Posts Tagged ‘Pieter Odendaal’

Twee debuutbundels wat pas verskyn het (Pieter Odendaal & WL van der Merwe)

Thursday, August 30th, 2018

Doodmenslik

W.L. van der Merwe

Omslag

Willie van der Merwe se debuutbundel handel oor religieuse ontnugtering, geklee in vele vorme, en is ’n verkenning van die eksistensiele vakuum soos selde tevore in Afrikaans. Die titel sinspeel op die eenvoudige kwaliteite van die alledaagse mens aan die een kant, maar aan die ander kant op die fisiese en geestelike dood wat as goue draad deur die bundel loop. Die dualisme tussen skoonheid en weerloosheid word van meet af aan ondersoek en die gebroke werklikheid van die digter se ervaringswêreld word treffend verbeeld. Dit is ’n donker bundel vol swart humor, wat die weersin van erotiek en oorlog op skrydende en dikwels ironiese wyse verwoord. Dit eindig egter met ’n evangeliese optimisme: met van die mooiste liefdesgedigte wat nog in Afrikaans verskyn het.

OOR DIE OUTEUR:  Willem Lodewikus van der Merwe is op 20 Oktober 1957 gebore en word groot op ’n plaas naby Meyerton. Hy het vanaf 1975 by die Universiteit van Stellenbosch in teologie en filosofie gestudeer en het in 1990 sy doktorsgraad in filosofie behaal. Op universiteit is hy lid van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium. In 1987 is hy as lektor aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel. In 1998 is hy tot professor in filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch bevorder en was van 2000–2003 departementele voorsitter. In September 2008 is Van der Merwe as professor in godsdiensfilosofie aan die Vrye Universiteit van Amsterdam aangestel. Hy het verskeie publikasies (boeke en artikels) oor taalfilosofie, godsdiens- en kultuurfilosofie publiseer. Hy woon in Utrecht, Nederland.

Sy verse word opgeneem in Nuwe stemme 3 en Groot verseboek (met André P. Brink as redakteur). Hy lees van sy gedigte voor in 2006 by Versindaba, en van sy verse word opgeneem in die geleentheidsbundel wat na hierdie fees saamgestel word. In 2005 lees hy by Zuid-Afrika Huis in Amsterdam in Nederland saam met Bernard Odendaal gedigte voor as deel van die “Week van die poëzie”. Sy vakkundige publikasies sluit in verskeie artikels in tydskrifte oor taalfilosofie, godsdiens- en kultuurfilosofie en hy maak ook bydraes tot gepubliseerde boeke. Metafoor is ’n boek oor filosofiese perspektief. Hy is redakteur van die boek Die tweede refleksie, wat ’n keur uit die werke van Johan Degenaar byeenbring. [Protea Boekhuis, 2018. PRYS: R170.00 (BTW ingesluit) VERSKYNINGSDATUM: Augustus 2018, ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-0895-9, FORMAAT: 213 x 137 mm,  Sagteband. AANTAL BLADSYE: 96]

.

.

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie

Pieter Odendaal

Omslag

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie is ’n opwindende en verweefde debuut uit ’n jong digter se pen. Met ’n eietydse en aktuele aanslag skryf Odendaal oor die politiek van verskil in ’n multikulturele samelewing, die natuur en ons ekologiese voetspoor, verganklikheid, menswees, die liefde, asook die onlangse studentepolitiek. Ten einde vra hy: Re mang? Wie is ons? En wie is hulle?

Biografie: Pieter Odendaal is ’n digter, vertaler, redigeerder en uitvoerende direkteur van InZync Poetry, ’n nie-regeringsorganisasie verbind tot die uitbreiding van veeltalige en multi-genre poësieplatforms in Stellenbosch en Kaapstad. Saam met Adrian van Wyk reël hy sedert 2011 die InZync Poetry Sessions, ’n maandelikse poësieaand in die hartjie van Kayamandi, asook die weeklikse INKredibles poësie werkswinkels vir ontluikende digters in en om Stellenbosch. Hy het ’n meestersgraad in Volhoubare Ontwikkeling en het reeds na Londen, Lagos en Brisbane vir sy verse gereis. Van sy gedigte is in die bundel Nuwe Stemme 5 opgeneem (2013), hy dien die afgelope drie jaar as Afrikaanse beoordelaar vir die Sol Plaatje Europese Unie Poësie Toekenning en is die mede-redakteur van Many Tongues (2013) en ConVerse (2018). Odendaal is tans besig met sy PhD in podiumpoësie as bevorderaar van weerstandigheid in sosio-ekologiese stelsels aan die Queensland University of Technology in Brisbane.  (Tafelberg, 2018. p. 112; Formaat: 198 mm x 130 MM; Bindstyl: Sagteband; ISBN-13: 9780624085614)

 

wegraak

ons stap êrens buite mcgregor
’n proteaplaas teen die hang van die berg
voor ons val en vleg plate klip saam tot vallei
granietlae vloei dronk oor mekaar
’n bank wolke kom ingesweef soos ’n gerug

ons gaan sit op die koppie
wat oor die wye langeberg uitkyk
greyton kruip agter die wit golf weg
die pieke word eilande in ‘n wasemsee
wat nou reeds aan ons ledemate kom lek
ons klim uit onsselwe uit
en asem die reukloosheid van waterdamp in
ons word uitgevee –

die skerwe aardkors om ons ken ook dié patroon:
hulle skraap tot teenaan die blou plafon,

retireer dan in slowmo

tot die grond weer gelyk word
en hier weer wolke kom lê
asof geen berge ooit hier gewoon het nie

(Uit: Asof berge nooit hier was nie. Pieter Odendaal. Tafelberg, 2018)

Onderhoud met Pieter Odendaal (Asof geen berge ooit hier gewoon het nie)

Wednesday, August 22nd, 2018

Pieter Odendaal gesels oor sy debuutbundel, Asof geen berge ooit hier gewoon het nie wat pas by Tafelberg Uitgewers verskyn het. Louis Esterhuizen het die vrae gevra.

*

LE: Pieter, van harte geluk met ʼn besonder indrukwekkende debuut. Voor ons oor die gedigte self begin gesels, wil ek jou egter eers oor jou jarelange betrokkenheid by die bevordering van die digkuns uitvra. Kom ons begin dus sommer by jou jeugjare. Waar het jy grootgeword en vanwaar die passie vir die digkuns?

PO: Ek het in Bloemfontein grootgeword, van kleins af musiek gemaak en af en toe ’n song geskryf. Dit was een van my Afrikaanse onderwysers op hoërskool, juffrou Raadt, wat my die eerste keer aangespoor het om gedigte te skryf. My oom, Bernard Odendaal, het na van my vroeë verse gekyk en my oortuig dat dit iets was om na te streef. Maar my passie is ordentlik gestook deur die InZync events wat ons maandeliks in Kayamandi vir ’n paar jaar gereël het. Daar het ek die meeste oor die belang van die poëtiese woord geleer – waarvoor ’n mens haar kan aanwend, die magiese effek wat sy op digter en gehoor kan hê, die saamwees wat sy kweek.

LE: Van jou eerste jaar as student by US was jy betrokke by kampusletterkunde – onder andere as webmeester van SLiP (die Stellenbosch Literary Project) – en veral as organiseerder van maandelikse poësievoorlesings by InZync in Kayamandi. Ook het jy al by talle literêre feeste opgetree en word jy vry algemeen as ʼn bedrewe podiumdigter beskou. Wat is die belang van hierdie inisiatiewe, volgens jou?

PO: SLiP het my blootgestel aan die grotere Suid-Afrikaanse letterkundige wêreld en my oë oopgemaak vir die moontlikhede van aanlyn literêre platforms. InZync was my eintlike leerskool – daardeur het ek ’n gemeenskap van veeltalige digters leer ken saam met wie ek vandag nog ’n pad stap. Ek dink eintlik die term “podiumpoësie” is problematies, so ook die term “performance poetry”. Hierdie etikette word gebruik om die ou, diep kloof in Suid-Afrika tussen die geskrewe en gesproke woord, tussen die orale en gedrukte tradisies, te perpetueer. Op die ou end van die dag wil ons almal tog die woord laat sing.

LE: Aansluitend tot bogenoemde: Het jou betrokkenheid by voordragte en sogenaamde “podiumpoësie” enige direkte invloed op hoe jy jou taak as digter sien en hoe jy die maak van ʼn gedig benader?

PO: Ek dink die onmiskenbare teenwoordigheid van ’n gehoor het definitief ’n invloed op my ontwikkeling as digter gehad. Hulle herinner jou dat jy nooit besig is om in ’n vakuum te skep nie, en kan ook soms genadeloos wees – dis die vinnigste manier om feedback te kry oor of ’n gedig werk of nie, en dra ook by tot die demokratisering van poetry – dit maak poetry meer toeganklik, en bring ons terug wortels toe. Kontemporêre voordrag kan ook as ’n voortsetting van ’n Suid-Afrikaanse tradisie gesien word wat haar oorsprong in die prysliedere van iimbongi het en later aangewend is tydens die struggle om mense te mobiliseer. Hierdie tradisies wys ons dat poetry nie niks laat gebeur soos Yeats dit sou wou hê nie. Poetry raak mense, dit transformeer ons en daardeur ook die wêreld.

LE: Tans is jy besig met jou PhD in podiumpoësie as bevorderaar van weerbaarheid in sosio-ekologiese stelsels … Kan jy ons dalk ietsie meer hieromtrent vertel? Wat is ʼn sosio-ekologiese stelsel, byvoorbeeld?

PO: My PhD fokus op die unieke potensiaal van kuns in die algemeen en poësie in die besonder om ons verhouding met die natuur te ondersoek en te verander. Die term “sosio-ekologiese stelsels” is ’n fancy manier om te sê dat die wêrelde van mens en natuur intiem met mekaar verweef is en dat ons hierdie verweefdheid moet begryp en versterk as ons wil leer om saam te floreer. My PhD het ’n sterk praktiese komponent, so ek beplan om ’n reeks poetry-werkswinkels en -events in Kaapstad en Bloemfontein te reël om te leer hoe ’n mens poetry kan gebruik om brandende kwessies soos die waterkrisis en grondhervorming aan te spreek.

LE: Vervolgens wil ek gesels oor jou bundel Asof geen berge ooit hier gewoon het nie. Kom ons begin by die titel: wat is die implikasie van dié titel en hoe vind dit gestalte in die gedigte?

PO: Die titel kom uit een van my gedigte, en trek verskillende temas saam – eerstens, ons ongeërgde plundering van die natuur; tweedens, die blinde arrogansie van koloniale uitbreiding (wat op verskeie maniere vandag voortduur); en laastens, die relativerende perspektief van geologiese tyd, van berge wat ook ultimately, nes ons, sal verdwyn. Die ekologiese, politieke en filosofiese resonansies van die reël het my bygeval en help om die verse in die bundel te situeer.

LE: Jou uitgewer se begeleidende inligtingstuk tipeer die bundel soos volg: “Met ʼn eietydse en aktuele aanslag skryf Odendaal oor die politiek van verskil, ons ekologiese voetspoor, verganklikheid, menswees, die liefde, asook die onlangse studentepolitiek.” Volgens my is hierdie ʼn besonder akkurate tematiese opsomming van die gedigte in Asof geen berge ooit hier gewoon het nie en die reikwydte daarvan. Het hierdie gedigte oor ʼn lang tyd tot stand gekom, of is die meerderheid van dié vyftigtal in ʼn vlaag van geïnspireerde bevlieging geskryf? Op watter stadium het jy begin voel: Ja, hierdie gedigte kán ʼn bundel wees …

PO: Ek dink al jare daaraan om my verse byeen te bring, maar moes wag tot daar genoeg blare was dat mens dit ’n boom kon noem. Die gedigte is dus oor ’n lang tydperk geskryf, maar so georden en gekies dat daar ’n eenheidsgevoel te midde van diverse temas kon wees.

LE: Die bundel open met ʼn lieflike aanhaling uit Keorapetse Kgositsile se gedig “Like the tide: Cloudward” uit die bundel My name is Afrika. Hierdie aanhaling en die treurdig “Bra Willie” (p. 16) dui daarop dat Bra Willie meer as bloot ʼn kennis was. Watter invloed het hy gehad in die ontwikkeling van jou digterskap?

PO: Ek het die voorreg gehad om hom twee maal te ontmoet en ’n paar dae saam met hom en ’n groep digters in Grahamstad in 2016 deur te bring. Sy insigte en advies oor die dinge wat mens met poetry kan doen, sowel as sy ruime hart en deurdringende oë, het ’n diep indruk op my gelaat. Maar ek het eers besef hoe belangrik sy stem vir my was die dag toe hy ons verlaat het.

LE: Interessant genoeg open en sluit die bundel met gelyknamige afdelings wat ʼn vraag stel: Re mang? Tog verskil die gedigte in die eerste en laaste afdelings ingrypend van mekaar; iets wat die vermoede van ʼn bepaalde progressie by die leser wek. Wat sou jou kommentaar op só ʼn stelling wees?

PO: Ek dink tog dat ’n bemoeienis met die sosio-politieke werklikheid, en hoe dit ons konsepsie van wie ons is bepaal, die twee afdelings bind. Miskien is daar wel ’n onbewuste progressie in die manier waarop die gedigte die vraag Re Mang? benader. Die gedigte in die laaste afdeling is in die algemeen meer onlangs geskryf.

LE: Die tweede Afdeling, heil die planetêre skeppers, open met ʼn aanhaling uit Toast Coetzer se “natuurgedig” (“destyds het ouens soos van wyk louw en opperman / nice gedigte oor die natuur geskryf / ons het nie meer tyd vir sulke kak nie”) en bevat van die mees ongewone natuurgedigte (oftewel ekopoësie) in die Afrikaanse digkuns. Besonder interessant is die wyse waarop jy natuur en gemeenskap met mekaar verweef, soos met die gedig “eersterivier” (p. 34), byvoorbeeld. Hoe ag jy die belang van ekopoësie en die ontwikkeling daarvan in die Afrikaanse digkuns?

Ter illustrasie haal ek die slotreëls uit genoemde gedig aan:

hoor die rivier die rivier was eerste hier

sy dra die stories van geslagte

ons verledes skuim oor klippe

ons is altyd onderweg

eendag keer ons terug see toe

                dan herinner ons die golwe

gaan die swaartekrag wat alle strome

laat vervloei tot rivier

hoor die rivier die rivier was eerste hier

PO: Ek dink dit is belangriker nou as ooit om ons verhouding met die natuur te vier en te herontdek. Iewers langs die pad het ons vergeet hoe afhanklik ons van berge en riviere is. Maar ons kan nie hul skoonheid beprys en blind wees vir die ongeregtigheid wat om ons is nie. Die prefiks eko- kom van die Griekse oikos, oftewel huis. En die huis behoort aan almal wat in haar woon.

LE: Die gedigte in genoemde afdeling, heil die planetêre skeppers, toon wel ook ʼn distopiese aanslag, soos die gedig “aan ʼn bewoner in 2050” (p. 37), byvoorbeeld. Handhaaf jy ʼn sombere uitkyk op die (ekologiese) toekoms van ons planeet en samelewing?

PO: ’n Sombere uitkyk help my soms om rustiger te wees oor die sosiale en ekologiese skade wat ons op die planeet en haar mense wreek. Maar apokalipties is ek nie – ons en die bos is weerbaarder as wat ons dink. Nietemin is realisitiese verse oor ons trajek belangrik omdat hulle help om ons op ons tone te hou.

LE: Die “stories van geslagte” en “verledes (wat) oor klippe (skuim)” waarna daar in die gedig “eersterivier” verwys word, vind dan neerslag in die derde afdeling voor ons deurskynend word. Een van die mees onthutsende verse in hierdie afdeling is die gedig “inisiasie” (p. 58).

Ek haal die slotstrofes aan:

ons ry tot teenaan my mondigheid

wat in die son lê en blink

hy skryf sy eie poem in die sand

     kom boeta

sê pa

     jy moet sy keel afsny

     anders ly hy

 

ek doop my vingers in die ink,

neem sy kop in my hande vermy sy oë

sy keel spoel uit op my skoot

soos iets wat eerder ongesê moes bly

Lees ek die vers korrek as ʼn ars poëtika? Indien wel, in welke mate verskil hierdie ietwat gewelddadige siening van (inisiasie tot) die digkuns byvoorbeeld van DJ Opperman se geykte “engel uit die klip”? Het dit dalk terselfdertyd betrekking op die Toast Coetzer-aanhaling wat jy as motto by die vorige afdeling gebruik het?

PO: Ek het eintlik nog nooit aan die vers as ’n ars poëtika gedink nie, maar nou dat jy dit noem mag dit wél die geval wees. Die gedig praat oor die geweld wat ons veral by ons vaders oorgeërf het, hoe ons dieselfde geweld onnadenkend pleeg, en die belang van die poësie om hierdie trauma te help verwerk.

LE: Pieter, as laaste vraag wil ek ʼn vraag vra wat dalk nie té gemaklik in jou klere gaan sit nie. Nogtans sal ek (en vele ander van my generasie) dit enorm waardeer indien jy wel hierop sal kan antwoord. Die openingsgedig in die laaste afdeling heet “in praise of protest” (p. 95) en begin met die volgende reëls:

hier op stellenbosch soos orals elders

teken ons beswaar teen ekshelde aan

en dis goed so

want gister is altyd aan die verander

hoe verder mens vorentoe beweeg

hoe krommer lyk die pad agter jou

ons kyk anders na die wêreld

en dis goed so

want as almal nog in die 60’s gechill het

sou ons nie saam in hierdie gedig kon wees nie

Nie net hierdie gedig nie, maar jou bundel in sy geheel, maak my verskriklik opgewonde omrede jou gedigte volgens my ʼn enorme groeipunt in die Afrikaanse digkuns verteenwoordig. In welke mate – volgens jou oordeel – verskil jou generasie se aanslag op die digkuns en siening van digterskap byvoorbeeld van my generasie sʼn … die ouens wat in die 60’s gechill het, soos jy dit stel.

PO: Ek is geen spokesperson vir my generasie nie, maar ons jongeres het in ’n ander Suid-Afrika grootgeword. Die gaping tussen ons ouers se verstaan van die wêreld en ons s’n lei soms tot ’n soort skisofrenie, veral as jou pa nie verstaan hoekom jy saam toyi-toyi nie. Maar ons is besig om ons eie pad te vind, om ’n nuwe weg te baan, want ons moet leer om anders saam in hierdie land te wees. Alhoewel daar Afrikaanse digters was wat saam die res van die land teen apartheid geskryf het, is daar ook poets wat gehelp het om die status quo te handhaaf deur eksklusief apolitiese verse te skryf and daardeur argumente teen “betrokke kuns” te onderskryf. Ons kan nie bekostig om onbetrokke te wees nie. As ons saam wil vorentoe, moet ons die onnoembaarhede van die verlede op die naam noem.

LE: Nogmaals baie dankie vir hierdie gesprek, Pieter. Ek wens jou alle voorspoed toe in die verdere ontwikkeling van jou digterskap; mag hierdie bundel vir jou alles wees waarop jy hoop en wat ek glo dit sal wees.

Sou jy miskien as toegif, by wyse van groet, een van die gedigte uit asof geen berge ooit hier gewoon het nie hieronder plaas?

***

Vreemdeling, laataand-gesprek, Corridor se

stoep, Stellenbosch

[Lees hardop met Jon Hopkins se “Abandon window” in die

agtergrond. Gee jouself oor aan die ruimte wat die song skep.]

Kayamandi lê voor ons:

die natblink ingewande van ’n bees.

Jy bly aan die ander kant

waar die baksteenhuise is,

verseker jou slepende tong my.

Jou hare is kort geskeer:

eers het jou ma gegaan, toe jou pa.

Gelukkig het hy genoeg

vir groente gelos, sê jy,

vir jou en jou boetie.

Jy is skaars sestien,

lieg vier jaar by.

Ek weet nie hoe om ’n pa te wees nie, sê ek.

Jou woorde val tussen tale rond

nes jou besope idees oor my bleek voorregte.

So ook my halfsinne wat hierdie sinkende

gesprek probeer anker:

“Nee, jy hoef nie Afrikaans . . .”

“Ja, ek is, maar . . .”

“Bloemfontein.”

Jou gesig lê tussen my en die shacks.

Jy korrel met jou mond,

ek weet ek moet,

maar ek koes nie.

Trou met my, sê jy.

Nog nooit was die sterre so yl

oor die lug gesaai soos vanaand nie.

(c) Pieter Odendaal (Uit: Asof geen berge ooit hier gewoon het nie, 2018: Tafelberg Uitgewers)

René Bohnen. Sondag en Sol Plaatje

Monday, October 10th, 2016

VI6Dit is 9 Oktober en Sol Plaatje se verjaarsdag. Dubbeld spesiaal, dus, dat die 2016 Sol Plaatje Poetry Anthology vandag vrygestel word en die wengedig aangekondig word. Die geleentheid vind plaas by Sci-Bono in Newtown en ons word verwelkom met koffie, eetgoed en ʼn versameling boeke te koop. Ek is bankrot nog voor die verrigtinge begin.

Hierdie is die 6de jaar dat die Sol Plaatje European Union Poetry Award toegeken word en die gehoor bestaan uit enkele langlysdigters, kinders, akademici, uitgewers en ander belangstellendes vroeg op ʼn Sondagoggend. Ons is almal duidelik in ons noppies om in die bloemlesing opgeneem te wees en in die oggend te deel.Die bloemlesing is mooi versorg en vir my is die voorblad besonder treffend, met ʼn foto deur Lindeka Qampi.

VI 1

Dit is die eerste keer dat die Mail & Guardian LitFest deel is van die Sol Plaatje toekenning en daar word ook aangekondig dat die Nirox Foundation ʼn drieweeklange kunstenaarsverblyf aan die wendigter skenk. Die EU Ambassadeur, Marcus Cornaro, verduidelik die EU se betrokkenheid by die toekenning en die borg van die prysgeld. Die blootstelling van digterstemme in al elf landstale word geprys, tesame met die boodskap van die strewe na kohesie en begrip. Die beoordelaars, vertalers, Jacana Uitgewers en almal betrokke word aan ons voorgestel en daar is vanselfsprekend opgewondenheid rondom die teenwoordigheid van Mongane Wally Serote, ikoniese digter en hoofbeoordelaar.

VI2 VI3

Verskeie digters dra van hulle gedigte voor en ek kry vir die eerste keer kans om Pieter Odendaal van InZync faam te hoor en agterna te ontmoet. Pieter het ook die Engelse vertalings van die Afrikaanse gedigte behartig. Die Johannesburg-gedigte is nogal sterk teenwoordig en sekere frases bly steek in die geheue – “piesangs en bloed in jou strate” en “who gets mugged on the Nelson Mandela bridge”, daar is ook vele verwysings na die goudbedryf, die abnormale arbeidssituasies en armoede (“a hungry stomach has no ears”). Slam-poetry word verteenwoordig, asook die tema van feminisme en huishoudelike geweld. Dit is duidelik dat digters steeds betrokke skryf en dat die struggle op vele fronte voortduur, al sy dit in ʼn gewysigde gedaante met addisionele brandpunte. Ek leer nuwe gesigte ken, probeer nog almal onthou en name by my foto’s pas. Ek sit langs vriendin en mede-digter Lara Kirsten, ons is kort-kort taamlik emosioneel oor wat voorgedra word. Ons kies ook vinnig met groot binneplesier onderlangs ons eie wenner uit die kandidate.

Siphokazi Jonas beïndruk met haar voordrag van Mambhele’s Harvest  en is dan ook uiteindelik die wenner van die Tweede Prys. Die 2016 wenner van die Sol Plaatje Award is ook 2015 se wenner, Athol Williams, wat onmiddelik ná die geleentheid terugkeer na Oxford waar hy ʼn oggendlesing moet bywoon. Die Derde Prys wenner is Charles Marriott van Kaapstad. Ek het net ʼn baie klein kameratjie byderhand, maar neem nogtans foto’s.

VI4

Die pryse word deur Mongane Wally Serote oorhandig, ons verdaag om verder tee te drink en dalk die “after party” in Troyeville by te woon. Maar eers hang almal bietjie rond in die gange van die Sci-Bono gebou en groet, maak vriende, belowe om kontak te behou, drentel al geselsend uit in die Newtown sonlig, groetend, glimlaggend met ʼn gekweste hart en onthou die gedagte dat ons almal moet skryf en leef om nie net mense uit die skaduwees te kry of die skaduwees te verklein nie, maar om daarna te streef dat almal eendag in die lig kan leef.

VI9

Volledige persverklaring hier: https://gallery.mailchimp.com/13a0d1ec92f556db796ceb35b/files/Sol_Plaatje_Winners_PR.01.pdf

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Louis Esterhuizen. Die impak wat ‘n goeie gedig kan maak

Monday, September 24th, 2012

(Foto-erkenning: Denzil Maregele)

Murray La Vita is loshande een van my gunsteling onderhoudvoers. In hoofsaak omrede hy myns insiens uitmuntend daarin slaag om die stem en persoonlikheid van die betrokke persoon met wie hy gesels na vore te bring; soos dit nou weer die geval was met die onderhoud wat hy met Pieter Odendaal (foto) gevoer het na aanleiding van Odendaal se gedig ter ere van Adam Small. (Dié onderhoud het Vrydag, 21 September, in Die Burger verskyn. )

Graag wil ek dan dié onderhoud en die gedig wat daarby betrek is, gebruik as springplank na De Waal Venter se volgehoue versoek dat daar rondom die kwessie van wat ‘n “goeie” gedig is, besin moet word.

Maar eers die onderhoud.

Omslag

Omslag

Uiteraard was die aanloop tot die onderhoud die huldigingsbundel wat ter herdenking van Adam Small se 75ste verjaarsdag ontstaan het, en meer spesifiek Pieter Odendaal se vers daarin. Hierdie vers het naamlik reeds met die eerste voordrag tydens Versindaba verlede jaar die aanwesiges soos ‘n voorhamerhou getref; trouens, enkele dae later is daar ook ‘n digstring geplaas waarin Odendaal uitgebrei het op die ontstaansgeskiedenis en konteks van dié aangrypende gedig.

Die verdere verloop hiervan was dat Adam Small tydens die dankwoord met die ontvangs van die Hertzogprys vir Drama pertinent na Pieter Odendaal en sy gedig, “Die eerste steen“, verwys het: “In dieselfde asem sê ek graag aan die jong digter Pieter Odendaal, na aanleiding van sy roerende reëls waarin hy my vra om te aanvaar dat sy pa wat indertyd in die sogenaamde grensoorlog betrokke was, ‘n goeie man is. Pieter Odendaal, glo my, ek het begrip daarvoor dat goeie mense ingesuig is deur die siekte van apartheid. Ek verstaan.”

‘n Gebaar van versoening, inderdaad. Soos dit ook in 1994 die geval was was toe oudpresident Nelson Mandela tydens die eerste opening van die demokratiese parlement Ingrid Jonker se gedig “Die kind” voorgelees het, en ook toe Diana Ferrus met haar gedig oor Saartjie Baartman mense sodanig ontroer het dat daar deur die Franse oewerhede besluit is om Saartjie se oorskot in Suid-Afrika te laat herbegrawe … En ja, sekerlik is daar nog talle ander voorbeelde.

Nou wat maak dat bepaalde gedigte hierdie impak kan hê op mense?

En dit bring my by die gesprek wat De Waal Venter graag wil inisieer. Persoonlik is ek van mening dat dit bykans onmoontlik is om op die vraag wat ‘n “goeie” gedig is, te antwoord. Die rede is waarskynlik dat daar nooit eenstemmigheid hieromtrent kan (of mag?) wees nie; elke gedig resoneer op ‘n eie, unieke manier met die leser of hoorder daarvan volgens die betrokke persoon se eiesoortige verwysingsveld en emosionele landskap. (Eersgenoemde het met kognitiewe prosesse te make en laasgenoemde met die konatiewe.)

Met bogenoemde as uitgangspunt is ek persoonlik egter van mening dat die integriteit van die gedig vooropstaan; daarmee bedoel ek eerlikheid ten opsigte van sowel tema as toon. En met laasgenoemde staan diksie (woordkeuses) en visuele komponente (beeldspraak) natuurlik sentraal.

Soos dit die geval is met Pieter Odendaal se gedig: toeganklik, met ‘n “losserige” struktuur en skreiende eerlikheid. Onbevange. Elke woord en inspeling presies reg binne die reëls soos die gedig dit self genereer volgens toon en aanslag. (‘n Punt wat myns insiens hierby aansluit: ‘n suksesvolle gedig volg sy eie dinamika. Asof dit ‘n eie verwysingsveld ontwikkel wat jou in daardie “woordwêreld” in sleep.)

Daarteenoor kry jy natuurlik ook “geslote”, of hermetiese verse, wat ten spyte daarvan dat hulle minder toeganklik is, steeds kan ontroer.  Soos T.S. Eliot by geleentheid gesê het: “Genuine poetry moves before it is understood.” ‘n Goeie voorbeeld hiervan is Marlene van Niekerk se gedig oor die Marikana-slagting wat onlangs op SlipNet verskyn het. By wyse van lusmaker, die slotreëls uit dié kragtige vers:

Alles is soos dit is en die wederkeer ewig,
die mag totem-agtig, die onmag murf.
So, waarom nie dig nie, Jacqueline? Dit is lewe –
in jou allesvermoedende medepligtige water
lig ritmies jou vers haar voetjies en vuisies
in die biomimiek van opstand, aanval, ontlading.

Wat dus ‘n “goeie” gedig bepaal? Ek weet eerlikwaar nie; trouens, daar sal sekerlik soveel antwoorde hierop bestaan as wat daar digters en lesers is. Dieselfde geld seker ook maar die vraag na wat ‘n “swak” gedig is … In die woorde van Robert Frost: “Like a piece of ice on a hot stove the poem must ride on its own melting.”

Maar dat jy sal weet wanneer jy met ‘n goeie gedig te make het, is gewis. Soos die ou oom aan sy vrou gesê het toe hy per ongeluk ‘n meisie se broekie gesien en sy hom daaroor geroskam het: “Ou vrou, daai ding hy’s soes die bliksemstraal; jy kyk nie vir hom nie, maar jy wíét van hom …”

Vir jou leesplesier volg Pieter Odendaal se gedig. En gaan lees sommer die digstring daaroor indien jy dit gemis het toe dit verlede jaar Oktober op Versindaba verskyn het.

***

die eerste steen

vir adam small

 

ek sou graag net ‘n klipgooi vêr

van jou af wou leef, meneer small

van die bankies die deure

die treine die skole die strande

die riots die klippe in hande

 

maar ek staan anderkant die storm

waar ons reënboë teen die  grys skerm

van die dag projekteer

 

‘n mens kan nie lewens

in die lug bou nie, adam

en ek weet nie hoe om

van hier vir jou te skryf nie

hier waar die blindes dans dans dans

met iPods in hul ore

en dollars in hul oë

 

‘n mens kan nie lewens

in die lug bou nie, adam

 

ek wens ek is vroeër gebore

dat ek al kon loop die dag

toe Hector gaan lê het

miskien sou ek hom optel

miskien sou ek saam

cowboys en kroeks speel

 

maar my hande is nog altyd

te klein gewees om klippe te gooi

al stoei my pa se bloed in my

en al was my oupa in die senaat

 

hy’s dood die jaar

toe my pa begin skiet het

 

my pa is ‘n goeie man, meneer small

al praat slegs sy oë oor die grens

en al drink hy soms te veel

hy’s ‘n goeie man, meneer small

al skree hy soms op taxi’s

en al was hy en sy god

maar oukei met als gewees

 

hy’s ‘n goeie man, meneer small

en ek hoop dat ek eendag skroomloos

langs sy graf kan staan en huil

 

 

© Pieter Odendaal, Augustus 2011.

 

 

Pieter Odendaal. Flagrante self-promosie deel twee

Tuesday, February 28th, 2012

Die poster vir Transkripsie

Verlede jaar het ek een keer hierdie blog misbruik om ‘n optrede te bemark, en nou gaan ek dit weer doen. Ek collaborate saam met lede van die Kaapse band Bateleur en ander vriende volgende Maandagaand die 5de Maart om 18h00 by De Vette Mossel tydens die Woordfees.

Die titel van die produksie is Transkripsie en het ‘n tweeledige betekenis: In die eerste plek verwys die titel na die biochemiese proses waarvolgens die inligting wat in DNA gestoor is, gekopieer word en uiteindelik deur ribosome in elke lewende sel gebruik word om proteïene te vervaardig. Transkripsie is dus die eerste stap in die bouproses wat verantwoordelik is vir die oprigting van die lewende geboue wat ons plante en diere noem. En met die dat ek ‘n klap van die natuurwetenskappe weg het, het ek gedink dat die titel ‘n gepaste beskrywing van die skeppingsproses is. Op dieselfde manier wat DNA getranskribeer word om uiteindelik organismes aan die lewe te hou, transkribeer ons ons ervarings om geboorte aan gedigte te gee.

In die tweede plek is transkripsie ook die oorsetting van ’n musiekstuk van een instrument na ’n ander. In my en Bateleur se geval gaan dit oor die transkripsie van die stempartituur van die gedig op die bladsy na die instrumente op die verhoog. Die klankdigte het ontstaan uit verskillende simbiotiese verhoudings tussen woord en klank. So is een van die gedigte geskryf as ‘n direkte respons op een van die musiekstukke, terwyl die musiek by ander tye bloot as ‘n soort omgewing dien waarin die organisme van die gedig kan floreer.

Ek en Annel Pieterse gaan ook van ons vertalings opvoer, naamlik die bekende “City Johannesburg” van Wally Serote wat ek onlangs na Afrikaans getransponeer het en Annel se Engelse vertaling van Mathews Phosa se “Talle tonge het ek”.

Sien julle by die Woordfees.

Digstring. Pieter Odendaal. Die eerste steen

Friday, October 14th, 2011

die eerste steen

vir adam small

 

 

ek sou graag net ‘n klipgooi vêr

van jou af wou leef, meneer small

van die bankies die deure

die treine die skole die strande

die riots die klippe in hande

 

maar ek staan anderkant die storm

waar ons reënboë teen die  grys skerm

van die dag projekteer

 

‘n mens kan nie lewens

in die lug bou nie, adam

en ek weet nie hoe om

van hier vir jou te skryf nie

hier waar die blindes dans dans dans

met iPods in hul ore

en dollars in hul oë

 

‘n mens kan nie lewens

in die lug bou nie, adam

 

ek wens ek is vroeër gebore

dat ek al kon loop die dag

toe Hector gaan lê het

miskien sou ek hom optel

miskien sou ek saam

cowboys en kroeks speel

 

maar my hande is nog altyd

te klein gewees om klippe te gooi

al stoei my pa se bloed in my

en al was my oupa in die senaat

 

hy’s dood die jaar

toe my pa begin skiet het

 

my pa is ‘n goeie man, meneer small

al praat slegs sy oë oor die grens

en al drink hy soms te veel

hy’s ‘n goeie man, meneer small

al skree hy soms op taxi’s

en al was hy en sy god

maar oukei met als gewees

 

hy’s ‘n goeie man, meneer small

en ek hoop dat ek eendag skroomloos

langs sy graf kan staan en huil

 

 

© Pieter Odendaal, Augustus 2011.

 

Let wel: Hierdie vers was geskryf  as opdragvers tydens die huldiging van Adam Small tydens die pasafgelope Versindaba-fees.

 

Pieter Odendaal

Pieter Odendaal

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Pieter? Hoe het dit ontstaan?

Iewers in Augustus. Ek dink die winde het al in die Vrystaat begin waai en dit was woes reënerig in Stellenbosch. Melt Myburgh het my gevra om die gedig te skryf as deel van ‘n kollektiewe huldeblyk aan Adam Small by Versindaba.

Toe’t ek maar al Small se boeke gaan lees en besef dat ek nie weet hoe om hom te skryf nie. Ek het hom nooit ontmoet nie, net soos ek nooit die gatkant van apartheid geken het nie. Ek is in 1989 gebore, en my eerste regte herinneringe begin eers na Mandela se vrylating.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Dit het redelik lank gevat om die ding klaar te kry, maar die sperdatum het gehelp. Ek skryf baie stop-en-start, baie fragmentaries. Daar is agt drafts op my rekenaar gestoor. Die groot werk begin as ek die stukkies aan mekaar probeer stik.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Geen wit lig van bo of muse met groot buuste het neergedaal nie. Bloot met my vingers op die keyboard gaan sit, sigur ros, tumi and the volume en liszt opgesit en begin droom.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Ek het baie op ritme en klank gekonsentreer. Dis die eerste gedig wat ek geskryf het deur hoofsaaklik op die musiek van Afrikaans te fokus. Adam Small is ‘n meester van luister en hy werk so mooi met klank – die dat ek gevoel het dat ek een van sy belangrikste ordeningsbeginsels wil gebruik om die gedig te skryf. 

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ek het die gedig een of twee keer opgevoer voor my podiumdigter-vriende en hulle het baie gehelp om as klankbord te dien. Annel Pieterse het ook geluister en die regte vrae gevra. En ek het dit vir myself voor die spieël gelees. Dit help baie.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Wel, die gedig is nie gepubliseer nie, maar is by Versindaba opgevoer as deel van die huldeblyk aan Small, soos ek hierbo gesê het. Ek is nog nie seker of die gedig regtig goed op papier werk nie.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

My oupa is nie dood die jaar toe my pa begin skiet het nie. Dit was eers later, maar ek het van die reël gehou, so ja. Die res is alles waar, soort van.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Oor hoe moeilik dit vir my is om vir en oor Adam Small te skryf en hoe moeilik dit vir my is om te skryf oor ‘n geskiedenis wat ek nie self deurleef het nie. Ag, en oor wat klippe alles kan doen om mense van mekaar te skei.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Small se werke, veral sy eerste publikasie, Die eerste steen, wat in die fifties verskyn het en ‘n redelik emosionele, maar ook onthutsende en ontstellende, aanklag teen apartheid is. Hy is werklik ‘n profeet – hy’t voorspel hoe ons menswees van ons af weggevat sou word in hierdie land.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Terwyl ek in die wêreld van die halfgeboude gedig is, dink ek nie aan enige toekomstige bewoners nie. Maar as ek later weer terugkeer om verder daaraan te skaaf, dink ek gewoonlik eers aan die volgende mense: My gesin en my vriende wat Afrikaans kan verstaan. Dan dink ek aan my ander vriende wat gaan luister na die musiek in die gedig omdat hulle nie die taal verstaan nie. Ek dink ook aan Charl-Pierre Naudé se woorde oor Afrikaans: “Afrikaans’ most noticable – and most denied – facet is that it is an inherently mixed culture, coloured and white. The entire culture is pinned onto this tragic divide, like tatters on a skeleton. It will take time to heal, if it ever will. Indeed, the culture of Afrikaans is a Siamese twin that got seperated very badly, and should never have lived. For which half am I writing, then? Sometimes I fell like the shattered mother insisting to love something unlovable because it is my inalienable right to do so.” (Uit: Imagine Africa, saamgestel deur Breyten Breytenbach)

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dis die eerste opdragvers wat ek geskryf het en verskil ook in die sin dat dit die eerste gedig is waarvoor ek so baie vooraf leeswerk gedoen het.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Die taal. Die klanke. Die tematiek wat dit aanspreek. Die kern van geweld waarom dit alles draai.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Sien, dis daar waar ‘n sluitingsdatum baie handig te pas kom. Jy’s bloot ‘n surrogaatmoeder en daar’s ʼn streng delivery-tyd ter sprake.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ja. Ek het baie positiewe terugvoer en insiggewende kommentaar gekry. En die ou in die spieël het ook die vers gelike.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Dit was eintlik ‘n liriek gewees. Oor visse wat heeldag lank in die see rondswem. Die liedjie was oukei, maar die woorde het swaar op ‘n Christelike kinderliedjie-interteks gesteun en ek kan net die eerste vers onthou. Ook maar goed so.

 

Die visse swem die visse swem

o die visse swem

hulle swem na hulle gate

en hulle eet hulle kos

o die visse swem.

 

_______________________________________________________________________________

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.

 

 

Desmond Painter. Tot lof van ou mans…

Monday, May 30th, 2011

Vanoggend, drie dinge oor oud word — en oor ouer wordende mans spesifiek: ‘n Artikel van my oor Bob Dylan se 70ste verjaardag het gister in Rapport verskyn. Danie Marais verjaar vandag — ek sal nie sy ouderdom verklap nie, maar hy is gewis nie meer 39 nie… En Pieter Odendaal raps “die ouer garde” oor die vingers in sy jongste (!) bloginskrywing. Dus dra ek graag William Butler Yeats se “Why Should Not Old Men Be Mad?” op aan al die ou en ouerwordende mans wat hier lees! Soos Bob Dylan sing: “Time and love has branded me with its claw…”

William Butler Yeats

Yeats

Why Should Not Old Men Be Mad? – deur William Butler Yeats
Why should not old men be mad?
Some have known a likely lad
That had a sound fly-fisher’s wrist
Turn to a drunken journalist;
A girl that knew all Dante once
Live to bear children to a dunce;
A Helen of social welfare dream,
Climb on a wagonette to scream.
Some think it a matter of course that chance
Should starve good men and bad advance,
That if their neighbours figured plain,
As though upon a lighted screen,
No single story would they find
Of an unbroken happy mind,
A finish worthy of the start.
Young men know nothing of this sort,
Observant old men know it well;
And when they know what old books tell
And that no better can be had,
Know why an old man should be mad.

Pieter Odendaal. noord-namibië

Thursday, October 7th, 2010

noord-namibië

 

duisende klippe lê rondom ons

soos nuuskierige oë

kafferbrak  sê pa deur sy baard

as ons verby ’n padstal ry

 

die geribde dier vreet aan ’n droë akkedis

ovambo’s kyk grootoog na ons bakkie

’n seuntjie draf angstig nader om ons uit te nooi

pa kyk stip voor hom

 

  pa  vra ek

       ja

 

die stal verdwyn agter ons

en die klippe lê tot teen die lug

eendag sal als woestyn wees

en die bakkie die brak die ovambo’s ons

sal toegewaai onder die sand lê

 

  het pa ooit iemand op die grens

           

 nee

 

sy vingers trek styf om die stuur

hy kyk stip voor hom   

en ons bakkie skuurpapier die landskap vol stof

 

die stilte groei tussen ons soos ’n gedig

 

 

(Uit: Versindaba 2010, Protea Boekhuis, 2010)

© Pieter Odendaal