Posts Tagged ‘Peter Louw’

Paul Verlaine – vertaling in Afrikaans

Tuesday, March 22nd, 2011

Paul Verlaine – vertaal deur Peter Louw

 

 

Oortuigings

                                                         

Jy glo aan die mistiek van koffiemoer,

teeblare, die dobbelaar se kans;

ék glo dat jou oë dans.

 

Jy glo aan sprokies,

drome, sterre en die hel;

ek glo die leuens wat jy vertel.

 

Jy glo aan ‘n vae en vriendelike God,

‘n spesiale heilige wat waghou oor jou lewe;

geen sonde te groot, of Hy kan dit vergewe.

 

Ek glo aan gekleurde nagtelike ure

blou en pienk, wanneer jou geparfumeerde lyf

die sorge van die dorre dag verdryf.

 

Soos alles wat jy glo, is my geloof

só diep, só ryk, só trou

want dit is gerig op jou.

 

(Convictions. Paul Verlaine)

 

 

Sentimentele gesprek 

 

In die ou, verlate park, oorkant die fontein,

het twee figure in die sneeu verskyn.

 

Hul oë was doods en hul klere gedaan,

en hul woorde kon mens skaars verstaan.

 

In die ou, verlate park, oorkant die bevrore straat,

het twee spoke oor die tyd gepraat.

 

“Onthou jy ons ekstase, wild en blink?”

“Hoekom sal ek daaraan dink?”

 

“My skat, weet jy hoeveel het jy my gegee?

Droom jy nog oor my siel?” “Nee.”

 

“A! Die goeie dae van onuitspreeklike geluk

toe ons mekaar gevind het!” “Werklik?”

 

“Hoe sterk was die hoop, hoe blou die lug!”

“Hoop het na ‘n donker wolk gevlug.”

 

En so het ek hulle in die aand verloor

en net die donker kon hul woorde hoor.

 

(Colloque sentimental. Paul Verlaine)

 

‘n Groot swart slaap …  

 

‘n Groot swart slaap

val oor my lewe –

Slaap, alle hoop!

Slaap, alle strewe!

 

Ek kan nie sien nie,

my geheue faal,

vergeet van goed en kwaad …

o triestige verhaal!

 

Ek is ‘n wieg,

word gesus deur ‘n hand

diep in ‘n graf:

geen klank, geen klank!

 

(Un grand sommeil noir …Paul Verlaine)

 

(Geskryf nadat hy tot gevangenisstraf veroordeel is omdat hy sy minnaar, Rimbaud, geskiet en gewond het. – PL)

Charles Baudelaire – vertaling in Afrikaans

Tuesday, March 22nd, 2011

Charles Baudelaire – vertaal deur Peter Louw

 

Gesprek  

                                                       

Jy is mooi soos herfslig, pienk en klaar!

Maar in my styg die triestige gety, en bring

by eb, op my stuurse lippe

van sy bitter slik die brandende herinnering.

 

– Vergeefs gly jou hand oor my smagtende bors;

wat jy soek, liefling, is ‘n stad verinneweer

deur die klou en tand van jou geslagsgenote.

Vergeet my hart; die ondiere het dit verskeur.

 

My hart is ‘n paleis deur die gepeupel opgemors;

dáár word gesuip, gevloek, die skilderye afgeruk!

– ‘n Soet parfuum bedek jou keel en bors …

 

O Skoonheid, gésel van siele, wie is teen jou bestand?

Laat jou vurige oë, helder soos feeste, die reste

van die diere se feesmaal tot as verbrand!

 

(Causerie. Charles Baudelaire)

 

 

Die albatros  

 

Uit verveling lok matrose soms met aas die albatrosse,

die manjifieke reuse-voëls van die oseaan,

wat, trae reisgenote, die skepe tydsaam volg 

wat oor die diep en bitter golwe gaan.

 

Skaars beland hy op die planke

of hierdie koning van die lug, nou lomp en selfbewus,

sleep sy wit, majestueuse vlerke

wat soos roeispane langs sy flanke rus.

 

Hierdie gevleuelde reisiger, hoe potsierlik is hy skielik!

Hy wat so mooi was, hoe kwesbaar, lomp en bang!

‘n Seeman druk sy pyp in die magtelose snawel,

‘n ander koggel hinkend die dier se sukkelende gang.

 

Soos die digter is hierdie prins van wolke

wat op storms vaar en vir die boogskutter lag;

maar verban tot die grond, tussen die grynsende gepeupel,

word sy vlerke ‘n belemmerende vrag.    

 

(L’Albatros. Baudelaire)  

 

 

Die mens en die see  

 

Vrye mens, jy bly altyd aan die see getrou,

die see is jou spieël; jy herken jou eie gees

soos sy golwe hom onophoudelik ontvou;

jou siel se afgrond word insgelyks gevrees.

 

Jy duik en speel graag in daardie element

want in haar onbeheerbare rumoer

vergeet jy soms jou eie kontinent

wat onrustig in sy dieptes roer.

 

Julle is albei donker, afgesluit;

mens, wie kan jou gees se grense ken,

of, see, jou verste skatte buit?

Hoe moeilik om jul guns te wen!

 

En tog het, in wederkerige beleg,

julle genadeloos op land en boot

deur die eeue teen mekaar geveg –

onversoenbares, broers tot in die dood!

 

(L’Homme et la mer. Baudelaire)

 

Swaarmoedigheid 

 

Wanneer die lae en swaar wolke soos ‘n doodskis

die siel omsluit as prooi van lang depressies,

en die grys horison die wye uitsig blus

met dowwe lig, triestiger as die nagte;

 

wanneer die aarde verander in ‘n klam gevangenis

waar hoop soos ‘n verwarde vlermuis

met tenger vlerke teen die mure bots

of sy kop teen die vermolmde dak verpletter;

 

Wanneer die reën met sy enorme sleepsel

in strepe die tralies van ‘n tronksel giet,

en ‘n harige horde duiwelspinnekoppe

hul walglike drade in ons koppe spin,

 

ontspring uit die klokke ‘n dringende gebeier

wat soos ‘n ontsaglike skreeu teen die lug weerkaats,

asof swerwende siele van alle eeue 

hul frustrasie en eindelose lot bekla.

 

En lang begrafnisstoete met brandende kopligte

begin stadig in my siel beweeg; oorwonne Hoop

moet kniel, en Neerslagtigheid, grynsende despoot,

plant op my geboë hoof sy swart oorwinningsvlag. 

 

(Spleen. Baudelaire) 

 

 

‘n Kadawer 

 

Onthou jy, skat, wat ons gesien het

op ons vakansiewandeling daardie somerdag –

om ‘n draai van die pad was ‘n walglike kadawer

op ‘n bed van kieselstene, soos ‘n monster wat verwag,

 

bene-in-die-lug, soos ‘n goedkoop hoer,

brandend en swetend, ‘n giftige hel,

die geswolle pens ‘n stinkende ballon

skaamteloos ten toon gestel.

 

Die son het warm gestraal op hierdie geil verrotting,

soos bredie, om pruttend sag te kook tot ‘n skelet,

en veelvoudig terug te gee wat die natuur

tydsaam oor jare saamgebondel het.

 

Die lug het gesien hoe hierdie manjifieke kreng

oopgaan soos ‘n blommeveld.

Die stank was só, jy’t gedink

jy sal flou word van die reukgeweld.

 

‘n Horde brommers het op die maag baljaar

waaruit swart bataljonne, oorlaai met buit,

gestroom het soos dik jellie

oor die ontbindende flenters huid.

 

Alles styg en daal, soos golwe,

of roer met knarsgeluide en beef

asof die karkas, gevul met nuwe asem,

deur vermenigvuldiging herleef.

 

‘n Vreemde musiek het dit geword,

soos lopende water of die wind oor die vlei,

of graan ritmies deur die boer geskud

wanneer hy uit die kaf die goue koring skei.

 

Die beelde huiwer, die tyd se prooi,

soos op die vergete doek ‘n tekening

ontstaan, en deur die kunstenaar voltooi

word suiwer uit herinnering.

 

Agter die rotse hou ‘n rondloperteef

met kwaai oë ons bekommerd dop,

ons ongenooide teenwoordigheid

‘n beletsel om verder te peusel aan haar tjop.

 

– En jy sal soos hierdie vullis wees,

hierdie afskuwelike gemors,

ster van my oë, son van my intieme wese,

jy, my engel en my liefdesdors!

 

Ja! Só sal jy word, my koningin en redding,

ná die laaste sakrament bedien is,

wanneer jy, onder die gras en die vet blombeddings,

verskimmel tussen die gebeentes.

 

Vertel dan, liefling, aan die maaiers

wat jou met soene laat vergaan,

dat die vorm en hemelse essensie

van my gestorwe liefde voortbestaan.

 

(Une charogne. Baudelaire)

 

 

Die uile  

 

Onder die skadu van die taksusbome

sit die uile, van die voetpad weggekeer,

soos Oosterse gode met vorsende rooi oë

onbeweeglik in ‘n ry. Hulle mediteer.

 

Só sal hulle roerloos wag, tot oplaas

die triestige uur wanneer die skemering

die kantelende son verplaas

en weer haar onderbroke skadu’s bring.

 

Hul peinsende houding leer die filosoof

om onrus en beweging af te wys

en elke begeerte uit te doof;

 

Ons, bedwelm deur ‘n vlugtige illusie,

betaal ons lewe lank die prys

dat ons wou verander van posisie.    

 

(Les hiboux. Baudelaire)

 

 

Musiek  

 

Soms gryp musiek my soos die see!

Na my yl ster onderweg

onder ‘n plafon van mis, of in eteriese lug

hys ek die seile op die pleg;  

 

Met my bors ‘n boegbeeld in die wind

en my longe soos seile gevul,

ry ek die golwe se steiltes en valleie

wat die nag onophoudelik onthul;

 

Ek voel in my al die passies vibreer

wat ‘n skip in nood moet voel

of die goeie wind, die storm wat ek laveer

 

en die enorme deining wat onder my spoel

en sus. Maar soms weerspieël ‘n gladde windloosheid

my wanhoop en neerslagtigheid.

 

(La Musique. Baudelaire)

 

 

Die vyand  

 

My jeugdae was ‘n stormagtige verhaal

van reënvlae en min sonlig wat my oes

kon voed; só erg die donderweer en hael,

die meeste vrugte is reddeloos verwoes. 

 

En noudat ek my gees se herfsdae bereik

moet ek met graaf en hark verwoed

die deurweekte land herstel; diep dongas pryk

soos grafte oopgespoel deur die besete vloed.

 

En wie weet of hierdie nuwe blomme van my drome

in hierdie aarde, skoongewas deur waterstrome

die mistieke voedsel vind om te floreer?

 

Rampsalig! Ons lewens word deur die tyd geslag

en die verborge vyand wat ons hart verteer

vind in ons bloedverlies sy voedingskrag!      

 

(L’Ennemi. Baudelaire)

 

 

Spirituele daeraad  

 

Wanneer die glinsterende daeraad bleekrooi gly

met die knaende Ideaal oor die kamer van orgieë,

word deur die werking van wraaksugtige misterieë

uit die bedwelmde dier ‘n engel bevry.

 

Die geestelike horison van onbereikbare asuur

gaan oop vir die mens wat nog droom in sy pyn,

maar gelok deur dié onpeilbare ravyn.

Net so, liewe Godin, blink jy helder en puur,

 

en sweef oor die rokende puin van onnosel lus

jou beeld helderder, sterker en sjarmant

waar ek wyd-oog gehawend lê en uitgebrand.

 

Die son het die vlam van die kerse geblus;

net so is jou gestalte, altyd triomfantelik,

stralende siel, soos die son onsterflik!

 

(L’Aube Spirituelle. Baudelaire)

 

 

Graf  

 

As op ‘n soel en somber nag

‘n weldoener as ‘n Christelike gawe

agter die een of ander bouval

jou jeugdige liggaam sou begrawe,

 

wanneer die maagdelike sterre

hul oë, swaar van drome, sluit,

sal  die spinnekop sy web daar span

en die adder haar geel eiers spuit;

 

die hele jaar lank sal jy oor            

jou vervloekte skedel                     

die hartseer huil van wolwe hoor,   

 

en hoe die honger hekse skree

waar wellustige ou mans baljaar,

en boewe hul komplotte smee.

 

(Sépulture.  Baudelaire)

 

 

Die droom van ‘n nuuskierige  

 

Ken jy, soos ek, ‘n goeie pyn wat mens verras

met die fyn genieting wat dit wek?

Ek was sterwend, en by my siel waar liefde was,

het Verskrikking en Verlange ingetrek;

 

Angs was bevriend met sprankelende hoop;

Namate die uurglas leeggeloop het

hoe intenser en lekkerder het die pyniging verloop,

want my hart is stadig uit sy lyflikheid ontset.

 

Ek was soos ‘n kind wat ongedurig wag vir die gordyn

voor ‘n vertoning, sy hartstogtelike oë pal   

op elke roering, tot die koue waarheid uiteindelik verskyn:

 

Ek was dood, en die verskriklike nuwe dag

het my omvou; maar was dit al? 

Die gordyn was op, maar ek het nog gewag.

 

(Le Rêve d’un Curieux. Baudelaire)

 

 

Die dood van die armlastiges  

                                                 

Dit is die dood wat troos, helaas, en ons laat leef;

die doel van die bestaan, en enigste hoop

wat soos ‘n elikser opkikker, of voor ons sweef

en moed gee om tot die aand te loop;

 

Deur die stormweer, sneeu en ys

is dit die ligkol aan die donker horison,

die beroemde herberg waarna die Boek verwys,

waar mens kan eet en slaap en tot verhaal kan kom.

 

Dit is ‘n engel uit wie se towerhand

ekstatiese drome val, vervulling van elke wens,

en ‘n bed waar ons kan lê soos aan ‘n strand;

 

glorie van die gode, graangevulde skuur en sens,

en geldbeurs vir die armes, hul antieke vaderland,

die oop deur waaraan onbekende ruimtes grens!

 

(La Mort des Pauvres.  Baudelaire)

 

 

Die vrolike lyk

 

In ryk leemgrond deurwoel van slymerige slakke

wil ek diep grawe om my beendere uit te sprei 

en te slaap soos ‘n haai in ‘n see van wrakke,

in die vergetelheid van humus, sand en klei.

 

Geen testamente en grafstene om my naam te verduur;

eerder as om van die wêreld ‘n traan te smeek

sou ek, nog lewend, die kraaie wil stuur

om my walglike lyf in stukkies te breek.

 

O wurms! Dowe en blinde kamerade,

kyk, ‘n vrolike dooie nader vryelik jul kring;

O wellustige filosowe, kinders van verrotting,

 

deurwoel my ruïne sonder genade

en sê of julle ‘n erger foltering

vir hierdie gepynigde ou lyk kan bring?

 

(Le Mort Joyeux. Baudelaire)

Novalis – vertaling in Afrikaans

Tuesday, March 22nd, 2011

Novalis – vertaal deur Peter Louw

 

uit: Himnes aan die nag

 

 Jy is die jongeling wat diep ingedagte

deur alle eeue op ons grafte staan,

‘n troostende teken in die nagte,

en begin van ‘n gevorderde bestaan.

Met jou besoek eindig alle klagte,

want jy’s die dokter wat ons siel verstaan.

Sonder jou bly ons onafgerond:

Jy is die dood, en maak ons weer gesond.

 

(Hymnen an die Nacht. Novalis)

Bertolt Brecht – vertaling in Afrikaans

Tuesday, March 22nd, 2011

Bertolt Brecht – vertaal deur Peter Louw

 

Die pruimboom  

 

Langs die woonstel staan ‘n pruimboom

waaroor ek my ontferm,

met draad en latwerk daaromheen

om dit te beskerm.

 

‘n Minuskule boompie

te midde van beton,

‘n dwerg wat nie kan groei nie

want daar is te min son.

 

Oor sy aard is daar soms twyfel;

hy dra nie pruime nie, dis waar,

maar dis beslis ‘n pruimboom,

mens sien dit aan die blaar.

 

(Der Pflaumenbaum. Bertolt Brecht)

Eduard Mörike – vertaling in Afrikaans

Tuesday, March 22nd, 2011

 

Eduard Mörike – vertaal deur Peter Louw

 

Gebed  

 

Here, stuur my wat u wil,

voorspoed of verdriet!

Ek is tevrede dat u albei

oor u tuintjie giet.

 

Maar weerhou van my ‘n oormaat

hartseer en geluk,

dat ek aldus bevry

in die middel van die boom

die soetste vrugte pluk.

 

(Gebet. Eduard Mörike)

Rudolf Otto Wiemer – vertaling in Afrikaans

Tuesday, March 22nd, 2011

Rudolf Otto Wiemer – vertaal deur Peter Louw

 

 

Hongerblom  

 

Ek is nóg pragstuk, nóg ‘n held,

geminag staan ek in die veld,

het geen inspraak wat daar geld,

of stem wat opklink in die koor

maar fluister saggies in jou oor:

die honger kom nog oral voor.

 

 

(Hungerblümchen. Rudolf Otto Wiemer)

Heinrich Heine – vertaling in Afrikaans

Tuesday, March 22nd, 2011

Heinrich Heine – vertaal deur Peter Louw

 

Geluk is ‘n verveelde sekskat  

 

Geluk is ‘n verveelde sekskat

en haar besoeke hou sy kort;

sy stryk die hare van jou voorkop,

soen jou haastig en is vort;

 

terwyl jy gesette mevrou Teenspoed

se swaar omhelsing tevergeefs vermy;

sy sê sy’s glad nie haastig nie,

sit rustig by jou bed en brei.

 

(Das Glück ist eine leichte Dirne. Heinrich Heine)

 

 

 

‘n Denneboom staan eensaam  

 

Op ‘n noordelike hoogte

staan ‘n bevrore denneboom

onder sneeu en ys begrawe

in ‘n winterslaap en droom

 

van ‘n verlate palmboom

ver in ‘n suidelike land

wat swyend en onrustig hunker

in die gloeiend droë sand.

 

(Ein Fichtenbaum steht einsam. Heinrich Heine)

 

 

Soene  

 

In my jeug het ek geglo die soene

wat ‘n meisie gee en steel

is deur ‘n oermag voorbestem

wat alwetend alles reël.

 

‘n Ontmoeting was ‘n visioen,

elke soen ‘n noodlotsdaad;

die meisies priesteresse en

afsydigheid verraad.

 

Maar soene – het ek duur geleer –

val buite daardie meesterplan;

traak-nie-agtig gryp ek nou

soveel as wat ek kan.

 

(Ehmals glaubt’ ich, alle Küsse. Heine)

 

 

In galerye  

                                                                                                      

In galerye sien mens soms ou skilderye

van ‘n ridder van die tafelronde

met slagswaard, harnas, lans en skild,

aan sy dure eed van plig gebonde.

 

Maar rondom fladder kupido’s,

hulle terg hom, steel sy lans en swaard,

bind hom vas met blommekettings

en kam die hare van sy ruie baard.

 

Net so het geil verrukkings

my goeie voornemens verlei

sodat ánder mense noodgedwonge

die gevegte van ons tyd moet stry.

 

(In Gemäldegalerieen. Heine)

 

 

Los nou die vroom gelykenisse 

                                                                                       

Los nou die vroom gelykenisse,

ons hét die Bybel al gelees.

‘n Paar antwoorde, asseblief!

Of sou dit oneerbiedig wees?

 

Hoekom moet die regverdige

altyd op die kruisweg ly

terwyl die grynsende oorwinnaar

hoog in die triomftog ry?

 

Wie se skuld is dit? Tog seker nie

die hemel nie – maar hoekom word dit toegelaat?

Of moet ons die erger moontlikheid oorweeg

van ‘n doelbewuste Goddelike daad?

 

Dis die soort vrae wat ons vra,

en die onsekerheid duur voort

tot die dood ons monde snoer – maar

wat is dit nou vir ‘n antwoord?

 

(Laß die heil’gen Parabolen. Heine)

 

 

Hoe stadig kruip dit 

 

Hoe stadig kruip die tyd,

walglike waterslak… maar ek,

totaal bewegingloos,

bly op presies dieselfde plek.

 

In hierdie sel skyn son nóg hoop

om die somberheid te belet.

Nou weet ek dat net die graf

my uit hierdie skimbestaan sal red.

 

Miskien is ek al dae dood

en is hierdie gekleurde fantasieë

vir wie my koorsige brein snags gasheer speel

net spoke wat om my dans soos wolke vlieë.

 

Of wellustige geeste van die Pantheon,

saters wat van nimfe gunsies bedel;

is daar vir hulle ‘n geskikter toevlugsoord

as die eggo-grotte van ‘n digterskedel?

 

Hul mal orgieë langs die vuur,

spookagtige feeste van die lyf,

probeer die digter-lyk se benerige hand

soms in die koue oggend neer te skryf.

 

(Wie langsam kriechet sie dahin.Heine)

(Geskryf in die laaste jare, toe hy weens ‘n

rugsiekte permanent bedlêend was. – PL)