Posts Tagged ‘Pirouette’

Marlies Taljard: Inwaarts en immer opwaarts

Sunday, June 24th, 2018

Geleidelike fisieke en geestelike aftakeling is een van die belangrikste temas in Aniel Botha se bundel pirouette (2012). Kyk ‘n mens na die inhoudsopgawe en motto van die bundel, kan daaruit reeds ‘n minimale strorie geabstraheer word:

  • Afdeling I: Brisé. Dié term beteken letterlik “breek”. In klassieke ballet is dit die term vir ‘n klein battu waarin die bene in die lug teen mekaar “gekap” word. In die balletstudio word ook daarna verwys as beaten step of broken step.
  • Afdeling II: Échappé. Letterlik vertaal beteken dit ontsnapping, in Engels escaping. Gaan kyk gerus op die internet hoe hierdie passie in klassieke ballet uitgevoer word.
  • Afdeling III: Corps de ballet. Hierdie term verwys na die groep dansers wat nie hoofrolle dans nie. Ook die “familie” wat deel is van ‘n bepaalde vertoning.
  • Afdeling IV: Sans révérence. Dit is die laaste buiging wanneer die balletles verby is of wanneer die dansers na die vertoning applous ontvang.
  • Die mottogedig lees soos volg:

 

Ek oefen my pirouette

in stilte – die ritme

lankal op my lyf geëts.

Die draai is en dedans:

inwaarts en immer opwaarts.

Die bestemming van die lang

reis is steeds onbekend,

maar ek bly al tollend hoop

op ‘n grasieuse end.

 

Die pirouette kan met reg die keurstempel van klassieke ballet – en inderdaad van die meeste danse – genoem word. Dit verwys na die spin- of tolbeweging op een voet. In klassieke ballet is daar twee soorte pirouettes, naamlik pirouette en dehors en pirouette en dedans. Eersgenoemde verwys na die spin in die rigting van die been waarop die danser draai, ‘n spin na buite. Laasgenoemde is een van die mees gehate bewegings in ballet wat baie moeilik is om uit te voer. Dit behels ‘n spin in die teenoorgestelde rigting van die been waarop die danser spin – dus ‘n spin na binne. In die studio word dikwels daarna verwys as inside pirouette. Ten einde ‘n goeie pirouette en dedans te kan uitvoer, moet die danser die idee kry dat sy gelyktydig in die rondte én na bo tol. Word die beweging verkeerd uitgevoer, kan dit beteken dat die danser skielik en lomp in die middel van die pirouette moet eindig en selfs kan val. Wat in hierdie gedig ook opval, is die klem op liggaamlikheid en selfs blywende littekens of verwonding (“ets”). Ook die woord “reis” is veelseggend en wys heen na tydsverloop, iets wat met verloop van tyd gebeur.

Sonder om die bundel te lees, kan die leser (veral dié leser wat agtergrondskennis van professionele dans het) ‘n idee vorm van die strekking van hierdie bundel.

Neem in ag dat dit ‘n bekende feit is dat balletdansers se risiko om anorexia nervosa te kry, driemaal hoër is as by die res van die bevolking – volgens navorsing wat deur Arcellus, Witcomb en Mitchell oor ‘n tydperk van meer as ‘n dekade in Europa onderneem is. Ook is dit nie vreemd dat ballerinas, as gevolg van eetversteurings, reeds vroeg in hulle twintigerjare osteoporose kry en nooit in staat is om kinders te kry nie.

In ‘n onderhoud wat op die internet verskyn, erken Mariafrancesca Garritano van die La Scala Ballet:

Sadly this is a phenomenon that affects the whole of the ballet world but is very rarely discussed – it’s as if there is a Mafia code of omerta (silence) that rules over us and … it must never be broken.

Dancers are having their bodies taken to the limit by teachers and theatre directors who are demanding that the dancers have the perfect body and as such this is a sore that needs to be treated.

For eighteen months I did not have my period and even know [sic!] I suffer from intestinal problems which I am sure are all connected to my experiences as a teenager. Lots of dancers I know cannot conceive because of the problems they had with anorexia.

It is not unusual to hear ballerinas talk of how they had two crackers for breakfast, a yoghurt for lunch and an apple for dinner just to make sure they can fit into their tutus. I know dancers who would compete against each other to see how little they could eat which is lunacy.

Saamgelees met die bostaande inligting, lyk dit asof ʼn proses van geleidelike aftakeling van die sprekende ek (die danser) in die bundel pirouette beskryf word, veral as ʼn mens hiermee saam kyk na gedigtitels. In die eerste afdeling, Brisé, wat “breek” beteken, kom gedigte voor soos “Aan skerwe”, “Game over”, “Wond” en “Rooi skoene” (wat nie slegs verwys na die kleur van die skoen nie, maar ook die feit suggereer dat balletskoene na ʼn vertoning dikwels vol bloed is). Vyf gedigte in hierdie afdeling verwys pertinent na emosionele versteurings wat met anorexia nervosa in verband staan, naamlik “Maaltyd”, “Weigh Less”, “Insomnia”, “Stikland” en “Inrigting”.

In die tweede afdeling, Échappé, wat na ontsnapping verwys, staan drie gedigte wat na balletbewegings verwys, naamlik twee nautilus-gedigte (die spiraalskulp wat die pirouette immiteer) en “En pointe”. Hierdie titels suggereer dalk dat dans vir die digter ʼn wyse van ontsnapping (uit die alledaagse situasie) is. Wat egter interessant is, is die eerste twee gedigte in die afdeling wat na mitiese vrouefigure verwys en in verband gebring kan word met die gedigte wat na emosionele onstabiliteit verwys in die vorige afdeling. Clarissa Pinkola Estés bespreek in haar bekende boek “Women who run with the wolves” die La Loba- en Vasalisa-figure as argetipes van die kollektiewe onbewuste. Eersgenoemde is die wolfvrou – sy wat die dooie beendere weer tot lewe oproep, die wyse ou vrou. Ook Vasalisa is ʼn wyse vrou, iemand wat in kontak is met haar intuïsie (in my volgende blog sal ek hierdie gedigte in meer besonderhede bespreek).

In die derde afdeling, Corps de ballet, kom familiegedigte voor en word die invloed van die siek balletdanser op haar wyer familiekring gesuggereer. Gedigte soos “Jy raam en hang my”, “Ná vyf-en-twintig jaar”, “Keelvol”, “Afsterf van ʼn broer” en “Aniela” is hier van belang.

Die laaste afdeling, Sans révérence, lyk met die eerste oogopslag na ʼn “finale” van ʼn balletloopbaan, veral as gedigte soos “In my donkerste nagmerrie”, “Grys, gryser, blind”, “Negende sirkel”, “Die dood dra toe geen sekel nie” en “Sans révérence” in aanmerking geneem word. My insig is egter (nog voordat die bundel gelees en ontleed is) dat simbole van dood en donker nie noodwendig letterlik opgeneem moet word nie. Kyk ʼn mens na gedigtitels soos “Rooikappie en die wolf” en “Alice in Wonderland” kry dié gedigte metaforiese betekenis. Die twee genoemde verhale is naamlik albei bekende inisiasierites waarin die ou self “sterf” voordat die “nuwe self” – soos ʼn slang wat vervel – uit die “ou self” gebore word. Gedigtitels soos dié hou heel waarskynlik verband met die ʼn reis “in die self in”, ʼn reis na selfkennis en -insig. Gelees in dié konteks verwys ʼn gedig soos “Sans révérence” dan dalk na ʼn laaste buiging in die rigting van ʼn uitgediende identiteit en ʼn knik in die rigting van ʼn nuwe “ek”.

In ʼn opvolgblog sal ek enkele gedigte uit hierdie interessante bundel bespreek aan die hand van die “vermoedens” wat na die lees van die voorwerk van die bundel ontstaan het.

Digstring: Aniel Botha. Rooikappie en die wolf

Tuesday, May 15th, 2012

Rooikappie en die wolf

 

Toe ek vir oulaas gaan totsiens sê,

was dit ‘n vreemdeling wat gelê

 

het in Ouma se bed. In plaas van

rose het sy geruik na bedpan,

 

kanker en hospitaal. Haar sagte

Ouma-lyf ‘n sakkie bene,

 

in die plek van haar witgrys-perm net

spinnerakdraadjies. Die blink het

 

soos trane gestort uit haar oë.

En wanneer het Ouma se lag so

 

kléin geword? Ek het haar liggies op

die voorkop gesoen, buite geskop

 

aan die sypaadjierand: nie oor dood,

maar teen lewe wat vreet in haar skoot.

 

(c) Aniel Botha (Uit: pirouette, 2012: Queillerie)

***

Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Ek het dit drie of vier jaar gelede geskryf terwyl ek besig was om ‘n graad in kreatiewe skryfwerk te voltooi. Die gedig het ontstaan in reaksie op my ouma se siekbed wat ek as baie traumaties ervaar het. Dit is egter eers lank ná my ouma se siekte geskryf. Die Rooikappie-beeld is waarskynlik te danke aan die feit dat ek tydens die skryf van die gedig ‘n Grondslagfase-onderwyseres was.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Hierdie was een van my vroeë pogings en dit is etlike kere herskryf.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Die gegewe was alles daar vir my om mee te werk. Die harde werk was om die kolle te verbind.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Die gebruik van die distigon het my gehelp om die inhoud te struktureer.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ja, ek het die gedig gedeel met Professor Joan Hambidge en my mede-studente aan die Universiteit van Kaapstad. Hulle kommentaar was baie waardevol.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Die vers is omtrent drie of vier jaar nadat ek dit geskryf het in my bundel Pirouette opgeneem.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Hierdie spesifieke vers is hoofsaaklik op feite gebaseer.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Oor siekte en die dood. En oor die onvermoë om dit te verwerk.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Die storie van Rooikappie en die Wolf, uit die aard van die saak.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Nee.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Wat tema en styl betref, stem die gedig eintlik baie met my ander verse ooreen.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee, siekte en die dood is universele verskynsels en die storie van Rooikappie is ook nie eie aan Suid-Afrika nie.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek besef dat geen gedig ooit perfek sal wees nie, maar ek is tevrede met hierdie een se imperfeksies.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ja, ek weet van ten minste een persoon vir wie die vers iets beteken het en dit is vir my meer as genoeg.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ek het dit genadiglik vergeet.

 

(c) Aniel Botha

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.