Posts Tagged ‘Pirow Bekker’

Dis tyd om opgewonde te begin raak …

Wednesday, October 7th, 2009
Die program

Die program

Dit is met bruisende (en dankbare) vreugde wat ons vanoggend die program vir vanjaar se Versindaba kan bekend maak. Dié fees, wat op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater by Stellenbosch gaan plaasvind, volg weer die beproefde formaat van 4 sessies van drie ure elk. Die twee aandsessies fokus oudergewoonte op poësie saam met aanvullende musiekitems, terwyl die twee dagsessies, wat in die Oude Libertas Auditorium sal plaasvind, weer met op paneelbesprekings, lesings en onderhoude konsentreer.

Vanjaar is daar nie minder nie as 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees nie. Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga. Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hulle verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.

Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ‘n kunsuitstalling in die Oude Libertas Auditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder. Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden. Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Hierdie besonderse uitstalling open amptelik op Vrydag, 27 November, om 17:00.

Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking Met woord & kwas, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ‘n uitstalling, en die spesiale voordragprogram Geskilderde woorde deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellerman.

‘n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Scola Cantorum Kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer. Nog musiekitems wat die aandag gaan trek, is beslis David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach se gedigte waarmee die fees weer afsluit. Tussendeur is daar ook nog Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is.

Inderdaad ‘n fees om oor opgewonde te raak. Altans, so hoop ons. Volg gerus die skakel op die tuisblad vir die volledige program en begin solank planne maak om teenwoordig te wees … Dit gaan immers ‘n grote wees, dié ene. En moenie vergeet om hier te gaan kyk wie almal hierdie besonderse geleentheid met hul finansiële ondersteuning moontlik maak nie. Dankie, dankie, dankie.

***

En die MAN Booker-prys? Nou ja, sy was die beroepswenners se gunsteling, sy was die lesers se gunsteling en gisteraand was sy ook die vyf beoordelaars se gunsteling: Hilary Mantel met haar lywige Tudor-sage, Wolf Hall. “Our decision was based on the sheer bigness of the book, the boldness of its narrative and scene-setting, the gleam that there is in its detail,” het Jim Naughtie, sameroeper van die paneel beoordelaars gisteraand tydens die prysoorhandiging gesê. En Hilary Mantel se reaksie?  ”If winning the Booker Prize was like being in a train crash, at this moment I am happily flying through the air.” Die prysgeld beloop £50,000, gepaardgaande natuurlik met ‘n massiewe sprong in boekverkope wêreldwyd. Lees The Guardian se volledige berig hier.

Ten slotte vestig ek graag jou aandag op Desmond Painter se nuwe blog-inskrywing wat ‘n verdere reaksie is op die kwessie van poësie vs politiek; die gedig van WH Auden wat Desmond ter illustrasie aanhaal, is eweneens ‘n móét lees.

Geniet dit en hê ‘n jubilante dag hier in die middel van die week.

Mooi bly.

LE

Johann Lodewyk Marais. Van eenhorings gepraat

Sunday, August 30th, 2009

Lank, lank gelede was ek een aand teenwoordig by ‘n funksie aan die Universiteit van Pretoria, wat aangebied is na afloop van die oorhandiging van die pryse aan die studente wat in die jaarlikse skryfkompetisie as wenners in die drie hoofkategorieë aangewys is. 

Nadat die toesprake afgehandel is, het ons gesellig om die tafels met vingerhappies verkeer en vir ons wyn en ander drinkgoed geskink. Tussen die studente, wat al hoe luidrugtiger geword het, was die gestaltes van ‘n hele paar skrywers sigbaar: H.J. Pieterse, wat kort-kort ‘n glasie hanepoot wegslaan. Pirow Bekker, iewers onder sy bont pet. Joan Hambidge, wat ‘n lesing oor die postmodernisme kom aanbied het, en wat ek bo die geroesemoes van stemme hoor lag. Alexander Strachan, wat oral hand gee, sy hemp onder sy lang, donker jas laag oor sy borshare oopgeknoop.

Tussendeur wens ons die wenners geluk en poseer vir De Kat se fotograaf.

En skielik, tussen al die ander deur, kom daar ‘n student na my toe en sy sê:

“U het na Fransi Phillips verwys toe u gepraat het van die skrywers wat aan hierdie universiteit gestudeer het. Waar is sy?”

“Hoe bedoel u?” vra ek.

“Waar kan ek haar in die hande kry?”

“Hoekom?”

“Sy is die enigste Afrikaanse skrywer wat ek lees, want sy glo aan unicorns.”

Toe soek ek om my rond, want Fransi was vroeër die aand onder die gaste wat geduldig geluister het. Loop ‘n slag heen en weer om te kyk of ek haar nie kan opspoor nie.

“Juffrou, sy was netnou nog hier,” sê ek en kyk weer rond, maar toe het sy al verdwyn.

En Melanie Grobler kom vertel aan my dat daar glo so baie kremetartbome in Afrika is omdat gestorwenes altyd met ‘n pit in die hand begrawe word.

Toe ek ’n paar dae later by Fransi die boek getiteld Magical beasts gaan haal het en haar van die student vertel, het sy lakonies opgemerk: “‘n Mens soek verniet na die eenhoring.”

Voor ek daar weg is, het sy my in ‘n ander boek ‘n kaart gewys waarop presies aangedui word waar drake in Europa voorgekom het.

Dit was juis Fransi Phillips wat my nog in ons studentedae daarvan bewus gemaak het dat daar ‘n plek is vir bespiegeling oor die fantastiese. Hoe ons ons in talle gesprekke daaroor uitgespreek het, kan ek net vaagweg onthou, en hoe meer ‘n mens oor die fantastiese nadink, hoe onsekerder is jy van wat die aard daarvan nou eintlik is.

Die spoor van die eenhoring loop reeds voor die begin van ons jaartelling deur Oosterse en Midde-Oosterse literatuur. Gedurende die Middeleeue het hy sy afdruk in boeke, op kunswerke en in die Christelike simboliek gelaat. Vroeë reisigers deur die Suid-Afrikaanse binneland het opnuut die spoor van oorlewering, gerugte en rotstekeninge opgeneem op soek na die dier waarvan die verband tussen teken en betekende steeds onseker was. Maar soos wat die landskap verder verken is, het die eenhoring telkens agter ‘n nuwe horison verdwyn. Hy maak egter ‘n onverwagse herverskyning in die streke van die Afrikaanse letterkunde van die laat-twintigste eeu in die werk van onder andere D.J. Opperman, N.P. van Wyk Louw, Jacques Loots, George Weideman, Barend J. Toerien, Wilma Stockenström, Johann Lodewyk Marais, Karel Prinsloo en Martjie Bosman. (Ek en Martjie het ‘n artikel oor hierdie gedigte geskryf.) Die vraag kan egter gestel word of die eietydse leser die eenhoring buite die bladsye van ‘n boek sal herken.

Johann Lodewyk Marais. SENSAL se teleurgang

Sunday, July 5th, 2009

Hoe lyk die situasie in Suid-Afrika ten opsigte van erfenisbewaring (en dus ook die bewaring van bronne vir die bestudering van die Afrikaanse poёsie)? Ek wil enkele fasette aanraak in die lig van my eie ervaring by die destydse Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) waar ek van 1983 tot 1990 ’n navorser was. Die rede daarvoor is dat daar tot dusver min gedoen is om ’n bestekopname te maak van SENSAL se rol veral gedurende die 1980’s, en om sekere fasette van die instelling se bestaan krities te beskou.

 

Toe SENSAL in 1981 met dr. Charles Malan as hoof tot stand gekom het, het die Sentrum weliswaar ’n voorloper gehad. Dit was die Dokumentasiesentrum vir Afrikaans, wat in 1970 binne die Instituut vir Taal, Lettere en Kuns onder leiding van prof. P.J. Nienaber geskep is en hoofde soos drr. P.G. du Plessis en Pirow Bekker aan die roer gehad het. Prof. Nienaber se privaat versameling Afrikaanse boeke het aanvanklik die ruggraat van die Instituut gevorm, terwyl hy ook ’n Bibliografie van Afrikaanse boeke en ’n Bronnegids by die studie van die Afrikaanse taal en letterkunde opgestel het om die wêreld van die Afrikaanse boek te karteer. Prof. Nienaber het egter groter planne gehad en NALN in 1973 in die hartjie van Bloemfontein tot stand gebring om as museum met uitstalruimte en as navorsingsentrum vir die Afrikaanse letterkunde te dien.

 

Veral onder dr. Du Plessis se leiding het die Instituut vir Taal, Lettere en Kuns ’n redelike profiel as bewaringsinstelling vir die Afrikaanse literatuur gehad. Sedert die stigting van SENSAL onder dr. Malan het die navorsingsprofiel egter enorm vergroot en is geywer om ’n leidende inset te lewer tot die stimulering en koördinering (’n geliefde SENSAL-oriëntasie waarvoor iemand soos prof. Merwe Scholtz geen ooghare gehad het nie) van veral literêrsosiologiese navorsing oor die Suid-Afrikaanse literature. Waar SENSAL nie self oor die kapasiteit beskik het om hierdie navorsing te doen nie, is van kundiges buite die Sentrum gebruik gemaak. ’n Ambisieuse én suksesvolle uitvloeisel van hierdie inset was die reeks van ses literêre jaaroorsigte, getiteld SA literature/literatuur, saamgestel deur dr. Francis Galloway.

 

Benewens vir literêrsosiologiese navorsing is ook ruimte geskep vir die bestudering van progressiewe Sestigerskrywers soos Etienne Leroux, Bartho Smit en Breyten Breytenbach. Gedurende hierdie jare was daar byvoorbeeld publikasies oor die esoteriese Leroux, waaraan ’n hand vol “uitgelese kenners” eksklusief meegewerk het, wat tot die hemelhoë kanonisering van dié skrywer se werk gedurende die 1980’s bygedra het. (Toe die Universiteit van die Vrystaat enkele jare gelede ’n seminaar oor Leroux aangebied het, is die vraag gestel of hy intussen vergete geraak het.)

 

Op 1 Oktober 1990 het SENSAL ophou bestaan en ’n jaar later is die dokumentasie wat intussen in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Kunste-inligting bewaar is na die Staatsargief oorgeplaas, waar dit sedertdien geen verdere aandag gekry het nie. In hierdie tyd het formele navorsing oor die Suid-Afrikaanse letterkunde en die befondsing daarvoor in die RGN tot ’n einde gekom. Die einde van SENSAL, waaroor géén literêre haan gekraai het nie, het gekom toe dr. Tjaart van der Walt president van die RGN was en die organisasie te midde van snelle politieke hervorming en die meegaande navorsingstendensies ’n dramatiese koersaanpassing gemaak het.

 

Van die ideale tydens die RGN se herstrukturering was om groter legitimiteit te verkry (in daardie jare bykans ’n onbereikbare ideaal) deur navorsing te doen wat deur kliënte van buite befonds word. Terloops, indien genoeg geld vir letterkundige navorsing van buite die RGN beskikbaar was, sou dit moontlik gewees het om hierdie navorsing voort te sit. Weliswaar sou kunstenavorsing wat nie ’n sterk dimensie van gemeenskapsbetrokkenheid gehad het nie (iets soos dr. Gerard Hagg se kunstesentrums) voortaan met groot wantroue bejeën word.

 

Hierdie agtergrond is myns insiens belangrik wanneer na besluite gekyk word wat by SENSAL (en die RGN) ten opsigte van erfenisbewaring geneem is. In die lig van die groot klem wat op navorsing van ’n literêrsosiologiese aard gelê is, het SENSAL gou afskeid geneem van ’n navorser soos me. Rothea Olivier (iemand wat vergelykbaar is met NALN se me. Erika Terblanche), wat vir die aanwins en hantering van die dokumenteversameling verantwoordelik was. Me. Olivier (1983) se verhandeling oor onder andere die skryfster M.E.R. (onder studieleiding van prof. Elize Botha) en haar boek oor Jochem van Bruggen is as uit pas met die nuwe rigting in SENSAL beskou, terwyl die oorblywende deel van die Nienaber-boekery as van min waarde beskou is.

 

Gedurende my tyd is min navorsing oor die dokumente in SENSAL se besit gedoen en skenkings (soos dié van Bartho Smit, Henk Rall en Koos Prinsloo) kon nie meer tot hulle reg kom nie. Buite SENSAL is min opleiding aan studente gegee om hulle voor te berei om argivale navorsing te doen en talle verhandelings en proefskrifte is gekenmerk deur blootstelling aan nuwe teoretiese benaderings (onthou dit was ’n era van paradigmawisseling) en pogings om dit op aanvaarbare tydgenootlike skrywers se werk “toe te pas”. Dat figure soos proff. Nienaber en Jacques P. Malan (laasgenoemde die hoofredakteur van die vierdelige Suid-Afrikaanse Musiekensiklopedie) minder aanvaarbaar geword het en mettertyd binne die RGN as dinosourusse uit die verlede beskou is, was ’n logiese gevolg van hierdie aanpassings.

 

Boeke met Nienaber se ex libris voorin en Africana-boeke wat kort vantevore nog onder spesiale omstandighede bewaar is, het mettertyd vir R1 stuk op die RGN se uitverkopingstafel beland. Dit wat ons in Karel Schoeman se Afskeid en vertrek (1990) en Ingrid Winterbach se Die boek van toeval en toeverlaat (2006) oor die devaluasie van biblioteekversamelings gelees het, het in die wêreld daarbuite gestalte gevind. Dit wat binne enkele dekades tot stand gebring is, is “laat sterf”, om J.C. Steyn se woorde in die gedig “Vrede” in Die grammatika van liefhê (1975) te gebruik. Dit is beslis nie net die nuwe regering wat vir hierdie tendens verantwoordelik was nie.