Posts Tagged ‘Pirouette Aniel Botha’

Gisela Ullyatt. “Endlessly obedient citizen”: Die gedig as gestig. Deel 2.

Monday, November 24th, 2014

In Deel 1 van hierdie blog genaamd “Wintermuil: die gedig as gestig”, ondersoek ek die verbintenis tussen digterskap, gemoedsversteuring en selfdood aan die hand van enkele Afrikaanse gedigte wat oor die ervaring in ’n psigiatriese staatshospitaal berig (http://versindaba.co.za/2014/10/28/gisela-ullyatt-wintermuil-die-gedig-as-gestig/). Ek haal ook aan uit Linette Retief se insiggewende artikel, “Vloek van die muse”, waarin sy die moontlikhede tussen selfdood, gemoedsversteuring en artistieke talent aan die hand van voorbeelde soos Johannes Kerkorrel en Barrie Hough eksploreer. Ek fokus veral op die Afrikaanse digterlike verslag van psigiatriese opname. Hiermee verleen digters ’n stem aan meestal stemlose psigiatriese pasiënte (veral in staatshospitale), omdat hulle oor derglike ervaring kon besin en dus kon oopskryf, dikwels met ’n rou eerlikheid maar terselfdertyd met ’n sekere distansiëring wat die digter eers moet vind alvorens ’n gedig publiseerbaar is.

In hierdie blog fokus ek dus op die stem van die digter, alhoewel ander kreatiewe segmente van die kreatiewe samelewing soos kunstenaars en skrywers ook onder die loep geneem sou kon word.

Ter aansluiting by Jeanne Goosen se gedigte wat in Deel 1 verskyn, haal ek ook enkele versreëls aan uit “sarah (1)”  wat in elders aan diens verskyn (24):

dankie vir die hulp

dat julle my toegesluit het

en vol pille gestop het

die gideonbybel en die koek seep in die strafsaal

was fokken goeie terapie

dankie dat julle my brein gesmelt het

met liewe jesus-versies, klei en stukkies tou

dankie vir  my sanity:

maandag is wasdag, dinsdag is strykdag en op ’n woensdag

skrop ek vloere

Goosen se satiriese invalshoek waarmee sy die gestig in hierdie vers verken, word verder versterk deur die sardoniese aanspreek van die ‘julle’. Hiermee word die spreker se woede veral op ‘n briljante wyse geaktiveer en die leser se aandag word gevestig op die dodelike geroetineerde bestaan binne die institusionele ‘masjien’, wat Ken Kesey die ‘Combine’ noem in One Flew Over the Cuckoo’s Nest. David Cooper (gebore in Suid-Afrika), bekende in die anti-psigiatriese beweging, verwys na die reëls en meta-reëls van so ’n institusie in sy opspraakwekkende boek, The Death of the Family (1970). (Selfs in die tweedehandse kopie wat ek besit het een of ander persoon driftige kantaantekeninge gemaak teen Cooper se anti-psigiatriese aannames. Perdalks ‘n psigiater of psigiatrist-in-training?).

Terselfdertyd reflekteer die institusie ook norme van die samelewing: solank die ‘versteurde persoon’ gekondisioneer word om ‘normaal’ op te tree, word hy of sy aanvaar; Cooper noem hierdie verskynsel die “the well-conditioned, endlessly obedient citizen” (11).

In Goosen se gedig word norme duidelik neergelê deur simplistiese maatreëls: “gideonbybel”, “liewe Jesus-versies” en arbeidsterapie wat sommige psigiatriese pasiënte dikwels na as “spoeg-en plak”-aktiwiteite verwys. “Strafsaal” dui op selfs ’n meer sinistere maatreël wat op pasiënte uitgevoer word.

Hierdie dodelike geroetineerde bestaan in ‘n psigiatriese hospitaal word ook in  Karen Kuhn se “Op parool” (7) gekarteer:

In hierdie Crescent Clinic

word ek daagliks geleer

om te weet:

Staan soggens op,

wees betyds,

trek paslik aan,

slaap 8 ure,

eet drie maal.

Bestuur jou lewe

matig en gebalanseerd.

 

Met ontslag, leer

my tog die waansin

in die woorde: Ek wéét.

Die titel suggereer reeds dat so ’n roetine baie gelykstaande aan dit van ’n tronk is. Ongelukkig is dit dan juis ‘matigheid’ en ‘balans’ wat dikwels ontbreek wanneer die digter ’n uiters kreatiewe episode beleef. ‘Parool’ kan ook ironies gelees word omdat daar nooit algehele vryheid van ’n ernstige gemoedsversteuring bestaan nie; afhangende van die individu kan dit dan ook na selfdood lei. Nie almal kan depressie goed bestuur nie. Tog mag die tipping over van die donker hel van depressie na ‘n meer genesende uitkoms  afhang van hoeveel die digter oor sy of haar ervaring kan berig deur die oopskryf daarvan.

Ongelukkig val menige terug in herhalende siklusse van depressie of manie. Sylvia Plath is een so ’n voorbeeld; haar wipwaentjieritte tussen highs en lows is veral opmerklik in haar dagboeke. Ook dat sy deur ’n genadelose ‘innerlike kritikus’ geteister is. Hierdie tipe kritikus is ook wat Boeddhiste die ‘ego’ of monkey mind noem omdat dit aanhoudend tekere gaan soos ’n swaaiende aap en ou negatiewe gedragspatrone afdwing wat in die kinderjare gevorm is.

Karen Kuhn se “My adres” (5) illustreer die allerverskriklikste krag van so ’n kritikus, veral in die laaste reël:

Terug onder kliniese lakens,

tussendeur saalgeluide

en verdoofde denke

is ek mal

daaroor

om letters te skok en te doseer:

myself te sertifiseer.

Die neiging van die psigiatriese pasiënt om homself of haarself te ‘sertifiseer’, word verklaar deur Cooper: die persoon word totaal afgestomp en kan dus nie meer die “sane” ek vind nie; hy/sy is so

estranged from every aspect of one’s own experience, from every spontaneous impulse to action, from every bid of awareness of one’s body for oneself (rather than one’s body as an object for inspection for others in the world), from all the carefully refused possibilities of awakening change, that one might truly, and with metaphorical sleight of hand, regard this normal person as being out of his mind (1970:11).

Die nosie van sertifisering word ook gevind in Aniel Botha se pirouette (2012). Hier word pertinent gestel dat die spreker haarself in ’n psigiatriese staatshospitaal bevind en dat sy verobjektiseer word (‘Stikland’:26):

Gestroop, gevange, gesertifiseer,

sit ek op die smal staatsdiensbed.

Die lakens, geel en gaterig, sê:

Eiendom van die RSA. Diefstal

is ’n kriminele oortreding.

’n Suster roep. Ek maak die bed op,

eet pap, drink Ricoffy, verstik.

Spreek ’n dokter. Staar na my hande:

eiendom van wie?

Die “staar na my hand” versterk die idee dat alles nou “out of hand” is, dat haar hande afgekap is, dat sy haarself nie meer besit nie. Alles in ’n staatshospitaal is goedkoop soos in ’n tronk: ‘pap’; ‘Ricoffy’. Hierdie is geen weelderige privaat-kliniek nie.

Wilhelm Knobel sterf in 1974 aan “massiewe dosisse middels wat toegedien is in ’n poging om ’n hiperakute maniese aanval van bipolêre stoornis te beheer” (Agterplat van As die woorde begin droom). Bipolêre steurnis (veral Bipolêr 1 met hiper-maniese episodes wat afgewissel word met intense periodes van depressie) kan ’n groot bron vir digterlike aktiwiteit wees, maar terselfdertyd kan die digter dan ook tydens die depressie-fase selfdood oorweeg en selfs pleeg omdat die euforiese gevoel en maniese produktiwiteit ontbreek. Knobel berig ook in die volgende gedigte spesifiek oor sy institusionele ervaring (2005:66):

Gedig om ’n pil

Stelazine is jou naam

of liewer

so verkoop hulle jou

 – wat jou herkoms  is of samestelling sal ek vir my broer moet vra.

Vir nou’s dit genoeg dat ek weet:

            na die godsalige dag

            van smeulende son by Clifton

             is jý die koel bries oor my lyf

             in my lyf

             tot in die onderste lae van my gees

             waar die son nooit kom nie

Dáár bevrug jy sonder vertoon

                     (Halopèrydol is daarvoor daar

                       of die naald in die poot van die Taradier)

wat lank  gebroei en gegis het

en eindelik versamel

in druppels van gekoelde wyn

tot gedig

 

Kliniek (66)

 

die vet visse wat onder in die vywer

tussen die slymerige wortels van waterlelies draal

hoor nie die vals gesing in die grys gebou

oor families wat vergeet

en gedokterde tee in die luny [sic] bin

 

Uit die joernaal van ’n sieke

 

hy het so lank geleef

met die weerklank van groot sale

dat die grootheid van sy eie stem

onverwags in ’n klein lokaal

betrap

hom skielik laat besef

             hy’s alleen

Kreatiwiteit word nie as ’n normale aktiwiteit deur die groter gemeenskap beskou nie. Skrywers, digters en kunstenaars word gereeld deur familielede of beterweterige vriende voor stok gekry omdat hulle nie ’n ‘normale’ beroep beoefen nie. Digters veral word nie beloon deur die publikasie-wêreld nie; daar is geen hoop om ’n Deon Meyer van die digkuns te word nie. Die groter publiek lees gewoon nie gedigte nie, ook ’n teken van hoe diep daar gediskrimineer word teen ‘hôgere’ literatuur. Persepsies bly dus vassteek en oorgedra van generasie tot generasie.

Digters word nie hoog aangeslaan in meeste lande nie (alhoewel Nederland en selfs Pole oor ’n veel groter of wyer leserspubliek besit, al is hulle sulke klein landjies. Selfs trokdrywers lees gedigte en luister na opera, iets wat in Suid-Afrika as snobisties-vervelig beskou word).

Digters soos Wilhelm Knobel moes die pot aan die kook hou met verskeie day jobs; hy  was onder andere lektor in Frans. Hy het egter later jare gesukkel om as aaneenlopende werker te funksioneer. Die beat digter Jack Kerouac was byvoorbeeld ’n fire lookout in die woud (dalk nie so ’n slegte werk nie alhoewel die betaling nie watwonders is nie) en Charles Bukowski moes vir jare by die poskantoor werk voordat hy voltyds kon skryf. Die druk om ’n voltydse werk te behou kan egter godsonmoontlik raak vir kreatiewe persone wat aan ’n ernstige gemoedsversteuring lei. Baie verwyt hulleself daaroor.

Meermale word hierdie druk na normaliteit ook deur die familie (David Cooper hoofuitgangspunt) gereflekteer: Wilhelm Knobel was van kindsbeen af uiters sensitief, maar hierdie sensitiwiteit is byna gewelddadig deur sy pa, wat ’n boer was, onderdruk. Die familie-konstellasie as mikro-kosmos staan veral uit wanneer dit kom by vormingsjare en Wilhelm is reeds as kind deur hierdie voorbeeld geleer dat sy kreatiwiteit en sensitiwiteit ook nie deur die makro-kosmos van die samelewing aanvaar gaan word nie.

Die ou debat van nature/nurture word natuurlik ook hier verteenwoordig. Dalk word daar deesdae te groot klem geplaas op bio-neurologiese oorsake wat met psigo-farmakologie begroet word. Vir sommige pasiente is dit ‘n absolute uitkoms, maar ander is weerstandig teen anti-depressante en skokterapie. Wat bly dus oor?

Die blog poog nie om wetenskaplike antwoorde te bied op hierdie terrein nie, maar ‘n moontlikheid of blik te bied op Afrikaanse digters wat oor hulle psigiatriese ervarings besin het. Ook blyk dit uit hierdie die handjievol Afrikaanse gedigte dat digters die ervaring van depressie en bipolêre versteuring reeds oopgeskryf het en dat hierdie ’n terrein is wat ’n lakuna laat vir verdere (inter-dissiplinêre) navorsing. Besondere aandag sou in so ’n blik geplaas kon word na die normaliteit wat van ’n digter verwag word deur die ouerhuis en gemeenskap.

Ek laat die laaste woord aan David Cooper oor (1967:20):

In the mental hospital, society has, with unerring skill, produced a social structure that in many respects reduplicates the maddening peculiarities of the patient’s family. In the mental hospital he finds psychiatrists, administrators, nurses, who are his veritable parents, brothers, and sisters, who play an interpersonal game which only too often resembles in the intricacies of its rules the game he failed in at home.

 

Bibliografie

Botha, A. 2012. pirouette. Kaapstad: Queillerie.

Cooper, D. 1967. Psychiatry and Anti-Psychiatry, Londen: Tavistock Publications.

Cooper, D. 1970. The Death of the Family.  New York: Vintage Books.

De Lange, J (ed.). 2011. As die woorde begin droom. ’n Keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel. Kaapstad: Bel Monté Uitgewers.

Goosen, J. 2007. elders aan diens. Parklands: Genugtig! Uitgewers.

Knobel, D. (ed.). 2005. Wilhelm Knobel: die ongewapende man. Van kindertyd tot sterwenstyd. Kaapstad: Bel Monté Uitgewers.

Kuhn, K. 2012. Ingeboek. Kaapstad: Griffel.

’n Insiggewende en roerende DVD wat lesers beslis moet oorweeg om aan te skaf: Living with Bipolar Disorder. (2009). Medihelp.

 

Onderhoud: Aniel Botha (Pirouette)

Wednesday, February 22nd, 2012

 

Aniel Botha gesels met Pieter Odendaal oor haar debuutbundel, Pirouette

Aniel Botha

Aniel Botha

Aniel Botha het ‘n B.Ed-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, en daarna ‘n MA in skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad. Tans werk sy as privaat tutor, en sy is ook gekwalifiseer as balletonderwyser.

Pirouette is haar eerste digbundel weaar die hospitaal-milieu van eetversteurings saamgebind word in ‘n besinning oor gebrokenheid, verwonding en psigiese kwelling.  Dit is ‘n bundel waarin ritme en metrum aansluit by die oorkoepelende dans-metaforiek om die lewe sterk beeldend vanuit ‘n dansersperspektief weer te gee. 

Haar boek ‘n Dans met die dood, oor haar ervarings in ‘n psigiatriese hospitaal se eetsteurnisafdeling, het in 2010 by Zebra Press verskyn.

Aniel woon in Durbanville en het in Kaapstad grootgeword.

  

Aniel, dankie vir die geleentheid om so ‘n bietjie met jou te gesels oor jou debuutbundel, pirouette, wat pas by Queillerie verskyn het. Die publikasie van pirouette volg op ‘n Dans met die dood: Joernaal van ‘n anoreksie-lyer (Zebra, 2010). Die gegewens waaroor jy in ‘n Dans met die dood skryf, het ook hul neerslag in jou debuutbundel gevind. Is die skryf van gedigte vir jou ‘n terapeutiese aktiwiteit? Indien wel, hoe verskil die helende moontlikhede van poësie van dié van nie-fiksie?

 

Alhoewel ek nie in die eerste plek om terapeutiese redes skryf nie, vind ek dat die skryfproses tog ‘n helende effek het. Wanneer ek iets op papier vaspen – en ook veral wanneer ek dit publiseer – is dit asof ek afstand doen daarvan. Die skryfproses dwing my ook om dieper in myself te delf en om baie eerlik te wees met myself. Dit is dikwels ‘n pynlike ervaring, maar ook een wat genesing bring.

Om nie-fiksie en poësie te skryf is natuurlik twee baie verskillende prosesse. Die skryf van poësie stel tegnies hoër eise, maar dit het die voordeel dat ‘n gedig nie outobiografies hoef te wees nie. In die vermenging van feit en fiksie vind ek ‘n mate van beskerming of verskansing. Ek voel effens minder blootgestel.

 

 

Die meeste gedigte in die bundel is as deel van ‘n meestersgraad in kreatiewe skryfkunde onder Joan Hambidge voltooi. Hoe tref jy ‘n balans tussen jou eie stem en die invloed van jou studieleier? Wanneer laat jy jouself deur jou intuïsie lei en wanneer luister jy maar na iemand wat meer ervare is?

 

Ek het nooit gevoel dat dit nodig was om ‘n balans tussen my eie stem en dié van my mentor te vind nie, want sy het nooit probeer om haar stem op my af te dwing nie. Inteendeel, prof. Hambidge het my aangemoedig en gehelp om juis my eie stem te vind en dit te ontwikkel. Ook het ek nooit gevoel dat dit nodig was om my intuïsie te onderdruk nie. Een van die belangrikste dinge wat ek in die kursus geleer het, was juis om meer in voeling te kom met my intuïsie en daaraan gehoor te gee, om as ‘t ware ‘n soort innerlike kompas te ontwikkel wat my rig tydens die digproses.

 

 

Jou gedigte getuig van sterk vormlike beheer en goeie afronding: daar kom byvoorbeeld villanelles, pantoens en ander vaste vorme in pirouette voor. Tot welke mate is hierdie gedigte uitvloeisels van skryfkunde oefeninge wat jy as deel van jou meestersgraad gedoen het?

 

Aan al hierdie vorme is ek blootgestel tydens die kursus en op daardie manier is hulle almal dus ‘n uitvloeisel daarvan. In die meeste gevalle was die vorm egter nie voorgeskryf nie – ek het dit gekies omdat ek gevoel het dat die gedig daarvoor vra. Ek dink nie dat ‘n mens ‘n gedig wat ‘n vrye vers wil wees in ‘n sonnet kan giet of van iets wat ‘n villanelle wil wees ‘n distigon kan maak nie. Dit sal eenvoudig nie werk nie.

 

 

Wat is, volgens jou, die voordele daaraan verbonde om jou kreatiewe speelveld met vormlike riglyne af te baken?

 

Ek glo dat vorm en inhoud ‘n eenheid moet wees. Die gedig moet die vorm dikteer, eerder as die vorm die gedig. Dus voel ek nie dat vormlike riglyne kreatiwiteit moet afbaken of inperk nie. Ek vind dit wel ‘n baie handige hulpmiddel om uitdrukking te gee aan kreatiwiteit en om kreatiewe denke te orden. Ek dink die neiging na vaste vorme kom vir my natuurlik omdat ek ‘n baie ordelike, gestruktureerde soort mens is en ook omdat ek baie jare van my lewe gewy het aan ballet – ‘n kunsvorm waar die konsep van vorm ‘n baie belangrike rol speel.

 

 

In die openingsgedig skryf jy: “Ek oefen my pirouettes / in stilte – die ritme / lankal op my lyf geëts” (9). Jy’t ‘n goeie oor vir ritme, iets wat jy sekerlik deur jare se dans verfyn het? Hoe dink jy het ballet jou digterskap beïnvloed? Watter vaardighede/maniere van dink, indien enige, het  jy van die studio na die bladsy getransponeer?

 

Daar is beslis baie ooreenkomste tussen ballet en digkuns. Ek sal selfs sover gaan om te sê dat die skryf van gedigte ‘n dans met woorde is, terwyl ballet “poetry in motion” is. Daar is natuurlik die feit dat konsepte soos ritme, vorm en musikaliteit ‘n belangrike rol in beide kunsvorme speel, maar waarskynlik is die waardevolste vaardigheid wat ek van die dansstudio na die bladsy kon transponeer, die vermoë om met ysere dissipline te werk. Nie dans of dig kom vir my maklik of natuurlik nie en in beide gevalle is dit harde werk en toewyding wat my gebring het tot waar ek gekom het.

 

 

Baie van jou gedigte is geskoei op die gelykstelling van een ding aan ‘n ander: die eetversteuring as voorskrif (14), die brein as maag (23) en malhuis (36), Weigh Less as godsdiens (24) en die spreker as Mona Lisa (42), as gebreekte Noritake-bord (15). Ek wonder oor hoe jou gedigte tot stand kom: begin jy gewoonlik met ‘n gelykstelling, waarna jy die skryfdaad gebruik om sistematies deur die gelykstelling te dink, of is die proses meer organies?

 

Ek het ongelukkig nie ‘n bepaalde resep of formule waarvolgens ek werk nie. Elke gedig gebeur maar op sy eie unieke wyse. Soms begin ek met ‘n beeld wat ek dan sistematies uitwerk soos ‘n wiskundige probleem; ander kere is dit weer asof die gedig bykans homself skryf. Soms word ek geïnspireer deur ‘n visuele beeld, soms deur ‘n reël uit ‘n liedjie of ‘n boek of iets wat ek iemand hoor sê het. Maar, hoe ookal die gedig ontstaan, keer ek altyd later daarna terug om te skaaf en te herskryf. Ek sou sê die grootste deel van my skryfproses bestaan waarskynlik uit herskrywing.

 

 

Hoe het jy te werk gegaan om die bundel aanmekaar te stik? Het jy berekend nuwe verse bygeskryf volgens sekere motiewe wat jy vooraf geïdentifiseer het, of het jy later reeds-geskrewe gedigte tematies saamgegroepeer?

 

Ek het eers die gedigte geskryf en hulle later gegroepeer (en verskeie kere gehergroepeer) om ‘n samehangende geheel te vorm.

 

 

Watter digters het jy gelees tydens die komponering van die bundel; watter stemme sou jy sê het jou die sterkste beïnvloed en op watter manier?

 

Jy het reeds genoem dat die meeste van die gedigte ontstaan het tydens ‘n kursus in kreatiewe skryfkunde. Gedurende hierdie kursus is ek blootgestel aan ‘n wye verskeidenheid digters en by elkeen het ek iets anders geleer, maar op die ou einde is dit die gedigte eerder as die digters wat my bybly. As ek enkele gedigte moes uitsonder, sou ek onder meer D.J. Opperman se “Draaikewers” kies. Ek het die grootste bewondering en respek vir die ongelooflike tegniese vernuf wat hierdie oënskynlik “eenvoudige” gedig onderskraag. Sylvia Plath se “Daddy” is nog ‘n gedig wat vir my hoendervleis gee. By hierdie digter, sowel as by Anne Sexton, vind ek tematies heelwat aanklank. Nog ‘n pragtige gedig vir my is Jeanne Goosen se “Irmgard dans”. Haar werk het ‘n element van waansin waarvan ek hou.

 

 

Het jy ‘n soort ars poëtika wat vir jou as ‘n rigtingwyser dien wanneer jy dig?

 

Wanneer jy praat van ars poëtika, dink ek onmiddellik aan Archibald MacLeash se bekende reëls: “A poem should not mean, but be.” Dit het vir my ‘n soort persoonlike mantra geword.

 

 

Hoe het dit gebeur dat jy begin skryf het, en sien jy dit as ‘n lang-termyn love affair?

 

Ek vind dit van kleins af makliker om myself in die geskrewe woord eerder as in die gesproke woord uit te druk. Ek dink dit is omdat ek nogal skaam is. Ook vind ek dit makliker om in my verbeelding te lewe as in die regte wêreld; so kreatiewe skryfkunde was ‘n redelik logiese keuse. Waarom digkuns en nie prosa nie, is ek self nie seker nie. Ek dink die digkuns het my gekies eerder as wat ek die digkuns gekies het. En ja, ek hoop dat dit ‘n langtermyn love affair gaan wees.

 

 

Watter gedagtes maal deur jou kop noudat die bundel afgehandel is? Is daar enige tekens van post-partum depressie?

 

Nee wat, eintlik is dit heel bevrydend. Nou is die gedigte nie meer myne om oor te tob of te wroeg nie. Hulle is die leser s’n en die leser kan daarmee maak wat hy of sy wil. Natuurlik voel ek effens blootgestel, maar hoofsaaklik is ek net dankbaar vir die geleentheid wat ek gekry het om my werk te publiseer.

 

 

Ter afsluiting, wil jy nie een van jou gunsteling gedigte uit die bundel hier aanhaal nie?

 

Krismis

 

Oupa klink nóg ‘n glasie

om sy oorwinning in die stryd

teen alkoholisme te vier.                                                                                                                     

Sy vrou, die wrede stiefouma, gesels

met ‘n goeie dosis snobisme

oor háár kleinkinders se intellektualisme.

Pa doen die tafelgebed met sy beste

ouderlingstem, geoefende balans

van vroomheid en sinisme –

dominee sou ‘n ding of twee kon leer.

Ma staar na die gekraakte muur

vol leë beloftes van skilderye

en beter dae, skryf die naakte

waarheid af as minimalisme.

Niks hiervan pla my broer nie –

hy glo hy glo aan niks meer nie

(die kulkuns van ateïsme).

Ongestoord kou hy sy vis en tjips,

spoeg tussendeur grate

en anglisismes uit.

 

Ek hou hulle dop, my familie van -ismes.

Dank die Heer dis net een keer ‘n jaar Krismis.