Posts Tagged ‘Petra Müller’

Gisela Ullyatt. Stuur groete aan die reën.

Wednesday, December 9th, 2015

Colesberg

’n Gros woorde sou 2015 kon beskryf: #rhodesmustfall#; #feesmustfall# en ander dergelike hutstekens (of liewer onthuts-tekens?). Terreur, Parys, verset, twis, tweespalt. Afrikaans. Kolonisering, de-kolonisering, neo-liberalisme, Marxisme(s).
Steve Hofmeyr wat country sing. Nathan Trantraal wat op Halloween die Ingrid Jonker-prys wen. Wit patriargie. Swart patriargie.
Open Stellenbosch. Kovsies #Steynmustfall#; NWU #Totiusmustfall#. Oscar Pistorius en die ANC-vroueliga. Suid-Afrikaanse Oorlog. Boer. Grond. Donker donker land. Wye en droewe land.
Twee woorde oorheers egter bostaande begrippe: ‘reën’ en ‘droogte’. Hiermee saam, ‘versengend’; die ‘dieper dors’.
In 6 Desember se Rapport Weekliks skryf Leon Schreiber oor die VN-Klimaatsberaad in Parys (‘’n Droë, warm seisoen’:7). Wat my opval en terselfdertyd nog meer moedeloos laat, is die volgende paragraaf:

Die impak van die klimaatsverandering word inderwaarheid reeds wêreldwyd beleef: 14 van die 15 warmste jare wat tot dusver opgeteken is, het almal sedert 2000 voorgekom. Die Wêreld-Metereologiese Vereniging (WMF) voorspel bowendien dat 2015 verreweg die aarde se warmste jaar gaan wees sedert optekening in 1860 begin het.

Hier sit ons dus, ge-hittegolf. Soos ek hier tik, is dit 35 grade. Maar dit is 20:35. Daar is nie ’n venster of ’n deur wat nie oopgaap nie. Daar is waterbeperkings. Lugverkoeling is te duur vir meeste privaat-huise. Aldus die waaier wat warm lug soos ’n bergwind rondspiraal. Die hitte oordonder alles; die donderstorms bly gerugte.
Veral boere in die Vrystaat en Noordwes word deur die droogte vermink. Daar is nie weiding nie; die aarde is verskroei. Talle moet hul eie diere skiet. Kalfies kry skitterysiekte omdat hulle maagvelletjies nog dun is en nie bestand teen die son is nie: die melk in hul mae word letterlik suur.
Gilbert Gibson, Bloemfonteinse internis wat die Oos-Vrystaatse plaaslewe ken, skryf só oor droogte op ’n plaas (Groot Verseboek, Deel 3:1204):

krit

daar is iets
in die oosvrystaat
marquardsenekalexcelsior
wat uit die ou testament uit peul
iewers in korannaberg
vlam ’n bos toevallig in ’n veldbrand
’n skaapwagter op rietvlei
se stok word ’n slang
steynskraal-beeste se oë
word deur kraaie uitgepik
in sandspruit se waterlose skeut
kniel droogte as profeet

Hans du Plessis dig in ‘Droogte drie en tagtig’ (GV, Deel 2:840) oor ’n knellende droogte van meer as dertig jaar gelede. Die emosionele ondertoon van die gedig (‘diep in die donker van ’n put’ en ‘dié swart gal gaan in my sinne sit’) speel in op die donkerte van moedeloosheid; die ongenade van hitte en son. Let op die wyse waarop die digter as’t ware ’n assosiatiewe spieëlbeeld uit die twee strofes skep: die tweede word ’n emosionele kartering van die eerste se fisiese ruimte:

mielies skuifel skraal skrompeltjies blaar
maer en ritsel teen die droë wind
skalter skewerig skuins en ongekop
op bruin gelit die dorte deur
die draaiwind dribbel uit ’n tregterpot
droë derms uit die dors uitlos
son speel speke teen ’n windpomp vas
as stofstrepe staan waar water was
en diep in die donker van ’n put
bid die son ’n skelm skerfie wit

ek loer flegmaties af
toe stort en staar my kop
uit die wiegende weinig op:
watertjie wikkel wanorde:
lug word water word son word stof:
en word ek ooit weer uitgeput:
dié swart gal gaan in my sinne sit:
iewers in hierdie jammerjaar
het ek nog kop verloor
en die laaste sap
word uit my leë lyf getap

Phil du Plessis se ‘Kalkbaai, Maart 1984’ (uit ‘Asemgedig’:19) eksploreer die verband tussen asemhaling-as-lewegewende ritme van die heelal wat ’n sikliese gang (asem/lug; water/reën) suggereer. Die wisselvalligheid van die kreatiewe proses, hier spesifiek die digproses, is ‘n verdere betekenismoontlikheid ter ontginning.

1

Die heelal haal ritmies asem,
maar hóé
verander die jaar self?

die aarde asem,
verdig die asem tot water,
tog, voor verposing
kom die uitasem
wat dampe weer
die ruimte instuur

soms kom die reën vroeër,
soms later.

Soos met talle van sy ander gedigte, daag Gert Vlok Nel semantiese sowel as strukturele konvensies uit; dit wat ongesê bly en verkap word, moet die leser self invul.
In ‘i sagte reën het agtermiddag’ (10) word die titel in beide openingsreël en laaste reël herhaal en met ’n punt of end stop markeer. Ook word ‘die’ by die openingsreël gevoeg wat spesifisiteit aan die spreker se herinnering verleen.

i sagte reën het die agtermiddag.
ja ons almal het uitgehol, rondgedans in die.
tot Ma natuurlik gesê het kom in julle reën.
julle sal koue.

ekeenAttieenPollie en Vlokkie my vertraagde.
het nie geluister vir Ma nie, ons het.
ons bootjies gery in die sloot langs.
Vlokkie die simpel lag i i i iieeggghh die simpel ding.

in die yard kom Ma uit met die belt kamma.
ons hol in bang kamma. skielik is daar ’n helse.
in die straat is daar i botsing, i bakkie en i.
i sagte reën het agtermiddag.

Christine Barkhuizen le Roux gebruik die garingboom as objektiewe korrelatief in ‘droogteblom’ (55). Die woord ‘pose’ in die slotreël is ’n effektiewe transponering van betekenis vanaf die openingsreël: die kortstondigheid van die garingboom-as-droogteblom. ‘Pose’ is ’n woord wat meestal in onbruik verval het; dit dui ’n vensterperiode of tussenpose aan:

die garingboom het uitgeloop
weerskant aan elke hand
’n diepbord stuifmeel saad en son

drie maande en ’n bietjie tyd
kantel die stingel val die blom

’n droogteplant leef in respyt
tot somer weer één pose kom

Petra Müller se My plek se naam is Waterval (Waterval verwys ook na haar plasie wat in 1984 deur ’n brand verwoes is) se uitgangspunt is geskoei op die Oosterse dig-tradisie; natuur en landskap swaelstert met kalligrafie. Omdigtings en voortdigtings van onder andere Kalligrafie-digters soos Li Po en Riokan word terselfdertyd in konteks met die Afrika-landskap geplaas. So byvoorbeeld word ‘die kersieboom soms ’n pruimboom, die den soms ’n seder’. Ingelyks aktiveer ‘reënroeplied’ (‘Maart, April’:92) Eugène Marais se ‘Die dans van die reën’:

sy hang haar vlae wyd
oor rante oop … draal nog dae
sleep nog ver

o suster van die yl karos
ek roep u uit die vaalte los

met miere, haas en wildegans
begin ek stadig, hortend dans

’n kleinwild wat die tekens lees
om spoortjie van u spoor te wees.

Tradisioneel word die reëndans met die Noord-Amerikaanse Indiane geassosieer. Suid-Afrika het egter Modjadji, die Reënkoningin, wie se tradisionele tuiste Suid van Venda lê. Marais se wêreld skakel dus met hierdie Afrika-legende (’n Engelse Uitgewery wat spesifiek aandag skenk aan vroue-skrywers het hulself na Modjadji vernoem).

Ek sluit af met Marais se alombekende gedig (GV, Deel 1:32): mag ons almal ’n riel kap vir Onse Suster:

Die dans van die reën
Lied van die vioolspeler, Jan Konterdans, uit die Groot Woestyn

O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.

Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaal karos met al twee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!

Ns.: My hutsteken-mantra vir Suid-Afrika, 2016: #rainmustfall#.
Mag die Groot Lafenis ons almal omarm.

Colesberg2

Bibliografie

Barkhuizen Le Roux, C. 2006. roset. Pretoria: Lapa.
Brink, A.P. (ed). 2008. Groot Verseboek, Dele 1-3. Kaapstad: Tafelberg.
Du Plessis, P. 1986. Ek sing waar ek staan. Kaapstad: Tafelberg.
Müller, P. 1987. My plek se naam is Waterval. Kaapstad: Tafelberg.
Nel, G.V. 1993. om te lewe is onnatuurlik. Kaapstad: Tafelberg.

Gisela Ullyatt. ‘Daar waar jy woon, is baie lig’: die moederskap van verlies.

Friday, May 29th, 2015

Meimaand. Maand van moeders. Eerste wintermaand van die jaar: die lig is minder herfs; ’n bleekheid sypel in. Tog is daar ’n intensiteit wat deur die winterlandskap opgeroep word; ’n binne-leef of hibernasie.

Gedigte wat gewoonlik betrekking op Moedersdag het, word vanuit die invalshoek van die digtende kind gekies: ’n oorbekende voorbeeld hiervan is Antjie Krog se ‘Ma’. Dekades na hierdie gedig gepubliseer is, word menige Afrikaanse ma’s steeds met ’n lomp voordrag hiervan tydens ontbyt-in-die-bed gekonfronteer. Sommige gló Seuna of Sus het dit self geskryf (dalk met behulp van ’n kreatiewe onderwyseres?) en lees dit dan ook so voor aan enigiemand wat lyk of hulle belangstel.

Nietemin. ’n Minder bekende invalshoek vir Moedersdag is die moeder-as-digter. ’n Verdere demarkasie vir hierdie blog is die verlies van ’n kind, maar nie noodwendig net aan die dood nie.

Dié spesifieke konteks veronderstel dat die vrou as moeder nie slegs lewe aan die kind skenk nie, maar terselfdertyd die baarmoeder (ruimte van verseëlde bewaring) word, dus die moeder wat baar. Die pre-natale proses is verwikkeld, nie net wat die vroulike liggaam aanbetref nie, maar ook op liminale vlak: uiteraard is die fetus nie ’n blote vergroeisel van die uterus nie. Hierdie ontwikkelende baba deel ’n intieme spasie met die moeder wat as voedingsbron optree.

Die fetus betree dus nie net die fisiese ruimte van die moeder se liggaam nie, maar algaande hy/sy groei, word die moeder meer ‘ge-heg’ aan hierdie wordende wese. ’n Hegte band dus, op liggaamlike, liminale en psigologiese vlak.

Wanneer ma en kind van mekaar ‘verlos’ word (dalk ’n donker profesie wat dui op die Sturm und Drang van die tienerjare?), word ’n nuwe limen geskep: die baba moet gebore word, maar betree nou die gevaarlike buitewêreld, die ‘on-baarmoederlike’ ruimte. Fisies kan die ma die baba nie meer akkommodeer nie; hy/sy moet by die moederlike boetiekhotel uitboek (hopelik vyfster-gehalte, met aanbevelings). Die moederlike matriks word gesluit, vir nou. No new bookings for a while.

Hoe ervaar moeders-as-digters hierdie proses en hoe vertolk hulle verlies aan ’n kind, op liggaamlike, psigologiese en liminale vlak?

Eunice Basson se “Haar oë het jy nooit gesien nie” (65) verbaliseer die opstapeling van jare se emosionele pyn na ’n stilgeboorte: daar is geen herinneringe nie, net die ‘bos swart hare’, ’n ‘Savlon-walm’ en ‘vergeelde babygrows’ tussen ‘kamferblokkies’:

 

Haar oë het jy nooit gesien nie,

net die bos swart hare en klam gespartel

om by haar eerste asem uit te kom –

anders sou jy haar nooit laat gaan het nie.

Klokslag elke jaar

meld daardie dag hom aan,

hoor ek jou praat oor die Savlon-walm

en opgestapelde deppers

asof kraamsusters ’n Kersspel

vir die kindersaal voorberei.

Ek weet hoe jy jou telkens

haar eerste opstaan

teen ’n tafelpoot verbeel,

die kind in ’n luier se loop-en-val;

haar ouma wat vars kamferblokkies

tussen vergeelde babygrows wegpak;

hoe sy sou huiwer op haar eerste skooldag.

Was dit dalk sy in die mall vandag

wat iets oerbekends in jou wou eien

voordat sy twyfel, wegkyk,

en jy wegstap in ’n ander rigting.

 

Alhoewel die programgedig (“Nico”) van Petra Müller se Obool ter herinnering aan haar broer, Nico, is (wat in 1961 tragies verdrink het), stippel sy hierdie verlies dermate uit in “daar waar jy woon, is baie lig” (6), dat hierdie gedig ook op die vlak van moederlike verlies gelees sou kon word:

 

nie in die stilte

met middernag

of by die laaste gelui

sal ek jou soek nie

 

swael wat in die hoë koepel swenk

 

maar net voordat dit stil word

in die keerweer van die klepels

en voordat die spinet gaan staan

 

fladderende hart in ’n woud van klip

jy ruis in die triforium

en jou liggaampie snoer ’n ewigheid

tot jy die sonstroom tref

 

daar waar jy woon, is baie lig

Die konstante vrees van ’n ma om ’n kind binne die moederlike spasie te beskerm, word tematies ondersteun in Rika Cilliers se Vlier wat aan haar seun, Mauritz, opgedra is. Die ‘ek’ in ‘Klinker’ (30) verbaliseer ’n ongemak of on-geborgenheid: die kind is nie meer ’n klippie om te vertroetel nie, maar eerder ’n berg wat eendag van haar gaan lostuimel. Let op die verband tussen ‘bêresakkie’ en die idee van die geborgenheid van die baarmoeder asook ‘modderskoot’ wat op ‘moederskoot’ sinspeel:

 

Kindjie wat uit my gekerf is

soos ’n beeldjie van sandsteen

’n klinkertjieklip: ek wens

jy was klip om te hóú;

jy is palmpas soos ’n troetelklippie

en brand jy ’n gat in my bêresakkie

stoot iemand jou dalk voor die voet

dat jy val; en wikkel jy jou dieper

in die modderskoot van die land in,

laat die wind-en-weerjare stof

om jou nesskop tot jy berg word …

dan nóg tuimel jy eendag rots oor

die afgrond      selfs klippe

is nie geborge nie.

 

Die leënes-sindroom word deesdae meer as net ’n blote verskuiwing van die volwasse kind uit die ouerhuis ondervind. In die volgende drie gedigte ervaar die moeder-as-digter ’n spesifieke liminale leegte deur kinders wat geïmmigreer het of kontrakwerk oorsee doen. Die ma moet haarself daarmee versoen, maar hierdie proses is altyd ambivalent. Susan Smith verwoord hierdie afstand tussen moeder en dogter in ‘stukkie vir stukkie’ (43):

 

ek voel hoe ek jou

stukkie vir stukkie

tussen kontinente verloor

hoe ek die onthoue

stukkie vir stukkie vergeet […]

 

Om ’n dogter aan die vreemde af te staan, begrens die moeder se taal: in die laaste strofe word hierdie verlies onontsyferbaar:

 

ek steek die laaste woorde wat ek wou sê

agter in my mond weg

ek raak aan die slaap

terwyl ek wag

en weet

dat ek môre nog meer

as vandag van jou sal verloor het

 

Hierdie liminale leegte kan nie oorbrug word nie; die volwasse dogter krap nou haar eie potjie wat buite die moeder wat agterbly se ervaringswêreld val. Selfs al sou sy haar dogter in die vreemde besoek, is die naelstring vir ewig geknip; ’n nuwe liminaliteit geskep.

Marlise Joubert se ‘expat. Vir M’ (64) eksploreer moederlike verlies deur metafories met die opgaar van die geliefde dogter se besittings om te gaan. Die kamer waarbinne die ‘jy’ van die gedig haar fases van ontwikkeling tot jong vrou beleef het, is steeds deurdrenk van herinneringe. Die kamer sou ook as ’n baarmoeder beskou kon word wat die tasbaarheid van die dogter beskerm en ‘opgaar’. Daar is egter ’n paradoks verbonde aan hierdie proses: alhoewel die dogter in hierdie ruimte opgestapel word, het sy terselfdertyd lankal vertrek:

 

expat. vir M

 

jy het lank gelede reeds vertrek.

ek het jou soos fynhout versamel

om iewers vlam te vat,

en oral het jy agtergebly.

in jou hangkas vreet motte aan kinderklere.

die rakke loop oor met leggers en briewe.

teen die mure hang jou gedagtes

soos blou vlinders.

jy het reeds vertrek,

al is jy nog hier opgegaar.

[…]

 

In Marie Bredenkamp se ‘’n brief vir die oorsee-kind’ (2015) word liminaliteit en verlies uitgestippel deur die plaas- en stedelike milieu asook Afrika teenoor ‘oorsee’ of Engeland te jukstaponeer. Hierdie jukstaposisie word verder verfyn tot die  ‘klei en klip’ van die spreker se grootwordjare teenoor die dogter se ‘beknopte’ huis in Engeland met trappe wat ’n ouerwordende moeder se beweeglikheid strem. Die laaste gedeelte van die gedig ondersteun die idee dat die wêreld se dimensies  katastrofale afmetings aanneem:

 

vannag

skryf ek ’n brief vir jou

my kind

wat anderkant die water lê

want gisteraand begin ek ’n prentjie

soek

van die huis waar ék gebore is

en al wat ek onthou is die klei en klip

en in later jare

die ou verhale op die werf

wat skerwe porselein vertel

oor die hollands-oos-indiese kompanjie

patrone blou-en-wit

en ek onthou hoedat die spierwit pou

driftig-trots daaroor loop

asof hy die grond besit

en toe soek ek foto’s van die huis

in welgemoed

waar jy leer kruip het, praat

en loop

[…]

ek weet hoe klein jou huis is daar anderkant

en te beknop

die trappe te nou en ongelyk

vir ma se been en rug

[…]

ek is jammer ek het nagelaat

om uit te wys

hoe groot die wêreld is

en onbegrens

en dat aardbewings

die aarde van sy as af stamp

[…]

©mce 27/04/2015

Ook grootmoeders ervaar deesdae die groteske pyn van ’n kleinkind wat aan die vreemde afgestaan word. In Antjie Krog se Verweerskrif (36) word die Hebreeuse kleindogter deur middel van taal-metaforiek geskets: nie net wat afstand aanbetref nie, maar ook taal (Hebreeus vs. Afrikaans). ’n Skeidslyn het dus sigbaar geword; ’n grens wat toekomstige vervreemding tussen ouma en kleinkind voorspel:

by jou vertrek

 

1.

jy vertrek môre saam met

jou ma

na Isra-el vir

goed

 

as ons mekaar oor ’n jaar

sien, praat

jy slegs Hebreeus. vir

my

 

hartskerp herinnering waar-

in jy

lig en liefs met stingel-

dun

 

enkels in linte van my

glip, sal

ons geen enkele

woord

 

gesamentlik wakker vind.

spraakloos

sal ons mekaar aan-

staar.

 

in jou voorgeskiedenis

skeur ’n

mens klere en werp

as

 

op die hoof. ek bloei

 

uit my

milt

 

Ook in Mede-wete in die vers, ‘ek en my kleindogter bou sandkastele’ (38), word taal tematies as vervreemdingstegniek ondersoek. Die ‘ek’, die ‘ouma’, probeer nuwe skanse teen die onafwendbare vervreemding bou. Dalk sou hierdie grense ’n tipe post-verbale kommunikasie kon insluit. Tipografies is daar spasies tussen sommige woorde soos ‘swyg’ en ‘hou’: dus taalgebonde maar ook met die klem op die fisiese en simboliese holding space van die ouma. Ter wille van spasie haal ek slegs strofes 2 en 3 aan:

vanoggend het sy haar ma en pa gevra om in die kombuis agter te bly

en toe in haar sesjarige Hebreeuse woordorde voortgesluk:

‘van my af weg gegaan Ouma, wil ek nie hê jy moet wees nie’

gebruik sy woorddeurstamelde bloedeie dubbele-nie-konstruk

‘Ouma’s verskriklik lief vir jou.’ ‘Ek weet, Ouma, maar dit gehelp my nie’

 

kind met die mondgetroosde naam wat my in alle tale laat ineen

swyg     ek wil haar verlede van haar afhaal in die naam van pyn

in die naam van die behoefte om haar vas te hou     haar heel met

die heil van ons almal wat altyd en nooit uit haar lewe verdwyn

wil haar sien lag sien wawiele doen soos nou – silwer en lig soos ’n twyg

 

Ek sluit af met ’n gedig van die Britse digter, Fleur Adcock, wat in Nieu-Seeland gebore is (Astley: 230):

 

For a Five-Year-Old

 

A snail is climbing up the window-sill

into your room, after a night of rain.

You call me in to see, and I explain

that it would be unkind to leave it there:

it might crawl to the floor; we must take care

that no one squashes it. You understand,

and carry it outside, with careful hand,

to eat a daffodil.

 

I see, then, that a kind of faith prevails:

your gentleness is moulded still by words

from me, who have trapped mice and shot wild birds,

from me, who drowned your kittens, who betrayed

your closest relatives, and who purveyed

the harshest kind of truth to many another.

But that is how things are: I am your mother,

and we are kind to snails.

 

Soms is moederskap ’n helder herfsdag. Soms, ’n vaal-deurdrenkte winter. Want verlies is veelvoudig vir ’n ma of ouma. Dalk lê die geheim van verlies opgesluit in C. Day-Lewis se ‘Walking Away’:

 

How selfhood begins with a walking away

And love is proved in the letting go.

 

Bibliografie

 

Astley, N (ed). 2002. Staying Alive. Real poems for unreal times. Tarset, Northumberland: Bloodaxe.

Basson, E. 2014. Leiboom. Kaapstad: Queillerie.

Cilliers, R. 1989. Vlier. Kaapstad: Tafelberg.

Day-Lewis, C. 1962. The Gate and Other Poems. Londen: Jonathan Cape.

Joubert, M. 2011. splintervlerk. Pretoria: Protea Boekhuis.

Krog, A. 2006. Verweerskrif. Roggebaai: Umuzi.

Krog, A. 2014. Mede-wete. Kaapstad: Human & Rousseau.

Müller, P. 1977. Obool. Kaapstad: Tafelberg.

Smith, S. 2012. In die afwesigheid van sin. Pretoria: Protea Boekhuis

Gisela Ullyatt. Labirinte en Minotaurusse.

Sunday, December 15th, 2013

                                                                                          

Labirint by The Edge Mountain Retreat

 

Die pad Hogsback toe lê ineengerol tussen haarnaalddraaie wat nouliks een voertuig toelaat. Tog duik daar plek-plek die kranksinnigheid van twee voertuie op wat hierdie smal ruimte moet trotseer. Die kronkels is onvoorspelbaar en bosboutrokke met reuse houtstompe kruie voort. As jou voertuig agter een beland, is geduld en berusting jou onvermydelike voorland. Die pas beloon jou egter ook met verruklike berge wat oorgroei is met digte bosse, varings en watervalle. Wanneer dit reën, hang daar ’n mistige stortgordyn oor alles; die pas word dan iets wat die motoris se diepste vrese en verwondering ontketen.

Hoër op kom jy allerlei voertuie teë wat nie die pas kon volhou nie; enjinkappe gaap oop  soos verveelde monde. Wanneer ons in Hogsback aankom, het ’n cappucino nog nooit so pikant gesmaak nie. Ons is verlig. Volgende navigeer die GPS ons na die labirint. Opperste modderpad, met dongas en slaggate waarop ons karretjie erg moerig reageer. Dis net ’n paar kilometer, maar dit voel soos ’n Oos-Kaapse ewigheid. Met ons binnegoed behoorlik geskud, soos ou sakke meel, bereik ons The Edge.

Dit voel inderdaad of ons op die randjie van die aarde tot stilstand gekom het. Die labirint kyk uit oor berge, plantasies, skeure en valleie. Dit is uitgelê volgens die klassieke elfbanige Chartres-ontwerp. Ons begin die 700 meter met stadige, amper gewyde treë terwyl die son ons kopvelle gaarkook.

Die oorsprong van die labirint is nou verwant aan die mite van Theseus en die Minotaurus. Volgens oorlewering het Ikaros se vader, Daidalos, koning Minos se paleis-labirint, Knossos (in Kreta), ontwerp en gebou. Minos het sy vrou, Pasifaë, se kind, ’n hibried tussen ’n mens en  bul, in die middel van die labirint ingekerker. Een keer ’n jaar is sewe meisies en sewe jong mans van Athene gekies en in die labirint gedwing; hulle was die “monster” se enigste bron van kos. Theseus het besluit om ’n einde aan hierdie wrede praktyk te bring wat tot die slagting van die Minotaurus lei. Ariadne, Minos se eie dogter se hulp word benodig. Omdat die labirint ondergronds was, kon hy slegs sy weg terugvind met Ariadne se bol tou.

Die woord ‘labirint’ word dikwels met ’n doolhof (maze) verwar. Met goeie rede: gaan kyk jy in die Pharos tweetalige woordeboek, is die Afrikaanse vertalings ‘doolhof’ en ‘labirint’. Blaai jy na ‘labyrinth’, bly die konsep verwarrend: ‘labirint’ en ‘doolhof’ word beide weer as ’n propperse Afrikaanse vertaling gegee. Die Duits verduidelik ‘maze’ as das Labyrinth en ‘labyrinth’ het dieselfde verduideliking. Die Grieks en Latyn help ook nie veel nie: die Griekse woord vir beide ‘labyrinth’ en ‘maze’ is λαβύρινθος. Die Latynse term vir die twee konsepte is bloot ‘labyrinthus’.

Daar is egter ’n duidelike verskil tussen ’n labirint en ’n doolhof. Jeff Saward definieer ’n doolhof as volg: “To qualify as a maze, a design must have choices in the pathway” (2002:8). ’n Doolhof se doel is om ’n raaisel op te los; daar is verskeie ingange, sommige loop dood en die pad na binne is nie noodwendig die uitgang nie.

Volgens Saward, is ’n labirint ’n ontwerp wat slegs een pad volg; dus is die paadjie wat na die kern lei ook die pad wat jou na die begin terugneem. Die labirint is introspektief en gemik daarop om harmonie te bring; ’n reis na jou eie kern. Maar hierdie harmonie is geen speletjie nie. Die Minotaurus wat in die kern wag kan nie geëksternaliseer word soos in die mite nie. Jý is die Minotaurus.

Labirinte en doolhowe word ook in die digkuns as gelykwaardige konsepte uitgebeeld. W.H. Auden se gedig, “Labyrinth” is ’n uitstekende voorbeeld van hierdie verwarring; die titel en die inhoud korrespondeer nie:

Anthropos apteros for days

Walked whistling round and round the Maze,

Relying happily upon

His temperament for getting on.

 

The hundreth time he sighted, though,

A bush he left an hour ago,

He halted where four alleys crossed,

And recognized that he was lost.

 

“Where am I?” Metaphysics says

No question can be asked unless

It has an answer, so I can

Assume this maze has got a plan […]

His absolute pre-supposition

Is – Man creates his own condition:

This maze was not divinely built,

But secreted by my guilt.

The centre that I cannot find

Is known to my unconscious Mind;

I have no reason to despair

Because I am already there […]

 

 

Oor die algemeen blyk daar ’n lakune te wees in die Afrikaanse en Engelse digkuns wat labirinte aanbetref. Die labirint word meermale as ’n simbool aangewend, maar die proses van labirint-loop of die beskrywing van ’n labirint (byvoorbeeld die bane, die kern of die mitologiese oorsprong) word nie dikwels aangetref nie. Google-skakels lei die leser na swak gedigte vol clichés van innerlike berusting en “healing”, maar dit is duidelik dat dié gedigte as ’n tipe van terapie geskryf is. Die skrywers hiervan (ek huiwer om die term “digters” te gebruik!) inkorporeer selde enige kennis van die mitologie waaruit die labirint spruit of genoegsame agtergrond of beskrywing van die fisiese labirint.

Dieselfde lakune is opmerklik in die digkuns wat die Minotaurus aanbetref. Daar is vele gedigte oor mitologiese figure soos Ikaros, maar weinig oor die mens-bul. Daar is egter ’n hele paar voorbeelde van die Minotaurus in musikale komposisie: ’n vollengte opera genaamd Minotaur deur Harrison Birtwistle (1934-); ’n ballet – The Minotaur –  deur Elliott Carter (1908-2012), en Minotaurus, gekomponeer deur Karl-Binger Blomdahl (1916-1968).

Volgens die tradisionele mitiese uitkyk word die Minotaurus as monster gebrandmerk, verdoem tot ’n chtoniese labirint. Maar hierdie mite is dekonstrueerbaar: die Minotaurus kan ook dui op die vergete, mishandelde of misvormde kind, die buitestander of degenerate. Inrigtings vir “sielsiekes” is ’n goeie voorbeeld van hoe die gemeenskap sy eie Minotaurus wil besweer deur ’n sondebok te vind wat as “apart” beskou word. Die “mad woman in the attic” is ’n verdere voorbeeld. Etikettering van “fratse”, liggaamlik en geestelik, maak dit makliker om nie jou eie blindekol of skaduwee in te sien nie. Selde word ‘Minotaurus’ en ‘liefde’ in dieselfde asem genoem.

Petra Müller se ‘halfbul’ (Om die gedagte van geel:106) is een van die weinige gedigte wat wel dié mitologiese misfit verwoord:

die donker word moeg van sy eie rumoer,

gaan lê ver weg, trek hom plat,

word stil

 

die minotaur rus, herkou die herkoms

van sy eie vlees – ’n ou verhaal waarin daar steeds

die sidderinge loop van iets wat eenmaal liefde was

 

soms hoor hy klanke uit die bowe-wêreld:

vroue, kinders, water, duif

 

hy steier half-orent, en sien die bulstuif van sy asem

uit sy eie neus se gate kom;

 

laat sak sy skof weer,

gaan weer lê

Bronne:

Mendelson, E. ed. 1991. Collected Auden. New York: Vintage.

Müller, P. 2012. Om die gedagte van geel. Kaapstad: Tafelberg.

Saward, J. 2002. Magical paths. Londen: Mitchell Beazley.

Petra Müller bekroon met ATKV Woordveertjie vir Poësie

Friday, September 13th, 2013

Tydens die ATKV Woordveertjietoekennings wat Vrydagaand toegeken is, is Petra Müller (foto) se bundel, Om die gedagte van geel (2012: Tafelberg) as die wenner aangewys. Ander bundels wat genomineer was, was Pirouette  van Aniel Botha (Queillerie), Kry my by die gewone plek aguur van Loftus Marais (Tafelberg). Dié toekennings het ten doel om uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord te bekroon en die finaliste in die onderskeie genres is pas bekend gemaak.

Die beoordeelaars was Karen de Wet, Diana Ferrus en Danie Marais. Volgens hul commendatio slaag die digter daarin “om verskeidenheid en samehang onder die dak van een bundel saam te bring. Lesers sal die bundel geniet vir die aardsheid en onomwonde blootsheid daarvan. “

Oor die digproses het Petra Müller haar soos volg uitgelaat tydens die onderhoud wat Melanie Grobler met haar gevoer het ten tye van haar bundel se verskyning: “Ek skryf met ‘n potlood op papier omdat ‘n potlood altyd beskikbaar en gewillig is. Mens kan gewoon aaneen skryf, lig of donker en mens kan iets aflei van die hand wat dit neerskryf. Martin Versveld het alles met die hand geskryf, met ‘n potlood. Die hand probeer om die gedigte te vereenvoudig want as mens ‘n bietjie aanstap met die pad soos ek nou aanstap, as die stuk wat voorlê korter word; dit gaan nooit weer langer word nie, word jy pynlik bewus van enige iets wat oordadig is, of nie kernagtig is nie. Dis ‘n sintuig wat mens ontwikkel as jy ouer word. Dan gaan jy terug na jou ou gedigte en dan sê jy vir jouself: ‘ek kon hierdie ding baie dringender gesê het as ek dit eenvoudig gesê het.’ Ek was nie bewustelik op soek na eenvoud nie maar soos ek die gedigte bewerk, probeer ek tog om dit ‘n bietjie helderder te kry as te vore. Ek glo dat die ideale gedig is ‘n water druppel waardeur jy kan sien. Dis nie ‘n einddoel nie, dis deel van bewuswording. Die bewuswording beweeg dan deur die druppel en laat dit dan agter.”

In haar resensie oor die bekroonde bundel het Joan Hambidge die volgende waarneming gemaak: “Om hierdie bundel in al sy geledinge te takseer, was ‘n ongelooflik inspirerende ervaring. Met elke herlees, word die leser gedwing tot ‘n bestekopname oor die posisie van hierdie digterskap. Enersyds liries, andersyds ‘n sterk verhaalmatige aanslag wat die bundel stuur […] Ek het hierdie bundel in een vloed gelees – gedink hoe sou sy Die aandag van jou oë kon troef. Wel sy hét veral met die eerste drie afdelings. Dit is ‘n bundel van die hierosgamos: ‘n versoening van al die opposisies in hierdie digterlike onbewuste. ‘n Boek oor die omtes van die hart.”

‘n Welverdiende bekroning, inderdaad.

Vir jou leesplesier volg een van die gedigte hieronder.

*

Elsie

“ses maal in die moer geskop, ses maal

kleintjie gedrop  ̶  mies, sus, moos, weet nét hóé;

jy staan nog so, dan trek jy al, en waar jy val

is beter dat jy lê . . .

“en more kom hy: elsie, elsie, elsietjie; einstetyd

het jy laas nag die koekerasie in die grond begraaf,

en klip daarop gesit;

“die boere wat so oor hul landerye loop en sê

ploe hiér, saai dáár,

weet ook maar fôkkol wat in hulle grond lê;

“maar die duiwel weet, en die duiwel se bek

klap oop en toe

van als wat kom en als wat gaan,

“maar hiervan sê hy níks,

Mies Sus”

© Petra Müller (Uit: Om die gedagte van geel, 2012: Tafelberg)

Omslag

ATKV-Woordveertjiefinaliste vir poësieprys bekend gemaak

Friday, August 16th, 2013

Dit is amper weer tyd vir die jaarlikse ATKV-Woordveertjies wat vanjaar op 13 September by D’Aria in Durbanville plaasvind. Dié toekennings het ten doel om uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord te bekroon en die finaliste in die onderskeie genres is pas bekend gemaak.

In die afdeling vir poësie is drie digbundels benoem, te wete Pirouette  van Aniel Botha (Queillerie), Kry my by die gewone plek aguur van Loftus Marais (Tafelberg) en Om die gedagte van geel  van Petra Müller (Tafelberg). Ons gelukwensing gaan aan al drie digters; welverdiend inderdaad.

Lees gerus sowel die onderhoude as die resensies wat ten tye van dié bundels se verskyning op Versindaba verskyn het. Die volledige berig kan hier op BooksLive gevind word.

Onderhoud met Aniel Botha. Resensie oor Pirouette deur Tom Gouws.

Onderhoud met Loftus Marais. Resensie oor Kry my by die gewone plek om aguur deur Marlies Taljard.

Onderhoud met Petra Müller. Resensie oor Om die gedagte van geel deur Joan Hambidge.

 

***

 

 

WA Hofmeyr-prys. Twee digbundels kop-aan-kop met ‘n prosawerk

Tuesday, April 23rd, 2013

Die W.A. Hofmeyr-prys ‘n letterkundeprys vir drama, digkuns en prosa is begin deur Nasionale Pers ter nagedagtenis van ‘n voormalige voorsitter van die maatskappy se direksie, W.A. Hofmeyr. Dit is in 1954 die eerste keer toegeken. Oorspronklik het net boeke wat uitgegee is deur Nasionale Boekhandel in aanmerking gekom, maar vanaf 1970 is dit verander na publikasies van Tafelberg-uitgewers.

Pas is die kortlys vir vanjaar se kandidate bekend gemaak en dié kortlys blyk inderdaad ‘n besonderse pluimpie vir die Afrikaanse digkuns te wees aangesien twee van die drie genomineerde publikasies digbundels is, te wete Johann de Lange vir sy bundel Vaarwel, my efeens bevelkte held (2012: Human & Rousseau) en Petra Müller vir haar bundel Om die gedagte van geel (2012: Tafelberg Uitgewers). Die derde genomineerde is die veelbekroonde Ingrid Winterbach vir haar roman Die aanspraak van lewende wesens (2012: Human & Rousseau) wat ook onlangs met die Hertzog-prys vir prosawerk bekroon is; ‘n prys wat ook vantevore aan sowel De Lange (in 2011) en Müller (in 2005) toegeken was.  

Dat daar ten opsigte van die WA Hofmeyr-prys, waarvan die prysgeld tans R35,000 beloop, egter ‘n besliste voorkeur aan prosawerke bestaan, is helaas nie te betwyfel nie. Die laaste digbundel wat met dié prys vereer is, was byvoorbeeld Breyten Breytenbach se Die windvanger in 2008, en voor hom Sheila Cussons wat driekeer bekroon is (in 1991, 1982 en 1972). Ook DJ Opperman was driekeer vereer: vir Komas uit ‘n bamboesstok in 1980, Dolosse (1966) en Blom en baaierd (1956). In 1975 was die prys aan Ernst van Heerden toegeken vir Teenstrydige liedere.  

En daarom is dit ‘n uitsonderlike prestasie vir die digkuns dat daar teen die agtergrond van dié afname in poësie-benoemings die afgelope twee dekades, twee uitsonderlike digbundels genomineer is op die kortlys van een van ons vernaamste pryse.

Ten opsigte van Vaarwel, my effens bevlekte held, het Joan Hambidge haar soos volg in haar omvattende resensie oor dié bundel uitgelaat: “Dit is ‘n bundel wat waarskynlik vergelykings sal uitlok met Die algebra van nood, die groot bekroonde bundel. Dit sal ‘n saamlees oproep soos tussen Wordende naak en Nagsweet. Dit is ‘n bundel wat besondere aanspraak maak op die leser, emosioneel en intellektueel […] Dit is ‘n fyn afgeronde bundel wat sterk aanspraak maak op sowel die emosie as intellek. Die algebra van nood word hier ‘n algebra van sekerheid.”

In haar resensie van Om die gedagte van geel, wat eweneens deur Joan Hambidge geresenseer was, open Hambidge haar oorsig met die volgende stelling: “Om die gedagte van geel is ‘n ryk geskakeerde digbundel. Die bundel is imposant en indrukwekkend in die ongelooflike kartering van ‘n jeug en die herinneringe daaraan. Die gevoelige kind word hier aangetref en die ouer, volwasse digter plaas haarself letterlik terug in die posisie van jong kind wat alles om haar registreer. Die kind is reeds digter, hoewel sy nog nie die woorde het om die primordiale gegewe te artikuleer nie. Dit is ‘n terugkyk op ‘n lewe: die posisie van die ouer digter en jong kind word één in hierdie terugkyk. Petra Müller het reeds in haar kortverhale hierdie gegewe aangespreek en nou word dit in Om die gedagte van geel poëties-sintuiglik verwoord.”

Watter enorme prestasie is dié nominasies nie en uiteraard wens ons albei digters van harte geluk daarmee.

Mag dit vanjaar die digkuns se beurt wees om met die louere weg te stap …

 

Persverklaring. Internasionale meesters van poësie by Spier

Monday, February 18th, 2013

 

PERSVERKLARING.  STELLENBOSCH.

INTERNASIONALE MEESTERS VAN POËSIE  KOM SAAM BY SPIER

 

Die Dansende Digtersfees / Dancing in Other Words, is ‘n internasionale fees van digters en digkuns wat op Vrydag 10 en Saterdag 11 Mei 2013 op Spier, buite Stellenbosch, gaan plaasvind.

Antjie Krog, Petra Müller en Marlene van Niekerk sal deel uitmaak van ‘n uitgelese groep digters wat vir een week vooraf saam verkeer, om poësie se eeue-oue funksie as “die droom-aar in die liggaam van die samelewing” te verken. Die week-lange program word saamgestel deur Breyten Breytenbach.

Besoekende digters sluit in Nobelprys voorlopers, politieke andersdenkendes, aktiviste en bekroonde literêre figure, uit die Republiek van Korea, China, die VSA, Duitsland, Holland, Slowenië en Israel.

PROGRAM

Elf digters, elkeen van internasionale aansien, gaan die eerste deel van die week saam op reis deur “landskappe van klip en wind en lig en vertaling”, sê Breytenbach. “Die onderlinge vertroue wat spruit uit die uitwisseling van gedeelde ervarings, sal ‘n hoogtepunt bereik met die aanbied van tekste in openbare voorlesings op 10 en 11 Mei.”

Die twee-dag program sal bestaan uit openbare gesprekke en meestersklasse gedurende die dag; en voorlesings met musiek, saans. Die program sal in en rondom die Ou Wynkelder aangebied word.

‘n Beperkte aantal kaartjies word vir alle vertonings uitgereik. Die gesprekke sal gratis wees en kaartjies vir aandvertonings R150 per persoon (verversings en wyn ingesluit). Die program sal op 1 April aangekondig word, waarna kaartjies beskikbaar sal wees.

Belangstellendes kan reeds voorkeurbesprekings maak by Spier. Skakel 021 809 1100 gedurende kantoor-ure, Maandag tot Vrydag, of epos reservations@spier.co.za    

Vir meer inligting, besoek www.dansendedigters.co.za 

VENNOOTSKAP

As ‘n gesamentlike projek tussen Spier en die Pirogue Kollektief, is die Dansende Digtersfees die eerste beliggaming van ‘n vennootskap met die bedoeling om verder vorentoe soortgelyke ruimtes van skepping en verbeelding te bevorder en te fasiliteer, hetsy literêr, maatskaplik, of polities van aard. 

“Die vennootskap tussen Spier en Pirogue skep ‘n platform vir ware en tersaaklike uitnemendheid,” sê die uitvoerende hoof van Spier, Andrew Milne, ” Ons is trots daarop om ‘n handvol ware meesterdigters te kan huldig, terwyl hulle beide hul eie, en ons kunsgemeenskappe voed.”

 

DIGTERS

Die besoekende digters is:

Ko Un (1933), ‘n buitengewoon produktiewe Suid-Koreaanse digter, ‘n voormalige politieke aangehoudene en jare lank die ab van ‘n Boeddhiste klooster, wat gereeld as voorloper vir die Nobelprys vir Letterkunde genoem word;

Carolyn Forché, ‘n Amerikaanse digter, redakteur, vertaler en aktivis vir menseregte wat die Lannan Leerstoel in Poësie by Georgetown Universiteit beklee;

Yang Lian (1955), ‘n Chinese digter wat sedert die Tiananmen-slagting in ballingskap verkeer en wie se werk in meer as twintig tale gelees word;

Joachim Sartorius (1946), ‘n bekroonde Duitse skrywer, diplomaat, professor, Doktor in die Regsgeleerdheid, voormalige hoof van die Goethe-Instituut wêreldwyd, asook die Direkteur-Generaal van die ‘Berliner Festspiele’;

Hans van de Waarsenburg (1943), ‘n Nederlandse digter, voormalige voorsitter van PEN en stigter van die Maasricht International Poetry Nights;

Tomaz Šalamun (1941), ‘n Sloweense digter, erken as ‘n leier van die neo-avant-garde poësie in Sentraal-Europa, wie se wyd- vertaalde werk universele aandag geniet; en

David Shulman (1949), ‘n Israeliese digter, wêreldbekende kundige op die gebied Indiese taalkunde, sowel as vredesaktivis en skrywer van Dark Hope: Working for Peace in Israel and Palestine.

Einde.

 

Notas

Die Pirogue Kollektief is ‘n vrywillige genootskap van individue byeengeroep deur Breyten Breytenbach, as uitvloeisel van ‘n behoefte gevoel deur die Gorée-Instituut in Senegal om sy kultureel-kreatiewe projekte en programme vorm te gee en te bevorder. Pirogue inisieer karavane na ander plekke en oor grense heen, om die etiese verbeelding van kreatiewe burgerskap aan te moedig in viering en vooruithelping van die Diverse.  www.piroguecollective.org

Spier ondersteun kunsprojekte wat ons Suid-Afrikaanse erfenis erkenning gee, ons nalatenskap beskerm en bydra tot ons gemeenskaplike toekoms. www.spier.co.za

Marí Stimie | maristimie@gmail.com | +27 76 4800 743 | +27 21 422 4967

 

Ruimte as tema en metafoor in die poësie van enkele vroulike Afrikaanse digters: 1994-2005

Monday, February 4th, 2013

Ruimte as tema en metafoor in die poësie van enkele vroulike Afrikaanse digters: 1994-2005

A.M. de Beer & H.J.G. de Plooy
Skool vir Tale
Potchefstroomkampus
Noordwes-Universiteit
E-pos:  Etta.deBeer@nwu.ac.za
            Heilna.duPlooy@nwu.ac.za

Abstract

Space as theme and metaphor in the poetry of selected female poets in Afrikaans: 1994-2005

This article illustrates that the representation of physical and abstract space is exceptionally prominent in the work of female poets in Afrikaans who published poetry between 1994 and 2005. The possibility that a “female consciousness” influences the use of spatial metaphors is put forward (but not proved). Following the theoretical insights of Pierre Bourdieu, the rela­tionship between society and art is explored, and consequently the importance of the postcolonial context of Afrikaans poetry published between 1994 and 2005 forms part of the analyses of the thematic and metaphorical aspects of the selected poems. Examples of the salient aspects of representations of space, both as theme and as metaphor, in the work of female Afri­kaans poets are discussed in more detail before some pre­liminary conclusions are put forward.

Opsomming

Ruimte as tema en metafoor in die poësie van enkele vroulike Afrikaanse digters: 1994-2005

In hierdie artikel word die belangrikheid van die representasie van fisiese en abstrakte ruimtes in die werk van vroulike digters in Afrikaans aangetoon, spesifiek in bundels wat gepubliseer is tussen 1994 en 2005. Daar word kortliks aandag gegee aan die vraag of daar sprake kan wees van ’n “vroulike bewussyn” in hierdie bundels. Die ruimtelike bewustheid word ook in verband gebring met die feit dat die Afrikaanse poësie in die periode 1994-2005 postkoloniaal is. Die teorieë van Pierre Bourdieu word gebruik om die verhouding tussen gemeenskap en kuns­werke te verduidelik en daarna word voorbeelde van die ruimtelike tematiek asook die gebruik van ruimtelike metaforiek in die werk van geselekteerde vroulike digters bespreek.

1.     Inleiding

In sy studie, Filosofie van het landschap, beweer die Nederlandse filosoof Tom Lemaire (1996) dat ruimte en die belewing van die ruimte in ’n kultuur nie ’n bykomstige aspek of ’n randverskynsel in die lewens van mense is nie, maar dat dit op ’n heel besondere ma­nier die gees van daardie kultuur vasvang. Lemaire (1996:18) is ook van mening dat ’n kultuur, ’n tydperk of ’n individu sy lewensorde, verlede en verlangens in voorstellings van die ruimte projekteer. Hy (Lemaire, 1996:18) vervolg:

In dit vlak ‘expliceert’ een cultuur zichzelf: ontvouwt zij zichzelf en legt zichzelf tevens uit, de ruimte is ‘explicatio culturae’. Zo kan men het lot van een cultuur aflezen uit de geschiedenis van de ruimte die zij bewoont en waarover zij uitkijkt.

Hieruit volg dat ’n mens bepaalde afleidings sou kon maak uit die manier waarop ruimtes in literêre tekste voorgestel word. Hierdie ar­tikel is gebaseer op navorsing (De Beer, 2009) oor die voorstellings van ruimtes, ruimtelike tematiek sowel as ruimtelike metaforiek in die poësie van geselekteerde vroulike digters wat in Afrikaans skryf en wat in die periode 1994-2005 bundels gepubliseer het. Die vraag is of ’n mens bepaalde poëtikale en/of tematiese merkers of eien­skappe kan identifiseer en formuleer na aanleiding van die bestude­ring van die ruimtelike representasies en die gebruik van ruimtelike metafore by Afrikaanstalige vroulike digters uit die dekade rondom die eeuwisseling, spesifiek teen die agtergrond van die veranderings in die Suid-Afrikaanse sosiopolitieke werklikheid.

In die periode 1994-2005 was ’n hele aantal gevestigde Afrikaanse digters aktief, terwyl sommige ander gedebuteer het. Die literêr-historiese ontwikkeling in die Afrikaanse poësie in hierdie periode is boeiend juis omdat daar baie veranderings in die sosio-politieke omstandighede in die land plaasgevind het. Alle digters skryf die ruimtes waarbinne hulle lewe in hulle tekste in, maar reeds by die verkennende lees van die werk van verskeie Afrikaanse vroulike digters van wie tekste in hierdie periode verskyn het, is die aanwesigheid van ’n ruimtelike bewustheid opvallend aanwesig. In gedigte van onder meer Elisabeth Eybers, Ina Rousseau, Wilma Stockenström, Antjie Krog, Petra Müller, Heilna du Plooy, Trienke Laurie, Melanie Grobler en Ilse van Staden is daar vele voorbeelde van die uitbeelding van ruimtelike ervaring op ’n referensiële vlak (d.w.s. verwysend na ’n leefwêreld), sowel as van die gebruik van metafore wat op ruimtelike assosiasies berus. Die digters skryf dus oor die fisiese ruimtes waarbinne hulle lewe en tematiseer ruimtelike belewenis deur kwessies soos grensoorskryding en die verkenning van nuwe ruimtes in die gedigte aan die orde te stel. Verskeie dig­ters gebruik egter ook in verband met ander onderwerpe metafore wat met ruimtes verband hou, byvoorbeeld deur die landskap as metafoor van belewenis te gebruik of deur ideologiese en politieke versoening in terme van die uitwissing van ruimtelike afstand uit te beeld, soos verderaan aangetoon sal word.

Uit die titels van die bundels van hierdie genoemde Afrikaanse vrou­like digters blyk ook al hoe sterk ’n ruimtelike bewussyn en die ver­skillende fasette van ruimte in die bundels figureer. Voorbeelde van sulke titels is Aan die Kaap geskryf (Wilma Stockenström, 1994), Interne verhuising (Joan Hambidge, 1995), In die landskap ingelyf (Heilna du Plooy, 2003), Die stil middelpunt (Ina Rousseau, 2003), Uit en tuis (Elisabeth Eybers, 1995) en Landelik (Martjie Bosman, 2002). Ander vrouebundels uit hierdie tydperk waarin die tematiek sterk met plek en ruimte gemoeid is, is Skietspoel (Trienke Laurie, 1997), Die donker is nooit leeg nie (Heilna du Plooy, 1997), Winter-surplus (Elisabeth Eybers, 1999), Die skaduwee van die son (Lina Spies, 1998), Kleur kom nooit alleen nie (Antjie Krog, 2000), Ewe­beeld, Ruggespraak en Lykdigte (Joan Hambidge, 1997; 2002; 2000), Lyfsange (Marlise Joubert, 2001), Die aandag van jou oë: ge­digte vir die liefde (Petra Müller, 2002) en Watervlerk (Ilse van Staden, 2003). In hierdie bundels is, soos later met voorbeelde aangetoon sal word, die interaksie van mense – spesifiek van vroue – met die plekke waar hulle woon en leef en die ruimtes waarin hulle beweeg en wat deur hulle ervaar word, opvallend. Daar word ook dikwels gebruik gemaak van metafore wat op die een of ander manier met ruimtelike konsepte te make het.

2.     Belangrike kontekstuele faktore

Wanneer daar na die representasies van ruimte in die poësie van die digters wat hierbo genoem is, gekyk word, blyk dat daar in die periode wat ondersoek word, twee belangrike kontekstuele faktore verreken moet word: die sterk “vroulike selfbewussyn”, meer spesi­fiek die feministiese diskoers, asook die postkoloniale omstandig­hede in die land. Die fisiese ruimtes en die abstrakte ideologiese en politieke ruimtes word deur die politieke ontwikkelings in die land beïnvloed en bepaal, en vroulike digters is as vroue daaraan onder­worpe. Die werklikheid, konkreet én abstrak, word dus telkens ver­woord soos wat dit deur die psige van ’n vroulike digter gefilter is. Die vraag kan dus ontstaan of vroulike ervaring van die ruimtelike aspekte van die werklikheid, al is dit nie altyd eksplisiet feministies van aard nie, ’n bepaalde aard of vorm aanneem. In hierdie artikel word die feminisme en die postkolonialisme nie uitvoerig teoreties verken nie, hoewel die uitgangspunte van en aannames binne hier­die twee benaderings tot die literatuur onvermydelik in die voorbeel­de en die argument ’n rol speel. Die bespreking word beperk tot enkele tersaaklike aspekte van die feminisme en die postkolonia­lisme soos wat dit ’n rol speel in die verse wat ter sprake gaan kom.

2.1     Die “vroulike” diskoers en “vroulike” ruimtes

Hoewel die meeste vrouedigters wat in Afrikaans skryf hulleself as selfstandig-denkende en geëmansipeerde mense beskou, blyk uit die openbare diskoers in tydskrifte en koerante en ook uit sommige literêre tekste dat die persepsie steeds bestaan dat vroue in al die Suid-Afrikaanse gemeenskappe dikwels nog ’n sekondêre rol ver­tolk. Na 1994 beleef Suid-Afrika ’n opbloei in demokrasie sodat daar in die openbare lewe sterk standpunt ingeneem word oor die deur­lopende ontmarginalisering van vroue. Hulle moet in staat kan wees om grense te oorskry en nuwe ruimtes te betree. Hierdie tendens sluit aan by die internasionale diskoers oor die posisie van vroue, veral van skrywende vroue.

Een vraagstuk wat telkens weer na vore kom, gaan oor die aard, tematies en vormlik, van vroulike representasies. Moi (Belsey & Moore, 1997:105) voer aan dat alle persepsies, insluitend feminis­tiese persepsies, gekontamineer is deur die patriargale ideologie. In die negentiende eeu (en tans steeds) presenteer die dominante pa­triargale ideologie kunskreatiwiteit as ’n fundamentele manlike kwali­teit: “The writer ‘fathers’ his text.” (Moi, 1985:57.) Vroue word van hulle reg ontneem om hulle eie persepsies van vroulikheid te skep. In plaas daarvan word hulle gedwing om by die patriargale denk­patrone in te skakel of daarop te reageer, omdat hierdie patrone die norme van die gemeenskapsdenke, van die filosofie, die literatuur en ander voorstellings vasstel en bepaal. ’n Ondersoek na die werk van Afrikaanse vroulike digters rondom die afgelope eeuwending toon egter dat daar ’n baie bewuste ontginning van ’n persoonlike selfbewussyn is, maar ook dat selfkennis en selfrepresentasie on­losmaaklik verbonde is aan leefruimtes en ruimtelike belewenis in sosiale en ideologiese sin.[1]

Die onderskeid tussen die publieke en private ruimte is ’n ander belangrike digotomie in die diskoers rondom vroulikheid en vroulike belewenis en representasie. Viljoen (2002) ondersoek die kwessie van vroulike ruimtes in die werk van vier digters wat almal in 1970 gedebuteer het en ook almal met die Hertzogprys bekroon is en toon so die relevansie van die ruimteproblematiek in vroueskryfwerk aan.

Private ruimtes, soos die huis, is tradisioneel met vroue geassosieer en publieke ruimtes, soos die parlement, die mark en die geregshof, met mans en húlle aktiwiteite. Volgens geograwe is die private as tipe tradisioneel verbind met die huis, die liggaam, die natuurlike, die familie, die persoonlike lewe, intimiteit, passie, versorging, ’n toe­vlug, onbetaalde arbeid, reproduksie en immanensie. Hierteenoor is die publieke domein as tipe tradisioneel verbind met die nie-lig­gaamlike, die abstrakte, die kulturele, rasionaliteit, burgerskap, die reg, die markplek, betaalde arbeid, produksie, die staat, handeling, militarisme, heroïsme en transendensie (Viljoen, 2002:3).

Bogenoemde onderskeid kom steeds na vore in die politieke filo­sofie, die regstelsel, die algemene diskoers en ook in die terugke­rende ruimtelike strukturerende praktyk en as sodanig bly dit ’n sentrale vraagstuk in die feministiese diskoers oor magsverhou­dings. Sommige feministe glo dat die digotomie tussen die private en die publieke dié sentrale kwessie in die feministiese stryd is, ter­wyl ander weer daarop wys dat hierdie onderskeid eintlik ken­merkend is van die middelklas en dat dit nie noodwendig op presies dieselfde wyse in ander klasse en gemeenskappe resoneer nie (Blunt & Rose, 1994:3-4).

Alhoewel die digotomie tussen die publieke en private ruimtes ’n binêre opposisie suggereer, is dit vals om te argumenteer dat albei hierdie kategorieë klinkklaar gedefinieer is, omdat nie alle ruimtes duidelik privaat of publiek is nie. Die letterkunde is een van die velde waar geslagtelike belewenis van ruimte ’n rol speel en gerepresen­teer word. Dit is daarom ook ’n terrein waar mededinging en her­onderhandeling van geslagtelik gemerkte ruimte plaasvind. Dit ge­beur op verskillende maniere, soos die subtiele verskuiwing met be­trekking tot die konvensionele waardes geheg aan bepaalde ruim­tes, die herwaardering van ruimtes wat met tipiese vroulikheid geas­sosieer is, pogings om daardie ruimtes radikaal anders te vul en ook om die private en die publieke met mekaar te laat versmelt.

Dat die huishoudelike ruimte byvoorbeeld ’n rol in die Afrikaanse letterkunde speel, blyk reeds uit die bestaan van die term “huishou­delike poësie”. Elisabeth Eybers het reeds vroeg in haar loopbaan op die geringskatting van hierdie soort poësie gesinspeel toe sy in ’n brief aan Van Wyk Louw (ironiserend) geskryf het dat sy as huisvrou dalk in die toekoms “’n poësie van potte en panne” sal skryf. Ina Rousseau het ook soos Elisabeth Eybers in haar poësie op die tradisionele definisies van vroulike ruimtes gereageer. Ook Sheila Cussons se kombuisgedigte toon aan hoedat sy die geslagsbe­paaldheid van die betrokke ruimte verwerk. Die lyn kan ook vanaf Cussons deurgetrek word na opvolgers soos Lina Spies en Antjie Krog (vgl. Viljoen, 2002:8-11).

Die oorskryding van die grens tussen binneruimtes soos die huis en tuin en die groter wêreld buite is baie prominent in die bundels wat tussen 1994 en 2005 verskyn, veral as die teenstelling ook wyer beskou word as net “huis” teenoor “buitewêreld”. In die versamel­bundel Die stil middelpunt: ’n keur, met nuwe gedigte van Ina Rous­seau word die “Nuwe gedigte” in die laaste afdeling bymekaar­gebring. Tussen die 21 gedigte in die afdeling is daar dertien wat op die een of ander manier te make het met die onderskeid tussen “buite” en “binne” en met die spanning tussen die verskillende ruim­tes.  

In “Die Purkinjé-verskynsel” (Rousseau, 2003:150) onthou die spre­ker in die gedig hoe sy die beperking van ’n treinruimte jare gelede kon oorskry deur ’n bepaalde metaforiese visie op ’n laning vlier­bome. Dit was vir haar asof die laning blomme teen die lug verf sodat die vaalte van die landskap deur haar manier van kyk ge­transformeer is. Die gesprek oor donkerte waarna aan die begin van die gedig verwys word, word beantwoord deur ’n bevrydende herin­nering op te roep: die manier van kyk, vanuit ’n binneruimte na ’n groter buiteruimte, maar ook ’n verbeeldingryke beskouing van daar­die buiteruimte, kan ’n vaal landskap “triomfantlik” verander. Daar is by die digter geen selfbewustheid oor die feit dat sy haar herinnering as belangrik weergee nie, hoewel “beeldsluierwit blomme” as ’n “vroulike metafoor” beskryf kan word. Wat verder belangrik is, is dat die waarnemer en spreker as ’n reisende mens voorgestel word wat haar ervaringswêreld konstrueer en rekonstrueer deur “na buite” te kyk.

Toe hulle praat oor een of ander
naderende donker

onthou ek dat ek jare gelede
gesien het, deur ’n treinruit
een vroegaand in Vlaandere,

hoe ’n lang laning vlierbome
kilometer ná kilometer

honderde haarskerp omraamde
bruidsluierwit blomme

triomfantelik
verf op die halflug se vaalte.
(Die stil middelpunt; Rousseau, 2003:150.)

Sterker gemoeid met die problematiek van Suid-Afrika is die vers­reeks “Die seuns en die dogters van die mense 1-4” (Rousseau, 2003:161-164) waarin die herhaalde weggaan en terugkom van kin­ders kommentaar lewer op die opvoeding van Suid-Afrikaanse kin­ders, maar ook op die situasie in die land. In die gedig “Koerant” (Rousseau, 2003:155) word die veilige ruimte van die binnehoffie gekontrasteer met die skokkende nuus oor die buitewêreld waarvan in die koerant gelees kan word. In “Kersfees 1996” word ’n mense­slagting gekontrasteer met die “voldane” manier waarop ’n mens in hulle huis voor die venster die kersete opdis. Die sensitiwiteit in die gedigte kan wel as “vroulik” beskou word en ook die waarnemings­punt wat “binne” die beskermde ruimte lê, maar die bemoeienis met die groter problematiek, die betrokkenheid by groter vraagstukke oorskry die grens van die tradisionele “binneruimte” van vroue.

In die gedig “Die vorm” (Rousseau, 2003:154) word die dreiging van ’n katastrofale uitbarsting oor grense heen gesuggereer sodat die angstigheid oor die situasie in die land en die kontinent indirek aan die orde gestel word.

 Die vorm

Hier is die wêreldkaart: spits
jou aandag toe op Afrika, waar hy
veeltintig voor jou lê. Neem waar:
Hy is topswaar, kromlynig en enorm –
rofweg die vorm
van ’n gestolde kernbomontploffing.
(Die stil middelpunt; Rousseau, 2003:154.)

In al hierdie gedigte kan gesien word hoe intens die bewustheid van die dinamiek rondom grense is. Daar is geen sprake van in een ruimte vasgevang bly nie; trouens, die spanning tussen ruimtelik geskeie wêrelde wat albei deur die spreker bewoon en betree word, vorm telkens die kern of die kruks van die gedig.

2.2     Die postkoloniale konteks

Een van die belangrikste faktore in die ontwikkeling van die Afri­kaanse letterkunde is die koloniale en postkoloniale geskiedenis. Trouens, daar kan selfs beweer word dat dit die enkele belangrikste historiese gegewe in die totale geskiedenis van Suider-Afrika is. Vol­gens Ashcroft (2001:1) is die kolonialisme nog steeds ’n bepalende faktor en word die kulturele en politieke aard van die kontemporêre wêreldproblematiek grootliks bepaal deur die erflating van die vol­gehoue uitbreiding van westerse moondhede vanaf die tyd van die Renaissance tot in die negentiende eeu.

In die algemeen word aanvaar dat postkoloniale literatuur die resul­taat is van die interaksie tussen ’n imperiale kultuur en die komplek­siteit van inheemse kultuurpraktyke in die gekolonialiseerde gebied. Volgens Hutcheon (1995:130-135) is daar egter ’n noue verband tussen postkolonialisme en feminisme vanweë die sterk politieke agenda wat albei diskoerse kenmerk, asook vanweë hulle betrok­kenheid by sosiale en politieke hervorming. In die postkoloniale diskoers staan die koloniale subjek sentraal, terwyl die fokus in die postmoderne diskoers op die humanistiese val, en dus ook op die spesifiek vroulike subjek (vgl. Moore-Tilbert et al., 1997:6).

In Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie en Wilma Stockenström se Spesmase word implisiet en eksplisiet ’n verband gelê tussen manlike dominansie en koloniale vergrype en politieke en maatskap­like geweld. Daar is talle voorbeelde, maar hier word slegs verwys na die gedig “ai tog!” van Antjie Krog (2000:47) waarin die vrou geteken word as die een wat inderdaad “woordeloos” die grense tussen mense en kulture oorsteek:

mens hoort by haar wat daagliks woordeloos
nuwe wolle by die mat vleg
(Kleur kom nooit alleen nie; Krog, 2000:47.)

Volgens Odendaal (2006:126-127) bevat hierdie gedig ’n besondere sterk uitspraak teen Afrikanermans se 

male vanity wat die laaste woord spreek
oor die voorwaardes van by hulle hoort

(en ’n taal besig gestroop van die grammatika
van menslikheid en berou)
(Kleur kom nooit alleen nie; Krog, 2000:47.)

Hoewel “wolle vleg” eksplisiet ’n tradisioneel vroulike handeling is, is die optrede van die vrou wat haar oor kultuurgrense heen by hierdie aktiwiteit aansluit en “voeg”, ’n grensoorskrydende handeling. Han­deling en dade het tradisioneel tot die manlike domein behoort en die vrou in die gedig verbreek die tradisionele beperking tot bepaal­de ruimtes of domeine. Sy maak die grens van die verlede “inder­daad” ongeldig. Wat ook belangrik is, is dat sy nie heeltemal na ’n ander ruimte oorgaan nie, maar dat sy die handelende ingesteldheid versoen met die vroulike domein deur aan ’n vroulike handeling mee te doen. Die versmelting en versoening van voorheen geskeide ruimtes word hier subtiel gesuggereer.

Hierdie gedig staan aan die slot van afdeling 2 van die bundel, waar­in dit gaan oor allerlei vorms van geweldpleging in Suider-Afrika (die Anglo-Boereoorlog, die struggle-tydperk in die laaste deel van die twintigste eeu, die plaasbesettings in Zimbabwe). Gekoppel aan ’n uitspraak soos die volgende uit die slotafdeling van die bundel, waar ook ander dele van Afrika betrek word, is dit duidelik dat die mans van Afrika besonder negatief uit die prentjie te voorskyn kom:

ek sal jou kom haal uit beendere en koeëls en geweld en vigs
uit stomheid uit domheid uit die korrupte gesigte van mans
(Krog, 2000:81).

Die noue verband tussen die ruimte van koloniale vergrype en poli­tieke en maatskaplike geweld, en die vroulike ervaring daarvan, blyk uit vele soortgelyke gedigte waarin die stem van die vrou in Suid-Afrika sterk na vore kom. Die vrou is die een wat deur al die ruimtes heen beweeg en sodoende ’n brug slaan tussen wêrelde. Sy gaan werk saam met die ander kultuur se vroue en gaan haal die man uit die geweldsones. Sy is dus ook daadkragtig en tree op buite die tradisionele vroulike rol en oorskry so die grens van die beskutte ruimte. Sy doen alles egter op ’n vroulike manier deur versoening, vrede, geweld en redding te bevorder.

Uit bogenoemde voorbeelde wil dit voorkom asof daar wel ’n bepaal­de vroulike siening van die werklikheid is wat duidelik uit die repre­sentasies van belewenis en die werklikheid in die gedigte na vore kom, in sowel die tematiek as die metaforiek in die gedigte.

3.     Die literatuur as ’n “produk” in en van die gemeenskap

Dit bly altyd ’n vraag of daar enige sinvolle afleidings gemaak kan word op grond van die temas waaroor digters skryf en of daar inder­daad ’n oorsaaklike verband tussen kontekstuele faktore en die poësie is, aangesien die poësie, veral liriese poësie, tradisioneel juis tyd en ruimte wil transendeer. Hieruit voortvloeiend is ook die vraag of die poësie ’n uitwerking op die gemeenskap van lesers het deur mense te beïnvloed, hulle sienings te verander en deur insig oor te dra. Hierdie vrae geld ook vir die vrouedigters wat rondom die eeu­wending in Afrikaans skryf. Watter geldige afleidings kan gemaak word oor wat hulle skryf en hoe hulle skryf? Sou hierdie afleidings inligting verskaf oor of insig bied in die werk van die spesifieke dig­ters alleen, of sou daar ook iets aangaande die gemeenskap waar­binne hulle leef en skryf na vore kom?

Kan ’n mens aanvaar dat wanneer ’n bundel deur ’n uitgewer gekeur is, dit impliseer dat wat in die bundel staan en die manier waarop die tematiek in die bundel hanteer word, relevant en belangrik is vir die gemeenskap aan wie die bundel aangebied word? Is die uitgewer se siening en oordeel geldig en hoe korreleer dit met die markwaarde, dit wil sê gaan mense regtig die bundel koop? Is die verkope van die bundel ’n geldige maatstaf vir relevansie en gehalte? Die veronder­stelling is immers dat die uitgewer besluit of die bundel bemarkbaar is en dat hierdie besluit met gehalte, aktualiteit en die versoenbaar­heid met ’n bepaalde kulturele, ideologiese, politieke en sosiale kli­maat verband hou.

Hierdie vraagstelling sluit aan by die sienings van die Franse kul­tuursosioloog, Pierre Bourdieu, aangesien die interaksie tussen die magstrukture van ekonomiese en kulturele stelsels te make het met die “reëls van die spel” waarbinne alle kulturele produkte funksio­neer. In elke gemeenskap beklee bepaalde sake en instellings magsposisies en op grond van die verhoudings tussen hierdie posi­sies speel daar op verskillende vlakke en terreine ’n magstryd af.

Bourdieu is een van die teoretici wat die wisselwerking tussen teks en konteks sentraal stel en uitvoerig skryf oor hoe die ideologiese, ekonomiese en kulturele magsverhoudings in ’n gemeenskap kultu­rele produkte en hulle bestaan en oorlewing beïvloed (Bourdieu, 1992; 1994). In aansluiting by Foucault en Habermas (Bezuiden­hout, 2005:37), hou hy hom spesifiek besig met die rol en funksio­nering van estetiese objekte binne ’n bepaalde gemeenskap en die faktore wat die interaksie tussen gemeenskap en teks bepaal (Bour­dieu, 1994:252). Hy is van mening dat die leser hom-/haarself nie moet blindstaar teen die teks nie, maar ook die maker (digter en sender van ’n boodskap) in ag moet neem, sowel as die konteks en die blik van die ondersoeker as sodanig (vgl. ook Bezuidenhout, 2005:37).

Volgens Bourdieu (1992:12-13) kan die domein waarbinne die litera­tuur funksioneer, deur ’n driehoeksverhouding tussen drie grond­begrippe beskryf word, naamlik veld, habitus/habitat en kapitaal. Veld dui op die bestaan van die “wêreld”, die sosiale universum, wat volgens ’n onherleibare eie logika funksioneer, al tree daar tussen die verskillende velde allerlei strukturele en funksionele homologieë op. ’n Veld is ’n netwerk of konfigurasie van objektiewe verhoudings tussen objektiewe gedefinieerde posisies wat deur akteurs of “actoren” beklee word en wat dus as habitus die veld bevolk. Daar is ’n stel verhoudings tussen posisies wat die uitwendige struktuur van die veld bepaal en daar ontstaan stryd tussen die posisies in die veld. Elke veld ken een spesifieke vorm van kapitaal (of mag) wat ongelyk verdeel is en waarvan die besit toegang verleen tot die spesifieke wins wat op die veld behaal kan word. Elke veld ver­onderstel die beheersing van die “reёls van die spel”, ’n stilswyende erkenning van die waarde van die spel en die inset daarvan. Al­hoewel alle velde deelnemers aan die spel het, wat belange in­vesteer en deel, is alle velde strydperke waar ’n onafgebroke stryd woed om die verdeling van mag (of kapitaal). Daar is ook deur­lopend stryd om die behoud van of die verandering van die struktuur en die grense van die veld self, dit wil sê die definisie en funksio­nering van die legitieme veldpraktyk insluitend prosedures en deel­nemers (dié wat mag en nie mag deelneem aan die spel nie).

Afrikaanse digters soos Krog en Stockenström se werk tree duidelik en sterk in gesprek met die ideologiese kwessies in die werklikheid. Die onderwerpe en temas waaroor hierdie digters skryf, hou dus verband met die dinge wat in die gemeenskap as kapitaal (volgens Bourdieu se terminologie) beskou word, naamlik die hoop, vrees, politieke belange en laste van mense. Die inhoud as sodanig en die standpunte wat verwoord word, is dus aktueel vir die kontemporêre gemeenskap en daarom is die werk relevant en goed bemarkbaar. Dieselfde geld vir die habitus, dit wil sê die mense wat die veld bevolk en die magsverhoudings tot stand bring en in stand hou.

Indien hierdie struktuur toegepas word op die skryf, die publikasie, die bemarking en lees van die poësie op ’n bepaalde tyd in die ge­skiedenis, blyk dat selfs die poësie wat altyd as “belangeloos” en “vry” beskou is, binne ’n stelsel van magsverhoudings funksioneer. ’n Uitgewer beoordeel (met behulp van buite-keurders) ’n manuskrip en besluit of dit relevant, miskien selfs hoogs aktueel, ideologies ris­kant of literêr van hoë gehalte is. Na aanleiding van die posisie van die uitgewer binne die ekonomiese en ideologiese magsverhoudings word besluit of die bundel gepubliseer word of nie. Een uitgewery kan ’n gewaagde en vernuwende manuskrip aanvaar omdat dit potensiëel ’n goeie wins sal oplewer, terwyl ’n ander dieselfde ma­nuskrip ter wille van literêre meriete sal wil publiseer, afhangende van die waardesisteem waarvolgens die uitgewer funksioneer. Die uitgewer se optrede word deels deur die ekonomiese en ideologiese omgewing bepaal, maar ook deur die gemeenskapsopvattings. Soms kan die uitgewer voel dat hy die gemeenskap wil uitdaag, maar soms wil en moet die uitgewer bloot geld maak. Daar is talle beperkende of bepalende reëls wat die literêre veld beïnvloed en ’n digter se werk staan nooit los daarvan nie.

Hoewel daar sekerlik digters is wat probeer om buite die stelsels te bly, is dit rondom die eeuwisseling na die 21e eeu juis deel van die kontekstuele gegewens dat aktualiteit belangrik is. Baie digters se werk sluit aan by die kontemporêre kwessies en dilemmas, omdat dit ’n produk is wat binne die stelsel hoort, daaraan deelneem en dit uitbou. Daar is in die literêre veld oor eeue heen ’n eb en vloed van gesindhede oor die belang van betrokkenheid in die poësie, maar in die teenswoordige tydsomstandighede word dit wel hoog aange­skryf. Werk van individualistiese aard wat voortreflik is, sal waar­skynlik egter steeds deur die “regte” uitgewer uitgegee en bemark word.

Die interaksie tussen gemeenskap en/of individu en die sosio­politieke omwêreld is prominent in die werk van verskeie Afrikaanse vrouedigters in die dekade rondom 2000. Stockenström en Krog se werk kom hier onder meer ter sprake, omdat hulle ’n sterk sosio­politieke bewussyn in hulle werk openbaar. Ander vroulike digters wat by hulle aansluit is Rousseau, Spies, Laurie, Du Plooy en Joubert. Die wêreld waarin die poësie gelees word en die wêreld waarna in die poësie verwys word, stem dus ooreen in terme van die magsverhoudings en dominante kwessies wat daarin weerspieël word.

Wat egter vir die argument in hierdie artikel belangrik is, is dat hier­die betrokke ingesteldheid in baie gevalle met die ruimte te make het en in terme van ruimtelike metafore uitgedruk word soos later met voorbeelde geïllustreer sal word (vgl. paragraaf 4).

Bourdieu (1994:284;287) se siening is dat tekste (die kapitaal van die veld) wat geskryf en uitgegee word nie werklik vry is nie. Hy be­nadruk dat op bepaalde tye in die geskiedenis spesifieke maatskap­like faktore sentraal staan en die kreatiwiteit en die status van ’n digter in werklikheid (kan) strem en/of stuur. Dit kom daarop neer dat kunsproduksie en -verspreiding dus, in bepaalde tydperke, deur historiese omstandighede gedetermineer word. Volgens Bourdieu is die outoriteit en mag van die skrywende genie ’n illusie wat, hoe indirek ook al, onderworpe is aan die spel van veranderlikes – ’n verskynsel wat hy “die reëls van die kuns” noem.

’n Mens kan hierdie stelling se algemene geldendheid bevraagteken omdat daar tog deurlopend vernuwing van sowel tematiek as styl in die literatuur voorkom en veranderings in estetiese opvattings en praktyk is dikwels juis teenstrydig met die verwagte ideologiese en kulturele verwagtings.[2] Wat wel uit Bourdieu se opvattings afgelei kan word, is dat tekste en die gesitueerdheid van skrywers, onder die vroulike Afrikaanse digters rondom die eeuwending, deur ge­beure in die sosiale bestel sowel as die literêre veld gerig word. Hiervolgens kan aangeneem word dat kwessies van vryheid en bevryding van vroue in Suid-Afrika ook in die Afrikaanse digters se werk gereflekteer sal word (vgl. Bezuidenhout, 2005:37). Hoewel dit sekerlik nie die deurslaggewende faktor is vir Krog se statuur as digter nie – omdat die estetiese gehalte en trefkrag van haar unieke hantering van taal, ritme, metaforiek en versvorm onbetwisbaar is – speel die betrokke tematiek in haar werk tog ’n belangrike rol in die gesogtheid van haar bundels. Dit is ook deels hierdie deelname aan ’n dwingend belangrike diskoers wat Krog se werk in Suid-Afrika en in die buiteland hoogs bemarkbaar maak. Krog se reputasie as ’n prominente eietydse Afrikaanse digter berus ook daarop dat sy die ontwikkeling van dilemma tot verandering van die mense wat tot die­selfde taal- en kultuurgemeenskap as sy behoort, in haar verse ver­woord. In elke bundel word haar eie wêreld en die wêrelde waarmee sy in gesprek tree, verruim. Haar bemoeienis met die kontemporêre politieke posisionering en haar kommentaar daarop is duidelik in versreëls soos die volgende in die gedig “ai tog!” uit die bundel Kleur kom nooit alleen nie (Krog, 2000:47). Sy relativeer die sterk groeps­identiteit wat tradisioneel deel van die Afrikaanse kultuur was en stel die moontlikheid van ’n meer universele “mens” en menslikheid voorop.

mens sê maar gereeld
mens is niemand se Afrikaner nie
mens praat niemand se taal nie
mens is nie ’n moer iemand se meriete nie
mens is drolwit en pisswart
mens skyt graag op die manne
wat werk by die nuwe barcounter van identities

Benewens Krog se werk, toon die omvang en gehalte van Stocken­ström se publikasies dat vroue nie langer ’n marginale posisie in die Afrikaanse poësie beklee nie. Stockenström konstrueer onder ande­re in die gedig “Jy sien haar nêrens meer nie” in die bundel Spes­mase (1999:43) ’n ek-spreker met ’n sterk bewustheid van die feit dat die rol van die vrou in die samelewing ingrypend verander het, as die gedig verwys na die “vrou / wat ’n eie vaandel dra en haarself / dodelik seker promoveer tot stryder?”

Bourdieu se siening (1996:252-253) dat interne worsteling deels deur eksterne goedkeuring gearbitreer word sluit nóú aan by boge­noemde twee digters se geïmpliseerde poëtikas. Al sou die konflik wat in die literêre teks gerepresenteer word, primêr met individuele ervaring te make hê en dus onafhanklik van eksterne en konteks­tuele faktore staan, is daar steeds ’n verband tussen die trefkrag van die uitgebeelde konflik en die eksterne wêreld of werklikheid. Lesers reageer op die uitbeelding omdat die konflik, stryd of worsteling vir hulle bekend is, omdat hulle daarmee kan identifiseer of daarmee simpatie kan hê. Volgens Bourdieu (1994:142-143) speel die sosiale struktuur en die hiërargie van vraagstukke ’n bepalende rol in die produksie en die resepsie van tekste. In die praktyk is die skryfhan­deling ’n produk van twee geskiedenisse: die geskiedenis van die produksie/skepping van ’n posisie wat deur ’n bepaalde skrywer of teks geokkupeer word en die geskiedenis van die produksie/ skepping van die ingesteldhede van die ontvangers.

In werklikheid is die literêre veld, net soos die politieke veld of enige veld, ’n terrein van stryd en kompetisie. Die stryd word onder meer bepaal deur spesifieke insette en spesifieke verhoudings tussen onder meer die gemeenskap, die omstandighede van die gemeen­skap, die skrywers se posisie en die tematiek van die tekste. Op grond van hierdie verhoudings en die posisies van die rolspelers of agente, word die mag en invloed van die teks en die aansien van teks en skrywer bepaal. Vanselfsprekend is die bepalende magte nie net ideologies en ekonomies van aard nie, maar speel estetiese oorwegings en opvattings ook ’n rol. Bourdieu se sienings staan natuurlik self binne ’n bepaalde ideologiese paradigma wat mark­kragte en politieke kragte as die magsbepalers beskou. Hy kwalifi­seer egter self ook die spesifieke posisie van die poësie as ’n voort­durend veranderende en selfvernuwende veld.

Volgens Bourdieu (1994:143) is die poësie die lokus van ’n per­manente opstand: die nuwe inskrywers bevraagteken telkens op­nuut dit wat in die vorige revolusie teen die voorafgaande ortodoksie gerig was. Hierdie voortdurende opstand teen die maghebbers of heersende groep kan op die vlak van die literatuur beskou word as ’n proses van “suiwering”. Poësie word meer en meer gereduseer tot die essensie daarvan; met ander woorde dit word deur herhaal­delike revolusie gestroop van dit wat poësie definieer, naamlik die rym, metrum, metafoor, liriek, ensovoorts, maar ook telkens opnuut gedefinieer.

’n Mens sou dus kon sê dat daar ’n oorsaaklike verband bestaan tussen die posisie of gesitueerdheid van digters, die manier waarop hulle hulle posisies en kommentaar daarop verwoord (dit wil sê die stemme in die poësie) en die resepsie of ontvangs van die poësie. Hierdie verskynsel kan ook in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse poësie opgemerk word.

4.     Gedigte in die Afrikaanse literêre veld 1994-2005

In ’n studie oor die voorstelling van verskillende aspekte van Afrika in die Afrikaanse digkuns, toon Van der Merwe (1999) aan hoe in­tens die Afrikaanse poësie tot selfs in die negentigerjare van die twintigste eeu gemoeid is met die Afrikaruimte, fisies sowel as ab­strak, letterlik sowel as metafories.

Van der Merwe (1999:395) identifiseer agt Afrikakodes wat promi­nent figureer in die Afrikaanse digkuns tot aan die einde van die twintigste eeu, naamlik ’n geografiese kode, klimatologiese kode, natuurkode, antropologiese kode, taalkode, literatuurkode, geskie­deniskode en ’n konflik-en-versoeningskode. Wat vir hierdie argu­ment belangrik is, is dat ruimtelike aspekte soos die geografie, klimaat en natuur ook sterk figureer in die werk van vroulike digters rondom die wending na die 21e eeu.

Odendaal (2006:105) wys daarop dat in bundels soos Spesmase (Stockenström, 1999), Kleur kom nooit alleen nie (Krog, 2000), Lan­delik (Bosman, 2002) en In die landskap ingelyf (Du Plooy, 2003) die identiteitsvraagstuk (waarskynlik gestimuleer deur die transfor­masie in die land) prominent is, maar dit is opvallend dat hierdie probleem dikwels in terme van die fisiese en ideologiese ruimtes uitgebeeld word.

Die identiteitsproblematiek is veral prominent in Krog se bundel Kleur kom nooit alleen nie (2000). Krog rekonstrueer haar Afri­kaansheid dialogies binne die Afrikakonteks deur ander stemme in haar poësie te laat praat. Dit word gedoen deur die teenoor- en langsmekaarplasing van belewenisse van verskillende kultuurgroe­pe en deur mense uit verskillende groepe aan die woord te stel (die parkboer, die lydende vroue aan die begin en aan die einde van die eeu, die digters van Wes-Afrika). Krog is egter deurlopend bewus van die intensiteit van die Afrikaproblematiek en is ook uitgesproke en krities oor nuwe polities-maatskaplike stelsels wat ontwikkel in die bevryde Afrika. In “ná grond-invasions in Zimbabwe” van Krog (2000:45) word sulke sake gereleveer in die volgende versreëls:

sal ’n swart man op ’n dag in my gesig gil
Voetsek! Fôkôf! en my huis oorvat
en my President bly stil en sy Kabinet
en die oorblywende wit comrades?
(Kleur kom nooit alleen nie; Krog, 2000:45.)

Hoewel die argument in hierdie bundel as geheel gaan oor die moontlikheid dat wedersydse respek en medemenslike liefde per­soonlike heling bring en dat identiteit eers daarna kan ontwikkel, ver­woord hierdie gedig ’n werklike vrees by die digteres, ’n vrees wat ook deur lesers gedeel sal word. Die feit is dat haar soeke na identiteit in hierdie bundel onlosmaaklik aan die Afrikaruimte ver­bonde bly. In die bundel word trouens ’n lang reis afgelê om by ’n bepaalde, gekwalifiseerde identiteit uit te kom, ’n identiteit waarin sowel Afrikaans as Afrika, taal en plek en die baie verhoudings daaromheen ’n rol speel.

4.1     Reis as motief en identiteit

Daar bestaan ’n sterk verband tussen reis (’n ruimtelike verplasing) en identiteit. Reis is ’n opvallende tema wat op ’n verskeidenheid maniere ontgin word in die werk van Afrikaanse vroulike digters tussen 1994 en 2005. Die vele reisgedigte toon in hoe ’n mate die ruimte van die huis en tuin en die kleiner ruimtes van die tradisionele vroulike bestaan deurbreek is. Die soeke na identiteit deur middel van reis figureer byvoorbeeld sterk in Hambidge se poësie en dit gaan dan uiteindelik in Lykdigte (2000) oor die finale oorgang na die doderyk. In Hambidge se oeuvre gaan dit egter hoofsaaklik om ’n persoonlike identiteitsoeke deur middel van reise.

In In die landskap ingelyf (Du Plooy), Die skaduwee van die son (Spies), [en die here het foto’s geneem oor vanderbijlpark] (Nel) en Kleur kom nooit alleen nie (Krog) word indrukke van die besoekte wêrelddele poëties verwerk, maar die ervaring van vreemde ruimtes geskied teen ’n bepaalde agtergrond van ruimtelike verbondenheid.

In Du Plooy se bundel, In die landskap ingelyf (2003), word die ver­bondenheid aan ’n spesifieke plek en ’n spanning tussen die reis en die plek van herkoms, die tuiste, verwoord ter inleiding van ’n reeks gedigte oor reise na verre plekke. Die sentrale gedagte is dat hoe­wel die spreker die behoefte het aan reis, aan uitbeweeg, aan die verkenning van nuwe plekke en die oorskryding van bekende hori­sonne, die verbondenheid aan die plek van herkoms nie daardeur prysgegee of gekompromitteer word nie.

I

my hart se een voet kan nie loop nie.
my hart se ander voet loop rond.
my hart stuur arms, kop en een
voet ver en wyd reislustig uit.
die ander voet bly tuis.
(In die landskap ingelyf; Du Plooy, 2003:48.)

Die behoefte aan ’n wyer ervaring word ook uitgespreek in die vol­gende gedig van Nel:

dus aarde   hier is ek
gereed   om jou pad nog ’n keer te pak
en weer te stap
om meer te weet en weer te sien
en nog en nuwe songs te leer
en ek wag op jou
om uit te vind
die tyd vir droom is nou
([en die here het foto’s geneem oor vanderbijilpark]; Nel, 2002:94.)

Krog sluit die bundel Kleur kom nooit alleen nie (2000) af met ’n ge­dig waarin sy, na al die omswerwings van liggaam en gees, haar verbondenheid aan ’n bepaalde plek openlik en eksplisiet bely:

met die litteken van tong
skryf ons die grond onder ons voete
skryf ons die ruimte waarin ons asemhaal
in jou word ruik jy mens proe jy Afrikaan
om te skryf
            is om te hoort
            met
my stem is vir die eerste keer vry
ons groet
almal is uitgelate
ek weet waarheen ek op pad is
tot hiertoe en verder huis
(Kleur kom nooit alleen nie; Krog, 2000:103.)

In Bosman se bundel, Landelik, is daar duidelik ’n soeke na kulturele herkoms, in positiewe en negatiewe sin. In die gedig “Reisvaardig” word die kultiverende werk van “voorsate” as ’t ware nagespeur deur middel van ’n tog by die plekke langs met veral Afrikaanse name, met as verblydende konklusie: “die plekke op die kaart bestaan” (Odendaal, 2006:122). Die reis is nodig, maar in hierdie geval om die eie bestaan van die spreker as deel van ’n groep en in ’n be­paalde ruimte te bevestig. Die gebruik van Afrikaanse name gee die bepaaldheid aan die plek en vorm deel van die ruimtelike identiteits­belewenis van die spreker in die gedig.

Dan tuis: ’n doel en nuttelose reis miskien,
maar dié versekering het ons weer gekry:
die plekke op die kaart bestaan.
(Landelik; Bosman, 2002:62.)

In Laurie se bundels Skietspoel (1997) en Ek sien ’n rooi bul storm (1999) speel die geografiese sowel as die natuur-, geskiedeniskode en die konflik-en-versoeningskode ’n sterk rol. In Skietspoel kom die intense verbondenheid met die natuur na vore in etlike gedigte, soos byvoorbeeld in die gedig “Kameeldoring” (Laurie, 1997:14). Die ka­meeldoringboom beleef krag en triomf in die tyd van sy hoogbloei, maar sy groei word vernietig as hy deur die weerlig raakgeslaan word. Tog herleef die dooie boom in die klein diertjies wat die dooie stam betrek en ’n hele nuwe ekosisteem wat gevestig word. In vele ander gedigte praat die digter deur die natuurdinge, stel sy die bo­me, voëls en diere aan die woord waaruit ’n duidelike vereensel­wiging met die dinge en diere van die Afrikalandskap blyk. Die ge­moeidheid met die uniekheid van Afrika, sluit egter ook die mense in. In die gedig “Bibliografie” word die noue verband tussen wit en swart in Suid-Afrika uitgebeeld. Laurie gebruik ’n kunswerk waarin die vervlegtheid en interafhanklikheid van kulture in die geskiedenis van hierdie land, uitgebeeld word om die inter-afhanklikheid van wit en swart aan die orde te stel:

– git op wit –
’n houtsnee van Cecil Skotnes.
Met elke versreël gly
Wolraad Woltemade oor ’n baar.

Sonder die wit sou jy
die swart land nie kon besit.
(Skietspoel;
Laurie, 1997:13.)

Die gedigte van die vroulike digters waarna hier verwys is, weer­spieël dus ’n gerigtheid op en verbondenheid aan die kontinent waarop die digters lewe. Daar is blyke van volgehoue pogings om betekenis te gee aan hierdie verbondenheid en om tot groter begrip van Afrika en hulle plek op die kontinent te kom. Van der Merwe (1999:400) het oor vroeër digters soortgelyke gevolgtrekkings ge­maak, wat toon dat dit nie slegs vroulike digters is wat so sterk op Afrika gerig is nie. Tog bly hierdie eienskap prominent in die meeste resente poësiebundels van vroulike digters soos blyk uit die volgende voorbeelde.

Du Plooy se bundel, In die landskap ingelyf (2003), sluit af met ’n afdeling “Landskapsiklus” waarin beskryf word hoe die spreker die landskap (wat uiteindelik ononderskeibaar van die land self word) probeer verstaan en ken. Die sentrale metafoor wat gebruik word, is die van skilderwerk. Soos wat die skilder die landskap moet ver­staan om dit te kan skilder, so moet ’n mens ook jou fisiese en abstrakte omgewing verstaan en ken om sinvol daarin te kan lewe. Dit word in die huidige opset ’n bykans onbegonne saak. Nogtans sluit die siklus en die bundel af met erkenning van verbondenheid, ’n belydenis van behoort, ’n besef en aanvaarding van die onver­mydelike posisionering van ’n mens vir die duur van haar lewe:

 Deur oë, ore, tong en vel is ek
uiteindelik ’n blote koppelvlak.
Ek is verhouding en verband
tussen my tyd en hierdie land.
(In die landskap ingelyf; Du Plooy, 2003:76.)

Bosman se bundel, Landelik (2002), waarin die natuur en die platte­land, ’n verbonderheid met die aarde, spesifiek met Afrika en Suid-Afrika, belangrike temas is, is verder gemoeid met ’n “ekologiese verantwoordelikheidsin, wat genuanseer word deur ’n duidelike reli­gieuse besef” (Odendaal, 2006:117). Wit én swart voorgeslagte se skades en skandes, asook hulle lyding en prestasies kry erkenning. Daarom is daar ontsteltenis en skuldgevoelens oor “my verworde land”, maar dit word verwoord in terme van plekke, huise, die plat­teland en die land.

In die verboude huise op die platteland
bloei ek oor die rakke toegemaakte boeke
en my ongebore kinders
en die stamelmooie woorde,
ontwortel, verwelkend in die stowwe
van my verworde land.
(Landelik; Bosman, 2002:36.)

Odendaal (2006:117) lees ’n hoopvolle toekomsperspektief in Bos­man se verse. In die begin van die bundel, in die gedig “Landsreise I”, sien sy die landskap “onbeskryflik” voor haar uitstrek. Daar word uiting gegee aan ’n soort magteloosheid, ’n gevoel dat die landskap haar oorweldig en haar tot swye bring.

Agter die wit papier
strek die landskap
onbeskryflik voort.
(Landelik; Bosman,
2002:20.)

Maar aan die einde van die bundel, in die slotgedig (“Landsreise II”), kyk sy tog anders daarna. Uit hierdie progressie blyk weereens die gelyktydige aanwesigheid van ’n bekommernis oor die komplekse problematiek van die land en die onontkenbare en onontkombare liefde daarvoor.

Hoe lief het ek dit :
die sinne wat streke skryf,
hoe lief het ek dit.
(Landreise II; Bosman, 2002:85.)

4.2     Ander vorms van ruimtelike metaforiek

In Stockenström se Spesmase (1999) probeer die digter peil wat eintlik vas staan in die lewe. Met haar kenmerkende ironiese be­wustheid van relatiwiteit, kom sy telkens tot ’n onthutsende slotsom. Uit die bundel spreek ’n vasbeslotenheid om sake van alle kante te bekyk en sy het ’n “spesmaas” dat niks vas en onveranderlik is nie. Tog is dit opvallend dat sy met elemente uit die fisiese omgewing werk en veral met sake wat spesifiek met Suid-Afrika en Kaapstad geassosieer word. Die digter wend haar tot Tafelberg en selfs hierdie skynbaar onversetlike en onverstoorbare berg met sy “isheid van sandsteen en graniet”, word relatief (“Vanuit ’n venster bekyk”, Stockenström,1999:21). Soos wat sy die verlede en hede van Suid-Afrika beleef, staan ook die ideologiese (self-) behepthede en boos­aardige bedenksels wat tot geweld en verskrywing van die werklik­heid en die geskiedenis gelei het, glad nie vas nie en die inherente dualisme word deur die digter uitgewys (Odendaal, 2006:116).

Hierdie isheid van sandsteen en graniet,
die voorkant steil geplet en vestinghoog,
hierdie hoogheid, hierdie deurlugtigheid
het ’n stert wat in die see steek,
en eenkant hou die duiwel
wag en anderkant ’n leeu.

En agter skulp die berg ’n baai
van volmaakte valsheid en bevaring
hy ravyne met inademing
groen, uitademing stil. Kortom,
hy staan so vas, ek dink
nie hy is betroubaar nie.
(Vanuit ’n venster bekyk; Stockenström, 1999:21.)

Op ’n boeiende wyse gebruik Stockenström dikwels metaforiek wat met konkrete ruimtelike verskynsels verband hou, maar wat uitgroei om in ’n wyer sin by ander simboliese en metaforiese raamwerke aan te sluit. In die tweede afdeling van Spesmase word ’n bewuste aanvaarding van die vervlietende as wesenlike eienskap van die bestaan, ook van wat die digkuns kan vermag, eksplisiet op vele maniere verwoord. Tog gebruik die digter steeds metafore wat ver­band hou met plekke en dinge in die natuur. Die gedig “Gekwetter” handel oor sowel die onvatbaarheid van die werklikheid as die aard van die poësie. Die metafoor van voëls wat wegvlieg en in die niet verdwyn, is hier baie gepas. Stockenström beskryf die ontglippende aard van die korrekte woord waarna die digter altyd soek.

Ek hemel met woorde wat nie dade word
die leegheid op waarin ek my bevind.
Soos ’n gekwetter wat slapentyd sal oplos,
soos ’n refrein wat herhaaldelik kwinkelerend
verdwyn, toor ek my weg in taal.
(Spesmase; Stockenström, 1999:32.)

Sy probeer ’n “leegheid” beskryf, dus iets sê van die toestand waarin sy haar bevind, maar dit gebeur in woorde wat sal vergaan en ver­dwyn soos die geluide van voëls in die aand. Sy laat haarself ook uiteindelik in die leegheid wegraak. Die byna wanhopige aard van die skryfdaad, in die gebruik van woorde, word gesuggereer in die frase “hemel … op” wat sowel idiomaties in die sin van “ophemel” of “deur woorde beter laat klink” gelees kan word as in terme van die assosiasie met die “hemel” as ’n abstrakte konsep wat ’n “beter” of “goeie plek” kan aandui. Dit is asof die manier waarop die digter met haar omgewing omgaan deur woorde te gebruik en nie dade nie, vergeefs is, maar nogtans ’n poging is om haarself te red deur weg­getoor te raak in ’n plek van “woorde”.

In die tweede strofe skryf sy oor die metafisiese aard van gedigte wanneer sy sê sy is die digter wat “loop en nie / weet waarheen en nie wil / aankom en nie wil vind.” Wat hier ter sake is, is dat Stockenström haar soeke uitdruk in terme van ruimtelikheid, van be­weging in ruimte, van loop en die soek na ’n nie-bestaande bestem­ming. Sy ervaar die lewe as ’n leegheid en sy trek dit deur na die vervlietendheid van die gedig en sy aard. Sy dra die wesensken­merke wat deel is van die lewe, naamlik gelatenheid en aanvaarding van beperkings, aan die gedig oor. Ironies genoeg staan die gedig wel daar en die betekenis van die gedig is wel behoue vir die leser.

Ontferm julle nou oor my
want ek is die een wat soek
en nie weet waarna en ek
is die een wat loop en nie
weet waarheen en nie wil
aankom en nie wil vind.
(Spesmase; Stockenström, 1999:32.)

Na “Gekwetter” volg ’n alleenstaande gedig, “Oewergedagtes”, waarin gesuggereer word dat die verwondering van die menslike gees, hoe lig en drywend, “soos ’n blaar op ’n kuil”, dit ook al is, iets waardevols is.

 Die palmiet buig. Die kurper flits.
Verwondering, my eie ek, dra
’n gedagte soos ’n blaar op ’n kuil.

Die monding rek sy bek groot
en sonsoet water vloei die seë in,
jubelend jobbelend tot aan die lug.

Tot daar tot daar gaan die gedagte.
(Spesmase; Stockenström, 1999:35.)

Dit is merkwaardig dat die gedig nie die waarde en betekenis van die visuele ervaring van die natuurdinge wat dit representeer, “uitsê” nie, maar dit suggereer deur die gebruik van woorde met positiewe assosiasies van skoonheid en hoop. Die “palmiet” wat buig dui op spanning wat verduur word en die “kurper flits” verwys na die vervlietendheid van ’n waarneming, maar veral na die verwondering aan die skoonheid daarvan. In “Oewergedagtes” is daar ’n suggestie van die eindeloosheid van die watersiklus wat lewe gee en die ge­volglike gedurige vernuwingsproses. Die verbondenheid van die mo­mentele ervaring met die weidsheid van die hele kosmos word ge­suggereer deur die “sonsoet” water wat die “seë” invloei en al is dit so ver as wat die menslike gedagte, of die digter se gedagte kan gaan, is dit wel eindeloos verruimend. Die menslike gees kan hoop­vol wees en die vervlietende ruimte van die lewe en wêreld tóg te bowe kom (vgl. ook Odendaal, 2006:120). Die waarneming van dinge is ’n konkrete ervaring, maar dit is momenteel en vervlietend. Wat wel na vore kom, is die betekenis van die dinge en hoewel die gedig dit relativeer, is die betekenis in die gedig tog standhou­dender.

’n Ander digter wat op ’n eiesoortgie wyse gebruik maak van ruim­telike konsepte is Ilse van Staden. Haar gedigte roep die ruimtes van die elemente van grond, water, lug en vuur op om in die biologiese wêreld as teenvoeter van en ontvlugting aan die menslike bestaan te dien. Die elemente, wat ook uitruilbaar is, skep nuwe en veilige ruimtes waarin van die werklikheid ontsnap kan word. In die gedig “Vlerkhand” (Van Staden, 2003:7) word die elemente van grond en lug waarin die ongelukkige mens wil ontvlug deur middel van die poësie en skryf en taal, uitgebeeld:

handvlerkiges kan net oor die hemel skryf
die verskriklike grond vermy
en ontsettend teenstrydig
aan die lug geanker bly.

Van Staden werk deurlopend met die oorskryding en transendering van ruimtelike grense. Die gedig ontstaan uit water (“Gedig aan ’t kom”; Van Staden, 2003:9), maar in “Selakant” (Van Staden, 2003: 17) word die domein van water en “wyer plekke” teenoor mekaar gestel:

– wat is die sin
van eeue lank vertoef
in skub en vin
as wyer plekke wink?
(Watervlerk; Van Staden, 2003:17.)

Vir die digter is die lewende wese nie noodwendig gekluister aan ’n begrensde omgewing of beperkende liggaam nie: Die gedigte han­del oor metamorfoses wat plaasvind, maar die transformasies word telkens ruimtelik voorgestel.

5     Gevolgtrekking

Hierdie artikel wil aan die hand van geselekteerde gedigte aantoon dat ’n besondere bewustheid van die omringende werklikheid as ’n fisiese en ’n abstrakte ruimte bestaan in die werk van vroulike Afri­kaanse digters wat tussen 1994 en 2005 bundels gepubliseer het. Uiteraard kan die onderwerp hier slegs oppervlakkig behandel word en kan slegs enkele voorbeelde gebruik word. Nogtans is daar ’n poging aangewend om deur eksemplariese voorbeelde aan te toon dat die literatuur iets weerspieël van die magsverhoudings sowel as die “kapitaaldraende” inhoude in die kontemporêre “veld” soos Bour­dieu dit verduidelik. Inhoudelik vertoon die werk van die geselekteer­de digters ’n sterk gerigte interaksie met die werklikhede van Suid-Afrika en Afrika. Die kontemporêre ideologiese en kulturele proble­matiek is dus ’n belangrike tema in die kontemporêre veld en ge­digte oor hierdie tematiek; ’n geldige produk of kapitaal wat “verhan­delbaar” en waardevol is vir die rolspelers (die habitus). Die verbon­denheid aan die land en die kontinent, wat kritiek en “liefdesverkla­rings” insluit, word egter dikwels in terme van voorwerpe in die ruim­te soos bome en plante, of in terme van streke en plekke uitgebeeld (Krog, Du Plooy, Bosman).

Die voorliefde vir ruimtelike metafore strek egter verder. Daar is gevind dat die vroulike digters ook in “universele” sin van ruimtelike metafore gebruik maak soos veral blyk uit die voorbeelde uit die werk van Stockenström en Van Staden.

Uit albei kategorieë van ruimtelike bewustheid en die representasie daarvan in die poësie soos wat in die artikel bespreek is, sou die afleiding gemaak kon word dat vroulike digters inderdaad fyn in­gestel is op die ruimtes en plekke waarin hulle lewe. Of hierdie ingesteldheid sterker is as ander ingesteldhede kan nie met seker­heid beweer word nie. Daarvoor sal daar nog baie ander vergely­kings getref moet word. Wat egter wel onteenseglik beweer kan word, is dat ruimtelikheid, in die wydste sin van die woord, inder­daad ’n prominente faset van die digwerk van vroue in Afrikaans rondom die eeuwending na die 21e eeu is.

Geraadpleegtde bronne

ASHCROFT, Bill. 2001. Postcolonial transformation. London: Routledge.

BELSEY, C. & MOORE, J. 1997. The feminist reader. Great Britain: Creative Pring & Design.

BEZUIDENHOUT, S.M. 2005. Sosio-literêre perspektiewe op die eietydse digkuns van vroue in die Afrikaanse en Nederlandse taalgebiede. Stellenbosch: Stellenbosch Universiteit. (Proefskrif – Ph.D.)

BLUNT, A. & ROSE, G. 1994. Introduction: women’s colonial and postcolonial geographies. (In Blunt, A. & Rose, G., eds. Writing women and space: colonial and postcolonial geographies. New York: The Guilford Press.

BOSMAN, M. 2002. Landelik. Pretoria: Protea Boekhuis.

BOURDIEU, P. 1992. Opstellen over smaak, habitus en het veldbegrip. Amsterdam: Van Gennep.

BOURDIEU, P. 1994. De regels van de kuns. Amsterdam: Van Gennep.

BOURDIEU, P. 1996. Trans. By Susan Emanuel. The rules of art: genesis and structure of the literacy field. Cambridge: Polity.

DE BEER, A.M. 2009. Ruimte as tema en metafoor in die poёsie van Afrikaanse vroulike digters na 1994. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit. (M.A.-verhandeling.)

DU PLOOY, H. 2003. In die landskap ingelyf. Pretoria: Protea Boekhuis.

HAMBIDGE, J. 2000. Lykdigte. Kaapstad: Tafelberg.

HAMBIDGE, J. 2002. Ruggespraak. Pretoria: Protea Boekhuis.

HUTCHEON, L. 1995. “Circling the downspout of empire”. From: “Circling the downspout of empire: post-colonialism and postmodernism”. Ariel, 20(4), 1989. (In Ashcroft, B., Griffiths, G. & Tiffin, H., eds. The post-colonial studies reader. London: Routledge. p. 130-135.)

KROG, A. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwêla.

LAURIE, T. 1997. Skietspoel. Kaapstad: Tafelberg.

LAURIE, T. 1999. Ek sien ’n rooi bul storm. Kaapstad: Tafelberg.

LEMAIRE, T. 1996. Filosofie van het landschap. Baarn: Ambo.

MOI, T. 1985. Sexual/textual politics. New York: Methuen.

MOORE-TILBERT, B., STANTON, G. & MALEY, W., eds. 1997. Postcolonial critism. London: Longman.

NEL, R. 2002. [en die here het foto’s geneem van vanderbijlpark]. Pretoria:      Protea Boekhuis.

ODENDAAL, B.J. 2006. Tendense in die Afrikaanse poësie in die tydperk 1998 tot 2003. (In Van Coller, H., red. Perspektief en profiel: ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. PretoriaVan Schaik. p. 105-127.)

ROUSSEAU, I. 2003. Die stil middelpunt. Kaapstad: Human & Rousseau.

STOCKENSTRÖM, W. 1999. Spesmase. Kaapstad: Human & Rousseau.

VAN DER MERWE, B.A.J. 1999. Afrika in die resente Afrikaanse digkuns. Potchefstroom: PU vir CHO. (Proefskrif – Ph.D.)

VAN STADEN, I. 2003. Watervlerk. Kaapstad: Tafelberg.

VILJOEN, L. 2002. ’n Nuwe ruimte vir Afrikaanse letterkunde. (Ongepubliseerde intreerede, Universiteit van Stellenbosch, Mei 2000.)

Kernbegrippe:

Afrikaanse vroulike digters

Du Plooy, Heilna

Krog, Antjie

Laurie, Trienke

Müller, Petra

Rousseau, Ina

ruimte as metafoor

ruimte as tema

Stockenström, Wilma

Van Staden, Ilse

Key concepts:

Du Plooy, Heilna

female poets in Afrikaans

Krog, Antjie

Laurie, Trienke

Müller, Petra

Rousseau, Ina

space as metaphor

space as theme

Stockenström, Wilma

Van Staden, Ilse

 

(Hierdie artikel het verskyn in Literator 32(1), April 2011) 


[1]Die problematiek word uitvoeriger uitgewerk en met veel meer voorbeelde in De Beer (2009) toegelig. Hier word met die kernargumente en enkele voorbeelde volstaan om die aandag op die verskynsel te vestig wat ook nog veel wyer ondersoek moet word. Om uitvoeriger bewysvoering aan te bied, sal die navorsing ook uitgebrei moet word deur die werk van vroulike digters met dié van manlike digters te vergelyk.
[2]Die Sestigerbeweging is hiervan ’n uitstekende voorbeeld aangesien die vernuwing van Sestig juis ’n breuk met heersende opvattings bewerkstellig het. Dit kan egter ook ’n latente behoefte aan verandering weerspieel as daar so ’n vernuwing voorkom. Dit is egter ’n ander debat om die redes en variante van vernuwing te beredeneer.