Posts Tagged ‘Plagiaat’

Hein Viljoen. Hersiene lemma (Plagiaat) op LTT

Friday, May 25th, 2018

Wat is plagiaat? Die pas hersiene lemma deur Ronél Johl daaroor in Literêre terme en teorieë (LTT) gee ‘n prikkelende ander kyk daarop en bevraagteken onder andere die metafoor van diefstal. Johl skryf ook:

“Die geskiedenis van die moderne literêre gebruik van die term wys dat dit sedert die agtiende eeu selektief in die kritiek aangewend word om groot skrywers se kreatiwiteit en oorspronklikheid aan te prys en mindere skrywers tot die vergetelheid te relegeer.”

Lees verder by

http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/33-p/1574-plagiaat-2.

Literêre terme en teorieë, ‘n omvattende ensiklopedie van literêre terme in Afrikaans onder redaksie van T T Cloete, het in 1992 by HAUM-Literêr verskyn. Dit is lankal uit druk, maar ons het dit  vanaf 2009 gedigitaliseer en dit is sedert 2015 gratis aanlyn beskikbaar by www.litterm.co.za. Die teks van die 2007-uitgawe van Van Gorp et al. se Lexicon van literaire termen maak, met die goedgunstige toestemming van die  outeurs, deel uit van LTT aanlyn. LTT is daarom ‘n onskatbare bron van literêre kennis en literêre begrippe in Afrikaans (en ook in Nederlands).

LTT word tans hersien en bygewerk danksy ‘n ruim finansiële toekenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Plagiaat is die jongste hersiene lemma wat geplaas word.

Kommentaar op Plagiaat en op LTT in die algemeen is welkom. Ek is veral op soek na medewerkers vir die verdere bywerking van LTT. As jy ‘n goeie stuk oor ‘n belangrike literêre begrip êrens in jou rekenaar (of laai) het, laat my weet. Dan kan ons dit vir LTT oorweeg. Ek kan ook vir jou ‘n lys van lemmas stuur waarvoor ons nog skrywers soek.

Hein Viljoen

hein.viljoen@nwu.ac.za

LTT webadres: http://www.litterm.co.za/index.php

 

Johann Lodewyk Marais. ‘n Leerskool vir skrywers

Tuesday, September 1st, 2009

I

Die digter W.H. Auden (1907–1973), wat as professor in poësie aan die Universiteit van Oxford die opdrag gehad het om opleiding in skeppende skryfwerk aan te bied, het by geleentheid ‘n leerplan voorgestel vir die aspirantdigters aan sy “Daydream College for Bards” (oftewel sy ideale Leerskool vir Digters): Die leerplan het iets oorgedra van die geskakeerdheid wat met opleiding in skeppende skryfwerk gepaard kan gaan:

1)         In addition to English, at least one ancient language, probably Greek or Hebrew, and two modern languages would be required.

2)         Thousands of lines of poetry in these languages would be learned by heart.

3)         The library would contain no books of literary criticism, and the only critical exercise required of students would be the writing of parodies.

4)         Courses in prosody, rhetoric and comparative philology would be required of all students, and every student would have to select three courses out of courses in mathematics, natural history, geology, meteorology, archaeology, mythology, liturgics, cooking.

5)         Every student would be required to look after a domestic animal and cultivate a garden plot.

Oor die sukses wat Auden met hierdie veeleisende kursus sou gehad het, kan baie bespiegel word. Die vraag bly egter: Kan ‘n skrywer opgelei word?

Hierdie vraag duik meermale op wanneer opleiding in skeppende skryfwerk ter sprake kom, en spruit waarskynlik uit ‘n onderliggende opvatting dat die vermoё om ‘n skrywer te word as ‘t ware geneties vasgelê moet wees en eintlik nie aangeleer kan word nie. Wat natuurlik enigsins vreemd is, is dat dieselfde vraag nie noodwendig gevra word oor die opleiding van skilders, beeldhouers, komponiste, musici en balletdansers nie.

Wat is dan nou so uniek aan ‘n skrywer? Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), wat op byna elke Afrikaanse skrywer se lessenaar lê (of behoort te lê!), verklaar die lemma “skrywer” soos volg:

1. Persoon wat skryf: ‘n Vinnige skrywer. 2. Persoon wat ‘n bepaalde stuk, brief geskryf het: Die skrywer van hierdie brief. 3. Persoon wat boeke, artikels, gedigte, ens. vir publikasie skryf; outeur: ‘n Veelsydige outeur. 9 …). 4. Werk van ‘n outeur: ‘n Skrywer bestudeer.

Hierdie lemma laat vermoed dat daar meer oor “skrywer” gesê kan word as die algemene siening wat in die verklaring vervat is. Die verklaring dui ook nie aan dat ‘n skrywer as uniek beskou word, of oor unieke talent moet beskik om te kan skryf nie. En tog het die opvatting dat ‘n skrywer nie “gemaak” kan word nie tot betreklik onlangs, toe skryfskole as ‘t ware soos paddastoele opgeskiet het, bestaan. Heelparty mense huldig steeds die opvatting dat skrywers se werke bestudeer kan word, maar dit word nie as gerade beskou om opleiding aan te bied oor hóé om te skryf nie.

Daar kan verskeie redes aangevoer word vir die feit dat daar so lank onvoldoende aandag aan die opleiding van skrywers bestee is. Een van die redes sou wees dat die besit van letterkundige werke vir ‘n groot deel van die breё publiek nie dieselfde prestigewaarde het as byvoorbeeld die besit van kunswerke, of die bywoning van musiek- of balletuitvoerings nie. Daarom word ‘n belegging in die letterkunde ook nie geredelik gemaak nie en kan ‘n mens met reg kla oor mense nie meer boeke koop en lees nie. My ervaring in ‘n heeltemal ander verband is dat mense se min toewyding aan lees direk aan die lae geletterdheidvlakke in die land en die swak kennis van tale toegeskryf moet word.

Nou is dit so dat baie mense die behoefte ervaar om te skryf, maar nie weet wat en hoe nie. By sulke mense is daar dikwels onsekerheid oor die mate waarin hulle “talent het”, “meriete toon” en hulle skryfwerk “publiseerbaar” kan wees. D.J. Opperman, baanbreker van opleiding in skeppende skryfwerk in sowel die Afrikaanse as die Suid-Afrikaanse letterkunde, onder meer vanweё die Letterkundige Laboratorium wat hy in 1960 aan die Universiteit van Stellenbosch begin het, het hierdie onsekerheid van sommige universiteitstudente soos volg verwoord:

“Wat word van die jong skeppende genie wat eensaam op die kampus ronddwaal en geen raad met sy talent weet nie? Hy vir wie dit hoofsaak in die lewe is: Is die jambe uitgedien? Sy gawe geniet geen akademiese erkenning of leiding nie, dit is geen studievak nie. Later, as hy eers gebundel het, word sy werk wel bestudeer. Daarop word punte en grade verwerf, maar hy …? Êrens is daar iets skeefs.”

By Opperman se “jong skeppende genie” moet ‘n mens ook voeg: die middeljarige man wat lank reeds net vir die laai skryf, die vrou wat half toevallig ontdek dat sy skryftalent het en die standerd 8-leerling op die platteland wat by ‘n bekende skrywer of uitgewer om raad aanklop. Geslagte aspirantskrywers het nie die geleentheid gehad om opleiding in skeppende skryfwerk in Afrikaans te ontvang nie en bly worstel met vrae oor hulle skeppende vermoёns. Suid-Afrikaanse universiteitstudente wat kursusse in Afrikaans of Afrikaans en Nederlands gevolg het, was tot betreklik onlangs toe nog deurgaans onbewus daarvan dat verskillende soorte opleiding in skeppende skryfwerk glad nie so ‘n rariteit in die skrywerswêreld is nie en veral in die Verenigde State van Amerika goed gevestig is.

Sedert die 1980’s het opleiding in skeppende skryfwerk egter ‘n betreklik algemene verskynsel in die Afrikaanse literêre wêreld geword. Verskeie universiteite bied tans skrywersopleiding aan, die ATKV is daarby betrokke en ander instansies bied van tyd tot tyd werkswinkels aan. Hierbenewens het hulpmiddels soos skrywershandleidings soos dié van Hennie Aucamp ook in Afrikaans beskikbaar geraak, hoewel die publikasie van skrywershandleidings nie as ‘n florerend beskou kan word nie.

Ongeag die soms ideosinkratiese uitsprake oor opleiding in skeppende skryfwerk, is skrywersopleiding outentieke literatuurbeoefening. Dit blyk uit die manier waarop die hele kommunikasiesituasie daarin ter sprake kom en uit die feit dat die doel van opleiding in skeppende skryfwerk immers is om ‘n teks tot stand te bring. Opleiding in skeppende skryfwerk is by uitnemendheid teksgerig!

Vir my, wat op verskillende maniere by die vestiging en evaluering van navorsing (by die RGN en vir my MA-verhandeling) oor en aanbieding van opleiding in skeppende skryfwerk vir volwassenes in Afrikaans betrokke was, is dit altyd ‘n uitdaging om uiteindelik by die skrywers en hulle werk self uit te kom om ander skrywers te help om hulle werk te slyp en vir moontlike publikasie voor te berei. Veral as redakteur van Ensovoort en van die eerste PoёsieNet op LitNet het ek baie blootstelling in hierdie verband gehad. Dit is ook belangrik om dit duidelik te stel dat dit heeltemal normaal en aanvaarbaar is om verskillede soorte hulp met jou manuskrip te kry. Agter in Loftus Marais se dubbelbekroonde Staan in die algemeen nader aan vensters (2008) word ‘n hele aantal mense bedank vir hulle hulp met die bundel. Ten opsigte van die meeste skrywers is dit ‘n totale mite dat hulle sonder enige hulp hulle werk skryf en publiseer.

II

Ek gaan nou oorsigtelik en ter inleiding individuele skrywers se werk en die soort foute waarmee die redakteur of beoordelaar van skeppende skryfwerk heel dikwels te doen het, bespreek. Ek wil egter eers iets in die algemeen sê oor die verskillende vlakke van opleiding wat vir die aspirantskrywer beskikbaar is, naamlik formele, nieformele en informele opleiding.

Vroeёr was aspirantskrywers min of meer aangewese op sogenaamde “tradisionele” vorme van opleiding of hulp, soos raad van ‘n onderwyser of dosent, in enkele gevalle die opinie of voorstelle van ‘n meer ervare (en gewoonlik heelwat ouer) skrywer wat gewillig was om kommentaar op ‘n aspirantskrywer se werk te lewer, asook keurderverslae van tydskrifte en uitgewers. Ofskoon korrespondensiekolleges ook sedert die 1950’s kursusse in skeppende skryfwerk aanbied, word die spektrum van skrywersopleiding eers sedert omstreeks die helfte van die 1980’s aansienlik uitgebrei deur vorme van opleiding wat deur universiteite, uitgewers en kultuurverenigings ingestel is. In hierdie dekade het LitNet se hulp ook bygekom.

III

In byna al die hoedanighede waarin ek by opleiding in skeppende skryfwerk betrokke was, het daar voortdurend aspekte na vore gekom of het ek waarnemings gemaak wat dalk goed kan wees in ‘n gesprek oor nuwe skryfwerk. Vir hierdie gesprek het ek my tot enkele punte beperk, naamlik dinge waarop aspirantskrywers bedag moet wees en wat hulle in gedagte moet hou voordat hulle hulle skryfwerk vir publikasie voorlê:

1)           Talle gedigte (en prosawerke) word ontsier deur veralgemenings en abstraksies. Waarskynlik gee ‘n bepaalde siening oor die poёsie of selfs letterkunde tot sekere reaksies aanleiding. Die spesifieke dinge, die ding as sodanig, dit waarvoor jy ‘n naam kan gee en nuut en spesifiek kan beskryf/benoem, het veel groter kans om die leser te boei. Die gevaar bestaan weliswaar dat ons ‘n digter soos Opperman se poёtika kan verabsoluteer, maar in Afrikaanse gedigte het abstrakte selfstandige naamwoorde (die “-heid”-woorde) en woorde soos “liefde”, “siel” en “gees” min kans op sukses.

2)         Die emosies word in tekste gesê in plaas van getoon. Dit gebeur dikwels in gedigte, en een van die eerste lesse wat aspirantdigters moet leer, is om hierdie emosies oortuigend aan te bied en die waarde van suggestie te leer.

3)         Gebrekkige taaldissipline. In sowel gedigte as prosa sorg skrywers nie dat hulle werk tot in die vesels afgerond is nie. Heelwat manuskripte sal ‘n baie beter indruk maak indien moeite gedoen is om ten minste die spelling en grammatika te kontroleer. Enige keurder is skepties as daar basiese foute in ‘n manuskrip is. Die uitgewer gaan sekerlik help om jou foute reg te maak, maar daar is perke daaraan. Dieselfde geld vir die feitelike inhoud van jou werk. Goeie skrywers spandeer baie tyd daaraan, selfs jare en dekades!

4)         Min nadenke oor wat gesê word. Aspirantskrywers besin nie altyd genoeg oor wat hulle wil sê nie.

5)         Wantroue oor nuwerwetse neigings. Uitgewers kry dikwels te doen met (veral ouer?) skrywers wat nuwe neigings in die letterkunde wantrou en sterk standpunt daarteen inneem. Van die opmerkings is dat hulle nog soos A.G. Visser en Jan F.E. Celliers skryf, en rym nog soos die ouer digters gebruik. Skrywers hoef natuurlik nie alles wat nuut is vir soetkoek op te eet nie, maar naïwiteit oor nuwe tendense is gewoonlik nie ‘n goeie teken nie.

6)         Te veel gedigte of verhale. Aspirantdigters en aspirantkortverhaalskrywers is geneig om te veel gedigte of verhale voor te lê en sinspeel gewoonlik dat daar “nog is”. Keurders het nie dosyne tekste nodig om ‘n skrywer se werk te kan takseer nie.

7)         Plagiaat. Plagiaat is ‘n ernstige saak wat skrywers ten alle koste moet vermy. Ek het by drie geleenthede met plagiaat te doene gekry en weet hoe blootgestel sowel die skrywer as die uitgewer in hierdie verband is. My ervaring is dat skrywers wat hulle een keer hieraan skuldig gemaak het, geneig is om dit weer te doen. In ons tyd van literêre gesprekke tussen skrywers is dit nog steeds belangrik om te weet waar die grense is.

8)         “Special pleading”. Skrywers probeer dikwels simpatie werf vir hulle manuskripte deur te vertel van die moeilike omstandighede waaronder ‘n manuskrip tot stand gekom het of wat aanleiding tot die skryf van ‘n teks gegee het: ‘n pynlike egskeiding, die lyding of verlies van ‘n geliefde, bankrotskap. Dit is egter die gehalte van die teks wat die uitgewer moet oortuig.

Kan ‘n skrywer opgelei word? Dit is nog steeds nie maklik om hierdie vraag te beantwoord nie. Ek het wel gebaat by die hulp wat ek in my skrywersloopbaan by ‘n hele aantal mense gekry het. Daarbenewens is dit doodgewoon opwindend om oor en met skrywers en hulle werk te gesels. Daarsonder het ons nie meer ‘n lewenskragtige letterkunde nie.