Posts Tagged ‘Piet Botha’

Andries Bezuidenhout. Bacchus en Marissa se hartseer storie

Monday, June 6th, 2011

Bacchus Nel, foto deur Joni

Hulle sê mos as jy ʼn country plaat agteruitspeel kry jy jou huis terug, jou kar terug, jou vrou terug, en jy hou op om te drink. Gaan kyk gerus hierna – ʼn musiekvideo op YouTube. In my boek is Bacchus Nel een van die beste liriekskrywers in Afrikaans. Hierdie is egter sommer net ʼn lekker, hartseer country tune deur Bacchus en Marissa West – so vir die blou Maandag. Ek is mal oor Marissa se stem. Sy het my op Bleek Berus uitgehelp en ʼn paar van die songs daarop meer as luisterbaar gemaak.  Ander trivia: Die man wat die dagvaardiging kom aflewer is niemand anders nie as Abjater Ronkedoor, die ou wat die laaste gedig-musieksessie in Mamelodi gereël het. Die regter is natuurlik Piet Botha.

Andries Bezuidenhout. Kort verslag oor Saterdagaand se gedoente

Monday, May 16th, 2011

Ek ry Saterdagaand om 23:00, min of meer, uit Mamelodi. Suksesvolle aand met gedigte en musiek. En bier en halwe hoenders met tjips. En die oorblufte gesigte van ANC-werkers wat in ʼn BMW met luidsprekers op die dak verbyry om propaganda vir die aankomende plaaslike verkiesings te maak. Vir ʼn oomblik het hulle stilgebly om die kognitiewe dissonansie te verwerk (neem ek aan).

Vroeër die aand het ek verdwaal. Google Maps het die verkeerde Kgomostraat aangetoon. Gelukkig het ek naby die huis waar Fabian en Florence Ribeiro in 1986 deur die regering se sluipskutters doodgeskiet is iemand gevind wat vir my gaan wys het waar Santorini is – in A3. Santorini is ʼn restaurant/kroeg waar die tweede uitgawe van Ek sê, Ziyawa – it’s happening gehappen het.

Die geleentheid gaan oor gedigte en musiek, soos ek reeds genoem het. Die vorige een was sowat ʼn jaar gelede in Steak & Ale in Lyttelton. Dis deur Abjater Ronkedoor (Andries de Beer se verhoognaam) en Yabadaka Shamah aanmekaargesit. Hier is ʼn video van die twee op YouTube. Dit was die eerste item vir die aand.

Aanvanklik was die oorgrote meerderheid van die gehoor die usual suspects – volgelinge van Afrikaanse musiek en poësie uit die suburbs. ʼn Hele paar het met ʼn bussie van Steak & Ale af gery. Hulle drink hulle bier uit groter bottels as gewoonlik. Stadigaan verander die gehoor van skakering, veral nadat ʼn band sommer voor die restaurant in die straat gespeel het – almal deur een luidspreker voor hulle op die grond.

Veel meer wil ek nie nou sê nie. Self het ek besluit om net gedigte voor te lees en die kitaar teen die muur te los. Daar was genoeg musiek – regtig uitstekende musiek, ook covers van mense soos Bob Marley, Warren Zevon (deur Piet Botha en Jacob Wulana) en Hank Williams (deur Bacchus Nel).

Piet Botha, foto deur Melanie van As

 

 

 

 

Jacob Wulana, foto deur Melanie van As

 

 

 

 

Bacchus Nel, foto deur Melanie van As

 

 

 

 

Deel van die gehoor, Yabadaka in die middel links, foto deur Melanie van As

 

 

 

 

Vir die rekord plaas ek die vertalings van die drie gedigte wat ek voorgelees het hier – die vertalings is deur my goeie Facebook-vriend Hermanus Watermeyer gedoen:

SPARE PARTS

we are the tyres, the spark plugs
of trucks that transported
body and sideboard
life and drawer
bedstead and mattress
from District Six to Atlantis
from Sophiatown to Soweto
from Limehill to Ezakheni
from Vrededorp to Lenasia
from Lady Selbourne to Soshanguve
we are the cogs, the caterpillar tracks
of bulldozers that razed those walls
we are the axels, hydraulic arms
of front loaders that obliterated rubble
and we are the steam of the locomotive
between Hohales Hoek
Cofimvaba and Western Deep

you thought we were in scrap yards, rusting away?
no, all of us have parts to play
all of us part of a greater brood
grave tongues, lisping with guilt
licking their way through printing ink
also to these pages we’ve found our way
like cockroaches skulking in your library
inspect the spine where glue and lining
hold paper to account for our declining
to fade to white to fade to black

shut it! drop it! hold the book at bay!
ha! too late
by now we’ve infected your fingers with gray

THAT YEAR WHEN DAD WON THE DISHWASHER AS A PRIZE

Now which year was it,
before or after Dad won the dishwasher as a prize?
Our suburb was still an entire world map –
flattened and rolled out somewhere on the slope
between Highveld and Bushveld, an in-between place.
The church bell still rang centre pivot
even though it echoed from a shopping mall wall.

Which year was it again, before or after Dad
won the dishwasher as prize at the beer festival?
When Mom still cooked up dinner parties from books,
rivers peanuts and raisins on tinfoil.
When Mamelodi was dark Africa beyond the buffer zone,
Eersterust wedged between township and factory.
When Watermeyer Street broke the monotony
of suburban corners on a barbeque grid
and you crossed over downtown,
you always moved first,
could beat Dad at his own game of chess.

Remind me please, which year was it,
before or after that time when Dad
drank so much beer that he won the dishwasher?
Years stacked like plates in racks,
the machine sluices its mouth with foam –
left cheek, right cheek, gargle, gulp.
Now and then a broken cup,
dead people at Volkskas in Silverton,
what was the woman’s name again?
When Oom André complained about the cleaning women
who farted in the lifts at the office.
When the kafferboom decided to change its name
and the tipuana tree embraced the wind and capsized,
roots ranting at the African sky.

Years later in Potchefstroom
for a hasty date on the court roll,
you listen to the reasons of others in the queue:
“We’re not in love no more.”
“For a year now we don’t live together any longer.”
“He kicked me out.”
For your reasons I don’t pry,
but sometimes I wonder whether you’d already escaped then,
before or after Dad won the dishwasher as prize.
A Bosch, I think, appropriate for a German festival.
Mother so glad, only later hears
he actually wanted
the single ticket overseas.

MAMELODI, EYE IN THE SKY
(Dedicated to Anton Schoon, whom I met over the barrel of an R4 rifle outside Club Monaco in Mamelodi, 1988)

Early dawn, military base on a hill,
get up to relieve your morning glory.
The soot blanket smouldering below
was weaved for heat from wood and coal.

Township panorama, the Magaliesmoot –
thrifty planners took care when designing
asphalt spine, gravel ribs,
blue gum forest, denneboom station,
zozo’s assembled from corrugated iron.

Put on your uniform, put your crime novel down,
your orders for the day:
You’re the eye in the sky –
perched on a reservoir, through telescope lenses
you observe the township of Mamelodi.

Scrutinise movements,
anything out of place
and hearts and minds.
(Conventional wisdom has it
that if you’ve got them by the balls
their hearts and minds will follow soon…)
Men drink beer from quarts
in a backyard below
they look up and laugh… perhaps at you?

Sway the telescope in a different direction,
aim for that window on Silverton ridge
where you kissed your girlfriend
as a youngster at school.

Three buses arrive in a queue
for some or other funeral.
“What are the whites doing in that car?”
“Send down a patrol. Where’s Echo Six Platoon?”
“They’re playing soccer with the kids.”
“Get their asses on the Casspir.”
“Radio HQ.”

From clouds up above, eyes look down
to you unbeknown,
the eyes of Stanza Bopape,
Florence and Fabian Ribeiro.

Andries Bezuidenhout. Gedigte en musiek op ʼn wintersaand in Juniemaand

Monday, June 21st, 2010

0:50 Sondagoggend, 20 Junie 2010. Pas terug van die musiek-gedigte gig by Steak & Ale in Bothalaan, Lyttelton. Wasem voor my mond, so koud is die woonstel. Hopelik skop die verwarmer vinnig in.

Die gig is deur Andries de Beer – ook bekend as Abjater Ronkedoor – aanmekaargesit, met hulp van Yabadaka Shamah. Abjater skryf self gedigte en het saam met sy medewerker Anna Coke opgetree. Die twee het om die beurt kort verse gelees. Hulle skryf oor hedendaagse kwessies, speel met woorde, vang jou onkant deur gedigte kort af te knip en in die lug laat hang.

Abjater Ronkedoor

Abjater Ronkedoor

Yabadaka Shamah het die beroemde gedig “My ousie is ʼn blom” geskryf, waarna daardie versamelbundel vernoem is. In die dag bestuur hy taxi. In die aand skryf hy gedigte en maak musiek. Hy speel die baskitaar en tree saam met ʼn paar van die bands op.

Yabadaka sê ʼn zebra sonder wit strepe is ʼn swart donkie en ʼn zebra sonder swart strepe is ʼn wit donkie. In ʼn onderhoud met die joernalis Fred de Vries vertel Yabadaka van soortgelyke geleenthede, vroeër in die destydse Up the Creek in Sunnyside. Dit was ook voorlesings deur opkomende Afrikaanse digters. Hy het deur Leti Kleyn daarby betrokke geraak, maar die voorlesings het doodgeloop toe die bywoning daarvan taan. Hy vermoed dit het te make met die toenemende gewildheid by swart poësieliefhebbers.

Yabadaka Shamah

Yabadaka Shamah

ʼn Paar dae gelede is ek gevra om die digters en musikante by die Steak & Ale-voorlesing voor te stel, seremoniemeester te speel. Kabous Verwoed het nie daarvoor kans gesien nie. Dis ʼn moerse uitputtende job, veral omdat ek bitter min van die mense ken. Ek lees Mongane Serote se gedig oor die dry white season voor:

it is a dry white season brother,
only the trees know the pain as they still stand erect
dry like steel, their branches dry like wire,
indeed, it is a dry white season
but seasons come to pass.

Dalk was dit ʼn té morbiede wyse om die aand te begin. Tog is daar soveel hoop in die gedig, veral as dit so koud is – ʼn droë Hoëveldkoue. Ek wens dit was somer.

Abjater se program is propvol en veeltalig – meestal Afrikaanse kunstenaars, maar ook mense wat in Engels, Sotho en Tsonga sing en skryf.

Oscar Benjamin, woonagtig in Yeoville, Johannesburg, dra van sy gedigte voor. Dit handel meestal oor xenofobie. Hy sê sy gedigte maak hom seer. ʼn Mens kan dit sien as hy dit voordra. Hy reël elke Woensdag om 18:00 poësiesessies by Joint Car Wash in Yeoville. 

Die meeste Afrikaanse digters verduidelik nie in Engels waaroor hul gedigte handel nie. Neem mense dan net aan dat almal in die land Afrikaans kan praat? As Kingman Usana op die verhoog klim om te sing, praat hy net Zoeloe. Ek wonder waaroor sy songs gaan. Dis folk, melodieus, mooi. Master B sing Tsonga. Hy spreek die gehoor ook uitsluitlik in Tsonga aan.

As almal tog maar net op Engels wil verduidelik waaroor die musiek en gedigte handel.

ʼn Hoogtepunt is Piet Botha en Jacob Wulana, van Tidal Waves, wat saam sing en kitaar speel. Die mense kom uit die rookwalms in die Steak & Ale se kroeg om te hoor wat hulle doen.

Piet Botha

Piet Botha

Jacob Wulana

Jacob Wulana

Ook Gareth Wilson, van Southern Gypsey Queen, wat saam met Andre Kriel van Black Cat Bones speel, bekoor die gehoor.

Die plan is blykbaar om volgende ʼn draai in Atteridgeville of Mamelodi met die program te gaan gooi. Ek hoop maar dit werk uit, word iets meer standhoudend as die kortstondige slukkies “versoening” rondom sokker- en rugbygames.

Hier kom die verwarmer se hittegolwe nou by my bene uit. 01:10. Ek scan gou die prentjies wat ek in my notaboek sit en teken het. Rowwe sketse, dalk eerder indrukke, karikature. Mense kon nie lank op die verhoog bly sit nie – vol program. Ek dink ek kon tog iets van Ronel Nel in die prent vang, al het sy verkoue gehad:

Ronel Nel

Ronel Nel

Verwysings

Onderhoud met Yabadaka Shama: Fred de Vries. From Abdullah to Zille: The Fred de Vries Interviews (Wits University Press, 2008), pp. 296-202.

“For Don M – Banned” deur Mongane Serote uit Tim Couzens en Essop Patel (reds.) The Return of the Amasi Bird: Black South African Poetry 1891-1981 (Ravan, 1982), p. 241.

Lewies Botha. Om Famous te wees

Friday, May 28th, 2010

Na aanleiding van Andries Bezuidenhout se blog en natuurlik die Rapport artikel; Ek het nogal gewonder hoe gaan ek die verhoog deel met die beroemde “Rock star” Hunter Kennedy,  natuurlik was ek jaloers. Waarom wou hy nou die klein kolletjie Ka(l)klig van die papiervliegtuigie vou klub kom steel?  F*k wie wil nie Rock beroemdheid hê nie. Elke vertoning met gillende groupies is ‘n adrenalien inspuiting wat jou ego tot voor barstens toe opjaag. Ek daag enige iemand uit om te erken heimlik wil ons almal RUK en ROL.  Ek het myself getroos dat behalwe my Ma wat seker al die helfte van Nuwe Stemme 4 (NS4) se oplaag vir haar vriendinne en familie opgekoop het, sal die naam ;Hunter van Polisiekarre seker die boekverkope aanhelp. So dis maar oriaat.

In my gedig “Ons was daar” vir die Lizard kings van Pretoria (Opgeneem in NS4) verwys ek na die Rockers van so voor die voëlvry toer dinge, Piet Botha, James Phillips ens.  Ek sê ook; ons is skrywers ons is rock stars …

Ek sien altyd voor my geestesoog; Jim Morrison van The Doors wat in ‘n ateljee sit en sy “An American Prayer” opneem, vet en plomp en woes bebaard, met daai stem wat hipnoties dreunsing/ lees, Ray Manzerek se keyboards wat die agtergrond vul.  Ja, Jim wou bekend wees as Poet. Die Rocker as Poet.

Dan moet julle my sien xbox 360 met Guitar Hero ! Die Poet as Rocker.

Soos Andries sê die debat is eintlik maar tong in die kies. Die waarheid is ons is almal ‘n bietjie van alles. Kunstenaars is kreatief en skeppend en vind gewoonlik ‘n uitlaatklep hetsy skilder, sing, skryf, dig of toneelspeel. Dit is opmerklik hoeveel digters musikale agtergrond het. ( Louanne Stone, Pieter Hugo?, Maruis Swart het ek op “Noot vir Noot gesien, Niel van Deventer , Hunter K ,is die waarvan ek weet uit NS4) Ek teoretiseer nogal daaroor; Skaak wonderkinders is gewoonlik ook Musikaal en Wiskundig talentvol, ek wil beweer hulle sal ook digterlik talentvol wees. EK glo dit het te doen met talente in; ritme, metrum, herhaling, patroon herkening, vorm, struktuur, analitiese vermoë ens.  wat neerslag vind in Skaak speel, Wiskundige probleem oplossing en uiteraard Musiek.

Om aan te sluit by Andries hier is my eie blues song (Annie Rok jagter neem kennis):

 Vrystaat kruispaaie-‘n blues song

 

 Van veraf  lyk hy soos ‘n lang maer kraai

en soos vlerke klap sy jas in die wind

en sy stewels kap kloue knars in die gruis

akkedisse skarrel geskrikte krokkedille weg

wolk skadus draai soos vlieënde haaie.

 

Refrein

 

Die stilte waai agterna toe hy voor my staan

glimlag sy poeding Leonardo de Caprio gesig

daaronder grinnik ‘n pok gru Jack Nicholson

muskeljaatkatte en rooikatte dog dis al aand.

 

Refrein

 

Dit het stil geword op daai stofpad wat kruis

tussen Voorspoedfontein en Welgedaan

hy het ‘n sigaret aangebied, ek kon sien;

Siener, Profeet, Volksdigter, Hertzogprys.

 

Refrein:

 

Los maar die rympies rym ek wil ruk en rol

met ‘n kitaar riff soos Jimi Hendricks

en ‘n middelrif soos Jim Morrison

gee my ‘n stem soos ‘n Harley Davidson,

‘n pop soos Pamela Anderson

‘n liriek vir ‘n super hit.

 

So neurie ek toe, my eerste lied.

Andries Bezuidenhout. Twintig jaar na Voëlvry

Tuesday, October 13th, 2009

Groete uit die lieflike stad Windhoek. Ek luister musiek op my rekenaar. By Aardklop stop Angola Badprop my ʼn CD in die hand: “Twintig Jaar Later: Van Voëlvry tot Fokof.” Laasgenoemde verwys natuurlik na Fokofpolisiekar.

Angola, oor bekend as Jaco Nel, het veertig songs versamel om Afrikaanse rock die twintig jaar na die Voëlvrytoer te verteenwoordig. Ek skat hy is reg as hy Fokofpolisiekar as die grootste fenomeen ná Voëlvry beskryf. My eie projek – die Brixton Moord & Roof Orkes – kry ook darem ʼn plekkie in die geskiedenis.

Die kassie bevat twee CD’s. Die eerste een verteenwoordig die rock bands voor daar video’s op MK (aanvanklik MK89) was. Dit sluit mense soos Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, Anton Goosen, Gert Vlok Nel, Jan Blohm, Bacchus Nel, Karen Zoid, Beeskraal, Diff-olie, Trike, Riku Lätti, ens. in. My orkes word ook hier ingegooi. Op die tweede CD is die meer onlangse rebelle, soos Fokofpolisiekar, Straatligkinders, Zinkplaat, Foto Na Dans, Willim Welsyn en NuL. Sommige van die ouer en standhoudende bands, soos Battery 9 en Kobus!, is op albei CD’s verteenwoordig.

Dis natuurlik altyd moeilik met die samestelling van sulke versamelings. CD’s kan net ʼn beperkte massa data akkommodeer. Wie sluit jy in, wie laat jy uit? Van wie sluit jy meer as een song in? Ek hou nogal van die keuses – van my persoonlike gunstelinge is daar, soos Bacchus Nel se “Herfsman” en Piet Botha se “Goeienag Generaal.”

Ek wonder egter oor een ding. Soos Mr Mac and the Genuines destyds uit die Voëlvry-geskiedenis gelaat is, vind ons ook byvoorbeeld nie vir Prophets of da City, Brasse vannie Kaap, of Kallitz in die versameling nie.

Is dit omdat hip-hop nie as rock beskou word nie? Ek wonder maar net.

Gaan luister ʼn bietjie na Kallitz hier.

Johann Lodewyk Marais. Die Anglo-Boereoorlog, weer

Monday, July 27th, 2009

Die Duitse filosoof Martin Heidegger (1889–1976) het hom oor sowel die aard van die kunswerk as oor die poësie uitgelaat. In sy meesterwerk Sein und Zeit (1927) het hy belangrike vrae oor die syn gevra, sonder om egter aandag aan die kunswerk te gee. Ná die sogenaamde Kehre in sy denke word sowel die kuns as die poësie egter belangrike onderwerpe in sy geskrifte. In Der Ursprung des Kunstwerkes (1950) sê hy dat die kuns tonele is waar “die waarheid homself in werking stel” en dat hierdie waarheid ’n stryd tussen “wêreld” en “aarde” vereis.

 

Hoewel Heidegger die poësie as die essensiële vorm van die kuns beskou, maak hy in die essay gebruik van voorbeelde uit die argitektuur (’n Griekse tempel) en ’n skildery (’n werk deur Van Gogh). Vir die doeleindes van hierdie kursoriese aantekeninge wil ek aan die hand van Heidegger na enkele ander toepaslike voorbeelde verwys. Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein, die Kaiser-Wilhelm-Gedächtnis-Kirche in Berlyn en die Vietnam Veterans Memorial in Washington DC is almal opgerig om mense te gedenk wat aan oorloë deelgeneem en gesterf het. My argumentasie in verband met die Vrouemonument sou in bepaalde opsigte ook vir die twee ander voorbeelde kon geld.

 

Die Vrouemonument, wat deur die beeldhouer Anton van Wouw ontwerp en deur die argitek en bouer Frans Soff gebou is, is op 13 Desember 1913 in Bloemfontein onthul ter nagedagtenis aan die meer as 26 000 vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog in konsentrasiekampe gesterf het. Hierdie monument het van vroeg af mense se verbeelding aangespreek. Die ontwerp van die monument is eenvoudig soos uit die volgende aanhaling uit Wêreldspektrum (Deel 29) blyk:

 

“Die monument bestaan uit ’n 37 m hoë gedenknaald van bruin sandsteen met ’n beeldgroep aan die voetstuk en geskiedkundige panele aan weerskante. Dit word deur ’n ringmuur ingesluit. Die sentrale beeldgroep simboliseer smart en hoop, terwyl die reliëfpanele ervarings van vroue en kinders tydens die oorlog uitbeeld.

 

[…]

 

“Daar is ook besluit om ’n Godsman, ’n staatsman en ’n krygsman aan die voet van die monument te begrawe. Die keuse het op dr. J.D. Kestell, pres. Steyn en genl. De Wet geval. Nadat Emily Hobhouse in 1926 in Engeland oorlede is, is haar as in die voetstuk van die gedenksuil geplaas. Mev. Rachel Steyn is langs haar man begrawe.”

 

Deur middel van sy eenvoud en teenwoordigheid slaag die monument daarin om ’n impak op die besoeker te maak. Maar waarom? Wat die kunswerk (en terselfdertyd natuurlik die Vroumonument) regkry, is om, volgens Heidegger, ons uit die “ryk van die alledaagse weg te voer”. “Hoe meer essensieel die werk homself openbaar, hoe duideliker word die uniekheid van die feit dat hy bestaan in plaas daarvan dat hy nie bestaan nie.” Die monument is egter nie volkome representatief van die werklikhied nie, sodat die betekenis van die monument nie maklik uitgeput kan word nie. Die Vrouemonument van 1913 spreek ons byvoorbeeld meer aan as die latere byna hiperrealistiese beelde van Danie de Jager wat op die terrein bygevoeg is en gedurende die 1980’s tot heelwat omstredenheid gelei het.

 

Heidegger se konsepte van wêreld en aarde wil ek kortliks soos volg op die Vrouemonument van toepassing maak. Die Vrouemonument herinner ons aan die groot kwessies wat van belang is in ons bestaan: lewe, dood, oorwinning, nederlaag, skande, hoop, geregtigheid. Sodoende open die monument vir ons ’n besondere blik op die wêreld.

 

Met aarde bedoel Heidegger dit wat die grondslag is waarop ons bestaan, die fondament waarop ons bou. Die aarde “beskut” die syndes wat daaruit “opstaan/opkom”. In wese is die aarde die misterieuse bron waaruit ons spruit. Op die Vrouemonuent “toegepas”, kan ons melding maak van die besondere plasing van die monument op die Vrystaatse landskap. Die soberheid van die monument versterk hierdie ervaring. Die besoeker word bewus van ruimte: die ruimte wat deur die monument geskep word, maar ook die ruimtes van die Vrystaat en waarskynlik ook van die hele Suid-Afrika wat in ’n misterieuse besef van hierheid voor jou oopgemaak word.

 

Ons word terselfdertyd by die Vrouemonument terdeё bewus van die konflik tussen wêreld en aarde. By die aanskoue van die Vrouemonument skree die Britse regering se verskroeideaardebeleid ten hemele. Dit word ’n protes soos ook die volgende gedig van Martjie Bosman met dieselfde titel uit die bundel Landelik (2002), waarin daar ook met ’n perspektief op die hede vorendag gekom word:

 

VERSKROEIDE AARDE

 

Van dié geskiedenis kan ons slegs brokke agterhaal:

Grootouma Geldenhuys met vier kinders

in ’n oop beestrok na die kamp by Merebank,

’n paar stuks vee behoue in die walle van die Vaal,

Grootoupa te velde wie weet waar.

Die rooi huis is gekonfiskeer as hospitaal –

gerugte van soldate begrawe onder die leiklipstoep,

die erfgenaam naamloos in ’n seepkis iewers in die sand.

Ek erf uit ouma Makkie se beroertemond

twee bitter woorde: smaad en hoon

en die droewe wete van familiegrond

vir geslagte tevergeefs bewoon.

 

Waaroor het die hedendaage digters dit as hy/sy oor die Anglo-Boereoorlog skryf? Om hierdie vraag te antwoord, kan dit meer verhelderend wees om aan die hand van Heidegger na die aard van die poësie te kyk. Vir Heidegger is die poësie dit wat die mens in staat stel om waarlik te woon. Poëtiese beelding stel ons in staat om na die teenwoordigheid van die onbekende of selfs die transendentale (in die lig van die era ná Nietzsche en die geestelike krisis tydens die twintigste eeu) uit te reik. “Poetry cannot cause the unknown god to come near, but poetry can put forward words that enable this presence to show itself,” sê Patricia Altenbernd Johnson in Heidegger (2000).

 

Heidegger maak daarom ’n onderskeid tussen gewone en poëtiese taalgebruik. Iets soos die “Die Anglo-Boereoorlog het van 1899 tot 1902 geduur”, is byvoorbeeld ’n gewone, alledaagse uitspraak. Vir Heidegger is poësie egter nie ’n bron vir spesiale estetiese plesier op grond van die niegewone taalgebruik nie, maar eerder die krag wat ons wêreld kan openbaar en ons bestaan kan transformeer. In sowel die lewe van die digters as die geskiedenis van ’n volk is die helder en kreatiewe oomblikke seldsaam; die res is onoorspronklik en afgeleid. Taal behoort vir die mens ’n ryk bron van openbaring te wees. Vir Heidegger is “Alledaagse taal vergete en daarom ’n opgebruikte gedig, waaruit daar kwalik ’n geroep uit voorkom.”

 

Ander hedendaagse digters soos Wilma Stockenström, T.T. Cloete, Heilna du Plooy, Trienke Laurie, Hennie Aucamp en H.J. Pieterse betrek nog steeds die Anglo-Boereoorlog in hulle werk. Ten slotte gaan ek na een gedig kyk waarin die Anglo-Boereoorlog op ’n besondere manier aanwesig is. My keuse val op die sanger en liriekskrywer Piet Botha se “Staan saam burgers” uit sy CD ’n Suitcase vol winter (1999). Op hierdie CD kom daar terloops nog een ander snit voor wat oor die Anglo-Boereoorlog handel, naamlik “Van Tonder”. Botha se teks klink soos volg:

 

STAAN SAAM BURGERS

 

By die goue vallei het ons so lank gewag

Op ’n antwoord wat kom uit die noorde

Staan saam burgers staan saam

 

Siener van Rensburg kyk na sy hande

En sê ek kan dit nie verstaan

Iewers op die vlakte

Begin ’n jakkals tjank

Die boodskapper kom in die nag

Het gekom en gegaan

Staan saam burgers staan saam

 

Hoekom het jy ons nie gesê nie

Die man se perd was swart,

Net soos die nag

Dit was nie Van Tonder nie

Net so tussen my en jou

Vir wat dit werd is

Ek dink die duiwel het ons ’n streep getrek

Staan saam burgers staan saam

Staan saam burgers staan saam

           

Wanneer hierdie woorde deur Piet Botha gesing word, kom daar sekerlik ook ander elemente by wat hierdie kunswerk sy karakter gee. Die groot trefkrag van hierdie lied is vir my (en ek glo vir baie ander) egter juis in die woorde geleë, wat by ons ’n herkenning van die land(skap), die geskiedenis en iets baie wesentliks van die Afrikaanse taal oproep. Hierdie herkenning word by die luisteraar deur die woorde wakker gemaak. In die Afrikaanse taal kan woorde soos “saamstaan”, “burgers” en “boodskapper” maklik in verband met die Anglo-Boereoorlog gebring word. Die landskap wat hier beskryf word, is ook tipiese Suid-Afrikaans: die geografiese ruimte waar die oorlog afgespeel het. Charles van Onselen het die Hoëveld wat in Botha se lied ter sprake is in The seed is mine: The life of Kas Maine, a South African sharecropper, 1894–1985 (1996) soos volg beskryf:

 

“[The] hot, dry and expansive plains of the subcontinent provide the country with its most characteristic landscape, and a distinctive terminology which singles out for special attention any geomorphological feature which so much as hints at either height or water. Koppie, krans, pan, platteland, rand, sloot, spruit, vlakte, and vlei – are all Afrikaans words that defy easy translation and which have been incorporated holus-bolus into the vocabulary of all urban South Africans. They are quintessentially highveld words; words that give life to the ways in which one senses and experiences much of what it is to be South African.”

 

Die gedig handel dus oor ’n essensiële Suid-Afrikaanse stuk landskap. Daar word ook in die gedig ’n figuur soos Siener van Rensburg betrek in wie daar die afgelope jare groot belangstellings in die Afrikaanse gemeenskap was en oor wie Trienke Laurie se digbundel Ek sien ’n rooi bul storm (1999) handel. In dié bundel is hy “self aan die woord en vertel van angswekkende gesigte wat bewaarheid is, onder meer die lyding van vroue en kinders in die Engelse Oorlog, generaal De la Rey se tragiese dood, en die verlies van drie van sy eie kinders. Hy vertel ook hoe God hom as boodskapper gebruik het, soos in die geval van ons eie Rooi See-wonder, toe generaal De Wet en sy krygers deur die Engelse teen ’n vol rivier vasgekeer is. Hy voorspel die opkoms van swart mag in die land, en ’n donker tyd vir die Afrikaner totdat hy hom voor God verootmoedig. Verder in die toekoms sien hy wit tente in die Karoo staan soos vervolgde Christene uit ’n oorlogsgeteisterde wêreld hierheen vlug,” aldus die flapteks.

 

Na aanleiding van die voorafgaande aantekeninge wil ek graag enkele afleidings maak:

 

1.                   Die Anglo-Boereoorlog is ’n multidissiplinêre aangeleentheid waartoe ook die kunstenaar en die digter ’n bydrae kan lewer.

2.                   Die Anglo-Boereoorlog word vandag nog steeds (ook) in Afrikaanse woorde en in gedigte bewaar en herdenk, wat dit steeds ’n gebeurtenis van buitengewone belang maak.

3.                   Die Anglo-Boereoorlog word op so ’n manier in die Afrikaanse poësie uitgebeeld dat dit die Afrikaner met sy historiese situasie konfronteer.

4.                   Die Anglo-Boereoorlog is ’n kwessie waaroor die afrekening van die Afrikaanse digter se kant af klaarblyklik nog nie afgehandel is nie.