Posts Tagged ‘Petra Müller’

Onderhoud met Melt Myburgh oor die komende Woordfees

Tuesday, February 1st, 2011

Elwe & Selwe - En kuier kán die spulletjie!

Louis Esterhuizen gesels met Melt Myburgh, Woordfees se Woordkunsprojekbestuurder

Melt Myburgh

Melt Myburgh

Melt Myburgh woon op Stellenbosch en werk by Woordfees as Woordkunsprojekbestuurder. Hy het langs die Oranjerivier op Karos naby Upington grootgeword.

Nadat hy in 1992 ‘n M.A.-graad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, was hy vir 15 jaar lank onderwyser in Afrikaans en Engels in skole regoor die land.

Van sy gedigte is in Nuwe Stemme 2 opgeneem. Hy skryf gereeld vir Rapport se boekeblad.

 

Sy debuurbundel, Oewerbestaan, het verlede jaar by Protea Boekhuis verskyn.

 

Melt, ten eerste veels geluk met ʼn uiters indrukwekkende program. Met die eerste deurkyk wil dit voorkom asof dié program meer omvangryk is en selfs nog meer verskeidenheid bied as wat dit in die verlede was. Is dit so?

Baie dankie, Louis. Die program is inderdaad omvangryker as verlede jaar omdat soveel nuwe uitgewers en belangegroepe met aanbiedings aangesluit het by die Woordfees. Om eerlik te wees, ons wou ʼn kleiner formaat aan feesgangers bied, maar die energie wat die Woordfees oor die afgelope paar jaar laat versnel het, is duidelik nog nie uitgewoed nie.

Hierdie is reeds die tweede Woordfees-program waarby jy betrokke is as Woordkunsprojekbestuurder. In welke mate voldoen vanjaar se fees aan die persoonlike doelwitte wat jy daarvoor in die vooruitsig gestel het?

Woordwerkers: Dorothea van Zyl & Melt Myburgh

Woordwerkers: Dorothea van Zyl & Melt Myburgh

My persoonlike doelwitte stem ooreen met die Woordfees sʼn; juis daarom bly my werk my passie. Ons streef daarna om ʼn platform vir woordkunstenaars te skep sodat die breë publiek kennis kan neem van hul werk en dit geniet. Vir my is dit belangrik dat skrywers en kunstenaars op ʼn fees soos hierdie geakkommodeer word met die respek wat hulle verdien. Daarom lê veral die profielaanbiedings, waar skrywers gehuldig word vir hul bydraes tot ons letterkunde, my na aan die hart.

Melt, ons fokus is uiteraard die teenwoordigheid van digkuns op die program. In dié opsig is daar die spesiale verering van TT Cloete wat vanjaar nie net 86 word nie, maar ons ook met ʼn magtige bundel, Onversadig, verras. Vertel ons ietsie meer oor dié spesifieke item wat op 9 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum plaasvind?

TT Cloete

TT Cloete

Ons is baie gelukkig om vir TT Cloete in hierdie senior lewensjaar van hom vir die eerste keer by die Woordfees te ontvang. By die profielaanbieding lewer Joan Hambidge ʼn oorsig oor Cloete se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Heilna du Plooy praat oor Cloete as mens. André Strijdom het pragtige toonsettings van Cloete se verse gemaak en die sopraan Elizabeth Frandsen sal hiervan sing by die geleentheid. En natuurlik lewer Cloete ʼn wederwoord.

Vir my was dit tot dusver ʼn inspirerende ervaring om met Cloete te skakel om alles gereël te kry.

Nog ʼn besonderse item is die gesprek wat die twee Marais’s, Danie en Loftus, tydens ʼn noenmaal op 8 Maart by De Vette Mossel gaan voer oor die indringende vraag “Hoe vry is die vrye vers?” Wat vermoed jy kan ons van dié gesprek te wagte wees?

Danie en Loftus het ingestem om vanjaar se LitNet-skryfskool, wat moontlik gemaak word deur Sanlam, aan te bied. Tussen die skryfskool-sessies word daar by De Vette Mossel oor middagete gesprek gevoer oor die onderwerp “Hoe vry is die vrye vers?” Ek vermoed dit gaan ʼn baie interessante gesprek wees. Die kwessie van die praatvers, waaroor daar gereeld hier op Versindaba rede gevoer word, sal sekerlik aangeroer word.

Hopelik stik voorstanders van tradisionele vormvaste konstruksies darem nie in die heerlike seekosgeregte wat De Vette Mossel voorsit nie.

Joke van Leewen

Joke van Leewen

ʼn Groot verrassing op die program vanjaar, is die teenwoordigheid van Antwerpen se voormalige stadsdigter, Joke van Leeuwen. Waarom het julle juis op haar besluit en hoe moeilik (of maklik) was die onderhandelinge om haar in te voer Stellenbosch toe vir dié geleentheid?

Die Woordfees is baie bevoorreg om ʼn vennootskap te hê met organisasies wat skrywers uit die Lae Lande sekondeer vir optrede tydens die fees in Stellenbosch. Danksy die ondersteuning van die Nederlandse Taalunie, bemiddel deur die Kaapse Forum, kan ons vir Joke, ʼn uitstekende voordragkunstenaar, akkommodeer in die volgende program-items: Poësie: vyf van die beste op 10 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum, Soete Groete op 11 Maart om 19:00 in die Bilton Wynlandgoed en by die Neerlandistiekdag op 12 Maart vanaf 09:00 tot 14:00 in die Lettere-gebou se Lokaal 693. 

Dorothea van Zyl het al ʼn optrede van Joke in Nederland meegemaak, en was baie beïndruk met haar. Die korrespondensie tussen die Woordfeeskantoor en Joke was tot dusver joviaal: in terme van toeganklikheid en professionaliteit is sy ʼn engel.

Wat ons die afgelope tyd opval, is dat Nederlandse skrywers ons al hoe meer kontak en aandui dat hulle graag by die Woordfees sou wou optree.

Soos altyd bied die Woordfees ook heelwat vir die jonger, meer avontuurlustige poësieliefhebber. Watter items het julle juis met hierdie oogmerk by die program ingesluit?

Dit is altyd heerlik om debuutdigters by die Woordfees te akkommodeer. Vanjaar bring NB-Uitgewers vir Martina Klopper (Nadoodse ondersoek) en Andries Samuel (wanpraktyk). Hulle tree op 8 Maart om 18:00 in die Erfurthuis in gesprek met Joan Hambidge.

Oopmonddigters

Oopmond, onder leiding van Ronel Nel, is ook weer op die program. Dié gewilde aanbieding het verlede jaar sy Woordfeesdebuut gemaak. Ek dink die name wat deelnemende digters toe-eien, sê alles oor die gewildheid van dié tradisionele geveg tussen vers-makers: D.J. Stotterman (Andries Bezuidenhout), Breyten Lykverdag, (Niel van Deventer), Joe Moer! (Jo Prins), Ingrid Dronker (Ronel Nel) en NP van Lykskou (Danie Marais). Hulle is op 10 Maart te sien in die nuwe Dorpstraat Teater net buite Stellenbosch.

Die Adam Tas Studentevereniging sorg vir ʼn heerlike opskop by Aan de Braak Teater op 11 Maart om 20:15 met Drink, dig, kuier! Hulle maak spesifiek voorsiening vir studentedigters. En soos jy weet, Louis, is hier baie talent onder die Maties. En kuier kán die spulletjie!

En natuurlik is daar ook heelwat items vir die meer besadigdes onder ons; soos byvoorbeeld Skemerverse (13 Maart, Botaniese Tuin, 18:00) waarmee die fees tradisioneel afsluit. Watter soortgelyke items is daar om na uit te sien?

Gert Vlok Nel

Gert Vlok Nel

Skemerverse, wat vanjaar spog met digters soos Gert Vlok Nel, Ronel Nel, Andries Bezuidenhout, Robert Bolton, Johan Myburg, Jo Prins en Ronelda Kamfer, verkoop gewoonlik vroeg-vroeg uit.

Ek is baie opgewonde oor Engelse digters wat onder Leon de Kock se vlerk saamtrek. Hulle word ondersteun deur ProQuest, ʼn maatskappy wat digitale inligtingstelsels verskaf aan opvoedkundige instellings. Op 11 Maart om 17:00 lees Finuala Dowling, Sindiwe Magona, Ari Sitas, Marí Peté en Karin Schimke saam met Leon uit hul werk voor in die Boektent. Die Woordfees verwelkom digters en skrywers in tale waarmee Afrikaans ʼn historiese en geografiese verwantskap deel.

Een van die hoogtepunte op die poësieprogram is Poësie: vyf van die beste op 10 Maart in die Sasol Kunsmuseum. Hier word feesgangers getrakteer op verskuns uit die boonste rakke met T.T. Cloete, Petra Müller, Lina Spies, Danie Marais en Joke van Leeuwen.

Op die NB-program kan ons luister na Mari Grobler oor haar nuwe bundel, Toe dit nog vroeg was (8 Maart om 11:00) en Joan Hambidge oor Visums by verstek (10 Maart om 14:00). Tom Gouws en Marthinus Beukes voer op 12 Maart daar in jou en Marlise se Protea-boekwinkel die woord oor Gouws se Ligloop.

Liefhebbers van die klassieke vers-kuns kan op 12 Maart gaan luister na die US Departement Antieke Studie se aanbieding van ʼn dramatiese voorlesing uit die werk van die Romeinse liefdesdigter Catullus. Ek haat en ek het lief beloof om iets besonders te wees.

Ek is baie bly dat ons die bekendstelling van Adinda Vermaak en Pieter Strauss se Rymreise kan akkommodeer. Dié bloemlesing vir laerskoolleerders word deur Nasou Via Afrika bekend gestel tydens ʼn pragtige geleentheid in die US Kunsgalery op Vrydag 11 Maart om 19:00. Alida Bothma se illustrasies, wat in die bundel opgeneem is, word ook daar uitgestal.

Die ATKV se multimedia-tentoonstelling Skilder met woorde II, waarin gedigte met skilderye en ʼn klankbaan vermeng word, is ʼn ervaring wat nie misgeloop moet word nie. Sewe digters se werk is hierin opgeneem en die tentoonstelling is van 4 tot 13 Maart te sien in die Sasol Kunsmuseum.

Melt, persoonlik vind ek die items wat by die kategorie “Woordmusiek” aangetref word, besonder opwindend; veral omrede so baie van hierdie musiekitems in kombinasie met toonsettings van gedigte en/of voorlesing geskied. Watter van hierdie sou jy as moontlike hoogtepunte uitsonder?

Petra Müller

Petra Müller

Om iets uit te sonder is mos soos om ʼn oupa te dwing om tussen sy kleinkinders te kies. Ek dink egter Boegoe vannie liefde, Witlig en Vergesigte Vermeerder in Vers en Fuga is bo-aan my lysie. Die poësie van Hans du Plessis, Petra Müller en Tom Gouws word in dié pragproduksies omtower tot multimedia-ontploffings van woord, beeld en klank.

Ten slotte - ek vermoed dat daar met die saamstel van so ʼn omvattende program altyd items is wat vir watter rede ook al, nie geakkommodeer kan word nie. Items wat jy besonder graag sou wou betrek, maar helaas nie kon nie. Is ek verkeerd hierin of is daar inderdaad items buite rekening gelaat waaroor jy spyt is?

Ja, daar is items wat nie op die fees geakkommodeer kon word nie omdat daar eenvoudig nie plek op ʼn omvattende program is nie. Of soms is kunstenaars nie beskikbaar nie. Ek mis byvoorbeeld die ASV se bydraes vanjaar. Dit breek altyd mens se hart as iemand weggewys moet word. Maar daar is altyd ander geleenthede waar mens weer kan inhaal, soos met Versindaba later vanjaar.

Baie dankie vir hierdie gesprek, Melt. Mag vanjaar se fees vir jou nie net ʼn kroonfees wees nie, maar ook ʼn persoonlike vreugde.

Baie dankie, Louis; ek hoop woordliefhebbers geniet die fees net soveel soos verlede jaar. By wyse van toegif volg Zandra Bezuidenhout se feesgedig, “Elwe & Selwe“ hieronder.

 

Elwe & Selwe

 

Op hierdie Woordfees gaan ons delwe

na die vele elwe en die selwe.

Deur woorde, kuns en die musiek

lig ons die sluiers oor geheime,

en reis ons met die oog en oor

langs al die wonderlike weë

wat die sinne en die hart bekoor.

 

Eintlik is ons almal elwe,

elkeen anders, elk uniek,

party met een, party met baie selwe.

Die Woordfees wil die pad plavei

vir jou en my om saam te dans

langs duisend kronkels van genot,

waar elf en self, vermom as kunstenaars,

kom goël en smokkel met die kop.

 

Elke asem, elke elf en self,

kan deelhê aan die spel van twintig-elf.

Die taal se pyl en boog, so word vertel,

is droom en fantasie se metgesel.

Maak dus jou koker vol;

kom jag die storie-bokkies sonder tal.

Ja, ‘n fees wat op die spoor van woorde loop

maak die poorte na ‘n sprokieswêreld oop!

 

(c) Zandra Bezuidenhout

 

 

Johann Lodewyk Marais. Marthinus Versfeld (3)

Saturday, December 12th, 2009

Aan die Universiteit van Kaapstad was Marthinus Versfeld ‘n gewaardeerde gespreksgenoot van digters soos N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, I.D. du Plessis, Boerneef en D.J. Opperman. Hy het poёsie geskryf, maar net enkele van die gedigte is gepubliseer. In sy skryfwerk toon hy groot waardering vir die poёsie en sluit so by twintigste-eeuse filosowe soos Martin Heidegger en Jacques Derrida aan. Hopelik sal sy bydrae as gespreksgenoot vir van die belangrikste Afrikaanse skrywers nog behoorlik ondersoek word en sy bydrae tot die Afrikaanse essay die erkenning kry wat dit verdien. Ook latere skrywers soos Breyten Breytenbach, André P. Brink, Petra Müller en Marlene van Niekerk het waardering vir sy werk gehad.

Oudstudente wat oor Versfeld se invloed op hulle getuig het, sluit Adam Small, Athol Fugard en Jeremy Cronin in. Cronin het gesê: “[H]e was trying to integrate different dimensions of life, and to think intellectually about that kind of integration, which was very different from what was increasingly becoming the dominant tradition in UCT.” 

W.A. de Klerk, wat baie saam met Versfeld gaan bergklim het, het die volgende gesê: “Marthinus Versfeld is die soort mens wat gesoek word as hulle die dag nie meer daar is nie.” Mag Versfeld in hierdie huldigingsjaar, en hierna, sy regmatige plek in ons denke en samelewing kry.

Boekbekendstelling - “Halala Afrikaans”

Tuesday, August 11th, 2009
"Halala Afrikaans" (Daniel Hugo)

"Halala Afrikaans" (Daniel Hugo)

“Afrikaans is die grootste nie-rassige prestasie in ons Suiderland sover. Gesamentlik geskep deur mense van drie vastelande - Afrika, Asië en Europa. En daarom is dit nie die besit van eensydige politieke partye nie, maar behoort dit aan almal wat dit praat, skryf en liefhet. En daarom ook is my taal my beste wapen teen rassisme.” Hierdie uitspraak, wat Jan Rabie in 1992 gemaak het en as motto dien vir “Halala Afrikaans” (2009: Protea Boekhuis) vorm inderdaad die grondtoon regdeur dié besonderse boek waarvan Daniel Hugo die redakteur was. Soos dit op die voorblad gestel word: “Halala Afrikaans (is) die biografie van Afrikaans. Op n funky en vernuftige manier word die storie vertel van hoe Afrikaans ontstaan het tot by Afrikaans vandag met sy SMS-taal. Die doel van die boek is om oningeligtes oor die taal in te lig, ingeligtes te verbaas en verbyster, en om studente van die taal te boei met die kompleksiteite van die taal.” Medewerkers aan hierdie publikasie is: Daniel Hugo, Andries Bezuidenhout, Gabriël J. Botma, Annette de Wet, Danielle Heyns, Jaco Jacobs, Braam Muller, Anton F. Prinsloo en Nicol Stassen.

Vrydag, 14 Augustus, synde die herdenking van die GRA-dag én die gepaardgaande viering van Afrikaans, is dus die ideale dag om dié boek amptelik aan die publiek bekend te stel tydens ‘n funksie by Protea Boekwinkel op Stellenbosch. Dié bekendstelling, wat in samewerking met die Vriende van Afrikaans aangebied word, sal om 19:00 begin. Indien jy dit wil bywoon, moet jy asseblief jou bywoning bevestig deur (021) 882 9100 te skakel óf ‘n e-pos te stuur na ls.protea@mweb.co.za.

Dan is vandag ook Marthinus Versfeld se verjaarsdag. Hy sou naamlik vandag 100 jaar oud gewees het. Ter viering van hierdie besonderse geleentheid bied Protea Boekwinkel (Stellenbosch) ‘n spesiale boekpraatjie aan op Saterdag, 15 Augustus. Petra Müller, jarelange vriend en vertroueling van Marthinus Versfeld, sal as spreker optree, terwyl Ruth Versfeld-Bergman, dogter van die immergeliefde filosoof, namens die familie iets oor haar pa sal sê. Heel gepas is daar onlangs weer drie van Versfeld se mees geliefde publikasies in herdruk beskikbaar gestel, naamlik: “Klip en klei”, “Die neukery met die appelboom” en “Pots and poetry”.

Beslis is hierdie twee geleenthede wat jy nié wil misloop nie …

Mooi bly.

LE