of Stellenbosch University’s Council, who need to vote on this policy on 30 November 2015, cast their votes against the proposed language policy which promotes English at the expense of all indigenous South African languages. We insist that the Council make public to what extent financial considerations and political pressure from the government played a role in forging the new language policy. We further demand that each Board Member makes public his or her vote, so that the general public can be fully informed about the decisions made on their behalf.

We finally call on the South African parliament to instruct, as matter of extreme urgency, the parliamentary Commission for the Promotion and Protection of the Rights of Cultural, Religious and Linguistic Communities to investigate the marginalisation of indigenous languages and to make a recommendation on the appointment of universities that can assume proper responsibility for these linguistic interests.

PEN Afrikaans

PEN Afrikaans. Die diktaat van Open Stellenbosch (Breytenbach)

Friday, November 13th, 2015

Beste lid van PEN Afrikaans

Die Universiteit van Stellenbosch skenk tans oorweging daaraan om Engels die verstektaal in hul aktiwiteite te maak. Afrikaans en Xhosa sal as doseertale gebruik word as daar studente is wat dit versoek. Die universiteitsraad moet op 30 November die finale besluit oor dié nuwe taalbeleid neem.

Ons plaas hierby die reaksie van een van ons lede, Breyten Breytenbach, op die voorgestelde nuwe taalbeleid. Ons sien daarna uit om van ander lede te hoor.

Die Bestuur: PEN Afrikaans

*****
Die diktaat van Open Stellenbosch

Breyten Breytenbach. Coraldraw van 'n foto geneem deur Johan Kotze.

Breyten Breytenbach. (CorelDraw digitale verwerking van ‘n foto geneem deur Johan Kotze.)

Dit maak eintlik nie saak hoe die rektor se bestuurspan se aanbeveling/besluit betreffende die Universiteit van Stellenbosch se taalbeleid ingeklee, bewimpel of opgedollie word nie. Dit maak ook geen saak dat dié wat reeds oorgegee het nog praat van ‘n beleid wat deur die Raad bekragtig moet word nie. Dis beledigend om te wil voorgee hierdie besluit is geneem (en is waarskynlik al ‘n geruime tyd onafwendbaar) met enige sin of begrip van wat ‘n universiteit behoort te wees en die waardes wat dit veronderstel is om te inkarneer, of dat dit geneem sou wees met die belange van die studente in gedagte of selfs met die oog op die belange van die land nie. Dis beledigend en aanstootlik dat ‘demokrasie’ soos ‘n vrot vis voorgehou word om die stank van die karkas wat hierdie hele proses is te probeer verdoesel.

Die beleidsbesluit is geneem deur ‘n aantal opportuniste wat geen sin of begrip het van wat ‘n taal beteken en dra en verteenwoordig en ontsluit en waar dit vandaan kom nie – énige taal, selfs Engels. En dit is geneem onder druk van ‘n groep mense wat in feite ook niks voel vir wat ‘n universiteit, énige universiteit, veronderstel is om aan te bied nie.

Daar sou ten minste ‘n greintjie eer kon gered word indien die universiteitsowerhede erken dat ‘n taal maar net ‘n kommunikasiemiddel is, hoe eenvoudiger hoe beter, dat hulle in feite nie omgee vir etiese oorwegings of begrippe soos ‘geskiedenis’ of ‘meervolkigheid’ of ‘identiteit’ of toegang tot kennis, of dat daar enige aanspraak op verantwoordelikheid teenoor die Afrikaans van die Bruin meerderheid in die Weskaap is nie. Dit sou al help indien die universiteitsowerhede rondborstig wou erken dat dit nog altyd deel was van die bestaansvesel van die Universiteit van Stellenbosch om die poitieke hegemonie van die dag na die mond te praat –  en dan die karkas van dom lafhartigheid en sinisme te bewimpel in die kleed van akademiese oorwegings, of finansiële haalbaarheid, of om die onaanvaarbare toe te smeer onder voorwendsels van ‘bestuur’. Mens sou byna die beginselvasheid kon bewonder. Mens sou dit objektief kon bejammer as die jakkalsdraaie van ‘n instinktiewe fascisme as dit nie so treurige skouspel was nie.

Nouja, daar sal seker nie ‘n vlag gehys word nie, selfs nie eens die wit vlag nie. Dis nie nodig nie. Maar hierdie Vrydag die dertiende sal onthou word as die dag waarop die onverantwoordelikheid, gemaksugtigheid, domheid en ruggraatloosheid van die universiteitsowerhede vir ‘n oomblik in die geskiedenis duidelik was vir almal om te sien, insluitende dié wat nou hulle ‘oorwinning’ vier. Dis ‘n skande wat onthou sal word.

Breyten Breytenbach

Vat vyf, Danie Marais: Bestuurshoof van PEN Afrikaans

Wednesday, December 3rd, 2014

Danie, nogmaals van harte geluk met jou aanstelling as PEN Afrikaans se voltydse bestuurder. Hoe sien jy die taak wat op hande is?

PEN Afrikaans se amptelike missie is:

  • Om ’n sentrum te vestig vir Afrikaanse skrywers wereldwyd
  • Om vir Afrikaans en sy woordkunstenaars ’n vaste en gerespekteerde plek in die internasionale skrywersgemeenskap – soos verteenwoordig deur  PEN International – te verwerf
  • Om die belange van Afrikaans en spesifiek die Afrikaanse boek te dien
  • Om Afrikaanssprekendes orals  in die wêreld, veral ook in Namibië, aan te moedig om deel te hê aan ons strewe
  • Om, gegewe aanduidings dat Afrikaans se grondwetlike regte nie genoegsaam eerbiedig word nie, op waardige wyse te stry vir ’n vaste plek vir Afrikaans in Suid-Afrika
  • Om die belange van woordkunstenaars te dien ten opsigte van wetgewing, kopiereg, en outeursregte; spesifiek, om stelling in te neem teen alle vorme van sensuur
  • Om geletterheid, belangstelling in die Afrikaanse boek, en kreatiewe gebruik van Afrikaans op alle vlakke van die gemeenskap te bevorder
  • Om mee te werk aan verwante inisiatiewe, insluitend noue samewerking en gedeelde projekte met South African PEN …

Dít is ’n bekvol. Ek hoop om ’n bydrae te lewer tot hierdie strewe. As PEN Afrikaans die belange van Afrikaans en spesifiek die Afrikaanse boek wil dien, moet ons myns insiens fokus op twee dinge:

1) ’n Beter koördinering tussen Afrikaanse kultuurorganisasies, media, uitgewerye en die skole en universiteite waar Afrikaans geleer word.

2) Die vul van leemtes wat in ons taalkulturele stelsel onstaan het

By punt 2 dink ek veral aan die leemtes wat met die heengaan van Insig, Boeke-Insig en die samesmelting van die Afrikaanse dagkoerante se boekeblaaie  ontstaan het. Hier is dit ook belangrik om in ag te neem dat nie net Afrikaanse skrywers van fiksie, poësie, toneelstukke, draaiboeke en nie-fiksie ondersteuning nodig het nie, maar ook akademici wat in Afrikaans wil publiseer en Afrikaanse joernaliste. As gevolg van die digitale revolusie wat om ons woed, het die tradisionele sakemodel van koerante en tydskrifte verbrokkel. Die gevolg is dat baie Afrikaanse joernaliste sonder werk en/of publikasieruimtes sit.

PEN Afrikaans werk tans aan ’n paar idees en konsepte. Die deurvoerbaardheid daarvan sal egter afhang van befondsingsmoontlikhede en die deelname van almal wat in en met Afrikaans wil werk en leer.

In welke mate glo jy sal PEN Afrikaans jou in staat stel om juis dié doelwitte te bereik?

 Ek sien PEN Afrikaans as ’n uitdaging en ’n geleentheid. PEN Afrikaans is ’n virtuele lappie grond waarop ek een van die deelsaaiers is. Ek en ander ondersteuners van dié inisiatief sal, met ander woorde, baie vir PEN Afrikaans moet doen sodat PEN Afrikaans iets vir Afrikaans en sy skrywers en lesers kan doen.

PEN Afrikaans se affiliasie met PEN Internasionaal is egter ’n voordeel wat nie onderskat moet word nie. Afrikaans se grootste geestesarmoede gedurende die Apartheidsjare was isolasie. Die gesprek en vennootskap met PEN Internasionaal gee ons toegang tot ’n organisasie wat globaal met die bevordering van taalregte, vryheid van spraak en ’n pro-aktiewe, progressiewe lees- en skryfkultuur gemoeid is. Dis baie belangrik dat Afrikaans deel word en deel bly van so ’n verenigde nasies van skrywers en taalregte.

Jy is bekend daarvoor dat jy dikwels ’n meer inklusiewe benadering (as eksklusiewe) voorstaan. Hoe plaas jy ’n Afrikaanse skrywersorganisasie soos PEN Afrikaans byvoorbeeld binne die groter konteks van ’n multilinguale land?

Aan die een kant is dit baie duidelik waarvoor PEN Afrikaans staan. Wanneer jy lid word, onderskryf jy die volgende handves van PEN Internasionaal wat deel van ons aansoekvorm om lidmaatskap is:

DIE HANDVES

Die PEN-handves is gegrond op besluite wat by ons internasionale kongresse geneem is en kan soos volg saamgevat word:

PEN bevestig dat:

  • Letterkunde geen grense eerbiedig nie en in weerwil van politieke of internasionale woelinge gemeengoed tussen mense moet bly.
  • Onder alle omstandighede, en veral ten tye van oorlog, behoort die erfenis van die ganse mensdom onaangetas deur nasionale of politieke dryfvere te bly.
  • Lede van PEN behoort te alle tye die invloed tot hul beskikking te gebruik om goeie begrip en onderlinge respek tussen volkere te bevorder; hulle onderneem om hul uiterste bes te doen om rasse-, klasse- en nasionale haat te besweer, en om die ideaal van een mensdom wat in vrede in een wêreld woon, na te streef.
  • PEN staan vir die beginsel van onverhinderde oordrag van denke binne elke volk en tussen alle volkere, en lede onderneem om elke vorm van onderdrukking van spraakvryheid in die land en in die gemeenskap waartoe hulle behoort teen te staan, sowel as orals ter wêreld waar dit ook al moontlik is. PEN is ten gunste van ‘n vrye pers en staan arbitrêre sensuur in vredestyd teen. Die vereniging glo dat die noodwendige voortgang van die wêreld na ‘n hoogs georganiseerde politieke en ekonomiese orde vrye kritiek op regerings, administrasies en instellings nodig maak. En aangesien vryheid vrywillige beheer veronderstel, onderneem lede om sodanige euwels van ‘n vrye pers soos leuenagtige publikasie, opsetlike onwaarheid en die verdraaiing van feite vir politieke of persoonlike gewin teen te staan.
  • Lidmaatskap van PEN is oop vir alle kwalifiserende skrywers, redakteurs en vertalers wat hulle by dié beginsels neerlê, ongeag hul nasionaliteit, etniese afkoms, taal, kleur of godsdiens.

Danie Marais

Binne die Suid-Afrikaanse bestel waar meertaligheid in teorie deur die Grondwet verskans word, maar in die praktyk onder beleg is, het PEN Afrikaans egter ook ’n taal-aktivistiese komponent. Hierdie aktivisme berus nie vir my of enige ander lede van die bestuur op ’n taalchauvinistiese beskouing wat wil beweer Afrikaans is op een of ander manier verhewe bo ander landstale nie. Ons koppel ook nie Afrikaans aan ’n spesifieke leefwyse, godsdiens of waardestelsel nie. Ons wil Afrikaans graag sien voortbestaan soos wat enige natuurliefhebber graag die ysbeer wil sien oorleef. En soos die ysbeer is Afrikaans ’n “dier” – dit wil sê nie goed of sleg nie, maar ’n unieke, kosbare manier van wees in die wêreld. Afrikaans het ook, soos die ysbeer, ’n bedreigde, krimpende habitat en daardie bedreiging is ’n sameloop van allerhande ingewikkelde omstandighede wat beïnvloed word deur baie veranderlikes.

Om te baklei vir ’n lewensruimte vir Afrikaans binne ’n demokratiese, veeltalige bestel is niks anders as om te veg teen globalisering en die blinde pragmatisme van die vrye mark nie. Globalisering beteken groot korporasies en franchises gedy oor alle grense heen ten koste van al wat ’n klein, onafhanklike onderneming en ondernemer is. Die dodelike logika van ongebreidelde kapitalisme bepaal: “If it don’t make dollars, then it don’t make sense” (soos Blackroc en The Black Keys dit netjies opsom in “Dollaz & Sense”).

Op dieselfde manier word Engels in die naam van kommunikasie, pragmatisme, skaal,  besparing en internasionalisme ten koste van alle ander tale in Suid-Afrika bevorder. En dit kom uiteindelik neer op ’n hopelose, minderheidsveragtende oorvereenvoudiging van ’n gelaaide, bitter ingewikkelde situasie.

Ek staan dus vir Afrikaans nes ek staan vir onafhanklike uitgewerye, platemaatskappye, tydskrifte, koerante en boekwinkels.

Stel dit so: niemand gaan my oortuig Dan Brown, Lady Gaga en Hollywood-flieks is al wat daar is om te lees, luister en kyk nie. Dis soos daai ou grappie: Demokrasie is drie wolwe en een skaap wat stem oor wat hulle graag vir aandete wil hê. Demokrasie en die vrye mark gaan nie outomaties sorg vir minderheidsgroepe, klein ondernemings of meertaligheid nie. Die ordenende onsigbare hand van die mark is waarskynlik onsigbaar omdat hy nie bestaan nie.

As jy omgee vir Afrikaans sal jy moet moue oprol en betrokke raak.

Jy het vroeg in November ’n interresante kongres oor Afrikaans en haar pad vorentoe bygewoon. Kan jy vir ons so in die breë jou indrukke hiervan gee?

 Ek het by die eerste De Ark-“boetiekkunstefees” in Lydenburg deelgeneem aan ’n paneelbespreking met die tema: “Afrikaanse kuns en kultuur – quo vadis?” Saam met my op die paneel was die sanger, musiekvervaardiger en een van die hoofrolspelers in die Voëlvry-beweging Dirk Uys, asook fliek- en TV-vervaardiger en omroeper Deon Maas, skrywer-joernalis-sanger Rian Malan, professor Christo Lombard van UNISA se Departement Spiritualiteit en die jong rolprentvervaardiger Niel van Deventer wat pas Jaco Jacobs se Suurlemoen verfilm het.

Daar is lekker heftig gedebatteer oor Steve Hofmeyr se Stem-singery en Dookoom se liedjie en musiekvideo “Larney, jou p**s”. Daar was beslis ook geen algemene konsensus oor die toekoms van Afrikaans of die impak en belangrikheid van proteskuns nie.

Die afwesigheid van ’n onafhanklike kritiese publikasie soos Die Vrye Weekblad is wel deur almal betreur. Die meeste paneellede was dit ook eens dat daar steeds beduidende woord- en filmkuns in Afrikaans gemaak word, maar dat die toekoms onvoorspelbaar en onseker is. (Dirk Uys het die gesprek laat opneem en hopelik sal dit ook nog iewers digitaal beskikbaar gemaak word.)

 Uiteindelik meen ek die posisie van Afrikaans is baie soortgelyk aan dié van onafhanklike joernalistiek wêreldwyd. Baie mense wil dit hê, maar min mense is bereid om daarvoor te betaal of op te offer.

As Afrikaanse skryfwerk en joernalistiek van gehalte vir jou belangrik is, sal jy emosioneel en finansieel daarin moet belê. Anders gaan niemand behalwe trustfondskinders kan bekostig om hul tyd en energie daarin te steek nie.

Dankie vir hierdie volledige uiteensetting, Danie. Uiteraard is die bevordering van die Afrikaanse letterkunde een van PEN Afrikaans se primêre doelstellings. Hoe voel jy persoonlik oor die stand van ons letterkunde tans?

Ek gaan my nek uitsteek en sê ek dink die laaste dekade was ‘n baie goeie een vir ons letterkunde. Daar word werk van wêreldgehalte in prosa en drama gelewer wat glad nie vanselfsprekend is vir ‘n klein letterkunde soos ons s’n nie. Ons poësie is selfs in ‘n gesonder toestand as tien jaar gelede. Daar het nie net ‘n hele rits indrukwekkende bundels verskyn nie; daar word ook meer poësie met ‘n groter tematiese en stilistiese verskeidenheid uitgegee.

MAAR: Ek is bekommerd oor die volgende dekade en daarna. Die Afrikaanse letterkunde van die toekoms gaan deurslaggewend beïnvloed word deur die toegang van Afrikaanssprekendes tot moedertaalonderrig op primêre, sekondêre en tersiêre vlak. Die gesprek om die Afrikaanse boek kan ook net gesond bly indien die resensiebedryf nie saam met die Afrikaanse joernalistiek tot in die lewe teruggesnoei word nie. Afrikaans-departemente aan universiteite wat krimp of sluit, is ‘n verdere bron van kommer.

Kortom, die Afrikaanse letterkunde is steeds die moeite werd. As ons wil hê dit moet lewenskragtig bly, moet ons nou pro-aktief begin plan maak om bestaande strukture te versterk en die leemtes aan te spreek wat al groter gaap.

Groete van die PEN-kongres in Egoli.

Danie / Desember 2014

Kerneels Breytenbach. PEN Afrikaans.

Saturday, June 28th, 2014

1.

Ek wil hierdie nuusbrief begin met iets wat my persoonlik raak. Ek het my loopbaan as joernalis in 1976 begin by die Kunsblad van Beeld. Dit is daar waar ek geleer het dat ’n koerant met ’n ordentlike kunsblad ’n koerant met ’n siel is.

Die besluit deur die bestuur van Beeld om dié koerant se Kunsblad te sluit, raak my dus persoonlik, omdat dit die joernalistieke waardes wat ek by Naspers geleer en uitgeleef het, verloën. Dit pluk die hart uit die koerant.

Dit is ’n besluit wat ek as joernalistieke barbaarsheid beskou en een wat, hoop ek, deur die bestuur van Media24 met dieselfde pragmatisme benader sal word as wat hulle aan die dag gelê het met hul misplaaste besluit om Volksblad se nek om te draai en dit deel van Beeld te maak.

Sekerlik sal daar redes aangevoer kan word vir die wegmaak van Beeld se Kunsblad en die verlies van kundige, gerespekteerde kunsjoernaliste. Deur die jare was dit altyd dat die blad nie advertensies lok nie (hoeveel lok die sport- en politieke blaaie?) en dat ’n minderheid van die koerant se lesers dit lees.

Daar word dikwels beweer dat die Kunsblad nie ’n sirkulasiebouer is nie. Seker nie. Maar dit is nie die huidige Kunsblad se inhoud wat Beeld se sirkulasiesyfers geknou het nie.

Die feit is net dat as daar nie ’n Kunsblad is nie, is daar geen rekord van die Afrikaner se kulturele belewenis in Beeld se groot verspreidingsgebied nie. Dit is op daardie bladsye waar mens kan sien wat die intellektuele en kulturele peil is wat Afrikaanse lesers kan nastreef. Dit is deur die Kunsblad wat lesers nie alleen hul eie kultuur sien leef nie, maar ook dié van die ander Suid-Afrikaanse kultuurgroepe.

Die groot prestasie van Beeld se Kunsblad was sedert 1974 die reikwydte van sy dekking, die gehalte van die skryfwerk op daardie blaaie, en die integriteit van sy kunsjoernaliste en medewerkers van die blad. Deur die jare was die Kunsblad – in al sy verskillende gedaantes, ek gebruik “Kunsblad” oorkoepelend  –  ’n vriend en vennoot van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse letterkunde. Sy sluiting is nie iets wat Afrikaanse skrywers nie kan bekostig nie – dit is een van die min plekke waar ons stemme nog gehoor kan word. Waar ons met en onder mekaar kan gesels. As ’n koerant soos Beeld sy Kunsblad sluit, begin hy swyg oor die dinge wat Afrikaanse skrywers, akteurs en akademici raak. Maak nie saak wat hul politiek is nie.

Dis was nog altyd vir my ’n saak van trots om mede-Suid-Afrikaners te wys op die maniere waarop die kunsblaaie van Beeld, Die Burger en Volksblad die toon aangee en in meeste opsigte strate beter is as dié van hul eweknieë in plaaslike Engelse koerante. Voortaan sal ek maar by voorbaat moet toegee dat Beeld en die Star ewe vaal en voos is.

En dan onvermydelik die volgende vraag: Gaan die Boekeblad die mes van die winsjagters vryspring?

Dit is vir my moeilik om te aanvaar dat die koerant wat my in 1976 bekeer het tot die saak van Afrikaanse kultuurjoernalistiek, nou weinig daarvoor voel. Het Beeld ophou omgee oor Afrikaanse skrywers, dramaturge, toneelspelers, televisiemense, et al?

Tot sover my persoonlike gevoelens. Omdat PEN Afrikaans nie alleen Afrikaanse skrywers verteenwoordig nie, maar ook Afrikaanse joernaliste, dan die volgende:

Ek doen namens PEN Afrikaans ’n beroep op Beeld om sy Kunsblad in ere te herstel en daardeur na die belange van sowel sy lesers as die Afrikaanse kultuurbelewing in sy verspreidingsgebied om te sien.

Ek doen die beroep met inagneming van die feit dat Beeld die laaste plek in die noorde van ons land is waar Afrikaanse kulturele joernalistiek nog aktief bedryf word. Die sluiting van Beeld se Kunsblad is ’n marginalisering van die Afrikaanse kultuur vanuit eie geledere.

Dit gaan nie vir ons oor verandering en die oorlewing van die pers nie. Ons is bewus van die ongekende groei wat vir die Afrikaanse media in die kuberruim moontlik is. Ons is oortuig daarvan dat die Kunsblad daardie groei eerder sal bestendig as vertraag.

Ons doen ’n beroep op Beeld om getrou te bly aan die koerant se strewes met sy vestiging, naamlik om borg te wees vir die sake van die gees – op papier én op sy webwerf.

2.

Die lang gesloer met ons registrasie as nie-winsgewende maatskappy is agter die rug, en vir die eerste keer kan ons aktief begin funksioneer as ’n organisasie wat omsien na die belange van Afrikaanse skrywers.

Met die oog op die onmiddellike toekoms het die bestuur op 22 Junie byeengekom vir ’n dinkskrum. Met Theuns Eloff as fasiliteerder, was dit ’n besonder positiewe wisseling van idees oor hoe PEN Afrikaans nie alleen meer kan beteken vir sy lede nie, maar ook vir die leserspubliek. En as ons praat van leserspubliek, het ons gedink aan sowel diegene wat reeds lank aan die lees van Afrikaanse boeke voorkeur gee, as hulle wat nou op skool is en vir die eerste keer kennis maak met Afrikaanse lektuur.

Hieruit het voortgespruit gedagtes oor moontlike projekte waaraan ons in die volgende weke ernstig navorsing sal doen om te sien waar toepaslike wegspringplekke is.

Ons dink dat PEN Afrikaans veral aandag kan skenk aan gemeenskapsprojekte waardeur skoolbiblioteke ondersteun kan word (én dormante skoolbiblioteke geaktiveer kan word), asook opstelkompetisies; begeleiding van voornemende of nuwe skrywers; skakeling met leeskringe en ’n teenwoordigheid by geleenthede soos Aardklop en die KKNK; ons wil ons beywer vir die groter sigbaarheid en beskikbaarheid van besprekings van Afrikaanse boeke wat gepubliseer word.

Dit is alles nog net voornemens en met die hulp van PEN Afrikaans se bestuur sal ek in die volgende maande werk maak van die praktiese uitvoering van hierdie strategiese denke.

3.

Een van die dinge wat ons reeds geïdentifiseer het, is die probleme wat jong of nuwe skrywers ondervind met hul manuskripte. Te oordeel na die gereeldheid waarmee ek self deur mense gevra word om manuskripte te lees of raad te gee vir publikasie, is so-iets baie noodsaaklik.

‘n Manier moet gevind word om leiding en begeleiding te gee aan die mense wat Afrikaans op hierdie manier lewenskragtig hou. Vir my gevoel sal dit reeds oneindig baie help as ons aan ons lede, en toekomstige lede, gegewens kan gee van die mense wat op ’n professionele en betroubare basis manuskrip-begeleiding kan gee, of kan help om manuskripte gereed te kry vir voorlegging aan uitgewers.

In die jare wat ek aan ’n uitgewery verbonde was, het ons altyd gepraat van die slush pile – die hoop van manuskripte wat ongevraagd voorgelê word vir publikasie. Dit is nie vir uitgewers altyd moontlik om noukeurig aandag te gee aan al daardie manuskripte nie, en tensy hulle mense vra om dit vir hulle te beoordeel, kom dit gewoonlik daarop neer dat iemand die slush pile takel – en as ’n manuskrip nie binne die eerste twintig of wat bladsye die verbeelding van die leser aangryp nie, word dit teruggestuur.

As ’n skrywer gehelp kan word om ’n manuskrip voor te lê wat in sy geheel gelees en beoordeel word, het ons alreeds ver gevorder. PEN Afrikaans wil vir sy lede ’n databasis skep van mense wat manuskripte help ontwikkel. Ons is reeds bewus van verskeie sulke persone. Indien enigiemand sy/haar naam by só ’n databasis wil laat insluit, laat weet my asb. by penfrikaans@gmail.com.

4.

Ek het met die uitgewers van Afrikaanse boeke geskakel oor die bekendmaking van inligting oor alles wat in Afrikaans verskyn. Ek wil elke maand hier ’n lys verskaf van die titels wat in die voorafgaande maand verskyn het.

Enersyds sal dit mense help om by boekwinkels navraag te doen oor titels – en dit te bestel indien die boekwinkels dit nie in voorraad het nie. Of die vingerroete Amazon en Kalahari toe te slaan.

Ondervinding het geleer dat boekliefhebbers nie te kampe het met drempelvrees nie, maar as hulle in boekwinkels kom en nie weet na watter titels hulle moet of kan soek nie, sal leser en boek nooit by mekaar uitkom nie.

Hopelik sal die inligting teen die tyd wat die volgende nuusbrief moet verskyn, begin instroom.

5.

Nog ’n saak wat genoem tydens ons dinkskrum, is die behoefte wat daar by skrywers is om helderheid te kry oor sake rondom die kontrakte wat hulle met uitgewers moet sluit.

Outeurskontrakte was iets waarop ek skerp gefokus het in my tyd by H&R en NB, en ek het geleer dat ’n eenvoudige gesprek dikwels help om groot wrywing uit te skakel.

Ek wil ons lede aanmoedig om my te kontak oor sulke sake. Ek sal help sover ek kan, andersins hulle verwys na kundiges op die gebied van kontrakte. Indien die lede se reaksie dit regverdig, sal ek ondersoek instel na ’n meer formele kanaal.

6.

Ek sal ander sake voortspruitend uit die dinkskrum mettertyd opneem: Gereelde byeenkomste vir lede van PEN Afrikaans; ’n Afrikaanse boekeweek; kortings vir lede by boekwinkels, en so meer. Maar die belangrikste saak sal heel eerste aan die beurt kom.

Die bestuur het besluit om bestuurder aan te stel wat op ’n deurlopende basis kan sorg dat ons projekte glad verloop, omsien na lede en hul navrae, en in die algemeen sorg dat kommunikasie behoorlik geskied na alle kante toe. Die persoon sal gemoeid wees met die werwing van nuwe lede, identifisering van nuwe projekte, die bepaling van die uitvoerbaarheid en die aktivering daarvan. Uiteraard sal die finansies en administrasie van PEN Afrikaans ook onder die bestuurder se verantwoordelikhede tel.

Dit is dringend nodig. Ek sal nog voor die volgende nuusbrief meer besonderhede oor die pos en sy inhoud uitstuur.

Kerneels Breytenbach
Voorsitter

Hoe voel ons lede? Ons hoor graag van julle – per kerende e-pos, of via ons Facebook-blad.

Persverklaring. Afskaling van Afrikaans aan die Universiteit van Kwazulu-Natal

Friday, November 1st, 2013

 

 

PEN Afrikaans neem met groot kommer kennis van die Universiteit van Kwazulu-Natal se voorneme om die doseer van Afrikaans as taal af te skaal tot eerstejaarsvak. Ons is besorg oor die opleiding van onderwysers in Afrikaans, en die uiters nadelige gevolge wat dit in die toekoms sal hêvir Afrikaans in die skole van Kwazulu-Natal.

UKZN maak tot nou toe ‘n onvervangbare bydrae tot die opleiding van onderwysers wat Afrikaans in Kwazulu-Natal kan doseer. Die Afrikaans-departement aan UKZN het vanjaar groot groei op eerstejaarsvlak gehad, en die inkorting sal effektief alle groeimoontlikhede in die kiem smoor.

Dit sal katastrofale gevolge vir die toekomstige dosering van Afrikaans in skole in Kwazulu-Natal hê.

Die departement kom oor die weg met ’n minimum personeel en is geen noemenswaardige finansiële las binne die School of Arts aan UKZN nie. Boonop word Afrikaans beskou as Afrika-taal,  en het ‘n belangrike rol gespeel in die vestiging van ‘n Zoeloe Literêre Museum in Pietermaritzburg. Hierdie ondersteunende rol wat deur die Afrikaans-departement gespeel word, sal noodwendig deur die afskaling vir die universiteit – en Suid-Afrika – verlore gaan.

Die departement het ‘n trotse tradisie binne die Afrikaanse letterkunde, met die digter D.J. Opperman, die taalkundige Gawie Nienaber, die egpaar Stoffel Nienaber en Miep Luitingh-Nienaber, die stigter van NALN en literatuurgeskiedskrywer PJ Nienaber, die bekende kritici en professore AP Grové en HP van Coller, die Neerlandikus Jacques van der Elst, asook professor Andries Visagie en die skrywers Ingrid Winterbach en Abraham H de Vries wat in die verlede deur dié universiteit gelok is om daar te doseer.

Ons eis ’n verduideliking van prof. Malegapuru Makgoba vir die besluit om Afrikaans aan UKZN te marginaliseer in ’n tyd waarin die departement ’n groot en wesentlike bydrae tot diéuniversiteit en provinsie lewer.

Uitgereik namens PEN Afrikaans

Kerneels Breytenbach

Voorsitter

PEN Afrikaans

Posbus 365

Wellington

7654

PEN Afrikaans. Voorsittersbrief aan alle lede

Tuesday, June 25th, 2013

 

24 Junie 2013

Beste PEN Afrikaans-lede

Ons het ’n baie bedrywige kwartaal agter die rug. Twee ruim skenkings van ons borge ten behoewe van PEN Afrikaans se werksaamhede, het ons in staat gestel om dadelik die bal aan die rol te sit met projekte wat andersins sou gesloer of glad nie van stapel gestuur sou wees nie.

Eerstens kon ons bekostig om PEN Internasionaal se Verklaring oor Digitale Vryheid, wat by die jaarvergadering aanvaar is, in Afrikaans te laat vertaal. Dit is ‘n belangrike dokument wat ook in plaaslike konteks toepaslik is en gebruikswaarde het. PEN Internasionaal het vroeër vanjaar versoek dat sentra dit in hul eie taal laat vertaal en dit was lastig dat ons (weens ‘n gebrek aan fondse) aanvanklik nie aan hul versoek kon voldoen nie. Intussen is die Afrikaanse vertaling egter by die ander gevoeg en danksy die gelukkige alfabetiese ordening staan dit heel bo-aan die lys vertalings op die PEN Internasionaal-webblad. Gaan kyk gerus daarna (by http://pen-international.org/pen-declaration-on-digital-freedom). Dit is ’n mooi illustrasie van hoe simbolies belangrik die gebaar was en ook van die wyse waarop ons lidmaatskap van PEN Internasionaal ons toegang gee tot kundigheid wat uit ’n breë basis put.

Tweedens kon ons twee jong Afrikaanse skrywers benoem vir PEN Internasionaal se Young Voices-kompetisie (ons het dit na die Jong Stemme-kompetisie herdoop). Elke sentrum het die geleentheid gekry om twee skrywers jonger as 30 in te skryf. Aangesien die wedstryd wil dien as aanmoeding tot vertalingsgeleenthede, moes alle sentra onderneem om hul wenverhale in Engels, Frans en Spaans te laat vertaal. Hoewel daar geen inskrywingsfooi was nie, was daar natuurlik wel koste verbonde aan dié vertalings.

Ons is bly dat ons die twee benoemdes – Christina van Deventer en Danie Stander – die kans kon gun om saam met soveel jong skrywers uit ander tale internasionaal aan die kompetisie deel te neem. Hul verhale is spesiaal vir die kompetisie geskryf en dié oorspronklike werk ding nou internasionaal mee. Indien hul verhale die internasionale beoordelaarspaneel beïndruk, kan Christina en/of Danie $1000 en ’n gratis reis na Reykjavik wen. Die weninskrywing word ook in die PEN International-tydskrif gepubliseer.

Selfs indien ons finaliste nié wen nie, kry hulle waardevolle blootstelling deurdat hul werk gelees word deur die invloedryke beoordelaarspaneel. Carole Blake van die literêre agentskap Blake Friedmann, wat Afrikaanse skrywers soos Deon Meyer, Marlene van Niekerk en Etienne van Heerden verteenwoordig, is een van die beoordelaars. Só hou ons Afrikaans dus op ’n klein manier in die oog.

Altwee hierdie jong skrywers is terloops ewe vaardig in Engels as Afrikaans (een van die twee praat ook Yslandies). Hulle het dit opwindend gevind om saam met die vertalers te werk en was baie opgewonde oor die kans om internasionaal mee te ding. Ek glo graag dat projekte soos hierdie, wat geleenthede in Afrikaans skep, meehelp om te keer dat talentvolle Afrikaanssprekendes volledig na ander tale migreer. Deur die kompetisie het ons ook ’n mentorskaprol vir jonger skrywers vervul.

’n Ander belangrike ontwikkeling is dat PEN Afrikaans tans baie nou saamwerk met die bestuur van PEN Internasionaal om befondsing te vind vir ’n jaarlange internasionale navorsingsprojek oor hoe minderheidstale en taalregte skrywers wat in daardie tale werksaam is, affekteer. PEN Internasionaal het PEN Afrikaans uitgesonder as een van die handjievol sentra met wie hulle graag wil saamwerk aan hierdie projek. Ons is tans besig om die aansoek te verfyn wat ons eersdaags aan UNESCO se Internasionale Fonds vir Kulturele Diversiteit gaan stuur.

Hoewel ons weens koste-oorwegings voorlopig besluit het om nié vanjaar ’n afgevaardigde na die jaarkonferensie van PEN Internasionaal in Ysland te stuur nie, gaan ons voort met die plan om ons volgende ledevergadering in Potchefstroom tydens die Aardklop-kunstefees te hou. Die amptelike kennisgewing oor die jaarvergadering word spoedig uitgestuur.

Intussen verwys ons u graag na die nuutgestigte PEN Afrikaans-blad op Facebook, wat baie entoesiasties ontvang is, asook die Kopskote-blog (http://kopskote.wordpress.com) wat ek en mede-bestuurslid Desmond Painter pas begin het. Ons webblad bly voorlopig op die LitNet-portaal staan.

Met vriendelike wense,

SONJA LOOTS
Voorsitter

Sonja Loots

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Desmond Painter. Kopskote: PEN Afrikaans se nuwe blogruimte

Saturday, June 22nd, 2013

Besoek gerus PEN Afrikaans se nuwe blogruimte, Kopskote. Dit word tans deur my en Sonja Loots behartig, en ons hoop om dit ‘n lewendige ruimte te maak waar kwessies rondom letterkunde, menseregte en politiek bespreek sal word. Vir die wat nog nie weet nie, PEN Afrikaans is ‘n lid van PEN Internasionaal, en ons missie word soos volg uiteengesit:

 

  • Om ’n sentrum te vestig en in stand te hou vir Afrikaanse skrywers wêreldwyd.
  • Om vir Afrikaans en sy woordkunstenaars ’n vaste en gerespekteerde plek in die internasionale skrywersgemeenskap – soos  verteenwoordig deur  PEN International – te verwerf.
  • Om die belange van Afrikaans en spesifiek Afrikaanse publikasies te dien.
  • Om Afrikaanssprekendes orals in die wêreld, veral ook in Namibië, aan te moedig om deel te hê aan ons strewe.
  • Om ons op waardige wyse te beywer vir ’n vaste plek vir Afrikaans in Suid-Afrika.
  • Om die belange van woordkunstenaars te dien ten opsigte van wetgewing, kopiereg, en outeursregte; spesifiek om  stelling in te neem teen alle vorme van sensuur.
  • Om geletterheid, belangstelling in  die Afrikaanse boek en kreatiewe gebruik van Afrikaans op alle vlakke van die gemeenskap te bevorder.
  • Om mee te werk aan verwante  inisiatiewe, insluitend noue samewerking en gedeelde projekte met South African PEN.

 

Sonja Loots (PEN Afrikaans se voorsitter) stel dit ook baie goed in haar eerste bydrae tot Kopskote:

“Een van die dinge wat ons met PEN Afrikaans probeer regkry, is om in Afrikaans aktivisties te wees sonder om noodwendig uitsluitlik oor Afrikaans aktivisties te wees.

Indien die gety in Suid-Afrika eendag sou draai teen die reg om as skrywers, digters en joernaliste onbelemmerd te skryf en te dink wat ons wil, sou ons hoop op internasionale steun en intervensie.

Daarom spreek dit vanself dat ons ook die belange van skrywers, joernaliste en uitgewers elders ter wêreld op die hart dra. in daardie opsig is wat vandag in Turkye gebeur, van belang vir almal wat sterk voel oor die reg op menings- en mediavryheid.”